God wat besorg oor sy kinders is, vervang ons sondige onbesorgdheid deur sy oordeel en aanstaande Messiaanse koningskap oor ons

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-11-26
Text: 
Jesaja 32
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Watter hoop is daar vir ons, gemeente van Christus, in die aangevegte situasie waarin ons daagliks lewe?

Ons hoop is die Seun van God. Hy het mens geword en onder ons sondaars kom woon. Hy het kragdadelik God se koninkryk, God se heerskappy en verlossing gebring en bevestig toe Hy ons met God versoen het. 

Is daar gelowige verwagting en afwagting in ons lewe, gelowiges, van ons Hoof, ons Here Jesus Christus en die werk van sy Gees? Begryp ons die betekenis van God se Seun se koms as mens na die wereld vir die heil vir die nasies? Vir ons volks- en taalgenote, maar ook vir al die volke en tale in ons land. Onder elke volk en taal is daar uitverkorenes, geroepenes van God, duurgekoopte kinders van ons hemelse Vader, wat in ons tyd in eie taal met die hart glo en met die mond Christus bely.

Nou ervaar ons daagliks die spanning tussen mense en kulture in ons land. Christus se werk en die praktiese lewe van gelowiges met mekaar en met ongelowiges, met verskillende verlede en in verskillende omstandighede in ons land, kom teenstrydig voor. Ons is so bewus van die heerlike werk wat Christus reeds vir ons gedoen het, maar sien die werk wat Hy deurentyd doen en die werk wat Hy nog sal doen. Laat ons nie wanhoop in ons geknelde land met sy veelheid van kultuur en taal, veelheid van godsdienste en ideologie. Sien die werklikheid van die Messiaanse heerskappy in Christus en sy Gees en hoedat Christus alreeds sy volk op ‘n geestelike wyse vergader. 

Maar gemeente hoe werk ons elkeen hierin mee? Laat ons ons hierin deur Christus en sy regering lei? Of laat ons ons deur ons persoonlike omstandighede, ons voorveronderstellings en ander mense en groepe se vyandigheid of goddeloosheid lei? En dan trek ons ons maar terug, in sondige onbesorgdheid en onbetrokkenheid, in onverskilligheid van ons lewe in God en liefde vir ons naaste. Want Christus werk met sy Gees geloof in die Evangelie van genade dwars teen mense se houding en voorveronderstelling in en wen nie net ons nie maar ook ons naaste vir Hom. Ons mag nie wanhoop en ander wantrou nie, en ons naaste maar aan hulle lot oorlaat nie. Laat jou nie vasvang in sondige onbetrokkenheid asof God nie heers in sy Messiaanse geregtigheid en deur sy Heilige Gees en oor elke stukkie van hierdie land gesag voer nie. Kyk met geestelike oë, kyk gelowig na Christus en laat jou lewe en jou betrokkenheid deur Hom bepaal. God duld nie onaangeraaktheid van sy kinders nie.

Jesaja 32 reik reeds na die koms van Jesus Christus, en sy Messiaanse ryk. Oral is Hy werksaam deur sy Heilige Gees op aarde. Pinkster het aangebreek. Die profesie van ‘n koning en vorste wat in geregtigheid en reg regeer, dit wil sê volgens die reëls van God se verbond, 32:1,2, het in vervulling gegaan. Leef ons onder Christus se koningskap in die werklikheid van vyandskap en stryd in ons land, of leef ons onbetrokke en wanhopig, onopreg en vals, in sondige gerustheid in die moeites wat ons elke dag ervaar. Is ons belyers van die geloof, gelowige kinders in God se huis, of opstandige mense wat hulle self moet handhaaf en hulle eie toekoms moet verseker.

 

Nou gemeente, was daar destyds enige hoop na aanleiding van Jesaja se profesië vir God se volk Juda? Sou God nog iets goeds voortbring in hierdie hopelose situasie? Ja, profeteer Jesaja, God sal die volk seën deur ‘n koning en vorste te gee wat in geregtigheid en regdoen regeer, ‘n messiaanse koningskap. Jesaja profeteer dat God se ware seën van sy geregtigheid in die toekoms vrede sal bring - dit na die verskrikking van die teenwoordige tyd en God se oordeel wat definitief oor hulle sal kom. Daar sal ‘n koning kom wat in geregtigheid regeer en sy vorste sal reg doen want die verlossing kom, lees ons in hoofstukke 32 en 33.

Die volk van God, in die besonder Jerusalem, word deur Jesaja verwyt dat hulle in valse gerustheid en sorgeloosheid lewe, dat hulle in ongeregtigheid en onreg berus en dit eenvoudig aanvaar. En dit terwyl hulle hulleself duur aan Egipte wat nie kan help nie, verbind het, en toekyk hoe die Assiriers soos swerms sprinkane op hulle land toesak, en dat hulle selfs mekaar sleg behandel.

God se volk hoor nou dat God ‘n koning van geregtigheid op die troon sal plaas asook vorste gee wat reg sal doen, God se Messiaanse regering oor almal wat Hy geroep het om Hom te dien. Hierdie toekomstige koning sal geregtigheid bring, regdoen, in getrouheid aan God, en wel om sy verbondsreëls te handhaaf. Hy sal alle ongeregtigheid van die volk wat sy verbond verag het, wegeem. Sion sal vernuwe word in geregtigheid ,vers 1. 'n Nuwe tyd sal begin. Onder God se geregtigheid sal alles word soos dit moet wees. Onder sy geregtigheid sal blinde oë weer sien en dowe ore weer hoor en luister. Ons hoor eers positief verse 1-4: wat gaan God gee om sy volk weer op te hef, wat stel Hy vir sy volk in die vooruitsig, en dan hoor ons negatief die onreg van die situasie waarin die volk hulle op hierdie stadium van Jesaja se profesie bevind, 5-8. Om die aandag op die toekomstige redding van sy volk te vestig, roep die profeet uit: Kyk!. Die gevolg van ‘n koning en vorste wat in geregtigheid sal regeer is dat God se heerskappy onmeetlik goeie gevolge vir sy verbondsvolk inhou.

Die heerskappy van hierdie koning wat kom is heeltemal in stryd met die heerskappy van gewone konings. Die profete het voortdurend die gebrek aan geregtigheid in Juda veroordeel. Maar die armes is steeds verdruk en onderdruk. En geregtigheid het heeltemaal uit die land gewyk. Maar nou word aangekondig: daar kom ‘n regering in geregtigheid en reg. Alles sal verander.

Tema:

God wat besorg oor sy kinders is, vervang ons sondige onbesorgdheid deur sy oordeel en aanstaande Messiaanse koningskap oor ons
1.Deur die aanstaande regering van die Messiaanse koning sal sy volk in geregtigheid voor Hom kan leef
2.Die besondere werking deur die Heilige Gees wat uitgegiet word uit die hoogte beeld die volkome vrede wat die Messias bring, uit

1.  Deur die aanstaande regering van die Messiaanse koning sal sy volk in geregtigheid voor Hom kan leef

Wie is hierdie Messiaanse koning en sy vorste? Is dit Christus en sy apostels? Hier word nie op die koning as indiwiduele persoon gefokus nie maar op God se geregtigheid soos wat die gestuurde koning en vorste dit sal uitvoer. Hierdie regering waar geregtigheid en reg sal heers, volg op God se groot oordeel. Die Here se besoeking aan sy volk om te straf word beskryf in hoofstuk 31. Slegs die Messias kan in geregtigheid heers. Jesaja praat van een wat volkome regverdig is. Nie net die koning nie, maar die hele regering sal wees en regeer volgens God se wil. Dit is in kontras met die toestand van vroeër. Koning en vorste sal nie meer eiewillig en onbetrokke wees nie maar leef volgens dit wat hulle volgens God se geregtigheid behoort te wees. Wat Jesaja profeteer is dat die tyd van geregtigheid spoedig sal kom as gevolg van God se ingryping en oordeel oor sy volk se valse gerustheid en onbetrokkenheid.

Die inhoud van hierdie geregtigheid wat kom, sal alles verander, 2. Die tyd van saligheid breek aan. Die man van God op die troon en sy regering sal ‘n rots wees, ‘n toevlug teen ‘n gewelddadige wind. 'n Wegkomplek soos uit ‘n geweldige sandstorm, met stof in jou oë, neus, ore, sand wat op jou neersif, sandkorrels wat soos sweepslae teen jou vel brand.

Onder die koning en sy vorste wat in geregtigheid en reg regeer, word jou lewe en die lewens van jou broers en susters nie meer bedreig nie. In plaas daarvan dat die mense in ongeregtigheid onderdruk word, sal Hy 'n beskerming vir hulle teen onderdrukking wees. 'n Plek waar hulle kan wegkruip teen die verskriklike storm, wat hulle genadeloos oorval. ‘n Skuiling teen verskriklike stortreën. Sy regering is waterstrome in ‘n dorsland van droogte en versengende hitte. Wat ‘n rykdom van troos van God se besorgdheid vir sy volk. En….. vir ons gelowige betrokke wees in ons land. Die koning van God gegee, wat oor alles regeer, sal dit doen in geregtigheid om sy geknelde maar opsetlik onbesorgde volk te red. 

In die gewone saak van ons daaglikse lewe met al sy teenspoed en benouing, is Hy nie gevoelloos en onbetrokke nie, maar vir ons ‘n toevlug en sorg. Sodat ons self ook besorgd, sorgsaam, betrokke vir God en naaste lewe.

In die Messiaanse ryk sal sake wees soos dit voor God reg is,3. Die oë van die wat sien, sal kan sien. Hulle sal nie verblind word om te verhoed dat hulle sien nie. Wanneer Jesaja hier profeteer verblind die verharding wat God oor die volk gebring het, nog hulle oë en doof hulle ore wat nog toegestop is. Ook die gestuurdes van God, die profete self sien en hoor nie. Maar wanneer die messiaskoning met God se geregtigheid kom, die Messiaanse tyd aanbreek, word alle verhindering om te sien en hoor weggeneem. (Jesaja 29, vers 10). Die volk sal weer sien en luister. Die tydperk van verharding (Jesaja 6 vers 9 en 10) is dan verby. 

Almal wat nou nog onbedagsaam of roekeloos of verward is, 32:4, sal vanuit hulle harte leer om kennis te verstaan. Die verwarde se verstand het hom as 't ware verlaat. Mense wat verward is, verstaan nie gebeure soos dit werklik is nie. So het hulle van die Here afgewyk en na Egipte gekyk vir hulp. Maar deur God se geregtigheid sal Hy alles verander en die volk sal met begrip en kennis in gehoorsaamheid aan God en Sy opdragte lewe. Die wat in dronkenskap gestamel het, (28:7, 8 19:9) sal dan duidelik praat. 

Nog verdere seën sal uit die toekomstige Messiaanse heerskappy vloei,5. 'n Man sal erken word vir wat hy werklik is en nie vir wat hy voorgee om te wees nie. ‘n Dwaas sal nie edel en ‘n skelm vernaam genoem word nie. Wanneer mense se verstand verblind word, sien hulle nie die ware mens aan nie, maar oordeel volgens die uiterlike. Wanneer hulle oë weer sien, sal hulle die ander reg en vanuit geregtigheid sien. Waardering word in die verlossing van die mens se hart deur God se geregtigheid gewerk. Christus se geregtigheid is die gelowiges se enigste wapen teen die sondige burgerlike fatsoenlikheid wat ons so goed ken.

Dwase bring onheil voort deur goddeloosheid te bedrywe en van God af te dwaal. Die dwaas vers 6, naamlik Nabal, stuur mense wat hom om hulp vra, met lee hande weg. Hy laat die hongerige onvervuld, en die dorstige se dors les hy nie. Hy dompel mense verder in ellende. Die dwase se dade maak die gedagtes en begeertes van hulle eie harte bekend. Hulle eie belang gaan voorop en nie God se reg nie. 

Die dwaasheid het in Jesaja se tyd altyddeur botoon gevoer maar wanneer die geregtigheid van God regeer sal alles verander. Dan sal daar nie meer ‘n verblinde oog en ‘n dowe oor wees nie. Dan sal al die versperrings om God se Woord te hoor en in jou hart te ontvang afgebreek word. Want die lewe is alleen te vinde in verbondenheid met God – as dit ontbreek weet mens nie waar jy staan en die aard en omvang van die situasie waarin jy verkeer nie.

Die hart van die dwaas, is vol ongeregtigheid. Sy hele persoonlikheid is toegewy aan die uitvoering van boosheid. Eerstens, doen hy wat onheilig of goddeloos is. Wat teen God se wil is. Tweedens praat hy teen. Hy praat teen God. Hy kan sonder God regkom.

Die skelm, 7, gebruik weer slegte middele. Hy doen sleg deur die ellendiges nog ellendiger te maak, hulle te ruineer met leuentaal. Hy staan almal teen wat op sy pad kom en oorrompel die arm man. Hy beraam skandelike dade. Slenters en advies gee hy aan ander om sy eie ideale te bereik. Hy vernietig die weerloses deur leuentaal. Hy luister nie na mense wat soebat nie. Hy is selfgesentreer en egoisties.

Maar wie is die edele dan voor God? 8. ‘n Volk met ‘n verkeerde gesindheid van die hart en ‘n verkeerde gedagtegang kan nie mense erken vir wie hulle werklik is nie. Hulle wat die komende geregtigheid omhels sal egter geleer word deur die koning van geregtigheid self aangaande wat edel en wat ‘n dwaas en wat ‘n skelm werklik is. Soos die skelm geken word deur sy skelmstreke, so die edele deur sy edel dade. God heers in die edele se lewe.

Die koning wat regeer in geregtigheid, en sy vorste, breek deur tot in die harte van sy volk, nie deur sy volk se bewuswording of oortuiging van geregtigheid nie en erkenning nie, maar deur sy Gees wat uit die hoogte oor sy volk uitgegiet word en hulle en hulle lewensruimte kragtig verander en geregtigheid en ware vrede en rus bring. 15.

Wanneer Jesaja egter hier profeter is daar by hulle nog valse gerustheid, 9 -14, maar dit loop op na vers 15 waar daar uitsig is op die Gees uit die hoogte, en waar 15-20 alles vir die uitverkorene volk van God verander.

Nou is daar egter steeds die verwyt van die volk se onbesorgdheid of sorgeloosheid. Wat God vra is besorgdheid oor Hom en mekaar, om die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Met die vertroue dat Hy self ryklik voorsien. So die Meester se woorde..….Mat 6:25-34:  Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;  en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.  As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad. 

Hier, in Jes 32:9 en verder is sorgeloosheid die sondige gebrek aan insig in die situasie waarin jy verkeer. So was die mense se houding toe Noag die ark gebou het op God se bevel. Heb 11:6,7: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.  Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. En ook Matt 24: 36-51: Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.  Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.  Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.  Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?  Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.  Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom—  en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink,  dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 

Die geruste vroue, en die onbesorgde dogters, sien beide op die vroue van die stad, (Jes. 32:9 en verder) en is nie sommer maar vroue nie. Hulle veroordeling is nie sonder meer in sondige dade nie. Hulle het uit huise van vreugde en uit die uitgelate stad gekom. Vandag sal ons moontlik van hulle sê: Hierdie is verantwoordelike vroue wat hulle mans eer. Hulle lewe in hulle huise maak dat hulle ‘n bron van standvastigheid en vreugde vir hulle gesin is. En omdat daar soveel vreugde is in die huise is die stad uitgelate, 13. Hulle maak die lewe mooi en put vreugde uit die lewe wat mooi is. Selfs in die skaduwee van dreigende oorlog, doen hulle hulle werk in hulle huise, kuier hulle met mekaar en deel raad en vra uit, praat oor hulle kinders. Hulle optrede is nie uitspattig nie. Maar nou lees ons…hulle gaan voort in vals vertroue en sekerheid. Daarom is hulle in werklikheid nie versigtig, waaksaam nie, maar roekeloos. Onbetrokke. Hulle het ‘n valse vertroue dat hulle eindelik self van alle kwaad beskerm sal word. Hulle dink nie aan die krisis nie. Die lewe was nog gemaklik in die stad. (Amos 6:1). Hulle dra nie die welsyn van die stad van God in hulle harte nie en word nie beweeg deur die profeet nie. Hulle hoor nie die profeet se stem nie. Sy stem dring nie deur nie. Hulle moet daarom eers hulle belangeloosheid afgooi en besorgd raak oor God se aantyging teen hulle deur sy profeet. Dan kan hierdie vroue hulle mans reg ondersteun om weerstand te bied en die stad van God te verdedig teen die gevaar.

Die profeet roep daarom: Staan op geruste vroue. Hoor my stem, (dus luister na God. Luister na God se Woord). Die probleem is julle valse gerustheid, en julle gaan heeltemaal in julle daaglikse lewe op sonder om onrustig te wees of besorg te wees oor die ongeregtigheid voor God en die onreg aan julle naaste. Julle soek nie van die Here geregtigheid en reg nie. Julle onderskat die krisis waarin julle en julle naaste lewe. Dit is veel groter as ‘n militêre bedreiging of swaarkry.

Wat is die geregtigheid en reg van Christus vir julle lewe in ons samelewing en land werd, gemeente? Wat is die gewig van ons leef met die oog op die einde en die heerskappy van koning, Jesus Christus en sy geregtigheid vir julle betrokkenheid in ons land, vandag werd? Hoe swaar weeg die lewe in ons land vandag vir ons?die mooi lewe van hierdie aarde met al sy moontlikhede en genietinge? Leef, ons asof welvaart en welsyn en gesondheid en veiligheid vir ons alles is en dit ons toekom? Dan leef ons asof die vleeswording van Christus en die vestiging van God se geregtigheid deur sy kruis, nie alles vir ons is nie, en al die ander dinge alleen maar deur God in sy voorsienigheid ter wille van Christus aan ons gegee word nie, dan sien ons ons lewe en verantwoordelikheid nie in perspektief van God en sy heerskappy van geregtigheid nie, dan is ons nie gelowig besig nie. Die lewe met al sy beloftes en moontlikhede, maar ook angste en teenspoed is niks wanneer dit losgemaak word van Christus se geregtigheid. Mense wat die goeie van die lewe geniet en dinge kan maak werk, hetsy deur geld of slim besluite en woorde of selfs volharding, vind dit baie moeilik om hulle in te dink hoe dit sal wees daarsonder. Wanneer ons geseend is met welvaart en gesondheid kan ons nie dink hoe dit kan wees om alles te verloor nie. Juda het gedink hulle is verseker, dit lê in hulle as volk van God, dat hulle voorspoed altyd maar sal voortduur, maar nou sê die profeet: Julle gaan alles spoedig verloor.

In ons teks lees ons 10-14 alles verval en stort vir die volk in mekaar in die koms van die oordeel van God. Hulle welvaart en lewensmoontlikhede sal heeltemaal verdwyn.

Luister volk van God, vernietiging gaan kom en alle ellende gaan losbreek. Soveel so dat julle nie onbesorg daaroor kan wees nie. Wanneer sal dit plaasvind? So bietjie meer as ‘n jaar en julle sal bewe, sê Jesaja. Die profeet spreek die vroue aan as onbesorgde dogters. Nou is hulle nog stil en vol vertroue maar wanneer die vernietiging deur die vyand van God gestuur, kom, sal hulle bewe. Die druiwe oes sal daarmee heen wees, geen insameling sal plaasvind nie.  Die gevolg? wyn wat vir hulle nou so plesier gee sal nie meer daar wees nie. Geen fees van die insameling 16:7-10 sal gevier word nie. Die lewe sal sy kleur verloor.

Die profeet spreek die vroue aan asof die verwoesting reeds gekom het (11). Hulle (en dit beteken ook die hele volk) moet handel soos roubeklaers. Jesaja sê almal wat roekeloos, sorgeloos, gerus is, aan om te bewe. Julle is nou nog sonder bekommernis, maar julle moet nou reeds bewe asof julle buitengewoon bekommerd is, soos met die skudding van ‘n aardbewing, want God se oordeel kom. Julle wat vol selfvertroue is, moet nou bewe want julle selfvertroue sal julle nie red nie. Julle moet maar rouklaag, julle klere uittrek, en rougewade aantrek, in die openbaar. Treurend, in uiterste droefheid.

Hulle word gestroop van alles want hulle gemaklike onaangeraaktheid verhinder die regte gesindheid voor God. Die uiterlike optrede moet heenwys na die innerlike. (12). Die vroue moet op die bors slaan, dit is in droefheid omdat die begeerlike velde of graanlande en die vrugbare wingerdstok, dit is die oorvloed van brood en wyn nie meer sal wees nie. Die vreugde van die lewe in daaglikse arbeid en eet en drink is sonder sin wanneer daar nie meer dankbare omgaan met God en besorgdheid vir jou medemens is nie, maar net goddelose vanselfsprekende selfvervulling. Dit is daarom bedroewend (13) dat die verwoesting plaasvind op die vrugbare land wat God gegee het aan sy volk. Jesaja verwys na hulle as My volk, dus God se volk. Juda was die land van melk en heuning. Maar veld en wingerd sal verander in ‘n woesterny. Die grond sal nie langer vrugbaar wees nie. Maar verlate. Daar sal net dorings en dissels opkom waar daar voorheen huise van plesier gestaan het. Wanneer die dorings opkom sal alles ruines wees. Die uitgelate stad sal verlate en stil wees. Wanneer God sal oordeel.

Dit is God se regverdige oordeel wat plaasvind oor hulle sonde van valse gerustheid en sorgeloosheid. Al hulle hoop blyk vir ewig verlore te wees. Hulle ellende onafwendbaar.14. Die profeet skilder vir hulle die verlate paleis, die woonplek van die koning, met die val van die paleis val die koning voor die vyand. Met kort sinne gee Jesaja sy droefheid weer. Die stadsgewoel sal in stilte van eensaamheid verander. Die daaglikse lewe en werk hou op. Twee plekke word nou genoem: Ophel en Bahan. Beide word soos spelonke. In die verlate plekke gaan die wilde diere woon en troppe vee wei daar. Vir ‘n lang tyd – vir ewig - so verlate en stil sal die stad wees van God se oordeel oor sy volk se sonde. 

Gemeente selfs in die adventstyd van 2023 is daar net een wyse hoe dooie sondaars lewendig word en verander word, ook binne die kerk, wat die gemeenskap van die gelowiges is  – en dit is deur die werk van God deur sy Heilige Gees. Sy Gees verander alles, 15-20, Hy maak die mense se harte heel, en maak dat ons Hom glo en geregtigheid van Hom verwag en onder die geregtigheid van die Messiaanse koning leef wat sy heil, dit is die lewe van vrede met God aan ons laat bedien. In vers 15 belowe die HERE dat alles stil en verlate sal bly totdat Hy sy Gees uit die hoogte oor ons uitgiet en alles verander. Uit die hoogte uitgiet sien op God se oorvloedige werk deur sy Gees. Dan maak die Gees die woesteny ‘n vrugteboord. Die vrugteboord self word vir ‘n bos gereken. ‘n Bos, dus waar alles wild, self groei, nie bewerk hoef te word nie, ‘n totale verandering dus. “Totdat” sien op ons barmhartige God wat in die verlore bestaan van mense ingaan met sy genadewerk om hulle van ewige dood en ellende te red en hulle nuut te maak.

Daar sal ‘n omkeer plaasvind. Teenoor 29:10: Want die HERE het oor julle uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë—die profete—toegesluit en julle hoofde—die sieners—toegebind..  sal daar nie langer ‘n gees van slaap oor sy volk wees nie. Want die Gees uitgegiet uit die hoogte, werk geloof en vaste vertroue op God se Seun wat mens geword het, in kontras met vleeslike valse selfgerustheid of sondige eiegeregtigheid en onbetrokke argeloosheid wat rondom ons en met ons gebeur. Vanuit die hoogte van die hemel, vind verandering deur God plaas. Verreikend en alles omsluitend op aarde. 

Ons het gesien, Juda het ‘n wildernis geword, 13. Die oes het misluk, 10, daar was niks om in te samel nie. Maar gemeente die Gees van God kom herstel wat die mens se sonde aangerig het. Die beeld van die vrugbare land getuig op die ryk en ware seeninge wat God deur sy Gees gee aan sy nuutgemaakte kinders. So woon die reg nou in die woesterny en die geregtigheid in die vrugteboord wat ‘n welige bos is. Dit is die beeld van vrede onder die geregtigheid van die Messias koning, God se Seun wat sy koninkryk kom oprig het, 16. Soos die Gees op die Messias kom en Hom bekwaam sodat Hy met geregtigheid heers, soos die Gees oor die land uitgestort word woon God se oordeel en geregtigheid hand aan hand in die land. Wanneer alles herstel is, sal die stad weer genoem word stad van geregtigheid, betroubare stad, met regters en raadsmanne volgens God se bedoeling.1:26. Wanneer daar nou herstel kom is dit van die Gees wat uit die hoogte uitgegiet is, nie van menseplanne nie, want alleen God kan so ‘n geskenk gee.

Soos by die optrede van die Messiaanse koning vers 1, ook by die Gees is geregtigheid die sleutel.16,17. Waar in geregtigheid regeer en geleef word, word God se verbond in stand gehou. Waar die Gees werk orienteer mense hulle op Christus se versoeningswerk. Die geregtigheid sal nie valse nie, maar ware rus en veiligheid voortbring en dit sal ewig duur. 17. Hierdie seën van God se vrede is op grond van die heerlike genade van God en sy vaste beloftes wat vir ons in Jesus Christus en sy Gees vervul is.

Wanneer God se Gees in ons werk wil ons graag die wil van God doen. Nou is ons goeddoen nog aangeveg. Maar in die ryk van Jesus Christus is daar vrede. Waar die Gees ons lewe beheers is ons veilig, sonder veroordeling, 20. Kan ons in sy geregtigheid lewe. In sorg en leef vir mekaar……..Dit gaan ons hart en verstand ten opsigte van ons lewe in ons land te bowe. 

Gemeente, daar is ‘n skerp kontras tussen die toekoms en die hede vir die volk. Die belofte is aan My volk…Slegs die uitverkores sal die seeninge geniet. Ons dink hier 18 aan ‘n kudde wat weiding het. God die herder voorsien alles vir die skape. Niemand kan indring om hulle te vernietig nie. Alle selfgemaakte sekuriteit is vals. Maar in die tyd van die uitgieting van die Gees is God se rus ongestoord en waar. 

Hierdie vrede kan alleen kom as God se oordeel oor die mense se sonde plaasgevind het. Jesaja neem so weer die oordeel van vers 13 in vers 19 op. Voor die groot vrede van God kom daar eers hael wat die bos in mekaar laat stort, dus die Goddelike oordeel. Die hael stort neer wanneeer die bos neerstort. Die Bos stort neer deur die kap van die byl. Dus terwyl die bome van die bos val, kom die straffende hael. Dit is die vernedering van die stad wat wegsak in die laagte.

Daar is alleen seën vir ons wat deur die Gees in God se vrede leef. Hulle saai by water met elke geleentheid. Dit wys op die produktiwiteit en rykheid van vrugbare grond. Hulle vrees nie die diere nie, hulle loop waar hulle wil, vry van alle gevaar.  Hulle werk om ‘n goeie oes te verseker. Gelowig, doen hulle elke dag wat God hulle opdra. So ervaar hulle God se seën. So is dit in God se Geesvervulde gemeente.

God bereik sy doel met sy uitverkorenes deur sy Gees. Sy oordeel kom, maar daarmee saam sy geregtigheid en sy beloofde vrede. In afhanklikheid aan Hom in alle rus maar in gelowige betrokkenheid, mag ons voortgaan met ons lewe en werk, en wys en besorg in ons land met ander lewe.+ Christus regeer oor ons en God se geregtigheid is ons lewe.

Amen

Liturgie: 

VGK Pretoria aanddiens 26 November 2023

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die 

Sing: Skrifberyming 8:1,2,4,5

Gebed om die Here se seën

Skriflesing: Jesaja 31
Sing: Skrifberyming 12:1,3

Teks: Jesaja 32
Amenlied: Skrifberyming 22:1,2,3,4,5

Dank en voorbidding

Sing Geloofbelydenis

Kollekte

Sing: Psalm staande 75:1,2

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. 
Sing AMEN