Ps. 114: 1, 2
Ps. 114: 4
Ps. 149: 1 - 4
S.B. 43: 2. 4
S.B. 43: 5, 6
Lees: Eks. 19: 1 - 8 & Hos. 1: 1 -12 & Jes. 43: 9 -21
Teks: 1 Petr. 2: 9, 10
Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.
Soos u gemerk het, het ons vanoggend u verskillende gedeeltes uit die Bybel gelees. 3 Gedeeltes uit die Ou Testament, en ons teks uit die Nuwe Testament. Dit is nie ons gewoonte om soveel verskillende bybelgedeeltes agtermekaar te lees nie. Dit mag naamlik nogal verwarrend word vir die hoorders. Maar vandag het ons dit tog noodsaaklik gevind, met die oog op die verstaan van ons teks.
Ons het al eerder agtergekom hoe Petrus in sy brief voortdurend teruggryp na die Ou Testament. Hy haal nie net letterlike sitate uit die Ou Testament aan nie, maar eintlik is heel sy woordgebruik gebaseer op situasies en uitdrukkings uit die Ou Testament.
In ons teks hoor ons opnuut allerhande Ou Testamentiese klanke, maar nou op 'n baie spesiale manier.
Wat in ons teks gebeur is dit, dat al die eretitels wat vroeër net vir die volk Israel gegeld het, deur Petrus oorgedra word op Christus se gemeente.
Julle is 'n uitverkore volk. Die volk wat God Hom ten eiendom verkies het. Die uitverkore volk van God.
Ons sou kon sê: Dit is die mees omvattende eretitel wat God eendag vir sy volk Israel gee het.
Daar was talle volke op die wêreld. God het hulle almal geskep. God het hulle almal onderhou, maar daar was maar net een volk wat Hy as Sy eie volk verkies het. Dit is Israel.
Daardie hoë, die ryk titel: uitverkore volk van God, word nou deur Petrus toegepas op die gemeente van Christus.
Aan die titel is nog 'n hele klomp ander titels verbind: 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n eiendomsvolk ens.
Hulle geld nou almal vir Christus se gemeente.
En as ons wil verstaan wat daardie titels beteken vir die gemeente van Christus, sal ons eers moet ondersoek wat hulle vroeër vir Israel beteken het.
Vandaar ons verskillende Skriflesings. Die drie gedeeltes uit die Ou Testament sal ons elk 'n punt vir die prediking verskaf. Sien bord. 1. Eks. 19. 2. Hos. 1. 3. Jes. 43.
Ons tema vir die prediking van 1 Petr. 2: 9, 10 is soos volg:
PETRUS TEKEN DIE EREPOSISIE VAN CHRISTUS SE UITVERKORE VOLK.
Ons sien:
- Hoe die Here die Verbond van Sy genade beskik Eks l9
- Hoe die Here Sy hart in Sy ontferming oopsluit Hos. 1
- Hoe die Here die lof van Sy deugde beoog Jes. 43.
1. Die ereposisie van Christus uitverkore volk. Hieroor gaan dit in ons teks, soos ons in die tema gestel het.
Dit is nie sonder rede dat Petrus op hierdie punt nadruk lê in sy brief nie. Sake verloop nie te lekker in die gemeente nie. Hulle bly in die verstrooiing, in 'n vyandige omgewing. Die gemeente het eensaam begin voel. Hulle het swaargekry as gelowiges. Ook onderling was die verhoudings nie so goed, soos dit behoort te wees nie. Petrus noem in vers 1 van ons hoofstuk, bedrog, afguns en kwaadpratery. Afbrekende kragte is werksaam in die gemeente. Hulle het moeg en moedeloos begin raak.
In daardie situasie skryf Petrus vir hulle hierdie brief.
En daarin stel hy voortdurend teenoor die armoede soos hulle dit gevoel het, die rykdom van die gemeente. Die hele eerste hoofstuk van sy brief bestee hy daaraan.
Maar ook die tweede hoofstuk gaan op die toon verder. Dit mag vir ons insig nuttig wees om die struktuur van Hoofstuk 2 te ondersoek.
In vers 4 praat Petrus van Jesus Christus. Hy is die lewende steen, .... en dan volg twee belangrike kenmerkende woorde: wat by God uitverkore en kosbaar is.
Daardie twee woorde beheers ook die volgende verse. Uitverkore en kosbaar vir God. Dit is Christus.
Maar dit is ook Sy gemeente, uitverkore en kosbaar.
Dus deur Christus is ook die gemeente uitverkore en kosbaar vir God.
Die gedagte van kosbaarheid word vir die gemeente uitgewerk in die verse 6 en 8. Die gemeente word daar deur Petrus gelukgewens. Julle deel in die kosbaarheid van Christus.
Maar nou gaan Petrus verder. In verse 9 en 10 word ook die gedagte van uitverkore wees, toegepas op die gemeente.
Julle is 'n uitverkore geslag.
Met hierdie woord haal Petrus opnuut die eerste woord waarmee hy sy geadresseerdes aangespreek het, vorentoe. U kan maar kyk, die eerste woord van vers 2 uit hoofstuk 1.
Petrus aan die vreemdelinge van die verstrooiing, uitverkore volgens die voorkennis van die Vader.
Die gemeente is wonderlik bevoorreg deur die verkiesing deur God. Ook dit is 'n gelukwensing werd. En daarmee is dit 'n magtige bemoediging vir 'n gemeente wat hom deur die wêreld verag en verwerp voel.
Julle is 'n uitverkore geslag. Dit wil sê, julle is opgeneem in 'n plan van God. Dat daar Christen gelowiges in die wêreld is, dit was van ewigheid af die bedoeling van God. Hy vergader vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is. Dit is 'n werk van God waarmee Hy al vanaf die begin van die wêreld besig is. en Hy sal dit tot die einde toe volhou. En in daardie groot plan het julle as gemeente, julle wat in Christus glo, 'n plek.
Verstaan u watter magtige troos Petrus daarmee aan die gemeente gee? Dit is 'n geweldige bemoediging, veral in hulle situasie.
Maar in die woord 'julle is 'n uitverkore geslag' klink ook nog 'n ander ding. En dit is dit: hierdie titel het oorspronklik maar net aan die volk Israel toegekom.
Hulle was die volk wat Hy vir Hom verkies het. Hulle is die volk wat Hy apart gestel het van al die ander volke.
Jakob het Ek liefgehad, maar Esau het Ek gehaat.
En daarom roep die Here die kinders van Jakob, die volk Israel uit die land Egipte.
En so kom ons by Eksodus 19. In vers 5 en 6 kry ons die titels wat Petrus noem. Julle is My eiendom uit al die volke. Julle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dit hier is 'n baie belangrike openbaringsmoment. Ons sou kon sê: hier doen die Here verantwoording van die uitleiding uit Egipte. Nou gaan die volk vir die eerste keer hoor waarom die Here hul uitgelei het. Watter doel Hy met die uitleiding voor oë het.
Immers al die woorde wat die Here tot nou to gesspreek het tot Moses het maar eintlik net betrekking gehad op die uitleiding as sodanig. Ek gaan die volk uitlei, en jy moet dit sê en so doen.
Maar nou gaan die Here vertel, wat Hy met die uitleiding bedoel.
Waarom die uittog? Waarom die eksodus? Dit is nou die groot vraag. Belangrik om oor na te dink. Die antwoord op die vraag is ook van aktuele belang, broeders en susters. Daar is vandag 'n stroming in die teologie, wat die teologie van die bevryding genoem word. Die teologie gryp verkieslik na die eksodus-verhaal. Hulle lees daarin hoe 'n groepie onderdrukte mense hulself vryveg van hul oorheersers. Hulle weier langer gehoorsaamheid aan die mense wat hul uitgebuit het. Hulle trek weg op pad na 'n onsekere toekoms.
Die woestyn in, op pad. Waarnatoe? Niemand weet nie. Met watter doel. Ook dit weet niemand nie. Daar is maar net 'n vae besef: daar sal beter tye kom. Alles is beter dan ons huidige situasie.
So word vandag die uittog-geskiedenis gebruik in verband met allerhande bevrydingsaksies in die wêreld. Die armes werp die juk van rykes af. Vroue laat hulle nie langer oorheers deur mans nie.
Swartmense ontworstel hulle aan oorheersing van blankes. En vir dit alles dien die uittog uit Egipte as 'n voorbeed. Daar word gesê: Enige bevrydingsaktie wat mense onderneem, om hulleself vry te maak, word ondersteun deur God. God van die bevryding..
Nou is God inderdaad 'n God van bevryding. Maar as ons die Bybel lees, sien ons sommer gou, dat dit nie gaan om mense wat hulleself bevry nie, maar om God wat reddend ingryp. Hy maak bande los, Hy bevry uit die dienshuis. Maar dan mag ook Hu bepaal, wat die doel van die bevryding, wat die bestemming van die bevryde volk is.
Dus die groot vraag is: Wat wil die Here met die uittog? Die antwoord kry ons in Eks. 19: 6: Julle sal vir My 'n Koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees.
'n Koninkryk van Priesters. Wil u weet, wat is die doel van die uittog. Wat is die bestemming van die eksodus? Lees dan die slot van die boek Eksodus. Daar lees ons van die inrigting van die tabernakel, en die begin van die versoeningsdiens.
Dit was die doel van die Here met die uittog. Hy wil temidde van Sy volk woon. Die heilige God wil saamwoon met Sy eie volk. Hyself maak dit moontlik deur 'n versoeningsdiens waarin al die sondes en onheilighede van voor Sy aangesig weggedoen moet word. Dan eers is die uittog voltooi.
Dus nie reeds wanneer hulle Egipte verlaat het nie. Nie as die vyande verslaan is nie, maar as daar 'n nuwe gemeenskap met God is.
'n Heilige nasie moet hulle wees. Dit beteken hulle is afgesonder van die ander volke en spesiaal toegewy aan die diens van die Here. God wil 'n Koninkryk van priesters. 'n Volk van priesters wat weet hulle staan in diens van die Here.
Wel, heel die nuwe verhouding van God met Sy eie volk word vasgelê in 'n Verbond. 'n Genadeverbond, want daar is in Israel as sodanig niks wat hulle die Verbond waardig maak nie.
In die Verbond stel die Here Homself volledig ter beskikking van Sy volk. Hulle kan maar roep. Hy sal hoor. Hulle kan maar vra. Hy sal gee.
Maar in die Verbond sal die Here ook alles vra. Hy vra 'n toegewyde diens. 'n Koninkryk van priesters moet hulle word!
Wel heel die verbond word nou deur Petrus in sy brief toegepas op die gemeente waaraan hy skryf. Let wel, nie 'n gemeente van Jode, Israeliete nie, maar 'n gemeente afkomsig uit heidense volke!
En dit is 'n geweldige groot ding. Al die sake wat eendag net vir die een uitverkore volk, Israel, gegeld het, geld nou vir al die gelowiges. Hulle het almal reg op die eretitel. Koninklike priesterdom. God se geskiedenis met Sy volk bly nie staan in Sinaï nie. Hy gaan verder.
Die gemeente van Christus is nou 'n koninklike priesterdom, 'n priesterskap van 'n koninklike rang.
Hulle staan saam voor die aangesig van die Here. Om Hom te dien. Hulle mag naby die Here kom. Met die offer van hul gebede, met die woorde van die versoening, met die lofsang van 'n dankbare lewe. Watter troos vir die moedelose ontvangers van hierdie brief! Mense, wees bly, wees dankbaar. Julle mag lewe in die glans van God se nabyheid. Julle beklee die hoe eer om te kan wees: priesters voor Sy troon.
2. Die Here ontsluit Sy hart in Sy ontferming.
vers 10: Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie maar nou bewys is.
Hierdie woorde hoor ons in Hosea 1. Die profeet Hosea ontvang van die Here die merkwaardige opdrag om met 'n hoer te trou. Dit is bedoel as 'n beeld van die afvalligheid van Israel.
Israel het sy hoë posisie soos in Eksodus 19 omskryf, verloor. Hulle het God se trouverbond geskend, deur hoerery met afgode te bedryf. Een van die kinders wat uit die huwelike van die profeet gebore word, moet Lo-Rugama genoem word. Nie ontferming nie, beteken die naam. Want sê die Here: Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.
'n Volgende kind ontvang die naam: Lo-Ammi. Dit is: Nie my volk nie. Want sê die Here: Julle is nie my volk nie, en Ek is nie julle God nie. U hoor sommer dadelik hoe hier die woorde van Eksodus 19 deurgestreep word. Eksodus 19 sê, soos ons gesien het: Julle is my volk. Ek is julle God.
Maar hier: Die verbond is verby.
Julle is nie meer my volk nie. Ek sal My om julle nie langer ontferm nie. Lo-Ammi. Lo-Rugama!
En daarom moet die volk in ballingskap. Die land van die belofte moet hulle verlaat. Die uittog word ongedaan gemaak! Opnuut word hulle deur 'n ander volk oorheers. Hierdie keer deur Babel.
Die tempel word verwoes. God woon nie meer by Sy volk nie. Daar is geen priesterdiens meer, geen versoeningsdiens meer nie. God sal Hom nie langer ontferm nie!
Maar tog is dit nie God se laaste woord nie. Hosea mag ook al profeteer van die wonder van herstel.
Eendag sal die Here tog weer se: Ammi: My volk.
Daar kom 'n tyd dat Hy sal sê: Rugama: Ek sal My ontferm.
Hier profeteer Hosea van die terugkeer van 'n gedeelte van die volk.
Opnuut sal daar 'n tempel wees.
Opnuut sal God by Sy volk woon.
Opnuut sal daar priesterdiens verrig word in Jerusalem.
In Hosea 1 slaan dit alles voorlopig net op die volk Israel!
Maar ons as Nieu Testamentiese gemeente mag hierin meer lees. Ons weet van Jesus Christus wat gekom het. Oms weet van Sy versoeningsdiens. Van Sy priesterskap.
Dat God die volk Israel na die ballingskap opnuut as Sy volk sal aanspreek, soos Hosea profeteer, ontvang nog 'n geweldige uitbreiding. 'n Universele uitbreiding. 'n Wêreldwye uitbreiding.
Mense wat vroeër nie 'n volk van God was nie, word nou 'n volk van God. Mense wat vroeër in duisternis gewandel het, in die duisternis van die heidendom, in die duisternis van 'n lewe sonder God, word nou deur God binnegelaat in die ligsirkel van Sy heil.
Mense wat vroeër buite God se barmhartigheidsbetoon geval het, hulle val nou daarbinne.
Omdat God hulle daarbinne laat val!
Heel hierdie gang van sake is net verstaanbaar vanuit die ontferming van God. Of om die woord van Petrus te gebruik: vanuit God se barmhartigheid.
Barmhartigheid - die woord het Petrus al eerder gebruik in 1 vers 3 naamlik: Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na Sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het.
Daarmee troos Petrus die gemeente: Julle is voorwerpe van God se barmhartigheid. Julle, gemeente van Christus.
Julle het van ver gekom Julle was eendag nie Sy volk nie, maar nou is julle Sy volk.
Al die voorregte wat eendag net aan Israel toegekom het, kom nou julle toe.
God het mos 'n bevrydingsaksie onderneem. 'n Eksodus. Uit die duisternis van die heidendom het Hy julle met groot krag en met 'n uitgestrekte arm uitgelei, en julle in die lig gebring.
Die lig van Sy heil.
Die bande van die dood wat julle omknel het, het Hy losgemaak, sodat julle nou mag wandel in die lig van die lewe.
Wat 'n vreugde. Wat 'n rede tot groot verwondering oor God, wat Sy hart oopgsluit het in Sy ontferming.
3. Hoe die Here die lof van Sy deugde beoog.
In hierdie laaste punt hoor ons vanuit Jesaja 43, wat die Here met uitredding bedoel. Wat Hy met die uittog beoog!
In Jesaja 43 word al die nasies by mekaar geroep.
Daar word getuies opgeroep. Want die wêreld moet dit weet: Wie is soos die Here?
Wie van die volke kan van sy gode sulke groot dinge vertel, as Israel van die Here?
Hy is mos die God wat wonders werk! Hy is dit wat Israel uit die ballingskap laat terugkeer het!
Die Here maak 'n weg deur die see! 'n Pad deur die woestyn, om daarlangs Sy volk te lei: Sy uitverkore volk.
Vers 21 van Jesaja 43 spreek daarvan: Ek het vir My 'n volk geformeer. My uitverkore volk.
Ons hoor hier amper dieselfde woorde as wat ons van die kerk bely in Sondag 21.
Die Seun van God vergader vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is.
Waarom doen die Here dit? Wat is Sy doel daarmee?
Die antwoord kry ons in vers 21 van Jeaja 43: Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof verkondig!
Daar kry u die doel.
En dit is wat Petrus nou onderstreep. Nou is julle die uitverkore volk. Julle is die volk wat God vir Hom geformeer het.
Met watter doel doen God dit?
Om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis tot Sy wonderbare lig geroep het!
Die deugde van God. Dit is Sy groot dade van verlossing.
Sy wonderlike ontferming en barmhartigheid.
As ons kyk na die geskiedenis van die kerk van Christus, dan is dit amper net so 'n ellende geskiedenis as die geskiedenis van die volk Israel. 'n Geskiedenis van voortdurende ontrou en ongehoorsaamheid. Maar tewens is dit ook 'n geskiedenis van God se trou.
Hy weet om Sy doel te bereik!
En die doel is, dat daar 'n volk is wat Sy deugde verkondig. 'n Volk wat Gode lof bring vir Sy wonderlike kragbetoning.
Daarvoor is die gemeente bestem. Dit is die gemeente se enigste bestaansreg: Dit moet hulle verkondig. Dit moet hulle orals laat hoor: Onse God is groot! Hy is ons Skepper en ons Verlosser! Hy is dit wat ons bevry van magte van sonde en dood.
Laat die wêreld dit maar hoor!
Ook al is ons klein en onbetekenend in die wêreld. Solank ons Gods groot dade verkondig, sal God ons wel van betekenis maak. Ons kragte is klein. Maar God se krag is groot.
As ons trou is aan Sy Woord, en trou is in ons priesterdiens, dan beantwoord ons aan die doel wat God vir ons lewe gestel het. Dan kan ons in geloof en vertroue altyd verder!
AMEN.
(kyk in preek)