Preek: Maleagi 3:10
Hierdie is die tyd van die jaar waarin ‘n mens se geloof beproef word.
Die winter is lankal verby, maar dit het nog nie werklik gereën nie.
Alles is kurkdroog.
Dis die tyd wanneer diere in die veld gaan begin vrek as die reën nog veel langer uitbly.
Hierdie tyd van die jaar toets regtig ‘n mens se geloof.
Wanneer sal die eerste reëns kom?
Sal dit wel kom?
Ons land stem wat klimaat betref nogal ooreen met Israel.
Die Israeliete het ook lang tye van droogte geken.
In sulke tye raak die toekoms onseker.
Mense hou hulle beursies toe.
Dis nie nou die tyd om uit te gee nie, wie weet of daar die komende seisoen inkomste gaan wees?
Hierdie gevoel van onsekerheid kan mens ook breër toepas.
Nie net wat betref die reën nie, maar ook byvoorbeeld wat betref die politieke klimaat in die land.
Vroeër vanjaar, voorafgaande aan die verkiesings, wou mense nie geld uitgee nie, besighede wou nie met nuwe projekte begin nie.
Noudat die verkiesings verby is en daar weer bietjie sig is op stabiliteit, begin mense en besighede weer te spandeer.
In ons teks roep die HERE ons vandag op om nie na die politiek te kyk nie, ook nie na die lug of daar al wolke kom nie, maar nog hoër, om op te kyk na Hom.
Tema: Die HERE deurstaan die toets
- Hy toets ons
- Ons mag Hom toets
- Hy toets ons
Die profeet Maleagi het gelewe in ’n tyd waarin die diens aan die HERE in orde was, altans aan die buitekant.
Van binne was dit egter hol.
Die vorme is in stand gehou, maar die hart was nie altyd aanwesig nie.
Om hierdie rede moet Maleagi as profeet die koms van die Engel van die verbond aankondig.
Maleagi profeteer: Die HERE sal skielik na sy tempel kom, naamlik die Engel van die verbond.
Hierdie koms sal nie iets wees om na uit te sien nie.
Maleagi gebruik ‘n vergelyking om te verduidelik.
Hierdie dag sal wees soos die vuur van die smelter.
Mens kan hier dink aan die proses van die smelt van silwer of goud of yster.
Deur metale te smelt word alle onsuiwer bestanddele geskei van die metaal.
Die vuur laat die metaal smelt.
Met die opwarming begin alle vuiligheid bo te dryf en kan sodoende verwyder word.
God se volk gaan gesmelt word, nie iets om na uit te sien nie, veral as daar vuiligheid in jou lewe is – onrein bestanddele.
Maleagi gebruik nog ‘n vergelyking.
Die Engel van God sal ook wees soos die loog van die bleker.
Loog is ‘n chemiese oplossing om klere te suiwer, om wit doeke weer spierwit te kry.
So sal die Engel van die HERE die seuns van Levi reinig.
Priesters wat van buite die skoonste wit klere dra, maar wat van binne onrein is, wat ‘n sondige lewe lei.
Die Engel van die HERE sal die tempelpersoneel suiwer.
Hy sal persoonlik in sy tempel orde op sake kom stel.
Die Engel van die verbond sal ook kom om reg te spreek.
Maleagi profeteer: Hy sal ‘n vinnige en gedugte aanklaer wees van die towenaars, egbrekers, meinediges, die wat die loon van die dagloner agterhou, wat die weduwee en wees verdruk, die vreemdeling uitbuit, almal wat nie ontsag vir sy wette het nie.
Die HERE het nie verander in al hierdie jare nie, noem Maleagi.
Dit is iets waarmee die mense rekening moet hou, ook die priesters.
En dit geld vandag natuurlik nog steeds.
As mense verander ons, ook kerkmense verander.
Maar by God is dit nie so nie.
Dit is vir ons enersyds ‘n troos, ‘n houvas – God se onveranderlikheid.
Maar andersyds is dit ook ‘n waarskuwing.
Maleagi roep die mense terug na die HERE.
God laat Homself nie om die bos lei nie.
Hy sien iets nie deur die vingers nie.
Maleagi noem die sonde by die naam.
Die Engel van die verbond kla die priesters wat in die tempel werk aan.
Want hulle beroof God.
Mag ‘n mens God beroof?
Die vraag vra is dit beantwoord.
Dis vanselfsprekend, nee, natuurlik mag ‘n mens nie vir God beroof nie.
Maar watter snaakse vraag is dit, sou die mense vir Maleagi gevra het!
Hoe kan iemand ooit vir God beroof?
Wat bedoel Maleagi, as hy sê dat die mense God beroof?
Maleagi wys dan terug na die HERE se wet.
Waar is die tiendes, waar is die offergawes?
Is julle bang dat julle self te min oorhou as julle eers vir die HERE gee?
Kom maar, beproef My.
Dit beteken: probeer My maar uit.
Plaas die tiendes eerste op jou begroting.
Probeer dit ‘n keer.
Maak die diens aan die HERE nommer 1 in jou lewe.
Probeer dit maar uit.
En, dan gee God hierdie waarborg:
Ek sal die vensters van die hemel, die sluise van die hemel, vir jou oopmaak.
Wat ‘n uitspraak!
Israel is net soos ons land ‘n waterarme land, vir ‘n groot deel selfs woestyn.
Tog sê die HERE: die sluise van die hemel sal Ek ooptrek.
Hierdie word dan in die volgende verse nog nader toegelig, toegespits spesifiek op die agrariese samelewing waarbinne Maleagi geleef het.
God sal daarvoor sorg dat die sprinkaan nie sy verskyning maak nie.
Donker wolke sprinkane was ‘n nagmerrie vir elke boer.
Hulle kon in een dag die hele oes verwoes.
Maar die HERE sal sorg dat die vrug van die land ongeskonde bly tot die dag van die oes.
Die wynstok sal oorvloedig dra.
Jy sal woon in ‘n begeerlike land.
Alle mense oor die hele wêreld sal begeer om in jou land te woon.
Gemeente, glo u dit?
Durf u dit?
Durf u God op nommer 1 te plaas in jou lewe?
Die tiendes bo aan jou begroting?
Daarmee toets die HERE jou.
In Deuteronomium 14 kan ons lees hoe die volk ‘n tiende van die oes aan die HERE moes gee.
As ‘n boer honderd beeste bygekry het, moes hy tien na die tempel bring.
En ‘n graanboer het ‘n tiende van sy oes, miskien ‘n wa vol, na die tempel gebring.
Dit kon ook gebeur, as iemand ver van die tempel gewoon het, dat hy – soos daar in Deuteronomium 14 staan – die oes in sy woonplek verkoop en dan met die geld na die tempel gereis het.
En wat moes hy dan in Jerusalem met die geld doen?
In Deuteronomium staan: As jy in Jerusalem kom, “Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.”
By die huis van die HERE moet vreugde heers, om daarheen te gaan is om uit te sien na ‘n feesmaal.
En ook, staan daar: “die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.”
Dit verwys daarna dat die Leviete nie grond as erfdeel gekry het waarmee hulle ‘n inkomste kon genereer nie.
Hulle moet hulle tyd gebruik om die volk te onderrig.
En verder lees ons in Deuteronomium: ook “die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is ...” – ook “hulle moet eet en versadig word, sodat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.” (Deut 16:26-29)
God het dus verwag dat sy volk ‘n tiende van hulle inkomste moes skenk.
Dit was bedoel vir die openbare erediens.
Dit was bedoel vir die priesters en Leviete.
Dit was bedoel vir die vreemdeling, wees en weduwee.
Dit was ook bedoel om fees te vier.
Elke gesin moes na Jerusalem kom om daar fees te vier.
Dit was iets positiefs, mens kan dit met ‘n vakansie vergelyk.
Want in Jerusalem mog hulle feesvier, juis van die tiendes.
Maar wat was nou die geval in die dae van Maleagi?
In sy tyd is daar gekroek met die tiendes.
Deur almal, sowel die volk as die priesters.
Die mense het nie meer die volledige tiendes gebring nie.
En as daar geoffer is by die tempel, is die beste deel van die dier nie meer verbrand nie.
Die vet, dit was in daardie tyd die beste deel.
Die priesters het nie die vet verbrand nie, maar dit vir hulleself bewaar.
Dink aan wat die seuns van die priester Eli gedoen het (1 Sam 2).
Die seuns van Eli het nie met die HERE rekening gehou nie.
Elke keer as iemand ‘n slagoffer gebring het, het hulle dit vir hulleself gevat.
Nog voordat die vet in rook kon opgaan, het die kneg van die priester vir die persoon wat die offer kom bring, gesê: Gee die vleis vir die priester, gekookte vleis sal hy nie van jou aanneem nie, slegs rou vleis.
As die persoon dan antwoord: maar die vet moet mos eers in rook opgaan, dis mos vir die Here, dan het die kneg gesê:
Luister, gee dit nou dadelik, anders vat ek dit met geweld.
Soortgelyke toestande het in Maleagi se dae voorgekom.
So het van die goeie bedoeling van God se wet nie veel oorgebly nie.
Sy goeie bedoeling, naamlik dat die volk en die priesters saam in vrede kon eet, nadat hulle die beste deel uit dankbaarheid aan die HERE gegee het.
Omdat God hulle die hele jaar lank van die beste voorsien het.
Nee, die vet is agtergehou, asof die volk die hele jaar deur nooit vet gehad het nie.
So het dit dus gegaan in Malaeagi se dae.
En dan nog een voorbeeld.
Daar was ook Israeliete wat geredeneer het: Hoekom sal ons nog na die tempel in Jerusalem gaan?
Hoekom elke keer weer daardie afstand aflê na die huis van God?
Hulle wou nie meer nie.
Hulle het geredeneer: Die geld wat ek daar uitgee, kan ek ook anders gebruik.
Hoekom dit vir die kerk skenk?
Dis hoekom Maleagi sê:
Mag ‘n mens God beroof?
Julle beroof God!
Julle hou die tiendes vir julleself.
Julle lewe die hele jaar van God se seëninge.
Maar julle is nie bereid om ‘n tiende van julle inkomste aan Hom te gee nie.
Hoekom het die HERE hierdie wet eintlik gegee?
Wat is die nut van die tiendes?
As die HERE alles gee, as alles in elk geval aan Hom behoort, hoekom soek Hy tien persent terug?
Gemeente, hiermee werk die HERE aan ons gesindheid.
Hy toets ons.
Dis sodat ons nooit sal vergeet nie aan wie ons alles te danke het.
Dat ons sal leer om met dieselfde gesindheid te lewe.
Soos Hy vrygewig is na ons, dat ons ook vrygewig sal wees na ander toe.
En inderdaad, is Hy nie vrygewig na ons toe nie!
Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, en dit vir ons ewige vreugde en oorvloed.
(Tema: Die HERE deurstaan die toets
- Hy toets ons)
- Ons mag Hom toets
Watter boodskap het Maleagi daarom vandag vir ons?
Ons kan begin deur te kyk hoe sy profesie in Christus vervul is.
Christus is die Engel van die verbond, wat na sy tempel gekom het.
Christus het die tempel gereinig, meerdere kere, toe Hy sy ampswerk op aarde vervul het.
Hy het op die tempelplein begin, waar daar handel gedryf is en baie geld verdien is.
Die gerinkel van geld het weer plek gemaak vir die lofsange van kinders, en die blye krete van siekes wat genees is (Matt 21:12-17).
Die feesstemming is teruggebring.
So het Hy die bedoeling agter die tiendes weer in ere herstel, beginnende by die huis van God.
Maar sy reiniging van die tempel het nie by die tempelplein gestop nie.
Aan die kruis het sy bloed gevloei, en met daardie offer het Hy al die sondes van God se kinders versoen.
Sy offer het deurgedring tot verby die voorhangsel, tot in die allerheiligste.
Die tempelgordyn het geskeur, soos die wolke bo ‘n droë land skeur en ‘n oorvoedige reën uitgiet.
So het, met die skeur van die voorhangsel, die vensters van die hemel oopgemaak.
Danksy Golgota word daar nou ‘n oorvloedige seën uitgestort.
So mag ons vandag lewe onder ‘n oop hemel.
Die vensters van die hemel staan oop.
En ons word opgeroep om gebruik te maak van hierdie oorvloedige seën!
Weet u wat so mooi is aan ons teks?
Die woordjie beproef.
Dit is die vertaling van ‘n Hebreeuse woordjie, wat wil sê: Toets My maar.
Net soos mens kosbare metale toets deur hulle te smelt.
Soos ‘n edelsmit goud smelt.
Dit is ‘n ingrypende proses, waardeur onrein elemente uitgesuiwer word.
Die Engel van die verbond toets ons, of ons gesindheid wel reg is.
Maar nou sê God: Toets My ook!
Beproef ook vir My!
Dieselfde woord word hier gebruik.
Wat die Engel van die HERE met die volk doen, om hulle te toets, dit mag die volk ook met die HERE doen!
Toets My maar!
Dan sal julle sien dat Ek betroubaar is!
Julle sal agterkom hoe Ek die toets deurstaan!
Geliefdes, vandag op Biddag vir gewas en arbeid sê die HERE: Toets maar vir My!
Is jy onseker of dit wel gaan reën hierdie seisoen?
Moenie vir daardie rede jou tiendes agterhou nie.
Inteendeel, toets vir My!
Plaas maar jou tiendes bo-aan die begroting.
Jy sal agterkom dat God die sluise van die hemel kan ooptrek!
Nie dat ons God met ons tiendes omkoop nie.
God is nie van ons gawes afhanklik nie.
Ons het Psalm 50 gesing, waar God vir sy volk sê:
As Ek honger sou wees, het Ek julle nie nodig nie.
Die hele wêreld is my grondgebied.
God roep ons tot die gee van tiendes, omdat Hy ons daarmee iets wil leer.
Hy werk hiermee aan ons gesindheid.
Is jou gesindheid reg?
Hoe gee jy jou offergawes?
Met watter gesindheid?
Destyds was die tiendes bedoel vir verskeie sake.
Dit het gevarieer van die instandhouding van die openbare erediens by die tempel, die diens van die priesters, die Leviete wat verspreid oor die land die volk moes onderrig.
En dan was daar nog die versorging van armes, weduwees en wese.
Die HERE sê: Toets My maar!
Doen hierdie dinge gewillig, en kyk of Ek vir julle sal kan sorg.
Vandag is alles nie meer presies gestruktureer soos destyds nie.
Maar nog steeds moet ook vandag die openbare erediens in stand gehou word.
Elke Sondag moet die Evangelie verkondig word, vir God se volk, vir die hele wêreld.
En vandag moet die verbondsjeug nog steeds onderrig ontvang in die skole.
En ook vandag is daar nog steeds armes, weduwees, wese, en vreemdelinge.
Die HERE sê: Toets My maar!
Doen hierdie dinge gewillig, en kyk of Ek vir julle sal sorg.
Die tiendes geld nie net vir finansies nie, maar ook vir ons tyd.
Spandeer jy jou tyd net vir jouself, of het jy ook tyd vir ander dinge?
Wie die gesindheid van Christus het, sal dit juis geniet om ander te dien.
Hy het gekom om te dien.
Hy het nie eerste na sy eie belange omgesien nie.
So word ons opgeroep om die gesindheid van Christus te hê.
Die wese van Christus se gesindheid was dat Hy wel sy Vader deur en deur vertrou het, selfs tot in die dood.
En dit het geblyk dat sy Vader betroubaar was, die toets deurstaan het!
In navolging van Christus word jy opgeroep: Toets maar vir God!
Plaas Hom op die eerste plek in jou lewe.
Wys jou dankbaarheid.
Staan jou tiendes met ‘n dankbare hart af.
Jou geld, maar ook jou tyd.
Moenie jouself afvra of jy daarna genoeg gaan oorhou nie.
Maar beproef God.
As ons vandag, op Biddag, die HERE vra of Hy ons ‘n nuwe seisoen sal gee, of Hy die sluise van die hemel sal oopmaak, of Hy sy seën sal laat rus op ons arbeid, dan bid ons nie net om daarna passief te sit en wag vir dit om te gebeur nie.
Soos die ou spreekwoord sê: Ora et labora!
Bid en werk!
Ons werk nie omdat ons daaraan twyfel of ons gebed effek sal hê nie.
Ons werk nie vir die wis en die onwis, vir die geval ons gebed nie verhoor sal word nie.
Dis andersom.
Ons weet verseker dat die HERE ons gebed sal verhoor, en juis daarom moet ons aan die werk spring.
Die HERE is betroubaar.
Ons weet Hy sal die toets deurstaan.
Ons weet die HERE gaan reën gee, en daarom moet die land gereedgemaak word.
Sodat ons nie onkant gevang word daardie dag as die HERE die hemelsluise ooptrek nie.
So gaan ons met vertroue die nuwe seisoen tegemoet.
Al biddende.
En ook al werkende, omdat ons weet dat ons gebede verhoor sal word.
Amen.
(Biddag vir Gewas en Arbeid)
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 146:3,5,7
Gebed
Skriflesing: Deuteronomium 14:22-29
Ps 50:5,6
Skriflesing: Maleagi 2:17-4:6
Ps 50:7,11
Teks: Maleagi 3:10
Preek
Ps 84:2,3
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 65:7
Gebed
Kollekte
Ps 66:4,6,9
Seën