Ontelbare bakleierye tussen mense het al oor besit ontstaan.
En solank die in sonde gevalle mensheid nog sal bestaan, sal dit wel voortduur.
Van klein kinders wat baklei oor wie se speelgoed dit is,
tot konflikte tussen lande en wêreldmagte oor ’n stuk grond.
Ukraïne, Gasa, Congo, Suid-Afrika ...
Ons weet maar al te goed tot hoeveel spanning gronddispute in ons land kan lei.
In die verlede het blankes grond onregmatig hulleself toegeëien.
En nou gebeur dit weer andersom.
Besit, regmatige besit, wat is dit eintlik?
Wanneer moet mens iets ‘steel’ noem?
Hoe is dit moontlik om hieroor eenstemmigheid te bereik?
Laat ons met hierdie laaste vraag begin.
Ja, dit is moontlik om eenstemmigheid te kry, ten minste onder hulle wat bereid is om te luister na die eintlike Besitter van alle dinge, naamlik God, wat alles geskape het.
Hy is Skepper en Onderhouder van hemel en aarde.
En Hy het sy Seun aangestel, Jesus Christus, om te heers oor alle dinge.
“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” – sê Hy self in Mattheüs 28:18.
Tema: Hy aan wie alles behoort leer ons wat steel is
1 Hoe steel ek?
2 Hoe is ek oneerlik?
3 Hoe is ek barmhartig?
1 Hoe steel ek?
As mens ’n meningsopname onder mense sou doen oor wat diefstal is, sal jy uiteenlopende antwoorde kry.
Van ons voorouers het slawe aangehou en onderdruk en dit goedgepraat.
Ministers vandag gebruik owerheidsgeld vir privaatdoeleindes en praat dit goed.
Groot besighede vervaardig produkte in arm lande waar arbeidsomstandighede beroerd is, maar – sê hulle – hulle verskaf ten minste werk.
Almal het wel een of ander redenering om hulle gewete gerus te stel.
Wat is steel eintlik?
Dis wel duidelik, as mense onderling sal ons nie eenstemmigheid hieroor bereik nie.
Elkeen praat soos hyself reg dink.
Elkeen bevoordeel homself.
Juis daarom is dit so nodig dat ons na Hom moet luister aan wie alles behoort.
Hy staan bo die belange van mense.
Alle skepsels, klein en groot, is sy eiendom.
En vir ons as gelowiges geld dit des te meer, dat ons die kosbare besit is, met liggaam en siel, van Hom aan wie alles behoort, ons troue Saligmaker.
Sondag 42 vestig die aandag dan ook op God en wat sy wil is.
Wat Hy ons in sy Woord openbaar.
Ons lees:
God verbied nie alleen dié diefstal en roof wat deur die owerheid gestraf word nie, maar Hy noem ook diefstal ...
En dan volg daar ‘n hele klomp aanwysings.
Dit is dus die eerste en belangrikste vir ons om te besef.
As jy ’n houding het van: Slegs die dinge waarvoor daar ’n goeie kans is dat ek gestraf sal word, dit doen ek nie ...
As jy so ’n houding het, het jy die 8e gebod nog nie begryp nie.
Want dan draai jou lewe nog om jouself, om jou eie belang.
Daarom dat die Kategismus, in navolging van die Bybel, baie meer dinge diefstal noem.
Ook dinge waarvoor die owerheid jou nie sal straf nie.
Vir Christus is woeker ook diefstal, en hebsug, en selfs die verkeerde gebruik van jou besit.
Want, jy behoort aan Christus, en so ook hierdie hele aarde.
Jy is as mens bloot rentmeester in sy diens.
Christus wil ons dus leer dat ons ’n ander houding aanneem teenoor ons besit.
Om rentmeester te wees beteken dat jy respek het vir die eintlike Eienaar.
Hy bepaal wat diefstal is en wat nie.
Ons eie regsgevoel is nie die maatstaf nie.
Ook nie die owerheid of die grondwet nie.
Maar sy Woord.
Uit God se Woord het ons twee gedeeltes gelees wat hieroor handel.
Ons leer hier meer oor wat steel is aan die een kant, en wat die goeie gebruik van besit is aan die ander kant.
Kom ons begin met Levitikus 19(:13):
“Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre bly nie.”
Hierdie gebod gee God aan Israel, kort na hulle uittog uit Egipte.
Daar was hulle slawe gewees.
As slawe in Egipte het hulle ervaar hoe wreed mense teenoor mekaar kan wees.
Hulle het geen dagloon ontvang nie.
Hulle moes werk in die skroeiende son, asook die gloeiende hitte van die oonde om bakstene te bak.
Reken maar dat die sterftesyfer onder die manne hoog was.
Dit nog afgesien van die babaseuntjies wat Farao laat verdrink het.
Die Israeliete se bevryding uit Egipte het ’n groot verandering in hulle lewensomstandighede gebring.
Met die 8e gebod sê die Verbondsgod nou vir sy volk:
Dit mag nooit weer gebeur nie!
Wat die Egiptenare julle aangedoen het, mag julle nie mekaar aandoen nie, en ook nie aan ander mense nie.
Ook as ’n dagloner by jou werk en hy is nie ’n Israeliet nie, dan moet hy saans huis toe kan gaan met sy dagloon.
Die ekonomiese en maatskaplike lewe het toe anders gelyk.
Dit was baie meer ’n ekonomie van dag tot dag.
Mense het nie geld in die bank gehad nie.
Mense het kos gekoop net vir die volgende dag.
Daar was nie yskaste nie.
Kos soos melk, groente en vleis kon nie so lank bewaar word nie.
‘n Dagloner moes dus saans huis toe kon gaan met sy dagloon, sodat sy gesin die volgende dag kon eet.
Daarom het die Here hierdie wet uitgevaardig.
Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.
Vandag kry baie mense hulle salaris een keer per maand, en dit op hulle bankrekening.
Maar die beginsel van hierdie wet geld vandag nog steeds.
’n Werkgewer mag geen agterstallige salarisse of gelde aan sy werknemer skuldig wees nie.
Uiteraard geld dit nog veel meer vir ’n Christen, wat so goed deur Christus versorg word.
Dat jy ruim op tyd, eerlik en met liefde jou werknemers uitbetaal.
Vir ’n Christen mag daar geen sprake van wees dat daar dwang aan te pas moet kom nie.
Waar ’n Christenwerkgewer hierdie Bybelse uitgangspunt eerbiedig, kry ’n vakbond moeilik voet aan die grond.
So gaan ons met mekaar om.
God het Israel nie uit die slawerny van Egipte verlos, sodat hulle – eenmaal in Kanaän aangekom – van mekaar slawe sou maak nie.
En Christus het ons nie verlos sodat ons nou oneerlik met mekaar sou omgaan nie, en elkeen net aan sy eie belange sou dink nie.
2 Hoe is ek oneerlik?
Ons het uit Levitikus 25 gelees dat as iemand verarm het, finansieel gesproke gevou het, ’n mens moes help sonder om woekerrente te vra.
Dit is bekend dat in die oud-Oosterse wêreld dit heel gewoon was om by terugbetaling die dubbele te eis.
Geen wonder dat baie mense tot slawerny verval het nie.
Vandag ken ons ook in ons land woekerrente, die sogenaamde ‘loansharks’.
Maar sulke liefdeloosheid het die Here nie geduld nie.
Selfs die vreemdeling het sy regte gehad.
Ook ’n vreemdeling het reg gehad op sy dagloon aan die einde van die dag.
Dit is God se bedoeling met die 8e gebod.
Hy wil ’n gesonde en harmonieuse maatskaplike lewe skep.
Maar ongelukkig het Israel, elke keer as hulle van die HERE afvallig geraak het, ook die 8e gebod versaak.
By die profete klink die aanklag teen die oortreding van hierdie gebod as ’n refrein:
Jesaja 1:23 byvoorbeeld: “Jou vorste is ... metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag belonings na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.”
En Amos 8:4-6: “Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons de graanskuur kan oopsluit – om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ’n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir ’n paar skoene”?
Die Here Jesus het nie anders gepraat nie.
Hy’t gesê:
“Pas op vir die skrifgeleerdes wat ... die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal ’n swaarder oordeel ontvang.” (Markus 12:38-40)
Bose dade en listige planne waarmee ons dink om die goed van ons naaste onsself toe te eien.
Dit is in God se oë afskuwelik, veral as dit so gebeur dat die owerheid nie vat daarop kan kry nie.
Christus leer ons so die dieper dimensie van hierdie gebod.
Selfs as iets deur die owerheid toegestaan word – dink aan die woekerwinste in ons land – is dit nog nie goed in God se oë nie.
Ek dink aan ’n vers uit Lukas 3(:14) waar soldate vir Johannes die Doper gevra het wat hulle moes doen om tot bekering te kom.
Hy’t toe geantwoord:
“Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.”
En so was daar nog vele maniere om iemand iets afhandig te maak sonder dat jy direk vervolging hoef te gevrees het.
Die Kategismus noem skyn van reg, byvoorbeeld valse gewig.
Daaroor sê God se Woord, Deuteronomium 25:13:
“Jy mag nie twee soorte weegstene, ’n grote en ’n kleintjie, in jou sak hê nie.”
En Spreuke 11:1: “’n Valse weegskaal is vir die HERE ’n gruwel, maar in ’n volle gewig het Hy behae.”
En valse maat, Deuteronomium 25:14-15:
“Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, ’n grote en ’n kleintjie, hê nie. Jy moet ’n volle en regte gewig hê; jy moet ’n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God jou sal gee.”
Wie homself aan sulke praktyke skuldig maak, bou nie iets duursaams op nie.
’n Besigheid wat op hierdie manier ryk – vinnig ryk – probeer word, kom ten val.
Dit alles is vir die HERE jou God ’n gruwel (Deut 25:16).
Die Hebreeuse woord vir gruwel wil sê: absoluut verwerplik in God se oë.
Dink aan die woorde van die profeet Esegiël (45:9-12):
“hou op om my volk uit hulle besittings te verdring, spreek die Here HERE. Julle moet ’n regte weegskaal hê en ’n regte efa en ’n regte bat. ’n Efa en ’n bat moet ’n vaste maat hê, sodat ’n bat die tiende van ’n homer bevat; ook ’n efa die tiende van ’n homer; die reëling daarvan moet wees volgens die homer. En die sikkel moet twintig gera wees; twintig sikkels, vyf-en-twintig sikkels, vyftien sikkels moet vir julle ’n mine wees. Dit is die offergawe wat julle moet afgee: die sesde van ’n efa van ’n homer koring; ook die sesde van ’n efa van ’n homer gars. En die bestemde deel van olie, van ’n bat olie: die tiende van ’n bat uit ’n kor, dit is tien bat, ’n homer; want tien bat is ’n homer.”
Ons lees hier oor die verskillende inhoudsmate wat in daardie tyd gebruiklik was.
As mens dit so lees, klink dit soos haarklowery.
Maar dit wys jou net hoe ernstig en presies die HERE oor hierdie dinge is.
Vir Hom tel elke sent.
Reg is reg, en verkeerd is verkeerd.
’n Kilo is ’n kilo, en jy mag nie iets wat 900 gram is, vir ’n kilo verkoop nie.
Jy mag nie ’n kar wat 100 000 km gery het, verkoop asof dit maar 70 000 gery het nie.
Mense wat op so ’n manier vinnig ryk wil word, sonder om eerbaar daarvoor te werk, ’n gruwel is dit in God se oë.
Want dit gebeur ten koste van ander.
Alle oneerlikheid is vir Hom verwerplik.
Oneerlikheid, hetsy deur ’n arm man of ’n ryk man.
Hetsy deur ’n skuldenaar of ’n skuldeiser.
Die Here wou dat sy volk in die land Kanaän ’n gelukkige lewe sou lei.
Natuurlik sou daar wel verskil in besit wees tussen die een en die ander.
Die Bybel pleit nie vir sosialisme, dat almal gelyk moet wees nie.
Nêrens in die Bybel lees ons dat dit verkeerd is dat daar ryker en minder ryk mense in die samelewing is nie.
Deur siekte, sterfte, misoeste, verskil in aanleg en talente, verskil in omstandighede, en nog baie ander oorsake is dit logies dat die een een ryker word as die ander.
Ryker word moet nie ons eerste lewensdoel wees nie.
Dis nie die hoogste vorm van geluk nie.
Maar wat die Here nie wil hê nie is dat mense honger ly, terwyl ander skatryk is, en dit laasgenoemde groep nie traak nie.
3 Hoe is ek barmhartig?
Ook hier in Suid-Afrika mag ons ons oë nie hiervoor toeknyp nie.
Ons is bewus van die geweldig komplekse situasie.
Ek roep u ook nie vanaf die preekstoel op om die bedelaars by die stopligte geld te gee nie.
Desniettemin, die van ons wat baie geld het, sal aktief na maniere moet soek, verantwoordelike maniere, om dan wel uit te reik na hulle wat honger ly, hulle wat soveel minder kanse in die lewe het.
In die gedeelte wat ons uit Levitikus 19 gelees het, stuit ons op ’n ongebruiklike bepaling:
Vers 9-10: “En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.”
‘n Mooi voorbeeld hoe hierdie wet in die praktyk toegepas word, is by Rut.
Rut het as buitelandse vrou koringare gaan optel op die lande van Boas.
Boas het hom aan hierdie wet gehou, en daarom het op sy land koringare bly lê vir die armes.
Boas het selfs beveel dat sy dienaars bietjie meer koringare laat val as normaalweg.
Boas het die bedoeling van die wet verstaan.
As ons onsself afvra: Wat sou die bedoeling van hierdie wet wees in ons samelewing, waar die verskille tussen ryk en arm al hoe groter word?
Verskil tussen arm en ryk was altyd daar, en sal altyd daar wees.
Terselfdertyd gebied die HERE se wet baie duidelik dat ons nie die rand van ons veld mag afoes nie.
Hierdie bepaling het te make met wat ons in v/a 111 lees.
Dis die positiewe kant van die 8e gebod.
Dat ek my arbeid trou moet verrig, sodat ek ook in staat is om die behoeftiges te kan help.
Jy werk en lewe nie net vir jouself nie.
Jy doen jou arbeid trou, jy werk hard, nie in die eerste plek om ryk te word nie, want ook dan oortree jy die 8e gebod.
Dan het jy ’n verkeerde opvatting oor besit.
Ons mag werk om die HERE en sy koninkryk maksimaal te kan dien,
ook deurdat ons sonder finansiële sorge elke maand kan deurkom sonder om afhanklik te wees,
en om ook nog genoeg oor te hou om die behoeftige by te staan.
Vanuit die besef: Môre kan ék ook behoeftig wees.
Ek het nie my eie lewe en omstandighede in die hand nie.
Wanneer oortree jy die 8e gebod?
Wanneer steel jy?
Die doel van hierdie preek is om duidelik te maak wat God se Woord ons hieroor openbaar.
Dis nie ons wat bepaal wat steel is nie.
Want God het alles geskape, en Hy onderhou dit nog steeds.
En aan Christus behoort alles, aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde.
Ons is slegs rentmeesters van sy besit.
En jy is ’n dief, nie net as jy steel en roof in die sin dat die owerheid jou agtervolg nie, maar ook as jy jou eie besit verkeerd gebruik,
as dit nie staan in die kader van ’n lewe tot eer van die HERE nie,
in die kader van die behoud van jou saligheid en die van ander,
gemik op die vreugde en harmonie met jou naaste,
en die herskepping van hierdie wêreld nie.
“Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer ...” (Gs 190:1)
“Neem my goud en silwer, Heer,
Niks noem ek my eie meer ...” (Gs 190:4)
“Gelukkig hy wat hom
ontferm en uit wil leen,
wat nooit by voorspoed en geluk
sy naaste sal verdruk.” (Ps 112:5)
Amen.
Votum
Seën
Ps 24:1,3
Gebed
Skriflesing: Levitikus 19:9-16 & 25:35-55
Ps 119:7
Teks: 8e Gebod - nav Heidelbergse Kategismus Sondag 42
Preek
Ps 112:1,3,4,5,9
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 127:1,2
Seën