PREEK OOR SONDAG 25 H.K.
LITURGIE:
L. 2 Korint. 5: 14-21
Ps. 106: 1, 2
Ps. 106: 20
Ps. 71: 2, 4, 9, 10, 14
Ps. 23: 3
Ps. 31: 15, 17
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
Daar is in ons kerklike lewe feitlik maar min variasie. Jaar in jaar uit, ja, al eeu in eeu uit word dieselfde pstroon gevolg: sondags twee eredienste met daarin altyd dieselfde onderdele en met as enigste afwisseling 'n doopsbediening en die nagmaalsviering. Net 'n enkele maal 'n kerkdiens op 'n weeksdag i. v. m. 'n troue of omdat dit 'n christelike feesdag is, maar ook dan verskil die diens nie so baie van die dienste op die sondag.
Verder is daar altyd die katkisasieklasse, en die amptelike besoeke deur die ouderlinge en die diakens. En ook dit gebeur basies nog op presies dieselfde wyse as honderd jaar gelede.
Die patroon van ons kerklike lewe is so gewoon en vertroud dat u waarskynlik al heeltemal daaraan gewoond geraak het.
Maar oor dit waaraan jy gewoond geraak het, is jy meestal nie meer verwonderd nie.
En dan word dit gevaarlik want ons gewone kerklike lewe met sy vaste reëlmaat bly 'n groot wonder van God! In die gewone kerklike lewe kom die Heilige Gees van God met sy buitengewone sorg na ons toe.
So bely ons dit tog in Sondag 25. K.: deur die verkondiging van die evangelie, elke sondag van die kansel, op maandag en woensdag in die katkisasieklas, tydens die reëlmatige huisbesoeke, en deur die gebruik van die sakramente van doop en nagmaal telkens weer- daardeur werk en versterk die Heilige Gees die geloof in ons.
En so deel Hy al die weldade wat Christus vir ons verdien het aan ons uit. Hy skenk ons vergewing van al ons sondes, Hy vernuwe dageliks ons lewe, Hy trek ons weg van die sonde en die dood, Hy dryf ons na die ewige lewe met God en so gee Hy ons vandag al 'n voorsmaak van die ewige vreugde.
Deur ons vertroude kerklike lewe met sy oorbekende onderdele verrig die Heilige Gees sy genadewerk aan ons. En dit bly vir altyd 'n wonder.
Die Heilige Gees gebruik die kerk met haar amptelike aktiwiteite soos 'n moeder, om ons, God se kinders, vir die lewe met ons hemelse Vader groot te maak.
Ja, ons mag dit so sê, en so moet u dit leer raaksien: die Heilige Gees het die kerk tot 'n sorgsame moeder vir almal wat God as Vader het, gemaak.
Met hierdie beeld het byv. die apostel Paulus in die brief aan die Galasiërs oor die kerk en haar werk gepraat.
So het ook Calvyn oor die kerk geskrywe in sy groot werk "Die Institusie": "God wil sy kinders versmale hê in die skoot van die kerk, nie slegs sodat hulle deur haar hulp en sorg gevoed sou word solank as wat hulle nog jong kinders en onmondig is nie, maar ook sodat hulle deur haar moederlike toewyding gelei sal word, todat hulle tot volle bloei kom en uiteindelik die voleinding van die geloof bereik". "Want", so skryf Calvyn: "hierdie dinge wat God saamgevoeg het, mag nie geskei word nie, dat die kerk 'n moeder sal wees vir hulle wat God as Vader het... ".
In hierdie preek wil ek u, in noue aansluiting met Sondag 25 H.K., weer 'n slag die moederlike sorg van die kerk wys.
Dit wil ek doen onder die volgende tema:
DIE HEILIGE GEES MAAK DIE KERK TOT MOEDER VAN HULLE WAT GOD AS VADER HET.
Ons sal op die volgende punte let:
- HIERDIE MOEDER HET SLEGS EEN TAAK
- SY GEBRUIK DAARVOOR TWEE MIDDELS
- SY BEWERKSTELLIG DAARDEUR BAIE SEËN.
1. Die laaste vraag in Sondag 25 H.K., gemeente, klink darem baie eenvoudig in ons ore: "Hoeveel sakramente het Christus in die nuwe verbond ingestel? "
Op hierdie vraag weet 'n kind al die antwoord, selfs al is hy nog jare verwyder van katkisasieklasse. Wie weet nou nie dat daar in die kerk maar twee sakramente is nie: doop en nagmaal?
'n Klein kind weet al baie goed dat mens in die kerk gedoop word as jy nog 'n baba is. En hy weet ook al iets van die heilige nagmaal: dit is mos daardie vreemde, indrukwekkende kerkdienste waar daar 'n lank tafel voor in die kerk staan waar die grootmense gaan om brood te eet en wyn te drink.
Twee sakramente het die kerk: doop en nagmaal.
Is dit nie bietjie oorbodig om dit nou nog spesiaal te vra in die Kategismus nie?
Tog het die opstellers van hierdie leerboekie dié vraag doelbewus gestel, broeders en susters.
Daar skuil 'n wêreld agter dié amper onnosele vragie. Want wat vir ons en selfs vir ons kleintjies vandag baie vanselfsprekend is, was in daardie tyd vir baie mense glad nie vanselfsprekend nie.
Die skrywers van die Kategismus, en die lesers en leerlinge daarvan, het in 'n tyd gelewe waar daar die twee nie, maar sewe sakramente in die kerk was!
Die Roomse kerk, geregeer deur die Pous, het destyds, behalwe doop en nagmaal, as sakramente geken, en ken vandag nog:
- die VORMSEL, 'n ritueel om kinders tot die misviering toe te laat;
- die BIEG, 'n skuldbelydenis teenoor die priester waarna hy die skuld kwytskeld;
- die HUWELIK, wat in die Roomse kerk slegs waarde het as dit in die kerk ingeseën word;
- die PRIESTERWYDING en
- die LAASTE OLIESEL, 'n salwing wat aan sterwendes bedien word.
Sewe sakramente wat toegedien word in verskillende stadiums van 'n menselewe.
Vanaf dié 7 roep die Heidelbergse Kategismus ons nou terug na die 2 wat werklik deur Christus as sakramente ingestel is.
Maar die Kategismus bedoel met die oënskynlik eenvoudige vragie veel meer as om ons nou slegs tot 2 in plaas van tot 7 te laat tel. Ons word teruggeroep na die bedoeling wat ons Here Jesus Christus vanaf die begin gehad het toe Hy die sakramente aan die gepredikte Woord toegevoeg het. Die verskil tussen die sakramente in die Roomse Kerk en in die Christelike kerk is baie groter as 5.
Die Roomse kerk met haar sewe sakramente het vir haarself 'n heel ander taak toegeken as die van sorgende moeder. Sy wil nie 'n moeder wees nie, maar 'n magsinstansie.
Dit is die groot kwessie wat agter Sondag 25 se eenvoudige slotvragie skuil, broeders en susters; wat is die taak van die kerk?
Die Heilige Gees laat ons in en deur die kerk met haar middels deel in Christus en al sy weldade. Maar watter rol het die Gees hierby aan die kerk toegeken? 'n Magsinstansie of slegs moeder?
Die kerk wat deur Rome geregeer word, is lankal nie meer moeder nie. Sy het haarself groot mag gegee. Sy het haarself bevorder tot 'n soort van apteek waar mens God se genade kan bekom. Sy het geleer dat God alle middels, sêmaar: alle medisyne, om gered te word in so'n mate aan die kerk toevertrou het, dat die kerk sélf feitlik die een groot magsmiddel geword het wat oor God se genade beskik en dit kan uitdeel aan wie en wanneer sy wil.
Die sewe sakramente vorm die sewe medisyne wat die deur die sonde doodsieke mens weer gesond maak: elke nuwe sakrament gee jou weer 'n stukkie nuwe lewensgenade en dit is baie belangrik om te sorg dat jy so veel moontlik sakramente ontvang.
U weet wel iets van die Roomse misleer, gemeente: elke dag kom Christus liggaamlik op die altaar in die kerk; al lyk Hy ook soos brood en wyn- dit ís sy liggaam en die ís sy bloed. Wanneer die priester dit uitdeel, gee hy sonder terughouding aan elkeen in die kerk die vergewing van sondes deur Christus se liggaam en bloed. Wie die misviering bywoon, ontvang OUTOMATIES 'n deel van God se genade. Ja, selfs as jy nie in die kerk kom nie, bewerk die priester by die misaltaar nog vir jou die genade!
Dieselfde waarde het die Roomse kerk ook aan die ander ses sakramente toegeken. As hulle deur die kerk aan jou gegee word, word jy altyd ryker daardeur. Soos deur 'n medisyn wat vanself werk.
Nou kan u ook verstaan waarom in die Roomse kerk 'n baba so gou as moontlik gedoop moet word, desnoods deur die dokter of die pa.
Immers, as hy sou sterf voor hy nog selfs die eerste sakrament as 'n medisyn ontvang het, sou hy vir ewig verlore wees.
Voel u aan wat die groot kwaad in hierdie kerk- en sakramentsopvatting van Rome is, gemeente?
Die kerk met haar magsmiddels staan so sentraal dat die mens al sy vertroue begin stel in die kerk, en meen om daardeur outomaties (!) God se genade te ontvang. Die mens begin ook al hoe meer sy vertroue stel in die man wat die sakramente in die kerk mag uitdeel: die geestelike, die priester. Daardie man word die bemiddelaar tussen die Here in die hemel en die kerkvolk op aarde, van wie jy volslae afhanklik is. Hy beskik feitlik oor jou saligheid.
En so begin die mens al hoe meer sy vertroue stel in die kerk, daardie magtige instelling op aarde waar waar die verlossing van die lewe sommer uitgedeel word.
En op die ou end vertrou die mens nog maar net op homself, op sy eie getroue kerklidmaatskap en kerkgang, pleks van op die enigste offer wat Christus vir ons aan die kruis volbring het.
Vanaf hierdie magstoeëiening roep die Kategismus in Sondag 25 die kerk terug na haar enigste en eenvoudige taak. Die Heilige Gees het nie 'n magsinstansie van die kerk gemaak nie, maar 'n moeder. Sy het geen ander taak as om haar kinders aan die Woord van hulle Vader te herinner en dit op hulle hart te bind.
Die twee sakramente wat Christus aan die kerk gegee het, het as enigste doel om saam met die prediking in die kerk Vader se een, maar veelomvattende belofte in ons in te hamer: hierdie belofte, dat Hy as gevolg van Christus se offer aan die kruis, aan ons vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade wil skenk. Maar aan hierdie weldaad het ek alleen deel as ek dit met 'n gelowige hart aanneem.
Die kerk kan nie meer doen as om haar kinders, God se kinders, oor en oor aan hierdie belofte te herinner nie, en om hulle op te roep om dit gelowig te aanvaar.
Want die kerk maak nie salig nie, maar ons Here Jesus Christus maak salig deur sy kruisdood op Golgotha.
Die bediening van die versoening is wel aan die kerk toevertrou, maar dit beteken nie dat sy hierdie versoening met God nou aan haar lede kan verkoop, soos 'n medisyn wat outomaties werk, nie. Sy kan slegs in die naam van Christus en met groot klem aandring daarop: "Laat u met God versoen!" Sy kan slegs oproep en aanmaan tot geloof en bekering. Nie meer nie. Sy kan nie self sekuriteit gee nie, sy kan slegs wys op die fondament wat Christus op Golgotha gelê het.
As sy dit doen, is sy 'n regte moeder. Want dan is sy nie self die sentrale punt in haar kinders se lewe nie, maar stel sy Christus sentraal in die lewe. Dan is sy diensvaardig sodat haar kinders opregte kinders van hulle hemelse Vader word, wat lewe van die vergewing deur Christus.
Meer mag u nie van die kerk verwag nie. Meer moet u ook nie van die kerk verwag nie. Haar enigste taak is om u telkens weer aan God se beloftes en eise te herinner, met die bevel van geloof en bekering.
Die kerk is nie 'n politieke aksiegroep nie. Ook nie 'n geselligheidsklub wat allerhande aangename aktiwiteite vir haar lede organiseer nie. Die kerk is ook nie 'n liefdadigheidsinstelling nie.
En u kerkgang is geen outomatiese lewensversekering nie. U moet GLO. U moet uself uitlewer aan God se beloftes. Want wie wel gereëld kerk toe kom, gedoop is, van tyd tot tyd die nagmaal gebruik, maar nie verslae van hart is oor sy sondes en vervloeking nie, en terselfdertyd vol verwondering oor God se vergewende genade deur Christus en van voorneme om voortaan met sy hele lewe dankbaar God die Here te dien nie- sy doop is nie tot voordeel maar tot oordeel, hy eet en drink by elke nagmaal 'n oordeel oor homself en hy luister tydens elke preek en huisbesoek 'n oordeel oor homself.
Wie wil deel wees van die kerk, maar die prediking van die kerk nie wil hoor en gehoorsaam nie, hy moenie dink dat sy lidmaatskap van die kerk voldoende is om hom te red nie. God vra geloof.
En die kerk kan nie meer doen as om tot geloof op te roep en om dit te versterk nie.
2. Die middels waaroor die kerk beskik, is ook heeltemal dáárop gerig, en daarom maar beperk.
Daar is slegs twee: die verkondiging van die evangelie en die bediening van die sakramente.
Die prediking staan eerste. Immers, God se beloftes moet aangewys en uiteengesit word, voor hulle geglo kan word. Hoe sal 'n mens in Christus glo as hy nooit van Hom gehoor het nie en nie weet wat sonde is nie? Daarom gee God mans in die kerk wat in 'n vir almal verstaanbare taal die waarheid moet kom vertel. 'n Waarheid wat hulle nie self uitgedink het nie, maar wat God aan hulle gewys het in die Skrif.
Dié waarheid dat alle mense in die eerste Adam gesondig het, en God se vloek en die ewige dood verdien. Maar dat God se oneindige liefde openbaar geword het deurdat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Want hierdie Seun het vir ons en in ons plek aan die kruis tot sonde geword en het ons vervloeking op Hom geneem om vir ons te voldoen.
Hierdie is die enigste boodskap wat die ampsdraers in die kerk in baie variasies bring: Jesus Christus wat gekruisig is.
En die twee sakramente wat Christus ingestel het, is niks anders nie as 'n onderstreping van dié boodskap. Hulle voeg geen nuwe elemente aan dié boodskap toe nie. Maar omdat ons God rekening hou met ons onverstand en die swakheid van ons geloof, het Hy deur doopwater en nagmaalsbrood en -wyn dit vir ons selfs sigbaar en tasbaar gemaak wat Hy nou presies vir ons belowe in sy Woord. Dit is maar baie eenvoudig: een handvol water oor 'n babakoppie, 'n maaltyd van gebreekte brood en rooiwyn, maar God wil juis daarmee sê: "So eenvoudig is dit eintlik! Dit is nou wat Ek bedoel! Soos wat water vuil wegwas, so wil Ek die sondes wegwas. Glo jy dit nou? En soos wat jy gebreekte brood eet en rooiwyn drink, herinneringstekens aan die dood van my Seun op Golgotha, so seker het my Seun sy liggaam en bloed gegee -vir jou. Glo jy dit nou? "
Nee, daar gebeur geen opsienbarende dinge in die kerk nie, gemeente. Dis jaar in, jaar uit feitlik maar dieselfde. En die preke is meestal maar baie gewoon en die voordrag onvolkome. Die doops- en nagmaalsbediening bly sobere gebeurtenisse.
Maar moenie daaraan verby kyk nie! Want deur hierdie middels het die Heilige Gees van die kerk 'n sorgsame moeder, wat geduldig die beste vir haar kinders bly soek, gemaak. Die werk van 'n moeder is mos ook nie so opvallend nie. Dit bly ook maar jaar in jaar uit dieselfde: kos klaarmaak, klere koop en regmaak, die huis skoonhou... Maar juis daardie geduldige aanhoudende reëlmatige sorg van 'n moeder maak haar so waardevol.
Ons hemelse Vader het u nie aan u lot oorgelaat hier op aarde nie. Hy het u in die kerk 'n moeder gegee wat onophoudelik oor u bekommerd is en met reëlmaat en trou werk aan u heil.
Deur die verkondiging van die evangelie en die bediening van die sakramente hou God aan om u weg te trek van die sonde en die dood, na Hom en die ewige lewe toe. Met eindelose geduld en herhaling. Elke week laat Hy u weer sy Woord verkondig, sodat u sal bly glo. Dit hoef nie altyd 'n verrassende en originele preek te wees nie, nuwe eksegeses en onverwagse vebindingslyne nie. Maar die eenvoudige evangelie van God se genade moet klink. God het dit nie een keer vir u gesê en daarmee moet u nou maar sien kom klaar nie. Nee, God bly voortgaan om deur die prediking telkens weer dieselfde aan u voor te hou, steeds weer vanuit 'n ander invalshoek. Sodat u steeds weer u blik op God en Christus rig.
Bo en behalwe dit laat God elke nou en dan sy Woord by u tuis besorg en u persoonlik toespreek: deur middel van die jaarlikse huisbesoek, in dae van siekte, by gedenkdae, of as dit lyk dat die sonde u weer in sy greep gaan kry. So hou God u vas en bring Hy u al hoe nader aan Hom. Laat Hy u as sy kinders groei na die volwassenheid.
Die kerk bemoei haar ook as 'n moeder met die seuns en dogters en verduidelik geduldig vir jare God se beloftes aan hulle tydens die katkisasieklasse, om hulle so tot 'n publieke "ja" op dié beloftes te bring.
En het u oud en swak geword, siek of sterwende, dan kom troos die kerk u as 'n moeder met die enigste troos in lewe en in sterwe, nl. dat ons die eiendom is van ons troue Heiland Jesus Christus, wat met sy kosbare bloed vir al ons sondes volkome betaal het.
Om dit alles te beklemtoon, word die doopwater steeds weer bedien aan kinders van die kerk, en brood en wyn uitgedeel aan die nagmaalstafel.
Dit is die sorg waarmee God ons laat omring, om ons by Hom te hou. Deur prediking en sakramente het Hy die kerk tot 'n liefdevolle en onmisbare moeder gemaak. Onmisbaar ook, ja.
Want ons mag die taak van die kerk nie OORskat soos dit by die Roomses gebeur nie. Maar u moet haar taak ook nie ONDERskat nie.
Want dit kan ook gebeur. Dit gebeur in baie sektes en kringe wat die kerk met haar beperkte woord- en sakramentsbediening sonder veel variasie darem al te sober en eenvoudig vind. Vir hulle is die reëlmatige en troue sorg van die kerk as 'n moeder te gewoon en daarom soek hulle na allerlei besondere werkinge van die Gees.
Die betekenis van die kerk word ook onderskat deur kerklede self wat op allerhande maniere daarvan blyk gee dat hulle die bediening van God se Woord en die sakramente in die kerk nie so hoog aanslaan nie. Broeders en susters, wat 'n kleinigheid aangryp om die kerkdiens te versuim, of, erger nog, wat net kom as dit hulle pas. Broeders en susters wat meen een preek per sondag is ook wel genoeg. Broeders en susters wat die aanhoudende vermanings van hulle ampsdraers onbekommerd ignoreer. Seuns en dogters ook, wat wel kerk toe gaan, maar wat daar meer aandag het vir mekaar en mekaar se grappies iewers op die agterste rye, as vir die Woord van God. Seuns en dogters wat oor allerhande onbenullige redes wegbly vanaf die katkisasie en nie hulle lesse leer nie.
Dit alles is in feite minagting vir die moederlike sorg van die kerk.
Maar, gemeente, wie God as vader wil hê, sal ook die kerk as moeder moet aanvaar. Wat God saamgevoeg het, mag die mens nie skei nie, het Calvyn tereg gesê. Die Heilige Gees het Homself aan hierdie middels gebind om u vas te hou.
Niemand moet sê: ek kan vir myself wel in die Bybel lees en God dien, daarvoor het ek die kerk nie nodig nie. So'n mens gedra hom as 'n dom en eiewyse kind wat hom onttrek aan die sorg van Vader.
Vader self het ons hierdie moeder gegee. Wie dus moeder nie eer nie, is Vader nie werd nie.
3. Moet maar bly wees met hierdie moeder en haar amptelike sorg.
Want deur haar is God self met u besig. Wie homself laat versorg deur die kerk met haar middels, leef regstreeks onder die invloed van die Heilige Gees van God. Hy begewe homself in 'n goddelike kragveld.
Dan groei, deur die werk van die Heilige Gees, u geloof voortdurend, sodat u al hoe nader aan u hemelse Vader en ons Here Jesus Christus gaan lewe. U afkeer van die sonde word al hoe groter en u stryd daarteen al hoe kragtiger. U lewe word ryk, want die kragte van die komende eeu maak 'n totaal andere mens van u. En die voorsmaak van die ewige lewe gee soveel troos dat dit teen alles bestand bly.
So word al Christus se weldade, soos die Kategismus dit noem in vraag 65, oor u uitgestort en bewerk die kerk namens die Heilige Gees, baie seën vir u.
Ja, so sien u hoe die ontferming van die verkiesende God gestalte kry in u lewe. Blykbaar het God u ook tot sy kind gekies.
Blykbaar wil Hy deur Christus ook al u sondes vir ewig van u wegneem.
Blykbaar wil Hy ook u gereed maak vir die nuwe aarde en vir u 'n plek voorberei in die ewige lewe, temidde van die gemeente van die uitverkorenes.
Broeders en susters, ons het weer 'n heel gewone sondag gehad. Maar hierdie gewone sondag was weer 'n bewys van God se buitengewone sorg vir ons. Immers, moeder se sorg was daar weer volop vandag. Vader se Heilige Gees het weer volop gewerk vandag.
En daaraan mag ons nooit gewoond raak.
Daaroor moet ons aanhoudend verwonderd wees! AMEN.
(Pretoria, 5 Maart 1989)
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)