Christus werk deur sy Gees ’n lewe van dankbaarheid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-10-06
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 32
Preek Inhoud: 

In die derde deel van die Kategismus oorheers die dankbaarheid.

Met Sondag 32 begin die derde deel van die Kategismus.

In Sondag 1 is die drie dele reeds uiteengesit: 1) ellende; 2) verlossing; 3) dankbaarheid.

Hierdie derde deel begin deur eers te definieer wat dankbaarheid is.

In die definisie is daar twee sleutelbegrippe: 1) goeie werke; 2) bekering.

Ons kyk vandag na Sondag 32, waar dit gaan oor die eerste gaan: goeie werke.

In die volgende Sondag, Sondag 33, sal dit handel oor die tweede: bekering.

 

Wat is dankbaarheid eintlik?

Hoe wys jy jou dankbaarheid?

Hoe jy beveel om dankbaar te wees?

Dit is waaroor Sondag 32 ook handel.

 

Tema: Christus werk deur sy Gees ’n lewe van dankbaarheid

  1. Dankbaarheid het hande en voete
  2. Dankbaarheid het ‘n doel

 

  1. Dankbaarheid het hande en voete

Met die woord dankbaarheid word die klimaat getipeer waarbinne kinders van God lewe.

Dit kan nie die bedoeling wees dat nadat jy te hore gekry het dat Christus jou met sy bloed bevry het, dat jy nou moet swoeg en sweet om Hom tevrede te stel nie.

Dit sou teenstrydig wees.

Die sfeer van die lewe van ’n kind van God word inteendeel getipeer deur dankbaarheid.

Want die skuld is weggeneem.

As ons in hierdie preek oor goeie werke gaan praat, is dit belangrik om hierdie klimaat vas te hou.

Die oproep tot goeie werke is nie ’n sweepslag nie.

Hierdie oproep is ingebed in die totale verlossing wat Christus skenk.

Die toewyding van jou lewe aan God, dat jy groei in heiligheid, dit is geen prestasie nie, maar dit is slegs moontlik danksy Jesus se voortdurende genade, leiding en beskerming van jou lewe.

Daarom is ons inspanning om goeie werke te doen ingebed in die klimaat van dankbaarheid.

Kort gesê: Aan jou opgawe gaan die gawe van Christus vooraf.

Om in die klimaat van dankbaarheid goeie werke te doen, beteken:

Ek besef dat ek niks anders meer kan of wil doen met my lewe nie as om dit dankbaar toe te wy aan Hom wat my bevry het.

Ek wil dat my lewe ’n loflied is op my Verlosser.

 

Dit bring ons by die volgende.

Wat word eintlik bedoel met ‘n klimaat van dankbaarheid?

Laat ek begin deur te sê dat dankbaarheid meer is as net ’n gevoel.

Dit is nie ’n swewerige saak nie.

Dis nie net dat jy jouself o so dankbaar voel nie.

Maar dankbaarheid is veral ’n houding.

’n Houding wat bestaan uit gevoel, denke en dade.

Dankbaarheid het hande en voete.

In verband hiermee het ons ’n gedeelte uit 1 Johannes gelees.

In hierdie brief praat Johannes baie oor die liefde.

Wat bedoel hy eintlik met die liefde?

Vandag se tyd loop oor van mensliewendheid.

Almal, en politici voorop, is so besorgd oor die mensheid, en hulle is veral so lief vir die armes, veral die armstes onder die armes.

Maar Johannes skryf oor die egte liefde.

Die egte liefde is nie ’n menslike eienskap nie.

Dit is die vrug van Christus se werk in jou lewe.

Egte liefde is om te stry vir God se wil, om sy gebooie te bewaar.

So beskryf Johannes dit.

Egte liefde weet van kruis dra agter Christus aan.

 

Ek noem in hierdie verband ’n paar aanhalings uit Johannes se brief:

“elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.” (1 Joh 2:5)

Dus, sê Johannes: liefde = om sy woord te bewaar.

Of vers 6:

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het”

Dus, liefde = wandel soos Hy gewandel het.

Of 1 Johannes 3:18:

“laat ons nie liefhê met woord of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”

Dus, liefde = nie net woorde nie, maar dade.

Of 1 Johannes 3:24:

“hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom.”

Dus, liefde = sy gebooie bewaar.

 

Gemeente, in hierdie eerste brief van Johannes vind ons tot vyftig keer die woord liefde, of liefhê.

Wie wil weet wat liefde is, moet dus hierdie brief lees.

Hierin vind ons die Bybelse visie, ja definisie, van liefde.

Die heel bekendste vers uit hierdie brief is seker hoofstuk 4:19:

“Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

Die liefde waaroor Johannes hier praat is nie net ’n gevoel nie.

Christus se liefde was nie net ’n gevoel nie.

Dit was bittere lyding, kruisdra, opoffering, gehoorsaam die pad stap wat die Vader Hom gewys het.

En die Vader se liefde was nie net iets swewerigs nie, dit was ’n bewuste keuse om sy eie Seun op te offer.

“Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.” (1 Joh 4:9-10)

Hierdie optrede, van Vader en Seun, is die goue standaard vir wat ware liefde is.

Hulle liefde is baanbrekend.

 

Johannes beskryf dit, en sy brief gee antwoord op die vraag: Hoe moet ons God liefhê?

God liefhê hou in dat ons dankbaar is vir die kruisoffer van sy Seun.

Hierdie dankbaarheid word sigbaar wanneer ons begin lewe volgens sy wil, soos Christus ons voorgeleef het in die manier hoe Hy die Vader se wil gehoorsaam gedoen het.

As dit nie by ons die geval is nie, kan jy jou mond vol hê van woorde soos liefde en dankbaarheid, maar dan is jou liefde onwaaragtig en kunsmatig.

Om God en jou medemens lief te hê, is nie iets swewerigs nie.

Dis nie net ’n gevoel nie. Dis nie net woorde nie.

Maar dit is so lewe soos sy gebooie voorskryf.

Dit is dus ’n werkwoord.

Wie God liefhet, spring aan die werk.

Nie uit vrees vir straf nie, maar uit dankbaarheid.

Johannes skryf: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in ...” (1 Joh 4:18)

Vir ons is daar geen rede meer om te vrees nie.

Christus het alle straf gedra.

Vir ons is daar net rede tot dankbaarheid.

Dankbaarheid kry hande en voete as jy volgens die gebooie leef.

Gewillig sing ons: Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer.

En deur sy Gees word ons in staat gestel om die liefde van Christus ook self in praktyk te bring, sodat ons lewe inderdaad anders lyk as die van die wêreld.

 

(Tema: Christus werk deur sy Gees ’n lewe van dankbaarheid

Dankbaarheid het hande en voete)

 

Dankbaarheid het ‘n doel

V/a 86 noem drie aandagspunte, hoekom ’n Christen se lewe anders moet lyk as die van ’n gemiddelde persoon.

Die eerste lê voor die hand.

Ons is dankbaar vir die weldade, en daarom wil ons die Here prys.

Die Here prys, dit doen jy trouens nie net op Sondag in die kerkdiens as jy sing nie.

Jy doen dit net so goed as jy elke dag werk, studeer, skool toe gaan, en daarin die HERE se diens en sy gebooie ernstig vat.

In 1 Thessalonisense 4:3 sê Paulus: “dit is die wil van God: julle heiligmaking.”

Dit beteken dat jy jou daaglikse lewe toewy aan die heilige God.

 

V/a 86 noem nog ’n doel hoekom ons goeie werke moet doen.

Naas God prys – die eerste rede – is dit ook om daardeur self sekerheid van my geloof te kry.

Dit klink dalk op ’n sirkelredenering, oftewel ’n hoender-eier diskussie.

Watter een was eerste?

Moet jy eers glo, en dan word die goeie werke vanself gebore?

Of moet jy eers goeie werke doen, omdat jy op so ’n manier begin glo?

Die Bybel leer ons dat die twee onlosmaaklik verbonde is.

Jy kan hulle nie skei nie.

Wie glo, is lus om goeie werke te doen.

Wie nie glo nie, is nie lus om goeie werke te doen nie.

En, as jy by jouself konstateer dat jy goeie werke doen, mag jy daaruit aflei dat jy glo.

As jy moeite het om goeie werke by jouself raak te sien, moet jy jouself afvra of jy wel glo.

Nogmaals, sowel geloof as goeie werke hoort in die klimaat van die dankbaarheid.

Hoekom glo jy?

Hoekom probeer jy jou hou aan die gebooie?

Dit is omdat jy dankbaar is.

Dit is nie ’n sfeer van angs, omdat jy bang is vir God nie.

Dit is nie ’n sfeer van onsekerheid, dat jy ander nie wil teleurstel, of dit nou God is, of jou ouers, of jou eggenoot, of jou ouderling nie.

Dit is nie ’n sfeer van twyfel nie, dat jy jouself afvra of dit wel waar is wat in die Bybel staan, maar dat jy dit tog maar doen, vir die wis en die onwis.

Maar hoekom glo jy?

Hoekom hou jy die gebooie?

God se wens is dat jy dit uit dankbaarheid doen!

’n Klimaat van dankbaarheid.

Jy hoef jou nie te gedra soos ’n kneg van God, wat bang is vir sy Baas nie.

Jy is ‘n KIND van God.

Jy mag jou gedra as ’n kind van God.

Ook daaruit kry jy sekerheid.

 

En dan nog die derde doel: om deur ons lewenswyse ook ander vir Christus te wen.

Mense wat nie glo en nie kerk toe gaan nie, het dikwels hulle redes hoekom hulle dit nie doen nie.

Dalk beoordeel hulle kerkmense en neem hulle halfslagtigheid waar.

Kerkmense sit dalk vroom in die kerk op Sondag, maar op Maandag staan hulle voor in die ry om hulleself te bevoordeel.

Mense wat sulke dinge sê, vir hulle sou jy kon vra:

Maar ken jy dan hoegenaamd geen Christen vir wie jy wel respek het nie?

Meestal ken elkeen dan wel ’n persoon wat opval deur sy lewenswandel.

Gemeente, die wêreld sien nie vir Christus nie, maar hulle sien wel vir u.

Van Maandag tot Saterdag, en ook op Sondag.

Die feit dat dit so sleg gaan met die kerk in baie Westerse lande, is omdat die sout laf geword het.

Die lewe van ’n deursnee Christen, ook in ons land, onderskei homself nie meer genoeg van ’n algemeen wêreldse lewe nie.

So maak jy jouself oorbodig.

Maar ’n Godvresende lewenswandel, soos die Kategismus dit verwoord, maak indruk, hoe dan ook.

As die kerk nie meer indruk maak op die samelewing nie, dan is die Godvresende lewenswandel van sy lede afwesig.

Gemeente, laat ons sorg dat ons lewe op orde is.

Christus het dit moontlik gemaak, gebruik dan ook sy gawes.

Dankbaarheid is naamlik nie net iets swewerigs nie.

Dankbaarheid moet hande en voete kry.

As God vir jou soveel kwytgeskeld het, kan dit nie anders nie as dat jy ook jou naaste wat jou iets skuld moet en sal wil kwytskeld.

As God jou soveel liefde bewys het, kan dit nie anders nie as dat jy dit ook vir jou naaste sal wil bewys.

Johannes skryf: “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons 'n gebod gegee het.” (1 Joh 3:23)

Liefde is ’n gebod, dis die kern van die wet: Jy moet die HERE jou God liefhê, en jou naaste soos jouself.

Christus het ons voorgeleef hoe, en sy Gees leer ons dit nou uit dankbaarheid ook doen.

 

Ons kom nou by die laaste vraag en antwoord van Sondag 32.

Op sig is dit ’n snaakse vraag, dis soos klop op ’n oop deur.

Dat ’n onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, geldgierige, dronkaard, lasteraar of rower nie die koninkryk van God mag beërf nie, dit is tog wel duidelik, of nie?

’n Bietjie oorbodige vraag, of nie?

Gemeente, eintlik is dit ’n vraag baie naby aan die werklikheid.

Want daar is telkens weer die neiging, in elke kerk, om die genade van Christus goedkoop te maak.

Asof God nie net die sondaar nie, maar ook die sonde sou liefhê.

Maar so is dit nie.

God haat die sonde.

En wie God liefhet, haat ook die sonde, en bely al sy sondes.

Voor God en voor mense.

Ons kan nie dieselfde bly nie.

Dis hoekom daar in die Bybel, en so ook in hierdie Kategismusantwoord, dikwels bepaalde sondes spesifiek by die naam genoem word.

Om veral duidelik te maak: wie nie daarmee breek nie, kan nie agter God se genade wegkruip nie.

 

Ons nuwe lewe in Christus lyk anders, dit is nie net mooi woorde nie, dit is sigbaar anders as ’n wêreldse lewe.

Johannes skryf:

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Joh 2:15)

In die tyd toe Johannes sy brief geskryf het, was dit maar net soos vandag.

Daarom, v/a 87 is nie oorbodig nie.

Dinge moet by die naam genoem word.

Daar is mense wie se huwelik nie meer is wat dit moet wees nie, ook deur eie skuld.

Daar is mense wat deur alle stress en traumas van die lewe aan drank verslaaf geraak het.

Daar is mense wat die suigkrag van slegte gewoontes onderskat het, en nou daaraan vassit.

En so kan daar nog baie voorbeelde genoem word.

Vir niemand van ons is dit ’n oorbodige vraag nie.

Dit hou elkeen van ons besig.

Ons besef: Ons lewe is nie altyd ’n advertensie vir Christus nie.

Ons besef dit maar al te goed.

Maar hoe bring ons hierin verandering?

Kan jy die roer nog omgooi?

Hoe kyk God na jou?

Het Hy jou ook al gebrandmerk as onverbeterlik?

 

Gelukkig ken ons ons Verbondsgod nie so nie.

Hy is die laaste wat ’n stieker op jou sal plak.

Hy is juis die Een wat graag sien dat jy oorlog verklaar teen die sonde waarin jy verstrik geraak het.

Al duur die stryd lank, Christus skryf nie ’n sondaar af nie.

Aan sy hand ervaar ons dat ons vorentoe kom, stappie vir stappie.

Daarom, al is die lewe gebroke, oorheers die dankbaarheid.

Soms maak ons dit moeilik vir onsself.

Ons wil nie die hulpmiddele wat God skenk, gebruik nie.

Ons is bang vir verandering.

Die duiwel fluister in jou oor dat die ergste wat jy kan doen, is om toe te gee, om jou skuld te bely.

Sal jou reputasie, jou hele wêreld dan nie instort nie?

Ons probeer staande te bly, van buite mooi te lyk.

Maar Christus sê iets anders.

In swakheid skuil jou krag.

Wie op sy knieë gaan, sak nie deur sy knieë nie, maar ontvang juis nuwe krag.

Gemeente, laat ons mekaar ondersteun en opbou in hierdie goeie stryd.

Gee jou sondes, jou slegtes gewoontes toe, erken dit.

Want dankbaarheid verdra geen dubbelhartigheid nie.

En dankbaarheid is nie net iets swewerigs nie.

En ons het mos die HERE lief, daarom wil ons goeie werke doen.

 

As jy daarop fokus, dan kom die dankbaarheid vanself.

En dis ’n dankbaarheid met hande en voete, want God se volmaakte liefde het hande en voete.

God se volmaakte liefde het ’n gesig, sy eie Seun ons Here Jesus Christus.

Die bevel tot dankbaarheid voer ons uit deur op Hom te fokus.

Hy het ons gekoop met sy bloed.

En nou is Hy met sy Heilige Gees besig om ons te vernuwe.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 30:3

Gebed

Skriflesing: 1 Johannes 2:3-6; 3:11-24; 4:7-21

Ps 50:7,8,10,11

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Preek

Ps 56:4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 138:1,2,4

Seën