Die krag van Christus breek die toekoms oop

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-09-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 22
Preek Inhoud: 

Iemand het ’n keer die vraag gevra:

Waarmee kan mens die ewige lewe die beste vergelyk?

Kan jy aan iets dink waarvoor jy in ewigheid nooit moeg sal raak nie?

Want ook van die allerlekkerste dinge kry mens op ’n stadium genoeg.

Wie elke dag sjokolade kan eet soveel as hy wil, sal dit spoedig dit nie meer kan uitstaan nie.

Wie elke dag soveel geld kan uitgee as hy maar wil, sal al gou nie meer weet wat om met sy geld te doen nie.

Van alles kan mens moeg word, veral as mens te veel daarvan kry.

Maar wat dan van die ewige lewe?

Sal mens nooit daarvoor moeg word nie?

Sommige mense in hierdie lewe wat baie oud word, raak ook afgeleef en verlang eintlik om te sterf.

Hoe werk dit met die ewige lewe?

Die kerkvader Augustinus het die ewige lewe ’n keer vergelyk met gesond wees.

Van gesond wees kry ’n mens nooit genoeg nie.

As mens gesond is, kom jy altyd tyd te kort om te doen wat jy wil doen.

Maar as jy siek is, duur die dae al gou te lank.

Gesond wees, daarin proe mens iets van die ewige vreugde.

 

Tema: Die krag van Christus breek die toekoms oop.

  • Hy sal die grafte oopbreek
  • Hy laat die ewige lewe aanbreek

 

Hy sal die grafte oopbreek

In Sondag 22 word die mens onderverdeel in liggaam en siel.

Is dit wel ’n korrekte mensbeeld?

Kom ons kyk wat sê die Bybel.

In Mattheüs 10 sê Jesus:

“moenie vrees vir die wat die ligaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie” (vers 28).

Ons lees hier duidelik oor ’n liggaam en ’n siel.

Die Bybel gebruik die woord ‘siel’ in verskillende betekenisse.

Soms om die lewe as sulks aan te dui, soms om jou persoonlikheid aan te dui, soms jou gevoelens.

As ons hier in Mattheüs die woord ‘siel’ vind, word daar nie gedink aan iets wat sonder sonde is nie.

Inteendeel, Jesus waarsku dat jou siel ook in die hel tereg kan kom.

Jesus bedoel hier jou lewe, daardie deel van jouself wat jou liggaam verlaat by sterwe.

Hieroor praat Jesus ook as Hy in Mattheüs 16 sê:

“Wat baat dit ’n mens, as hy die hele wêreld wen, maar skade ly aan sy siel?” (vers 26)

Hy kan liewers beter vir homself sorg, of anders gesê, ’n skat opbou in die hemel.

Die siel van ’n mens is dus net so sondig as sy liggaam.

Dit is net soos die liggaam ook deur God geskape.

Dit kan net so min as die liggaam sonder die verlossingswerk van Christus gered word.

Sonder die krag van Christus gaan ’n mens met liggaam en siel vir ewig verlore.

 

Ons kom nou by ’n volgende punt:

Wat gebeur daar met ’n mens – met sy siel – as hy sterf?

Sondag 22 sê:

My siel word na hierdie lewe dadelik tot Christus opgeneem.

By sterwe gebeur daar dus iets wesenliks.

Wie aan Christus behoort, word onmiddelik tuisgehaal.

Wie nie, sy siel gaan verlore.

Dit is dus nie dat as iemand sterf, daar niks oorbly, daar daar ’n soort sieleslaap intree nie.

Of dat iemand – soos die Roomse kerk leer – in die vaevuur beland.

Nee, daar gebeur iets wesenliks – die beslissende oomblik het aangebreek.

In Lukas 23 lees ons dat die Heiland teen die misdadiger langs Hom aan die kruis sê:

“Voorwaar, Ek sê vir jou, vandag sal jy met My in die paradys wees.” (vers 43)

Dus nie na ’n korter of langer reinigingsperiode nie, Jesus sê: vandag!
In Lukas 16 vertel Jesus ’n gelykenis:

En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die skoot van Abraham.

Ook die ryk man het gesterf en is begrawe.

En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smare was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus – die bedelaar – by hom.

’n Beslissende oomblik van of redding of ondergang vind by sterwe plaas.

Elkeen wat by Christus skuil word op daardie oomblik bevry van sonde en ellende en gebrokenheid, en kom daardie selfde dag aan by God in die hemelse saligheid.

Daarom dat sommige Christene in die vroeë kerk die gewoonte gehad het om die sterfdag van hulle mede-gelowiges te onthou as hulle geboortedag.

 

Daar is nog meer tekste in die Bybel wat ons van hierdie heilsfeit verseker.

In 2 Korinthiërs 5 lees ons:

“Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” (vers 1)

In hierdie vertroue kan ons Psalm 73 sing:

“U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.” (vers 24)

Die dooies, wat in Christus geglo het, gaan deur sy krag na Hom toe.

Hulle siel word dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem.

 

Maar nie net dit nie.

Die Kategismus sê ook:

My liggaam sal aan die verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig word.

Weer eens is dit deur die krag van Christus dat daar ’n opstanding van die liggaam bestaan.

Sonder Christus is dit nie moontlik nie.

Hy het gekom om God se plan van redding, sy heilsplan, op aarde werklikheid te laat word.

Dit wil nie sê dat dit vir die mense uit die Ou Testament te laat is, omdat hulle Jesus nog nie persoonlik geken het nie.

Ook in die Ou Testament vind ons die vaste geloof in die opstanding uit die dood, die wete dat God by magte is om die dooies weer lewend te maak.

God wat belowe het dat alles weer sal regkom.

Dink aan wat Jesaja oor die HERE sê:

“U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon!” (Jes 26:19)

 

En ook in die Ou Testament staan reeds dat God ’n skeiding sal aanbring tussen gelowig en ongelowig.

Dink aan wat die Here vir Daniël sê:

“En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Dan 12:2)

En God gee Daniël die troosryke versekering:

“En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae’ (Dan 12:13).

 

By Christus mag ons wees tot die jongste dag.

Soos Job sê:

“Maar ek ... weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou. Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë – en geen vreemde nie – sal sien” (Job 19:25-27).

Net so getuig ook Martha oor Lasarus:

“Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” (Joh 11:24)

 

Die spesifieke woorde wat ons in Sondag 22 vind, is aangehaal  uit Filippense 3:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Fil 3:20-21).

So het Christus ook die Sadduseërs weerspreek wat nie in die opstanding geglo het nie, Mattheüs 22:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt 22:29)

Ja die krag van God, die krag van Christus, breek die grafte oop.

 

Watter troos gee die opstanding van die vlees aan jou, vra die Kategismus?

Die woordjie troos impliseer dat daar sprake is van verdriet.

Inderdaad.

Die Bybel praat nie mooi woordjies oor die dood asof dit eintlik maar by die lewe hoort nie.

Die dood bly vir elke mens, ook vir ’n Christen, die laaste vyand.

Soos daar staan in 1 Korinthiërs 15:

Daar word gesaai in oneer.

’n Begrafnis is ’n droewige gebeure.

Maar deur ons trane heen sien ons uit na die jongste dag.

 

In Korinthiërs kan ons lees dat sommige Christene aan die opstanding van die liggaam begin twyfel het.

In daardie tyd, met die oorheersende Griekse denke, was dit inderdaad ’n struikelblok.

Die liggaam sou slegs ’n omhulsel van die siel wees.

Die Griekse filosofie het die mense aangepraat dat dit eintlik beter is dat die liggaam nooit meer terugkom nie.

Dink maar wat Paulus ervaar het in Athene, by die Areopagus.

Toe hy begin praat oor die opstanding van die liggaam, het hulle begin spot (Hand 17:32).

As Christene beklemtoon ons: Die mens se liggaam het ook waarde.

Siel en liggaam hoort by mekaar.

 

Paulus kon maar net na Christus verwys:

Het Christus dan nie ook liggaamlik opgestaan nie?

God is by magte om ’n dooie liggaam op te wek.

As mense dink ons so gou te min van God se krag.

As jy twyfel, herhaal vir jouself net soos Jesus die Sadduseërs vermaan het:

Julle dwaal, julle ken nie die Skrifte nie en ook nie die krag van God nie.

 

As jy baie siek is en om te lewe het swaar geword,

Of as jy oud is en besef dat jy een of ander tyd sal moet sterf,

Of as jy jonk is en besef dat ook jong mense onverwags uit die lewe weggeruk kan word,

dink dan aan Psalm 16:

“Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon” (Ps 16:9)

Ons weet dat ons direk sal tuiskom by Jesus.

En moenie bang wees dat jy nie tuis sal voel daar in die hemel, omdat dit dalk ‘n vreemde en onbekende plek is nie.

Inteendeel, as jy hier op aarde in God se huis tuisgevoel het, dan sal dit in die hemel ook so wees.

As God in jou daaglikse lewe vir jou ’n bekende was, in jou gebede, in jou Bybellees, in jou gedagtes van elke dag, dan hoef jy regtig nie daarteen op te sien om na die Here te gaan nie.

Dit sal inderdaad so voel, dat jy tuiskom.

As kleingeloof jou bekruip, sing Ps 16:

“Bewaar my, o God, want by U skuil ek ... U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.” (Ps 16:1-2)

 

(Die krag van Christus breek die toekoms oop.

  • Hy sal die grafte oopbreek)

 

Hy laat die ewige lewe aanbreek

Die Bybel het ’n spesiale bedoeling as die woorde lewe en dood soms vir ons gevoel op ’n eienaardige manier gebruik word.

Soos Jesus ’n keer gesê het:

“Laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” (Luk 9:60)

Of dink aan wat Paulus skryf aan die Efesiërs oor die tyd voordat hulle begin glo het:

Julle was toe dood in julle misdade en sondes, waarin julle toe gelewe het.

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het julle lewend gemaak met Christus (Ef 2:4-7).

Dink ook aan wat Jesus sê in Johannes 5:25:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.”

Dus toe die Here daar staan het praat, het daar dooies gestaan en luister, en sommiges van hulle het begin lewe.

Sulke dooies was daar ook in Efese, maar deur die evangelieprediking het hulle tot lewe gekom.

Die Heilige Gees het in hulle ’n nuwe lewe geskep.

Dis hoekom die prediking van die Evangelie in Romeine 1 ’n krag van God tot saligheid genoem word.

Eenvoudig gestel: Luister na die woorde van Jesus, en dooies begin te lewe.

Soos Jesus self sê in Johannes 5:24:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”

In hierdie lewe is mense dood, maar hulle begin lewe deur sy Woord.

Die ewige lewe begin dus in hierdie lewe.

Maar wie sonder God lewe, begin in hierdie lewe al met die ewige dood.

Wie nie na God, die bron van die lewe, wil luister nie, begin nou al met die ewige dood.

Die dood is verskriklik erg, dat ’n mens, so mooi deur God geskape, moet vergaan.

Maar die tweede dood is veel erger.

Van die tweede dood is daar geen weg terug na die lewe nie.

Maar niemand kom per ongeluk in die tweede dood tereg nie.

Die tweede dood is die gevolg van ’n jarelange volgehoue beslissing om teen God te kies.

Daardie beslissing word in hierdie lewe geneem.

Die skeiding word in hierdie lewe al sigbaar.

As jy die onverganklike saad van die Evangelie aanneem, hoef jy nie meer vir die tweede dood bang te wees nie.

Want Christus sal ons vashou.

En die nuwe lewe begin nou al, al is dit slegs ’n voorproefie.

Vreugde word in hierdie wêreld altyd gedemp deur sonde, verdriet, gebrokenheid, gemis.

Nooit kan mens werklik volop van iets geniet nie, altyd is daar êrens wel ’n skaduwee.

Maar op die nuwe aarde word dit dus anders.

 

Die Kategismus praat oor volkome saligheid.

As nie net die gevolge van die sonde opgeruim word nie, maar die sonde self ook verdwyn.

Sommige mense maak dit af as dromery, wensdenkery.

Maar ons voel daardie krag nou al in ons werk.

En wie die Evangelie lees, besef dat niks vir God onmoontlik is nie.

Dit styg wel bo ons verstand uit.

Daarom beklemtoon die Kategismus:

Wat geen oog gesien, geen oor gehoor, en wat in die hart van geen mens opgekom het nie ...

Die Bybel openbaar kennis oor wat sal gebeur na die dood.

Geen mens kan iets daaroor vertel nie.

God se Woord lei ons egter op paaie wat onbegaanbaar is vir die menselike verstand.

Paaie waarmee geen mens wat nog in hierdie lewe is, enige ervaring het nie.

Ons word binnegelei in ’n wêreld wat, soos dit hier letterlik staan:

Geen lewende menseoog gesien het, geen lewende menseoor gehoor het, en in geen mensehart opgekom het nie.

 

Die Kategismus het hierdie uitdrukking oorgeneem uit 1 Korinthiërs 2:9:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

En Paulus ontleen die woorde op sy beurt aan Jesaja, waar ons die pragtige uitspraak hoor:

“Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ’n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.” (Jes 64:4)

’n Lewende God, teenoor dooie afgode wat niks doen vir die wat hulle dien nie.

 

Die ewige lewe styg uit bo die begripsvermoë van die mensdom.

Maar wie na God se Woord luister, kry wel ’n voorskou van die nuwe hemel en aarde.

Die Bybel laat ons iets proe van daardie wonderskone werklikheid.

Die werklikheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor, en in geen mensehart opgekom het nie.

Ons leer ook dat dit wat nou mooi om ons heen is in die skepping, nie verlore sal gaan nie, maar selfs vernuwe en nog skitterender sal word.

Daar is kontinuïteit.

Dit wat vandag goed en edel en mooi is sal behoue bly.

Maar wat sondig en opstandig is, sal verlore gaan.

Dink u soms daaraan, broer en suster?

Aan die skitterende werklikheid van die ewige lewe?

Dink maar daaraan, as jy weer ’n pragtige sonsondergang sien.

Dink daaraan, as jy die nuwe lenteblare en -bloeisels sien.

As jy met vakansie is, en dit voel of die skepping jou oorweldig.

Dink aan die ewige heerlikheid.

Dit is die troos, waaroor die Kategismus praat.

 

Vreugde in hierdie lewe is altyd gemeng met verdriet.

Vreugde is van korte duur.

Maar dit sal anders word.

Wie volhard in die geloof, sal alles beërwe.

Ons hou moed, want die lyding van die teenwoordige tyd weeg nie op teen die heerlikheid wat aan geopenbaar sal word nie (Rom 8:18).

 

En dan, ten slotte, gee Sondag 22 die hoofrede vir ons bestaan: “om God ewig daarin te prys”.

Hierdie paar woorde bevat ’n hele lewensbeskouing

Wat is die rede dat daar lewe is op die planeet aarde?

Dis ’n vraag waaroor geleerdes hulle lewe lank nadink.

Maar ons is nie onseker hieroor nie.

Ons lewe om te loof!

Ons lewe om God ewig te prys.

Dis die rede hoekom alle dinge bestaan.

Dis die rede hoekom God alles geskape het, en nog steeds skep, ook hier op die planeet aarde en in die res van die heelal.

Dis die rede hoekom God besig is om ’n nuwe hemel en aarde te herskep, na alles wat fout geloop het.

Ons lewe om te loof.

Dis die Christelike lewensbeskouing in ’n neutedop.

Alle dinge is deur God geskape om Hom te loof.

Blomme loof God met hulle stille skoonheid.

Berge prys God met hulle ewige standvastigheid.

Die hele natuur, ook storms en orkane, vulkaniese berge, aardbewings, hulle getuig van die almag van die Skepper.

Diere, plante en mense is ’n bloudruk van sy grootheid en goedheid.

Hierin vind ons dan ook ons doel vir die lewe.

Deur te lewe in ooreenstemming met hoe ons geskape is.

Daarin vind ’n skepsel sy optimale lewenskwaliteit.

In die loof en prys van sy Skepper.

God het alles in harmonie geskape.

Skepper en skepsel is in harmonie.

Die geluk van die skepsel verhoog die geluk van die Skepper.

En die aanbidding van die Skepper maak die skepsel se lewe gesond.

’n Model van harmonie, nie van kompetisie nie.

Dit lê aan die basis van die hele skepping.

Hierdie harmonie is geskend.

Maar God wil dit herstel, en Hy is daarmee besig.

 

So eindig die Apostoliese Geloofsbelydenis met ’n heerlike vooruitsig.

Die ewige lewe, die skepping wat herstel is.

God ewig loof en prys.

Skepsele wat in harmonie met hulle Skepper leef.

’n Gesonde verhouding, konstruktief, die een se blydskap verhoog die ander se blydskap.

Kan mens ooit moeg vir soiets word?

Dis soos die ou kerkvader Augustinus gesê het:

Vir gesond wees raak mens nooit moeg nie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 63:1

Gebed

Skriflesing: Daniël 12:1-3 & 13; Mattheüs 22:23-33; Johannes 5:24-29

Ps 73:10-11

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Preek

Ps 16:1,4,5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 23:1-4

Seën