By die dankbaarheidslewe hoort bekering en goeie werke

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-10-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 33
Preek Inhoud: 

Deesdae is dit amper die gewoonste ding om aan die lotery deel te neem.

Daar is selfs ’n nasionale lotery.

Op televisie, radio en in die winkels word Christene lastig geval met loterykaartjies wat verkoop word.

Lastig geval, sê ek, maar ek wonder of dit die korrekte woord is.

80% plus van Suid-Afrika se bevolking is selfverklaarde Christene, verreweg die meerderheid dus.

As die lotery so goed vaar in ons land, beteken dit sonder twyfel dat ’n groot aantal Christene hieraan deelneem.

Mens kry dan ook dikwels die vraag van Christene self:

Hoekom sou mens nie daaraan mag deelneem nie?

Want die lotery gee mos ook geld vir goeie doele?

Hulle gee mos vir weeshuise, vir vigsprojekte, hospices, skole, ...

Hulle doen mos ook goeie dinge?

Hulle kry verskriklik baie geld binne, en ’n persentasie gee hulle dan weg.

As Christen dra jy mos dan by aan goeie doele, as jy ’n loterykaartjie koop?

En dan maak jy ook nog kans om iets te wen, tog?

 

In Sondag 33 vind ons ’n opsomming van die kenmerke waaraan iets moet voldoen om ’n goeie werk genoem te kan word.

Ons sal in Sondag 33 sien dat daar drie vereistes is:

  • dit moet uit ’n ware geloof gebeur;
  • dit moet volgens die wet van God gebeur;
  • dit moet tot sy eer moet gebeur.

As ons hierdie definisie nou toepas op byvoorbeeld die lotery, en op dit wat hulle doen ... is dit dan ’n goeie werk of nie?

Want hulle gee mos donasies aan weeshuise, vigsprojekte, arm skole, ensovoorts.

Is dit goeie werke wat hulle doen?

 

Tema: By die dankbaarheidslewe hoort bekering en goeie werke

  1. Die noodsaak van bekering vir ongelowige en gelowige
  2. Bekering en goeie werke volgens die Skrif

 

  1. Die noodsaak van bekering vir gelowige en ongelowige

Geen mens word gebore as ‘n bekeerde mens nie.

Elke mens word, soos die Doopsformulier sê, in sonde ontvang en gebore.

Bekering en wedergeboorte is iets wat tydens jou lewe moet plaasvind.

In hierdie verband is dit belangrik om te besef dat die Bybel die woord bekering in ‘n breër sin gebruik as waaraan ons deesdae gewoond is.

Deesdae verwys baie mense na bekering as slegs ‘n enkelmalige gebeurtenis, iets waarvan hulle soms die dag en datum kan opnoem.

In die Bybel lees ons nie slegs oor een bekering as ‘n eerste bewuste ommekeer na God toe nie.

Bekering is iets wat vanaf die eerste ommekeer voortgaan in die vernuwing van jou hart, die vernuwing van jou lewe, wat betref allerlei konkrete sake.

 

Ek noem ‘n paar tekste uit die Bybel in hierdie verband.

Ons begin in die Ou Testament.

Nehemia 1:9: “maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen – al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.”

Die HERE praat hier met sy volk.

Ek noem dit eksplisiet, want dit bewys dat bekering nie net iets is wat van toepassing is op heidene of ongelowiges nie.

Ook kinders van die verbond, ook kerkmense, word opgeroep tot bekering.

 

Dieselfde boodskap vind ons in die Nuwe Testament.

Ek dink aan Openbaring 2:5.

Daar sê Christus aan die kerk in Efese: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.”

Ook hierdie oproep tot bekering is aan die adres van kerkmense.

 

Ek noem nog ‘n teks uit die Ou Testament.

1 Konings 8:33-34: “As u volk Israel verslaan word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe”.

Salomo bid hier vir die volk by die inwyding van die tempel.

Hieruit leer ons dat bekering vir ‘n kind van God inhou dat hy homself telkens weer omkeer, terugkeer na God toe, terugkeer na God se wil in sy lewe.

 

Ons gaan weer na die Nuwe Testament.

Lukas 3:8: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas”.

Johannes die Doper sê dit vir die Jode.

Ook dit is weer noodsaaklik vir kinders van God.

Aan hulle klink die oproep: Bring vrugte voort, dit wil sê: Leef so dat uit jou dade te sien is dat jy bekeerd is.

‘n Paar hoofstukke verder sê Jesus in Lukas 5:32:

“Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”

Hy het dit gesê na aanleiding van die klag van die Fariseërs en Skrifgeleerdes dat hy met tollenaars gemeng het, byvoorbeeld met ‘n tollenaar genaamd Levi.

Ook hier leer ons dat bekering bitter noodsaaklik is, nie net vir ongelowiges is, maar ook vir gelowiges.

 

En bekering is nie sommer net iets nie.

Dit is diep ingrypend.

Oor hoe indrukwekkend dit is, watter groot gebeurtenis dit is as iemand hom bekeer, lees ons in Lukas 15:7, waar Jesus opmerk: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.”

 

Ja elke mens het ‘n geestelike stryd op aarde.

Neutraliteit bestaan nie.

Elke mens het sy oorloë.

En wanneer iemand hom bekeer, of dit die allereerste keer is of die soveelste keer, elke keer is daar gejuig in die hemel.

Oor die hemel gepraat, ons lees in Lukas 16:30 oor Abraham in die hemel, en dat die ryk man in die hel hom probeer oortuig om ‘n boodskap na sy broers op aarde te stuur.

Die ryk man het gesoebat: “Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.”

Waarop Abraham geantwoord het: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (vers 31)

Gemeente, ons as mense kan 101 verskonings uitdink om die daad van bekering voor ons uit te skuif.

Maar laat ons hierdie opmerking ter harte neem.

As Moses en die profete – dit is hoe die Bybel in daardie dae genoem is; dus:

As die Bybel jou nie sover bring dat jy jou bekeer nie, moenie dink dat dit wel sal gebeur as daar ineens ‘n dooie uit die graf opstaan en in lewende lywe voor jou staan nie!

Net die Heilige Gees werk bekering deur God se Woord.

Mense kan nie, selfs nie eers wat uit die dood teruggekom het nie.

 

Ek gaan verder met nog ‘n Bybelteks.

In Handelinge 11:18 lees ons dat dit God se hartlike wens is dat ook die heidene daadwerklik tot bekering kom.

Dit gaan hier oor die feit dat die voormalige heiden Cornelius met sy huisgesin gedoop word.

Paulus het hierdie daad – naamlik die doop van ‘n heiden – verdedig teenoor die Jode-Christene deur daarop te wys dat Cornelius en sy mense op presies dieselfde manier tot geloof gekom het.

Naamlik deur die verkondiging van die Woord.

Dít was die instrument waardeur die Heilige Gees bekering gewerk het.

So het hulle die gawe van die Gees ontvang.

En dan lees ons in Handelinge 11:18: “En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

 

Op sy sendingsreise het die apostel Paulus aangedring op bekering, sowel by Jode as heidene.

Sien byvoorbeeld Handelinge 26:20, waar Paulus verantwoording aflê van sy optrede teenoor Agrippa:

“ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judea en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.”

Paulus se verkondiging van die Evangelie was nie ‘n suksesboodskap nie.

Dit was nie ‘n boodskap dat almal wat dit aanneem in alle omstandighede vrolik sal wees nie.

Soms was die uitwerking van die bekering ook anders.

Dink byvoorbeeld aan 2 Korinthiërs 7:9: “Nou is ek bly” skryf Paulus, “nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God”.

Bekering bring nie net blydskap nie, dit bring ook droefheid.

Soos v/a 89 sê: Naas ‘n hartlike vreugde, veroorsaak dit ook ‘n hartlike berou.

 

Juis hulle wat tot God bekeer is, kom agter hoe eiesinnig jou eie hart is.

Hoe jou ou mens hom blywend teen vernuwing verset.

Met die stryd teen jou ou mens is jy nooit klaar nie.

Tot op jou sterfdag sal jy moet bly binne die kragteveld van die Gees, naamlik daar waar die Woord verkondig word.

As jy dit nie doen nie, gaan jou ou mens jou nuwe mens se nek weer omdraai.

Maar waar die Gees bly werk, deur die Woord, hou die nuwe mens die oorhand.

Dus aan die een kant kom jy nooit tot rus nie.

Die geestelike stryd duur voort.

Maar aan die ander kant hoef ons nie wanhopig te wees nie.

Want ons redding lê vas in Christus.

 

So bly bekering elke dag ‘n geestelike stryd.

Maar dis ‘n positiewe stryd.

Jy kan dit vergelyk met die pyn wat jy voel as ‘n doring uit jou voet uitgetrek word.

Dit moet gebeur, en dit is pynlik.

Maar daarna begin die genesing.

Noudat die doring uit is, sal dit nie verder sweer nie.

Dit is, hoewel pynlik, ‘n dankbare ding.

Bekering is ‘n dankbare gawe en opgawe om werklik as ‘n nuwe mens te lewe.

 

(Tema: By die dankbaarheidslewe hoort bekering en goeie werke

  1. Die noodsaak van bekering vir ongelowige en gelowige)

 

Bekering en goeie werke volgens die Skrif

Oor bekering moet mens altyd met twee woorde praat.

Afsterf en opstaan.

Twee woorde, wat ontleen is aan die apostel Paulus.

Onder die ou mens verstaan Paulus die mens wat leef met sy rug na God toe.

Geestelik dood in sonde, verduister in sy verstand, in opstand teen God.

Maar die nuwe mens is die mens wat deur die geloof saam met Christus opgestaan het.

In Romeine 6 verduidelik Paulus dit aan die hand van die doop.

Die doop beeld uit dat ons verdrink in die water.

Maar daarna word ons uit die water opgetrek deur Christus, en staan op in ‘n nuwe lewe.

Ons lees: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.” (Rom 6:8-9)

Hieruit volg die indringende oproep: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11)

Ons is reeds regtens vry van die sonde, deur die dood van Christus.

Paulus gebruik hier die beeld van ‘n vrou wat getroud was, maar wie se man gesterf het.

Met die afsterwe het die huwelik geëindig, en die vrou is regtens vry van die gestorwe man.

Hierdie vergelyking word gebruik om te verduidelik dat, omdat Christus gesterf het – plaasvervangend in ons plek – ons nou nie meer met die sonde getroud is nie.

Ons is nou regtens vry van die sonde.

Die ou mens oorheers ons nie meer nie.

Niks staan ons nou in die weg om ons lewe in diens van God te stel nie.

Die ou mens word gekruisig, die nuwe mens staan op.

 

Kom ons fokus nog vir ‘n oomblik, soos Sondag 33 doen, op die beide kante van bekering.

Ten eerste: afsterwe.

As jy Christus leer ken het, leer jy wat dit is om berou te hê.

Jy begin iets begryp van die teregte toorn van God oor jou lewe.

Jy wens daarom ook self dat jou ou mens gedood moet word.

Jy begin ook self die sonde te haat.

Jy kry self ook ‘n afkeer van alles wat ruik na jou ou mens.

En ook al is jy wedergebore, jy onderskat nie die krag van die sonde nie.

Daarom is dit lewenslank ‘n opdrag om van die sonde weg te vlug.

Dit klink dalk nie so dapper nie, maar dit getuig van realisme.

Jy oorskat jouself nie.

Laat liewerste die sonde jou rug sien.

Elkeen van ons is swak, en as dit goed is, ken jy die punte in jou lewe waar jy swak is.

Moenie die sonde uitdaag nie.

Bly weg van die dinge wat jy weet jou tot sonde gaan verlei.

 

Maar dan, die ander kant van bekering is die opstaan van die nuwe mens.

Met Christus se opstanding is die mag van sonde en dood oorwin.

Dit laat ons nie onberoerd nie.

‘n Hartlike blydskap in God vervul ons hart.

Ons is nie meer wanhopig nie.

Ons weet dinge sal goed eindig.

En daarom is dit vir ons ‘n lus en liefde om te strewe na goeie werke.

Nie om iets by God te verdien nie.

Ons het reeds alles ontvang.

Maar wel om aan ons dankbaarheid uiting te gee.

 

Ook hier bly ons realisties.

Ons goeie werke bly maar gebrekkig, laat staan dat ons van oortollige goeie werke sou kon praat.

Die drie vereistes waaraan iets moet voldoen, lê die maatstaf hoog.

‘n Goeie werk moet gedoen word uit 1) ware geloof, 2) volgens die wet van God, en 3) ook nog tot sy eer.

Wie hierdie drie maatstawwe toepas op sy beste werke, sal moet erken dat ook ons beste werke maar gebrekkig is.

Tog demotiveer dit nie vir ons nie.

Want ons verlossing staan vas.

Ons het begin met die derde deel van die Kategismus, wat handel oor die dankbaarheid.

In die tweede deel is die redding afgehandel.

Christus, nadat Hy ons gered het, roep jou op: Doen nou jou bes.

Want by jou dankbaarheidslewe hoort bekering en goeie werke.

Kyk hoever jy kan kom.

Ek hou jou vas, jy hoef nie te wanhoop nie.

Doen net jou bes.

Want as jy dit doen, verheerlik jy sy Naam des te meer op aarde.

Plus as jy dit doen, trek jy ook ander na die lig toe.

 

Ek het die preek begin met die voorbeeld van die lotery.

Hoekom mag mens eintlik nie daaraan deelneem nie?

Want die lotery gee mos ook geld vir goeie doele?

Is dit nie ’n goeie werk nie?

Hulle gee mos vir weeshuise, vir vigsprojekte, hospices, skole, ...

Hulle doen mos ook goeie dinge?

Hulle kry verskriklik baie geld binne, en ’n persentasie gee hulle dan weg.

As Christen dra jy mos dan by aan goeie doele, as jy ’n loterykaartjie koop?

En dan maak jy ook nog kans om iets te wen, tog?

 

Wel, as Christen weet ons nou wat ‘n goeie werk is in God se oë.

Sondag 33 het dit saamgevat in drie vereistes, naamlik dat dit uit ’n ware geloof gebeur, dat dit volgens die wet van God gebeur, en dat dit tot sy eer moet gebeur.

As jy hierdie definisie toepas op byvoorbeeld die lotery, en op dit wat hulle doen ... is dit dan ’n goeie werk?

Wel, as ons hierdie definisie toepas, dan is die lotery die stempel van ’n goeie werk nie waardig nie.

Is dit dan nie iets goeds om aan goeie doele te skenk nie?

Op sig is dit inderdaad iets goeds wat hulle doen.

Maar onthou, dit is veral ’n goeie advertensie vir hulle.

Goeie doele word misbruik vir advertensiedoeleindes.

Dis nie omdat hulle dit doen tot eer van God – om maar net een van die vereistes vir ’n goeie werk te noem nie.

 

As almal slegs ’n tiende sou skenk van wat hulle vir die lotery gee, dan sal daar oorgenoeg geld wees.

Sê nou maar jy skenk slegs tien persent van die geld wat jy vir ’n loterykaartjie sou betaal vir daardie goeie doele, dan sal daar geen weeshuis of hospitaal of skool meer wees met ’n geldgebrek nie.

Maar hoekom koop mense loterykaartjies?

Is dit regtig omdat hulle so graag ’n weeshuis wil help?

 

Gemeente, daarom kies ’n Christen anders.

Want hierdie is skyn goeie werke, altans as mens Sondag 33 se definisie toepas.

Want dit word nie gedoen uit ’n ware geloof nie, laat staan dat dit tot eer van God gedoen word.

 

Ons mag vanaand huis toe gaan, gemotiveerd om goeie werke te doen.

En ook dankbaar, want ons weet God sal vir sy kinders sorg, so goed selfs dat ons ook nog oorhou om aan die behoeftiges te skenk.

Ons het nie ‘n lotery nodig nie, ons stel nie belang nie.

Ons het geen begeerte om daaraan deel te neem nie.

Inteendeel, die Heilige Gees werk in ons die begeerte om dinge te doen wat werklik goeie werke is.

Ons is vrygemaak van die sonde.

Ons het diensbaar geword aan God.

Ons ervaar ‘n lus en liefde om Hom te dien.

Om, deur die krag van die Heilige gees, steeds meer volgens God se wil te lewe en al hoe meer goeie werke te doen.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 90:1,9

Gebed

Skriflesing: Romeine 6

Sb 43:2

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 33

Preek

Sb 39:1,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 19:4,5,7

Seën