'n Bemoedigende woord van 'n lydende apostel

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Filippense 1
Preek Inhoud: 

Ps. 113: 1
Ps. 113: 2, 3
Ps. 18: 1 - 4
Ps. 34: 1, 3
Ps. 34: 4, 5
Lees: Filip. 1: 1-26
Teks: Filip. l: 7, 8

Broeders en susters, geliefdes in die Here,

Die brief van Paulus aan die Filippense word ook wel die brief van die blydskap genoem. Dit is heeltemal reg, want inderdaad ons loop 'n hele paar keer die woord blydskap, bly en verbly raak. Tog moet ons nie sê dat dit 'n brief is wat oor blydskap gaan nie. Paulus gee nie 'n verhandeling oor blydskap of oor bly wees in die Here nie, maar veel meer moet ons sê, die blydskap is die agtergrond, die ondertoon van alles wat Paulus sê. Hy self is so vervul van blydskap, dat dit van al sy woorde afstraal. Die blydskap deel hom byna outomaties mee aan die lesers van sy brief. Hulle voel hulle amper vanself bly word, as hulle hom hoor praat.

Miskien kan 'n voorbeeld help om te verduidelik wat ek bedoel. Kyk, 'n predikant kan 'n pragtige betoog hou oor blydskap, die blydskap van die geloof, die blydskap in die Here, maar as hy dit doen met 'n sombere stemgeluid, met 'n vervelige gesig, met 'n onbetrokke houding, dan kan sy woorde nog heeltemal reg wees, maar dit bly maar net woorde wat in die lug hang. Die blydskap self kom glad nie oor nie.

Dit is wat ek bedoel met Paulus praat nie oor die blydskap nie, maar hyself is so vol blydskap dat hy dit sommer oordra op sy lesers.

Filippense - die brief van die blydskap dus.

Tog sou ons met eweveel reg kon praat van die brief van die lyde. Want die lyde van die gelowiges om Christus ontwil, vorm ook 'n belangrike agtergrond van hierdie brief. Paulus skryf naamlik hierdie brief vanuit die gevangenis. Hy kry swaar terwille van die Evangelie. As ons fyn luister na wat hy sê, hoor ons amper sy ketens rammel. Hy moet ly terwille van die Evangelie.

En juis hierdie kombinasie van lyde en blydskap maak hierdie brief aan die adres van die Filippense, tot 'n besondere vertroostende brief. Alle kinders van die Here wat om watter rede ook al swaarkry in die lewe, ontvang 'n sterk bemoediging vanuit hierdie apostoliese skrywe.

Wel, daaroor wil ons vir u vanoggend die Woord van die Here verkondig, onder die volgende tema:

'N BEMOEDIGENDE WOORD VAN 'N LYDENDE APOSTEL.

Ons hoor:

  1. van die genade van die lyde om Christus ontwil.
  2. van die krag van die liefde om Christus ontwil.

1. Ons het verlede week gesien dat Paulus se verhouding tot die Filippense gekenmerk word, deur 'n geweldige hartlikheid. Hy hou baie van die mense van Filippi. Dit is in alles merkbaar, dwarsdeur sy hele brief. Sy liefde vir hulle is nie iets wat hy maar net pligmatig doen nie, maar dit gaan heeltemal spontaan.

In ons teks sê Paulus dat hy hulle in sy hart dra. Wel, vir mense wat jy in jou hart dra, hoef jy jouself nie op te skroef nie. Want dit gaan maar net vanself.

Ongetwyfeld het die feit dat Paulus hom so sterk met die Filipense verbonde voel, alles te doen met die feit dat hulle van hul kant so sterk met hom meelewe.

Die geneëntheid wat daar is, is duidelik wedersyds. Daar is 'n wisselwerking. Dit is 'n bekende verskynsel. Liefde en geneëntheid wat beantwoord word, bloei sommer op, maar sonder 'n antwoord sterf dit af. Liefde kan nie van een kant kom nie, sê die spreekwoord.

En dit is ongetwyfeld waar. Daar is mense wat lank liefde kan betoon aan 'n ander, maar as daar nie op gereageer word nie, dan word dit baie moeilik om vol te hou.

Wel, Paulus het die liefde en geneëntheid van die Filipense ondervind, gedurende sy gevangenskap. Hulle het baie met hom meegelewe toe Paulus voor die regter moes verskyn, om die Evangelie te verdedig. En dit het die verbondenheid met mekaar nog meer laat toeneem.

Uit ons teks blyk dit dat Paulus al voor die regter was. U onthou uit die boek Handelinge dat Paulus hom op die keiser beroep het, en hoe hy daarom as gevangene na Rome moes gegaan het.

Nie om sy saak te verdedig nie, maar die saak van Jesus Christus! So het Paulus dit ervaar. Want Paulus besef, dit is nie hy wat aangekla word nie, maar ons kan maar sê dat die hele Christendom in die beklaagdebank staan. So het dit in Filippi self al gebeur. Toe Paulus en Silas voor die owerheid van Filippi gebring is, was die aanklag (Hand. 16: 21) "Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is". Die Christendom is 'n gevaar vir die staat, die Christelike geloof maak mense ongeskik vir die samelewing, die geloof is 'n gevaar vir die volksgesondheid.

Tot vandag toe kan ons dergelike beskuldigings hoor.

In elk geval, Paulus het die saak van Christus voor die regbank verdedig. En laat ons goed besef, dat dit vir hom 'n baie spannende gebeurtenis was. Want hy kom maar so tot die dood veroordeel word. In elk geval kon hy maar reken op baie stokslae of geselslae. Die Romeine het die gewoonte gehad om iemand wat van enigiets aangekla word, eers 'n uitvoerige behandeling te gee, met stokslae of geselslae. Voordat die verhoor begin, is mense eers klein geslaan, in die verwagting dat hulle dan eerder die waarheid sal spreek. Paulus het al heel wat ondervinding daarvan. Die Filippense self weet ook alles daarvan. Ook vir hulle was dit beslis nie maklik om 'n Christen te wees nie. Ook hulle het hul deel van vervolging, bespotting en verdagmaking gehad.

En so noem Paulus hier die Filippense: "My deelgenote in die genade". En met die genade bedoel Paulus hier heel nadruklik, die lyde wat oor hom gekom het in sy boeie, in sy gevangenskap, in sy verdediging van die Evangelie.

Julle is my deelgenote in die genade wat ek ontvang het, deur my gevangenskap. Paulus beskou dus die feit dat hy in die tronk sit, as 'n voorreg wat aan hom verleen is.

Wel dit is 'n manier van spreek en 'n ervaring wat ons maar moeilik kan verstaan.

Ons sien naamlik lyde terwille van die Evangelie, glad nie as 'n genade nie. Ons noem net genade as jy in vryheid jou geloof kan belewe. Maar lyde om Christus wil is vir ons gevoel maar net iets vreesliks, dit is vir ons uitsluitlik 'n negatiewe ervaring.

Hier is ongetwyfeld 'n invloed van die algemene denke van ons tyd. Lyde is vir 'n moderne mens nie meer aanvaarbaar nie. As daar mense is wat ly, staan daar 'n leër klaar van dokters, verpleegsters, sielkundiges en andere hulpverleners, om die lyde op te hef of te verminder. Let wel, ek sê daarvan niks verkeerd nie. Lyde is 'n verskriklike ding. En ons moet doen wat ons kan om lyde van medemense te verlig. Maar die gevolg van hierdie algemene visie op lyde as 'n louter negatiewe gebeurtenis, het ook gevolge vir ons kyk op lyde terwille van Christus.

As ons te make kry met lyde terwille van die Evangelie, het ons slegs aandag vir die lyde self en vir die mense wat daardeur geraak word. Al die aandag val op die mens wat ly, die onbegryplike en onregverdige van daardie lyde. En daardie aandag vir die lydende mens sluk eintlik al die aandag vir die Evangelie op. In die Nuwe Testament is dit egter heeltemal anders.

Daar is dit nie die mens en sy ervaring wat in die middelpunt staan nie, maar die Evangelie. Die voortgang van die Evangelie staan sentraal. Heel die lewe, onder watter omstandighede ook al, staan in diens van die Evangelie.

Of die voortgang van die woord van Christus bevorder word, of vertraag word, dit is vir die apostels die maatstaf om enige ervaring of positief of negatief te beoordeel. In Hand. 5: 40 lees ons vir die eerste keer dat die apostels gegesel word vanweë die verkondiging van die Evangelie. En hoe reageer hulle dan: Is hulle kwaad op die Joodse Raad? Oorweeg hulle om in die vervolg meer in die geheim die Evangelie te verkondig? Niks daarvan. Hulle beskou die slae as 'n eer, dit is vir hulle 'n voorreg om terwille van

Christus te ly. Ons lees dan ook: Hand. 5: 41, hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir Sy Naam oneer te ly!

Hulle is bly!

Want deur hul lyde is die Naam van Christus grootgemaak!

Talle mense het hulself afgevra: Wie is tog hierdie Jesus dat daar mense is, wat bereid is om hulle terwille van Hom te laat gesel? Sien u? Hulle lyde staan so in diens van die bevordering van die Evangelie!

En daarom is hulle bly daaroor!

Wel, so sien Paulus dit ook. Ons hoor geen klagtes oor sy gevangenskap nie. As die deure van die gevangenis agter hom sluit, sien Paulus nuwe deure oopgaan vir die Evangelie. God bied hom 'n kans om in 'n openbare regsaak die Evangelie te verdedig, en Jesus Christus te verkondig.

Daarom praat hy in een woord van die verdediging en die bevestiging van die Evangelie. Die krag van die Evangelie word bevestig as Paulus die woord in die regsaak kan laat hoor. En juis dit maak sy boeie vir hom tot 'n positiewe saak.

Ja, tot 'n genade van God.

Wel, so kan alleen iemand praat wat nie homself sentraal stel nie, maar vir wie die Evangelie die hoofdoel van sy lewe is.

As jy nie vir jouself nie, maar vir die Here lewe, dan slegs kan jy ook lyde terwille van die Evangelie as genade ervaar.

So word ons vandag almal vermaan, om ook die Evangelie van Christus in ons lewe sentraal te stel. Ons lewe in 'n situasie waarin ons vry-uit ons geloof kan bely, en ons samekomste kan hou, dit is ook genade. Maar ons moet wel besef dat ons so 'n vryheid maklik kan misbruik, deur elke vorm van lyde terwille van die Evangelie te ontwyk. En die neiging het ons almal. As ons meen daar is 'n kans dat mense ons bespot vanweë die naam van Christus, dan swyg ons maar liewers. Daarvoor kan ons dan genoeg verskonings aanvoer, maar dit mag wees dat ons ons eie belang sentraal stel bo die belang van die Naam van Christus.

Ons word trouens nie net vermaan nie. Ons word ook bemoedig. Daar kan ook 'n tyd kom dat daar nie meer geleentheid is, om die naam van Christus vry-uit te bely, sonder gevaar van vervolging nie. Maar een ding weet ons. Die Woord van die Here bly. Ook hierdie brief van die Filippense waaruit ons kan leer dat ook in 'n situasie waarin die Christelike geloof as staatsgevaarlik bestry sal word, ons nog altyd kan roem in die genade wat God dan sal gee, om terwille van Christus te ly.

Die toekoms van die kerk is nie afhanklik van politieke omstandighede nie, maar van die genade van God. God verseker niemand dat hy altyd in vryheid sy geloof kan bely nie, maar Hy verseker wel dat onder watter omstandighede ook, ons kan lewe van Sy genade, ja desnoods, van genade alleen.

2. Die krag van die liefde om Christus ontwil.

Ons het nou gesien, as die mens homself en sy eie belange tot maatstaf maak, dat daardeur die aandag vir die Evangelie heeltemal geabsorbeer word.

Maar die omgekeerde is nie waar nie!

As die mens die Evangelie sentraal stel in sy lewe, beteken dit nie dat hy daardeur sy menslikheid moet kwytraak nie. Menslike gevoelens word nie weggedring waar 'n mens die Evangelie eerste stel nie. Inteendeel.

Dit blyk uit wat Paulus verder sê.

Paulus beoordeel dus sy gevangenskap positief. As 'n genade van God. Maar dit beteken glad nie dat Paulus hom niks mooier kan voorstel as om vir die res van sy lewe in die gevangenis te sit nie, omdat lyde mos genade is! Dus hoe meer lyde, hoe meer genade, hoe beter dit is nie.

Hoewel, daar was 'n tyd dat sommige Christene so gedink het. In die tweede en derde eeu na Christus het dit dikwels voorgekom dat Christene bewus die marteldood gesoek het. Hulle het dit as so 'n groot eer beskou om vir die naam van Christus te ly, dat hulle hulself by die owerheid aangemeld het, om te sê hulle is Christene, en wil graag vir Christus sterwe.

Wel, 'n sodanige verheerliking van die marteldood sal vandag nie meer baie voorkom nie, hoewel daar soms mense is wat lewe met 'n ongesonde hemel verlange. Hulle hoop maar so gou as moontlik dood te gaan, dan is hulle in die hemel. Dit lyk nogal indrukwekkend as mense so redeneer, ander mense kan dan dink: nee, maar hy het regtig 'n groot geloof, maar tog het so 'n beskouing oor lewe en dood maar min met die Bybel te doen. Elke gesonde mens het 'n verlange na die lewe. Dit behoort tot sy geskape menslikheid. Wel, daardie menslike denke word deur die Evangelie beslis nie opgehef nie, ook nie as jy die Evangelie in jou lewe sentraal stel nie, luister maar na Paulus in vers 8.

God is my getuie, hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus.

Paulus voel 'n hewige verlange na die Filipense. Baie graag wil hy weer by hulle wees. God weet dat dit waar is.

Daaruit word duidelik dat daar vir Paulus glad nie 'n teenstrydigheid is tussen sy ervaring van sy gevangenskap as genade van God, en sy verlange na die Filippense.

Hy is bly met sy boeie om wille van Christus, en tegelyk verlang hy baie na hulle almal. Dit is nie met mekaar in stryd nie, want ook sy verlange na die Filippense het alles te doen met Jesus Christus.

Hy verlang naamlik na hulle met die innige tederheid van Jesus Christus. Nou weet ek nie presies wat ek my moet voorstel by die innige tederheid van Jesus Christus nie, maar Paulus bedoel hier dat sy verlange baie diep sit, en diep wortels het. Die grondteks gebruik hier 'n woord wat "ingewande" beteken. Nou word dit dalk eers nog onduideliker, want wat moet ons hierby dink: ek verlang na julle met die ingewande van Jesus Christus. Maar dit gaan hierom: die ingewande is diep verborge in 'n mens. In die taal van die Bybel, is die ingewande die plek waar 'n mens se gevoelens setel. Soos ons meestal die gevoel in die hart stel, stel die Jode dit byvoorbeeld in hul niere, en die Grieke in die ingewande. In elk geval, gevoelens sit baie diep. Baie dieper as gedagtes eintlik. Dit is almal wel bewus.

Wat jy diep in jou binneste voel, het veel meer invloed op jou lewe, as jou gedagtes en idees.

Wel, Paulus bring sy diepste gevoelens in verband met Jesus Christus.

Christus beïnvloed nie net ons dinkwêreld nie, maar veral ook ons gevoelslewe. Christus werk daarop in en bring so mense in beweging.

Paulus se verlange na die Filipense as sodanig is 'n gewoon menslike gevoel. Mense wat lief vir mekaar is, en mekaar vir 'n lang tyd nie gesien het nie, kan baie sterk na mekaar se nabyheid verlang.

Maar hier word deur Jesus Christus aan daardie gewone menslike gevoel, nog 'n ekstra dimensie gegee.

Want hier gaan dit nie net om menslike verbondenheid nie, maar veral om geloofsverbondenheid. Hulle het mekaar mos in Christus leer ken. En juis dit gee aan hul verbondenheid 'n geweldige diepte.

Danksy Jesus Christus kan dit gebeur dat mense wat nie onmiddellik simpatie vir mekaar voel nie, en wat onder normale omstandighede mekaar glad nie sal soek nie, tog baie nou aan mekaar verbonde raak. Daarom is dit ook opvallend dat Paulus in ons teks selfs drie keer die woord 'almal' gebruik. Hy verlang na almal. Nie omdat Paulus met al die mense van Filippi so goed oor die weg kom nie, maar omdat hulle almal deel is van die gemeente.

Om in die gemeente net liefde te betoon aan hulle met wie jy goed oor die weg kom, is nie so moeilik nie. Om aan jou vriende in die kerk aandag te bestee is ook nie so 'n probleem nie. Maar gemeenskap van die heiliges vra baie meer. Daarvan is almal 'n deel. Liefde betoon aan mense wat jy uit jouself nie as vriende soek nie, dit is ware gemeenskap van die heiliges.

Ek dink, dit is wat ons as gemeente steeds weer sal moet leer. 'n Kerk is nie 'n geselligheidsvereniging nie, waar die belangrikste vraag is of ons self behoefte het aan die omgang met 'n ander nie.

Maar 'n kerk vorm 'n gemeenskap van gelowiges, waar elkeen hom moet kan warm aan die liefde wat van ons uitstraal. Of mense nou jonk of oud is, intelligent of dom, blank of bruin, ryk of arm. Almal het gelyke reg op ons liefde en aandag. God is my getuie, kan Paulus sê, dat ek na julle almal verlang, met die hartlike liefde van Jesus Christus. Laat ons van hom leer om die liefde wat gevoed word, deur die geloof in Christus, aan almal te bewys.

God is ons getuie.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)