God se liefde is die bron en norm vir ons liefde vir mekaar.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-09-17
Text: 
I Johannes 4
Preek Inhoud: 

1 Johannes 4:7-12
Ds C Kleyn - Sondag 17
September 2000

Lees: 1 Korinthiërs 13; 1
Johannes 4:7-21.
Sing: Ps 118:12,14; Ps 116:1,2,9,10;
SB 21:1-3; SB 21:4-6; Ps 33:1,2.

Tema: God se liefde is die bron en norm vir
ons liefde vir mekaar.

  1. God se liefde is sigbaar in die kruis van
    Christus; en
  2. God se liefde is sigbaar in ons liefde vir
    mekaar.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend wil ons die serie preke oor huwelik
en gesin voortsit. In die vorige twee preke het ons vanuit
Genesis 1-3 stilgestaan by huwelik en seksualiteit in die paradys
voor en na die sondeval. Die sonde het die pragtige gawe van
huwelik en seksualiteit bederf. Dit het die verhoudings versteur.
Huwelik en seksualiteit gaan nou gepaard met moeite en verdriet,
misbruik van mekaar, wedywer tussen man en vrou ens.

Deur Christus is daar in die paradys egter ook
reeds uitsig op herstel. Die saad van die vrou sal die kop van
die slang vermorsel. Tog sal in hierdie bedeling elke getroude
persoon, ook getroude christene, huweliks probleme ondervind. In
die formulier vir die huweliksbevestiging lees ons daarom: "Vanweë
die sonde sal die getroudes bekommernisse, moeite en verdriet nie
vryspring nie." Wat kan ’n mens verwag in ’n
verhouding wat bestaan uit twee sondige mense. Die uitdaging vir
elkeen van ons is dan wat ons doen in so ’n situasie. Wat
doen ons om die probleme te voorkom of om dit op te los? Hoe
hanteer ons die probleme?

Daarom wil ek vanoggend die liefde onder u
aandag bring, die liefde van God vir ons en ons liefde vir mekaar.
Dit sal duidelik wees dat Joh in die teks nie spesifiek die
liefde tussen man en vrou beskryf nie. Hy skryf oor die
broederliefde, die liefde tussen broeders en susters in die Here.
Tog bly die teks van toepassing ook in die verhouding binne die
huwelik. Ja, as die Here ons oproep om mekaar lief te hê,
hoeveel te meer geld dit vir ons verhouding met ons huweliksmaat.
Dit is immers die eerste naaste aan wie ek liefde moet betoon.
Die liefde moet begin by die huis. In my huwelik en gesin.

Bowendien mag van die meeste van ons gesê word
dat ons maat ’n medegelowige is, ’n broer of suster in
die Here. Daarom het die woorde van Johannes wel deeglik
betrekking op die verhouding binne die christelike huwelik. Laat
ons egter die woorde nie daartoe beperk nie. Ons wil inderdaad
fokus op die huweliksverhouding, maar die woorde van Joh het
betrekking op alle verhoudings, ook heel nadruklik op die
verhouding tussen broeders en susters in die gemeente. Hoe gaan
ons binne die gemeente met mekaar om? Wat kenmerk ons houding
teenoor mekaar?

Ek verkondig aan u: God se liefde is die bron
en norm vir ons liefde vir mekaar

  1. God se liefde is sigbaar in die kruis van
    Christus
  2. God se liefde is sigbaar in ons liefde vir
    mekaar

"Geliefdes, laat ons mekaar liefhê."
Wie moet ons liefhê? Ons broeders en susters in die Here. Ons
moet mekaar in die huwelik en gesin liefhê. Joh gee dit as
’n bevel: "laat ons mekaar liefhê."

Is dit nie vreemd nie? Kan ’n mens op
bevel liefhê? Is die liefde nie spontaan, iets wat gewoon gebeur
of nie gebeur nie? Is dit nie ’n saak van my gevoel, my
emosies, iets wat vanself opkom nie? Hoe kan Joh dan vir ons
beveel om lief te hê? Dit hang saam met die betekenis van die
woord wat vir liefde gebruik word. Die liefde wat God van my vra
is nie eers ’n saak van my gevoel nie.

Die probleem is dat baie mense teenwoordig
liefde vereenselwig met die gevoel: ek hou van jou, ek voel my
tot jou aangetrokke. Maar liefde volgens die Bybel is baie meer.
Dit is in die eerste plek ’n saak van jou wil. Dit sien op
wat jy doen en sê en nie soseer op wat jy voel nie. Daarom kan
God dit aan jou beveel. Dis ’n bewuste keuse van jou wil. Jy
soek bewus die beste vir ander.

Teenwoordig is liefde ’n liefling woord.
Maar dikwels verstaan mense dit as verliefdheid, jou tot iemand
aangetrokke voel. Daarom hoor jy mense sê: "Ek voel my nie
tot die persoon aangetrokke nie, daarom kan ek hom of haar nie
meer liefhê nie." Dit gebeur in allerlei verhoudings. In
huwelike: ek voel geen geneentheid meer tot my man of vrou nie.
In gesinne: ’n kind kan die lewe in die gesin so ongelukkig
maak dat ek elke gevoel van geneentheid verloor. Of in die kerk:
die broeder of suster kan so moeilik, onaangenaam, liefdeloos
wees dat ek geen enkele geneentheid vir hom of haar voel nie.

Beteken dit dat ek die persone in sulke
situasies nie kan liefhê nie? Beslis nie! Ek moet liefhê!
Liefde is ook in sulke situasies moontlik. Selfs wanneer iemand
opstandig is, onaangenaam of moeilik. Ek kan tog nog steeds die
beste vir so ’n persoon soek? Die positiewe benadering
beteken miskien dat ek die persoon ’n pak moet gee of moet
vermaan, maar dit sal dan wel in liefde gebeur.

As iemand sê: ek het die broeder of suster nie
meer lief nie, ek voel geen geneentheid vir hom of haar nie, wat
kan ons dan maak? Dan kan ons antwoord: Jy moet onderskei tussen
liefde en geneentheid. Dit kan inderdaad gebeur dat jy op hierdie
oomblik min of geen geneentheid vir jou maat, jou kind, jou ouer,
jou broer of suster in die gemeente voel nie. Daar kan soms goeie
redes vir wees. Maar beteken dit dat jy nie langer die welsyn van
die persoon soek nie? Beteken dit dat jy sy of haar ongeluk soek?
Dis tog nie waar nie? Laat jou liefde nooit afhang van hoe jy
voel nie. Laat jou wil, wat die Gees besig is om te vernuwe, jou
houding bepaal. Wees vasbeslote om die beste vir hom of haar te
soek. Dan het jy lief soos God dit van jou vra. En dikwels sal jy
ontdek dat die liefde ook beloon word. As gevolg van so ’n
onselfsugtige liefde sien ’n mens dikwels dat die gevoel van
geneentheid ook terugkeer.

In ons teks sien ons verskillende
karakteristieke van die liefde. Wil jy weet wat ware liefde is,
dan moet jy kyk na God. Want God is liefde. God is die liefde
self, die liefde in eie persoon.

Wat sien ons in sy liefde? Ons kan drie dinge
noem.

Eerstens, God se liefde hang nie af van ons
liefde vir Hom nie. Kyk maar na vers 10a: "Hierin is liefde:
nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het."
By God was dit gelukkig nie so dat Hy gesê het: eers as jy My
liefhet sal Ek jou liefhê, of eers as jy jou houding en/of
gedrag verander sal Ek jou liefhê nie. Onder ons mense is die
liefde dikwels afhanklik van die respons van die persoon wat ons
liefhet. Ons het dikwels hulle lief wat ons liefhê. Ek eis dan
dat my maat moet verander voordat ek bereid is om hom of haar
weer lief te hê. Gelukkig is God nie so nie. Anders was daar vir
ons geen hoop nie.

By God was daar aanvanklik geen enkele
wederkerigheid in die liefde nie. God het ons nie halfpad
tegemoetgekom nie. Nee, die inisiatief het uitsluitend van God
gekom. Hy het besluit om sy liefde te wys vir hulle wat Hom nie
liefhet nie en wat Hom nie wil liefhet nie. Hy het ons liefgehad
terwyl ons nog sondaars en vyande was (Rom 5:8,10). Hy het ons
onvoorwaardelik liefgehad. Laat ons eens en vir altyd erken dat
as dit nie vir sy liefde was, dan sou ons geen enkele hoop of
toekoms hê nie. Die inisiatief vir ons verlossing kom
uitsluitend van God se kant, van sy onvoorwaardelike liefde. Sy
liefde hang dus nie af van ons liefde vir Hom nie.

Dan ’n tweede karakteristiek van God se
liefde. In sy liefde soek God ons welsyn. Dit is die ware aard
van die liefde, dat ek die welsyn van die ander soek. Van God
word gesê dat Hy sy Seun gestuur het sodat ons deur Hom kan lewe.
Ons het die dood verdien, die ewige dood. Maar wat doen God? Hy
maak geen afgedane saak met ons nie. In liefde soek Hy tog ons
welsyn, ons lewe en geluk. Vers 10 voeg daaraan toe dat Hy sy
Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Ons het
groot skuld gemaak. Ons het al God se gawes misbruik. Maar wat
doen God? Hy wys ons nie af vanweë die verkwisting van sy gawes
en vanweë die onbetaalbare skuld nie. Hy aanvaar
verantwoordelikheid vir die skuld. Hy laat sy Seun die skuld vir
ons vereffen. Hy het werklik alles daarvoor oor om ons te red.

Dan die derde karakteristiek van God se liefde.
God is bereid om groot offers vir ons te bring. Met nadruk wys
die teks daarop dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur
het om ons te red. Die teks sê nie dat God Jesus of Christus
gestuur het nie, maar sy eniggebore Seun. Daarmee beklemtoon Joh
die intieme verhouding tussen die Vader en die Seun. God was
bereid om sy mees dierbare en geliefde seun vir ons te gee. God
het slegs een natuurlike Seun. Hy het Hom in ’n vyandige wêreld
gestuur om ons te red.

Wat ’n liefde. Onvoorstelbaar! Onbegryplik!
Wat ’n liefde van die Vader wat sy Seun vir ons oorgegee het.
Wat ’n liefde van die Seun wat sy lewe vir ons gegee het.
Nou weet ons wat liefde is. Christus se offer aan die kruis het
dit aan die lig gebring. God is liefde. Die liefde hang nie af
van die liefde van die persoon wat ons liefhê nie. Die liefde
soek werklik die welsyn van die geliefde. Die liefde is bereid om
groot offers te bring, dit is selfopofferend.

Gemeente, dit is die patroon wat ons nou moet
volg. Kyk maar na vers 11: Geliefdes as God ons so liefgehad het,
behoort ons ook mekaar lief te hê. Let op die woord "so."
As God ons op so ’n onbegryplike manier liefgehad het
behoort ons ook mekaar lief te hê. Ware liefde onder mense moet
die liefde weerspieël. So kom ons by die 2de punt:
God se liefde is sigbaar in ons liefde vir mekaar.

My liefde moet nie afhang van die liefde wat ek
ontvang nie. Dink maar aan wat Christus in Mt 5: 43-48 sê. Veral
vers 44: "Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê;
seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle
haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg."
Liefde is hier onafhanklik van die liefde van die ander party.
Die ander party word hier selfs jou vyand genoem. Soms kan jou
medegelowige, jou maat, jou vyand word. Iemand wat jou vir ’n
tyd haat, iemand wat jou vervloek, beledig, misbruik, vervolg.
Wat is dan jou houding? Sê jy dan vir jouself: laat die ander
maar eers liefde wys, dan sal ek ook weer liefde toon? Laat die
ander maar eers sy of haar gedrag verander dan sal ek weer liefhê?
Stel jy dan jou liefde afhanklik van die houding en gedrag van
die ander? Wat leer Christus ons: julle moet selfs jul vyande
liefhê. Ware liefde is onvoorwaardelik.

Wat vra die Here dat ons sal doen vir die
vyande? Om hulle welsyn te soek. Seën die wat vir julle vervloek,
doen goed aan die wat vir julle haat en bid vir die wat julle
beledig en julle vervolg. Om werklik lief te hê beteken immers
dat ek bewus die goede soek vir die ander. Die vraag is dan nie
wat ontvang ek self daaruit nie, maar wat is goed vir my
medegelowige of my maat. Hoe kan ek hom of haar help. Ek wil sien
dat die ander gelukkig is. Ek wil na vermoë alles daaraan doen.
Dan skryf ek daardie persoon nie af nie, ook al ontvang ek geen
respons nie, of slegs ’n negatiewe respons.

Ware liefde is immers ook ’n
selfopofferende liefde. Ek is bereid om groot offers daarvoor te
gee. Ek is dan bereid om my verlangens, my tyd en energie, my
geld en besit daaraan op te offer. Indien nodig selfs myself
daarvoor te gee. As die ander maar werklik gelukkig mag wees.

Gemeente, so ’n liefde kan baie van die
probleme wat daar in verskillende verhoudings is oplos. In elk
geval sal dit die beginpunt van elke probleem oplossing moet wees.
Probleme ontstaan somtyds vanweë groot verskille tussen die
persone wat moet saamlewe. Verskille in agtergrond, in
persoonlikheid, in belangstelling. Ware liefde sal dit moontlik
maak om aan die verskille te werk sodat ’n skikking gevind
kan word. In my verhoudings gaan dit immers nie daaroor dat ek my
sin kry nie, maar dat God se wil opgevolg word en dat ons saam
daarin ’n weg vind.

In die menslike verhoudings ontstaan soms ook
probleme vanweë die swakhede wat ons by die ander party sien. As
twee mense saamwoon dan ontdek hulle gou mekaar se swakhede. Die
swakhede kan groot frustrasies veroorsaak. Dit kan die ander
party seermaak, belemmer. Dit kan gebeur dat ek daardeur slegs
die swakhede van die ander sien en geen positiewe dinge meer sien
nie.

Ware liefde leer my egter hoe om die swakhede
te hanteer. Dit leer my om geduld met die swakhede te hê.
Volgens 1 Kor 13 is die liefde immers lankmoedig. Jy leer om baie
te verdra. Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra
alles. Dit soek die beste en verwag die beste. Daardeur sal ek
ook die goeie dinge bly sien. My maat het swakhede wat my
seermaak en hinder maar sy het ook goeie eienskappe. Liefde leer
my om te konsentreer op die sterk kante. Die sterk dinge van my
maat is beter as my swakhede. So leer ’n mens om mekaar te
waardeer en om mekaar te ondersteun. Ek probeer dan om my maat te
help in sy of haar swakhede. Dit beteken dus nie dat ek die
swakhede negeer nie. Nee, in die besef van eie swakheid gaan ek
dan naas my maat staan om hom of haar te help om die swakhede te
oorwin. "Dis jammer dat jy op so ’n wyse optree. Kom;
laat ek probeer om jou daarby te help sodat dit minder of
heeltemal nie meer hoef voor te kom nie. Wat kan ons doen om dit
te voorkom?"

Probleme ontstaan soms ook vanweë allerlei
stres faktore. Daardeur gebeur dit dat die een sy frustrasies op
die ander ontlaai. As ek werklik my maat liefhet en sy of haar
welsyn soek dan sal ek alles in die werk stel om dit te voorkom
sodat ek nie opvlieënd of prikkelbaar is nie. In Christus is
daar ’n manier om die druk en moeites van die lewe te
hanteer. Wie sy maat werklik liefhet sal hom beywer om te leer
hoe om dit te doen.

In die konteks van die liefde sal daar
kommunikasie wees. Sonder kommunikasie kan geen verhouding werk
nie. Ware liefde dryf ons daartoe om te praat. Ek wil weet wat
die ander verlang en nodig het. Ek soek immers die welsyn van die
ander? Hoe kan ek sy of haar welsyn dien as ek die ander nie ken
nie. Hierdie liefde is die geheim van gelukkige verhoudings.

Maar broeders en susters, is so ’n liefde
wel moontlik, bereikbaar? Die situasie kan soms so sleg word, so
vol frustrasies wees dat dit onmoontlik lyk. En inderdaad uit
myself kan ek dit nooit opbring nie. In eie krag kan ek
gemeentelede en my maat nie werklik liefhê nie. Vanuit myself is
daar die verlange om eers te ontvang voordat ek wil gee, om eers
te sien wat daar vir my in sit. Van nature soek ek die
bevrediging van my verlangens, my wense. My liefde vir my maat is
dan ’n liefde wat gegrond is op wat die maat vir my kan
beteken. Daarom is daar ook soveel ellende.

Die selfopofferende liefde is slegs moontlik
deur Jesus Christus. In Hom kan ek die krag hê om ander lief te
hê met ’n onselfsugtige liefde. In Hom kan ek daar vir
ander wees, hulle bemoedig, opbou, trek sonder om die koste te
bereken. In Fil 4:13 skryf Paulus: "Ek is tot alles in staat
deur Christus wat my krag gee."

Hoe kan ek dan die krag van Jesus Christus
ontvang? Deur te bid, te bid en weer te bid. Deur te bid dat God
my die genade wil gee om die ander werklik lief te hê. Deur
ywerig God se woord te ondersoek. Deur sy beloftes in geloof aan
te gryp. Dis nie genoeg om oor God en sy liefde te leer nie. Ek
moet ook van Hom leer en ’n lewende band met Hom hê deur
geloof. Ons lees in 2 Kor 5:17-18 die geweldige belofte: "Daarom
as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou
dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit
alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus
Christus."

Maar wat moet ek maak as ek merk dat die ander
nie reageer op my belangelose liefde nie? Ek moet besef dat ek
die ander nie kan reformeer nie, hoe hard ek ook probeer. Die
enigste wat God van my vra is om die man of die vrou te wees wat
Hy in sy Woord beveel en om in die daaglikse dinge sy woord uit
te leef. Miskien kan ek die verhouding red. In elk geval mag ek
dan verseker wees van God se genade en seën.

Maar, wat dan as die ander nie sy gedrag op die
woord van God wil afstem nie? In die geval moet hy of sy in my
God se liefde en waarheid herken. Let maar op vers 12: "Niemand
het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons
en het sy liefde in ons volmaak geword." Hier op aarde kan
niemand God self sien nie. Maar ek kan die onsigbare God wel
herken in die mens wat sy beeld vertoon. In die wedergebore mens.
In die mens wat uit God gebore is en so ook sy liefde vertoon.
God is liefde en wie Hom werklik ken sal liefhê. Joh voeg die
waarskuwing daarby: Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie,
want God is liefde.

Broeders en susters, indien u God se liefde ken,
laat dan die liefde u hart vervul en so oorvloei na ander toe.
Die liefde vir ander sal dan nie afhang van hoe u oor die ander
voel nie. Maar hoe God oor u voel – u is Sy geliefde. U
liefde word dan aangevuur deur die Gees van God in U. U leef dan
deur geloof en nie deur gevoelens nie. U is dan bereid om ware
offers te bring terwille van die welsyn van die ander. Mag God
dit deur sy Gees aan elkeen van ons gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)