Christus leer ons die eenvoudige aanspreekvorm: Onse Vader, wat in die hemele is

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

Ps 33: 1, 2
Ps 33: 11
Ps 61: 1 - 6
S.B. 28: 1, 2
S.B. 28: 3, 4
Lees: Matt. 6: 1 - 18
Teks: Sondag 46

Broeders en susters, seuns en dogters,

Die 'Onse Vader', soos gemaksonthalwe die gebed wat die Here Jesus aangedui word, daaroor sal dit vanmiddag gaan.

Omdat dit vanselfsprekend 'n gebed is wat reeds baie lank in die kerke in gebruik is, is die 'Onse Vader' ook bekend onder sy latynse naam n. l. as 'paternoster'.

Dit is aan my nie bekend, hoekom die vissersdorpie wat ruim 100 km. noordelik van Kaapstad lê, ook die naam 'Paternoster' ontvang het nie, maar wat ek nog wel weet dat in Nederland in verband met die vissery ook die woord 'paternoster' dikwels gebruik is.

Daar is 'n paternoster 'n vislyn wat voorsien is van 6 hake met aas om daarmee vis te vang. In hoop van seen werp jou lyn uit, as jy baie gelukkig is sal jy aan elke haak 'n vis kry. Die naam 'paternoster' vir daardie vistuig het ongetwyfeld sy oorsprong in die feit dat die Onse Vader 6 verskillende bedes het. Jy vra in die gebed maar liefs 6 dinge tegelyk. Een gebed met 6 kanse van sukses. So werk die paternoster.

U sal verstaan dat hierdie naamgewing wel baie oppervlakkig is. Ons gooi nie ons gebed as 'n vislyn uit op hoop van seen nie. Nee, Sondag 45 praat juis van vasgestel dat 'n gebed eers 'n gebed is, as ons dit uitspreek in die vaste vertroue dat God sal hoor. Dit beteken 'n gebed mag nooit sommer 'n poging wees in die sin van: Wie kan sê, dalk mag dit help.

Nee, 'n gebed moet heel vertrouensvol gerig wees aan Hom wat in staat is om elke gebed te verhoor n. l. die Almagtige God.

Tog leer Christus vir ons nie om ons gebed te begin met die aanspreekvorm: 'Almagtige God' nie; maar kies Hy vir ons die veel inniger aanspreekvorm: 'Onse Vader'. Onse Vader wat in die hemele is.

Daaroor sal dit vanmiddag in die prediking gaan:

CHRISTUS LEER ONS DIE EENVOUDIGE AANSPREEKVORM: ONSE VADER, WAT IN DIE HEMELE IS

Daarmee verwek Hy in ons

  1. kinderlike eerbied
  2. kinderlike verwagting

Ons het sopas 'n gedeelte uit die bergprediking gelees. N.l. die gedeelte waarin die Here Jesus onderwys gee oor die gebed. In Matt. 6 kry ons vir die eerste keer in die Bybel die Onse Vader, wat ons die komende weke by die kategismus prediking gaan bespreek.

Nou is dit vir ons opvallend dat die Here Jesus voor Hy vir sy dissipels die Onse Vader leer, ons heel duidelik 'n aantal gebedspraktyke afwys. Met name wys Hy die gebedspraktyk af van die geveinsdes. Hulle gee hul aalmoese so dat almal dit goed kan sien.

Hulle spreek hul gebede op die hoeke van die strate uit, so dat almal kan hoor hoe vroom hulle is. Ongetwyfeld bedoel die Here Jesus hier die optrede van die Fariseers.

Die Fariseers het n. l. met hul gebede in 'n slaggat geval, wat met elke gelowige kan gebeur. N.l. dat iets wat oorspronklik heeltemaal goed is, steeds meer van sy inhoud verloor en daardeur tot 'n lee gebaar word.

Kyk elke godsdiens moet hom uit in sekere vorme. Ook die christelike geloof. Die kern van die christelike geloof is: jy moet God liefhê met heel jou hart en jou naaste soos jouself. Daaroor gaan dit.

Maar so 'n kern moet 'n vorm ontvang. Dit word b. v. sigbaar in die vorme wat die Here Jesus in Matt. 6 noem: liefdadigheid, bid en vas. Ons kan nog wel 'n hele paar toevoeg: kerk toe gaan, psalmsing, bybellees by die huis ens. Dit is alles vorme waarin ons ons geloof in praktyk bring.

Maar goed, laat ons bly by wat die Here Jesus noem liefdadigheid, bid en vas. Die gevaar is groot dat uiterlike vormgewing van die geloof, soveel nadruk ontvang dat dit as vervanging van die inhoud gaan funksioneer. Dit gebeur eintlik maar vanself. Dus laat niemand van ons dink dat dit slegs met Fariseers kan gebeur nie.

Daarom moet ook gereelde kerkgangers elke sondag weer hoor dat hulle hul moet bekeer. Met die vorm, hoe goed ook, is dit nie klaar nie. Van die vrom moet ons steeds weer terug na die inhoud en van die inhoud weer na die vorm.

Wat met die Fariseers so duidelik gebeur dat die vormgewing van die geloof nog steeds daar was, liefdadigheid, bid en vas. 'n Goeie begin maar die vormgewing het soveel nadruk ontvang dat daardie vorme as die eintlike geloof geword het.

En daarmee het hul godsdiens 'n godsdiens sonder God geword. Godsdienstigheid genoeg, maar hul godsdienstigheid was meer 'n vetoning vir mense as 'n eerbetoon aan die Here God.

Die mense was diep beindruk deur hul vroomheid, hul uiterlike godsdienstigheid en het hul respek vir die Fariseers ook op alle maniere gewys. En op grond daarvan was die Fariseers daarvan oortuig dat God ook wel diep beindruk sou wees met hul godsdienstige ywer. Hulle het regtig gedink, hulle bewys God alle eer.

En tog het Jesus vir heel hul godsdienstigheid maar een woord: Geveinsdheid. Want daardie manier van bid en vas en liefdadigheid bewys is in die grond so heidens as wat.

Dit is n. l. 'n verloening van die Verbond!

Kyk in die Verbond het God met Sy liefde en Sy barmhartigheid na sy volk toegekom.

Hy het na sy volk Israel gekom as 'n Vader sodat die volk soos kinders teenoor Hom kan wees. Hy het Homself in Sy genade gegee en het daarom van Sy volk geeis dat hulle in 'n gebed hul dankbaarheid onder woorde bring. Of soos sond 45 dit stel: Omdat dit die voornaamste deel van dankbaarheid is.

Maar die Fariseers het die presies omgekeer. Hulle bid uitvoerig tot God. En daarby dink hulle: Die Here behoort ons dankbaar te wees dat ons so publiek ons diens aan Hom vir almal wys. Uit dankbaarheid moet God nou wel gee wat ons vra!

Wel, dis ook hoe die heidene bid. Ons bid, ons offer - nou moet God gee!

As 'n mens nie meer die Verbond sien nie, dan het elke gebed tot God in wese heidens geword.

Dan soek 'n mens homself en daarby wil hy God dan inskakel. Godsdiens is dan 'n onderdeel van jou selfdiens. En 'n gebed is dan niks meer as 'n offer op die altaar van jou eiebelang.

Wel, dit is die sonde van die Fariseer. En soos gesê, dit is ook die sonde wat ons in die gebed voortdurend bedreig. Dat ons nie as kinders in dankbaarheid na ons Vader toegaan nie, maar dat ons besig is om onsself te soek, selfs in ons gebed. Dat ons God wil gebruik in ons planne. Vir ons eie doel en ons eie geluk.

Maar daarvoor laat die Here hom nooit gebruik nie. En daaroor spreek die Here Jesus hier so verskriklik skerp. Geveinsdes, heidene.

Om vir die dissipels te leer hoe hulle dan wel moet bid, leer hy vir hulle God te sien as hul Vader.

Dit is vir ons nogal taamlik vanselfsprekend. Dat ons God ons Vader noem, maar dit is vir die dissipels iets heel nuut. Die Ou Testament ken 'n hele paar aanspreekvorme van God, maar nie juis 'Vader ' nie. Daarom moet dit vir ons opval dat in die gedeelte wat ons uit Matt. 6 gelees het die woord 'jou Vader' of 'julle Vader' seker 10 keer voorkom.

Die Here Jesus hamer die woord by sy dissipels in. 'Jou Vader in die hemel'. Juis teenoor die Fariseers. Hulle het God eerder beskou as 'n Werkgewer. Hulle doen vir Hom hul godsdienstige werk en daarom reken hulle op loon.

Maar God soek nie knegte nie. God soek kinders. En dit is die eerste wat die dissipels moet leer. Hulle gaan in hul gebed tot 'n Vader.

In Sondag 45 word die 'Onse Vader' aangekondig as 'n gebed wat die Here Christus ons onsself geleer het. Dit is baie belangrik hier. Dit geld n. l. nie slegs vir die gebed as 'n geheel nie, soos ons meesal verstaan, maar dit geld in die besonder vir die aanspreekvorm: Onse Vader.

Dit is Christus self wat ons dit so leer sê: Onse Vader.

Hy, die Eniggebore Seun van God. Die Enigste wat in ware sin Vader vir God kan sê, die Enigste wat Hom met alle vrymoedigheid Kind en Seun van God kan noem, daardie God, gee ook vir ons die bevoegdheid om Vader te sê.

Hy gee vir ons toestemming om net so vertroulik met God om te gaan, as wat Hy self doen. Tot ons eie verwondering mag ons ook 'Vader' sê vir God.

Nou besef ons al te goed dat vir daardie verwondering steeds weer geloof en bekering nodig is. Immers elke woord wat 'n mens gebruik, hoe mooi en skoon ook, vertoon op die ou end slytasieverskynsels. Selfs die pragtige aanspreekvorm: Onse Vader.

Daarom is dit nodig dat ons by elke gebed weer, sal besef tot wie ons praat. Tot die Almagtige God. Tot wie ons ons deur Christus kan rig met: Onse Vader!

Wanner ons so op bevel van Christus, God as Onse Vader aanspreek dan verwek Hy in ons ook kinderlike vrees en vertroue op God.

Kinderlike vrees. Daardie woord moet ons goed verstaan. Kinderlike vrees is nie angs nie. Ons hoef nie vir God bang of verskrik te wees nie. Nee, kinderlike vrees is meer eerbied. Dat jy jouself kleinvoel by so'n groot wonder dat jy vir God sommer Vader kan sê.

Dit is omtrent dieselfde as: die Here vrees.

Dit is: Groot dink van die Here.

Dan sien jy steeds die wonder van die Verbond. Elke keer weer as ons die woord 'Vader' op ons lippe neem, gebeur daardie wonder weer.

God, die Skepper van hemel en aarde wil na ons luister. Ons hoef nie vir Hom te skreeu nie, ons hoef ons nie uitsloof in lankdurige gebede vol mooi woorde nie, maar ons hoef net eenvoudig sê: Onse Vader, wat in die hemele is.

In daardie Vader naam kom Hy baie naby ons.

Dit bly 'n wonder. elke keer weer.

2. ONS GAAN TOT GOD IN KINDERLIKE VERWAGTING

Ons het in die eerste punt gesien hoe God se enigste Seun vir ons die bevoegdheid gee om God as Vader aan te roep. Christus het vir ons, God as Vader geopenbaar. Maar daaronder moet ons meer verstaan as dat Christus ons die Vadernaam geleer het.

Ons moet soos die Kategismus dit doen ook sê: Deur Christus het God ons Vader geword.

Christus het meer gedoen as ons in herinnering bring dat ons 'n hemelse Vader het. Nee, Hy self is dit ook wat God tot ons Vader gemaak het.

Laat ons maar weer aan die Verbond dink. Daardie Verbond kan ons nie indink sonder 'n Middelaar, sonder die Middelaar. Jesus Christus die Seun van God nie. As ons tot die Vader wil kom dan kan dit dus slegs in Jesus Christus.

In gemeenskap met Jesus Christus.

En daarom as ons bid Onse Vader, laat ons dan by daardie 'ons' in die eerste plek aan Jesus Christus dink. Slegs saam met Hom kan ek tot onse Vader nader.

Jesus Christus is die voorbidder. my begeleider en ek bid saam met Hom. Onse Vader. Maar as ek saam met Jesus Christus tot die Vader gaan, dan gaan nie net ons twee nie, maar met ons gaan talle ander mense. Almal wat by Jesus Christus behoort.

Ofwel ons bid saam met heel die gemeente.

Ek het nie 'n private God aan wie ek my private wense bekendstel nie. Maar ek bid tot Onse Vader. Die Vader van heel die kerk waarvan Jesus Christus die Hoof is.

Ons sonde is dat ons die gebed so dikwels tot 'n persoonlike saak maak. Ek bid. Vir my node. Laat 'n ander ook bid. Vir syne.

Maar dan bid elkeen vir homself. As los persone. Maar laat ons nie vergeet dat Christus hierdie gebed vir Sy Kerk geleer het nie. Hy het dit gegee vir die volk van Sy Verbond.

Hy het sy lewe ook vir daardie volk gegee.

Hy het God tot Vader van daardie volk gemaak.

En aan daardie volk van God mag ek behoort.

En as gevolg van my deel hê aan die volk van God mag ek persoonlik ook pleit op beloftes wat God vir sy volk gegee het.

Wel, as ek so bid, dan bid ek saam met al die heiliges. Dan is bid nie meer 'n private aangeleentheid nie, maar dan kan dit nie anders of ek dra die nood van heel die kerk op aan die Vader.

Dan is dit onmoontlik, dat ek in my gebed aan die nood van 'n ander verbygaan.

As ons leer om so te bid, dan sal daar groot dinge gebeur, gemeente. Ook in die gemeenskap van die heiliges. Jy kan mos nie bid vir die nood van 'n broeder of suster sonder om iets vir hom te doen nie?

God het deur Christus ons Vader geword. Dit is 'n magtige belydenis van 'n geweldige gebeurtenis. Laat daardie belydenis diep in ons hart ingeprent wees, broeders en susters. So diep dat ons ook in staat is om teleurstellende ervarings te verwerk. Want as daar teeslag kom in die lewe; As ons die gevoel het dat ons ondanks so baie gebede tog nie verhoor word nie, dan is dit die belydenis waaraan ons eerste begin twyfel.

Is God wel 'n Vader vir my? Maar hoe kan Hy dit dan doen? Is Hy wel 'n Vader? Maar laat Hy dit dan bewys deur vir my die goeie te gee.

Maar gemeente, as ons so dink het ons sake presies omgekeer. God het lankal deur Christus ons Vader geword.

Dat Hy dit geword het is 'n bewys van God se liefde. God hoef nie meer te bewys dat Hy my Vader is, dat Hy my liefhet nie!

Hy het dit reeds bewys! Deur n. l. Sy Eniggebore Seun te stuur om ons te red. Op daardie liefde wat daaragter gewerk het, mag ons Hom ook vandag aanspreek.

Want dit is nou bid. Dat jy steeds pleit op die liefde van God wat hy openbaar in Jesus Christus. Wel, as ons so ons gebed begin met met: Onse Vader dan mak ons daarmee die bron oop waaruit Sy liefde altyd al gevloei het.

Daarom mag ons ook vandag in kinderlike verwagting na Hom toegaan. Hy is tog onse Vader! En ons is tog Sy kinders!

Maar dan mag ons tog van Sy liefde alles verwag? Dit spreek dan vanself!

Wel, as ons so na onse Vader gaan, terwyl ons sien op die liefde wat Hy ons altyd al betoon het, dan word ons by Hom nie teleurgestel nie! In ons lewe sal ons nooit sonder daardie liefde van die Vader hoef wees nie.

Ook al beteken dit nie, dat ons altyd alles kry soos ons dit wil hê nie. Ook as daar by ons vrae opkom, sal ons daardie vrae maar moet laat in die hand van God.

Hy weet wat vir ons nodig is. Daarvoor is Hy 'n Vader. En bly ons kinders. Dus as Hy ons in sy wysheid bepaalde dinge onthou of van ons af wegneem dan mag ons nie aan sy Vaderskap gaan twyfel nie. Want as ons dit doen dan speel ons met ons kind-wees van Hom.

Tenslotte nog 'n enkele opmerking oor die tweede deel van die aanspreekvorm: wat in die hemele is.

Die bedoeling daarvan is nie dat God nou skielik weer ver van ons af weggeskuif word, nadat Hy eers in die Vadersnaam so naby gekom het nie.

Nee, ons moet dit so sien. Die waarde van die Vadernaam word deur hierdie toevoeging nog 'n slag ekstra onderstreep. Ons bid tot Hom, vir wie niks te wonderlik is nie. Wat deur aardse moontlikhede nie beperk word nie.

Vraag 121 ontvang in die Kategismus 'n pragtige antwoord.

Ons mag van die hemelse majesteit van God nie aards dink nie. Aards dink, dit is dink soos ons mense dit doen. Binne die aardse beperkinge. Binne die realiteite van hierdie wêreld.

Maar laat ons besef dat God se mag daar ver bo-uit gaan, By Hom is dinge moontlik, wat vir die mense onmoontlik is. Meestal noem ons dit in die sin: God kan groter dinge as wat ons kan doen. Maar dit kan ook beteken: God doen dikwels dinge waarvan ons sin en doel op g'n enkele wyse kan verstaan nie.

So gou ons probeer God te verstaan, God te volg in wat Hy by die een of by die ander doen, dan probeer ons sy dade te verklaar. Ofwel dan is ons besig om God in te pas in aardse dinke.

Dit is in moderne teologiese dinkrigtings vrywel steeds die geval. God se optrede moet verklaar word. As God slegte mense kwaad doen, dit kan ons verstaan. Maar as die kwaad goeie mense tref, dan het ons probleme. Wel as mense probeer om 'n oplossing vir daardie raaisel, die raaisel van die lyde te gee, dan pas ons God altyd in in ons aardse dinke.

Pas op daarvoor gemeente.

Laat ons maar liewers alles in God se Almag verwag.

Van Sy almag en Sy liefde. Dit is die twee pilare waarop die gebed rus.

Sy liefde. Hy wil alles gee wat goed is vir ons.

Sy almag. Hy kan alles gee wat Hy goeddink in Sy Vaderliefde.

In een woord: Wat ook al gebeur, van God se liefde kan geen skepsel ons skei nie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)