God maak die pion in sy raad tot 'n verkondiger van sy raad

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Génesis 41
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GENESIS 41: 15-32

LITURGIE:
L.Genesis 41: 1-32
Ps. 33: 6, 10
Ps. 33: 7
Ps. 105: 1, 10, 12, 13
Ps. 96: 2
Ps. 96: 3, 6

Broeders en susters,

Ons lees in Genesis 41 van die verhoging wat daar op die ou end tog nog vir Josef gekom het. Sy drome, wat hy as jong seun in die tente van sy pa gedroom het, word eindelik werklikheid.

Sy geduld en sy vertroue is lank op die proef gestel. Maar nou word die veragte en gehate seun van Jakob tog 'n geeërde en geliefde koning oor Egipte.

Hierdie omkeer in Josef se lewe was niet net vir homself belangrik nie.

Want hoe wonderlik dit ook al vir homself mag gewees het, God se Woord plaas hierdie verhoging van Josef in 'n breër verband. Ons weet mos dat die HERE met die verhoging van Josef die redding van sy volk gesoek het. Ons het so daarvan gesing met die woorde van Psalm 105. God is besig om sy raad van verlossing te volbring.

God gebruik hierdie deur sy broers gehate Josef om Jakob se kerkgesin aanstons in Egipte van die hongerdood te red en hul toekoms oop te hou.

Josef sal dit nou-nou self vir sy broers verklaar as hy sê:

"God het my voor julle uitgestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing. Jùlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God. Julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink, om 'n groot volk in die lewe te hou".

Josef is maar net 'n pion op God se skaakbord.

En ons lees dus in Genesis 41 nie maar net oor Josef se persoonlike verhoging nie, maar oor God se raad tot verlossing van al sy kinders.

Die raad waarvan sy kerk volslae afhanklik is.

Waarvan ook die wêreld afhanklik is. Want God is die God van die ganse aarde. En as Hy sy kerk bewaar draai Hy nie die rug op die wêreld nie.

Dis hoekom die HERE daarvoor gesorg het dat Josef, voordat hy vir sy eie kerkfamilie van die wyse raad van God kan vertel, eers ook die Farao van Egipte met die raad van God moet bekend maak.

Daaroor lees ons in die teks wat ek vir hierdie diens gekies het. Ek kan hierdie gedeelte so saamvat:

GOD MAAK DIE PION IN SY RAAD TOT 'N VERKONDIGER VAN SY RAAD.

Ons gee dan aandag aan twee hoofpunte:

  1. ONBEKENDHEID MET GOD SE RAAD BRING ONRUS
  2. OPENBARING VAN GOD SE RAAD BIED RUS.

1. Die Farao van Egipte kry op 'n sekere nag tot twee maal toe 'n droom, waarvan die man danig deurmekaar raak.

Albei die drome begìn mooi, maar hulle eindig in 'n nagmerrie.

Eers sien die Farao homself aan die Nyl staan, daardie groot rivier, die trots van Egipte. En voor sy verbaasde oë klim daar skielik sewe koeie uit die Nylwater omhoog, mooi vet diere, wat in die groen vleigras begin wei.

Maar dadelik daar agteraan duik daar nog sewe koeie uit die Nyl op, maar nou is dit maer skarminkels, lelik om te sien.

En as hierdie diere die eerste koeie bereik het, vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes met huid en haar op. Daar bly niks van die eerste koeie oor nie.

Die Farao sal met 'n skok wakker geskrik het en homself verbaas afgevra het, hoe hy tog aan so'n droom gekom het. Waar haal 'n mens dit vandaan? ! Of sou dit dalk die vinger van die gode wees?

Ja, dit was God self, wat vir die Farao die onrus in die liggaam geja het. En God sal in 'n tweede droom die onrus nog groter maak.

Want as die Farao weer aan die slaap geraak, sien hy iets wat baie ooreenkoms met sy eerste droom vertoon. Hy droom nou van eers sewe mooi vol are wat aan een stingel opskiet. Maar vervolgens sewe skraal are wat verskroei is deur die oostewind. En nou sluk die skraal are die sewe vol are in.

Na hierdie droom is dit gedaan met sy slaap. En ook met sy rus.

'n Mens droom dikwels so dat hy smorens as hy wakker word alleen nog maar weet dàt hy gedroom het, maar nie meer kan onthou wàt hy gedroom het nie. Maar die Farao raak sy nagmerrie nie meer kwyt nie.

Hy het dalk iets aangevoel van die dreigende betekenis van wat hy gedroom het, sonder om dit presies onder woorde te kan bring. Dit wat in altwee die drome so mooi begin het, het tog onheilspellend geëindig.

Ons mag hier wel in rekening bring, gemeente, dat die HERE in hierdie drome vir Farao beelde laat sien het wat vir hierdie koning van Egipte besondere betekenis gehad het.

Die HERE het die Farao in sy droom opsetlik na die Nyl verplaas. Ek het nou net al gesê hierdie groot rivier was die trots van Egipte. Die NYl was vir die Egiptenaar en vir die Farao 'n bron van rus. Hierdie rivier het mos die welvaart in Egipte gewaarborg. Reën of geen reën nie- die Nyl het altyd water gehad en danksy 'n wonderlike bevloeiing van die akkers het Egipte altyd graan en kos gehad. As daar orals in die Ooste hongersnood en droogte geheers het, was Egipte die toevlugsoord wat redding gebied het. Om hierdie rede het ook Abraham Egipte toe getrek en was Isaak op pad Egipte toe, toe die HERE vir hom beveel het om in die land van die Filistyne te bly.

Die Nyl het vir die Egiptenaars dan ook 'n god geword, die god van die vrugbaarheid.

Dit moet vir die Farao 'n lus vir die oë gewees het, toe daar uit sy goddelike rivier sewe van daardie pragtige koeie opgeduik het. Ook die vet veestapel het tot Egipte se trots behoort; en ook dit was 'n simbool van die ewigdurende vrugbaarheid van diè land.

En was die vol are in die tweede droom nie 'n teken van die vrugbare bodem wat die Egiptenaars mog bewoon nie?

Maar juis hierom was die drome so verontrustend! Want al daardie mooi, goeie dinge is sommer verslind, en dit wat oorgebly het, het akelig en onheilspellend gelyk.

Die Nyl, Farao se bron van rus, word in die droom 'n bron van onrus as daardie sewe broodmaer koeie kop uitsteek. Die Farao vertel dit nou-nou self vir Josef: "Ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie". En as daardie maer beeste nou maar 'n bietjie sou gegroei het nadat hulle die vet koeie opgevreet het- maar nee, toe hulle in die mage beland het kon mens daar niks van merk nie. Hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin.

Die HERE het die Farao so uit sy ewewig geslaan, broeders en susters, dat hy die môre dadelik al die waarsêers en raadgewers by hom laat roep het.

En dan volg die totale ontmaskering van heel die geleerdheid van Egipte.

Die geleerdes wat die Farao geroep het was nie die eerstes die bestes nie. Hierdie mense het 'n aparte kaste gevorm. Hulle kon drome, ster-verskynsels, natuurverskynsels en so meer uitlê. Hulle het hulself baie meer gevoel as by ons die raadgewers en adviseurs van die staatspresident. Hierdie mense het godsdienstige betekenis gehad, aangesien hulle die kontak met die gode behartig het.

Moenie te gering oor hulle dink nie, gemeente. Nou-nou, as Moses en Aäron aan Farao se hof verskyn, blyk die Egiptiese towenaars en magiërs oor groot kragte te beskik. Ook hulle kry dit reg om hul kierie in 'n slang te verander; ook hulle kan water in bloed verander.

Maar vandag staan hulle almal met die mond vol tande. God dwing hulle tot die erkenning dat hulle hierdie keer glad nie weet wat om te sê nie. Farao se drome is vir hulle 'n raaisel.

Terwyl die Farao dit vir hulle ook nog maklik maak. U ken die geskiedenis van Nebukadnesar van Babel, wat ook 'n droom gehad het en aan sy geleerdes om uitleg gevra het. Nebukadnesar het selfs geweier om die dròòm te vertel. Hy het sy wyse manne op die proef gestel om te voorkom dat hulle hom sou mislei. As hulle regtig die wil van die gode sou ken, sou hulle nie net die uitleg nie maar ook die droom self wel kan vertel.

Die Farao het nie eens so ver gegaan nie. Hy wil die drome wat hy gehad het wel vir hulle vertel, as sy geleerdes dan die verklaring maar weet.

Maar alle geleerdheid lewer niks op nie.

En met daardie armoede word dan op die ou end Josef gekonfronteer. Die Farao moet vir hom beken: niemand weet raad.

Nee, want hulle ken in Egipte diè raad van God nie. Daar is wel godsdienstige leiers, wat hulleself profeet noem. En hulle spog dikwels met wat hulle "'n woord van God" noem. Maar hulle ken nie die openbaring van God se raad nie, en as daar dan regtig 'n openbaring van die HERE kom, as God sy raad dan werklik bekend maak, dan is daar nie een van daardie sogenaamde profete wat dit verstaan of kan verklaar nie.

Die profeet Jesaja sal later in die naam van die HERE vasstel: "Die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword. Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is 'n seun van die wyse manne, 'n seun van die konings uit die voortyd. Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat 'n mens kan weet waqt die HERE van die leërskare oor Egipte besluit het" (Jes. 19: 11, 12).

Ons teks wys vir ons die fiasko van alle wêreldse wysheid, wat onbekend bly met die raad van die HERE, gemeente.

So gebeur dit vandag nog in die wêreld waar die Woord van die HERE nie geken word nie.

En dan moet ons in rekening bring dat God sy raadsplan in die Here Jesus Christus tot verlossing vanm die wêreld nou volkome aan die wêreld bekend gestel het. Hy hoef vandag nie meer langs die weg van drome sy wil bekend te maak nie, aangesien elkeen sy plan met die wêreld nou kan ken uit die heilige Skrif.

Nogtans sien ons dat daar ook nou nog baie wêreldse eiewysheid wat met God se geopenbaarde Woord nie wil reken nie, ten toon gesprei word. Nog is daar profete sonder tal in die wêreld. Daar is mense wat sweer by die insig van astroloë. Die wysheid van futuroloë word aanbid, ook as hulle in hul toekomsverwagtings dwars teen die Woord van die HERE ingaan. As hulle 'n maatskappy van die toekoms teken wat die resultaat van menslike inspanning is, die vrug van die gemeenskaplike strewe om tot 'n leefbare bestaan te kom.

Maar God in die hemel deurkruis aanhoudend al daardie menslike wysheid en bly die onrus deur die wêreld ja. Voortdurend laat Hy die geskiedenis anders verloop as wat deur die deskundiges voorspel was. Hy ontneem aan die ekonome, planoloë, politici en dergelike die skynbare sekerhede waarvan hulle gedink het hulle kon daarop vertrou.

U weet van hierdie onrus, broeders en susters. U weet waaroor die koerante en blaaie telkens maar weer skryf, waaraan die radio en televisie voortdurend aandag gee, waaroor die mense onder mekaar gesels.

Maar dan mag u daaragter ons God in die hemel opmerk, wat besig bly om die waanwysheid van mense te beskaam en om selfversekerde geleerdes te verontrus. Omdat 'n mens wel onrustig moet bly so lank hy nie die rus vind in God.

Want alleen Hy het die rusgewende Woord vir die wêreld.

2. Ons teks vertel vervolgens hoedat Josef as 'n profeet van die allerhoogste God die Farao en sy wyse manne uit die droom help. Josef, die seun van Jakob, deur God gekies om sy verbondskind te wees, kom en beskaam al die raadgewers van die Farao.

Dit is die voorreg van die kerk: ons mag ingewy wees in God se raadsplanne en ons hoef nooit met die mond vol tande te staan nie.

God se kinders bly daarin wel knegte: hulle het geen wysheid uit hulle self nie. Hulle kan maar net deurgee wat due HERE aan hulle geopenbaar het. Hulle kan nie vir hulle self eer opeis nie.

As die Farao Josef dan ook alte hoog aanslaan, wys Josef diè eer af. Hy wys op God. Hy mag sy raad hier openbaar maak., sy Woord deurgee.

Daardie Woord bevat nie maar net mooie boodskappe nie. Die Farao het tereg aangevoel dat daar iets onheilspellends in sy drome was. Josef moet uit naam van die HERE nie alleen oorvloed nie, maar ook hongersnood aansê. Daar kom eers sewe oorvloedige jare, maar daarna het die HERE tot droogte, misoeste en honger besluit. Maar die Farao moet mooi daarvan deurdronge wees dat hy in die jare wat kom nie met 'n grillerige speling van die natuur te make kry nie maar met die God van die hemel en die aarde wat besig is om sy raad tot verlossing van sy volk en tot redding van die wêreld te volbring.

Ja, dit val op, broeders en susters, dat Josef tot vier maal toe wys op wat Gòd sal doen. God is nie alleen by magte om te voorsê wat daar in die toekoms sal gaan gebeur nie. Hy is dit ook self wat die toekoms maak. Hy bepaal die loop van die dinge. Daar is net Een wat die geskiedenis maak en Hy doen dit nooit in grillerige willekeur nie, maar ooreenkomstig sy wyse raadsplan.

Ons mag aanneem, gemeente, dat Josef self nog nie eers presies geweet het hoe God se planne was en wat die HERE met die komende jare van oorvloed en honger voorgehad het.

Maar ons weet dit wel. En ons mag dit by hierdie teks in rekening bring: God se planne was verlòssingsplanne, toe Hy oorvloed en vervolgens honger oor Egipte gebring het. Hy wou langs hierdie weg sy kerk bewaar, aan sy verbond trou bly en verder werk aan die herskepping van die wêreld deur sy Seun Jesus Christus.

In God se raad neem hierdie heilswerk altyd die sentrale plek in. Ons kan dit vandag weet omdat ons Here Jesus Christus self ons die raad van God aangaande ons verlossing volkome geopenbaar het. Ons weet dat niks per toeval nie, maar alles uit God se Vaderhand ons toekom. En dit is om Christus ontwil altyd 'n Vaderhand, wat die goeie vir ons soek.

In al die verwarring en duisternis wat telkens opnuut die wêreldse wyse verontrus, mag ons by die lig van God se geopenbaarde Woord altyd 'n antwoord weet.

Ons weet dat hierdie wêreld nie sommerso 'n welvaartswêreld sal word nie, maar dat God ook honger, armoede, oorloë, rampe en so meer oor die aarde sal stuur.

Christus self het daaroor gepraat en dit vir sy dissipels genoem: "Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want dit alles moet plaasvind. " So pas dit in God se plan. "En daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke..... ".

Ons weet ook uit die boek Openbaring van baie rampe en verskrikkings war daar nog oor die aarde moet kom.

Maar ons weet ook by dit alles: as God so sy raad volbring, laat Hy vir ons alles ten goede meewerk. En dat niks ons sal kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Die ellende kan ook ons tref, broeders en susters. En dan sal ons maar een sekerheid wat rus bied oorhou, naamlik dat God sy heilswerk in Jesus Christus sal voleindig, aangesien -soos ons gesing het- die HEER se raad nooit word gekeer nie: dit sal bestaan in ewigheid. Dus in die grootste smarte bly nogtans ons harte op die HEER vertrou.

Maar dan het ons ook 'n woord vir hierdie wêreld.

Dan sal ons as profete en profetesse in die wêreld staan wat vir ander mense op die openbaring van hierdie raad van God in die Bybel wys.

Ons is nie klaargepraat met 'n geselsie oor die reën wat ons laas week eindelik gekry het nie. Al kan ons ook na aanleiding daarvan baie goed oor God en sy raad praat!

Ons mag ook nie saamdoen in die groot koor van mense wat kla oor die politieke spanning in die hele wêreld en veral ook in Suid- Afrika nie. As ons aan ons bekommernis en onrus uiting gee, moet dit wees omdat al hoe minder mense nog die HERE God wil erken en dank en dien. En ons sal dit aan die ander mense, wat so onrustig is, moet voorhou dat hulle nooit die werklike rus sal vind nie so lang hulle dit nie alleen by die HERE en die lewe in gehoorsaamheid in sy verbond soek nie. Ons kan vir hulle maar laat weet hulle sal nooit die regtige vrede en voorspoed vind nie so lang hulle hulleself uitlewer aan menslike raadgewers, vertrou om aardse maghebbers.

Ons mag selfs wel vir hulle sê dat onrus, spanning, stryd en narigheid in hierdie wêreld geen wonder is nie, omdat God die HERE daarin vir ons almal telkens weer laat voel hoe magteloos ons met mekaar feitlik maar is, sodat ons na die voorspoed en vrede wat van bo kom al hoe meer gaan verlang. Die vrede van God wat danksy die offer van sy Seun met sy volk op pad is na een nuwe aarde sonder sonde.

Dit aan die wêreld voorhou en voorlewe- dis ons roeping, broeders en susters. Rustelose mense tot die rus by God roep.

Maar u kan dit slegs as u eers sèlf geleer het, soos Josef dit moes leer, om te rus in die raad van ons God.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)