Christus het ons geleer om soos 'n kind tot die Vader te gaan

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 46 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 14: 1-20 & Joh. 16: 23-28
Ps. 25: 3, 8
Ps. 25: 6
Ps. 103: 5, 6, 7
SB. 34: 3
Ps. 33: 11

Broeders en susters,

Woorde wat ons veelvuldig gebruik kan vinnig slyt. Die glans daarvan verdwyn al hoe meer en ons neem hulle al hoe makliker in die mond.

Ook ons gebed staan aan diè gevaar bloot. Ook ons gebed kan 'n aanmekaar ryg van afgesaagde uitdrukkings word. En dit kan veral met die gebed wat ons "die volmaakte gebed" noem en wat ons Here Jesus vir ons geleer het, gebeur.

Dit het met daardie gebed gebeur: die "Onse Vader" is so dikwels gebruik dat al baie mense hulle aan 'n onsorgvuldige gebruik skuldig gemaak het. Dit is byvoorbeeld baie duidelik aanwysbaar by die "Rosekrans-gebed" wat tot die dwase uitvindings van die Roomse Kerk behoort: met 'n kralesnoer in die hande word 'n hele serie vaste gebede afgerammel, elke kraaltjie 'n gebed, waarby dan elke tiende kraal 'n "Paternoster" (die Latynse woord vir "Onze Vader") opgesê word. En dan dink hulle ook nog hulle kan met so'n aaneenskakeling van gebede iets by God verdien!

Maar u verstaan dat sulke gebede God nie behaag nie en nie deur Hom verhoor word nie.

Ons sal nie so gou tot so'n dwaasheid verval nie. Daarvoor is ons te gereformeerd. En tog kan dit 'n goeie ding wees om ook ons bid van die "Onse vader" reëlmatig aan 'n kritiese ondersoek te onderwerp. Vervlak die "Onse Vader" ook by ons nie maar al te gou tot 'n vlug "Paternoster" wat afgerammel word sonder om daarby na te dink wat ons sê, en veral: tot Wie ons dit sê nie?

Dring dit elke keer nog tot ons deur wat ons gaan doen wanneer ons diè so vertroude woorde in die mond neem: "Ons Vader wat in die hemele is...... "? Want dan gaan ons mense steeds opnuut maar baie ver! Dan gryp ons ver bo ons menslike horison uit!

Daarom is dit 'n goeie ding dat die Kategismus al dadelik aparte aandag vir die aanspraak van die Here God in die gebed wat Christus vir ons geleer het, vra. Ons het dit nodig om telkens weer daarop gewys te word waaraan ons begin wanneer ons die "Onse Vader" gaan bid.

Die woorde van hierdie gebed mag nooit tot 'n clichè uitslyt nie. Ons mag die Vadernaam nooit onnadenkend in die mond neem nie. Die HERE wat verbied dat ons sy naam ydelik gebruik, verdra dit ook nie dat sy Vadernaam tot 'n onderdeeltjie van 'n les wat ons van buite geleer het, vervlak nie. Ons Vader wat in die hemele is, sal nie onskuldig hou wie sy Vadernaam ydelik gebruik nie.

As ons nie al dadelik oor die beginwoorde van ons daaglikse gebed veroordeel wil word nie, sal ons ons telkens na die veelseggende betekenis daarvan moet laat terugbring, sodat ons weet wàt ons daarmee sê.

Daarom bedien ek u God se Woord oor die betekenis van die aanhef van die gebed wat Christus vir ons geleer het. Ek het die boodskap so saamgevat:

CHRISTUS HET ONS GELEER OM SOOS 'N KIND TOT DIE VADER TE GAAN

ONS MAG SO GAAN

  1. MET VRYMOEDIGHEID
  2. MET VERTROUE

1. Daar staan in die Skrifgedeelte wat ons in diè diens gelees het, 'n paar opmerklike woorde. Ons het in Joh. 16: 26 gelees dat Christus vir sy dissipels sê: "In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie..... ".

Het u geweet dat dit in die Bybel staan, broeders en susters?

Dalk het u altyd in hierdie origens wel bekende Bybelgedeelte daaraan verby gelees, maar dit staan hier darem maar, dat Christus vir sy kerk van die nuwe verbond sê: "Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie".

Is dit nie 'n eienaardige woord uit Christus se mond nie? Ons het mos altyd geleer dat juis Christus ons Voorbidder by die Vader is? Ons bely dit tog ook so in die Kategismus? Sondag 12: Christus is ons enigste Hoëpriester wat nou met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree. Sondag 18: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is.

En die Kategismus het dit regstreeks aan die Bybel ontleen. Daar staan mos in Rom. 8: "Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree".

Ja, moet maar eens lees, gemeente, die hoofstuk wat direk op hierdie merkwaardige sin uit Johannes 16 volg: 17: 9. Christus sê vir sy hemelse Vader: "Ek bid vir hùlle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het". En dan bìd die Here ook rêrig vir ons, sy kerk!

Ons hele lewe is mos van daardie aanhoudende gebed wat Christus by die Vader vir ons bid, afhanklik. Hoe kan Hy dan terselfdertyd sê: "Ek sê nie dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie"?

Wanneer ons Here dit so sê, broeders en susters, is Hy besig om sy dissipels op die komende afskeid voor te berei. Hy sal net-nou gevange geneem en gedood word. Maar dit is mos die weg waarlangs Hy tot die heerlikheid gaan kom. Hy sal weer uit die dood opstaan en mag dan na die hemel terugkeer om daarvandaan sy verlossingswerk voort te sit.

Deur sy kruisdood kom daar 'n belangrike vooruitgang in sy werk. En dit beteken ook vooruitgang vir sy kerk!

Sy naderende dood lyk wel 'n verlies vir die dissipels te wees.

Hulle sal hul Here nie weerkry soos dit tot nou toe was nie. Nogtans word sy vertrek wins.

Want deur sy kruisdood sal Hy die geskenk van die Heilige Gees vir sy kerk verdien en in die Gees sal Hy vir altyd na hulle terugkeer en by hulle bly. Ja, die Heilige Gees sal as die Gees van die waarheid na hulle toe kom om hulle in die hele waarheid te lei. So beloof Christus dit in 16: 13. Alles wat nou nog onduidelik en onbegryplik vir hulle is, sal dan ineens vir hulle duidelik word. Baie vrae van nou sal dan beantwoord word. In Joh. 16: 25 sê Christus: dan is dit nie meer nodig om in gelykenisse en in beeldspraak te praat nie, maar dan sal Hy deur sy Gees openlik van die Vader vertel. Met ander woorde: dan sal die kerk eers reg weet Wie die Vader in die hemele is. Niemand het ooit God gesien nie, maar die Eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar. Hy het immers deur sy kruisdood bewys hoe groot die liefde van die Vader vir sondaars is: so groot dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar nie, maar vir ons almal oorgegee het, sodat ons deur Hom sou lewe. Deur die Gees van die waarheid sal die kerk eers ten volle gaan verstaan wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het dat ons kinders van God genoem kan word. Die Vader van die Here Jesus Christus wil ter wille van sy Seun ook ons God en Vader wees wat ons ons sondes nooit meer toereken nie, maar ons met alle dinge vir liggaam en siel wil versorg.

Nou maar goed, broeders en susters, in daardie dag, sê Christus dan in Joh. 16: 26, in daardie dag sal julle in My Naam bid en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie.

En nou gaan ons tog wel iets verstaan van wat die Here daarmee bedoel het.

Die kerk sal voortaan nooit meer buite Christus om tot die Vader kan gaan nie. Alleen in sy Naam, met 'n beroep op sy offer vir hulle sondes, kan hulle nog onder Vader se heilige oë verskyn. Wie eiewys meen dat hy self goed genoeg is om voor Vader te verskyn; wie meen dat hy die weg wat Christus deur sy bloed vir ons gebaan het, nie nodig het nie, vind 'n slagboom op sy weg. God wil na hom nie luister nie. En as hy hom nie bekeer sal Hy agterkom dat Vader in die hemel ook 'n verterende vuur kan wees!

Alleen om Christus ontwil, en dan baie presies: ter wille van Jesus Christus wat ons as die Versoener van al ons sondes leer ken het, alleen in sy Naam mag ons tot die Vader gaan.

Maar in Christus se Naam bid is wel iets anders as om tot Christus te bid! En dit wil die Here aan sy dissipels duidelik maak. Dit is nie die bedoeling dat hulle voortaan hulle wense en verlangens, hul dankbaarheid en verdriet aan Hom voorlê sodat Hy dit aan die Vader sal deurgee nie. Nee, hulle moet self voortaan maar tot die Vader gaan. Christus gaan nie vir hulle vra nie. Laat hulle self maar met vrymoedigheid die Vader aanspreek!

Kom ek probeer om dit met 'n voorbeeld te verduidelik:

Sê nou 'n seun het sy matriek gehaal en hy het besluit om nie verder te leer nie maar om werk te soek. Hy moet dus aansoek gaan doen. Sy pa het 'n goeie kennis waar nog 'n aantreklike funksie oop is. Nou sê sy pa vir hom: moet dit maar self gaan vra, seun. Ek sê nie dat ek vir jou gaan vra nie. Moet jou maar netjies aantrek en 'n afspraak met hom maak.

Maar saans sê daardie pa wel vir sy vrou: ek sal môre nog wel gou skakel en 'n goeie woord vir hom doen.

Maar dit sê hy natuurlik nie vir sy seun nie, want daardie outjie moet nou leer om op eie bene te staan en bietjie vrymoediger met sy mond te word.

Kyk, so moet u ook diè mededeling van ons Here Jesus Christus aan sy dissipels verstaan, broeders en susters. Hy spoor hulle aan om self vrymoedig na die Vader te gaan. Hy wil nie hê ons laat nou alles maar aan Hom oor nie. Dit moet nie so wees dat Hy in alles vir ons die woord moet doen nie. Dit hoef ook nie so te wees nie!

"Ek hoef nie vir julle te vra nie, sê Christus, want die Vader self het julle lief omdat julle My liefgehad het".

Mag 'n klein mensie sommer voor die hoogheilige God verskyn en Hom aanspreek?

Ons mag van die hemelse majesteit van God nie aards dink nie, sê die Kategismus. Is Hy nie die God wat in die hemele is nie? Daar lê 'n oneindige afstand tussen God in die hemel en ons hier op die aarde. En ons het daardie afstand nog groter gemaak deur ons opstand teen God. Ons het 'n groot mond teen die hemel gehad en gedink ons kon net soos God wees. Erdwurms het die hemelse majesteit beledig. Sou ons nou dan sommer voor God se troon gaan staan en Hom soos 'n kind sy vader aanspreek?

Maar Christus, God se groot Seun, sê: As julle bid, sê: Onse Vader..... Julle mag die HERE in die hemele maar vrymoedig weer as Vader aanspreek. Moenie bang wees nie. Julle mag in my Naam gaan, julle mag jul daarop beroep. Maar dan moet julle daarmee nou wel self na die Vader gaan.

Miskien moet ek nog 'n ander voorbeeld gebruik. U verstaan: dis maar net 'n voorbeeld: 'n Kind het hom so ernstig teenoor sy pa misdra, ongeseglik, brutaal, dat sy pa hom nie meer wil sien nie en na sy slaapkamer gestuur het. Maar later daardie dag gaan praat sy ma met daardie kind en sy kom sover dat sy hom die verkeerde van sy brutale houding leer erken. Daardie kind skaam hom nou oor sy gedrag teenoor sy pa. Daarna praat ma ook met pa, wat nog altyd kwaad is en sy probeer hom kalmeer. Hul kind het nou mos sy skuld ingesien.

As pa weer bereid is om sy kind te vergewe, gaan ma weer na haar kind terug. Maar nou stuur sy hom ook na sy pa toe! Sy het bietjie bemiddel en versoen, maar nou moet daardie brutale kind self ook by sy pa gaan vergewing vra. Dit kan sy nie vir hom doen nie. Dit wil sy ook nie vir hom doen nie. Hy moet nou self sy pa weer in die oë kyk.

Kyk, gemeente, so stuur Christus ons ook na ons hemelse Vader terug. Christus het ons "beveel" om as kind na die Vader te gaan, sê die Kategismus tereg. Ons moet! Hy gaan dit nie vir ons doen nie. Want Vader wil dat die verhouding tussen Hom en ons, wat ons geskend het, weer heeltemal herstel word. Sy Seun Jesus het weer versoening bewerk. Maar ons moet nou wel self die kontak herstel.

En dit doen ons nou dus ook, gemeente, so dikwels ons gaan bid. En dan die naam "Vader" in die mond neem. Dan sien ons regstreeks die heilige God, die hemelse majesteit in die oë, soos 'n kind sy Vader. En dit màg, sonder dat daar 'n vuurvlam van sy troon uitskiet wat ons verteer.

As ons maar kom in 'n skuldbewuste houding omdat ons baie goed weet dat òns Vader se straf verdien het, en dat alleen Christus die pad na Hom terug weer vir ons oopgemaak het. "Vader, Ek is nie meer werd om Vader se seun of dogter genoem te word nie, maar nogtans- Vàder, u groot Seun het vir my gesê ek mog weer by U kom".

So mag ons dus bid, elke dag, meermale 'n dag selfs.

Is ons wel bewus daarvan wat ons dan doen?

Om so te bid- dit moet God die Heilige Gees ons wel steeds opnuut leer. Ons sal uit onsself nooit sover kom nie. Of ons wìl dit nie, of ons durf dit nie.

Dis die Heilige Gees wat ons skuldbewus moet maak deur ons ons sondes te leer raaksien en ons tot die geloof in Christus te bring. Dis die Heilige Gees wat heeltemal ander mense van ons moet maak: ons moet asof nuut gebore word. Ons wat onsself so hooghou, moet weer tot kinders gemaak word. En dan, dan weet ons, vol skaamte en skuldgevoel, nie meer wat en hoe ons behoort te bid nie. Maar dan is daar nog God se Gees wat ons in ons swakheid bystaan en ons leer om in Jesus se Naam met vrymoedigheid na die Vader te gaan. Want die skuld is versoen, die sonde nie meer daar nie en Vader wil weer ten volle Vàder wees.

2. Wanneer ons so gaan, broeders en susters, sal ons ook ervaar dat ons nie afgewys sal word nie. Dat Vader ons nie sal wegstuur nie. Hy sal ons, inteendeel, weer met oop arms ontvang. As verlore kinders wat weergevind is, as brutale kinders wat nou skaamte en nuwe ontsag gekry het. En alles wat ons Hom vra in Christus se Naam, sal Hy vir ons gee. Ons kan maar vol vertroue gaan.

Vader sal ons veel minder dit wat ons van Hom bid, weier as wat ons aardse vaders aardse dinge vir ons ontsê, vertel die Kategismus. Watter vader sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As aardse vaders wat sleg is, dan al weet om vir hulle kinders goeie gawes te gee, hoeveel te meer sal ons Vader in die hemel die goeie gee aan diè wat dit van Hom vra? Al kan dit ook gebeur dat 'n vader hier op aarde sy kind verwaarloos of selfs mishandel, Vader in die hemel sal nooit so maak nie. Hy het in sy liefde vir ons mos sover gegaan dat hy sy hemelse Seun vir ons in die dood oorgegee het. Sal Hy ons dan nou nie alle dinge met Hom skenk nie? So dikwels u as kind in die gebed by Hom kom, ontvang Hy u met oop arms en Hy weet byvoorbaat wat u benodig, beter as wat u dit self aan Hom kan sê. Ons is by Hom in goeie hande!

Maar kom ons beken dit maar eerlik, broeders en susters: ons ervaar dit nie altyd so in ons lewe dat ons by Vader 'n oop oor en 'n oop hart vir al ons sorge en moeites vind nie. Dit lyk dikwels asof ons lewe vierkant in teëspraak met God se Vaderliefde is. Ons het partymaal die neiging om te sê: As God dan ons Vader is, hoekom maak Hy dan so met my?? !! Sy pad met ons loop dikwels hoegenaamd nie gelyk nie, maar is onoorsienbaar en verwarrend, benagstigend.

Is dit Vader se sorg as jy skielik in die hospitaal opgeneem moet word en die dokters kom agter jy ly aan 'n ongeneeslike siekte?

Is dit Vader se sorg as jy weens 'n stremming of oorspanning jou werk nie langer kan doen nie? As een van jou kinders skielik deur 'n ongeval uit hierdie lewe weggeruk word? As die een na die ander slag jou gesin tref?

Hoe dikwels bid kinders van God wanhopig dat dit anders mag word. Maar wat lyk dit dan ook dikwels asof ons geen gehoor kry nie.

"Alles wat julle die Vader vra in my Naam, sal Hy vir julle gee"- ìs dit wel so? !

Moenie opstandig raak nie, broeders en susters. Moet ook nie teleurgesteld raak oor die sorg van ons hemelse Vader nie. Maar moet bedink dat Vader Vàder bly, en dat ons kinders is. Vader weet altyd beter wat die beste vir ons is. Ook as dit anders gaan as wat ons vir onsself gewens het. Vader is geen outomaat wat al ons verlangens vervul sou gou ons op die gebedenknop druk nie.

Hy is Vader.

En Hy is allereers die Vader van ons Here Jesus Christus wat sy eie Seun oor ons tot in die hel moes wegstoot om ons as sy kinders terug te kry. Hy neem ons nou agter sy Seun aan langs 'n pad van vernedering saam na die heerlikheid toe. Vader hou ons en maak ons op allerlei manier klein. Hy herinner ons aanhoudend daaraan dat ons alleen nog UIT GENADE sy kinders kan wees. Ons het dit nodig. Ons word sommer weer eiewys, hooghartig en opnuut brutaal teen die hemelse majesteit. God hou ons klein. Maar juis so hou Hy ons vas. Leer Hy ons ons selfversekerdheid af. Dwing Hy ons om op die knieë by Hom te bly kom en om nie soos vanselfsprekend nie, maar vol verwondering en dankbaarheid die lewe as 'n wonder uit sy hand te ontvang.

Ons sal moet bly glo dat alles wat hy vir ons gee, ook die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, goed vir ons is. Dat dit alles tot my saligheid moet dien.

Ons Here Jesus Christus het ook gesê: "Want as aardse vaders wat sleg is, tog goeie dinge aan hul kinders gee, hoeveel te meer sal ons Vader in die hemel goeie dinge gee aan die wat dit van Hom vra". Goeie dinge ontvang ons van ons Vader. Hy gee nie alles wat ek vra nie. Ek vra dikwels nie 'n goeie ding vir myself nie. In my kortsigtigheid weet ek dikwels nie wat goed vir my is nie.

Dit is dan ook opvallend dat die woorde wat ek so pas van Christus aangehaal het uit Matt. 7, in Lukas 11 so weergegee word: "...... hoeveel te meer sal julle Vader in die hemel die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid". Ons weet nie altyd hoe en wat om te bid nie. Laat ons daarom om die Heilige Gees bid! Diè weet wat goed vir ons is. Diè kan ons in ons swakheid bystaan en leer hoe en wat om te bid. Diè kan ons ook leer om ons onder die hand van Vader in die hemel ootmoedig te verneder sodat Hy ons kan verhoog op sy tyd. Vader laat mos alle dinge ten goede meewerk vir die wat hy liefhet, al kan ek dit ook nie altyd verstaan nie.

Vader is Vader in die hemel. En soos die hemel hoër as die aarde is, is sy weë hoër as ons weë en sy gedagtes hoër as ons gedagtes. Ons kan Hom daarom nie nareken nie. Maar dan moet ons Hom ook nie wil voorreken nie.

Hy vra vertroue in sy liefdevolle sorg, ook as Hy ons deur diep dale saamneem. Ons is regtigwaar in goeie hande. Vader ken mos selfs die hare van my kop en nie een daarvan kan uitval sonder sy wil nie. Vader bewaar ook alle trane wat ek hier op aarde skrei in 'n bottel om eendag al my trane vir goed te kan afvee. Alles sal eendag regkom.

Hy wil dit, aangesien Hy my Vader is.

Hy kan dit ook, aangesien Hy in die hemele is.

Want nou kry daardie woorde aan die begin van my gebed, wat my aanvanklik afgeskrik het, sommer 'n baie bemoedigende klank: "wat in die hemele is". Ek moet van die hemelse majesteit van God nie aards dink nie! Vader se mag en majesteit baan die moontlikhede van hier benede ver te bowe. Ek mag van sy almag alles verwag wat ek vir liggaam en siel benodig. Hy sit daarbo in die hemel op die troon en vandaaruit ontgaan hom niks nie. Alle lewensdrade hier benede kom in sy een hand saam. En Hy borduur daarbo verder aan die lewe van ons almal, so, dat dit hier onder wel 'n snaakse broddelwerk lyk, maar darem eendag as 'n indrukwekkende kunswerk sal klaarkom.

In diè vertroue mag u bid, gemeente.

So dikwels u maar wil.

En dit kan nooit te dikwels wees nie.

Maar dan moet ons weet wat of ons bid!

Want sulke kosbare woorde mag ons tog nooit tot pasmunt laat devalueer nie?

AMEN.

(Pretoria, 27 Augustus 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)