God se verbod om dood te slaan is 'n gebod om lief te hê

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
1989-06-25
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 40 H.K.

LITURGIE:
L. Rom. 12: 9-13: 10
Ps. 5: 4, 5
Ps. 9: 7, 8
SB. 21: 1, 2, 4, 5
Ps. 133: 1, 2
Ps. 139: 10, 12

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar bestaan 'n regstreekse verband tussen ons verhouding tot ons naaste en ons verhouding tot ons God.

As ons die verhouding tot ons naaste skend, raak onvermydelik ook ons verhouding tot ons God geskonde. Wie sy naaste eenkant skuif, kan nie terselfdertyd sy God in die sentrum van sy lewe hou nie.

Heel duidelik laat die HERE self dit vir ons weet in sy Woord. Ons lees byvoorbeeld in Johannes se eerste sendbrief:

(2: 9 e. v. ) "Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig.... Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis.. "
(3: 10) "Hy wat sy broeder nie liefhet nie, is nie uit God nie".
(3: 15) "Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie".
(3: 17) "Wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? ".
(4: 8) "Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde".
(En laat ek tenslotte nog noem 4: 20) "As iemand sê: ek het God lief, maar hy haat sy broeder, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie- hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? "

Met diè erns kom dus die gebod van God se verbondswet na ons toe: "Jy mag nie doodslaan nie!". Die formulering van die sesde gebod is negatief gesteld, maar positief beteken dit: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself".

Die boodskap van die Here wat ek vanaand aan u moet voorhou is, saamgevat:

GOD SE VERBOD OM DOOD TE SLAAN IS 'N GEBOD OM LIEF TE HÊ.

DIE GEBOD

  1. IS DEUR GOD DIE VADER GEGEE
  2. HET DEUR GOD DIE SEUN GEBLY
  3. WORD ONS DEUR GOD DIE HEILIGE GEES GELEER.

1. Ons moet dus ons naaste liefhê, broeders en susters.

Soos ons in Rom. 13 gelees het: ons is dit aan mekaar skuldig, verplig om lief te hê.

Maar kan dit feitlik wel? Kan jy vir 'n mens beveel, kan jy dit aan iemand as 'n plig oplê om lief te hê? !

Jy kan liefde tog nie dwing nie?

Is liefde nie 'n kwessie van gevoel nie? Jy voel nou maar eenmaal iets vir daardie persoon, of jy voel heeltemal niks vir hom of haar nie!

Is liefde nie 'n onweerstaanbare drang na 'n medemens wat spontaan in jou opborrel nie? Of wat nou juis nie wil opborrel nie? Of wat eers wel aanwesig was maar na verloop van tyd al hoe meer weggekwyn het?

Ja, so word daar meestal deur ons oor die liefde gedink en gepraat.

Maar so het ook al heelwat verhoudinge tussen mense stukkend gegaan. So het broers uit een gesin van mekaar verwyder geraak. So het huwelike vasgeloop. So is ongeoorloofde verhoudinge goedgepraat. Jou eie gevoelens is tot norm verhef waarvolgens beoordeel is of dit nog sinvol geag moes word om aan te gaan of om maar liewer die relasie te verbreek: "Ek hou nou maar eenmaal nie van daardie mense nie..... " Of: "Maar as ek nou niks meer vir haar voel nie..... " Of: "Miskien is dit nie soos wat dit behoort nie, maar ek is nou maar eenmaal lief vir hom..... "

God se Woord praat egter nie oor liefde as 'n gevoel nie. Die HERE gee die liefde as 'n gebod: jy moet liefhê!

Met daardie gebod het ons menselewe eendag begin, in die Paradys. Uit die staanspoor uit het God die Vader, wat ook die Vader van mensekinders wou wees en hulle saam as sy huisgesin in sy wêreld 'n tuiste wou gee, die liefde tot leefreël gemaak. Almal mog uit sy liefde lewe, almal moes nou ook in liefde lewe. Heel eerste vir Hom. En vervolgens ook vir mekaar. Want sonder liefde sou daar geen lewe wees nie.

Hy het eenvoudig liefde geëis. Hy het geëis dat ons ons harte sou oopmaak vir Hom. Soos Hy sy hart oopgemaak het vir ons. En dat ons daarom ook ons oë sou oophê vir ons medemense. Dat ons ook vir ons naaste die beste sou soek.

Want liefde vir 'n medemens is nie dat 'n ander mens in jou 'n aangename gevoel losmaak nie. Maar liefde is dat jy vir 'n ander mens 'n aangename gevoel moet besorg. Liefde is nie dat 'n ander aan jou iets doen nie. Maar liefde is dat jy iets aan 'n ander doen.

Van die liefde wat die HERE vanaf die Paradys geëis het, geld: "dit soek nie sy eie belang nie", soos Paulus dit in sy lied op die liefde in 1 Kor. 13 uitdruk. Dit soek die belang van die ander.

Dit beteken wel dat my liefde nie vir elke medemens dieselfde kan wees nie. Egte liefde hou rekening met die verhouding waarin die HERE die een tot die ander geplaas het. Egte liefde stem af op die behoefde van die ander.

My liefde vir my vrou is anders as my liefde vir my kind. My liefde vir my kollega is anders as my liefde vir my broeder. My liefde vir my buurman is anders as my liefde vir my verre naaste.

Wie sy eie vrou liefhet, sal haar trou bly al maak sy deur haar houding partykeer ook onaangename gevoelens in hom los. Maar wie die vrou van sy vriend liefhet, sal haar op 'n afstand hou, juis as sy al te warme gevoelens in hom wakker roep.

Egte liefde het ook die moed om dwars teen die gevoel in vir die ander die waarheid te sê. Want die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly met die waarheid.

Liefde is 'n levensinstelling waardeur die een mens die ander mens bo-al in die regte verhouding tot God wil bewaar. Omdat daar by Hom alleen lewe is.

Dis hoekom die gebod om ons naaste lief te lê ons ook dwing om ons naaste te vermaan. "Jy mag jou broeder in jou hart nie haat nie. Jy moet hom liefhê. Dus: jy moet jou naaste vrymoedig berispe" (Lev. 19: 17).

As Adam in die Paradys sy Mannin voluit sou bly liefgehad het, sou hy aan haar stille aandrang om van die verbode boom te eet, nie toegegee het nie. In liefde sou hy haar berispe het. Hy sou haar streng tot orde geroep het. Tot die orde van God.

2. Dit het egter nie gebeur nie. Die mens het die liefde as leefreël verloor en het in selfliefde ontbrand. Hy wou net soos God wees. Maar 'n mens wat homself 'n god beskou, kan geen ander God meer bo hom verdra nie. Hy kan ewemin 'n medemens langs hom verdra, want daardie medemens wat homself ook 'n god beskou, het 'n mededinger geword. En dus moet jy hom eenkant toe stoot. Die mens het van die sondeval God en sy naaste begin haat.

Pleks van dat Adam sy skuld teenoor die HERE erken, skuif hy dit op Mannin af, om self oorend te kan bly. Hulle seun Kain vermoor sy broer Abel, omdat hy afgunstig op hom is. Lameg laat weet dat hy 'n man wat hom in die pad staan, sal doodmaak; 'n seun wat hom kwes 'n kop kleiner sal maak.

Die wêreld het vol haat en nyd, moord en doodslag, terreur en oorloë geraak.

Die mens wat nie in liefde wou lewe nie, moet nou ondervind wat die gevolge daarvan is. Sonder liefde is die lewe geen lewe meer. Dit het 'n voordurende sterwe geword. Diè straf het God in die Paradys al aangekondig. Die mens beneem homself die lewensruimte.

God slaan nou Self ook dood. Waar sy liefde versmaad word, ontbrand sy toorn. Omtrent die hele wêreldbevolking het Hy in die sondvloed weggespoel; alle eersgeborenes in Egipte het Hy doodgemaak; alle inwoners van Kanaän moes op sy bevel uitgeroei word. Maar ook van sy eie volk Israel het Hy derduisende doodgeslaan in die woestyn. En die liefdelose mens sal tot in die laaste oordeel die moordende toorn van die God van liefde bly raakloop. Want wie nie in liefde wil lewe nie, diè het geen lewe nie.

Maar nogtans, gemeente, het God na die sondeval die lewe vir ons nie volslae onmoontlik gemaak nie. Hy het die menselewe nie vir goed in die dood laat vasloop nie. Ons het dit wel verdien. Maar Hy het heeltemal onverdiend die deur na die lewe vir ons weer oopgesluit. Hoewel die mens die dood in die wêreld ingebring het, mog Adam sy vrou tog nog "Eva" noem: moeder van alles wat lewe. Hoewel die mens deur die sonde die lewe op aarde heeltemal onmoontlik gemaak het, sodat God 'n sondvloed moes ontketen, stoot die HERE vir Noag die deur na die lewe weer wyd oop: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde... "

Ja, God neem die mens se lewe selfs in beskerming. Hy gaan tussen die een mens en die ander instaan en sê: Hande tuis! Al slaan Ek ook in my toorn omtrent die hele wêreld dood, julle het nie die reg om mekaar dood te slaan nie. "Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word. Van die een mens teenoor die ander sal Ek die siel van die mens eis" (Gen. 9: 5, 6).

Die HERE reël vervolgens in die wette vir sy volk sorgvuldig hoedat enige aanslag op die lewe van 'n medemens regverdig bestraf moet word. Hy neem 'n owerheid in diens wat as sy wreker die swaard ontvang om die doodslag te weer en om die een wat kwaad doen te straf. 'n Owerheid, met 'n weermag, 'n polisie en 'n justisie. Dit wat geen mens op eie gesag mag doen nie: 'n medemens doodslaan, moet die owerheid op gesag van God doen: streng straf en desnoods doodmaak.

'n Owerheid met 'n doodstraf en dodelike verdedigingswapens is 'n goeie maatreël van God in 'n sondige wêreld. God plaas daardeur beskermhekke om die lewe. Want Hy het ons lewe nie aan die dood prysgegee nie. Hy het, inteendeel, ons die uitsig op die ewige lewe in 'n herstelde Paradys gegee.

So lief het God òns gehad, ten spyte van ons liefdeloosheid, dat Hy sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe (1 Joh. 4: 9).

God die Seun het in 'n wêreld vol doodslaners ingekom om in ons plek die loon op ons sonde, die dood, in ontvangs te neem. Hy moes in lewende lywe ondervind hoeseer ons mense die lewe tot 'n doodloopstraat gemaak het. Hoe die mens vandag van nature geneig is om God en die naaste te haat. Hy het geleef midde tussen mense wat op allerlei maniere hulle aan doodslag skuldig gemaak het: afguns, huigelary, openlike haat en laster.....

Hulle het een en andermaal klippe opgetel om Hom te stenig.

Hulle wou Hom in Nasareth van die berg af gooi.

Hulle het Hom op die ou end aan 'n wrede kruis opgehang.

En toe was daar geen owerheid om as dienaar van God hierdie doodslag te weer nie. Inteendeel, die owerheid het aan hierdie moord volop saamgewerk. Moes ook daaraan saamwerk. Christus het geweet: "Daar is geen mag, behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel" (Rom. 13: 1). Hy het geweet, en dit ook vir Pilatus gesê: "U sou geen mag teen My hê, as dit u nie van bo gegee was nie" (Joh. 19: 11).

Hy moes die doodstraf vir ons doodslag sterwe. Om vir ons die lewe weer terug te verdien. So lief het God gehad, dat Hy sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, sodat ons deur die dood van sy Seun weer met Hom en met mekaar versoen sou word.

Maar nou sê God ook met des te meer klem: Jy mag nie doodslaan nie, o mens!! Wee jou, as jy dit nou nog waag om, terwyl ek vir die mens die deur na die lewe weer oopgemaak het, die deur vir 'n medemens koelbloedig toe te gooi. As iemand die dood verdien, die ewige dood skuldig is- Ek alleen sal dit bepaal.

Ja, God formuleer hierdie gebod weer positief: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself! Dis nie genoeg as ons maar net ons naaste nie doodmaak nie. Nee, terwyl God afguns, haat, woede ens. verbied, gebied Hy ons dat ons teenoor ons naaste geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik is, alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom. Ons moet selfs aan ons vyande goed doen!

My gevoelens teenoor 'n medemens maak nie saak nie. Is hoegenaamd nie belangrik nie. Al is ek ook geneig om hom te haat, ek moet hom liefhê. Ek moet hom beskou as 'n medemens vir wie God die deur na die lewe nog nie vir goed toegemaak het nie. Ek moet dus probeer om hom deur daardie deur in die lewe binne te trek. Dalk mag ook hy eendag met my in die nuwe Paradys wees. Ek moet hom, wat net soos ek self die dood verdien, vir die lewe probeer wen.

Ons moet saam weer buig onder die ou leefreël van God: God liefhê bo alles en jou naaste liefhê soos jouself. En al maak hy ook nie so nie, ek moet vir hom daarin 'n voorbeeld wees.

Die gebod: Jy mag nie doodslaan nie!, is 'n padwyser wat aan die ou Paradys herinner en na die nuwe Pardys heenwys. In hierdie gebod wink weer die lewe in volmaakte liefde.

3. Tog, gemeente, sou nog geen mens daardie lewe in liefde bereik as dit van onsself moes afhang nie.

Van onsself kom ons nooit so ver nie.

God moet ons sover bring. Hy moet ons die weg na die nuwe Pradys opdruk en ons daarop saamneem.

Maar die HERE maak ook so.

In die kerk. Deur die Heilige Gees van ons Here Jesus Christus.

Christus wat die maghebber oor die dood, die duiwel, tot niet gemaak het, tas nou in die kerk die doodslag in die wortel aan en gee in plaas daarvan sy lewendmakende Gees.

En dis deur die werking van die Heilige Gees dat orals in die wêreld die liefde weer opleef: in die kerk.

Die Gees lê weer begaanbare paaie van die een mens na die ander en laat ons ook daarop wandel. Die Gees rig weer ons harte op mekaar, sodat ons, partymaal dwars teen ons persoonlike gevoelens in, ons naaste weer soek.

Want die Heilige Gees bind God se soekende liefde ons op die hart: God se liefde in Christus. Het God nie sy liefde tot ons daarin bewys dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was nie? (Rom. 5: 8).

Die Heilige Gees leer ons dit insien: as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

Die Heilige Gees begin ook nie by die in die oog lopende uitwasse van doodslag soos moord, aanranding, terrorisme, oorlog aborsie, genadedood. God begin by die wortel in u en my hart: hoogmoed, egoisme, rassisme, sluimerende afguns, haat, toorn, drif, geskinder....

Daaroor laat die Gees konkreet God se woord gaan in die sondagse eredienste, tydens die besoeke van die ouderlinge en diakens by u aan huis, in die katkisasieklas. Met die eis tot bekering en geloof. Deur 'n indringende vermaan. Desnoods deur die afhouding van die sakramente.

So dring die Heilige Gees by ons aan op 'n lewe in liefde. 'n Lewe in ongeveinsde liefde. Ons liefde mag nie 'n fraaie en vriendelike voorgewel wees waaragter 'n baie minder fraai en vriendelik hart skuilgaan nie. Ons moet aan ons naaste ons ware gesig wys. Ons moet aan hom ons hart wys.

Deur God se Gees leer ons die liefde as 'n gebod verstaan. As 'n lewensvoorwaarde. Liefde moet! Nie net teenoor die vir wie ek lief is nie. Doen die heidene nie ook so nie? Nee, ek moet liefhê juis ook die vir wie ek glad nie lief is nie.

Dit vra selfverloëning.

Want ek mag niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Ek mag myself nie wreek nie. Selfs my ergste vyande moet ek liefhê. Die wraak moet ek maar aan die HERE oorlaat. En aan die owerheid wat Hy daarvoor in diens geneem het. Ek moet vurige kole op die hoof van my vyand ophoop. Ek moet goed vir kwaad vergeld, sodat selfs die mees yskoue persoonlikheid daaronder warm kry.

En as ons in liefde gefaal het, as ons teenoor ons naaste kortgekom het, is ons eers rustig as ons ons weer volledig met hom versoen het. Ons stop die saak nie in die doofpot nie, maar wil dit wegkry, sodat dit nie ondergronds kan bly smeul nie. Dit moet met wortel en en tak uitgeroei word.

So werk God die Heilige Gees in die kerk daaraan dat die paradysklimaat in die wêreld terugkom, broeders en susters. In ons lewens, in ons huwelike, in ons gesinne, in ons omgang met mekaar in die gemeente, in ons omgang met ons kollegas by ons werk, in die behandeling van ons personeel, ongeag watter velkeur hulle het, in ons houding teenoor die swakkes in die maatskappy, in ons eerbied ook vir gestremde en demente lewens en vir die nog ongebore lewe in die moederskoot, orals laat die Heilige Geesdie christelike liefde weer by ons die bo-toon voer.

Ek weet, dis regtig nog nie volmaak nie. Daar is nog baie tekortkomings en blyke van liefdeloosheid. Maar dit wòrd darem sigbaar, merkbaar, voelbaar: hier bloei die lewe weer op. 'n Lewe in liefde.

Maar die wat nou dan ook selfs in die kerk nog die klimaat durf bederf, die wat nou nog, ten spyte van vermanings, die Heilige Gees durf teenwerk, vir hom of haar geld daardie ernstige woord uit Johannes se eerste sendbrief waarop ek heeltemal aan die begin van my preek al gewys het: "Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. " (1 Joh. 3: 14, 15).

Want wie nou nog nie in liefde wil lewe nie, het ook geen lewe nie.

AMEN

(Pretoria, 25 Junie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)