Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 41 H. K.
Die huwelik in ere
Lees: Hooglied 4: 1 - 15
Teks: Sondag 41 H. K.
sing: Sb. 26: 1, 8, 10, 11
na wet Ps. 19: 4
na belydenis Sb. 22: 1, 2 en 11
Ps. 119: 1, 12, 33
Ps 128: 1, 2 en 3
Ps 51: 3, 5 en 6
Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!
As iemand Rome besoek moet hy nie vergeet om die "Sixtijnse kapel" te besoek nie. Dit word vandag as een van die wereldwonders gereken. Ontelbaar veel mense uit alle lande van die wereld besoek die kapel. Teen die plafon van die kapel het die grootste skilder wat ooit in Italie gebore is, Michel Angelo, 'n indrukwekkende reeks bybelse afbeeldinge geskilder. Die eerste in die reeks is die skepping van die mens. In een van die afbeeldings, staan God as 'n koninklike figuur aan die een kant, terwyl Adam en Eva aan die anderkant staan.
Die wonderlike in die afbeelding is dat Eva haar hande smekend na God uitsteek. Sy as die vrou, het nou die prooi van die manlike hartstog en geweld geword. Alleen by God is daar vir haar hulp en uitkoms. In daardie smeking tot God word deur haar, die vroue van alle tye verteenwoordig. Ons weet gemeente: God het Hom oor haar ontferm. Nie alleen oor Eva die vrou nie, maar ook oor Adam die man.
Die mens het deur sy val die huwelik in groot nood gebring. God het egter in Christus Hom oor die gevalle menslike geslag ontferm. In Christus het God sy wet, ook hierdie sewende gebod waaroor ons vandag handel, gehandhaaf. Waarskynlik is daar geen gebod wat deur mense meer vertrap en geskend word nie as hierdie sewende gebod. Maar ook nerens sien ons die barmhartigheid van God meer skitter as juis hier nie. God gaan lewes wat geskend en versiek is in ontferming in Christus red en vernuwe.
Dink net aan die geskiedenis van die owerspelige vrou in Joh. 8. Die skrifgeleerdes en Fariseers bring 'n vrou wat op owerspel betrap is. Die Fariseers en skrifgeleerdes het daarmee geen probleem nie. Moses het in die wet beveel om daardie vroue te stenig. Maar Jesus, wat sal Hy se? Ons ken die antwoord: "Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi. " (vers 7) So het Jesus die skeinheilige manne ontmasker. Hulle het skaam geloop eerste die familiehoofde. Vir die vrou het Jesus gese: "Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie. " Die Heiland wil dat ons teenoor hierdie gebod, in daardie gesindheid standpunt inneem. Ons moet die oog op die ontferming van God in Christus gerig hou, en om sy heiligende krag bid.
Dan sal ons ook in hierdie tyd waarin die huwelik vertrap en geminag word, die deur God ingestelde huwelik in ere hou. Ons spreek oor:
DIE HUWELIK IN ERE
- God het dit ingestel;
- Die duiwel probeer dit vernietig;
- Dit word in Christus geheilig.
I Gemeente, het ons opgemerk dat vraag 108 'n opvallende formulering het? Meestal word gevra wat God in hierdie gebod gebied, eis of wil. By die sewende gebod word egter nadruklik gevra wat die sewende gebod vir ons leer. Die kategismus wil maar se: In die sewende gebod kry ons onderwys. Hierdie gebod gee aangaande die huwelik onderrig. Soos dit ook uit die antwoord duidelik blyk.
Daarin word geleer dat onkuisheid deur God vervloek is. Daarom moet ons van harte vyande van onkuisheid wees en kuis en ingetoe lewe. Dan volg die woorde waarin aangedui word waarop die lering betrekking het, naamlik: in die heilige huwelikstaat of daarbuite. Met die woord huwelikstaat word ons duidelik gemaak dat ons deur die huwelik in 'n bepaalde regsposisie geplaas is.
Van die posisie word nadruklik verklaar: dit is heilig! Anders gese: Die huwelik is deur God ingestel en geheilig. Daarom raak hierdie gebod almal in die kerk getroudes sowel as ongetroudes. Vir ons almal is die huwelik 'n heilige deur God ingestelde lewensposisie. Met hierdie leer het die christelike kerk dit in die loop van die eeue nog al eens moeilik gehad. Dink maar aan die instelling van die selibaat.
Al in die eerste eeue van die christelike kerk het die gedagte opgekom dat geslagtelik verkeer binne die huwelik minder heilig is as die asketiese lewenswys van monnikke en nonne. Reeds die kerkvaders het onthouding heiliger geag as die mekaar binne die huwelik hartelik beken. Daarom het die roomse kerk die huwelik tot 'n sakrament verhef. Daarin gee God vir die getroudes 'n besondere genade wat hul saamkom as man en vrou vir God welgevallig maak. Hoeveel manne en vroue in die roomse kerk sug nie onder die juk van die selibaat nie?
Die Reformasie het daar radikaal mee gebreek. God self het die huwelik ingestel, sou dan vir God die huwelikstaat minder heilig, as die ongehuwde staat wees? Immers nee. Daarom word in antwoord 108 nadruklik oor die heilige huwelikstaat gespreek. Die kerk van die reformasie het daar nie aan gedink om die geslagtelik verkeer te veroordeel nie. Die sondig daarmee omgaan, dit is wat die reformasie veroordeel het. Daardie manne het die eerste hoofstukke van die Bybel goed gelees. Hoe heerlik God die mens geskep het en die huwelik vir hom geskenk het.
Gen. 1: 27 se: "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, " Dit is die eerste wat God ons oor ons skepping as mense openbaar. Hy het daaraan toegevoeg: "man en vrou het Hy hulle geskep. " Die Skrif wil daarmee se: die man en vrou wees is die heel besondere faset aan daardie grootse skeppingswerk van God. God het ons nie as engele geskep nie. By hulle is daar geen geslagtelik onderskeid nie, hulle is alleen heilige geeste. God het die mens as man en vrou geskep. Elk mens is geslagtelik bepaal. Jy is of man of vrou, soos God dit bepaal het.
Die man en die vrou is beide voluit na die beeld van God geskep. Dit behoort tot die grondliggende woorde van die Bybel. Die Jode het dit later nie mooi verstaan nie. In die moregebed in die sinagoge het die manne-gemeenskap gese: "Ons dank U God dat u ons nie as vroue geskep het nie. " Dit staan vierkant teenoor wat hier in Genesis 1 vir ons geopenbaar is.
Vervolgens word in Gen. 2 boeiend beskrywe hoe God by die skepping van die mens te werk gegaan het. God het dit nie by die ene mededeling dat Hy man en vrou na sy beeld geskep het, gelaat nie. In hierdie tweede hoofstuk staan ons versteld vanwee die wysheid en grootheid van God wat uit sy werk straal. Eerste: "Ook het die Here God gese: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas. "(vers 18) Die Statenvertaling het meer letterlik: " Ek sal hom 'n hulp maak, wat as teenoor hom is".
Let nou op die eerste woorde: dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Dit wil beslis nie se dat man of vrou sonder huwelik nie kan leef nie. God bedoel dit My skeppingswerk is nog nie klaar nie, daar ontbreek nog iets. In My skeppingswerk van die mens moet Ek nog verskeidenheid aanbreng, wat geen mens uit homself ooit sou bedink het nie. Ek gaan vir Adam 'n hulp maak wat teenoor hom is. Die oorspronklike woord wat deur hulp vertaal is sou ons ook as helper kan vertaal. Dink aan Psalm 146 waar die digter se: Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, daar mag ook vertaal word: wat die God van Jakob as Helper het. Die nuwe Afrikaanse vertaling het in Gen. 2 dan ook met reg vertaal: "Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, "
Jammer dat deur die gebruik van die onpersoonlike woord 'iemand' en die toevoeging "sy gelyke" die saamhorigheid nie tot uitdrukking kom nie. Die woord partisipant sou hier gebruik kan word om duidelik te maak wat die Here hier bedoel. Dit het nie daarom gegaan om Adam 'n hulp te gee wat Adam op sy wenke bedien nie. Ons moet die woord hulp, lees in die lig van die eerste woorde van God bly lees: dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Die mens kan hom net ontplooi as God vir hom die helper skenk. Waardeur albei man en vrou tot ontplooing kan kom. Dit is wel eens so onder woorde gebring: God het die mens nie eensaam geskep nie, maar tweesaam.
Gemeente, hoor nou hoe God daarby te werk gegaan het. God het Eva nie sommerso langs Adam geplaas nie. Nee God het tree vir tree gewerk. Eers laat God alle diere by Adam verby gaan, met die opdrag om hulle name te gee. So het die leeu en die leeuin, die beer en berin verby Adam gestap. Adam het gesien dat al die diere paarsgewys as mannetjie en vroutjie geskep is. So het die Here vir Adam daaraan ontdek dat hy alleen is.
Eers toe het die Here 'n diepe slaap oor Adam laat kom. Indrukwekkend! Adam self word uitgeskakel want die Here gaan werk. God het 'n ribbebeen van Adam geneem en vul die plek met vleis op. Die ribbebeen wat God uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe. God self het Eva by die hand gevat en vir Adam gebring. Adam het in vervoering geraak. Die eerste mens was profeet priester en koning. Adam bedien nou sy profeties amp, as hy op die geskenk wat God hom bring, reageer. Hy se: "Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. " Ook in die naamgewing van Eva laat Adam hoor dat sy op dieselfde skeppingshoogte met hom staan. Hy is die man, in die hebreeus: Isj. Hy se vir Eva ek is 'Isj' en jy is 'Isjah. ' Ons hoor saam bymekaar! Nog het Adam nie klaar gepraat nie Hy vervolg: "Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. "
Die woorde van Adam onderstreep wat ons eerder al opgemerk het: Beide man en vrou is na die beeld van God geskep. Die man sal sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. Die man vat nie sy vrou nie en onderwerp haar nie aan hom nie. Die man voeg hom self by sy vrou en kleef haar aan. Ja, ons sou die omgekeerde verwag het, die vrou wat die man aankleef. Die man is voortaan nie meer eensaam nie maar tweesaam.
Dan die woorde: en hulle sal een vlees wees. Gemeente diepsinniger en treffender kan dit nie onder woorde gebring word nie. Alles vir die huwelik is daarin opgesluit. Die woorde bedoel beslis nie alleen die geslagtelike eenwording in die huwelik nie, al het dit daarin ook sy plek.
Dit omvat veel meer, ons sou die 'een vlees' ook kan vertaal deur: een bestaan, of deur: een geskiedenis. Dit is 'n werklikheid wat in die huwelik hom oor man en vrou uitstrek. God het die twee mense bymekaar gebring met die roeping om vir heel hul lewe saam een geskiedenis te maak. Dit bring sowel die liggaamlike as ook die geestelike eenheid van man en vrou in die huwelik tot uitdrukking.
Die opdrag wat God in Gen. 1: 28 vir man en vrou gegee het: "En God het hulle geseen, en het vir hulle gese: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde" het geskiedenis geword. In gen. 2 vertel God self hoe wonderlik Hy dit gemaak het. In die liggame van manne en vroue het hy die gawe gele om kinders te verwek. Deurdat man en vrou een vlees word, gaan hulle saam een geskiedenis maak. Daar kom kinders en kleinkinders. Deur die huwelik is dit God wat die menslike geslag bou.
So is die huwelik 'n instelling en 'n skepping van God. Saam met alles wat God gemaak het staan dit onder die magtige woord: "Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed. " Was die kerk van die reformasie nie reg toe sy in antwoord 108 van die heilige huwelikstaat gespreek het nie?
Weet ons wie direk aan die begin van die christelike kerk, daar al met krag vir opgekom het? Niemand minder as die apostel Paulus nie! Al was hyself ongehuud dink hy nie daaraan om daaraan meer heiligheid te verbind as aan die gehuud wees nie. In Tim. 4: 1-5 het Paulus hom met krag verset teen hulle wat die huwelik minder heilig geag het en dit daarom verbied het. Hoe kom hulle daartoe? Immers alles wat God geskep het is goed en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.
Dis die val in sonde wat verwoestend op die huwelik en gelagtelike omgang ingewerk het. Daar le die oorsaak dat die mens so deur drifte en harstogte beheers word. Ook daar wind die Skrif geen doekies om nie. Dink aan Abraham met Sara en Hagar wat 'n leed en ellende het dit in sy tent veroorsaak. Dieselfde het Jakob met Lea en Ragal, Bilha en Silpa die slavinne ondervind. Dink ook aan die geskiedenis van Juda en sy seuns met Tamar. God het dit geweet en gesien, juis daarom het die Here by die Sinai met die sewende gebod gekom: Jy mag nie egbreek nie. Hy sien Israel voor Hom en Hy weet wat daar in hul lewens afspeel. Daarteen tree God op en laat dit in Levitikus 18 deur Moses nog meer uitgebreid opteken.
Afskulike sondes het onder Israel voorgekom, owerspel, gemeenskap met bloedverwante, manne met manne, vroue met vroue, mense met diere. Dit alles met die Israel van God wat Hy uit Egipte uitgelei het. Die sondes van vandag is nie nuut nie hulle was daar al toe God sy wet op Sinai gegee het. Die sondes verwoes wat God so mooi gemaak het.
Met krag het God daarteen die sewende gebod ingestel. Hy hou daarmee vas aan dit wat Hy goed geskep het. God tree tussenbei en gaan met hierdie gebod by sy volk goed en kwaad van mekaar skei. Daarby het antwoord 108 aangesluit: Ons moet kuis en ingetoe lewe, in die heilige huwelikstaat of daarbuite. So het God deur die eeue die huwelik van sy kinders heilig gehou. Daaraan moet ons as gemeente van Christus ook in hierdie tyd met alle krag vashou.
In hierdie 'ek' tydperk word van alle kante die huwelik geminnag en veragtelik gemaak. 'n Sosioloog het onlangs gese: Die huwelik van een man met een vrou is uit die tyd, ons het nou in die tydperk van 'n netwerk van vrienskappe gekom. Dis outyds om te spreek van 'n verbintenis van man en vrou wat lewenslank bly bestaan.
Mense wat so praat weet nie wat hulle se nie. Hulle verag die seen wat God elke dag in die, deur Hom ingestelde, huwelik wil gee. Gemeente ons moet God dank vir elke seun en dogter wat hul huwelik kerklik wil sluit. Hulle weet nie wat in die toekoms vir hulle voorle nie, tog gaan hulle mekaar voor God en sy heilige gemeente trou belowe, totdat die dood skeiding bring. Hulle mag weet, dwars deur die storme en aanvegtinge van die lewe, gaan God met hulle saam. Hulle mag vas op Hom vertrou.
Ons moet direk daarby opmerk, dat God ook saam gaan met hulle wat Hy nie tot die huwelik geroep het nie. Hulle moet daardeur nie negatief raak nie, maar op die Here vertrou. Hy seen ook die man of vrou wat deur Hom geroep is om ongehuwd deur die lewe te gaan. Hulle het in die gemeente, die liggaam van Christus, 'n eie plek waar hulle aan die opbou van die gemeente diensbaar moet wees. Wat gaan daar partymaal 'n troos en steun van hulle uit vir hul broers en susters en vir die kinders van die gemeente.
II Ja dis almal mooi gese, mag miskien gedink word, maar waarvandaan kom daar so baie gebreekte huwelike ook binne die kerk van Christus? God het die huwelik ingestel, maar hoekom lewe getroude mense partymaal as kat en hond saam? Is dit reg wat ons, as kerk van Christus, oor die heilige huwelik bely? Gemeente, die oorsaak moet ons by die duiwel. soek. Dis hy wat altyddeur daarop uit is om dit wat God goed gemaak het, te verwoes. Die duiwel loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. (1 Petrus 5: 8) So probeer hy steeds weer twee mense wat die huwelik vreugdevol begin het, teen mekaar op te steek.
Ja maar, word dan gevra: As ons nou ontdek dat ons nie meer van mekaar hou nie? Word dan die huwelik geen hel waarin op die duur nie meer geleef kan word nie? In hierdie moeite kan net help, dat weer besef word wat huweliksliefde eintlik is. Baie mense het daarvan 'n romantiese voorstelling. Dit sou dan 'n soort liefde wees wat ver bo die gewone liefde van mens tot mens uitstyg. Wat as dit kom, sondeloos sou wees. Is dit so, gemeente?
Waarom staan die sewende gebod dan in die tweede tafel van die wet? Die tafel wat al vanaf die vyfde gebod oor die liefde tot die naaste spreek. Die naasteliefde is dan ook die wortel van die waaragtige huweliksliefde. Nerens kan ons dit beter leer as van ons Heiland nie. Toe Hy die voete van sy dissipels gewas het het Hy gese: "Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhe. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar liefhe. " Hierdie nuwe gebod strek hom ook voluit uit, oor die liefde wat Christus van ons in die huwelik teenoor mekaar vra. In die huwelik vra Christus naasteliefde van twee mense wat sondaars is.
Christus vra weersyds liefde van manne en vroue in die huwelik wat moontlik duisend maal aanleiding gegee het om mekaar te verwyt en te haat. Christus vra naaste liefde wat vergewing skenk en wat nadat dit misgeloop het, tog mekaar elke keer weer in liefde laat aanneem. Die naaste liefde in die huwelik ontspruit uit die liefde van Christus wat in die midde van sy dissipels was as een wat dien. Gemeente, gee die duiwel geen kans om jou huwelik op te breek nie. Bid om hulp en krag om die duiwel teen te staan. As daar huweliks nood is, hou dan in Christus mekaar met alle krag vas, in Hom waarin ons die huwelik begin het.
Daardie weerstaan van die duiwel moet daar al by die eerste begin van die huwelik wees. Seuns en dogters, julle wat vir 'n huweliksmaat uitkyk, gaan in die keuse sorgvuldig en godvresend te werk. Bedink wat julle doen as julle jul hart en hande vir mekaar gee. Moontlik is die dogter vir jou mooi en vol sprankeling. En vir die dogter mag die seun sportief en 'n held wees, maar dis nie al wat nodig is nie. Bedink as julle gaan trou gaan julle saam 'n lewensgeskiedenis maak. Jy gaan 'n gesin bou, waaruit 'n familie en geslagte voort mag kom. Daarom is voor alles nodig dat julle saam die Here vrees.
Klink dit outyds? Tog kan dit vir ons seuns en dogters nie beter en duideliker gese word nie. Die tyd wat seun en dogter saam uitgaan en verloof raak is partymaal ook die tyd van rypwording waarin die belydenis van die geloof val. Laat daarom die keus van jou huweliksmaat geen moment losstaan van jou trou aan Christus nie. Dan word julle huwelik op die vaste fondament gebou.
Dan is dit nie voldoende dat julle saam God liefhet nie, maar ook in alles na sy wil sal handel. Byvoorbeeld as hulle nie tot dieselfde kerkgenootskap behoort nie, is dit nie reg dat een, terwille van die ander van kerkgenootskap verander nie. Die kies van die kerk moet 'n daad van Christus volg wees, want dis Hy wat vir Hom gemeente vergader wat tot die ewige lewe uitverkies is. Ook daarin moet uitkom dat hulle saam die Here vrees.
Jong mense vra partymaal: Is dit nog nodig om te trou? Seuns en dogters buitekant ons kerkgemeenskap, se dat ons maar outyds is.
Dis beter om eers 'n tydjie saam te woon, om uit te vind of dinge uitwerk. Se nou die liefde hou nie dan kan die saamwoon maklik beeindig word. Seuns en dogters laat julle nie deur daardie soort redenerings verwar nie. Wie saamwoon leef soos man en vrou wat getroud is. Alleen, dis die beskutting en houvas van die kerklike huwelik wat ontbreek.
Ons weet dat daar in die wereld 'n ander moraal verkondig en steeds meer gevolg word. Maar ons moet daardie moraal as 'n slegte moraal verwerp. Dink nie dat 'n mens vryblywend kan saam woon nie. Daardie een waarmee jy saam gewoon en wat jy verlaat het, sal jou lewe lank by jou bly as jou gewese maat. Dis nie so vryblywend as gedink word nie!
Ja, die duiwel soek om die huwelik as 'n heilige staat te laat verdwyn. Om kinders wat verwek en gebore word sonder regsbeskerming te laat. Dat kinders wat verwag word nie met vreugde tegemoet gesien word nie, pleks dat, as die Here dit wil gee, na die geboorte vir hulle die teken en seel van die verbond in die kerk verlang word. Daaroor gebied die Here sy seen. Soos Psalm 128 se: "Jou vrou is in jou huis soos 'n vrugbare wingerdstok, jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies! Kyk, so word die man geseen wat die Here dien. "(vers 3 en 4) Ons mag dit nuut testamenties uitbrei tot: jou seuns en dogters is rondom jou tafel en so sal die man en vrou geseen word wat die Here dien.
In vraag en antwoord 109 word nou tot die wortel van die huweliks-ellende deurgedring, naamlik: ons onkuise en onreine hart. Daarin word ons Heiland gevolg, as Hy se: "Julle het gehoor dat daar gese is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek se vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. " (Mat. 5: 27) Wie kan, onder die krag van hierdie ontdekkende woorde, nog dink dat hy vry van sonde teen hierdie gebod is?
Gemeente, in die onderhou van hierdie gebod word veel moeite ondervind en baie gely. Die gebod raak ons liggaam en ons diepste lewe. Daar is, ook onder die kinders van God, baie nood in die volbring van hierdie gebod. Hulle wat getroud en hulle wat ongetroud is, homofiele en heterofiele mense; elkeen het sy eie stryd te stry.
Daar is net een wat hierdie gebod volmaak volbring het: Ons Heiland wat ons oortredings van hierdie gebod in ons plek gedra het. Hy was ongehuwd. As mens alleen het Hy deur die lewe gegaan. Met ons skuld in hierdie gebod het Hy kruis toe gegaan. Vir ons skuld aan hierdie gebod vind ons by Hom vergewing. Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde. Gaan tot Hom met al jou nood. Hy gee krag om ook in hierdie gebod te bly staan en te oorwin.
Moenie dink dat die kwaad van hierdie gebod in die seksuele as sodanig le nie. Lees hoe in die Hooglied oor bruid en bruidegom gespreek word. Saam is hulle die koning te ryk. Sonder skroom word daaroor gespreek. "Alles aan jou is mooi, my liefling. "(4: 7) Van haar kant kom die antwoord: "Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag. Kom man wat ek lief het, kom ons gaan veld toe". (7: 10, 11) Daar is iets van die paradys in die manier waar bruid en bruidegom met mekaar praat.
Gemeente, kuisheid sluit vreugde oor die geslagtelik saam wees nie uit nie. Dis wel 'n voorreg wat in voortdurende stryd in die krag van Christus verwerf word. Ons kyk nog 'n maal na die skildery van Michel Angelo waar ons in die begin van gespreek het. Eva wat haar hande in smeking na God uitstrek. Laat ons as manne en vroue, seuns en dogters na God ons hande uitstrek wat man en vrou so heerlik geskep het. Na die God wat met sy eie hand, Isjah, mannin, vir Adam gebring het. Daardie God is, in Christus sy liewe Seun, 'n God van ontferming en vernuwing. Ontferming en vernuwing, ook en juis, in hierdie gebod! Laat ons Jesus Christus lowe.
Amen.
(kyk in preek)