Huwelik en seksualiteit in die paradys.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-08-20
Text: 
Génesis 2
Preek Inhoud: 

Genesis 2:18-25
Ds C Kleyn - Sondag 20 Augustus
2000

Lees: Genesis 1:26-31; Genesis
2:18-25.
Sing: Ps 108:1,2; Ps 102:1,8,9;
Ps 148:4,5; Ps 139:6,8,9; Ps 128:1,2,4.

Tema: Huwelik en seksualiteit in die paradys.

  1. God se skepping;
  2. Adam se verrukking;
  3. God se reëling.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die komende tyd wil ek ’n serie preke
hou oor huwelik en gesin. Ons wil luister na wat ons Skepper
daaroor sê. Daar is mos niemand wat ons mense beter ken as ons
Skepper nie? Daar is immers niemand wat beter weet wat die
huwelik beteken as God wat die huwelik self ingestel het nie? Hoe
dwaas sou dit dan wees om die woorde van my skepper te negeer en
as skepsel te doen asof ek dit beter weet as Hy.

Waar dit op uitloop sien ons maar al te dikwels
in die praktyk van die lewe, ook in ons eie lewe. Pleks van
lewensontplooiing kom daar dan lewensontwrigting. Pleks van
harmonie kom daar disharmonie. Pleks van vreugde kom daar diep
verdriet. Huwelike gaan stukkend. Gesinne word opgebreek en
kinders word die slagoffers. Dit as gevolg van die drang van
mense om hulle vry te maak van God se heilsame woord. Mense wil
vry wees om te doen wat hulle self verkies. So kom ook die
huwelik as ’n verbond vir die lewe , met beloftes en
verpligtings in die gedrang. Ander, meer vryblywende, vorme van
samelewing word verkies. God se skeppings ordening word verag.

Dit is opvallend dat die Nuwe Testament in sy
uitsprake oor die huwelik steeds weer wys op die geskiedenis van
die begin, van die paradys. Wanneer die Fariseërs by Jesus
Christus kom met die vraag of ’n man van sy vrou mag skei,
antwoord Jesus: "Het julle nie gelees dat Hy wat hulle
gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en
gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder
verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees."
(Mt 19: 4,5).

Wanneer Paulus oor die onderdanige posisie van
die vrou skryf, dan motiveer hy dit in 1 Tim 2 as volg: "Want
Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie,
maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom."
(1 Tim 2:13, 14). Paulus wys ons dus terug na die begin van die
menslike geskiedenis. Ondanks die voortgaan van die geskiedenis
het die begin nie afgedaan nie. Dit bly die norm. Die begin in
paradys wys ons nog steeds ons plek. Want ons is almal kinders
van Adam en Eva. En God se skeppingsstrukture bly staan, hoe die
sonde dit ookal aangetas het.

En in Jesus Christus mag ons die skeppings
ordeninge weer skerp gaan sien en aanvaar. Die lewe, ook die
huwelikslewe, kry in Hom weer glans, ja, paradys glans. Alles kom
weer op die juiste plek te staan. Alles word weer in die juiste
verhouding gesien. En die lewe kan weer begin om op te bloei in
die Here, soos die Here dit bedoel het.

Laat ons dan teruggaan na die begin. Ek
verkondig aan u: huwelik en seksualiteit in die paradys.

  1. God se skepping
  2. Adam se verrukking
  3. God se reëling

Is seksualiteit minderwaardig, vuil en sondig?
Iets waaroor ’n Christen nie praat nie? Wel, God praat baie
oop daaroor. Dit was God se eie idee om ons as seksuele wesens te
skep. Luister maar na Gen 1:27: "En God het die mens geskape
na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou
het Hy hulle geskape." Om huwelik en seksualiteit te
waardeer moet u hierdie fundamentele waarheid onthou: man en vrou
het Hy hulle geskape.

Besef u wat dit beteken? Toe God almagtig ons
mense geskep het, het Hy onbeperkte moontlikhede gehad. Uit al
die moontlikhede het God met opset gekies om ons as man en vrou
te skep. God kon bv ook besluit het om presies die aantal mense
te skep wat Hy nodig gehad het. Hy sou bv ook kon besluit het om
die mensheid te laat groei deur afsonderlike skeppingsdade. Hy
kon ook gekies het om ons te skep sonder seksualiteit. Maar God
het dit nie gedoen nie.

Toe Hy ons na sy beeld geskep het, het Hy ons
nie as ’n soort robot geskep nie. Ook nie as ’n
geslagslose of ’n dubbelslagtig wese nie. Nee, God het ons
heel bewus as man en vrou geskep. God het mense geskep wat vader
of moeder kon word. Hy het man en vrou geskep wat met siel en
liggaam na mekaar aangetrokke voel. Mense wat hul eenheid so
intensief kan belewe dat hulle hul met siel en liggaam aan mekaar
oorgee, sodat nuwe lewe verwek kan word. Die almagtige Skepper
het gekies om twee menslike wesens te skep. Hy het gekies om
hulle op so ’n manier te skep dat hulle self ingeskakel kan
word by die vermeerdering van die menslike geslag. In sy liefde
het God almagtig die wonderlike misterie van manlikheid en
vroulikheid geskape.

Hoe kleurloos, hoe eensydig sou ’n wêreld
sonder geslagtelikheid of met slegs een geslag wees. Wie sou wil
lewe in ’n wêreld wat slegs manne of slegs vroue bevat? Of
in ’n unisekse wêreld waar alle tekens van geslagtelikheid
weggewerk word? Laat ons God dank dat Hy ons man en vrou gemaak
het. Dank Hom vir die onderskeid van die geslagte.

Broeders en susters, terwyl Gen 1 kortliks die
feit van ons skepping as man en vrou noem, vertel Gen 2 ons hoe
dit gebeur het. Gen 2 is dus ’n verklaring by Gen 1:27.

Vanuit Gen 2 is dit duidelik dat God Adam en sy
vrou nie gelyktydig geskep het nie. God het eers Adam geskep.
Daarna het Hy ’n rukkie gewag. Waarom? God wil Adam, wat Hy
na sy beeld geskep het, betrek by die skepping van die vrou. God
wil gebruik maak van Adam se vermoë om te dink en om te ontdek.
God wil eers in Adam die verlange na ’n vrou opwek.
Bowendien wil God selfs die vrou uit die man skep. So kry ons die
geskiedenis van Gen 2.

Die gedeelte begin met die observasie van die
Here God: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek
sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas." God het dus
reeds besluit om ’n gepaste hulp vir Adam te skep. Tog gaan
God nie onmiddellik daartoe oor nie. Hy bring eers die voëls en
diere na Adam toe om voor hom te paradeer. Wat ’n mooie en
fassinerende optog moet dit gewees het. Wat ’n kleurryke en
variërende skepping.

Waaroor dit gaan is die reaksie van Adam
wanneer hy al die diere en voëls sien. God wil sien hoe Adam
hulle sal noem, hoe hy hulle sal tipeer. Om name aan die diere te
gee beteken immers dat Adam hulle moet karakteriseer. Hoe bly
Adam ookal mag wees om al die diere te sien, deur die sien begin
hy iets te mis. Hy vind niks wat op sy vlak is nie, geen maat wat
by hom pas nie. Daardie diere stap voor hom as manlik en vroulik.
Adam sien hoe mooi hulle by mekaar pas. Langs die leeu is daar
die leeuin. Hulle is anders maar hulle behoort by mekaar. Dit is
hoe dit ook met die ander diere is.

Adam ontdek wat God reeds waargeneem het. Vir
hom is daar geen hulp wat by hom pas nie. Hoe meer hy die gawe
van God in die verskille van die geslagte sien, des te meer begin
hy om ’n maat te mis. Iemand anders maar tog gelyk, iemand
wat by hom pas.

Geliefdes, dit is hoe God self in Adam se hart
die verlange na ’n vrou opwek. Die huwelikslied wat Adam
later sal uit, wys hoe intens die verlange is: "Dit is nou
eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees." Dit is
eindelik wat ek nodig het.

Ook vandag is dit die Here wat die verlange na
’n maat in die harte van seuns en meisies, manne en vroue
opwek. Die verlange na iemand wat anders is maar tog so mooi by
jou pas. Die verlange is nie iets waarvoor jy jou hoef te skaam
nie. Dis ’n gawe van God. Seksualiteit is nie minderwaardig
nie, nie ’n noodsaaklik kwaad nie. God self het die geskape.
Hy self het die verlange in Adam opgewek. En Hy doen dit vandag
nog steeds.

God het in die begin waargeneem: "dit is
nie goed dat die mens alleen is nie." Daarom het ons wyse en
liefdevolle Skepper ’n volmaakte oplossing gegee. Hy het
’n ander skepsel gemaak soos die mens en tog wonderbaarlik
anders. Sy is uit hom geneem. God plaas Adam onder algehele
narkose as ‘t ware, om een van sy ribbe te verwyder. Van die
rib maak Hy die vrou. Daarna bring Hy die vrou na die mens. Hier
het u God se instelling, oftewel, skepping van die huwelik. Van
nou af aan wil God hê dat manne en vroue saamgebring word in
’n huwelik. God wys die pad. Ja, ons mag selfs sê dat God
ook vandag man en vrou aan mekaar gee. God begeer die
huweliksverhouding. ’n Huwelik van man en vrou. Saam het
hulle alles wat nodig is om God se opdrag aan die mens te vervul.

Die instelling van die huwelik word vandag
aangeval en ondermyn. Daarom moet hierdie teks as ‘t ware in
ons harte ingeprent wees. Adam het nie besluit wat vir hom
gerieflik was nie. Die huwelik is nie ’n skepping van Adam
of sy vrou nie. Nee, God gee die vrou aan Adam. God stel die
huwelik in. Daarom is daar geen ruimte vir alternatiewe
verhoudings nie, bv homoseksuele verhoudings. Ons kan ook nie sê
dat die huwelik ’n produk van ons kultuur is nie. Van die
begin was dit daar. Die Here self het die huwelik gewens. ’n
Huwelik van een man en een vrou. Hy het aan Adam die vrou gegee.
Sy is heeltemal op hom afgestem, geestelik, intellektueel,
emosioneel en fisies. God het haar bestem as Adam se hulp.

Maar wat beteken dit om ’n hulp te wees
wat by hom pas? Beteken dit dat die vrou ’n bediende van die
man is, ’n huishoudelike hulp. Die woord ‘hulp’
sien op ’n heilsame verhouding waarby een persoon die ander
persoon as ’n vriend of bondgenoot assisteer of ondersteun.
Dikwels word dieselfde woord vir God gebruik. In Ps 46:2 word God
as ons hulp in benoudhede geteken. Dit werp ’n ander lig op
die vrou haar roeping. Om ’n hulp te wees maak haar nie
ondergeskik aan haar man nie. Haar onderdanige posisie hou meer
verband met die feit dat sy na die man geskep is (sien 1 Tim 2:11-13
en 1 Kor 11:8,9). Eva is nie Adam se bediende nie. God het haar
ook nie geskep om slegs die man se behoeftes te bevredig nie. God
het haar geskep as ’n maat op sy vlak om hom aan te vul en
by te staan.

Bystaan waarin? Om hom by te staan by die
vervulling van die geweldige kultuurmandaat wat God aan die mens
gegee het. Dink maar aan die woorde van Gen 1:28: "Wees
vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers
oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al
die diere wat op die aarde kruip." Die man kan die geweldige
taak nie op homself vervul nie. Hy is daarin hulpbehoewend.
Daarom gee God hom ’n hulp wat by hom pas. Sodat hulle saam
kan heers oor God se skepping en dit kan onderwerp. Om dit te
doen is meer mense nodig, kinders en kleinkinders,
agterkleinkinders ens. sodat die hele aarde gevul en onderworpe
kan word. Daarom het Adam ’n vrou ontvang wat moeder kan
word.

Eva se taak is dus om Adam te help om die
kultuurmandaat te vervul, om as God se onderkoning hier op aarde
te dien. Saam met Adam mag sy God dien by die onderhouding en
onderwerping van sy skepping. Daarom het God haar geskape. Daarom
het God haar uitgehuwelik aan Adam. Daarom het God die huwelik
ingestel, sodat hulle saam Hom sou dien en verheerlik.

Seuns en dogters, vergeet nooit hierdie groot
doel van die huwelik nie. God het nie slegs vir Adam ’n vrou
gegee om sy probleem van eensaamheid en sy verlange na geselskap
op te los nie. God wou hom ’n hulp in sy diens gee, ’n
medewerker. Die huwelik kan ’n mens inderdaad baie vreugde
en troos gee. Laat ons God dank vir so ’n wonderlike gawe.
Maar die doel van die huwelik is nie in die eerste plek die
bevrediging van menslike begeertes nie. Die primêre doel van die
huwelik is om mekaar te help in die diens aan God. Watter soort
maat sal jy dan soek? Tog ’n maat met wie jy een in die
geloof is? ’n Maat wat vir jou werklik ’n hulp kan wees
in jou diens aan God. Hoe anders kan God se doel met die huwelik
bereik word? Daarom is dit ’n ernstige saak wie jy as maat
kies. Sodat ons kan sê: God het ons saamgebring. Met hierdie ou
of meisie kan ek werklik vorder in my diens aan God.

Gemeente noudat ons God se skepping van huwelik
en seksualiteit gesien het, wil ons in die tweede plek let op
Adam se verrukking.

Wanneer Adam sy vrou sien is hy verruk, hy is
in die wolke, so gelukkig as hy is. Hy sing sy huwelikslied. Ja,
hierdie lied is die eerste woorde wat ons uit Adam sy mond hoor.
Dit is die eerste woorde wat in die Bybel van Adam opgeteken is.
’n Pragtige liefdeslied. God waardeer Adam se liefdeslied.
Hy teken dit vir ons op. ’n Liefdeslied wat die deugde van
sy vrou verhef. Daarmee wys hy hoe belangrik die vrou vir die man
is. Die Here gee vir Adam ’n pragtige verrassing. In
opwinding en verbasing sing Adam: "Dit is nou eindelik been
van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word,
want sy is uit die man geneem." Eindelik het ek iemand wat
op my afgestem is. Adam se uitdrukking "been van my gebeente
en vlees van my vlees" het ’n geliefde Ou Testamentiese
gesegde geword om ’n intieme persoonlike verhouding aan te
gee.

By die begin van hierdie eerste huwelik in die
geskiedenis, laat die man hom nie geld as die sterke teenoor sy
vrou nie. Hy verhef nie homself nie. Hy sê nie: ek is baas, jy
moet jou aan my onderwerp nie. Nee, oorstelp van vreugde en
liefde is hy verruk oor haar. As hy die swakker geslag sien dan
word hy self swak. Is dit nie vandag nog steeds so nie, wanneer
’n man die vrou wat hy liefhet ontmoet. Haar verskyning is
te veel vir hom.

Daarom uit Adam homself in woorde soos:
eindelik het ek die een gevind wat my kan aanvul, die een wat aan
my sy kan staan, my kan help, die een wat ek liefhet soos my eie
liggaam. Sy is so mooi. Sy pas volkome by my. Sy is presies wat
ek nodig het in my diens aan God hier op aarde. Kan u u voorstel
watter emosies ontvlam het by beide Adam en sy vrou toe hulle
besef het wat hulle vir mekaar beteken. Begryp u die doel waarmee
God die vrou vir die man geskep het? In teenstelling tot al die
vuile grapies, was die huwelik bestem vir ons vreugde en geluk.
En God se doel het nie verander nie.

Reeds in die paradys, voor die sondeval, was
huwelik en seksualiteit geweldige gawes van God bestem om vreugde
te gee. Hulle val beide onder die oordeel van God: die was baie
goed (Gen 1:31). Laat ons daarom ons seksualiteit aanvaar as
’n gawe van God ons Skepper. Wees dankbaar vir die tipiese
gawes wat ons ontvang as man of vrou, as seun of dogter. Laat ons
die gawes vir God gebruik, om Hom daarmee te dien en om so deur
mekaar verryk te word. Sien hoe hoog God die huwelik en
seksualiteit verhef! Bo die slyk waardeur die wêreld dit gesleep
het. Daarom moet ek dit rein en heilig hou in my jeug en in my
huwelik. Ook in die dinge waarna ek kyk of waarna ek luister op
tv, video’s of in tydskrifte. Ook in die manier waarop ek
daaroor praat. Ek moet kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite
die huwelik.

Nou die derde punt: God se reëling.

"Daarom sal die man sy vader en moeder
verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees."
Hierdie woorde vat die hele leer van die Skrif oor die huwelik
saam. Wat verder in die skrif daaroor gesê word, is ’n
uitwerking van die 3 fundamentele prinsipes wat in ons teks
genoem word.

Die huwelik begin met ’n verlating:
verlating van alle ander verhoudings. Die woord ‘verlaat’
wys dat ’n publieke daad verrig word om die huwelik ’n
huwelik te laat wees. In vroeër tye was dit ’n publieke
aangeleentheid toe die bruid haar dorp verlaat het om na die dorp
van haar man te gaan. In ons tyd en samelewing is daar die
amptelike huweliksbevestiging. Die uiterlike vorm is nie van primêre
belang nie. Wat wel belangrik is, is die feit dat ’n
publieke en wettige aksie plaasvind.

"Daarom sal die man sy vader en moeder
verlaat." Die huwelik gaan meer mense aan as slegs die twee
wat gaan trou. Vader en moeder staan vir die familie. Die huwelik
is nooit ’n privaat aangeleentheid nie.

Om vader en moeder te verlaat beteken dat die
band met die ouers anders word. Jy verbind jou nou ten volle aan
jou vrou. En die vrou se volle verbintenis is aan haar man. As
man stig jy ’n nuwe huis waarvoor jy verantwoordelik is. Nog
die ouers, nog ander verhoudings mag tussen die man en sy vrou
inkom nie.

Dit lei tot die tweede punt: Daarom sal die man
sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. Hierdie twee
dinge behoort by mekaar. Ek kan nie my vrou aankleef, tensy dat
ek ook metterdaad verlaat het nie. Die letterlike betekenis van
die hebreeuse woord ‘aankleef’ is om aan mekaar
vasgekleef, geplak te wees, soos ’n mens twee stukke papier
met gom aan mekaar plak. As jy probeer om die twee stukke papier
van mekaar te skei dan skeur beide stukke. As jy ’n man en
sy vrou van mekaar skei dan word beide seergemaak.

’n Ander gevolg van die aanklewing is dat
man en vrou die meeste naby aan mekaar is, meer naby as enigiets
in die wêreld. Die band is belangriker as die man se werk of
stokperdjies, belangriker as die vrou haar kombuis of huis, of,
indien sy buitenshuis werk, as haar beroep. Die gehuwde man en
vrou is meer naby as enigiemand. Die band is belangriker as die
man se vriende of die vrou se vriende, belangriker as besoekers
of gaste, selfs belangriker as die kinders. Om so aan mekaar
gekleef te wees is slegs moontlik tussen twee persone. Daarom: jy
sal nie egbreek nie.

Dit lei dan na die derde gedeelte van die teks:
"En hulle sal een vlees wees." Die uitdrukking beskryf
die liggaamlike aspek van die huwelik. Die liggaamlike eenwording
van man en vrou is ook vir die Here dierbaar. En dit sonder
skaamte.

Om een vlees te wees beteken egter meer as
slegs die liggaamlike eenheid. Dit beteken dat jy alles wat jy
het met die ander deel, nie slegs jou liggaam nie, nie slegs jou
materiële besit nie, maar ook jou gedagtes en jou emosies, jou
vreugde en jou verdriet, jou verwagtings en jou vrees, jou
suksesse en jou mislukkings. Om een vlees te wees beteken dat
twee persone volkome een word met liggaam, siel en gees terwyl
hulle tog twee onderskeie persone bly.

Hierdie teks maak duidelik dat die liggaamlike
eenheid slegs binne die huwelik ’n legitieme plek het. As
’n ekspressie van liefde en trou tussen man en vrou. Die
liggaamlike eenheid is nie iets om mee te eksperimenteer nie. Nie
iets om te gryp voor sy tyd nie. Slegs binne die grense van die
huwelik het dit sy eie legitieme en wonderlike plek.

God ons Skepper verbind daardie drie sake:
verlaat, aankleef en een vlees wees. Laat ons dan nie gaan skei
wat God saamgevoeg het nie. Anders sou jy jouself en jou maat
besteel en God onteer.

Broeders en susters, ons het gesien hoe God
huwelik en seksualiteit geskep het en hoe hy dit bedoel het. Dit
is hoe God dit weer wil hê deur Jesus Christus.

Skat die gawes van God op die juiste waarde,
nie as ’n doel in hulself nie, maar as ’n middel om God
se geweldige doel met ons lewe te bereik. Waardeer jou
seksualiteit. En indien God dit aan jou gee, waardeer die huwelik
as ’n goddelike instelling. Gebruik dit vir die doel
waarvoor God dit gegee het. Om daarmee Hom en mekaar te dien en
om van te geniet.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)