Wie is die Heilige Gees?
Hoe lyk die Heilige Gees?
Waar is die Heilige Gees?
Wat doen die Heilige Gees?
Hierdie is vrae wat aandui dat ons dikwels ongemaklik is as dit oor die Heilige Gees gaan.
Hy is ‘n Iemand wat vir ons wasig, ongrypbaar, onpersoonlik voel.
Is dit wel nodig om van Hom te weet as jy gered wil word?
Is dit wel nodig om Hom as God te vereer?
Is dit wel nodig om ook vir Hom te bid, net soos vir die Vader en die Seun?
Vanaand staan ons stil by hierdie derde Persoon van die Drie-eenheid.
Ons doen dit nie deur te spekuleer nie, maar spesifiek terug te gaan na die Skrif.
Tema: Christus openbaar die geheimenis van die Heilige Gees
1 Kennis van die Gees
2 Wese van die Gees
3 Werk van die Gees
1 Kennis van die Gees
Ons begin met die vraag: Hoe weet ons van die Heilige Gees?
Hoe weet ons Hy bestaan?
En wat weet ons van Hom?
In Handelinge 19 ontmoet Paulus omtrent twaalf manne, wat dissipels van Johannes die Doper was.
Toe Paulus met hulle begin praat, was sy verbasing groot dat hulle nog nie van die Heilige Gees geweet het nie.
In Handelinge 19:2 sê hierdie manne: “Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.”
Nou moet mens hierdie uispraak in sy konteks verstaan.
Natuurlik het hierdie dissipels van Johannes van die Heilige Gees geweet.
Vanuit die Ou Testament, en uiteraard het Johannes aan hulle vertel hoe, nadat hy Jesus gedoop het, die Heilige Gees soos ‘n duif uit die hemel op Hom neergedaal het.
Maar, feit is wel dat hulle kennis van die Gees baie beperk was.
Hulle het byvoorbeeld nog nie van die doop van Jesus geweet nie, wat ‘n doop is in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, dit wil sê in die naam van die Drie-enige God.
Van die Drie-eenheid sou hulle ook nog nie gehoor het nie.
So as ons in hierdie eerste punt aandag skenk aan hoe ons van die Gees weet, waar ons kennis van die Gees vandaan kom, moet ons besef dat die koms van Jesus na die aarde ‘n wesenlike impak gehad het op dit wat ons oor die Gees weet.
Waar die Ou Testament ons veel oor God openbaar, is dit in die Nuwe Testament net nog soveel duideliker.
Dit wat Jesus meerdere kere gesê het, is absoluut waar, naamlik dat Hy na die aarde gekom het om aan die mensheid te vertel wie God is.
Dink aan al sy uitsprake in die Johannesevangelie:
“Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het” (Joh 8:38).
“Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.“ (Joh 12:50)
“As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het ... Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: ... Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (Joh 14:7-9)
“[O]mdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” (Joh 15:15)
“Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader” (Joh 10:15).
“Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.”
(Joh 6:46)
“en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.” (Joh 8:28)
‘n Hele ry Bybeltektste uit die Johannesevangelie ...
Daaruit spreek oorduidelik dat Christus met ‘n buitengewone boodskap gekom het.
Na sy koms is ons kennis oor God net soveel meer.
Ja die Nuwe Testament oortref die Oue by verre!
En onderdeel van hierdie onderwys van Jesus wat Hy uit die hemel saamgeneem het, is ook wat Hy ons oor die Heilige Gees leer.
Die Heilige Gees, as Hy kom, “die Trooster ... wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” (Joh 15:26)
Ons kennis van die Heilige Gees kom dus van Christus.
Uit die Ou Testament weet ons iets oor God die Heilige Gees, maar dit is ons Here Jesus Christus wat eintlik werklik aan ons geopenbaar het wie die Heilige Gees is.
Selfs dit wat in die Ou Testament staan, maak nou net nog soveel meer sin in die lig van sy onderwys.
En dieselfde geld wat betref ons kennis van die Drie-eenheid van God.
Al ontmoet ons elkeen van die drie Persone reeds in die Ou Testament, dis eers na Jesus se onderrig, soos dit tot ons kom in die Evangelies en Apostoliese Briewe van die Nuwe Testament, dat ons regtig besef dat God drie Persone in een is.
Dink aan Christus se doopbevel in die naam van God Drie-enig.
Dink aan die bekende seëngroet uit die Nuwe Testament, in die naam van God Drie-enig (2 Kor 13:13): “Die genade van die Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal.”
Al met al, wat ’n voorreg dat ons die Heilige Gees mag ken.
Alle dank aan ons Here Jesus Christus, wat uit die hemel gekom het om Hom aan ons te openbaar.
Soos die Skrif sê, in Christus is “al die skatte van wysheid en kennis verborge”
(Kol 2:3).
Luister na sy Woord, en jy ontvang daardie skatte van kennis oor God, iets wat die wêreld moet mis.
Noudat ons in die eerste punt gekyk het na waar ons kennis van die Heilige Gees vandaan kom, gaan ons in die tweede punt dieper in op wie die Heilige Gees is:
2 Wese van die Gees
Ons bely in Sondag 20 dat Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is.
Dit is die ondubblesinnige boodskap wat uit die Nuwe Testament tot ons kom.
Net soos hulle is Hy ewig.
Hy was al aktief betrokke by die skepping van die wêreld.
Dink maar aan Genesis 1:2.
En tot op vandag is Hy aanwesig en aktief in die wêreld.
Uit die Bybel weet ons ook dat die Heilige Gees ‘n Persoon is.
God Drie-enig bestaan uit drie aparte Persone.
Dit is dus nie so dat die Gees net die karakter of die krag van God is nie.
God bestaan uit die harmonie van drie Persone, Vader, Seun en Gees.
En hoewel dit dikwels weerspreek word, dink aan wat die Jode en die Moslims hieroor sê, naamlik dat daar slegs een God is, en dat Jesus en die Heilige Gees nie God genoem mag word nie;
hoewel die godheid van die Gees dikwels ontken word, laat die Bybel vir ons geen keuse nie.
Dit is oorduidelik dat die Bybel spreek oor die Gees as God self.
So word ons in die Bybel beveel om mense te doop in die naam van God, heel konkreet, in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.
En as Ananias en Saffira ‘n leuen vertel, lees ons in die Bybel, dat hulle vir die Heilige Gees gelieg het, en dus teen God gelieg het (Hand 5:3-4).
Die Heilige Gees is ware en ewige God.
Hoekom word Hy dan eintlik Gees genoem?
Die feit dat Hy Gees genoem word, dui daarop dat Hy vir mense onsigbaar is.
Jesus was as mens op aarde vir iedereen sigbaar.
Maar toe die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag, was Hy nie sigbaar nie.
Die effek van sy werk was en is wel sigbaar.
Net soos mens die wind nie kan sien nie, maar wel die effek van die wind: dat bome heen en weer beweeg, dat jou hare in die wind waai.
En hoekom word Hy eintlik Heilige Gees genoem?
Die woord heilig beteken eerstens dat iets aan God behoort, toegewy is aan God.
Nou is die Gees self God, maar deel van sy wese is spesifiek dat Hy toegewy is aan die Vader en die Seun.
In die Geloofsbelydenis van Nicea bely ons: Hy gaan van die Vader en die Seun uit ...
Dit het daarmee te make dat Hy die derde Persoon in die Drie-eenheid is, derde in gesag.
Sy werk is om mense by die Vader en die Seun te bring, daaraan is Hy toegewy.
Sy werk is om alle fokus te plaas, nie op Homself nie, maar op die Vader en die Seun.
Jesus verduidelik die werk van die Gees vir ons mooi in die volgende gedeelte:
“die Gees van die waarheid, sal ... julle in die hele warheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie ... Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Joh 16:13-14)
Dit is pragtig om te sien hoe God Drie-enig onderling funksioneer.
Elkeen het sy unieke rol as dit by ons redding kom.
So is die unieke rol van die Gees dat Hy in ons werk, maar nie die fokus op Homself plaas nie.
Hy rig ons aandag juis op ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus.
Tweedens beteken heilig ook afgesonder van die sonde, nie besmet met sonde nie.
Die Heilige Gees is inderdaad nie vatbaar vir die sonde nie, maar dit wil nie sê dat Hy vir die sonde wegvlug nie.
As dit die geval was, sou Hy nooit na die aarde gekom het nie.
Die Heilige Gees soek juis sondige plekke op om dit te reinig, te heilig.
Dit is uit en uit die werk van die Gees.
Hy dring binne in sondige harte van mense.
Hy begin hulle van binne uit te reinig en aan God toe te wy.
Daarom heet Hy Heilige Gees.
Hy is die Gees wat heilig maak.
As dit goed is, voel ons hierdie werk van die Heilige Gees in ons.
Hy laat ons hoe langer hoe slegter voel oor die sonde.
Hy laat ons hoe langer hoe meer verlang na dit wat goed en eerbaar en mooi is.
Christus roep ons op om sy werk nie te blus nie.
Die Gees is ons Onderwyser, het Calvyn hom ‘n keer genoem.
Hy onderrig ons, meer nog, soos ‘n goeie onderwyser, vorm Hy ons, ons hoof, hart en hande.
Hy laat ons wedergebore word.
Hy bekeer ons verstand, lewensuitkyk, lewenswyse, en gevoel.
As ons volgende week aan tafel skuif by Christus aan die nagmaal, wil Christus graag sien watter vordering die Gees in jou en my lewe gemaak het.
Hy wil die vrug van die Gees se werk in jou sien.
Luister jy na jou Onderwyser?
Doen jy die huiswerk wat Hy jou gee?
Werk jy met die prediking deur die week?
Probeer jy dit konkreet toepas op jou lewe?
Dit bring ons by die derde punt:
3 Werk van die Gees
Hoe werk die Gees in mense se lewens?
Christus leer dit vir ons kortliks as Hy sê:
“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.“ (Joh 14:26)
Die taak van die Gees is om ons te leer wat Christus gesê het, en steeds daaraan te herinner.
Ons bely in Sondag 20 dat die werk van die Gees is om mense deel te laat kry aan die weldade van Christus.
Dit is deftig onder woorde gebring.
Eenvoudig beteken dit: Dat ons ontvang wat Christus vir ons verwerf het, naamlik dat ons sondes vergewe word, dat ons nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe ontvang.
Dit is die weldade van Christus.
Die Heilige Gees sorg dus eerstens dat ons Christus ken.
Want as ons Hom nie ken nie, hoe sal ons sy weldade kan ontvang?
Sentraal in hoe Gees dit doen, is die Woord.
Omdat dit sy taak is om ons te herinner aan alles wat Jesus gesê het, het die Gees gesorg dat Christus se Woord op skrif gestel is.
Die Woord, die Bybel, is die vernaamste instrument van die Gees.
In NGB artikel 2 bely ons dat ons God deur twee middele ken.
In die eerste plek deur die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.
Skepping – dink dan aan die natuur.
Onderhouding – dink dan aan hoe die seisoene mekaar afwissel.
Regering – dink daaraan hoe op aarde regerings tot ‘n val kom en oorgeneem word deur nuwes, hoe God die wêreldgeskiedenis stuur.
Die NGB vergelyk hierdie hele werklikheid van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld met ‘n pragtige boek.
‘n Ensiklopedie met oneindig veel bladsye, die mooiste foto’s en interessantste onderwerpe.
Die Gees gebruik hierdie ‘boek’, hier ‘ensiklopedie’ om die mens die ewige krag en goddelikheid van God te leer ken (Rom 1:20).
Geen mens wat op aarde woon, kan aan die einde van sy lewe sê: Ek het God nie geken nie.
Want iedereen wat leef het insae in hierdie pragtige boek.
Dit is die werk van die Gees.
Dit is hoe Hy op aarde aanwesig is en in die harte van mense werk.
Maar in die tweede plek, sê NGB art. 2, is daar nog ‘n boek waardeur God Homself bekend maak.
En hier word daar dan ‘n egte boek bedoel, naamlik die Bybel.
Hierin maak God Hom nog duideliker en meer volkome aan ons bekend.
Die wins hiervan is, dat wie ook hierdie Boek ken, nie net weet dat daar ‘n God, ‘n ewige krag, is nie; maar hy weet ook wie hierdie God is, en hoe hierdie God geëer moet word, en hoe hierdie God redding gebring het.
Dit is die meerwaarde van hierdie tweede Boek.
Dit mag alles nogal teoreties klink.
Maar dit word baie duidelik as ons kyk na Handelinge 17.
Paulus kom op sy sendingsreis in Athene aan.
Hy word uitgenooi om ‘n toespraak te hou by die Areopagus.
Hy vertel vir die Grieke – dit was waarskynlik die eerste keer wat hy in Griekeland op besoek was – dat dit hom opval hoe godsdienstig die mense hier is.
Op byna elke straathoek staan daar ‘n altaar.
Hy het selfs ‘n altaar gesien wat gewy is aan ‘n onbekende god.
Ons het gelees hoe Paulus hierby aansluit om te vertel dat hierdie vir hulle onbekende god nou juis die God is wat hy kom verkondig.
Mog Paulus dit wel sê?
Mog Paulus wel sê dat die Atheners godsdienstig is?
Hulle het naamlik nie eens die enige ware God geken nie.
Hulle het gebuig en geoffer vir afgode.
Gemeente, as ons NGB art. 2 op hierdie geskiedenis toepas, dan kan mens konkludeer dat die Atheners wel insae gehad het in die eerste boek.
Daarmee het die Gees in hulle gewerk.
Die boek van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld.
Uit hierdie boek het die heidene, hierdie Atheners, die lewendige besef oorgehou dat daar ‘n God moet bestaan.
Wie anders het hierdie wêreld tot stand gebring?
Wie anders sorg vir die reën en sonskyn?
Wie gee aan mense die lewe?
Uit hierdie boek kan elke mens die ewige krag en goddelikheid van God leer ken.
So was dit ook by die Atheners.
Dit was hulle vlak van godsdienstigheid.
Hulle was oortuig daarvan dat God bestaan, hulle het selfs vermoed dat daar baie gode bestaan, selfs gode wat hulle nog nie geken het nie.
En hulle het probeer om al hierdie gode te dien.
Dus ja, hulle was baie godsdienstig!
En wat doen Paulus dan?
Begin hy om hulle godsdienstigheid af te kraak, asof dit niks werd is nie?
Paulus doen iets anders.
Om dit in terme van NGB art. 2 te sê, hy verduidelik aan hulle dat daar nog ‘n boek bestaan, ‘n boek waarin hulle nog veel helderder sig op God kry, ja op die enigste ware en lewende God.
Hierdie God het bewys dat Hy omgee vir die wêreld, want Hy het sy eie Seun uit die hemel na die aarde gestuur om die skuld van die wêreld te dra, om die dood te oorwin.
Wie in Hom glo, in God se Seun Jesus Christus, gaan nie verlore nie, maar sal ewig lewe.
Wat was die impak van hierdie boodskap op hulle godsdienstigheid, op al die altare wat hulle gehad het?
Dit is as ’t ware asof hulle nou eers ‘n bril opkry waardeur hulle kan fokus.
Met die bril van hierdie tweede Boek op, is die sig helder.
Hulle ou vorme van godsdienstigheid kan hulle nou agter hulle laat.
Hulle sien nou dat dit waardeloos is.
Hulle het nou sig gekry op die ware God.
In hierdie tweede Boek staan hoe Hy gedien wil word.
In hierdie tweede Boek lees hulle die Evangelie: Elkeen wat in Jesus glo, erf die ewige lewe!
So het die Heilige Gees die Atheners in die waarheid gelei, deur die prediking van die Evangelie.
Dieselfde Gees werk vandag nog steeds, op dieselfde wyse.
Kom ons bid dat Christus se Woord ook in ons tyd helder sal skyn, dat die Gees kragtig daardeur sal werk!
Bring jouself, jou kinders en kleinkinders na waar die Evangelie verkondig word.
Sorg dat hulle ’n Bybel het.
Sorg dat hulle elke dag daaruit lees.
Verduidelik dit vir hulle.
En, natuurlik, maak die eerste boek ook vir hulle oop.
Want moenie vergeet nie, die Gees werk ook deur die ‘eerste boek’, die skepping en onderhouding en regering van die wêreld.
As kerkmense moet ons dit nie vergeet nie.
Ons taak is nie net om die jeug uit die Bybel te onderrig nie, maar ook vanuit die skepping.
Leer hulle om die skepping te waardeer, vat hulle na mooi plekke in God se skepping.
Wys hulle op die wonders in jou tuin, veral as die lente nou weer gaan begin.
Leer hulle om te sien hoe God die Heilige Gees die geskiedenis lei, vroeër en vandag ook.
Ek sluit af.
Hoe bevoorreg is ons nie.
Ons ken God Drie-enig uit sy Woord, spesifiek uit die Nuwe Testament.
Ons kennis van die lewende God is net soveel meer.
Jesus openbaar dat die Heilige Gees een van die Persone in die Drie-eenheid is.
Ons het, danksy Jesus se openbaring, nou ook skerp sig op wat sy rol, sy taak is, spesifiek wat betref ons saligheid.
In een sin bely ons dit in ‘n neutedop in Sondag 20: “Hy is ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos en ewig by my bly.”
Eien hierdie woorde jouself toe, pas dit op jouself toe: Jy en ek mag ervaar hoe die Gees elke dag met ons besig is.
As ons die Bybel oopmaak, op Sondag en deur die week.
Maar gewoon ook as ons ons oë oopmaak en om ons heen kyk in die skepping.
Toe Christus na die hemel opgevaar het, het Hy ons nie alleen gelaat nie.
Sedertdien woon en werk die Trooster, sy Gees, in ons.
En daarom as ons volgende week nagmaal gaan vier, kan ons weet dat Christus ook teenwoordig is, naamlik deur sy Heilige Gees.
Want wat sy “Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie” (HK v/a 47).
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 139:1,3
Gebed
Skriflesing: Johannes 15:15-27
Ps 104:17,18
Skriflesing: Handelinge 17:22-34
Ps 143:8
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 20
Preek
Sb 13:3,5,7,9
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Sb 11:2
Kollekte
Sb 42:1,3,5
Seën