Preek: Genesis 7:1
Die bietjie water wat daar vandag in die doopvont hier voor in die kerk is, is niks vergeleke by al die water van die sondvloed nie.
Tog het hulle met mekaar te make.
Daarna gaan ons in hierdie preek kyk.
Net so het dit wat daar gebeur het destyds met die sondvloed, ook vir vandag nog ‘n belangrike boodskap.
Dis waarna ons ook in hierdie preek gaan kyk.
Tema: Die HERE bewys genade aan Noag en sy huisgesin
1 Die onregverdigheid wat lei tot straf
2 Die regverdigheid wat lei tot redding
1 Die onregverdigheid wat lei tot straf
Om die noodsaak van die sondvloed te besef, moet mens iets weet oor wat die toestand op aarde was net daarvoor.
Die eerste verse van hoofstuk 6 lig effens die sluier.
Dis maar min woorde, maar wat daar gesê word, is genoeg.
Die HERE het gesien hoe groot die boosheid van die mens op aarde was.
En dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het.
Hy kom dan tot die slotsom: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.
Ek dink almal sal met my saamstem dat hierdie besluit van God baie ingrypend is.
Veral in die lig van hoe ons die HERE uit die res van die Bybel ken, naamlik dat Hy baie geduldig van aard is, in die lig hiervan is dit net nog meer ingrypend wat die HERE besluit.
Wat het die HERE eintlik tot hierdie ongelooflike maatreël gebring?
In vers 2 word gepraat oor die seuns van God aan die een kant, en die dogters van die mense aan die ander kant.
Wie word hier bedoel met die seuns van God?
Verskillende verklarings is al deur die eeue aangedra.
Sommiges dink aan engele, want in Job 1 is dit waarskynlik engele wat seuns van God genoem word.
Daar is ook ander plekke in die Bybel waar met seuns van God bedoel word die volk van God, Israel – die gelowiges, die vromes.
Dink bv. aan Psalm 73:15: dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u seuns.
Maar daar is ander wat volhou dat hier in Genesis 6:2 gode bedoel word.
Hierdie Bybelgedeelte sou ’n mitologiese agtergrond hê, vergelykbaar met die mitiese verhale van die Babiloniërs of Grieke.
Die heidense volke het baie gode vereer.
En soos bekend uit hulle mitiese verhale, is sommige van hierdie gode verlei toe hulle die mooi meisies op aarde sien.
Uit hierdie verbindtenis sou dan volgens die mitologie ’n aparte ras voortgekom het, die sogenaamde reuse waaroor vers 4 praat.
Maar met die sondvloed sou die HERE aan hierdie ras toe ’n einde gemaak het.
Die boodskap van Genesis 6 sou dan wees dat God triomfeer oor al die afgode van die heidene.
Dis dalk goed om met ’n gesonde dosis skepsis na hierdie eksegese te kyk.
Kom ons doen dit vanuit die oë van Moses, die skrywer van die boek Genesis, en ook die skrywer van die res van die Pentateug – Exodus tot Deuteronomium.
Die boodskap uit die Pentateug is nie dat die God van Israël sterker is as al die ander gode nie, ook nie dat Hy hulle oorwin het – of dit nou met die skepping of by die sondvloed nie.
Die boodskap van die Pentateug is veel radikaler: Daar is slegs een God.
Ander gode bestaan nie eers nie.
Afgode bestaan net in die koppe van mense.
Natuurlik – daaroor is Moses duidelik – bestaan daar ’n mag van die kwaad – die slang van Genesis 3, dis die Satan en sy bose geeste.
So as mense beweer dat met ‘seuns van God’ ander gode bedoel word, dan staan dit op gespanne voet met die res van die Pentateug, en natuurlik die res van die Bybel.
Dalk is dit goed om bietjie nader in te gaan op die term reus.
Wie of wat word bedoel met hierdie sogenaamde reuse op aarde?
Die Hebreeuse woord wat hiervoor gebruik word, kom maar min in die Ou Testament voor.
Slegs een ander keer, in Numeri 13:33, waar die 12 Joodse verspieders wat Moses uitgestuur het, die Enakiete in die land Kanaän beskryf as reuse, en daarby vergeleke het hulle self gevoel soos sprinkane.
Wat wel opvallend is, is dat die Hebreeuse woord vir reus wat hier gebruik word, afgelei is van ’n ander woord, ‘n woord wat iets soos ’n miskraam beteken.
Op ’n manier is daar ’n korrelasie met ’n persoon wat ’n afwyking het.
Hoe was dit presies met hierdie ‘reuse’ waaroor Genesis 6 praat?
Soos wat ek deur die verklarings gelees het, het dit my opgeval dat mens nie net op die liggaamlike kant moet let nie, maar ook op die karakter.
Juis in die konteks van Genesis 6 maak dit nogal sin.
‘Reuse’ nie net in die sin van liggaamlike grootte nie, maar reuse ook in die sin van hulle karakter.
Hulle was skofte, oftewel bullebakke.
Mense wat net vir hulleself gelewe het, en sonodig ander uit die pad gestamp het.
Hierdie reuse was tipes wat hulle aan God en gebod nie gesteur het nie.
Hulle het hulleself gedien, verryk, en het geleef asof die aarde aan hulle behoort.
Moontlik dat in hierdie konteks die liggaamlike aspek – die liggaamsgrote – ook inpas, in die sin van ’n superras.
Hitler, wat hom ook nie aan God of gebod gesteur het nie, het bewus begin om ’n soort superras te kweek, sterkter en groter en beter as die res.
Verafgoding van die mens.
Wie weet, het dit voor die sondvloed ook met die mense gebeur?
Dat die mensheid – die kinders van Kain – in hulle arrogansie al hoe groter en sterker probeer word het?
Maar dit was nog nie die ergste nie.
Die skokkendste van die toestand net voor die sondvloed is wat ons ook hier lees, naamlik dat die seuns van God – bedoelende hulle wat God dien – dat juis hulle ook afvallig begin raak het.
Dat hulle voorkeur begin uitgaan het, by die uitsoek van ’n huweliksmaat, nie in die eerste plek na iemand wat die HERE dien nie, maar na die dogters van die mense wat mooi was.
Mooi gedefinieer dan in wêreldse terme.
Kom ons sê dit maar reguit: Die wêreldse sondige meisies was vir die seuns van God aantrekliker as die wat die HERE gedien het.
Ons sien hier gebeur wat Bileam later ook as advies vir Balak sou gee.
Hoe oorwin jy God se volk?
Jy gaan hulle nie op die slagveld kan wen nie, maar probeer net om hulle te verlei.
En so sien ons hier dat daar ’n afval op ongekende skaal plaasvind onder die wat die HERE vrees.
Tradisioneel was dit die onderskeid, die antitese, tussen die nageslag van Kain en die nageslag van Set.
Maar daardie grense het vervaag.
Wat nou hier plaasvind in die periode voor die sondvloed is afval op ongekende skaal.
So groot dat dit die HERE moedeloos gemaak het.
Daar staan selfs dat dit die HERE berou het dat Hy die mens op aarde gemaak het.
Daar was smart in sy hart.
So iets word nie gou van die HERE gesê nie.
Dit moet daarop dui dat die situasie buitengewoon ernstig was.
Die slangesaad het omtrent volledig die vrousaad ingesluk, as u begryp wat ek bedoel, verwysende na die moederbelofte in Genesis 3:15.
En dan maak die HERE die plan om die lewe wat Hy geskenk het, weer terug te neem.
Hy wil dat die mense sterf in die lig van wat hulle op aarde aangevang het.
Gemeente, dink u dat die HERE in ons tyd ook soms moedeloos raak?
Dat dit Hom berou dat Hy die mens op aarde geskape het?
Eerlik gesê, daar is alle rede voor.
Veral in die lig daarvan dat juis die grens tussen regverdig en onregverdig steeds meer vervaag.
Dat gelowiges hulleself verswaer met die sondige wêreld.
Soos toe moet ons vandag ook nederig erken:
As God straf, is dit volledig tereg.
Destyds, en net so vandag.
Maar wat vandag ook nog gebeur, te midde van alle goddeloosheid, is tog die groot wonder van genade.
Dit bring ons by die tweede punt.
(Tema: Die HERE bewys genade aan Noag en sy huisgesin
1 Die onregverdigheid wat lei tot straf)
2 Die regverdigheid wat lei tot redding
Ons teks openbaar ‘n opvallende manier van optrede van die HERE.
Hy sê vir Noag: Ek het jou regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.
En daarom verskyn Hy spesiaal aan Noag en bied hom ‘n ontsnappingskans aan.
Hy kry die opdrag om ‘n ark te bou wat hom teen die sondvloed sou beskerm.
Maar wat opvallend is, is dat sy hele huisgesin toegelaat word om saam met hom in die ark te gaan.
Sy vrou, drie seuns, en hulle vroue.
Tog staan daar net oor Noag dat God hom regverdig bevind het.
Was sy vrou, seuns en hulle vroue ook regverdig?
Die indruk wat ons kry van dit wat na die sondvloed gebeur het, is dat dit nie noodwendig die geval was nie.
Op sy minste was sy seun Gam nogal oppervlakkig.
Dit is dus opvallend.
Danksy Noag, die gesinshoof, se regverdigheid, word aan die hele gesin barmhartigheid bewys.
Die HERE se verbond wat Hy met Noag sluit (Gen 6:18), sluit hulle ook in.
Hulle deel ook in die voorregte van die verbond.
Toe ons vroeër in hierdie diens die Doopsformulier gelees het, het ons gebid:
“U het volgens u regverdige oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf. Maar U het die gelowige Noag met sy gesin, slegs agt mense, deur u groot barmhartigheid gered en bewaar.”
Nou wil dit nie sê dat Noag se nageslag, al is hulle dus gered uit die sondvloed, noodwendig ewige redding ontvang het nie.
Ons weet dat daar van Noag se nageslag is wat hulle rug op die HERE gedraai het.
En al het hulle baie voorregte in die verbond geniet, het die verbond op sig hulle nie finaal gered nie.
Uiteindelik het God elkeen persoonlik verantwoordelik gehou.
Aan die een kant is God dus buitengewoon barmhartig, maar aan die ander kant ook regverdig.
Die apostel Petrus verwys spesifiek na hierdie sondvloedgeskiedenis, en hy gebruik dit om die doop te verduidelik.
1 Petrus 3:20-21: In die ark is weinig, dit is agt, siele deur water heen gered, skryf Petrus, “waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red”.
Die sondvloed het skeiding gemaak tussen regverdiges en onregverdiges.
Die doop maak ook skeiding tussen regverdiges en onregverdiges.
Maar, net soos die HERE op Noag as gesinshoof se regverdigheid afgegaan het, en daarom ook sy gesinslede barmhartigheid bewys het, so doen God dit vandag ook met die doop.
Deur die doop word ‘n nuwe mensie in sy kerk ingelyf, maar dit gebeur op grond van die belofte wat sy ouers maak, sy ouers wat tans vir hom verantwoordelik is.
Noag het sy verantwoordelikheid nagekom deur sy gesin te lei in die diens aan die HERE.
So word vandag se doopouers opgeroep om hulle gesin te lei in die diens aan die HERE.
Maar later, soos wat hy groei en grootword, sal die HERE toenemend ook van hom verantwoordelikheid verwag, dat hy ook self van harte die HERE dien.
So is die HERE baie genadig teenoor die kinders van gelowiges, net soos Hy baie genadig teenoor Noag se gesin was.
Hierdie genade is egter nie sinoniem aan ‘n ‘ticket to heaven’, as ‘n verbondskind wanneer hy groot geword het, nie ook self die HERE van harte dien nie.
Met die sondvloed het die HERE nuwe kanse geskep vir die gelowige Noag en sy nageslag op aarde.
Soos ons gesien het, voor die sondvloed was die aarde so oorspoel van goddeloosheid dat ‘n opregte lewe in diens van die HERE steeds meer in die verdrukking gekom het.
Noag is van voor en agter bespot, omdat Hy die HERE gehoorsaam het.
Die bullebakke op aarde het gedoen net wat hulle wou.
Maar die sondvloed het aan hulle ‘n einde gemaak.
Tog het die sondvloed alle sonde nie kon wegneem nie.
Die erfsonde het steeds in die hart van die mens gebly.
Dit was steeds in Noag en sy nageslag se gene.
En hierdie teenstelling – ook wel genoem antitese – sal voortduur tot die dag waarop Christus terugkeer.
Die geestelike stryd sal nie ophou nie.
Ons ervaar dit in ‘n land waar so baie mense net hulleself en hulle eie belange dien en nie hulle Skepper nie.
En nie net in ons land nie.
Dit het my opgeval hoe openlik daar tydens die onlangse opening van die Olimpiese Spele met die Christelike geloof gespot is.
In Europa, soos in Frankryk, raak mense net so arrogant teenoor God as die bullebakke voor die sondvloed.
En in Amerika woed daar ‘n intense geestelike stryd teen Christelike waardes.
En dan het ek nog nie die Midde-Ooste genoem, of ander lande op aarde, waar die Christelike geloof openlik vervolg word nie.
Petrus skryf dat daar daarom alle rede is vir nóg ‘n sondvloed om te kom.
En dit sal kom!
Maar, skryf Petrus, hierdie keer sal dit nie ‘n vloed van water wees nie, maar ‘n vloed van vuur (2 Petr 3:7)!
Daarmee sal God die aarde reinig op die oordeelsdag.
As gelowiges sien ons uit daarna, veral as die ongeloof so blatant word.
Want dit sal die aarde skoonmaak.
Broers en susters, mag ons op daardie dag regverdig bevind word!
Ons en ons kinders.
Die HERE gee ook aan die kinders van regverdiges ‘n gulde kans.
Hy beloof dat hulle ook inderdaad gered sal word as die ouers hulle doopbelofte nakom.
Dit is die reël.
En sommiges sal sê: Ja maar daar is uitsonderings.
Daar is verbondskinders wat hulle rug op die HERE draai.
Maar onthou, die uitsondering hef die reël nie op nie.
Onder hulle wat deur die eeue ‘n blywende plekkie in die ark van die nuwe verbond – dis die kerk van Christus – ontvang het, is daar ontelbare kinders van gelowiges, wat Godvresend opgevoed is en daarna self die HERE leer liefkry het.
Dit is God se belofte!
Dit is een van sy hoofstrategieë hoe Hy sy kerk bou.
Moenie dit onderskat nie!
Dis een van die mees wesenlike werkwyses hoe Christus nuwe mense deel van sy kerk maak.
En die geskiedenis leer dat God baie suksesvol daarin is.
Nou, soos ons weet, het Noag se regverdigheid nie daarin bestaan dat hy sondeloos was nie.
Dink aan die bekende geskiedenis na afloop van die sondvloed, toe hy homself dronk gedrink het.
Noag is nie deur God regverdig bevind omdat hy iemand was wat nie gesukkel het om die tien gebooie na te kom nie.
Dis nie wat die Bybel hier met die woord regverdig bedoel nie.
Noag se regverdigheid het daarin gelê dat hy God se Woord vertrou het.
Die HERE het vir hom gesê hy moes ‘n ark bou, ‘n verskriklike groot skip, langer as ‘n rugbyveld.
En dit op die droë land.
Dit was in die oë van die wêreld bespotlik om te doen.
Maar omdat die HERE dit gesê het, het Noag Hom vertrou, in teenstelling tot die ander mense wat gespot het.
Net so vandag.
Jy en jou kinders gaan nie regverdig bevind word omdat julle modelmense is nie.
Regverdige ouers vandag is ook nie sonder sonde nie.
As jy jou kind opvoed, moenie jouself voorhou as die goue maatstaf nie.
As ouers vind ons ons geregtigheid in Jesus Christus.
Ons word opgeroep om Hom te vertrou.
En dit is ook vir die wêreld absurd, om te vertrou op iemand wat aan ‘n kruis gesterf het, iemand wat so lank gelede geleef het.
Wat is die kans dat Hy vir jou sal kan red ...?
So spot die wêreld.
Nietemin neem gelowige ouers hulle kindertjies na Hom toe.
Want slegs in vertroue op Christus sal die HERE jou en jou kinders regverdig kan bevind.
Geliefde gemeente, in die Nuwe Testament word die kerk van Jesus Christus die ark genoem.
Die plek van veiligheid.
Kom binne, sluit aan by die kerk.
Moenie dink die kerk is nie nodig nie.
Moenie dink die kerk is belaglik nie.
Moenie dink die kerk is net ’n plek vir mense wat nog nie by die tyd is nie.
Inteendeel, die kerk van Christus is die enigste plek waar jy gered kan word.
Die oordeelsdag is op koms.
Maar ook in ons tyd, die Nuwe Testamentiese tyd, het God baie geduld.
Hy wil nie hê dat mense verlore gaan nie, maar dat hulle hul bekeer en gered word.
Kom binne, noudat dit nog kan, voordat die deur toegemaak word.
Mag dit so wees dat God ook vir jou en jou huisgesin sê dit wat Hy destyds vir Noag gesê het:
Jou het ek regverdig bevind voor my aangesig, te midde van die teenswoordige krom en verdraaide geslag.
Maar vir die wat dan nog buite is, sal dit die buitenste duisternis wees.
Hulle onregverdigheid sal lei tot die ewige straf.
Vir die wat binne is, begin die groot fees van ons Heiland, Jesus Christus.
In Hom is daar ewige lewe.
Sy regverdigheid lei tot redding.
Amen.
Votum
Seën
Ps 99:1
Wet
Ps 9:7,9,12
Gebed
Doopsformulier
Gebed
Bediening van doop
Oproep aan gemeente
Ps 105:5
Gebed
Skriflesing: Genesis 6
Ps 73:1,2
Teks: Genesis 7:1
Preek
Ps 73:5,6,12
Gebed
Kollekte
Ps 99:2,3,5
Seën