Preek: Hebreërs 8:6
As mens die woord liturgie hoor, dan dink mens direk aan die kerk, dit wat in die kerk gebeur.
Die HAT sê oor die woord liturgie: “Al die gebede, handelinge, liedere van ‘n erediens.”
Ons dink spesifiek aan dit wat hier op die bord staan.
Ons noem dit ‘n liturgiebord.
Elke week ontvang die koster die liturgie van die dominee en dit word dan hier op die bord gesit.
Onder liturgie verstaan ons dit wat ons gaan sing tydens ‘n erediens, en dit wat uit die Bybel gelees gaan word, en wat die teks vir die preek gaan wees.
Verder ook die ander elemente van die erediens, soos die seën, die wet, die geloofsbelydenis, die kollekte, noem maar op.
Mens hoor soms ook die woord liturg, wat verwys na die persoon wat die leiding neem in die verloop van die liturgie.
Al met al, die woord liturgie is heeltemal verbonde aan dit wat ons op Sondag in die kerk doen.
Ek dink nie daar is ‘n ander konteks waarin ons die woord liturgie gebruik nie.
Dit is ‘n kerklike woord, en mense wat selde in die kerk kom, sal dit waarskynlik dan ook nie ken nie.
Gemeente, vandag gaan ons na die woord liturgie kyk.
Waar kom dit vandaan?
Waar vind ons dit in die Skrif?
Wat beteken dit?
Ons gaan sien dat hierdie woord nie net verwys na die lysie hier op die liturgiebord nie, en nie net dit wat hier in die kerk gebeur nie, maar dit verwys na jou hele lewe!
Die liturgie van jou lewe!
Ja jou lewe is liturgie.
Tema: Christus se liturgie
- Die liturgie van die ou verbond
- Die beter liturgie van die nuwe verbond
- Die liturgie van die ou verbond
Die woord liturgie vind ons in verskillende vorme in die Bybel.
As ‘n selfstandige naamwoord wat na ‘n saak verwys.
Ook as ‘n woord wat na ‘n persoon verwys – leitourgos oftewel liturg, dienaar.
En ook as ‘n werkwoord – om dienswerk te verrig.
‘n Woord in die Nuwe Testament wat sinoniem is aan liturgie, is die woord diakonia, wat ook beteken dienswerk.
Ons woord diaken is daarvan afgelei.
Nou lê die oorsprong van die Nuwe Testamentiese gebruik van die woord liturgie by die Septuaginta.
Dis die ou Griekse vertaling van die Ou Testament, ‘n vertaling nog ouer as die Nuwe Testament self.
Daarin word die woord liturgie gebruik om bepaalde Hebreeuse woorde te vertaal (avodah en sheret).
‘n Voorbeeld hiervan vind ons in Exodus 12:25-27.
Dit gaan hier oor die instelling van die Paasfees: “En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou [diens, oftewel liturgie]. En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens [liturgie] daar? Dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.”
Liturgie verwys hier dus na die viering van die Paasfees.
Nog ‘n voorbeeld vind ons in 1 Kronieke 9:26-28.
Hier staan in verband met die Leviete: “hulle moes in die nag rondom die huis van God bly, want hulle het die wag gehad en moes elke môre oopsluit. En sommige van hulle was aangestel oor die gereedskap van die diens ...”
Gereedskap van die diens, oftewel gereedskap van die liturgie ...
Dit verwys na al die gereedskap wat by die tempel gebruik is, byvoorbeeld om die offers te bring.
Potte, panne, messe, die tafels, die waskomme, die altaar, noem maar op.
Wat is vandag hier in die kerk die gereedskap van die liturgie?
Ons kan dink aan die preekstoel, die doopbak, die bekers en borde vir die nagmaal, die nagmaalstafel.
Ook die orrel is gereedskap van die liturgie.
Dit is alles voorwerpe wat ons gebruik om die liturgie, ons diens, hier in die kerk uit te voer.
Die woord liturgie het dus in die eerste plek ‘n direkte konnotasie met die huis van die HERE - die tabernakel, die tempel, die kerk.
Dink ook aan wat daar oor die seuntjie Samuel geskryf word in 1 Samuel 2:11, dat hy “by die priester Eli die HERE bly dien het.”
Weer daardie woord dien – liturgie.
En dink ook aan 1 Konings 8:11: “En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.”
Die priesters se taak was om by die tempel diens te doen, oftewel die liturgie te verrig.
Soos ek genoem het, via die Septuaginta het hierdie terme hulle weg na die Nuwe Testament gevind.
In die Nuwe Testament sien ons kontinuïteit met die Oue.
So lees ons byvoorbeeld oor die priester Sagaria in Lukas 1:23: “En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.”
Letterlik, toe die dae van sy liturgie verby was.
Die 2020-Vertaling vertaal: “Toe sy tempeldiens verby was ...”
Dit is hier dus ‘n tegniese term vir die priesters om hulle dienswerk by die tempel te verrig.
Gemeente, tot sover die aanloop tot ons teks, vanuit die Ou Testament, meer spesifiek die tempeldiens van die Ou Testament, en die dienswerk rondom die groot feeste soos die Pasga.
Liturgie het verwys na die dienswerk, die aanbidding by die tempel, letterlik en figuurlik.
En so sien ons dit ook aan die begin van die Nuwe Testament, dink aan die priester Sagaria.
- Die beter liturgie van die nuwe verbond
Vanuit hierdie agtergrond gaan ons nou na ons teks kyk.
Want ook in Hebreërs 8 gaan dit oor tempeldiens.
Dit gaan oor Jesus as ons Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van God op die hemelse troon.
En dan lees ons ook oor Jesus se liturgie.
Vers 6: “Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry.”
Weer eens, die woord bediening is ‘n vertaling van die Griekse woord liturgie, leitourgia.
Jesus se liturgie is voortrefliker, oftewel beter, as die ou bedeling se liturgie.
Dit verwys spesifiek na Christus se dienswerk, sy priesterskap.
Die Hebreërskrywer verduidelik dat dit in elke opsig uitstyg bo dit wat ons in die Ou Testament vind.
Want Christus is ‘n ewige Hoëpriester, Hy is nie sterflik soos die hoëpriesters van die ou verbond wat die een na die ander moes opvolg nie.
Christus is ‘n Hoëpriester wat nie eers vir sy eie sondes hoef versoening te doen nie, want Hy is sondeloos.
Christus hoef slegs een offer te gebring het, nie soos die priesters van die Ou Testament nie wat duisende der duisende diere geslag het (Hebr 10:11-12).
Christus is ‘n Hoëpriester wat nie slegs een maal per jaar in God se teenwoordigheid in die allerheiligste mag verskyn nie, maar elke dag is Hy in die Allerhoogste se teenwoordigheid, en elke oomblik kan Hy vir ons intree.
Al met al, Hy is Middelaar van ‘n beter verbond.
Hy het ‘n voortrefliker bediening.
Sy liturgie is beter.
Sy dienswerk oortref alles wat die Outestamentiese priesters ooit kon reggekry het.
Dit is waarna die laaste gedeelte van ons teks verwys, die woorde:
Hy is Middelaar van ‘n “beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.”
Wat bedoel die Hebreërskrywer hiermee?
Wel, hy is nog steeds besig om te vergelyk – tussen die hoëpriesters van die ou en die Hoëpriester van die nuwe verbond.
Die hoëpriesters in die Ou Testament het van God beloftes ontvang.
God het aan hulle belowe dat as hulle trou hulle dienswerk – hulle liturgiese werk – uitvoer, dit vrug sal dra.
Naamlik, byvoorbeeld nadat hulle een maal per jaar die allerheiligste betree het – hulle versoening vir die volk mag bring.
As hulle die allerheiligste verlaat, mog hulle daardie versoening aan die volk meedeel.
Dit het God beloof.
Maar, vergeleke hiermee, het die Hoëpriester van die nuwe bedeling veel groter en veel beter beloftes ontvang.
Want, eerlik is eerlik, daardie versoening elke jaar op die Groot Versoendag in die Ou Testament was maar net ‘n simboliese versoening.
Dis was nie werklike versoening nie.
Die dierebloed was net simbolies.
Daarenteen was Christus se versoening werklik.
Hy bring werklik versoening en ewige lewe vir elkeen wat in Hom glo, nie net Jode nie, maar uit elke volk en taal en nasie.
Dit was natuurlik op voorwaarde dat hierdie Hoëpriester sy Middelaarswerk – sy liturgiese taak – suksesvol sou voltooi.
As Hy sou slaag, dan sou die Vader sy beloftes nakom.
En soos ons weet, Christus het geslaag.
Hy het Homself geoffer, sy bloed het gevloei.
Hy het as Middelaar gesterf.
Hy het ook in heerlikheid opgestaan.
Sy liturgiese ampstaak op aarde het Hy voortreflik voltooi!
En daarom kom God nou sy beloftes na.
Uit die graf het Hy teruggekom om aan ons die versoening mee te deel.
En so sien ons in die nuwe bedeling dat Hy dit wat belowe is, kan uitdeel.
Hy maak versoening beskikbaar nie net vir die Jode wat in Jerusalem byeenkom nie, maar vir die hele wêreld.
En opstanding uit die dood, soos Hy self opgestaan het.
Hyself is die wetlike begronding vir die beloftes om waar te word.
Hy is die eersteling van die oes.
Kom ons gaan vir ‘n oomblik weer terug na die ou bedeling.
In werklikheid was dit so, verduidelik die Hebreërskrywer, dat die Ou Testamentiese liturgie, tempeldiens, net ‘n skaduwee was, net ‘n afbeeldsel – vers 5.
God het destyds vir Moses op die berg Sinaï ‘n glimps gegee van die hemelse heerlikheid.
Op grond daarvan het die Here aan hom instruksies gegee hoe om die tabernakel te bou, om ‘n aardse afbeelding daarvan te wees in soverre dit moontlik was.
Moses was die middelaar van die Sinaïverbond.
Maar Christus is Middelaar van ‘n beter verbond.
Hy het die hemel vir ons oopgemaak.
Die ou bedeling se tabernakel was sê maar ‘n nabootsing van God se hemelse paleis.
Die nuwe verbond se tabernakel is die ware een – dit is die hemel self, God se ewige woning.
En as Hoëpriester is Christus nou self 24/7 in daardie hemelse tabernakel.
Hy is self daar in die hemelse heerlikheid.
Daar doen Hy sy dienswerk – sy liturgie – as Hoëpriester, as hoogste Profeet, en as ewige Koning.
Sy liturgie doen Hy in die hemelse heiligdom.
Die impak daarvan voel ons op die aarde.
Veral in ons eie lewens.
Word ons nie ook profete, priesters en konings genoem nie?
Net soos Christus is ons ook geroep om liturgiese werk te verrig.
Ons as Christene is ook in die ampte van profeet, priester en koning aangestel.
Dis ons dienswerk, ons liturgie.
As gemeente behandel ons hierdie jaar die jaartema Ons nuwe lewe in Christus.
Onderdeel van hierdie tema is dat die nuwe lewe in Christus ‘n jubelende lewe is.
Dan dink ons onder andere aan die feit dat ons in die kerk sing, en aan wat ons sing.
Want elke Sondag staan daar weer verskillende Psalms en liedere op die liturgiebord.
Maar, gemeente, in hierdie preek het duidelik geword dat liturgie nie beperk is tot die kerk en tot die eredienste op Sondag nie.
Daar is ‘n direkte verband tussen hierdie bord voor in die kerk en dit wat jy in jou lewe doen van Maandag tot Saterdag.
Die woord liturgie verwys nie net na die lysie hier op die liturgiebord nie, maar dit verwys na jou lewe!
Heel jou lewe is liturgie.
Soos by Christus is jou hele lewe as christen ‘n liturgiese taak.
As ons met die derde bede bid, Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde, dan gaan dit oor ons aardse liturgie – dienswerk – dat dit sal plaasvind volgens sy wil.
Net soos in die hemel die engele hulle dienswerk – hulle liturgie – verrig.
Die Hebreërskrywer skryf oor die engele in hoofstuk 1: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Hebr 1:14).
Dienende geeste – ook hier word die woord liturgie gebruik.
Hulle het ‘n unieke dienswerk, oftewel liturgie, ontvang om uit te voer.
Maar net so geld vir ons as mense op aarde.
Ons liturgie, ons dienswerk, is anders as die van die engele, maar net soos hulle het ons ook ‘n spesifieke bediening van God ontvang.
Laat u wil geskied op aarde.
Sy wil is dat ons die dienswerk waartoe ons geroep is as Christene, as profete, priesters en konings, sal vervul.
En dit is wel duidelik teen hierdie tyd, hierdie is ‘n dienswerk wat nie net tot die Sondagse eredienste beperk is nie.
Liturgie is nie net iets waaraan ons deelneem as ons hier in die kerk sit met ‘n liturgiebord voor ons nie.
Heel ons lewe is liturgie.
In die nuwe bedeling word elke gelowige ‘n tempel van die Heilige Gees genoem.
Jou lewe, met liggaam en siel, is dienswerk, tempeldiens.
Wat ons hier in die kerk doen, is ‘n kort samevatting van wat ons die res van die week doen.
En wat ons in die res van die week behoort te doen, dit word hier in die kerk aan ons voorgehou, as ons aktief aan die liturgie deelneem, soos dit kort opgesom hier op die bord staan.
Op die liturgiebord staan lofliedere.
Net so is jou lewe ‘n loflied.
Op die liturgiebord staan klaagliedere.
In jou lewe klink daar ook van tyd tot tyd ‘n klaaglied tot God.
Op die liturgiebord staan die Skriflesing – die luister na die Woord van God.
In jou alledaagse lewe het jy elke dag ‘n luisterhouding: HERE, wat wil U hê moet ek doen met my lewe?
En as profeet verlaat jy die kerk, toegerus deur die Woordbediening om die res van die week sy Naam te bely.
Onderdeel van die liturgie is ook die luister na die wet van die HERE.
En die gehoorsaam antwoord daarop, soos ons vanoggend met Psalm 119 gedoen het.
Daardie antwoord bly nie beperk tot die sing van daardie versie op Sondag nie, maar dit weerspieël ons lewensinstelling, ons diensbaarheid, ons liturgie van Maandag tot Saterdag.
Ek sluit al u woorde in my hart sorgvuldig in - Psalm 119:5.
“Soet soos heuning is u woorde, soeter, want hul gee my raad; daarom is 't dat ek van harte al die valse paaie haat.” – Psalm 119:38.
Die Here se gebooie dra ons op die hart van Maandag tot Saterdag.
Deel van die liturgie is ook die kollektes.
Net so is heel jou lewe ‘n offergawe.
‘n Lewende dankoffer.
En soos ek genoem het, in die tempel en in die kerk is daar gereedskap om die liturgie te kan uitvoer:
Potte, panne, waskomme, ‘n altaar ...
En in die kerk: ‘n preekstoel, ‘n nagmaalstafel, ‘n doopbak ...
Net so is daar gereedskap om te gebruik in jou lewensliturgie van Maandag tot Saterdag.
Die gereedskap van jou lewensliturgie is alles wat jy is en het, al jou besittings.
In die Ou Testament is die tempelgereedskap geheilig – spesiaal toegewy vir die liturgie by die tempel.
Selfs op die potte en panne het gestaan: heilig aan die HERE.
So is alles wat jy is en het ook geheilig.
Al jou hebbe en houe span jy in in jou daaglikse liturgie tot eer van die Here.
En dan sluit die liturgie in die kerk by elke erediens af met die HERE se seën.
Ons verlaat die kerk met die wete dat ons sy seën saamvat.
Die HERE sal my uitgang en my ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid (Ps 121:8).
Ons dienswerk, ons lewensliturgie, mag reken op sy onafgebroke seën.
Geliefde broers en susters, julle Heiland het ‘n voortrefliker bediening, ‘n beter liturgie.
En julle word Christene genoem, julle is mense van die nuwe verbond.
Julle behoort aan Christus, en daarom het julle ook ‘n beter liturgie.
Die Heilige Gees woon in elkeen van julle, klein en groot, oud en jonk.
Laat julle lewens daarom ‘n leesbare brief van Christus wees.
‘n Leesbare liturgiebord, wat met eerste oogopslag al ‘n storie vertel.
Net soos hierdie liturgiebord.
As jy daarna kyk, het jy al min of meer ‘n idee waaroor die erediens sal handel.
Die Psalms wat ons sal sing.
Die Skriflesing, die teks ...
Hoe neem jy deel aan die liturgie hier in die kerk?
Sing jy entoesiasties saam, van die voorsang tot die laaste Psalm?
Is jy aktief betrokke by elke deel van die erediens?
As jou deelname aan die liturgie nie van harte is nie, is dit ‘n spieël van hoe jou liturgie deur die week is.
Die kerk het nie mure nie.
Dit wat ons hoor en sing hier tussen vier mure, en hoe ons dit doen, dit bly nie hier nie, maar ons vat dit saam huis toe, skool toe, werk toe, vakansie toe, hospitaal toe, waar ons ook is.
Ons is leesbare liturgieborde vir die wêreld.
Ons lewe is liturgie, dienswerk vir ons Here en Redder.
Amen.
Votum (sing Ps 121:1)
Seën
Ps 118:1,2,12
Wet
Ps 119:5,38
Gebed
Skriflesing: Hebreërs 8
Sb 9:4,5
Teks: Hebreërs 8:6
Preek
Ps 89:6
Gebed
Kollekte
Ps 121:2-4