God leer om dankbaar met die stoflike besit besig te wees

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

20-10-91

SONDAG 42

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 107 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 107 : 3, 4
Skriflesing: Spreuke 30 : 1-9, Jakobus 5 : 1-9
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 17 : 1, 2, 4
Sondag 42 HK
Prediking
Sing: Ps. 127 : 1, 2
Dankgebed
Sing: SB. 17 : 5, 6
Seën

Gemeente van ons Heiland,

al die gebooie wat die HERE op Sinaï gegee het, kyk vooruit na die toekoms wat Israël in die beloofde land sal kry. Die wetsbepalings wil die samelewing wat kom, beveilig: die sonde sal mos mooi dinge stukkend probeer breek. Die 8ste gebod beskerm die besittings wat die HERE vir elk van sy mense afsonderlik sal gee. Die volk Israël het sy eie, spesifieke ekonomie ontvang: nie 'n eerste wêreld ekonomie en nie 'n derde een nie. Nee, dit was 'n baie unieke een: 'n ekonomie wat spesiaal deur die HERE gereël is. Die 8ste gebod is dié peiler van daardie geestelike, ekonomiese wetgewing. Die seën van elke dag moet veilig wees.

Daar is groepe mense in Suid-Afrika wat op Oudtestamentiese wyse oor land en volk praat. Die besit van die land word aan die reg van 'n deur die HERE geleide geskiedenis van die volk gekoppel. Hoe sien sulke leiers die eiendom?

Nou die dag het ek 'n dokument in hande gekry waarin die prinsipes van die sogenaamde "Christelike-volkseie onderwys" vir Pretoria beskryf is. Daarin lees ek: "ons eie volk" (dit is die volk van die blanke Afrikaners) het "nog sy eie toekomsstrewe en toekomssiening. Ons droom van 'n vrye volksbestaan in 'n eie volksstaat. Dié staat moet 'n eerstewêreldstaat wees; die volk 'n wenvolk". Kom ons los vir nou uit dat dit oor 'n groepering gaan wat 'n eie, blanke staat binne Suid-Afrika wens. Ek praat nie oor politieke voorkeure nie, maar oor die geestelike agtergrond. Is dit suiwer? Ek wil nadink oor die woorde: die wens van 'n eerste-wêreldstaat, die tipering van 'n wenvolk. Onderwys en die kwaliteit daarvan behoort ook by die verantwoordelike omgaan met God se gawes. Ja! Mag jy sê wat die genoemde dokument sê: "Wenvolke van die wêreld sê sonder huiwering: ons welslae is te danke aan uiters hoë gehalte onderwys en opleiding"? Die werklikheid van Suid-Afrika vandag is dat daar 'n eerste en 'n derde wêreld deurmekaar leef. Daar is groepe wat deel in die ekonomiese krag en welvaart van industriële en tegnologiese ontwikkeling: ons noem dit die eerste wêreld. Daar is nog groter groepe mense wat daarin nie opgeneem is nie. Hulle is primitief, het min opleiding en leef nog naby die ou stamtradisies: dit is die derde wêreld. Wat maak jy as christen in so 'n gekompliseerde land? Kom ons ondersoek in hierdie léérdiens rustig die betekenis van die 8ste gebod van die HERE.

GOD LEER OM DANKBAAR MET DIE STOFLIKE BESIT BESIG TE WEES

Ons volg wat die Bybel sê oor

  1. ekonomie rondom die kerk,
  2. liefdediens vir die naaste,
  3. profesie in die land.

1. EKONOMIE RONDOM DIE KERK

Ek moet vanaand die 8ste gebod behandel. Dit beteken dat ek saam met u moet vra: van watter terrein is die 8ste gebod in die wet die spits? Die 5de gebod oor vader en moeder belig heel die terrein van gesagsverhoudings waarin die HERE jou 'n plek gegee het. Die 6de gebod beskerm die lewe, sodat baie breed oor samelewing in die algemeen gepraat moes word. Die 7de gebod beskerm die huwelik en eintlik alle relasies tussen die twee geslagte van God se skepping. Die 8ste gebod verbied jou om te steel, sodat heel die waarde van besit uitkom. Die volk van God het ook sy plek in die ekonomiese werklikheid: die werklikheid van geld verdien, besit verwerf, produseer en verkoop. Maar: ons leer by die HERE om geestelik, d.w.s. in die geloof na die stoflike sake te kyk. Ons soek sy Woord, sy wil oor ons tasbare werklikheid.

Israël was die kerk van vroeër. Hoe het die HERE hulle die ekonomiese werklikheid laat beleef? Dit was pragtig in sy diepe bedoeling: daar was ruimte en reg vir almal. Kom ons noem 'n paar trekke. Die besit was erfbesit. Jy het die land van jou ouers ge-erf en die bedryf eenvoudig voortgesit. 'n Agrariese samelewing was Israël. Dié land was onvervreembaar besit: wanneer jy gedwing was om te verkoop, was dit net vir 'n paar jare. In die jubeljaar sou jy dit mos terugkry! Daardeur kon daar in Israël nie werklik grootgrondbesit of multinationals ontstaan nie. Terselfdertyd is die mense wat tog arm geword het, beskerm deur die wette van die HERE. Die verbod op rente het dit maklik gemaak om te leen en om terug te betaal. Jy het die kans gekry om ekonomies 'n "comeback" te maak. Die HERE het sy volk 'n eenheid gemaak. Die band aan die HERE was vir almal ook 'n band van verantwoordelikheid en liefde vir mekaar.

"Jy mag nie steel nie": die HERE gee mos genoeg. Hy gee onderdak, kleding en voedsel vir almal. God se reëlings rondom die tiendes en die offergawes het die arme, die weduwee en selfs die vreemdeling in die oorvloed laat deel. So kon almal basies genoeg kry om te leef en God se gawes te geniet. Jy mag nie steel nie! Dit het toe duidelik beteken: wag vir die HERE, wanneer jy tekort kom. Alle vorme van diefstal soos die Kategimus die beskryf, gaan regstreeks teen die bedoeling van al God se ekonomiese wette in: verdraaiing van die wet, vervalsing van gewigte, woekerrente. Jou vaste vrywillige bydrae was deur die HERE vasgestel: 10 persent van jou inkomste. Daarby was daar die ruimte vir vrywilige offergawes om ekstra dankbaarheid te wys en jou arm naastes te laat deel in jou oorvloed. Die Spreuk wat ons in 30:8 gelees het, het 'n diepe wysheid in hom: "Ek vra van U, HERE, gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is". Want die effek van armoede is: "dat ek sou steel en my aan die naam van my God vergryp" (ek sien dan mos verby aan die HERE wat die armes hul reg verskaf). Die effek van rykdom is: "dat ek, as ek oorversadig geword het, U verloën en sê: wie is die HERE?". 'n ryk mens besef maklik nie meer dat hy die seën van die HERE benodig nie.

Die beskerming van Israël as volk met 'n eie, deur die HERE gereëlde ekonomie, bestaan nie meer nie. Die volksbestaan het sy einde, sy vervulling in die koms van ons Here gehad, die Heiland van die wêreld. Die grense van dié een land is deurbreek, omdat die Evangelie oor die wêreld uitgegaan het. Die Heilige Gees lei sedertdien God se volk middein die wêreld. Dit beteken: 'n christen is deel van 'n ander samelewing. Die beloofde land lê anderkant die wederkoms van Christus. De ou beloofde land met sy ekonomie was 'n voorafskaduwing van die nuwe aarde. Die wêreld is ons woning, ons tydelike huis. Dit is 'n huis-op-pad: ons trek die toekoms tegemoet. Tog mag elke christen ook met werk en geld en besit in die land leef waarin God hom sy plek gegee het. God wil u geestelike mense middein die wêreld maak. Nee, daar is nie meer, soos in Israël, 'n nasionale band van die geloof. Die Heiland het jou mét die geloof 'n plek in die samelewing gegee. Hoe lyk die wêreld rondom die kerk?

Die huidige oorheersende ekonomiese strukture is die van opleiding en loopbaan, van inkomste en besteding, van maksimale winste en woekerrente, van moordende inflasie en die stryd om in die konkurrensie te oorleef. Jy mag die HERE op jou knieë dank, wanneer jy werk het. In so 'n land moet mens biddend leef. Die eerste wêreld-ekonomie is nie sommer so 'n seën nie. Rykdom, hoë opleiding, die spanning van konkurrensie kan maklik tot 'n vloek word. Terselfdertyd moet 'n pad gesoek word om as groepe van verskillende ontwikkeling in die land te leef. Wat moet daar in die ekonomie gebeur? Die vrae is baie groot, die antwoord lyk ver. Die kerk kan egter nou alreeds leer: die eerste wêreld-ekonomie is nie ons prestasie nie, dis die gawe van die Here. 'n Gawe, gegee om Hom en die naaste te dien.

Kyk vir die ekonomie rondom die kerk: dan het jy jou uitgangspunt altyd in die volk wat vir die HERE luister. Dan vra jy na sy wil vir al jou wense en handelinge. Hy wil jou leer om temidde van materialisme en egoïsme, temidde van geskreeu vir die grondbesit en woonregte geestelik te leef. Wat vra die HERE van my, as Hy elke Sondag sy bevel laat hoor: jy mag nie steel nie? Wat vra die HERE van ons, ryk mense.

2. GOEDDOEN VIR MY NAASTE

Positief, sê die Kategimus, gebied God baie in hierdie gebod. V/a 111: 'Ek moet die belange van my naaste waar ek kan en mag, bevorder'. Wie is my naaste? By die 7de gebod het ons ontdek: dit is al die relasies waarin jy beweeg, die mans en vrouens wat jy in die daaglikse lewe ontmoet. By die 6de gebod was die lewe wat God aan elke mens gee: dit moet beskerm word. Die 8ste gebod wys jou jou plek in die samelewing soos dit deur stoflike sake bepaal word. My naaste is in die eerste plek die familie. Hulpvaardigheid kry eerstens sy taak dáár. Ouers, sê Paulus, spaar vir hulle kinders. Kinders, sê die Skrif, eer hulle ouers, dus ook dan wanneer hulle oud of hulpbehoevend geword het. Die diakonie van die kerk vra altyd eerste: wat kan die familie doen om te help? Pa en ma doen getrou hulle werk om die eie gesin te kan voed. Die daaglikse brood mag die vrug van hul daaglikse werk wees. Saam mag hulle leer om as gesin die gawes van die HERE te waardeer. Hoe praat u by die huis oor u rykdom? Leer u kinders dat onderdak, voedsel en kleding die fundamentele gawes van die HERE is. Leer saam die gebed: "HERE, gee my nie armoede en ook nie rykdom nie".

My naaste is vervolgens die geloofsgenote, die ander kinders van God. Paulus sê: "Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof" (Gal. 6:10). Daarom moet ons nie net vir mekaar sê dat die diakonie oor genoeg geld moet beskik nie. Dit verstaan u almal. Ons moet ook vir mekaar sê: jy het die reg om hulp van die gemeente te aanvaar! Die armes het in Israël nie onder die woord "barmhartigheid" hulp gekry nie, maar onder die woord "reg". Dié reg is deur die HERE gegee en in sy wet deur spesiale gebooie gereël. "Ja, maar dan kyk hulle in my boekhouding", dink iemand. Dit is waar. Hoekom sou ons nie vir mekaar vanuit die geloof in daardie boeke kan kyk nie? Ons mag oop oor onderdak, voeding en kleding praat: as God se gawes wat ons dankbaar mag gebruik. Jy mag nie steel nie: jy mag, of jy ryk of minder ryk is, ook nie van God se gawes steel nie. As ek my geld en goed op onverantwoorde wyse gebruik, besteel ek God.

Is my naaste ook die mens in my omgewing van wie se armoede ek hoor? Is dit my buurman wat sy huis moes verkoop, omdat hy sy mediese kostes nie meer kan betaal nie? Is hy die swartmens wat blind is en voor Pick & Pay sit en bedel? Ja, Paulus het mos gesê "Laat ons, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goeddoen". Die Kategismus sê: ek moet my naaste 'so behandel soos ek wil hê dat die mense my moet behandel'. Ons gebruik die reël dikwels net negatief: "wat jij nie wil dat jou geschied, doe dat ook aan een ander niet". Nee, die Here Jesus sê: "Alles dan wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen" (Mt. 7:12); Luk. 6:31). Die Here vat die begrip naaste baie breed: Hy noem nie een beperking nie. Selfs die vyand val binne die grens van naasteliefde. Nee, dit is nie opportunisties nie: ek doen net dit wat ek van die ander wil terugkry. Want jy gaan uit van die gebod van God. Hy beveel jou die belang van die naaste te soek. 'Ek moet die belange van my naaste waar en kan en mag, bevorder', bely en leer ons in die Kategismus. Dan mag ek dieselfde in my lewe verwag, as ek die hulp van 'n ander eendag benodig.

"Jy mag nie steel nie"! Die krag, die skok van hierdie gebod is: die HERE beskerm die belange van die naaste teen jou en my hebsug. In hierdie gebod wat Hy vir jou sê, is die HERE al vir hom, my naaste besig. Want my naaste het ook sy vrou, sy woning, sy kleding, sy werk van die HERE gekry. God se beleid oor sy lewe moet ek respekteer. Of my naaste het te min ontvang en is daarom op my pad geset. Wat gebeur dan met my hebsug? God se beleid oor my lewe moet ek biddend verwag: om op geestelike wyse met my geld of my gebrek om te gaan. Ek mag liefdediens bewys, as ek ryk is. Ek mag liefdediens ontvang, as ek arm is.

3. PROFESIE IN DIE LAND

Die beloofde land, die beskermde ekonomie van Israël bestaan nie meer nie. Dit het in Israël basies alreeds nooit gewerk nie, omdat die volk die jubeljaar, die teruggee van besittings nie in praktyk gebring het nie. Dit was die hebsug wat die wysheid van die HERE misken het. Israël se ekonomie het deur die sondes van die volk stadig maar seker begin verander. Daar het armoede ontstaan wat 'n permanente verarming beteken het. Daar het by sommiges lukse en oordadige welvaart ontstaan. Toe het die HERE sy profete geroep om die volk te waarsku. Amos is so 'n profeet wat die rykdom wat met onreg gepaard gaan, geskeld het.

Dan kom die nuwe verbond: die seën in Christus Jesus wat God se kerk in elke land lei. Ook dan moet daar 'n profeet opstaan: Jakobus. Die hele brief van Jakobus bevat skerp, profetiese vermanings. Dit is opvallend dat daardie vermanings ook aan die kerk van die nuwe verbond gerig is. "Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellende wat oor julle kom" (5:1). Onthou u hoe die kerk van die Here begin het? "En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het" (Hd. 2:45). Die jong kerk het basies gedoen wat die HERE onder Israël gereël het: onderling was daar in die gemeente gedeelde genieting van die gawes van God. 'n Paar dekades later het ook dit skeef gegroei: daar ontstaan skrynende armoede teenoor oorvloedige welvaart. In die wêreld én binne die kerk. Die profeet Jakobus wys op die Oordeel van die jongste dag wat kom. "Julle het jul harte vet gevoer soos op 'n slagdag". Wat het ek met my rykdom gedoen? Dit is 'n vraag om jouself voor die aangesig van God te vra.

"Kyk, die loon van die arbeiders wat jul lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot die ore van die HERE van die leërskare". Ek kan nie verhinder dat ek oor Suid-Afrika nadink nie. Is ek net dan skuldig teenoor hierdie profestiese woord, wanneer ek niemand se loon agterhou nie? Of is ek ook skuldig teenoor God se Woord, wanneer ek my bediende, my tuinboy, my werknemers te min betaal? Ag, ek hou my maar net aan die aanvaarde loon: R.30,= vir 'n hele dag. Dit is vir hulle tog al baie?! Ja, so dink ek, omdat swartmense in die 3de wêreld lewe en ek in die 1ste wêreld. "En die geroep ... het gekom tot in die ore van die HERE van die leërskare", hoor ek dan die Woord van God, die profesie teen onreg wat ook christene kan pleeg. Is ons harte nog gevoelig vir die profesie van God?? Is die kerk nog bereid om profeties, ook teen homself, ook in die land te praat?

Jakobus volg die Here Jesus na. Hy ken, ons ken die woorde uit die Bergrede: "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie" (Mt. 6:19). Julle moet jou skat in die hemel soek! Jakobus sien die mot en roes aan die werk in die gemeente en in die wêreld rondom die kerk. "Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal to 'n getuienis teen julle wees". Dit is profesie, as in die kerk ook oor geld en besit die lig van God se Woord skyn. Is dit ook nie vir ons waar nie: "julle het skatte vergader in die laaste dae"? God, bely ons in die Kategismus 'verbied ook alle gierigheid aan die een kant én alle misbruik en verkwisting van sy gawes aan die ander kant'. Ons is dikwels ook besig te vergeet dat dit die laaste dae is, dat die Regter kom. Misbruik en verkwisting gebeur met gawes wat ook dan nog altyd God se eiendom is.

'n Wenvolk? Dit is ons, wanneer ons in die geloof oorwin. Dan oorwin jy selfs die wêreld, naamlik die kwaad wat in die land heers. 'n Eerste wêreld-ekonomie, 'n hoë vlak van opleiding? Dit word eers dan deur die Here geseën, wanneer ons sy gebooie uitvoer. Dit is: wanneer ons ook met ons stoflike besit, met daardie gawes van God, rentmeesters is. Rentmeester wees: dan dink jy altyd aan die Eienaar. Hy het die naaste in die land met sy armoede 'n plek gegee. Hy is die Eienaar, ook van my naaste.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)