‘n Sleutel gebruik mens om ‘n deur oop of toe te sluit.
Die meeste deure het ‘n slot.
Mens het ‘n sleutel nodig om in jou huis in te kom, in jou motor, in die skool, in die kerk, ensovoorts.
As dit goed is, pas daar slegs een sleutel op elke slot.
Mens kan natuurlik duplikate maak.
Sodat pa en ma en die kinders onafhanklik die huis kan inkom.
By ‘n motor kry mens meestal ook ‘n tweede sleutel, vir die geval dat jy jou sleutel per ongeluk in die kar toesluit.
Dit gaan dan oor twee presies dieselfde sleutels.
Tog bestaan daar ook deure waarvoor mens verskillende sleutels nodig het om hulle oop te kry.
Mens kan dink aan ‘n kluis.
Op sommige kluisdeure is daar twee slotte wat elkeen ‘n ander sleutel het.
Of binne die kluis is daar nog ‘n kluis met sy eie sleutel.
As mens die twee sleutels aan twee verskillende mense gee, beteken dit dat albei aanwesig moet wees as jy die kluisdeur wil oopkry.
Op hierdie manier kan voorkom word dat een van die twee in die geheim dinge uit die kluis sou vervreem.
Nou kan mens die koninkryk van die hemel ‘n bietjie hiermee vergelyk.
Want die deur na die koninkryk van die hemel het ook twee sleutels.
Die Here het die toegang tot sy koninkryk so ontwerp, sodat mense wat in die koninkryk van die hemel ‘n plek ontvang het, nie sommer deur die duiwel weggeroof kan word nie.
En aan die ander kant, sodat mense wat vyande is van die koninkryk van die hemel, nie sommer binne kan kom nie.
Tema: Jesus Christus het twee sleutels vir sy koninkryk ontwerp
1 Die eerste sleutel
2 Die tweede sleutel
1 Die eerste sleutel – verkondiging van die Evangelie
Hierdie uitdrukking – sleutels van die koninkryk – kan dalk by sommiges vervreemding of irritasie oproep.
Asof ‘n mens hulle in sy sak kan hê.
Asof een mens ‘n ander mens buite die koninkryk van Christus kan sluit.
Die laaste oordeel kom tog net aan Een toe?
Dink aan Openbaring 3:7, waar Jesus sê:
“Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie”.
As Jesus vir jou ja sê, dan kan niemand mos daartussen kom nie?
Maar gemeente, Jesus sê ook vir Petrus in Mattheüs 16:19:
“Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Jesus dra dus hier die mag aan Petrus oor – die bevoegdheid om te bepaal wie ingaan en wie buitegesluit word.
Twee hoofstukke verder, Mattheüs 18, word duidelik dat Petrus nie die enigste sleuteldraer is nie.
Daar is baie aan wie Jesus die sleutels oorhandig!
Ons lees daar oor die sogenaamde ‘weg van Mattheüs 18’ – ‘n weg van liefdevolle vermaan, wat persoonlik begin en indien nodig uitloop op die vermaan deur die hele gemeente.
Na aanleiding daarvan herhaal Jesus dan die woorde (vers 18):
“Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Hieruit blyk dat Christus aan sy gemeente ‘n belangrike bevoegdheid gegee het.
‘n Geweldige verantwoordelikheid.
En daarom is dit belangrik om goed op die hoogte te wees oor hoe hierdie sleutels hanteer moet word.
Om vir ‘n oomblik terug te verwys na die inleiding, dit maak natuurlik geen sin om as ‘n kluis twee slotte het, altwee sleutels vir een persoon te gee nie.
Dan kon mens net so goed ‘n gewone deur met net een slot gehad het.
Die beveiligde deur is slegs effektief as daar aan die afspraak gehou word.
So stel Christus ook instruksies vas vir die gebruik van hierdie twee sleutels.
Wat is Christus se instruksies met betrekking tot die sleutels van die koninkryk?
Uit die feit dat daar twee sleutels is, kan ons aflei dat Christus daarvoor sorg dat die sleutelmag nie net in die hande kom van een enkele ampsdraer nie.
Die sleutelmag is en bly die eiendom van die hele gemeente.
En Christus het ampsdraers oor sy gemeente aangestel om hierin leiding te gee.
Die kerkraad handel nie na eie insig, voorkeur of afkeur nie.
Die kerkraad is bewus van die feit dat dit uiteindelik Christus is wat oop- en toesluit.
Maar daarmee wag Christus nie tot op die jongste dag nie.
Ook nou in die hede is Christus daarmee besig.
Hy het die sleutelmag aan sy gemeente toevertrou.
U, jy is ook ‘n sleuteldraer.
In Mattheüs 18 kry jy ook ‘n belangrike taak.
Niemand, selfs nie die dooplede, kan hulle hieraan onttrek nie.
Ook julle jongmense moet hierdie twee sleutels gebruik.
Natuurlik word die verantwoordelikheid groter, na gelang van jou posisie in die gemeente.
As jy belydende lid word, word jou verantwoordelikheid swaarder.
En as jy ‘n ampsdraer word, word jou verantwoordelikheid nog swaarder.
Maar in beginsel is almal van ons sleuteldraers, wat daarmee kan oop- en toesluit.
Die eerste sleutel is, soos Sondag 31 noem, die verkondiging van die heilige Evangelie.
Hierdeur kry die prediking ‘n besondere dimensie.
‘n Ewigheidsdimensie.
Want in die prediking van die Evangelie gaan dit oor ewige heil en ewige verderf.
Gered word of verlore gaan.
Die suiwer prediking van die Evangelie kan maar net twee reaksies ontlok.
Of jy gee in geloof gehoor daaraan, of jy lê dit langs jou neer.
Die toehoorder van die Evangelie kan nie neutraal bly nie.
En volgens die getuienis van wat ons nou, in die hede, met die Evangelie doen, sal God ons oordeel in die toekoms.
Dit beteken dus dat die prediking nie net ‘n mensewoord is nie, nie net die mening van die dominee nie, nie net ‘n meditasie of oordenking nie, maar ‘n proklamasie.
Die koninkryk het naby gekom!
Bekeer julle en glo die Evangelie!
In 2 Korinthiërs 5 sê Paulus dat hy as dienaar van die Evangelie alles daaraan probeer doen om die mense te oortuig.
As daar gepreek word, gebeur daar iets wesenliks.
Jy ontmoet Christus in die krag van sy Gees.
Die sleutel begin om te draai.
Jesus lê sy hand op jou.
Hy plaas jou voor ‘n keuse.
Hy trek aan jou, die goeie kant op.
In die prediking word alles wat Jesus vir jou gedoen het, aan die orde gestel, uitgestal.
So skryf antwoord 84 byvoorbeeld:
Jy kry te hore dat al jou sondes waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is, so dikwels as wat jy die belofte van die Evangelie met ‘n gelowige hart aanneem.
Antwoord 84 wys verder daarop dat die mens nie soos ‘n robot is nie.
Hy is nie vooraf deur God geprogrammeer nie.
Die verkondiging van die Evangelie stuur aan op ‘n keuse van die mens.
Alles word daaraan gedoen dat die keuse positief sal wees.
Maar die mens word nie gedwing nie.
Hulle wat kies om ongelowig te bly, of die huigelaars, die wat nie ernstig is nie, die toneelspelers in die kerk, hulle kry te hore dat die toorn van God en die ewige oordeel op hulle bly, solank hulle hul nie bekeer nie.
Gemeente, hierdie harde woorde vorm deel van die Evangelie.
Sodat elkeen weet waaraan hy toe is.
Sodat, as hy die Evangelie van die hand wys, hy weet wat die konsekwensies sal wees.
Die prediking is dus nie vryblywend nie.
Dit behoort ‘n impak te hê op die houding waarmee ons daarna luister.
Dit behoort ook ‘n impak te hê op die houding waarmee ‘n prediker op die preekstoel staan.
Dit gaan oor sake van lewe en dood.
Hierdie is ‘n sleutel, wat inderdaad oopsluit, of toesluit.
Dit kan ewig oopsluit, dit kan ook ewig toesluit.
2 Die tweede sleutel – die kerklike tug
Die tweede sleutel, die kerklike tug, werk in omgekeerde rigting.
Eers word toegesluit, met die bedoeling om hopelik so gou moontlik weer oop te sluit.
Nou is die instruksies vir die gebruik van hierdie sleutel nogal uitgebreid.
Die gemeente en die kerkraad, wat hierdie sleutel ter hand neem, moet hulle goed bewus wees waarmee hulle besig is.
Dit kom mens goed agter uit die lang antwoord 85.
Daar word gepleit om baie omsigtig met hierdie sleutel te werk te gaan.
Die bedoeling van hierdie sleutel moet mens goed besef, voordat jy dit begin gebruik.
Dit gaan nie daaroor dat jy iemand afskryf nie.
Die woord ‘tug’ is afgelei van die woord ‘trek’.
Etimologies gaan dit selfs terug op ‘n woord wat opvoed beteken – trek in die goeie rigting.
Die tug het ‘n opvoedkundige karakter.
Om ‘n voorbeeld te noem.
Toe ek op laerskool was, het dit soms gebeur, as mens lastig was in die klas, dat die juffrou gesê het:
Gaan staan jy maar ‘n rukkie op die gang.
Mens is dan as ’t ware buitegesluit.
Na ‘n rukkie het die onderwyser jou weer kom roep.
Of as dit te lank geduur het, het jy self versigtig op die deur geklop.
As die onderwyser oopmaak, het jy gesê dat jy jammer is.
Dan mog jy weer inkom.
Eintlik is dit die bedoeling dat die tug ook so in die kerk funksioneer.
Om iemand tot besinning te bring.
Daarom, al werk hierdie sleutel in die eerste plek in die rigting van uitsluit, hou mens die sleutel byderhand om so gou moontlik – hopelik – weer te kan oopsluit.
As Paulus in 1 Timotheüs 1:20 sê dat hy twee broeders aan die Satan oorgegee het, blyk dit dat hy dit gedoen het met die hoop dat die twee vinnig sou agterkom dat ‘n lewe saam met die Satan iets verskrikliks is, en dat hulle met berou sou terugkeer.
Dit is ook die strekking van wat Jesus sê in Mattheüs 18, die sogenaamde ‘weg van Mattheüs 18’.
Die klem val hier op die persoonlike broederlike tug.
In die kerk trek ons aan mekaar.
Uit liefde laat ons mekaar nie met rus nie.
En eers in allerlaaste instansie lei dit tot werklike uitsluiting uit die gemeente.
Nou het ek al genoem dat dit nie net een persoon is wat hierdie sleutel in sy sak dra nie.
Die hele gemeente is sleuteldraer.
Dit gaan dus oor ‘n verantwoordelikheid waarin jy ook deel.
Ons begin nie by ‘n ander nie, maar by jouself.
En dit is eintlik mooi.
Want as jy so na die tug kyk, dan hoef mens nie bang te wees vir die tug nie.
Die tug is nie om ‘n sondaar af te skryf nie, maar juis om die sondaar te behou.
Ons hou mekaar vas, ons is saam op weg na die koninkryk van Christus.
Ons beskerm die nuwe lewe – die wedergeboorte – wat die Heilige Gees in ons harte geplant het.
Ons begin nou al met die nuwe lewe.
Ons bewaak die voortgang van hierdie proses, sodat hierdie nuwe begin by elke gemeentelid voortgang vind.
Nogmaals, ons mag by onsself begin.
As dit die doel van die tug is, hoef ons nie bang te wees nie.
Jy kan oop en vrymoedig wees, ook oor jouself.
Sê nou maar, byvoorbeeld, jy het probleme in jou huwelik.
Dan is dit, vanuit hierdie visie op die tug, nie iets om teen op te sien om jou probleme met ander te deel nie.
Jy hoef nie jou swakpunte angsvallig weg te steek nie.
Dan maak jy dit net vir jouself moeiliker.
Die tug is nie bedoel om iemand te verneder nie.
Die tug is bedoel om verder te help, om te werk rigting ‘n oplossing.
En dan moet ons nie net aan die tug dink as afhouding van die nagmaal, en die afkondiging van name nie.
Dit moontlik ook, maar hopelik nie.
Tug is primêr dat dit begin met ‘n onderlinge gesprek, die opbou van mekaar.
En dit vanuit die uitgangspunt dat ons almal sondig is.
Sê nou maar jy het ‘n alkoholprobleem.
Dan is dit vir die duiwel uitstekend as dit verborge bly, want dan moet jy steeds verskonings uitdink, en so vermeerder jy jou sondes.
Maar as jy dit bespreekbaar maak, kies jy die pad na ‘n oplossing.
Sê nou maar jou hormone het jou gedryf dat jy te ver gegaan het in jou verhouding.
Ook dan geld dat wie dinge verberg, die skuld vermeerder, en jy maak jouself kwetsbaar vir herhaling.
Wie skuld bely, vind ontferming.
Jy kan ook so opgaan in jou stokperdjie, of dalk in jou beroep, dat dit jou kerkbesoek negatief begin beïnvloed.
Ook dan is dit pragtig as jy dit met iemand kan bespreek.
Daarvoor gee God ons vir mekaar.
Ons is almal sondaars, ons help mekaar op pad na die ewige lewe.
In hierdie gesindheid gaan ons met mekaar om.
Ook as jy hierdie sondes by ‘n ander broer of suster sien.
In die goeie sin van die woord laat ons mekaar nie vry nie.
Want dit sou beteken dat jy sou staan en toekyk hoe iemand besig is om verstrik te raak in die nette van die Satan.
Net soos ‘n spinnekop sy prooi toespin.
Die prooi kan hoe langer hoe minder beweeg.
As daar nie hulp van buite af kom nie, is dit gedaan.
Hiervoor het Christus dus die tweede sleutel ontwerp.
Veelbetekenend vind ons in vraag 85 nie net die woord toesluit nie, maar ook die woord oopsluit.
Die bedoeling is nie om van iemand ontslae te raak nie.
Die bedoeling is om iemand deur hierdie ingrypende maatreël tot besinning te bring.
Verder is die bedoeling ook om die gemeente teen infeksie te beskerm.
Sê nou maar daar is iemand in die kerk wat in sonde lewe, of wat ‘n dwaalleer voorstaan.
As so ‘n persoon vrygelaat word om sy mening te verkondig, en ander kerklede hoor dit en die kerkraad doen niks daaraan nie, dan dreig die gevaar van infeksie.
Sê nou maar ‘n gemeentelid is gereeld dronk, en dit word oogluikend toegelaat, dan tas dit die gesondheid van die hele gemeente aan.
Kerklede wat dit sien, behoort die betrokke persoon daarop aan te spreek.
Ons moet die persoon met liefde help om daarvan af te kom.
Mog die persoon by herhaling nie luister nie, mag dit nie daar bly nie.
Dan moet daar verder hulp gesoek word, by ander medegelowiges, en by die kerkraad wat oor die gemeente aangestel is.
Wanneer die persoon die gesprekke met die ampsdraers langs hom neerlê, dan volg afhouding van die sakramente.
In die uiterste geval kom die kerklidmaatskap in gedrang.
Die bedoeling hiervan is dus om deur liefdevolle bemoeienis die persoon weer op die regte pad te help.
En sorg te dra vir die gesondheid van die hele gemeente.
In die Bybelboek 3 Johannes, wat ons gelees het, sien ons dat Johannes hom veral deur hierdie motief laat lei – die gesondheid van die gemeente.
Johannes noem in vers 9 die naam van ‘n persoon – Diotrefes.
‘n Man wat al meerdere male liefdevol vermaan is, gehelp is om weer op die regte pad te kom, maar wat tog bly volhard het.
By Diotrefes was die negende gebod ter sprake.
Diotrefes het lelik gepraat, met slegte woorde teen Johannes uitgevaar (vers 10), met die bedoeling om sy naam skade te berokken.
Hy het die apostel se naam swartgesmeer.
Meerdere kere is daar al met hom gepraat dat hy moes ophou, omdat die hele gemeente op hierdie manier skade ly.
Wie by herhaling die liefdevolle vermaning langs hom neerlê, sy naam moet vermeld word, soos Johannes in hierdie brief doen.
So word die gemeente teen infeksie beskerm.
Deur sy naam te noem, word sy slegte invloed geïsoleer.
Daar is nog een saak waaraan aandag geskenk moet word.
En ek wil hê dat elkeen hier in die kerk hierdie vraag baie eerlik vir homself, of haarself moet beantwoord.
Toe jy belydenis van geloof afgelê het, toe het jy op die volgende vraag ja geantwoord:
Beloof u om as ‘n lewende lid die bediening van Woord en sakramente ywerig te soek, u gawes gewillig en met vreugde aan te wend, en u aan die Christelike vermaning en tug sal onderwerp, as u in leer of lewe u misgaan?
My vraag aan elkeen van ons vanaand is:
Staan jy nog steeds by hierdie belofte?
Of het jy dalk te maklik ja gesê, destyds?
Is ons nie te gou geneig om ons nie daaraan te onderwerp nie, maar eerder daar onderuit te kom, hetsy deur die ampsdraer se naam swart te smeer, hetsy deur ons aan die gemeente te onttrek?
Menslik gesproke is dit eintlik gerieflik, dat daar, in hierdie groot stad waarin ons woon, nog baie ander ‘kerke’ is, waarna mens kan uitwyk.
En andere kerke is maar te bly om nog bietjie mense by te kry.
Broer, suster, wat gaan jy doen, as daardie dag vir jou aanbreek?
Want laat ons eerlik wees, daardie dag sal vir elkeen van ons kom.
Daar is niemand van ons wat sonder vermaning deur die lewe kan gaan nie.
Maar met watter houding gaan jy die vermaning aanvaar?
Gemeente, dit is ‘n onding as mense van die een kerk na ‘n ander skuif om onder vermaning uit te kom.
Dus weer eens die vraag: Is ek bereid om my aan die vermaning en tug te onderwerp?
Staan ek nog by my belofte?
Dit is Christus se oproep aan jou vanaand.
Christus aanvaar dit nie as jy sy gemeente soos ‘n supermark behandel nie.
Jy kom kry waaraan jy behoefte het, en as iets jou nie aanstaan nie, dan beweeg jy aan.
Christus het jou deel van ‘n liggaam gemaak, onafskeidelik.
Jy kan en mag jouself nie aan die opsig en tug onttrek nie.
In hierdie preek het dit gehandel oor die gebruiksaanwysings by die twee sleutels van die koninkryk van die hemel.
Twee sleutels wat Christus ontwerp het.
Ons proe daarin sy liefde en sorg vir sy gemeente, vir elke lidmaat.
Daardeur beskerm Hy ons as burgers wat vir sy koninkryk uitverkies is.
Hierdie is, het ons gesien, twee sleutels wat ons almal moet gebruik.
Christus het dit aan elkeen van ons gegee.
Daarom moet ons almal die gebruiksaanwysings ken.
Hierdie twee sleutels is nodig, omdat daar op aarde steeds ‘n geestelike stryd woed.
In hierdie bedeling moet deure nog slotte hê.
Hierdie slotte, waarvan Christus die sleutels aan sy gemeente skenk, is vir ons baie kosbaar.
Christus se bedoeling is om met hierdie sleutels so veel moontlik mense in sy koninkryk te kry.
Almal wie die Vader aan Hom toevertrou het.
En om hulle te beskerm, sodat die duiwel hulle nie kan terugroof nie.
Alle dank en lof aan ons Saligmaker vir hierdie sleutels!
Amen.
Votum
Seën
Ps 118:9
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 16:13-20; 18:15-20; 3 Johannes 1
Ps 51:1
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 31
Preek
Sb 43:1-6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 63:4-6 (lees vers 6)
Kollekte
Sb 45:11,12
Seën