23-08-92
JAKOBUS 1 : 2-8
Votum - seëngroet
Sing: Ps. 38 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 38 : 8, 15, 17
Skriflesing: Jakobus 1 : 1-8, 1 Petrus 1 : 1-9
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 68 : 1, 3, 9
Tekslesing: Jakobus 1 : 2-8 [uit NAB]
Prediking
Sing: SB. 16 : 1, 2
Dankgebed
Sing: SB. 34 : 1, 3
Seën
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
hierdie Skrifgedeelte, die begin van Jakobus 1, gaan oor hoe om in die geloof te groei. Om so te groei dat jy die doel wat God gestel het, bereik: "sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming" (soos die NAB vertaal).
Dié hoofstuk gaan ook oor beproewings wat 'n mens deur die lyding van God oorkom. Samegevat: dit gaan oor hoe God allerlei beproewings gebruik om jou die kans te gee in die geloof heeltemal te volgroei. En hoe jy die beproewings dus in die geloof mag gebruik.
Vir wie is hierdie Bybelwoorde? Vir almal: oud en jonk, man en vrou, seun en dogter. Want daardie groei van die geloof begin mos in die kinderjare. Dit gaan deur tot in die hoogste ouerdom. Daar kom nie een dag in jou lewe dat jy tevrede oor die mate van jou geloof agteroor kan gaan sit nie. Ons praat gereëld in die katkisasieklas daaroor: ja, julle mag kinders van God binne sy verbond genoem word, maar wat van jou persoonlike geloof? Het jy al 'n oortuigde keuse gemaak vir 'n lewe met die Here? Met Hom wat jou hele hart en jou siel, jou verstand en jou kragte vra? Ek sê dan dikwels vir die jeug: ja, daar is in die kerk ook volwasse mense wat wel uiterlik troue lidmate van die kerk lyk, maar wat tog nog hulleself nog nie volkome aan die Here Jesus oorgegee het nie. Dikwels kom daar nuwe situasies waarin jy jou geloof vir God moet wys en moet bewys.
Wil jy in God se liefde groei? Luister dan vir die Woord van die Here wat ek vanmôre so bedien:
WEES BLY OOR BEPROEWINGS!
Deur
- te volhard in die groei (vs. 2-4),
- vir wysheid te vra en (vs. 5a)
- vir God regtig te ken (vs. 5b-8).
1. WEES BLY OOR BEPROEWINGS: DEUR TE VOLHARD IN DIE GROEI (2-4)
Ek sê dit maar direk nou: vergeet van die woord "versoeking" wat in die 1933-53 vertaling staan. Daar is in die Grieks net een woord vir wat ons in twee woorde vertaal met: of versoeking (as dit van die duiwel weg kom) of beproewing (wanneer dit van God se kant kom). Oor die versoekings gaan dit in vers 12v. "My broers, (lees ons met die NAB) julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom". Kyk, dit is al baie opvallend. Ons is hopelik bereid om beproewings te aanvaar, wanneer God dit in jou lewe so laat gebeur. Ons sê egter baie beslis nie maklik dat ons bly is oor beproewings nie!
Aan watter tipe beproewings moet jy hier dink? Jakobus noem nie eintlik voorbeelde nie. Verderop in sy brief kom ons wel agter wat die sosiale omstandighede van die eerste christene was. Ek dink baie het hulle besittings verloor toe hulle uit Jerusalem verdryf is. Onthou u nog die groot vervolgings wat met die moord op Stefanus begin het? Baie christene moes vlug. Ons lees in Jakobus se brief ook hoe daar armes was wat deur die ryk mense onregverdig behandel is. Ons moet by "beproewings" aan sulke dinge dink: swaarkry in jou persoonlike omstandighede. Jy kan egter ook aan baie andere dinge meer dink: moeites in jou werk, dreigende armoede. Of ook siekte en die verlies van geliefdes. Of dink aan die eensaamheid: wanneer dit lyk asof niemand omgee en jy alleen reg moet kom. Ja, ek sê nog 'n keer: daar is beproewings in die lewe van volwasse mense, maar ook van kinders.
Kyk, daaroor gaan dit: bly wees oor beproewings (en nie net midde-in beproewings dit slegs verdra nie). Hoe kan ons sover kom dat ons dit kan verstaan wat Jakobus ons hier opdra: bly wees met al die beproewings wat 'n mens kan oorkom? Nee, die Bybel sê nie dat die beproewings as sulks verblydend is nie. Dit is dikwels bloot hartseer dinge, meestentyds gevolge van die vloek op die aarde wat dinge en verhoudings verwoes. Ons moet wel leer om bly te wees met die feit dat God ons beproef! Want wat is die doel wat God vir jou stel? Dit is "dat die beproewing van jou geloof lydsaamheid bewerk" (vs. 3). Ek dink dat "lydsaamheid" teveel van 'n passiewe woord is, asof ons maar net ons kop moet leer buig om die swaarkry te verdra. Nee, dit is 'n aktiewe eienskap: "want, soos julle weet, as jul geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard"! Die doel wat God vir jou in die beproewings het is: om jou volharding as 'n gelowige te gee. Soos julle weet: die Here leer jou hier nie iets nuuts nie. Julle kon lankal weet dat God so met julle besig is. Hy het 'n baie goeie rede, wanneer Hy jou beproef: 'n liefdevolle rede. Want jy mag groei!
Daardie volharding sê: volhou met groei in die geloof, totdat jy die vlak bereik waarop God jou wil sien. Dié vlak is in vers 4 beskrywe: "en die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie". Hier word 'n baie hoë vlak gestel, so lyk dit. "Volkome": wie kan dit in hierdie lewe bereik? "Sonder gebrek" en "in niks kortkom nie": wie is so? Nee, dalk kom ons nie sover nie. Maar jy moet minstens bereid wees om in die rigting te groei! Dit is volharding: niks anders wil as groei vir die Here nie. Dit gaan oor jou in wie jy is en in wat jy doen: die christen in alle aspekte van sy persoon. Jakobus herinner hier aan die woorde van ons Here Jesus uit die Bergrede: "Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is" (Matt. 5:48). Wil jy om Gods wil graag in die rigting van volmaakheid groei? Bedink dan dat dit is hoekom God beproewings op jou pad stuur: om jou te leer om vol te hou in sy krag.
2. WEES BLY MET BEPROEWINGS: DEUR VIR WYSHEID TE VRA (vs. 5a)
Alles wat tot nu toe gesê is, kan maklik die vraag wakker roep: ek wil wel graag groei tot God se eer, maar hoe sal ek weet wat my houding moet wees? Ek is maar 'n swakke mens. Dit gaan by my tog nie anders as by die broer wat weëns 'n publieke sonde nou onder die sensuur gekom het nie? My swakhede is dalk my geheim, maar God weet dat hulle daar is.
Nou antwoord Jakobus so: "As nou iemand van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid". Wysheid: dit gaan oor gewone wysheid in praktiese sake. Hoe dikwels kom ons nie agter dat ons wysheid kortkom nie? Dit gaan oor: weet watter beslissing om te neem. Sulke wysheid leer in mens tydens sy lewe. So dat ons van ou mense sê dat hulle baie wysheid, dit is ondervinding in die lewe, het. Dit gaan egter geen dag verby of jy leer 'n bietjie wysheid nie. Dit begin noudat jy jonk is.
Nou moet ons die "kortkom van wysheid" met die beproevings in verband bring. Aan watter beproewings kan 'n mens dink waarin jy wysheid benodig om te weet hoe om op die moeilikheid te reageer? Kom ons soek vir 'n voorbeeld. Sê nou jy sukkel nogal by die skool met die leer van sekere vakke. Ja, daar lê ook iets van beproewing in: die Here is in jou skooljare mos besig met vir jou te wys wat jou talente is, maar ook waar jou swak plekke is. Dit kan pynlik wees om agter te kom dat jy iets nouliks reg kry. Dit kan ook wees dat daar ander oorsake is: byv. 'n moeilike periode wat jy deurmaak. Ook kinders kan ly onder omstandighede: moeite by die huis, eensaamheid, 'n gevoel van waardeloosheid. Die jare van ontwikkeling kan ook tye wees waarin jy onseker oor jouself is. Leer dan om van een ding seker te wees: dat God met jou besig is en dat Hy lief vir jou is soos wat jy is. Deur beproewings is Hy besig om jou tot 'n selfstandige gelowige te maak.
Nou terug na die soek van wysheid. Wanneer jy moeite het om jou op 'n sekere vlak te ontwikkel, vra dit wysheid. Hoe hanteer jy dit? Hou hanteer jy die moeite midde-in die verpligtings wat die skool stel? Wanneer mag jy tou opgooi? Of moet jy volhou? Is daar hulp beskikbaar? Wysheid: hoe bring jy dit in jou gebede by die Here? Nee, dalk sal die Here nie dié talent vir jou gee nie. Dis egter nie 'n rede om nie te bid nie: Hy kan jou in elke geval die nodige wysheid gee om jou moeite gelowig te kan hanteer. Kyk vir beproewings: dis nie moeilik om uit te vind dat God besig is om aan jou te werk nie!
'n Ander voorbeeld: dit kan 'n groot beproewing wees wanneer die verhouding tussen mense nie reg is nie. Pas dit maar toe op jou eie situasie: die verhouding in jou huwelik (of selfs sonder jou eggenoot), of die verhouding met 'n broer of suster met wie jy nie reg kom nie. Of 'n seun of dogter in jou klas of vereniging. Ja, dit kan 'n beproewing wees, wanneer dit jou raak en jou seermaak. Dan vra dit wysheid om te weet hoe om op te tree. Vra vir die Here: Hy kan vir jou wysheid gee. En die bron van wysheid is nie moeilik om te vind nie: kyk, hoe baie wyse adviese is daar in die Bybel. Die hele boek Spreuke is vol daarmee. Die hele boek Prediker handel oor beproewings wat eintlik te groot is om te kan hanteer. Byv. "Moenie sê nie: soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen". En "Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy; enige dwaas kan 'n rusie begin".
Wees bly met beproewings: hoe moeilik 'n situasie ook is, jy mag wysheid leer. God stel wysheid vir jou, in jou omstandighede beskikbaar! Ons het ook 'n stukkie uit 1 Petrus gelees: dit het ook oor beproewings gegaan. Petrus wys duideliker op die doel wat in die verkryging van die saligheid lê, die erfenis in die hemele. Jakobus sê vir jou dat jou groei vandag moet plaasvind. Vra vir wysheid. God het dit beskikbaar gestel. Hy kan dit vir jou leer: ja, jy sal na jou gebed beter weet hoe om jou dag te hanteer.
3. WEES BLY MET BEPROEWINGS: DEUR VIR GOD REGTIG TE KEN (5b-8)
Want kyk watter pragtige beskrywing Jakobus van God gee. "Hy is 'n God wat aan almal gee, wat eenvoudig gee en wat sonder om te verwyt gee". Drie woorde wat wys hoe God jou in elke situasie kan help met wysheid. Hy gee dit vir almal wat vra, Hy gee eenvoudig, naamlik sonder voorbehoud en ook sonder verwyte oor jou dwaasheid. Dit is 'n mooi tekst oor gebedsverhoring: noudat dit spesiaal oor wysheid gaan, wanneer jy besef dat jy dit kortkom. Ja, tog is daar een voorwaarde. Of beter, dit moet wel rêrig bid wees: gelowig vra. "'n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie". Bid jy so: so dat God agterkom hierdie kind ken My en het My lief omdat hy My ken? Nee, daar is nie 'n voorwaarde aan die gebed. Want 'n twyfelaar bid nie rërig nie.
Kyk hoe word die twyfelende mens beskrywe. Hy lyk soos 'n brander, 'n golf in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word" (vs. 6). 'n Golf het nie beheer oor homself nie. Sterker nog, sonder die wind is daar nie eers 'n golf nie. Die wind van die twyfel roep die twyfelaar tot lewe.
Kyk, ons moet hier wel mooi onderskei. Daar is 'n vorm van twyfel wat by die swakheid van ons menswees behoort. Wanneer jy twyfel watter sin 'n spesifieke beproewing maak, is dit glad nie snaaks nie. Hoekom moes hy of sy sterwe? Hoekom laat God dit toe dat die kragte afgebreek word, terwyl daar nog soveel is om te doen met dié spesiale gawes? Twyfel oor die dinge van die lewe is nie snaaks en nie sondig nie. Wat is dan wel verkeerde twyfel; twyfel wat God nie van jou sal aanvaar nie? Dit is wanneer jy aan Hom twyfel.
Jy mag nooit aan God twyfel, want dan kan jy nie meer bid nie. Dan is jy nie meer 'n mens wat God regtig ken, maar 'n golf in die see van die verwarring.
Onthou wat jy van God om Jesus ontwil mag weet: Hy gee aan almal wat vra, sonder voorbehoud en sonder verwyte. Vanuit daardie pragtige kennis van God verstaan ons nou ook dat Jakobus so sterk teen twyfel praat. Iemand wat wysheid kortkom, moet in die geloof bid "sonder om te twyfel". Bid beteken mos: met God, die Vader van ons Here Jesus praat. Jy moet Hom reg ken. "Want so 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie" (vs. 7-8). So sal ons in alle beproewing met God praat! Ons het rede om vir Hom te vra, want Hy besit alle wysheid. Dan sal ons agterkom: ek mag bly wees dat God bewys dat Hy met my besig is. Ek mag groei in die geloof! Hy los my nie op die vlak waarop my geloof vandag is. Dit mag groei. Ek mag groei!AMEN
(kyk in preek)