Liewe gemeente!
In 155 n.C. word Polikarpus, een van die vroeë kerkvaders, ‘n dissipel van Johannes, deur die Romeinse owerhede gearresteer. Die aanklag: hy het geweier om sy geloof in Christus te verloën. Polikarpus was bekend vir sy durf vir die evangelie en heilige lewenswandel.
Hy is toe voor die Romeinse goewerneur gebring, wat hom sy vryheid aangebied het as hy net sou sê dat Caesar die Here is. “Ses en tagtig jaar het ek hom gedien, en hy het my nooit enige skade aangedoen nie. Hoe kan ek nou my Koning en Verlosser laster?,” het hy gesê.
Hierop het die goewerneur gesê: “Ek het wilde diere byderhand as jy jou nie bekeer nie.” Polikarpus antwoord: “Roep hulle, want ons is nie gewoond om ons van die goeie te bekeer om dit wat boos is aan te neem nie.”
Die goewerneur sê toe: “Ek sal jou deur vuur laat verteer.” Maar Polikarpus het gesê: “Jy dreig my met vuur wat 'n uur lank brand, maar jy is onkundig oor die ewige vuur van die komende oordeel.” Die goewerneur beveel toe dat Polikarpus op die brandstapel verbrand moet word.
Soos die vlamme opstyg, sing Polikarpus lofsange tot God. Hy het as martelaar gesterf, maar sy dood het baie ander geïnspireer om na Christus te kom en te staan vir hul geloof. Sy verhaal getuig van die krag van die evangelie. Dit herinner ons aan ons roeping: “Volg my.”
Dit gee ons hoop dat, selfs te midde van vervolging, God met ons is en ons nooit sal verlaat nie. Die evangelie was vir Polikarpus alles werd en daarom kon hy meer getrou wees aan sy hemelse Koning as aardse leiers. Sy lewe het getuig van ‘n evangelie-waardige-lewe.
Dis dan ook ons tema vanaand: “Waardige burgers van die koninkryk.” Ons gaan kyk na drie aspekte van waardige burgerskap: Die oproep tot waardige burgerskap (27a); Die vrug van waardige burgerskap (27b-28); Die genade van waardige burgerskap (29-30).
1. Die oproep tot waardige burgerskap (27a)
In die vorige gedeelte het Paulus sy begeerte uitgespreek om die Filippense weer te sien. Hy wou hulle nog verder leer en toerus. Hy was egter nie seker of dit sal gebeur nie. Maar hy wil nie hê hulle moet ter wille van hom ‘n goeie lewe leef nie. Hulle moet eerder soos koninkryksburgers lewe of hulle hom sien of nie.
Daarom raak hy in vers 27 twee belangrike gedagtes aan oor ware Christenskap. Hy sê, “ gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan.”
Nou die woord vir gedra wat Paulus in vers 27 gebruik is saamgevoeg uit twee woorde: stad en burgerskap. Dit verwys na iemand se burgerskap van ‘n stad. Dit word ook in Fil. 3:20 gebruik: “ons burgerskap is in die hemele.” Dit verwys dus na iemand se lewenswandel as burger van ‘n land.
Paulus roep hulle dus op om te wandel soos burgers van die koninkryk, selfs al gaan hulle hom nie weer sien nie. Met ander woorde, besef dat jy ‘n burger van die hemel is en die koninkryk hier op aarde verteenwoordig soos wat jy jou land verteenwoordig. Lewe dan dienooreenkomstig.
Paulus probeer dus die idee van burgerskap, waar die Filippense burgers van Rome was, gebruik om aan hulle te illustreer dat hulle nou burgers van die hemel is. Net soos Filippense 'n kolonie van Rome was, so is die kerk in Filippi 'n kolonie van die hemel waarvan hulle as koninkryksburgers in Filippi sou woon.
Net soos die Filippense in ‘n stad gebly het met verskillende geestelike, sosiale en politieke uitdagings, leef ons ook in Kaapstad en Pretoria met soortgelyke uitdagings. Hulle het ook verskeie politieke, sosiale en geestelike uitdagings beleef, soos armoede, onderdrukking, korrupsie, swak regering, ens.
Paulus daag dus hierdie geliefde broers en susters van hom uit om anders te dink oor hul Christenskap. Hulle is burgers van die hemel waar die hoofstad en heerskappy nie aards is nie, maar hemels, en ook nie gewaarborg word deur Nero nie, maar deur Koning Jesus. Jesus is hulle waarborg en sekuriteit.
Al geniet hulle die voordele van Caesar se heerskappy en beskerming, moet hulle besef hulle is onderdane van die enigste ware Here voor wie elke knie sal buig, insluitende alle aardse leiers. Hulle moet daar waar hulle is uitstyg bo hul omstandighede, selfs as slawe, en soos koninkrykskinders leef.
En dit beteken, leef “waardig die evangelie van Christus.” Die woord waardig beteken om iets te weeg teenoor ‘n sekere standaard. In die ou dae het jy ‘n skaal gekry waarop jy ‘n gewig aan die eenkant gesit het as jy iets wil weeg. Jy sou bv. ‘n 1 kg gewig aan die eenkant opsit en dan die item wat jy wil weeg aan die anderkant.
As Paulus dan sê, “lewe waardig die evangelie,” bedoel hy ons lewenstyl moet gemeet word aan die gewig en inhoud van die evangelie. God het Jesus gestuur om die mag en oorheersing van sonde te breek sodat ons nie meer slawe van sonde sal wees nie. Jou lewe moet dus nie meer deur sonde regeer word nie.
Die evangelie is dus die goue standaard vir die Christelike lewe, en die waarde en gewig daarvan moet ons lewenstyl beheer. Die evangelie word dan die verwysingsraamwerk vir al ons denke en handelinge. Dus, gedrag wat die evangelie waardig is, is bo alles gedrag wat die evangelie bevorder.
Ons lewenstyl moet dus die krag van die evangelie demonstreer. Die manier hoe ons lewe moet die evangelie versier, nie ontsier nie. Die Filippense se lewenstyl moes dus pas by die evangelie, nie andersom nie. Dit wat in hul hart is moet na buite kom in evangelie vrugte.
‘n Boom word tog aan sy vrugte geken. Jesus het mos gesê: “’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!” As ons dan die naam van die Here bely moet ons lewens wys dat die Here wie ons bely in ons hart regeer. Mense moet deur ons lewenstyl kan sien dat ons koninkryksburgers is.
Ons kan dit egter nie net doen as ons by die kerk, of in die teenwoordigheid van die dominee, of ander Christene is nie. ‘n Ware Christen is dit eerste in sy hart voor hy dit na buite is. Ware Christenskap is nie “window dressing” nie. Al trek jy ‘n winkelpop mooi aan bly dit steeds plastiek aan die binnekant.
Jy sien, daar waar jy alleen agter jou rekenaar of slimfoon sit. Wat lees en kyk jy? Of wat se WhatsApps lees en stuur jy aan?
Of daar waar jy alleen saam met jou meisie is, of alleen saam met jou vriende kuier, daar moet jy ‘n burger van die hemel wees.
In jou huis waar die kerkmense jou nie sien nie, daar moet jou lewenstyl getuig van die vrymaking en die verandering van die evangelie.
Kom ons pas dit op ons as gemeente toe. VGK Pretoria (en elke ander gemeente van Christus) is ‘n kolonie van die hemelse stad hier op aarde onder die hoofskap van ons Koning, Jesus Christus. Ons is hier in Pretoria burgers van ons hemelse Vaderland en verteenwoordig ons Koning hier op aarde.
Wat sien en dink die mense van die Moot as hulle ons lewenstyl sien? Dink hulle die kerk is ‘n lekker plek, want kyk hoe leef hulle – net soos die wêreld. Drink en kuier ons net soos die wêreld? Praat ons vuil en vloek net soos die wêreld? Of is ons lewenstyl sout en lig vir die mense van Pretoria?
As burgers van die hemel en onderdane van die Here Jesus is ons in ‘n dodelike stryd gewikkel teen die sonde en die bose magte in die lug. Ons wapens is die goeie nuus – die prediking van Christus – en ons lewens is die getuienis van die veranderende krag en waardigheid van die evangelie.
2. Die vrug van waardige burgerskap (27b-28)
Die Filippense se toewyding aan Jesus as hul enigste Here het die politieke bestel van hul tyd uitgedaag. Hul onderdanigheid aan Jesus bo Caesar is as verraad beskou. Die Romeinse burgers wat Caesar in die openbaar geëer het, het die Filippense onder druk geplaas om dieselfde te doen.
Christene, met hul eie Here, was 'n vernedering vir die Romeinse regering. En nog meer, hul oortuiging dat hul burgerskap in die hemel is, is as onpatrioties beskou. Dit het tot grootskaalse vervolging gelei. Die kerke in Filippi en Masedonië is erg vervolg. Jy sien, hemelse burgerskap kos baie.
Dit het standvastigheid van die gelowiges gevra. Paulus sê, “of ek kom en of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan.” Nou, met die woorde “een gees” bedoel Paulus die Heilige Gees, want in al sy ander briewe het hy die term in die konteks gebruik.
Byvoorbeeld, in Efesiërs 4 sê hy iets soortgelyk. Vers 1: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is (1). En vers 4: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping.”
Dis slegs die werk van die Heilige Gees wat hulle 'n nuwe lewe gegee het, en hulle in die kerk ingeplant het, waardeer hulle nou as Christene kan leef. Hulle het dus die bonatuurlike krag van die Heilige gees nodig gehad om staande te bly teen die aanvalle en waardig die evangelie te leef.
Hulle moes onder leiding van die Gees staande bly teen die kompromieë van die Romeinse kultuur. Terwyl hulle in Gees-eenheid bly staan moes hulle ook getuig, want hul hemelse burgerskap is nie passief nie.
Dit sou weer verder goeie spanwerk gevra het. Hulle moes, “een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie,” sê Paulus. Die Engelse vertaling vertaal dit beter, “striving side by side for the faith of the gospel.” Om sy aan sy saam te stry laat mens dink aan ‘n rugbyspan in ‘n wedstryd of soldate in ‘n oorlog.
Dink byvoorbeeld aan die spanwerk wat dit geneem het toe ons die eerste keer die Wêreldbeker gewen het. Ons sou dit nooit gemaak het sonder goeie spanwerk tussen die afrigters en spelers, asook onder die spelers nie. In die weermag is ons geleer, jy is net so sterk as die swakste skakel.
Ons moes dus altyd as ‘n eenheid saam leer oorleef. Ons is geleer die vyand se beste wapen is verdeeldheid onder mekaar. Dis dieselfde beginsel wat Paulus hier vir ons leer. Paulus het geweet dat die sukses van die kerk in Filippense sou afhang van goeie spanwerk.
Paulus het egter geweet dat die gevolge baie hoër is as om net 'n Wêreldbeker te wen of om te oorleef in ‘n oorlog. Die gevolge is die geloof van die evangelie van Jesus Christus, die waarheid van die evangelie, en die verspreiding daarvan waarvoor Paulus sy lewe gegee het.
Om as hemelse burgers waardig die evangelie te lewe beteken dat ons saam sal staan; sy aan sy sal stry; begrond en onbeweegbaar op die Rots, Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees. Dat ons saam sal stry soos ‘n rugbyspan om 'n wedstryd te wen, of soos soldate saam sal baklei om die oorlog te wen.
Om so saam te stry beteken dat ons nie banggemaak sal word nie. Paulus sê, “dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ’n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God.”
Toe ons jonk was het die seuns mekaar op die skoolterrein uitgedaag – magsvertoon. Dan moes jy nou geen bang trek op jou gesig wys nie, terwyl jy hier binnekant bewe. Dit sou jou opponent ontsenu en wys hoe sterk jy is. Dit is nie wat Paulus hier bedoel nie; ons eie kragte en positiewe belydenis nie.
In Filippense was die stryd egter nie 'n skoolterrein-speletjie nie. Dit was 'n ware oorlog, 'n geestelike oorlog, en mense se lewens was op die spel. Die leiers het vir hulle gekom en sou hulle doodmaak as hulle nie toegegee het aan hulle eise nie.
“Moenie bang word nie,” sê Paulus. Moenie paniekerig raak soos 'n trop perde wat geskrik het vir ‘n Leeu nie. In teenstelling met die selfgemaakte bravade van 'n bokser wat sy stand probeer hou en sy opponent middeldeur probeer staar, bly koelkop. Julle is koninkryksburgers. Jesus is jou koning. God is in beheer. Moenie geïntimideer word nie.
Ons veranderende karakter, ons eensgesinde staan in verdediging van die evangelie, ons sagmoedige verduur van vervolging, is 'n teken van die waarheid van die evangelie, en oordeel van die wêreld wat die evangelie haat. Dis 'n sekerheid van ons hemelse burgerskap en dat ons finaal gered sal word.
U sien, liewe gemeente. Daar is ‘n stryd om te stry hier in Pretoria. Elke stad het sy unieke uitdagings vir die geloof, net soos die Filippense, en Christene in enige ander era en plek gehad het. Bellville het ook hul stryd. Daar is die uitdagings weer anders, maar dit bly ‘n geestelike oorlog waarin ons betrokke is.
Hier in Pretoria is ons stryd teen plesier, genot, rykdom, pornografie, drankmisbruik, en baie ander sulke dinge. Om dit te oorwin kan ons nie op ons eie kragte staatmaak nie. Ons moet die Here bid om ons met die Gees te vervul sodat ons saam kan staan, en dan ook teen ons vyande kan staan.
Hoe gaan ons dit doen?
Ons moet ons fokus reg kry. Ons moet besef ons is hemelse burgers. Dit beteken ons staan onder die heerskappy van Christus. Hy is die een wat ons lewens bepaal en bestuur, en daarom hoef ons nie bang te wees nie. Ons moet Christus-gesentreerd lewe terwyl ons baie bid en afhanklik van die Gees lewe.
Openbaring sê ons sal oorwin deur die bloed van die Lam en die woord van ons getuienis, terwyl ons ons lewens tot die dood toe nie liefhet het nie. Ons is reeds gewas in die bloed van die Lam; geregverdigde kinders van die Here. Die vyand het geen houvas meer op ons nie.
Daarom kan ons ons lewens tot die dood toe aan Christus gee en hier in Pretoria die evangelie verkondig terwyl ons lewens getuig van die veranderde krag van die evangelie. Want dis net die evangelie wat mens kan losmaak van drank, dwelms, plesier, en pornografie.
Ons moet egter besef die eie ek is ons grootste vyand. Hy wil altyd sy eie wil laat geld. Laat ons dan daagliks ons kruis opneem, onsself verloën, Jesus saam volg, mekaar vashou en saamstry vir die evangelie, mekaar aanmoedig, ter wille van die eer van God en die evangelie van Jesus Christus.
3. Die genade van waardige burgerskap (29-30)
Die Filippense se staan vir Christus was 'n bewys dat hulle genade van God ontvang het. Dat hulle harte deur die genade van die Here verander is. Paulus sê, “omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.”
Die genade tot redding is 'n baie groot genade. Dit is die groot bewys dat God gunstig na ons kyk; dat hy ons in genade aangesien het. Johannes sê juis dat die wat Christus aangeneem het, die het hy die mag gegee om kinders van God genoem te word.
Hulle is uit vrye guns van bo gebore. Nie deur die wil van ‘n mens nie, maar deur die soewereine wil van God. Verlossing is dus die genade van alle genades. Maar daarmee saam is daar egter nog 'n genade, sê Paulus, wat net so belangrik is. Dis die genade om vir Christus te ly.
Vervolging is dus nog ‘n bewys dat iemand genade ontvang het. As Christus in jou hart regeer gaan die wêreld jou haat net soos hulle Christus gehaat het. Die Gees wat in jou woon gaan teen die gees van die wêreld staan, want mense haat die lig, en wil nie na die lig toe kom nie.
Lyding vir Christus is egter nie 'n teken dat die Here ons nie liefhet nie, of vir ons kwaad is nie. Inteendeel, Paulus het juis gesê die wat godvrugtig wil leef sal vervolg word. God gebruik juis lyding om ons verhouding met hom te verdiep. En dis ‘n groot genade!
En verder het Paulus ook gesê vervolging is gemeenskap met Christus se lyding waardeer ons gelykvormig word aan sy dood. En dis ‘n groot eer! Dis ‘n manier hoe die eie-ek sterf. Want waar die eie ek heers kan ons nie die opstandingskrag van Christus beleef nie.
In Handelinge 5 vers 41 het diss
ipels dit as 'n groot eer beskou om vir Christus se naam oneer te ly. Deur ons lyding vir Christus groei ons verhouding soveel nader aan hom en word ons al hoe meer van onsself gestroop. En dis ‘n groot seën, want dan kan ons meer van Christus ontvang.
Lyding vir Christus is verder ook ‘n manier hoe die Here sy kerk groei. Dis ondenkbaar om so te dink, maar dis 'n Bybelse beginsel. Vers 30 wys vir ons dat die Here 'n vervolgingsverhaal vir sy kerk geskryf het. En nou word hierdie verhaal tussen Paulus en die Filippense gedeel.
Een van die vroeë kerkvaders, Tertullianus, het juis gesê: “Die bloed van martelare is die saad van die kerk.” Daar is 'n gemeenskaplikheid in ons lyding as ons saam vir Christus stry. Dit bring eenheid tussen mekaar, want mense wat saam ly voel ook nader aan mekaar.
Geloof en vervolging is heel dikwels 'n pakket. Wanneer die geloofsvlam in 'n donker plek skyn sal die duisternis daardie geloof probeer blus en uitdoof. Maar die Here skryf juis 'n vervolgingsverhaal sodat die mensdom gewys kan word op die grootste verhaal: die dood en opstanding van Christus.
Want jy sien, vervolging is 'n verhaal wat die dood en opstanding van Jesus ten toon stel. Vervolgers probeer die geloof van gelowiges doodmaak soos hulle Jesus doodgemaak het, maar geloof staan soos Jesus op. Inteendeel, deur meer vervolging word dit net sterker.
Wanneer ons vyande alles probeer om ons geloof dood te maak, maar ons weier om op te gee, word die opstandingskrag van Christus ten toon gestel. Ons opponente moet dan vrees, want hulle stry nie teen ons nie, maar teen God, en hulle gaan verloor.
Ons kan egter weet dis nie ons stryd nie. Die oorlog is die Here sin en hy het reeds gewen. Hy bou sy kerk en die Satan en al sy magte sal dit nie oorkom nie. Hy sal die goeie werk wat hy in ons begin het voleindig (6). Op vlerke van genade sal hy ons deur hierdie stryd na ons hemelse vaderland neem.
Slot
U sien lewe gemeente, dis ons hoop; ons vaste anker. Die Here is met ons in die stryd. Ons stry nie alleen nie. Inteendeel, ons stry sy stryd wat hy reeds gewen het. Hy het reeds al sy vyande van hul mag gestroop. Ons is net die boodskappers wat sy oorwinning aankondig.
Laat ons dus nie bang wees nie, maar die stryd met oorgawe omhels. Want Christus voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met hom. En deur ons versprei hy dan die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. Vir sommige is dit ‘n lewensgeur; vir ander ‘n doodsgeur omdat hulle hom verwerp.
Ons moet egter besef Jesus het nie bedoel dat ons die stryd op ons eie moet aanpak nie. Hy het ons die Gees gee wat in ons sal bly en ons die krag sal gee om vir Christus te lewe. Hy het ons ook die genade van gebed gegee; direkte toegang tot sy genadetroon waar ons gehelp kan word. En dan het ons ook mekaar.
Soos Paulus en die Filippense een in die stryd was teen sonde en vir die evangelie, so het die Here ons vir mekaar gegee. Ons het mekaar so nodig om staande te bly. Die geloofstryd was nie bedoel om alleen gestry te word nie. Daarvoor is ons te swak. Laat ons dan een van hart en verstand wees.
Laat ons egter nie soos Petrus skaam wees om die Here voor mense te bely nie. Jesus het gesê as ons hom voor mense bely, sal hy ons voor die Vader bely. Maar as ons hom voor mense verloën, sal hy ons voor die Vader verloën. Dis egter nie ‘n skaamte om hom voor mense te bely nie. Dis ‘n eer!
Want dit het die Here Jesus sy lewe gekos om ons deel van sy koninkryk te maak. As 'n opdrag deur 'n aardse koning dan as 'n eer beskou word, hoe kan 'n opdrag deur ons Hemelse Koning as 'n offer beskou word? Nee, my liewe broer en suster. Dis so groot voorreg om ‘n koninkryksburgers te wees.
Om ons lewens vir Jesus te gee is ‘n voorreg; om vir hom te sterf, is ‘n eer. Laat ons lewens dan waardig wees die evangelie. Kom ons los die wêreld en sy begeerlikhede, en kom na Jesus toe, en bly by hom. Hou vas aan hom, want hy is dit waardig. Hy is die grootste skat wat jy kan kry.
Amen!
Votum en Seëngroet
Liewe gemeente, as kinders van ons Hemelse Vader mag ons saam bely dat ons hulp is in die naam van die HERE, wat hemel en aarde gemaak het, wat trou bly tot in ewigheid.
Ontvang nou die seën van die HERE!
Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, volgens die wil van onse God en Vader, aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen.
Antwoordlied: Psalm 99:1-3
Gebed: Aanbidding en woordverkondiging
Skriflesing: Filippense 1:12-30
Aanbiddingslied: Psalm 29:1,5
Teksvers: Fil. 1:27-30
Preek:
Tema: Waardige burgers van die koninkryk.
1. Die oproep tot waardige burgerskap (27a);
2. Die vrug van waardige burgerskap (27b-28);
3. Die genade van waardige burgerskap (29-30).
Danklied: Psalm 31:1,3
Gebed: Dank en voorbidding
Geloofsbelydenis (singende)
Dankoffer
Slotsang: Psalm 145:1,2,4
Seën
Ontvang nou die seën van die HERE en gaan in Sy vrede!
“Die HERE sal jou seën en jou behoed; Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”