Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-08-18
Text: 
Psalm 98:1a
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 98:1a

 

Ons nuwe lewe in Christus is ‘n jubelende lewe.

Dit is die jaartema wat ons behandel.

Ons fokus daarmee ook op ons sang en musiek.

Elke dag, maar spesifiek op Sondag in die eredienste.

Wie baie bly is, begin spontaan om musiek te maak.

Dit is hoe ons geskape is.

Ons begin sing, of fluit, ons begin lag en musiek te maak.

 

Psalm 98 is al duisende jare oud, maar nog steeds aktueel.

Ons weet nie wie dit gedig het nie, en ook nie wanneer presies nie.

Wat ons wel weet, is dat die digter ons oproep om die HERE te loof.

En dit doen hy by herhaling.

Sing vir die HERE ‘n nuwe lied.

’n Lied waarin jy jou hoogste vreugde wys.

Ervaar jy dit ook soms, dat daar so iets moois gebeur het, dat jy wil sing van geluk?

Dat jy sommer jou eie lied wil skryf?

Wanneer sing mens ’n nuwe lied?

’n Nuwe lied sing mens inderdaad as daar iets baie vreugdevol gebeur het.

En dit is hier ook die geval.

 

Tema: Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied

 

God het naamlik wonders gedoen.

God se regterhand en sy heilige arm het vir die oorwinning gesorg.

In vers 2 lees ons: “Die HERE het sy heil bekend gemaak” – mens kan ook vertaal: die HERE het sy oorwinning bekend gemaak.

God se regterhand is simbool vir sy almag.

Niks is vir sy regterhand onmoontlik nie.

As God se regterhand ingryp, gebeur daar wonders.

En sy heilige arm, dit wil sê: sy arm is volkome toegewy om die taak wat Hy Homself voorgeneem het, uit te voer.

 

In hierdie Psalm word God voorgestel as die groot Stryder vir sy volk.

Die digter gebruik die woorde: heil en geregtigheid.

Hierdie woorde is gedeeltelik sinoniem in die konteks van die Psalm.

Heil en geregtigheid voor die oë van die volke.

Die digter sê: Al die eindes van die aarde het die heil van ons God gesien.

 

Vandag besef ons dat hierdie Psalm ‘n profesie was.

Die digter sing profeties oor die redding wat aan die hele wêreld bekend geword het.

Dan dink ons by uitstek aan Christus se oorwinning oor die dood.

Hoe Hy die straf gedra het aan die kruis.

Gekruisig, gesterf, begrawe, maar toe opgestaan.

Dit was wêreldnuus, en dit is nog steeds wêreldnuus.

‘n Wonder deur God se regterhand, dat Christus uit die graf opgewek is.

 

Vir soiets moet daar ‘n nuwe lied geskryf word!

En dit geld vir die eindes van die aarde.

In Christus het God heil en geregtigheid vir die hele wêreld gebring.

Hy bevry mense uit hulle slawerny aan die duiwel, hulle gehegtheid aan die sonde.

En Hy deel regverdige strawwe uit, om die bose kringloop van die sonde te deurbreek.

Ons lees in die laaste vers:

Die HERE kom om de aarde te oordeel.

Hy sal die wêreld rig in geregtigheid, die volke met reg.

Ag was daar maar meer mense wat, soos die digter, uitgesien het na die koms van God.

As ons dit so lees, dink ons aan die jongste dag, die oordeelsdag, waarop die HERE ‘n einde sal maak aan alle sonde, dood en ellende.

 

Maar dit wil nie sê dat God in die tussentyd niks doen nie.

Elke dag is sy almagtige regterhand aktief.

Sy regterhand is ook sigbaar in gewone dinge.

Heel gewone dinge is nie so gewoon nie.

Die HERE verdien om deur ons geprys te word.

Want sy regterhand doen nog steeds wonders.

 

Laat ons juig en Hom loof.

Die digter roep nie net ons, maar die hele skepping op om te juig.

Die see, die berge, die rivierstrome.

Laat hulle in die hande klap.

Laat ons almal bly wees vir die feit dat God regeer.

Ja die skepping, die natuur is ook bly.

Bly vir wat die HERE doen, juis ook vir wat die HERE doen in sy kinders se lewens.

Want elkeen wat leef volgens God se wil, het ‘n goeie invloed.

Selfs op die natuur.

Wie volgens God se gebooie leef, lewe in harmonie, nie net met ander mense nie, maar ook met sy skepping.

 

Het u al so na die natuurgeluide geluister?

Met die besef dat dit ‘n loflied is tot God se eer?

As jy langs die see sit en die branders bulder teen die rotse, as die skuim spat op die sand, ja die oseaan met al sy geraas is ook ‘n Psalm vir die HERE!

Die see het sy eie klank, maar tog is dit ook ‘n loflied in sy eie toonaard op die Skepper.

En die rivierstrome, wat van die bergkranse afstort en op die rotse kletter, wat tussen die gladde klippe deur bruis, het dit al ooit vir jou geklink soos handegeklap?

Dis wat Psalm 98 sê: Die rivierstrome klap hande.

So klink dit.

Hulle klap hande vir die HERE.

Ook jubel die berge saam voor die aangesig van die HERE.

Dink aan hoe die wind kan suis op die hoë bergtoppe, dink aan die echo van die kranse.

Maar meer as dit.

Op ‘n toon wat ons nie kan hoor nie, maar die HERE wel, jubel die vir ons gevoel stille en onbeweeglike gebergtes.

Saam met die eeue oue berge sing ons tot eer van God.

Want Hy is nog ouer, Hy is ewig betroubaar, Hy laat nooit die werke van sy hande vaar nie.

Hy was deur die eeue ‘n steun en toeverlaat.

Hy is die almagtige, die rots van ons bestaan.

 

Saam met die hele skepping, elke geskape ding in sy eie toonaard, jubel ons vir die HERE.

Hierdie Psalm roep ons op om ons stem te gebruik.

Ons stem waarmee ons ou en nuwe liedere tot eer van die HERE sing.

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Nou weet ek, elkeen van ons het nie die gawe om te dig nie.

Die een persoon het dalk meer talent op hierdie gebied as ‘n ander, en die een sing dalk mooier as die ander.

Maar dit mag wel duidelik wees, hierdie oproep geld ook vir ons tyd.

Ook in ons tyd behoort daar nuwe liedere gedig te word, en nuwe melodieë gekomponeer te word.

En dan nie sommer enige liedere nie, nie net oor romantiese liefde, of oor jou taal, of oor jou land nie.

Maar spesifiek liedere tot eer van die HERE.

Liedere wat ons blydskap vir die HERE wys, ons aanbiddig, ons eerbied vir sy hoogste majesteit.

Hoogstaande liedere.

 

Hierdie Psalm roep ons op om ons stem te gebruik, maar nie net dit nie.

Psalmsing met die siter, staan daar, en met trompette en basuingeklank.

Juig voor die aangesig van die Koning.

Ons sang en musiek moet van kwaliteit wees, vir die Koning waardig.

Dit mag nie afgeskeep word nie.

In die kerk sing ons met orrelbegeleiding.

Dis nie toevallig nie.

‘n Orrel is waarskynlik die mees geskikte instrument om ‘n groot groep mense te begelei.

‘n Orrel het genoeg volume, dieselfde hoeveelheid waarvoor mens ‘n hele orkes van ander instrumente nodig het.

Daarby is dit prakties, want net een persoon is nodig om dit te speel.

Dus vir gemeentesang is ‘n orrel uitermate geskik.

Dit beteken as ons as gemeente wil bly sing tot eer van die HERE, moet ons belê in ‘n goeie instrument, maar nie net dit nie, ook persone wat dit goed kan speel.

Orrel speel is nie maklik nie.

As gemeente sal ons vir die toekoms saam verantwoordelikheid moet neem dat daar kinders is wat musieklesse neem, wat in die toekoms die gemeentesang kan begelei.

 

Verder lees ons nog van ander instrumente: Siters, trompette, basuine ...

En in ander Psalms lees ons oor nog meer instrumente, byvoorbeeld die tiensnarige harp, die tamboeryn, fluit, simbale ...

‘n Hele orkes.

Juis op feesdae sal al hierdie ekstra instrumente tot ekstra lof en glorie vir die HERE wees.

Op feesdae kan ons gerus bietjie meer moeite doen.

 

Hierdie is ook ‘n boodskap wat uit die teks kom, ja selfs ‘n bevel wat Psalm 98 gee, dat ons die HERE sal loof, Hy wat wonders gedoen het, dat ons Hom daarvoor ekstra sal prys.

Hier lê ‘n mooi taak vir ons, as kerkraad in samewerking met die musiekkommissie en vir die hele gemeente.

Dat die gawes waarmee God ons geseën sal klink in die eredienste.

Gawes om te speel op siters, trompette en basuine.

Of in terme van die instrumente wat daar vandag onder ons bespeel word, fluite, soos blokfluit, dwarsfluit, klarinet; en orrel en klavier; en snaarinstrumente soos viool en kitaar; en natuurlik trompette en ander koperinstrumente, en watter instrumente daar nog meer mag wees.

Juig voor die HERE, o ganse aarde.

Breek uit in psalmsing.

Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied.

Want Hy het wonders gedoen.

 

In Psalm 98 roep die HERE die ganse aarde op om ‘n nuwe lied te sing.

Die rede: Hy het sy heil bekend gemaak, sy geregtigheid voor die oë van die nasies (vers 2).

Destyds het die HERE iets gedoen wat God se kinders spontaan laat uitbars het in gejubel.

Hulle het die behoefte gevoel om ‘n nuwe lied te sing.

Dink aan toe Israel heelhuids anderkant die Rooi See uitgekom het.

Dit was so ‘n oplugting, so ‘n bevryding, dat hulle spontaan uitgebars het in ‘n loflied – Exodus 15.

Ook die digter van Psalm 98 het so ‘n bevryding beleef.

En Simeon het daardie selfde sublieme blydskap ervaar toe hy die Kindjie Jesus in sy arms geneem het.

En hy het spontaan gesing: “omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke” (Luk 2:30-31)

 

Psalm 98 pas perfek op die heilsfeite van Christus se kruisiging en opstanding.

Die HERE het daarmee die oorwinning behaal.

Toe die grafsteen wegrol en ‘n onsterflike verheerlikte liggaam daaruit kom, was die verlossing ‘n feit.

Daardeur het die HERE se heil bekend geword aan die aarde.

Profeties sing hierdie Psalm reeds daaroor.

Dink aan vers 3:

“Hy het gedink aan sy goedertierenheid en sy trou aan die huis van Israel.”

Christus is gestuur na Israel, daar het die heilsfeite plaasgevind, in Betlehem, in Nasaret en Kapernaüm, en in Jerusalem.

Maar die eindes van die aarde besef, dit het ook ‘n impak op hulle.

Dit herdenk en besef ons vandag steeds, as ons nagmaal vier.

Die wonders wat die HERE se regterhand gedoen het, het ‘n groot impak op ons lewe, ons wat by wyse van spreke aan die eindes van die aarde bly.

Christus se opstanding verander ons toekomsperspektief totaal.

 

En, soos ek genoem het, in hierdie Psalm word ook die skepping opgeroep om te jubel.

Te jubel op hulle manier.

Die see bruis, die rivere klap hande, ook die berge jubel.

En, sê die Psalm, die rede vir die jubel is iets wat die skepping in die toekoms te wagte staan.

Vers 9: “want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.”

Opvallend dat God se oordeel juis vir die skepping ‘n rede is om te jubel.

Ons verstaan dit, in die lig van hoe die mensheid God se skepping behandel.

Paulus skryf: “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” (Rom 8:22)

Wat die mens doen, het ’n impak op die skepping.

Maar daar is hoop, nie van die mens se kant af nie, maar van die HERE se kant af.

Hy sal sy skepping nie in die steek laat nie.

 

Alle rede dus om die trompette op te tel en te begin blaas, en die snaarinstrumente te laat klink, die fluite, die dromme, en veral die mooiste instrument: die menslike stem.

Ja sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:1

Wet

Ps 51:5

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 98:1

1e tafel: Skriflesing: Psalm 96; Ps 98:2

2e tafel: Skriflesing: Psalm 98; Ps 98:3,4

Lofverheffing

Dankgebed

Teks: Psalm 98:1a

Preek

Ps 96:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 96:7,8

Seën