Vandag begin ons 'n nuwe reis. 'n Reis waar ons God hopelik nog meer volledig en dieper, in al sy heiligheid, heerlikheid, oordeel en genade kan ervaar. Want hierdie boek gaan oor God. Die hele Bybel gaan oor Hom. Maar hierdie boek het deur die eeue die kerk se aandag getrek. Dit is die prins van die profete genoem. Ek dink een van die grootste redes hiervoor is dat dit vol van die evangelie is. Jesaja word 66 keer direk in die Nuwe Testament aangehaal, net die Psalms word meer (79 keer) aangehaal. Daar is 348 toespelings op Jesaja in die Nuwe Testament, meer as enige ander Ou-Testamentiese boek, insluitend die Psalms (waarna 333 keer verwys word).
Ons staan aan die begin van 'n wonderlike reis om, miskien vir die eerste keer, die heerlikheid van God, sy goedheid, sy geregtigheid, sy genade en sy liefde vir sy kinders deur Jesus Christus te ontdek. Ja, ons Here se Naam word nie een keer in hierdie boek genoem nie, maar diegene wat Hom nie op die bladsye van hierdie boek sien nie, het oë, maar sien nie; het ore, maar hoor nie; het harte, maar verstaan nie.
Wat ek wil doen, is om net in baie breë trekke te praat oor die profeet, die boek, die tyd en sy boodskap.
Die skrywer
Jesaja beteken "Redding van die Here". 'n Pragtige naam wat sy boodskap opsom. Hy is geroep om 'n profeet te wees 'in die sterfjaar van koning Ussia' (6:1), d.w.s. in 740/739 vC; sy laaste verskyning wat met sekerheid gedateer kan word, was ten tyde van Sanherib se veldtog in 701 vC. Maar die meeste geleerdes dink dat hy ondergronds gewerk het tydens die bewind van Manasse in 681 omdat hy die dood van Sanherib aanteken. Volgens oorlewering is hy tydens Manasse se bewind in twee gesaag in 'n hol boom waar hy weggekruip het.
Hy was waarskynlik 'n skrifgeleerde in die paleis en waarskynlik selfs verwant aan die koninklike familie. Dit sou die gemak waarmee hy in en uit die paleis gaan, verklaar.
Maar sy grootste eer en grootste las was dat hy 'n man was wat persoonlik deur God geroep is, vervul met die Gees van Christus om woorde van oordeel en van vertroosting aan God se volk te bring – terwyl hy hulle wys op die horison van die koms van die Messias – en die koms van sy koninkryk. Dit gaan daaroor dat God werk deur een mens – genaamd Jesaja – en sy agtergrond en sy karakter gebruik om sy woorde op die bladsye van die heilige Skrif te skryf.
Liewe gemeente – dit is die woord van God gespreek deur mense, soos wat die Gees hulle meegevoer het, sodat die verse tot hulle eie geslag en hulle eie tyd kon spreek en hulle op die Verlosser en die noodsaak vir Hom kon wys. En terselfdertyd is daardie tydgebonde boodskap tydloos – om met God se kinders deur alle eeue heen en op alle plekke te praat terwyl hulle die geheimenisse van Christus ontvou en in volwassenheid in Hom groei.
Dit bring ons by 'n verwante bespreking – wat volgens my baie belangrik is. Daar is vandag so baie mense wat sê dat Jesaja nie die hele boek kon geskryf het nie, want wat in hoofstuk 40-66 gebeur, gebeur ten minste honderd jaar na sy dood. Baie profete voorspel die geskiedenis – maar hierdie profeet praat met 'n volk wat nog ongebore is!
En hy doen dit inderdaad! Ons weet dit is nie in die eerste plek deur Jesaja geskryf nie, maar deur God – en God ken die toekoms! Dit is immers waaroor Jesajagaan! Dat God die God van die toekoms is. Hy is soewerein oor elke koning en koninkryk, elke slagveld en oorlogsbeplanning! Die punt is dat ons Hom kan vertrou. O, as ons Hom maar net wou vertrou. Jesaja praat met 'n volk ten minste 100 jaar in die toekoms – sodat die volk in die hede kan weet dat God regeer en die volk in die toekoms kan sien dat Hy die God is wat nooit in sy beloftes faal nie!
God lei alle dinge na dit waarvoor Hy dit gemaak het – dit is sodat Hy verhoog en verheerlik en vir ewig deur sy volk geniet kan word! Die soewereine Een wat die hele geskiedenis lei na die koms van sy Seun – en na sy ewige heerskappy
In die hele kerklike tradisie word gesê dat Jesaja die outeur van die hele boek is. In boekrolle van tweehonderd jaar voor Christus staan die boek onder een skrywer. En die hele boek het deurgaans soortgelyke temas, hoewel dit aan verskillende mense gerig is. Hierdie boek is 'n diepgaande eenheid, wat pragtig inpas in die hele Skrif, saamgeweef om vir ons 'n beeld te gee van die soewereine Here, wat self sy volk sal verlos deur 'n lydende dienskneg – die verwerpte Een wat die Koning van heerlikheid blyk te wees, wat verhoog word om te regeer en sy koninkryk vir ewig in reg en geregtigheid te vestig!
Ek hoop jy sien die hele verhaal. Dit is intens. Konfronterend en beskuldigend. Vol van oordeel en duisternis – sonde en ellende. Maar deur daardie donkerte is daar 'n silwer draad, ‘n ligstraal – soos die son wat net oor die horison loer. 'n Koning wat kom om die ewige koninkryk te vestig.
Die tyd
Dit is belangrik om telkens weer te besef dat die Bybel anders is as enige ander godsdienstige boek wat jy ooit sal lees. Ons God openbaar Homself in die konteks van tyd en ruimte. God maak nie net uitsprake nie. God tree met sy volk in ‘n verhouding op die tyd en plek waar hulle is. Hy het dit met hulle gedoen deur die prediking van Jesaja. En ek bid dat Hy dit vandag deur my sal doen. Dus, as ons wil verstaan wat God vir ons sê, moet ons verstaan wat God vir hulle sê. Hulle tyd. Dit is ons verhaal. Dit is ons mense. Dit is ons geskiedenis.
Meer as 2500 jaar gelede geskryf, aan 'n volk en 'n tyd wat baie anders is as ons eie. Daar het in daardie tyd soveel in die wêreld gebeur. In China het die eerste heerser in opstand gekom teen die Zhou-dinastie wat veertien geslagte aan bewind was. In Indië is 'n antieke teks vir die Hindoe-godsdiens geskryf. Daar was groot ryke in Noord- en Suid-Amerika. Die Olimpiese Spele het pas in Griekeland begin.
Nader aan Israel was die Siriese ryk besig om mag te verloor, en die Assiriese ryk was besig om gebiede te verower, aangesien militêre koning ná miliêre koning sy grondgebied uitgebrei het. Maar die fokus is op 'n klein landjie wat vasgevang is in die wêreldpolitiek, op 'n aantal konings wat in vrees leef, op 'n stad wat aan die begin van sy bediening ‘n lewe van oordadigheid en rykdom gevoer het, maar aan die einde daarvan gevaarlik naby daaraan is om oorval te word.
Hoekom? Omdat die God wat in beheer was van die hele geskiedenis, van Amerika tot China, sy plan uitgevoer het om mense van elke nasie deur hierdie een nasie te verlos. Bo alle konings en ryke, bo alle mense regeer die Koning in heerlikheid – absoluut. Hierdie skynbaar onbeduidende volk was sy uitverkore volk waardeur die seën vir nasies sou kom! Die vraag is of die mense Hom of hulself vertrou.
En die antwoord is moeilik om te aanvaar – hulle hou aan om terug te gaan na hulle sonde soos 'n hond wat teruggaan na sy braaksel. Hulle vertrou op hul eie sterkte en krag – totdat God dit verpletter. En Hy self maak dit duidelik dat dit Hy is wat red. Sien jy dit? Tensy jy op jou knieë gebring word, sal jy nooit leer om te bid nie.
Die boodskap
Daar is verskeie temas of drade wat ons regdeur hierdie boek in elk van die hoofafdelings sal sien.
God is Koning van die koninkryk
Jy kan hierdie tema nie vermy nie. Ons vind dit dwarsdeur die boek. Jesaja het die Here hoog en verhewe gesien toe hy geroep is, in Jesaja 6. Dit is die taal van koninklikes en koningskap. Ons lees van allerhande konings en koninkryke. Sommige konings so groot en magtig dat hulle name nie eers genoem word nie, soos die koning van Assirië toe hy Jerusalem deur sy profeet Sanherib bedreig het. Maar dit gaan bowenal oor die koninkryk van God. Hy self sal die Koning en regter van sy volk wees. Op die ou end moet die Here alleen bo die nasies verhef word, en niemand anders nie. Hy sal almal wat hulself hoogmoedig verhef, neerwerp en diegene wat gebroke is van hart, ophef. Hy sal reg en geregtigheid aan sy volk en die nasies bring!
Hy is die Koning en Here – dus enige alliansie met 'n ander nasie is 'n verwerping van sy heerskappy en sy mag, en is 'n gebrek aan vertroue. Nie een van die konings kon blykbaar die Here baie lank vertrou nie. God se volk is op soek na 'n koning wat die Here sal vertrou te midde van die grootste bedreiging. 'n Koning wat bereid is om nie na wêreldse mag te gryp nie, maar hemelse mag. Nie 'n Agas wat die goud van die tempel vir veiligheid weggegee het nie, of Hiskia wat al die rykdom van sy koninkryk getoon het nie, insluitende die goud van die tempel, om Babilon te behaag.
Die vrae is dus: Sal God se volk op God vertrou? En Hom gehoorsaam? Vertrou en gehoorsaam, want daar is geen ander manier nie. Die bedoeling is dat Israel hierdie Heerser sal dien. En dwarsdeur die boek soek ons na daardie dienskneg. Totdat ons Hom in die laaste hoofstukke ontmoet. God as Koning en Heerser gaan saam met ons as sy volk in diens aan Hom, deur die getroue dienskneg Jesus Christus.
Die grootste probleem in hierdie koninkryk is nie politiek nie, dit is sonde. En die grootste probleem in die koninkryk is nie daar buite nie, dit is in die hart. Die beloofde verlossing in sy volste sin is gebaseer op die vergewing van sondes (vgl. 1:18; 6:5 e.v.; ens.), en dit bestaan verder uit 'n vernuwing van die hart (vgl. bv. 32:15 e.v.). Want sonde is die grootste gevaar vir God se volk wat by God woon. Dit bring ons by 'n verwante tema.
Heilige van Israel
Liewe gemeente, as jy dit nie weet nie: God die Koning is HEILIG, HEILIG, HEILIG. En meer as enige ander boek in die Bybel wil Jesaja dit vir God se volk benadruk. En God wil seker maak dat julle, sy kinders hier in Bellville, weet met wie jy te doen het wanneer jy met die Heilige van Israel te doen het! Soos Amos die profeet van geregtigheid genoem is en Hosea die profeet van goedertierenheid, so is Jesaja die profeet van heiligheid genoem (vgl. 1:4; 5:16, 24; 8:14; 10:17, 20; 12:6; 17:7; 29:23; 30:11 e.v..; 31:1; 37:23; ens.). God se heiligheid word nêrens beter vertoon in al sy skoonheid soos in hierdie boek nie.
Hy is so hoog verhewe bo sy skepsels dat Hy totaal anders as hulle is, nie net in sy morele volmaaktheid nie (vgl. 6:5), maar ook in sy krag, sy toorn, sy liefde, sy getrouheid en al sy deugde (vgl. ook 29:16; 31:3). Jahweh se heiligheid is die essensie van sy goddelike wese, wat veroorsaak dat mense voor Hom bewe terwyl hulle Hom aanbid.
God as die Lig wat lig gee
Nog 'n belangrike tema in hierdie boek is dat Israel geroep is om 'n lig vir die nasies te wees – hulle is geroep om sy heerlikheid onder die volke te verkondig. God is soewerein oor alle nasies. Hy wil hê dat alle nasies Hom moet loof. En soos ons deur Jesaja gaan, sien jy al hoe meer dat die nasies in Israel se oordeel deel, maar hulle sal ook in die seëninge deel. Sending is nie slegs 'n saak van die Nuwe Testament nie. Dit is die middel waardeur God bepaal het dat die aarde met sy heerlikheid gevul moet word en dat alle dinge Hom en Hom alleen moet aanbid.
Hoop deur oordeel
En omdat Hy 'n verbond met Israel aangegaan het, is Israel se sonde die ergste soort sonde – dit is rebellie of afvalligheid (1:2-4; 30:1-9; ens.). In plaas daarvan om die nodige nederigheid in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel te toon, is hulle hoogmoedig en ligsinnig (2:6 e.v.; 3:8; 5:15 e.v., 19 e.v.; 22:1 e.v.; 28:15; 29:14 e.v.; 32:9 e.v.; ens.). Jesaja dring daarop aan dat sonde, in watter sfeer dit ook al gepleeg mag word, in die eerste plek sonde teen God is. En daarom moet God, as die verhewe God, sy volk oordeel.
Hierdie heilige God het Homself op 'n besondere manier aan Israel verbind (1:2; 5:1 e.v.; ens.) en spesifiek aan die huis van Dawid (8:13; 11:1; ens.). Hy woon te midde van Israel, op die berg Sion (8:18; 11:9; ens.).
Die feit dat God 'die Heilige van Israel' is, bring groot spanning mee. Aan die een kant is Hy gevul met regverdige toorn oor Israel se sonde; aan die ander kant verbreek Hy nie sy verbond met Israel nie. Dit is dus die tema: verlossing kom deur oordeel. In sy toorn dink God aan sy barmhartigheid. Deur die duisternis – is daar die lig wat skyn. Die oorblyfsel sal gered word.
Die God wat harde harte breek
Jesaja 6:9-10 sê: “Hy het gesê: ‘Gaan sê vir hierdie volk: Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’ Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie." Die terme in die teks weerspieël Jesaja se agtergrond. Beklemtoning van hoor, sien, waarneem en weet, en die onvermoë van die hart om te glo, kom telkens na vore. Adam se se sonde bereik sy hoogtepunt in Israel – Berei die weg voor vir die Verhewene wat kom, en verlos hulle, deur die uiteindelike straf te dra – sodat ons trotse harte eens en vir altyd gebreek kan word deur die krag van God.
En inderdaad, jy vind dat daar deur al die oordeel 'n geweldige boodskap van hoop op troos is! Want jy besef nou dat God nie sal terugkom op sy beloftes nie. Hy sal sy vyande verslaan; Hy sal sy volk plant. Dit is geskiedenis. Hulle geskiedenis. Ons geskiedenis. Maar meer as dit – dit gaan oor die herstel van alle dinge! Dit gaan oor die beloftes wat aan Adam en Eva, aan Abraham, aan Dawid, gemaak is! Daar is hoop!
Dis die verhaal wat God skryf. 'n Verhaal van genade. Soms is genade nie daardie lieflike dingetjie wat ons ons voorstel nie. Soms is genade gewelddadig – dit breek die siel af sodat ons besef daar is niks wat ons as God se volk aan Hom bied nie, terwyl Hy alles aan ons bied. Maar daardie selfde genade bou op, selfs al breek dit af. Dit verander 'n volk – in die woorde van Jesaja – in eike van regverdiges.
Die ballingskap wat Jesaja profeteer, is nie 'n finale ballingskap nie, maar dat iemand sou kom wat in ballingskap weggevoer sal word – en uit God se teenwoordigheid gestuur sal word. Iemand om jou sonde te dra.
Aan die einde van hierdie boek is Christus die middelpunt. Hierdie boek, meer as enige ander OT boek, het meer van die NT daarin, asook meer van die OT daarin as enige ander OT boek. Daar is gesê as jy net een boek van die hele Bybel kon hê, sou dit Jesaja kon wees! Die evangelie is duidelik, die nood van die mense is duidelik, die oproep tot sending is duidelik en die einde waar alles God verheerlik is duidelik.
Dit is die evangelie van ons Here Jesus. Hierdie volk is uit genade gered. 'n Genade wat deur die uiteindelike oordeel gekom het. Die uiteindelike ballingskap. Die uiteindelike terugkeer. Die uiteindelike herstel in die dood, opstanding, hemelvaart en wederkoms van die groot Dienskneg, die getroue Israeliet – ons Here Jesus Christus.
Amen.