PREEK OOR MARKUS 15: 42-46
LITURGIE:
SB. 27: 1, 2
L. Jesaja 53
T. Markus 15: 42-46
Ps. 30: 3, 8
Credo
Ps. 103: 1, 2
SB. 7: 4, 7, 8
Gemeente van die Here Jesus Christus,
Ons teks van vanoggend vra aandag vir 'n dooie Jesus. Hy het op die ou end aan die kruis gesterf, en 'n klompie moedige mense reël 'n vinnige begrafnis, nog voor sononder.
Daar is nie so veel om te sien aan 'n dooie nie. Jy het gou klaar gekyk. 'n Dooie se rol in hierdie lewe is klaar gespeel. Sy tyd is verby en sy lewenlose liggaam moét ook wel so gou as moontlik in 'n graf weggedoen word.
Ons weet dat dit so met Jesus nie was nie. Sy rol was baie beslis nie klaar gespeel toe Hy op daardie Goeie Vrydag na 'n sware stryd die gees gegee het nie. En sy tyd was nog glad nie verby toe sy liggaam in die graf agter 'n groot klip verdwyn het nie. Na drie dae sou dit Pase wees en sou hierdie dooie Jesus as die Lewende vir goed die kluisters van dood en graf agter Hom laat. Net-nou sou hierdie nou dooie Jesus die beslissende rol gaan speel in die geskiedenis van sowel die hemel as die aarde.
Dit was met sy graf rêrig nie klaar verby nie.
Nogtans, broeders en susters, kom daar vir ons gevoel wel 'n pouse na Christus se sterwe aan die kruis op Golgota. 'n Kort pouse in die groot drama van Christus se borgtog. 'n Pouse wat tot die Paasmôre aanhou.
Die mededelings in ons teks lyk vir ons nie te interessant meer nie. Van 'n dooie Jesus val daar nie so veel meer te beleef nie. Toe maar, sy leed is verby; maar nou sal ons eers vir die Pase moet wag. Vir ons besef val by sy sterwe die gordyn oor Jesus se optrede, om eers op die Paasoggend weer oop te gaan. En in die tyd daartussen sien ons net nog 'n klompie mense besig om die dekor alreeds in gereedheid te bring vir die opstandingstafereel.
Maar ons sal daardie gevoel moet los, gemeente! Ook na Christus se sterwe aan die kruis bly die skynwerpers in volle sterke op Hom gerig staan. Ook die tafereel van sy begrafnis behoort heeltemal by die Evangelie van sy verlossingswerk.
Ons teks vra met reg vanoggend ons aandag vir 'n dooie Jesus. Sy rol is met sy sterwe nie klaar gespeel nie. Selfs nie vir 'n kort pouse nie. Maar Hy bly die Hoofrolspeler, ook as mensehande sy lyk van die kruis moet losmaak om dit aan die aarde toe te vertrou.
As ons maar mooi kyk, het ons aan hierdie Jesus regtig nie gou klaar gekyk nie, maar bly Hy ook nou die aandag span.
So mag ek u verkondig:
DIE VOORTGANG VAN CHRISTUS SE VERLOSSINGSWERK BY SY BEGRAFNIS.
Ons teks vra ons aandag vir:
- DIE LAASTE SMAAD
- EN DIE EERSTE EER daarby.
1. 'n Begrafnis is 'n dik onderstreping van die dood van 'n mens. Ons ervaar dit elke keer weer, so dikwels as wat ons by 'n graf kom te staan. Die begrafnis beseël die definitiewe einde. Dit plaats 'n dik swart punt agter 'n menselewe hier op aarde.
Die sterwe is al vreeslik: as die hart bly stilstaan, die asem stok en die oë breek- dan word daar iets van ons af weggeskeur. Dan word 'n lewende band wreed deurgesny. As die liggaam verstyf en koud word- dan kyk ons die laaste vyand wat nog oorwin moet word, in die oë: die dood. En hoe vreeslik is dit!
Maar dat ons dan selfs daardie liggaam wat ons so dierbaar is, nie by ons kan en mag hou nie, dit maak die dood nog baie erger, baie definitiewer. Dat ook daardie liggaam as onbruikbaar, ja, onhoudbaar nou wèg moet van hierdie aarde- dit maak vir ons gevoel die gang na die graf tot 'n totale afgang wat jy met die mooiste blomme nie kan verbloem nie. Die mens wat eendag uit die stof geneem is, keer tot die stof weer.
Wanneer ons aan 'n menseliggaam die laaste eer bewys, is dit feitlik die laaste smáád wat ons daardie mens aandoen. Die smaad dat hy van hierdie aarde af weggedoen word.
Dié laaste smaad is ook die liggaam van ons Heiland aangedoen, broeders en susters. Dit is die eerste punt wat ons aandag mag kry in ons teks. Die dooie Jesus word so gou moontlik in 'n graf weg gewerk.
Met liefde en ontroering, ek weet, maar nogtans: as 'n dooie. Wanneer Josef van Arimatea in ons teks sy verskyning op die toneel maak, is een ding baie duidelik: Jesus is dood! Josef het die rol van begrafnisondernemer op hom geneem.
Moontlik het hy self daarby gestaan toe Romeinse soldate op versoek van die Sanhedrin die bene van die kruiselinge wou verbrysel en een van hulle met 'n ruwe stoot van sy spies in Jesus se sy vasgestel het dat dit vir hierdie een nie meer nodig was nie. Hierdie was lankal morsdood.
Josef het ongetwyfeld ook al daar gestaan toe Jesus met 'n groot stem geroep het: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor" en vervolgens ook metterdaad sy lewe afgelê het om dit in die hande van sy Vader oor te gee.
Wanneer hierdie Josef dan ook in ons teks voor die voetligte verskyn het hy geen ander doel meer nie as om 'n dooie Jesus aan 'n netjiese graf te help. Wat Josef van Arimatea ook al oor Jesus gedink en verwag mog hê, noudat Jesus oorlede is moet sy liggaam begrawe word. Dit is wel laat, maar dit is darem die laaste wat Josef vir Jesus kan doen.
Markus vertel daarby dat Josef ook nog gou moes maak: "Omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat". In die gewone gevalle mog in Israel 'n dooie liggaam al nie oornag aan 'n paal bly hang nie. Dit was 'n gruwel vir God. Hy het dit verbied in sy wet. Maar in hierdie gaval mog dit al heeltemal nie. Môre sou dit 'n groot feesdag wees, in baie besondere sabbat in verband met die Pasga-viering. Daardie fees moet aangaan. En noudat Jesus tog dood is, moet hulle maar probeer om Hom so gou moontlik nog voor sononder te begrawe, sodat die fees nie verontreinig word nie.
Ons sien Josef besig om vinnig alles te reël: die liggaam van Jesus moet nou wel gou weg.
Wat Pilatus betref mág die liggaam van Jesus ook weg. Maar dan wel eers as ook hy oortuig is daarvan dat Jesus regtig dood is. Want hy kan dit amper nie glo dat hierdie Jodekoning so gou aan die martelinge beswyk het nie. Hy vertrou die saak nie sommerso nie. Net 'n rukkie terug was daar mos 'n aantal raadslede by hom om te vra of hy die bene van die kruiselinge wou laat breek om hul dood te bespoedig. En nou kom daar al weer iemand anders wat beleef vra of hy asseblief die liggaam van Jesus mag hè om dit te begrawe. Sou dit dalk 'n stille simpatisant wees wat nog probeer om te red wat gered kan word? Sodat net-nou die gesanik weer opnuut begin!
Daarom laat Pitatus eers die hoofman wat by die kruise diens gehad het, roep om seker te maak dat hierdie Jesus inderdaad dood is. En eers as daardie man bevestig dat die tereggestelde inderdaad oorlede is, gee Pilatus die liggaam vry. Moet ook op hierdie besonderheid in die beskrywing van die gang van sake let, broeders en susters. Twee heidene stel saam amptelik vas dat by die gevonniste die dood ingetree het. Vergissing is uitgesluit. Die goewerneur laat eers die sterfbewys opmaak en eers daarna mag die begrafnisondernemer sy gang gaan.
Ja, dan wil Pilatus die liggaam heus wel wegskenk. 'n Dooie Jesus kan vir hom geen las meer besorg nie. Ruim maar op, Josef, as jy, oor watter redes ook al, daaraan behoefte het.
En dan wórd Jesus opgeruim, gemeente. Ek weet, dit klink hard en saaklik, maar ons teks dwing ons om dit so te sien.
Ten spyte van die beste bedoelings sorg Josef tog maar daarvoor dat Christus se lewenlose liggaam die smadelike afgang ondergaan wat al soveel menseliggame moes ondergaan vanaf die sondeval. As hier onhoudbaar weggestop in die grond.
Nadat Josef die liggaam versigtig van die kruis losgemaak het, word dit afgelê en vervolgens agter 'n groot klip weggelê. En met daardie klip word die deur agter 'n menselewe toegemaak.
Ek het gesê: ons teks dwing ons om dit so te sien. Ons moet nie hier oorheen kyk om na Golgota net nog vol verwagting na Pase uit te sien nie, broeders en susters. Ook hierdie dooie Jesus, wat Homself in 'n graf laat weg werk, is dit ten volle werd dat ons na Hom bly sien.
Want hier sien u ons Verlosser besig om sy verlossingsgang vir ons af te maak tot en met die smaad van die begrafnis.
Ons weg van wieg tot graf, daardie afgang as gevolg van die sonde, wou Hy heeltemal deurmaak. Om van ons lewe 'n opgang te kan maak. ;n Gang na God en na die lewe terug.
Christus se verlossingwerk kom nie stil te lê sodra sy hart bly stilstaan nie. Hy was gebore om te sterwe. Hy moes nie net dood- gáán nie, Hy moes ook dood-wéés. Want deur sy dood alleen kon Hy die wat die mag oor die dood gehad het, die duiwel onttroon en almal bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Die dood was vanaf die begin van sy lewe die doel gewees.
Vir òns deurkruis juis die dood dikwels die doel wat ons vir onsself gestel het. Vir ons sny die dood in ons lewe en werk.
Maar Christus het met hierdie een doel in ons lewe binnegekom: om vir ons almal die dood te smaak.
Hoe dikwels het die satan geprobeer om Jesus van daardie doel af te bring. Tydens die versoekings in die woestyn het hy Hom eer en mag in die vooruitsig gestel sonder dat Jesus daarvoor die gevreesde dood sou hoef te sterf.
Deur middel van Jesus se toegewyde dissipel Petrus het die duiwel geprobeer om Hom van die lydensweg af te kry: "Mag God dit verhoed, Here! Dit sal U nooit oorkom nie".
En so pas nog, toe Christus aan die kruis gehang het, het die satan die Joodse leiers aangehits om te roep: "Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie". En: "As Hy die Christus, die Koning van Israel is, laat Hy dan nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo".
Maar ons Heiland het Hom nie van sy doel laat afbring nie. Hoe swaar dit Hom vir sy menslike siel ook geval het, Hy het tot in die dood getrou gebly. Tot in die laaste smaad van die graf.
Kom ons kyk maar goed, gemeente. Die verlossingswqerk loop hier nie in 'n graf dood nie. Dit word afgemaak.
Hy het Hom met smaad laat oorlaai, sodat ons nooit meer in skande sou raak nie.
2. Maar wanneer Christus Homself so getrou betoon tot in die dood en ook die laaste smaad aanvaar, sorg God tegelyk ook in hierdie begrafnis vir die eerste eer vir sy Seun. Al is dit ook nog geen Pase nie, die oorwinning kom op die Goeie Vrydagaand alreeds in sig.
Dit ontdek ons vervolgens in ons teks as ons mooi kyk.
Want hierdie begrafnis deur Josef van Arimatae deurkruis alle tradisies van daardie dae. Kruiselinge is deur die Romeine nooit al dadelik dieselfde dag nog begrawe nie. Dit was vir daardie wrede heidene glad nie 'n probleem as een wat gekruisig was, nog dae lank, of selfs weke lank bly hang het tot die roofdiere hulle oor sy lyk ontferm het nie.
En as die liggame wel van die kruispale afgehaal is, soos die Jode met die oog op die wet van Moses graag wou hê, dan is hulle altyd op 'n hoop gegooi in die versamelgraf vir misdadigers wat die owerheid spesiaal daarvoor laat aanlê het.
So'n begrafnis het Jesus vanaf die Goeie Vrydagoggend te wagte gestaan. Maar God lei dit so dat 'n man van aansien heeltemal onverwags op die toneel verskyn en eiehandig daarvoor sorg dat Christus in 'n grafkamer gelê word wat êrens in die rotse uitgekap was.
So'n graf was 'n duur graf. Ons weet uit die Evangelie volgens Johannes dat Josef hierdie graf in 'n groot tuin van homself laat maak het. 'n Familiegraf.
Jesus kry teen alle verwagtings in 'n luukse begrafnis. Johannes vertel dat daar selfs 'n aansienlike hoeveelheid speserye gebruik is om die liggaam te balsem.
By 'n ánder mens sou dit alles weinig saak meer maak, broeders en susters. 'n Graf is 'n graf, of dit nou luukse en duur is of baie eenvoudig. En die dooie self verneem van die hele begrafnis mos niks meer nie. Ook 'n liggaam wat in 'n brandende huis verkool of wat in 'n sinkende skip 'n seemansgraf vind, kan deur God op die Laaste Dag wel weer in heerlikheid opgewek word. Maar hier by ons
Here Jesus kry daardie luukse graf baie betekenis vir die wat die Skrifte ken.
Want dan moet u weereens met my Jesaja 53 opslaan. Ons lees daar in vers 9: "En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee" - dit was die bedoeling gewees toe Jesus vir die kruis bestem is: eerloos in 'n misdadigersgraf weggegooi word. Maar (ons lees verder): "by 'n ryke wás Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie".
God buig vir hierdie lydende Kneg van Hom die weg weer omhoog. Hy het onskuldig vir die skuld van sy volk gely. "Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ter wille van die oortreding van die volk was die plaag op Hom. Dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel...... "
Maar by die begrafnis kom die kentering. Na alle smaad kom nou die eerste eer. God wag daarmee nie tot eers op Pase nie. Nee, nog op die dag van alle vernedering laat God weet, vir die wat sy Bybel ken, dat sy Kneg sy werk klaar gedoen het en dat Hy, die HERE, hierdie werk aanvaar. God sorg vir 'n eervolle graf, as voorskot op 'n eervolle opwekking. In hierdie graf begin alreeds Paasglans te gloor.
En laat ons dan nog 'n slag verder lees in Jesja 53, gemeente. Na vs. 9 oor daardie ryk graf vir die Kneg van die HERE, lees ons in vs. 10: "As Hy sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy nakroos sien. Hy sal die dae verleng en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees". Die verlenging van dae breek net- nou met Pase aan. En dan sal vanaf Pinkster die welbehae van die HERE deur sy hand inderdaad voorspoedig wees as derduisende, ja miljoene mense uit die ryk van die duiwel verlos word. Maar die eerste begin daarvan sien ons op hierdie Goeie Vrydagaand alreeds. Die nakroos waarvan Jesja gepraat het, kom alreeds op die dag van die begrafnis. Volgelinge wat hulle nie langer daarvoor skaam dat hulle hierdie lydende Kneg as hul Meester eer nie.
Die dissipels het almal weggevlug. Selfs Petrus en Johannes het afgedruip toe hulle moes aansien dat hul Here nie meer van die kruis afgekom het nie. Hulle dink dat alles nou klaar verby is. Die hoop wat hulle nog gehad het, is heeltemal weg. En hulle trek hul in Jerusalem terug en treur en ween. U kan maar kyk in Markus 16: 10. Die verwagtings van die kerk het doodgeloop.
Maar as die kerk tot niet gegaan lyk te wees en die Koning van die kerk in 'n graf moet verdwyn, kom daar heeltemal onverwags 'n onderdaan wat tot nou toe op die agtergrond gebly het, vorentoe om publiek sy trou aan Jesus te bely. 'n Vername raadslid nogal wat dit waag om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. Hy het geweet dat hy hierdeur alle geneentheid en waardering van sy kollegas sou verspeel, wellig hul woede hom op die hals sou haal. Maar hy het darem aangegaan. Hy gaan begrawe sy Here.
En uit Johannes weet ons, dat hy al gou geselskap kry van nog 'n vername Jood, 'n lid van die Sanhedrin, Nikodemus. Hier is geloofsmoed, gemeente.
Juis nou, nou daar soos dit lyk niks meer van Jesus te wagte is nie en dit dus ook nie baie sinvol is om die woede van die ander raadslede te riskeer nie, juis nou kom hulle twee vorentoe.
Ook hier eer die Vader sy dooie Seun. God se Gees sorg dat die eerste onderdane kom sodra Hy Homself as 'n skuldoffer aangebied het. Noudat die koringkorrel in die grond val en sterf, mag dit al dadelik vrug dra- om dit met 'n beeldspraak van Christus self te sê.
Noudat die eerstes die laastes is, word hierdie laastes die eerstes.
Die poorte van die doderyk het dit dus nie gewen nie, al gaan net-nou ook die grafsteen agter Jesus dig. Inteendeel, hy wat die mag oor die dood gehad het, is so pas van die troon gestoot en 'n nog dooie Jesus begin alreeds om 'n lewende gemeente na Hom toe te trek. Christus se verlossingswerk gaan aan.
En weereens sê ek, broeders en susters: laat ons maar mooi kyk na die ontwikkelinge op daardie Goeie Vrydagaand. Daar is vir wie mooi kyk baie om te sien. Geen pouse deurbreek die gebeure nie. Maar God kom met sy Christus sigbaar verder.
Vir u en vir my.
Want as 'n dooie Jesus al dusdanig die duiwel die baas is, hoeveel te meer 'n Jesus wat nou leef,
-
wat, opgewek, in glorie sit
en altyddeur vir ons wil bid.
Ja 'k weet gewis: geen lewe of dood,
geen duiwelsmag, bo-menslik groot,
geen skepsel in die skepping wyd,
geen ding in tyd of ewigheid-
niks kan ons van Gods liefde skei
wat ewig-vas in Christus bly!
AMEN.
(Pretoria, 13 April 1990, Goeie Vrydag)
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)