Preek: Johannes 6:67-69
Wil julle nie ook weggaan nie?
Dis die vraag wat Jesus aan sy dissipels gevra het.
Het iemand dit al ooit vir jou gevra?
Het jy dalk self al daaroor nagedink?
Ek gaan my aan die kerk onttrek.
Ek is nie meer lus vir dit alles nie.
Jesus se vraag aan sy dissipels het hulle in die hart geraak.
Dit het hulle gekonfronteer met hulle diepste dryfveer.
Hoekom volg hulle eintlik vir Jesus?
Dit het hulle voor ‘n keuse geplaas.
Dis ‘n vraag waarop ‘n antwoord moes kom.
Tema: Slegs Christus het die woorde van die ewige lewe.
In die teks is daar twee vrae, en ons gaan agtereenvolgens na elkeen van hulle kyk:
1 Wil julle nie ook weggaan nie?
2 Here, na wie toe sal ons gaan?
1 Wil julle nie ook weggaan nie?
Wil jy nie ook weggaan nie?
Is dit ‘n verkeerde vraag om te vra?
Nee, want Jesus het dit self gevra.
Hy wou die diepste dryfveer van sy dissipels boontoe bring.
Dit in die konteks van wat daar gebeur het.
Want was naamlik die geval?
Kort daarvoor het die Here Jesus die brode en vissies vermeerder.
Meer as vyf duisend mense is gevoed.
Dit het Jesus ongelooflik populêr gemaak.
Die skares het Hom bly volg, selfs toe Hy in ‘n boot geklim het om weg te kom en na die ander kant van die see te vaar.
Maar hulle het Hom weer gevind.
En hulle wou weer ‘n wonder sien.
Toe hou die Here Jesus ‘n preek.
Dit was in die sinagoge in Kapernaüm.
Hy leer vir hulle dat Hy die brood van die lewe is.
Hulle moenie wonders soek nie, hulle moet Hom soek.
Hulle moet in Hom glo.
Hulle moet – metafories gesê – vir Hom eet.
Vers 53-55: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.”
Dus deur Hom te eet, ontvang jy ewige lewe.
Eet is hier beeld vir om in Hom te glo.
Die Vader het Hom gestuur om die ewige lewe te skenk vir elkeen wat in Hom glo.
Hierdie preek het Jesus dus in die sinagoge van Kapernaüm gehou.
Maar, sê die vers daarna, die reaksie was verdeeld.
Vir baie was die woord “hard”, soos daar staan in vers 60.
Nie soseer moeilik om te verstaan nie, maar mens kan ook vertaal:
Dit is vir die mense erg, wat Jesus gepreek het.
Nou wat het hulle bedoel?
Hulle het met erg bedoel, dit was verkeerd, dit was skandalig, mens mag nie so praat nie.
Selfs Moses sou nie so gepraat het nie, Moses wat persoonlik by God op die berg Sinaï was.
Hoe kan hierdie Man dan sê Hy kom uit die hemel?
Die feit dat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” (vers 41) - dit was heiligskennis.
Hierdie Jesus dink veels te veel van Homself.
Hy laster God in die hemel.
Net soos die manna destyds as ‘n geskenk van God uit die hemel neergedaal het, so dink Hy Hy het neergedaal as ‘n geskenk van die Vader, naamlik die ware brood uit die hemel.
Hoe kan Hy soiets durf sê?
Hierdie uitspraak was volstrek onaanvaarbaar.
Dit was skandalig.
Hierdie Rabbi dink te veel van Homself.
Hy dink Hy is meer as Moses.
En nog erger, Hy laster selfs die Vader in die hemel.
En dit was dus die rede hoekom baie dissipels wat Hom tot dan toe gevolg het, weggegaan het.
Hulle het Hom die rug toegekeer.
Dit was vir hulle ‘n onoorkomlike struikelblok, ‘n aanstoot.
Later, in 1 Korinthiërs 1:23, skryf die apostel Paulus:
“ons verkondig Christus ... ‘n struikelblok vir die Jode”.
Paulus gebruik dieselfde woord – die Griekse woord skandalon, dit is ‘n struikelblok.
Dit is iets wat onaanvaarbaar is.
Jesus se leer, Jesus se selfopenbaring was vir die Jode onaanvaarbaar, dit was ‘n struikelblok, dit was aanstootgewend, skandalig.
Mens kan dit op ‘n manier verstaan.
Vir ‘n opregte Jood was die volgende belydenis ononderhandelbaar:
“Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” (Deut 6:4)
En daarom is hierdie Rabbi ‘n dwaalleraar, Hy tas die heiligheid van die hemelse Vader aan as Hy beweer dat Hy uit die hemel kom.
En daarom, staan daar, het hulle nie meer saam met Hom gewandel nie.
In daardie tyd was gebruiklik dat leerlinge agter hulle leermeester, oftewel rabbi, aangeloop het.
Soos wat hy gereis het, het hulle gevolg.
Jesus was ‘n bekende, ‘n gewilde Rabbi.
Baie het Hom gevolg.
Mense wat hier dissipels genoem word.
Die Griekse woord beteken gewoon: leerlinge van Hom.
Naas die twaalf, die nouere kring leerlinge, was daar dus ‘n wyere kring, wat bestaan het uit baie meer leerlinge, wat hier ook dissipels genoem word.
Maar hierdie onderrig van Jesus in die sinagoge in Kaparnaüm was vir hulle ‘n keerpunt.
Hulle besluit om weg te gaan, terug te draai, Hom nie langer te volg nie.
Selfs, kan mens in die volgende hoofstuk lees, was dit een te veel vir Jesus se eie broers.
Vers 5: “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.”
Gelukkig weet ons dat van sy broers wel later tot insig van die waarheid gekom het, en hulle broer as die Heiland begin bely het, waaronder Judas, die persoon wat die brief Judas in die Nuwe Testament geskryf het.
Maar, ten spyte van almal wat Hom verlaat, het Jesus sy prediking nie aangepas om hulle te akkomodeer nie.
Hy neem nie sy omstrede uitsprake terug ter wille van die vrede, of erger nog, ter wille van sy populariteit nie.
Hy maak dinge selfs nog duideliker:
“Is dit julle tot ‘n aanstoot?” het Hy gevra (vers 61).
Is dit vir julle ‘n aanstoot as Ek sê dat Ek uit die hemel gekom het?
Wel, wat sal julle daarvan dink as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was?
Jesus verwys hier al na sy hemelvaart, toe Hy teruggegaan het daar waar Hy vandaan gekom het.
As sy eerste uitspraak dat Hy van die Vader kom, al aanstootgewend was, hoeveel te meer sal dit nie wees nie, naamlik dat Hy na die hemel sal opvaar.
Net soos Elia destyds.
Hierdie Man dink regtig te veel van Homself.
Inderdaad: aanstootgewend, Godslasterlik, tensy Hy wel die Messias was deur God self beloof.
En ja, dit is wie Hy is, en dit is sy boodskap.
Die mense moet goed weet hoekom hulle Hom volg.
Hulle moet Hom nie net vir die wonders volg nie.
Hierdie was ‘n keerpunt in Jesus se aardse bediening.
Hy het baie duidelik gemaak dat Hy nie net ‘n wonderdokter was nie.
Sy missie was van ‘n ander aard.
Sy doel op aarde was veel groter.
Maar dit het geloof geverg.
Wil julle nie ook weggaan nie?
Dit was ‘n noodsaaklike vraag, want dit het later geblyk dat daar selfs een van die twaalf was wat gekies het om weg te gaan.
Johannes skryf daaroor in vers 70-71, waar Jesus sê: “een van julle is ‘n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskariot ... want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.”
Jesus sê: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!”
Met uitverkies word hier bedoel, uitverkies tot die apostelamp.
Hier word nie bedoel die uitverkiesing tot die ewige saligheid nie.
Daaroor doen vers 70 nie ‘n uitspraak nie.
Judas Iskariot is ook verkies om apostel te wees.
Maar sy persoonlike keuse was anders.
Hy het die verraaier van die Messias geword.
Hierdie is ‘n waarskuwing dat om lid van die kerk te wees, selfs ‘n vooraanstaande lid van die kerk, nie ‘n waarborg is dat jy gered gaan word nie.
Jongmense, vandag is die dag vir ‘n persoonlike belydenis, wat uit jou eie hart moet kom.
Is jy ‘n kuddedier?
As die wêreld sleg praat van jou Heiland, swyg jy?
En as die mense sleg praat van die kerk, praat jy saam sleg?
As mense hulle rug draai op die gemeente, doen jy dit ook?
Is jy ook ‘n droster?
Of is jy bereid om te staan vir jou beginsels?
Het jy ‘n ruggraat?
Of kan ander mense dit maar buig soos hulle wil?
Vandag vra ons baie direk vir julle.
Wil julle nie ook weggaan nie?
Besef jy die konsekwensies, besef jy wat dit inhou om Jesus te volg?
Mag ons vandag net so ‘n spontane belydenis hoor uit julle monde, soos destyds uit Petrus se mond:
“Here, na na wie toe sal ons gaan?
U het die woorde van die ewige lewe.”
Dit bring ons by die tweede vraag van ons teks:
(Tema: Slegs Christus het die woorde van die ewige lewe.
In die teks is daar twee vrae, en ons gaan agtereenvolgens na elkeen van hulle kyk:
1 Wil julle nie ook weggaan nie?)
2 Here, na wie toe sal ons gaan?
Christus se prediking veroorsaak dus afstoting, verwerping, aan die een kant, maar aan die ander kant verdieping, versterking van geloof.
Dit blyk uit Simon Petrus se belydenis.
Waar sommiges hulle vererg vir sy woorde, is dit vir Petrus juis woorde van ewige lewe.
Is die Evangelie vir jou woorde van ewige lewe?
As dit goed is, het die belydeniskatkisante reeds hieroor nagedink, in elk geval die afgelope jaar.
Een van die onderwerpe wat op katkisasie behandel is, is ander godsdienste.
Wat leer die Hindoeïsme oor die ewige lewe, wat leer die Islam daaroor, wat is die standpunte van die atheïsme?
Het hulle woorde van ewige lewe?
Ons het hiedie jaar ook gekyk na die Christenvervolgings wat steeds plaasvind op verskeie plekke in die wêreld.
Wat besiel die gelowiges in lande soos Noord-Korea, Somalië, of Pakistan om aan hulle geloof vas te hou, en dit met bedreiging vir hulle lewe?
En dit terwyl daar in daardie lande ander religies is wat hulle ‘n baie aangenamer lewe sal besorg, soos die atheïsme in Noord-Korea, of die Islam in Pakistan.
Ek dink hulle het, net soos Petrus, tot die slotsom gekom:
Slegs by Christus is daar woorde, ware woorde, van die ewige lewe.
Mag julle ook tot daardie diepgewortelde gevolgtrekking kom!
Vandag het jy nog die keuse, soos die dissipels:
Wil julle nie liewer weggaan nie?
Niemand word teen sy wil gedwing om Jesus te volg nie.
Dit sou teen die wese van die Christelike geloof indruis.
Natuurlik is ons bede dat julle ja gaan antwoord.
Maar dit mag nie ‘n oppervlakkige ja wees nie.
En daarom so ‘n op die oog af negatiewe vraag van Jesus:
Wil julle nie maar ook weggaan nie?
Ons, julle ouers, julle dominee en onderwysers, die kerkgemeenskap het julle by Christus gebring.
Maar om by Hom te bly moet die gevolg wees van ‘n bewuste keuse.
En dan nie omdat pa en ma in die kerk sit en dit die antwoord is wat hulle verwag nie, of oupa en ouma, of jou onderwyser of dominee of ouderling nie, maar omdat jy in jou hart self tot daardie konklusie gekom het.
Slegs Hy, die Here Jesus Christus, het woorde van die ewige lewe.
Hy is die Seun van die lewende God.
Bedoelende, geen ander godsdiens bied ‘n ewige lewe vir liggaam en siel nie.
Geen ander godsdiens bied volledige vergifnis van sondes nie.
Die ander godsdienste is nie godsdienste nie, hulle is afgodsdienste, valse godsdienste, oftewel geen godsdienste nie.
Pragtig hoe Petrus die kern van die Evangelie saamvat:
U het die woorde van die ewige lewe!
En pragtig hoe hy die eksklusiwiteit van die Evangelie bely:
Here, na wie toe sal ons gaan?
U is die Christus.
In Hebreeus: U is die Messias.
Dit was die struikelblok.
Die Jode het selfs ooreengekom dat wie bely dat Hy die Christus is, uit die sinagoge geban sou word (Joh 9:22).
Solus Christus – dit is een van die uitsprake van die Reformasie.
Christus alleen.
By niemand anders is enige saligheid te soek of te vinde nie, bely ons in die Kategismus.
Petrus, en na hom baie ander het dit bely, selfs met gevaar vir eie lewe.
En toe Jesus na die hemel opgevaar het, soos Hy in hierdie gedeelte self aankondig, was dit die ultieme bewys dat Hy geen woord te veel oor Homself gesê het nie.
Hy is wie Hy is, soos Hy in sy prediking Homself openbaar het.
Die bewys dat Hy teruggaan na waar Hy vandaan gekom het, maar dan nie net as Middelaar soos Hy na die aarde gekom het nie, maar as Oorwinnaar het Hy opgevaar, om op die hemelse troon te gaan sit.
By Christus is dit alles of niks.
Of ‘n mens verwerp Hom en beskou dit wat Hy oor Homself sê as lasterlik, ‘n struikelblok.
Of ‘n mens sien in Hom die Messias, die Seun van God self, die Saligmaker.
Dis alles of niks.
As julle vandag geloofsbelydenis gaan aflê, gaan julle net so ‘n ingrypende vraag beantwoord.
Is dit jou voorneme om jou lewe en saligheid buite jouself in Christus te soek?
Solus Christus – alleen Christus.
En dan nie net met jou mond nie, maar om dit ook met ‘n Godvresende lewe te bevestig.
Mag die God van alle genade, wat julle tot die ewige heerlikheid in Christus geroep het, julle voorneme bevestig, versterk en grondves! (1 Petr 5:10).
Dit is die seën wat julle nounou gaan ontvang, na die geloosbelydenis.
Uit onsself is ons maar wankelrig, soos die skare wat Jesus aanvanklik gevolg het, selfs is ons uit onsself onbetroubaar soos Judas Iskariot.
Mag die Heilige Gees dieselfde belydenis as van Petrus in ons hart laat brand tot die laaste dag van jou lewe op aarde:
U is die Christus, die Seun van die lewende God. Here, na wie anders sal ons gaan? Net U het die woorde van die ewige lewe.
Jesus sê oor hierdie belydenis van Petrus: “want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” (Matt 16:17)
Dieselfde gaan ons vandag oor julle sê.
As julle ja antwoord, dan sien ons daarin die werk van die Vader, deur sy Gees.
Hy het julle getrek.
Soos Jesus hier noem: Niemand kan na My toe kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie (vers 65).
Ja Hy, ons troue Vader en Verbondsgod het daarvoor gesorg dat julle ‘n geloofsopvoeding gekry het.
Hy het vir kategese gesorg.
Hy het in julle hart die vraag geplant: Hoekom is ek hier op aarde?
Wat is my toekoms?
Is daar vir my ‘n toekoms na die dood?
En Hy het sy Seun aan julle beskikbaar gestel.
En deur sy Gees het Hy die besef in julle wakker gemaak:
Daar is nie vir my ‘n toekoms, tensy dat dit saam met Jesus Christus is nie.
Waarheen sal ons anders gaan?
Here, slegs U het woorde van ewige lewe!
Amen.
(Openbare Geloofsbelydenis)
Votum
Seën
Ps 61:1,3
Wet
Ps 86:3
Gebed
Skriflesing: Johannes 6:22-70
Ps 119:7
Teks: Johannes 6:67-69
Preek
Ps 63:1-4
Openbare Geloofsbelydenis
Seën
Ps 134:4 (staande)
Gebed
Kollekte
Sb 10:3,5,6
Seën