Ps 95: 1, 2, 3
Ps 95: 4
Ps 132: 5, 6, 9, 10, 11
Ps 100: 1, 2, 3
Ps 100: 4
Ps 136: 1, 2, 3
Lees: Deut. 12
Teks: Psalm 100: 2
Broeders en susters, gemeente,
Vandag sal 'n aantal jong broeders en susters openbare geloofsbelydenis aflê. Dit gee in vanoggend se kerkdiens ongetwyfeld 'n ekstra feestelikheid. By so'n gebeurtenis pas dan ook 'n feestelike teks.
En 'n vrolike preek.
Wel, 'n feestelike teks het ons klaar: "Dien die Here met vreugde, kom voor sy aangesig met gejubel. " Vroliker en blymoediger kan dit nie. Wel, nou nog 'n vrolike preek. Maar waar kry ons dit?
Soos u weet is ons besig met 'n serie preke oor die boek Deuteronomium. Die wetboek van Moses. Of met die woorde van Deut. 12: 1: dit is die insettinge en verordeninge wat sorgvuldig onderhou moet word. Wel, dit klink nie juis vrolik of feestelik nie.
En tog gemeente, kan ek vir u sê ( en na die preek kan u dit hopelik my nasê): Ps 100: 2: 'Dien die Here met vreugde, kom voor sy aangesig met gejubel' dit is presies die samevatting van hierdie vir ons gevoel dalk wat langdradige en stoffige hoofstuk 12 van Deuteronomium. Daarom kan ek vir u die boodskap van ons teks uit Psalm 100, wat ons nader invul vanuit Deut. 12, soos volg vir u saamvat:
DIE RYKDOM VAN DIE DIENS VAN DIE HERE
Daardie diens gee
- vreugde
- vrede
- vryheid
Ons onthou, gemeente, dat die boek Deuteronomium die weergawe is van die afskeidspreek van Moses as hulle aan die grens van die beloofde land aangekom het. In die eerste 11 hoofstukke het Moses teruggekyk na die gebeurtenisse gedurende die 40-jarige woestyntyd.
Uit die geskiedenis het een ding baie duidelik geword. Die Here het nie 'n klomp volmaakte gelowiges uit Egipte gelei nie. Inteendeel, al wat uit die geskiedenis vorentoe kom is sonde en ongeregtigheid, ongeloof en hardnekkigheid. Selfs hoerery en afgodery was nie ver van hulle af nie.
En dan kom die groot vraag op: Hoe ter wêreld moet die Heilige God met so 'n volk in 'n Verbond saamlewe?
Ons het al eerder gesien nl. in hoofstuk 10 in watter rigting God 'n oplossing soek. Die trouakte van die Verbond word gebêre in 'n ark. En rondom daardie ark word 'n komplete versoeningsdiens ingerig.
Wel, oor daardie versoeningsdiens gaan dit nou verder in hoofstuk 12. En dan moet ons goed oplet, dan gaan dit hier nie oor allerhande offers wat gebring moet word nie, of oor die aankleding van die tabernakel, die voorgeskrewe handelinge vir die priesters, ens. Nee, dit alles is op 'n ander plek beskrywe.
Hier in Deut. 12 gaan dit veral oor die plek wat die Here sal verkies, om daar sy volk te ontmoet in 'n diens van versoening. En dan is die boodskap van Deut. 12 dat daar een plek moet wees waar die amptelike erediens vir Jahwe plaasvind. Die hoofstuk vertel nou vir ons hoekom die Here dit so wil hê en wat die gevolg daarvan vir die volk is.
In die eerste verse lees ons hoe Israel moet handel met die kultus-plekke van die Kanaaniete. Hulle altaarplekke moet net so verniel word. Die Kanaaniete het die hele land deur hul offerplekke gehad. Staan daar 'n groen boom, dan is daar onder 'n altaar. Sien jy 'n groot klip staan? Gaan kyk, in 'n hoekie word offers gebring. Bo op elke koppie in die landskap vind jy 'n kultusplek waar priesters doenig is.
Wel, vs 4 is baie duidelik daaroor: So wil die Here nie gedien word nie! Maar die volgende vraag is: Hoe dan wel?
In vs 5 lees ons: Julle moet kom na die plek wat die Here verkies as ontmoetingsplek met sy volk.
Neem saam wat julle het om te offer, maar moenie op allerhande plekke begin offer nie. Op die een plek wat die Here sal uitkies (later Jerusalem) daar kan geoffer word.
Hier kry ons soos gesê geen uitvoerige instruksies oor die tempeldiens self nie, nee die blikrigting is anders. Hier gaan dit net daarom wat vanuit die versoeningsdiens na die volk toekom. En wat daaruit kom kan ons met hierdie woorde saamvat: Vreugde en Seen. Dit is wat die Here vir sy volk wil skenk. Vreugde en seen.
En daarmee kry wat ons eerder genoem het, God wil nie gedien word soos die Kanaaniete hul gode dien nie, weer 'n ekstra dimensie. Immers die Kanaaniete het orals altare gehad. Israel slegs op een plek. Dit is een verskil. Maar daar is nog 'n baie groter verskil n. l. wat offerdiens vir die volk oplewer.
Vir Israel is dit: Vreugde en Seen.
Maar by die Kanaaniete, en dis eintlik so met enige andere godsdiens op die wêreld, daar draai alles om die genoegdoening van die gode. Die gode eis maar net. Hulle eis eer en tyd en geld en offers. Die mens wat aan die gode offer moet angstig voldoen aan daardie eise om maar te voorkom dat die gode straf. Eintlik ontvang hy as mens niks nie. Hy offer en offer en gee en gee.
Tot selfs sy kinders toe (lees vs 31) 'selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode'. 'n Gruwel vir die Here is so'n afgodsdiens. Dit is die berugte Mologdiens. Ons kan daar amper geen voorstelling van maak tot watter gruwelike dinge die Kanaaniete in hul diens aan Baal, Astarte en Molog e. a. gekom het nie. Onmenselik. Jou kinder opoffer vir die afgode. Hoewel onmenselik?
Is vandag die afgod Seks nie besig om hom te ontwikkel tot 'n mensverslindende Molog? Mense offer hul gesondheid op die altaar van seks. Vandag word al kinders gebore wat die dodelike aids-virus
in hul bloed het. Hoever het die 20ste eeu na Christus die 15de eeu voor Christus agter hom gelaat?
Hoever is Molog van ons af weg?
Terug na Deut. 12: Die afgodsdienaar offer net aan sy afgode en kry niks terug nie. Net angs en vrees dat die afgod dalk met die offer ontevrede is.
'Nie soos die Kanaaniete wil ek gedien word nie' sê die Here. Verstaan u watter magtige boodskap dit is? Want wat soek God met die offerdiens in die tempel? Hy soek die vreugde vir sy volk. Kyk maar in vs 7: Kom na die offerplek, en daar moet julle eet en vrolik wees.
Dit is wat die diens van die Here oplewer. Vreugde en vrolikheid! Israel moet weet: God seen die werk van ons hande. Die Here sê: wees vrolik oor my seen! En dan bedoel hy heel gewoon aardse seen. Die heerlike warmte van die son, die veiligheid van 'n huis om in te woon, die uitbreiding van jou aardse besittinge. Sien daar vooral in: Seen van God.
En die erediens en die offers wat gebring moet word vir die Here trek nie 'n streep deur die vreugde oor aardse seeninge nie maar onderstreep dit juis.
Uit die diens van die Here kom die vreugde vanself voort. Dien die Here met vreugde sê Psalm 100. Ja, natuurlik hoe wou jy hom anders dien? Kom voor sy aangesig met gejubel. Daar is alle rede voor. Die vreugde wat uit die diens van die Here voortkom, daaroor gaan dit in Deut. 12.
Vandaar dat vs 6 ook maar min aandag gee aan die offers op sigself. Hulle word maar net so kortliks opgesom: Brandoffers, slagoffers, tiendes, gelofteoffers, vrywillige offers, eersgeboorte offers. Sê maar: die hele lot aan offers.
Bring maar hier vir my sê die Here. Ek sal daarmee wel regkom. Maar julle moet eet en vrolik wees voor my aangesig! Dit kom elke slag weer terug in hierdie hoofstuk. Kyk maar, vs 12 en vs 18.
Dit gee vir die hele hoofstuk 'n geweldige blymoedigheid. God wil dat sy volk bly en onbesorgd moet wees. God wil sy volk gelukkig sien! En so val vanuit Deut. 12 ook 'n helder lig op heel die Deuteronomium boek. Dit is nog steeds 'n wetboek. Maar nie sommer 'n wetboek nie.
Dit gaan om soos die Jode dit noem: Die vreugde van die wet.
Seker die wet kan soms streng wees, en ook wel 'ns lastig. Maar die Here soek daarmee julle heil en geluk.
Want waarom kan God met 'n strenge wet kom? Omdat Hyself vir versoening sorg as dit weer verkeerd gegaan het. Want dit is die pragtige van Deut. 12. Die hoofstuk is die begin van 'n aantal heel konkrete verordeninge vir die lewe in die beloofde land. (hoofstuk 12 - 26)
Maar dit begin met die versoening. Vanuit die versoening deur God tot stand gebring, kan die wet aan die orde gestel word. So doen die Here dit: Eers versoening en dan die wet as reel van dankbaarheid.
Dan kan 'n mens ook met vreugde aan die gehoorsaamheid van die wet begin, want jy hoef daarmee niks meer te verdien nie, daardie spanning het die Here Goddank van ons lankal afgeneem.
Nog 'n opmerking oor die vreugde. En dan let ons op vs 12 waar staan: En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die Here julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slawinne en die leviet wat in julle poorte is.
Dit beteken die vreugde wat jy ontvang van die Here is nie net vir jouself, om uitsluitlik individueel te geniet nie, maar die vreugde en vrolikheid moet jy ook sosiaal geniet.
Die Here noem slawe en slawinne spesiaal daarby, want anders sou die Israeliete daar maklik toe kom om maar liewers sonder hul slawe en slawinne hul feeste te vier. Hulle sou sommer kon sê: Ag die slawe kan maar beter met mekaar op hul eie feesvier. Die sosiale verskil is so groot tussen here en slawe, 'n gesamentlike feesviering werk tog nie lekker nie. Hulle moet maar beter apart bly. Enfin, u weet self hoe mense sommer maklik so redeneer...
Daarom sê die Here dit nadruklik daarby. So mag dit onder my volk nie wees nie. Ek wil nie die here vrolik sien en die slawe uit die verte sit en toekyk nie....
Tenslotte in die verband nog 'n woord spesiaal vir hulle wat belydenis doen: Jou vreugde in die diens van die Here, is 'n vreugde waarmee jy in die midde van die gemeente moet staan. Op die oomblik dat jy belydenis doen word jy as 'n mondige lidmaat van die gemeente opgeneem en daarom word van jou ook verwag dat jy daar is, as daar kerklike aktiwiteite is. En ook dat van die aardse seeninge wat jy van die Here ontvang dat jy daarvan vir 'n ander beskikbaar stel, sodat in die gemeente van Christus almal bly kan wees.
2. DIE DIENS VAN DIE HERE GEE VREDE
In vs 13 word die tema van Deut. 12 weer opgeneem. "Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. Maar op die plek wat die Here sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring. "
Ons verstaan sommer maklik wat dit vir verkose plek beteken. Ons sien in gedagte Jerusalem al verrys met sy tempel, met sy priesters, met al die mense wat op die feesdae soontoe trek.
Maar daardie sentralisering van die kultus op een plek, het ook 'n sekere effek vir die land n. l. dat nie die hele land volstaan met brandende altare en offerende priesters nie.
Ek bedoel dit: In allerhande heidense religies struikel 'n mens letterlik oor al die towenaars en priesters. Jy kan in die lewe geen stap beweeg of daar is weer 'n priester wat besig is met seenspreuke.
Daar kan selfs geen hoender geslag word of daar moet 'n priester by wees om die naam van die god aan te roep en die vleis rein of halaal te verklaar.
Teen so 'n verkultisering van die lewe, dat letterlik alles godsdienstig gedoen moet word sê die Here: Nee. Offers, slegs in Jerusalem. Maar (vs 15) tuis kan jy na hartelus slag en vleis eet. Daarvoor maak dit nie saak of jy toevallig rein of onrein is nie.
Verstaan waar dit om gaan? Nie elke plek is 'n heilige plek nie. Daar is ook nog gewone plekke in die land. Nie elke slagting is 'n rituele slagting nie. Of miskien wat meer hededaags: Ons hoef nie elke dag in die kerk te sit en 'n preek te hoor nie. Behalwe die Sondag is daar ook nog die week se dae.
En ook op daardie dae mag jy jou verheug en bly wees. Christelike vreugde is regtig nie tot die sondag beperk nie. Maar daardie vreugde wil vanuit die Sondag ons lewe deur die week beinvloed. Uit die kerk, na die erediens gaan jy weer huis toe, na die gewone lewe, maar die vreugde moet jy saamneem om jou ook by die huis oor die seeninge van die Here te verbly.
Opvallend is die beperking wat vs 16 by die huisslagting maak: Net die bloed mag jy nie eet nie: jy moet dit soos water op die grond uitgiet.
Dit beteken: die bloed moet jy net so weggooi.
By die huis mog nie met die bloed religieuse handelinge verrig word nie. Dat dit 'n belangrike saak is kan ook blyk uit vs 23 - 25 waar die verbod om bloed te eet 'n slag herhaal word.
Daar is twee redes voor: Die eerste is die wyse waarop die Kanaaniete met die bloed van enige geslagte dier omgegaan het. Hulle het altyd godsdienstige-magiese handelinge daarmee verrig. Een daarvan was dat hulle altyd van die bloed gedrink het, in die veronderstelling dat die lewenskragte wat uit die sterwende dier vloei opgevang kon word deur die offerende mens. Deur dit te dink word hy daardeur weer versterk.
Wel, dit verbied God aan sy volk. Die bloed mag jy nie eet in die verwagting om daardeur verlenging van jou lewe te verkry nie. God self skenk jou die lewe uit genade - Daarna hoef jy nie self te gryp deur bloeddrinkery nie. Bloed wat by die slagting vloei is slegs afval. Niks meer nie.
Die tweede rede dat die bloed van die by die huis geslagte diere nie geeet mag word nie, is, dat God die bloed 'n spesiale funksie gegee het in die offerdiens in die tempel.
Die bloed van geofferde diere het daar wel 'n simboliese betekenis. Die bloed is die simbool van die vergewing van sondes. Met die uitgieting van die bloed teen die altaar word God se versoening oor die sondes van die volk verbeeld.
As ons dit wil verstaan moet ons besef dat elke bloedstorting in die tempel 'n afbeelding is van die kruisoffer van Jesus Christus.
Hy stort sy bloed vir ons sondes. Geen eie plengoffers van bloed, geen drink van dierebloed of wat ook al sal jou kan red nie, maar slegs die bloed wat gestort word deur Jesus Christus aan die kruis.
God maak vrede deur die bloed van die kruis. Dit alleen is die basis onder die vrede van Israel. En dit slegs is die bron van die vreugde en vrolikheid waarvan Deut. 12 so vol is.
God maak vrede deur die bloed van die kruis.
Self kan jy nooit vrede met God maak nie, self kan jy die ewige lewe nie bewerk nie, al drink jy al die bloed van die wêreld. Nee van die Here self slegs gaan dit uit. Hy maak die vrede. Hy skenk die lewe.
Eintlik staan dit heel pragtig in vs 27. Die offerbloed, die dood van die Lam van God, dit gebeur by die altaar. Dit is God se afdeling. Hy bewerk vrede deur die bloed.
Maar sê vs 27: die vleis moet jy eet. D.w. s. die opbrings van die offerdood, die verdienste van die werk van Christus, dit is vir die volk beskikbaar. Christus stort Sy bloed, sodat jy kan lewe. So word die Ou-Testamentiese offer 'n sakrament: 'n middel waardeur ons die weldade van Christus kan aangryp.
Die bloed, die dood, vir Christus.... die vleis, die lewe vir jou. So mag ons volgende week die Heilige Nagmaal vier. Ook om die boodskap van Deut. 12 te laat onthou: Christus dra die straf. Hy stort Sy bloed ter versoening.
En ons drink die wyn as 'n simbool van die weldade, van die vrede en van die vreugde wat vanuit die kruis na ons toe kom.
3. DIE DIENS VAN DIE HERE GEE VRYHEID
'n Laaste element waarvoor ek vanoggend u aandag wil vra is wat in vs 21 staan: As die plek wat die Here jou God sal uitkies om Sy Naam daar te vestig ver van jou af is, dan mag jy jou beeste slag en daarvan in jou poorte eet.
Vs 21 gaan daar vanuit dat die Here die offerdiens op 'n sentrale plek in die land wil hê, maar tegelykertyd word 'n heel stuk ruimte gegee, n. l. dit kan wees dat die sentrale plek ver van jou af is.
Kyk, die Here het vir sy volk die hele land gegee. Hy het ruimte vir sy volk gemaak om in te woon. Die hele land lê oop vir hulle. Maar as hulle nou vir elke kleinigheid na die tempel moet kom om daar hul offer te bring, dan gee dit 'n geweldige rem op die ontplooiing van die lewe. As 'n boer 'n week se stap vanaf Jerusalem woon, kan hy darem onmoontlik vir elke eersgeboorte van sy vee of kleinvee die tog na Jerusalem onderneem. As hy terug is kan hy dieselfde dag weer op pad met die nuwe eersgeboorte van sy vee.
Wel, so 'n godsdiens sou as 'n blok teen enige ontwikkeling en vooruitgang staan. En dit is wat ook gebeur by baie godsdienste. Die lewe kan geen kant uit. Heilige koeie kan nie geslag word nie ook al besef almal hoe skadelik hulle is. Heilige ratte mag nie verdelg word nie want 'n godsdienstige taboe verbied dit. Tempels van goud, kunsstukke, maar 'n bevolking wat doodgaan van honger.
Paulus sê iewers: Jy kry mense wat so godsdienstig is dat hulle die huwelik verbied en die genot van spyse wat God tog geskape het om met danksegging te gebruik.
Sien u so kan godsdiens die lewe fnuik. Mens kan geen kant uit nie. Maar so nie in Israel nie.
As die tempel te ver van jou af is, slag jou eersgeboorteoffer by die huis en eet na hartelus daarvan in jou poorte.
Verstaan u watter bevrydende woord dit is? Dit maak die wêreld oop en skenk dit vir die gelowige om te gebruik tot eer van God.
Dit is 'n lewensbevrydende geloof.
In Europa b. v. kon juis deur die christendom 'n geweldige ontwikkeling van kultuur tot stand kom. B.v. die skepping was oop vir ondersoek. Gaan kyk die binnekant van 'n dier. Jy sny dan nie in God nie, soos heidene gedink het, maar in 'n skepsel van God.
Daardie moontlikheid tot lewensontplooiing word hier in Deut. 12 veiliggestel.
Vanuit die versoening in Christus lê die wêreld oop.
Vanuit dieselfde versoening kan die lewe ook 'n lewe van vreugde wees. As ons maar nooit vergeet dat met die versoening, agter die versoening aan, ook die wet van God kom om ons vas te hou by die versoening, om ons te laat lewe dig by die Here, om met ons aardse seeninge nie by Hom weg te loop nie, maar juis na Hom toe te kom.
Tenslotte, 'n enkel woord nog vir hulle wat belydenis doen: Dien die Here met vreugde, kom voor sy aangesig met gejubel. Julle weet nou dat daardie vreugde volkome afhanklik is van die versoening deur Jesus Christus. Hou daarom vas aan Hom alleen. En besef dat dit in die lewe baie swaar kan word om daardie vreugde vas te hou. Maar hou moed, in Christus kan die gelowige wat na die mens gesproke slegs rede tot klae het, tog altyd weer die blydskap terug vind.
Onthou die kostelike digreels van Guido Gezelle:
Op aarde was, als ijdel glas
uw blijdschap licht te schenden
Maar eenmaal kan, de vreugde van
de bruiloft nimmer enden.
Amen.
(kyk in preek)