Met die eerste gebod leer die Heilige Gees ons om God te vertrou

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-11-03
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 34
Preek Inhoud: 

As mens so na die Kategismusantwoorde luister, klink dit ontsettend moeilik om die eerste gebod nie te oortree nie.

’n Hele lys van dinge kom aan die orde.

Afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, die aanroeping van heiliges en ander skepsele.

Sonde teen die eerste gebod kan verskillende vorme aanneem.

Daar is so baie dinge waarop ’n mens jou vertroue stel in plek van God of naas God.

Naas die ou afgode van die heidene is daar die moderne afgode, soos geld, beleggings, tegniek, gesonde leefstyl, medisyne, verslawende middels, noem maar op.

Wie van ons kry dit eintlik reg om net op die HERE alleen te vertrou?

Wie sal ooit die HERE reg kan ken en sy wil volledig kan nakom?

Is dit nie veels te moeilik nie?

 

Maar gemeente, gelukkig is dit nie so nie.

Moses het alreeds vir hierdie misverstand gewaarsku, toe hy vir Israel gesê het:

“Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie.” (Deut 30:11)

Wie die HERE persoonlik leer ken het, sal hierdie gebod nie as ’n swaar las ervaar nie.

Wie in God sy Bevryder gevind het, soos die aanhef van die wet sê, luister graag na hierdie gebod.

 

Tema: Met die eerste gebod leer die Heilige Gees ons om God te vertrou

 

Ons kyk vanaand na ‘n paar gedeeltes uit Genesis, spesifiek met die vraag:

Hoe het die HERE vir die aartsvaders geleer om alleen om Hom te vertrou?

 

1 Abraham (hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

2 Jakob (hoe hy vertroue op God geleer het)

 

1 Abraham (hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

Wie God wil vertrou, sal Hom eers moet ken.

Hierop vestig die Kategismus ons aandag.

Onbekend maak onbemind.

Ken is nie net teoreties ken nie.

Mense wat wel die Bybel ken, maar die HERE nie liefhet nie, Jesus sê oor hulle:

“Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” (Matt 15:8)

Die HERE ken is in die Bybel sinoniem vir die HERE liefhê.

God ken beteken onafskeidelik met Hom verbonde wees.

Hom vertrou.

Dink aan die voorbeeld van Abraham.

God het vir Abraham, deur die loop van sy lewe, geleer om op Hom te vertrou.

Hy het hom geleer om die eerste gebod werklik in praktyk te bring.

Dink aan toe God vir Abraham die eerste keer geroep het.

Hy moes uit Ur vertrek na die land Kanaän.

Hy moes maar glo dat daar ’n beter lewe vir hom wag, vir hom en sy nageslag.

Al wat hy gehad het, was God se woorde.

Maar in die beloofde land aangekom, het hy al vinnig moed verloor en uitgewyk na Egipte.

Daar het hy die pad byster geraak.

Sy vertroue op God het gewankel.

Hy het gemeen hy moes homself uit die penarie red deur ’n leuen te vertel.

Sara sou nie sy vrou wees nie, net sy suster.

Maar God het voortgegaan om Abraham te leer om werklik op Hom te vertrou, om – in dié sin – die eerste gebod in praktyk te bring.

Nog ’n voorbeeld hoe die HERE vir Abraham geleer het om die eerste gebod werklik in praktyk te bring, is deurdat Hy vir hom en sy vrou Sara onvrugbaar gelaat het.

Hulle het nie ’n kind gekry nie, terwyl God tog belowe het dat hulle ’n nageslag sou kry.

Hierdie proef het beide Abraham en Sara nie deurstaan nie.

Sara het maar gesê Abraham moes ook haar slavin Hagar tot vrou vat.

En Abraham het daarop ingegaan.

So het beide Abraham en Sara weer misluk.

Sara het nie misluk omdat sy onvrugbaar was nie, maar Sara het misluk omdat sy ook kleingelowig was.

Hulle het saam ’n alternatiewe plan bedink om vir nageslag te sorg, sodat Abraham deur Hagar ’n kind kon kry.

Die bekendste voorbeeld is natuurlik toe die HERE vir Abraham op die proef gestel het, met die oproep om sy seun te gaan offer.

Abraham moes na ‘n spesifieke berg reis, met slegs die hoop dat die HERE hopelik een of ander plan sal maak.

 

So vertel die Bybel vir ons die lang pad wat die HERE, die lewende God, met Abraham geloop het.

Hy het hom onderrig om die eerste gebod werklik in praktyk te bring.

En uiteindelik het God vir Abraham so ver gekry dat hy erken het God is almagtig.

Dat Abraham werklik geglo het dat Hy sy beloftewoord sál nakom.

Dat God self sal sorg vir nageslag.

 

En later, ook toe Abraham al Isak as kind ontvang het, moes hy hom dus ook nog gaan offer.

So ver het God gegaan om Abraham vertroue te leer.

En Abraham HET dit geleer, naamlik dat God sy belofte altyd waarmaak.

Hy het ‘n nageslag gegee, maar nie net dit nie.

Ook dat die Verlosser uit sy nageslag gebore sou word.

Hoe dit sou gebeur het Abraham nie geweet nie, maar hy het geleer om groot te dink oor God.

In Hebreërs 11 lees mens hoe ver God vir Abraham uiteindelik gekry het.

Daar staan:

“want hy [dis Abraham] het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom [dis Isak] ook, om so te spreek, terug ontvang.” (Hebr 11:18-19) 

Gemeente, verstaan u: dit is WARE GELOOF.

Uiteindelik het God Abraham sover gekry dat hy Hom regtig vertrou.

En dit is ook hoever God elkeen van ons, vir jou en my, wil kry.

Dat ons dit Abraham durf nasê:

Ek reken daarop dat God by magte is om my en ook my geliefdes uit die dood op te wek.

Dit is ware geloof.

Dit is wat die eerste gebod ons gebied.

Dit is wat dit beteken om die eerste gebod na te kom, in positiewe sin:

Ek glo dat God dit kan doen!

Ek vertrou Hom.

Langs ’n baie lang pad het God dit aan Abraham geleer.

Dit het lank geduur, maar uiteindelik het God hom sover gekry.

Intussen het Abraham heelwat misstappe begaan:

Hy het sy eie vrou verloën in Egipte; hy het ’n tweede vrou gevat om ’n kind te kan kry.

Maar uiteindelik, lank na Isak se geboorte, het God vir Abraham sover gekry, dat hy slegs op Hom vertrou.

En sedertdien, danksy God se geduld met hom, kan Abraham nou vir alle mense as ‘n voorbeeld gestel word.

Want die Bybel noem hom: Abraham, die vader van alle gelowiges.

Nie omdat Abraham uit homself so gelowig was nie.

Sy lewe is ‘n verhaal van Goddelike genade.

God het sy geloof gebou, gevorm, versterk, juis deur die manier hoe Hy Abraham se lewe laat verloop het.

Gemeente, so leer die Heilige Gees elkeen van ons om die eerste gebod na te kom, om slegs op Hom ons vertroue te stel.

Om Hom met my hele hart lief te hê, te vrees en eer.

Jou lewensloop is nie toevallig nie.

Sien die Here se hand daarin.

Net soos destyds in Abraham se lewe, is Hy betroubaar.

Jy kan maar vertrou.

 

Tema: Met die eerste gebod leer die Heilige Gees ons om God te vertrou

1 Abraham (hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

 

 

2 Jakob (hoe hy vertroue op God geleer het)

Daar is nog ’n bekende persoon uit die Bybel wat met val en opstaan moes leer vertrou.

Dit was Abraham se kleinseun Jakob.

Om op God te vertrou, dit was by hom ook nie ’n aangebore eienskap nie, soos dit trouens by niemand is nie.

Ons het ’n gedeelte gelees wat handel oor die lewe van Jakob.

God het aan hom by Betel verskyn.

Hy het vir Jakob geopenbaar wie Hy vir hom is.

Ons ken Jakob se lewe in breë lyne.

Hoe hy opgegroei het met sy tweelingbroer Esau.

Hoe hy op ’n skelm manier die eersgeboortereg ingepalm het.

Hoe het later, saam met sy ma, sy pa bedrieg het.

Dit is alles voorbeelde van hoe Jakob se karakter was.

Hy het ‘n lewenshouding gehad dat hy homself deur sy eie skranderheid uit situasies kon uitred.

Solank ek myself nog kan uitred, hoef ek God nie daarby te betrek nie, so het hy gelewe.

Maar God het nie genoeë daarmee geneem nie.

Hy het persoonlik aan hom verskyn, te Betel.

 

Gemeente, is dit nie algemeen vir die lewenshouding van baie mense nie?

Dalk veral as jy nog gesond is, as jy nog alles met jou liggaam kan doen, as jou liggaam nie protesteer nie, as jy kan werk vir jou eie inkomste, as jy die nodige verstand en vaardighede het om ‘n inkomste te genereer.

So het Jakob sy vetroue nie op God alleen gestel nie, maar hy het vir ’n groot deel op homself vertrou.

Maar in die lewensloop van Jakob sien mens hoe God hom dit steeds meer afgeleer het.

Hoe God hom probeer leer om die eerste gebod na te leef, om slegs op Hom te vertrou.

Dit het begin toe Jakob hals oor kop moes vlug.

Dit was nie vir hom aangenaam nie.

Tog het hy die terugslag die hoof gebied.

Deur hard te werk, deur sy verstand te gebruik, het hy dit reggekry om Laban se veestapel buitengewoon uit te brei, maar veral ook tot sy eie voordeel.

Daar op sy skoonpa se plaas het hy homself verryk.

Ondertussen het Ragel in sy lewe verskyn, maar hierdie keer was Laban hom te slim af.

Hy het eers Lea as vrou gekry.

Maar hy was bereid om nog sewe jaar vir Ragel te werk.

Selfs hierdie teleurstelling het Jakob die hoof gebied.

Maar om werklik op God te vertrou, dit het hy nog steeds nie geleer nie.

Ten spyte van God se verskyning aan hom te Betel.

 

Tog het God Hom met Jakob bly bemoei.

Hy het hom op die proef gestel.

Hy het hom in benarde situasies gebring met hierdie doel.

Jakob moes weer hals oor kop vlug.

Hierdie keer weg van sy skoonpa af.

Maar goed, hy was nog sterk genoeg om dit te doen.

En toe hy op die pad terug die konfrontasie met Esau sien aankom het, het hy homself daarop goed voorberei.

Waar hy nooit vrygewig was nie, het hy nou ineens ’n oorvloed aan geskenke vir Esau gestuur.

Maar ook weer met ’n bymotief.

So het hy homself probeer uitred.

Maar weer het God aan hom verskyn.

Hierdie keer in die nag, toe ’n engel, gestuur deur God, met Jakob geveg het.

Hy het Jakob nie doodgeslaan nie, maar slegs gedoen wat God op daardie oomblik wenslik geag het:

Hy het Jakob mank gemaak aan sy heup.

Die eerste teenslag wat sy liggaam getref het.

Op sy gesondheid kon hy voortaan nie meer volledig vertrou nie.

 

Daarna het daar egter nog iets baie meer ingrypends gebeur.

Daar was naamlik ’n persoon wat dit vir Jakob moeilik gemaak het om slegs op God te vertrou.

Iemand wat sy geloofsgroei steeds gerem het.

En dit was sy eie vrou, Ragel.

Toe hulle vlug, het Ragel die huisgode van haar pa gesteel en saamgevat.

Ragel kon skynbaar nie sonder hierdie afgode lewe nie.

Ragel se hart was nie onverdeeld by die HERE nie.

Die eerste gebod was nie in haar lewe ‘n werklikheid nie.

Dit het ook uit haar houding geblyk.

Sy het ’n ondankbare karakter gehad.

Selfs nadat God haar gebed verhoor en haar tog ’n kind gegee het, ’n seun soos sy wou, was sy nog nie tevrede nie.

Sy moes en sou net soveel kinders soos Lea haar sussie kry.

Maar daar het ’n dag gekom toe dit vir die HERE genoeg was.

Ek sê dit met die nodige skroom, want God se weë is vir ons onbegryplik.

Dit gaan ons verstand te bowe.

Maar ons lees wel in Genesis dat God vir Ragel op ’n sekere oomblik uit hierdie lewe weggeneem het.

Ons sou sê: ’n vroegtydige dood.

Sy het gesterf toe haar jongste seun gebore is, Benjamin.

Vir Jakob was dit ’n mokerslag, sy lieflingsvrou was nie meer daar nie.

Maar feit is wel dat dit voortaan vir hom makliker geword het om op God te vertrou.

Hy het nie meer vir Ragel gehad wat hom heeltyd afgerem het nie.

Teen Ragel het hy nie gedurf om in te gaan nie.

God het daarom besluit om hierdie afgod van Jakob af weg te vat.

En so het die HERE aanhou werk aan die lewe van Jakob.

Nog meer dikwels sou Hy die lewe vir Jakob moeilik maak, sou Hy hom op die proef stel.

Dink aan die angste wat Jakob uitgestaan het toe sy lieflingseun, Josef, op ’n dag verdwyn het.

En dit was nog nie die einde nie.

Op ’n stadium het dit gelyk of hy Benjamin ook kwyt sou raak!

Hy het sy ander seuns nog so gewaarsku voor die reis: Moenie julle jongste broer saamvat nie!

As hy ook omkom deur ’n ongeluk, sal my grys hare met verdriet in die doderyk neerdaal!

Maar God het bly werk aan Jakob.

Die aartsvader het ’n lang lewe nodig gehad om volledig op God te leer vertrou.

Maar God het vir hom geleer om te vertrou - deur vreugde, maar moenie vergeet nie, ook deur verdriet.

 

En so leer God vir al sy kinders.

God se weë met ons is soms onnaspeurlik.

Maar uit sy omgang met mense in die Bybel kan ons wel baie leer.

Veral sy omgang, sy verbondsomgang, met sy kinders.

Hoe Hy byvoorbeeld vir Abraham en Jakob se lewens gelei het.

Hy gebruik voorspoed.

Hy seën ryklik.

So kan jy jou geluk, jou goeie gesondheid, goeie werk, ’n gesinslewe, noem maar op, as God se omgang met jou sien.

Dit is alles geskenke van God.

En jy mag weet: Al hierdie mooi dinge kry ek nie toevallig nie.

Dit is so deur God beplan.

Dit verdubbel jou vreugde, as jy besef dat al die mooi dinge bewus ’n geskenk van God aan jou is.

Met al hierdie voorspoed leer Hy jou om op Hom te vertrou.

 

Maar nie net voorspoed nie, uit die Bybel leer ons dat God ook teenspoed kan gebruik om mense nader aan Hom te bring.

Die eerste gebod is dus ’n kwessie van vertroue.

Hy leer ons, met val en opstaan, dat ons ons vertroue al hoe meer op Hom stel.

Hy kan ons dit ook leer deur soms dinge waarop ons geneig is om te vertrou, ons te laat ontval.

Naas die woordjie vertroue gebruik die Kategismus nog ’n ander woord.

Jou vertroue op God blyk veral daaruit dat jy jou aan God onderwerp.

Die Kategismus sê: Jy onderwerp jou in alle nederigheid en geduld.

Dus in alle situasies moet jy jou onderwerp aan heel God se wil.

Soms mag dit vir ons lyk of steel voordeliger is as om eerlik te bly.

Soms lyk dit vir ons beter om terug te slaan, eerder as om na te laat om jouself te wreek.

En so kan ek nog baie situasies opnoem.

Dit kan soms swaar val.

Veral as die HERE teenspoed op jou pad toelaat.

Die Bybel ken baie voorbeelde van mense wat misluk het.

Dink aan die profeet Jona, dink aan koning Saul, ding aan die ryk jongman wat sy goed moes gaan verkoop en aan die armes gee, dink aan Petrus.

Tog noem die Bybel ook voorbeelde van mense wat, danksy God se genade, weer reggekom het, in die sin dat hulle leer vertrou het.

Dink aan Josef wat in die tronk gegooi is deur sy baas, wat enorme onreg daar gely het, terwyl Potifar se vrou die skuldige was.

Dink aan Moses, wat, soos daar in Hebreërs 11 staan, hom nie deur die skatte van Egipte laat verlei het om God en sy volk te vergeet nie.

Dink aan Dawid wat hom nie laat verlei het om koning Saul om die lewe te bring nie.

Dink veral aan ons Heiland, wat Homself volkome onderwerp het aan die wil van sy Vader.

Hy het koers gehou, al het die Satan, sy vyande en selfs sy vriende hoe hard probeer om Hom af te trek van die pad wat God uitgestippel het.

Onderwerping aan God se wil, dit is ’n houding wat vrug dra.

En danksy ons Heiland se geduld, is Hy, net soos Josef baie eeue vroeër, verhoog tot die troon.

Hy regeer nou oor die heelal, aan God se regterhand.

Hy het alles van sy Vader verwag, en dit ook verkry.

 

Broer en suster, as Christene mag ons ook alles verwag van ons hemelse Vader.

Hy sal die gelowiges verlos en verhoog op sy tyd.

Ons mag hoop, veral as ons verdruk word, of moet ly, ons mag uitsien na die dag waarop Christus se majesteit openbaar gemaak word, en wanneer ons saam met Christus verhoog sal word.

Daarom moet ons in moeilike omstandighede nie onsself wil red deur oneerlikheid of leuen, of deur water by die wyn, deur die skerp kantjies van God se gebooie af te slyp, deur self die roer in hande te neem nie, maar net deur trou die HERE te bly volg.

“[D]ie wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Joh 2:17)

Laat ons God so liefhê, dat ons bang is om Hom te vertoorn, Hom verdriet aan te doen.

Dat ons eerder alle skepsels loslaat as om die minste of geringste teen sy wil te doen.

Wie vader of moeder, seun of dogter, man of vrou liefhet bo My, is My nie waardig nie, sê Jesus in Mattheüs 10:37.

Laat ons naas God niks of niemand hê waarop ons vertrou nie.

“Wie het ek in die hemel, HEER –

wie kan ek newens U begeer?

Wat het ek waar my hart, onrustig,

hom op die aard’ in kan verlustig?

Beswyk dan ooit in bittersmart

of bange nood my vlees en hart,

dan sal U wees vir my gemoed

my rots, my deel, my eewge goed.”

Kom ons sing dit nou as amenlied: Psalm 73:11.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 37:2,3,25

Gebed

Skriflesing: Genesis 22:1-19

Ps 105:4

Skriflesing: Genesis 32:24-32 & 35:9-20

Ps 105:6,13

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 34

Preek

Ps 73:11,12

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 146:2,3,8

Seën