Preek: Romeine 11:26a
In Israel woed daar op die oomblik ‘n bloedige oorlog tussen Israel en die Palestyne.
Sal dit ‘n einde bring aan die vyandighede, of sal dit uitkring tot ‘n veel breër konflik in die Midde-Ooste?
En, vir wie moet ons steun?
Vir die Jode, of vir die Palestyne, of vir albei?
En meer spesifiek behoort ons die vraag te vra:
Hoe moet ons hierdie konflik beoordeel in die lig van die Skrif?
Wat is die Jode se posisie in die lig van God se Woord?
Hoe pas die Jode in in die nuwe bedeling, die nuwe lewe in Christus?
Tema: Die hele Israel sal gered word
1 Wie is Israel?
2 Wie is die hele Israel?
1 Wie is Israel?
Paulus, wat hierdie brief aan die Romeine skryf, se lewe het ‘n drastiese koerswysiging ondergaan.
Paulus was van geboorte ’n baie toegewyde Jood, ’n Fariseër.
Hy het hom beywer vir sy volk, om die godsdiens van sy volk suiwer te hou.
Sy volk was alles vir hom.
Dis hoekom hy eers so fanaties die Christene vervolg het.
Maar Christus het onverwags uit die hemel aan hom verskyn.
Christus het hom verblind en op die knieë gedwing.
Van daardie dag af het hy, pleks van die Christene te vervolg, Christus begin preek.
God het ook vir Hom ‘n spesiale opdrag gehad.
Hy is uitgestuur na die heidene.
Waarskynlik meer as die ander apostels het hy die heidene na Christus toe gelei.
Hy het meegemaak, op al sy sendingsreise, hoe baie heidene die Jode verbysteek en hulle tot Christus bekeer en by sy kerk aansluit, terwyl die Jode agtergebly het.
Nie dat Paulus die Jode, sy eie volk vergeet het nie.
Inteendeel.
In elke stad waar hy gekom het, het hy eerste die sinagoge besoek.
Hy het Christus eers aan die Jode verkondig.
Ook in die stad Rome.
Toe hy daar aankom, is die eerste wat hy gedoen het – onthou hy het daar as ’n gevangene aangekom, dus hy kon nie net gaan waar hy wou nie, hy kon nie op eie houtjie na die sinagoges toe gaan nie – maar tog was die eerste wat hy gedoen het om die vernaamste Jode in die stad bymekaar te roep en aan hulle sy omstandighede te verduidelik, en natuurlik Christus te preek (Handelinge 28:17).
Dus, hoewel Paulus tereg die apostel vir die heidene genoem word, was sy hartsbegeerte steeds dat sy eie volk vroeër of later ook Christus sou aanneem.
God het sy Seun as Messias, as Redder, na sy eie verbondsvolk gestuur.
Maar hulle het Hom verwerp.
Dit was die grootste tragiek van die geskiedenis, en Paulus kon eintlik nooit daarmee vrede maak nie.
In Romeine 11 verduidelik Paulus die verloop van sake.
Hoewel die Jode die Messias verwerp het, het God hulle nog nie verwerp nie.
Hoewel daar nou ’n stroom heidene deel van God se kerk word en die Jode maar druppelsgewys binnekom, wil dit nie sê God het sy volk reeds afgeskryf nie.
Nee, probeer Paulus verduidelik, juis die feit dat daar so baie heidene tot geloof kom, is ’n strategie van God om na die Jode uit te reik.
Dit klink onlogies, maar dit is wel so, skryf Paulus.
Want dit lê naamlik so: God probeer sy ou volk, sy ou beminde, jaloers te maak.
Noudat daar so baie heidene tot bekering kom, sal die Jode mos begin nadink.
Het ons nie dalk ’n historiese fout begaan toe ons die Messias, Jesus, gekruisig het nie?
Hoe kan dit anders dat daar nou so baie heidene vir die lewende God begin dien?
Dit was mos altyd al die verlange van die Jode, lees maar die Ou Testament, dat nie net hulle nie, maar alle nasies die lewende God sal begin dien!
Want die heidenvolke het nie lewende gode gehad nie, net afgode.
Net die Jode het die lewende God geken en gedien.
Maar nou gebeur waar hulle eintlik al vir eeue op gehoop het: Duisende derduisende heidene begin die God van Israel te dien.
Dit is, sê Paulus, ’n aansporing vir die Jode om hulle standpunt te heroorweeg.
Paulus gebruik die voorbeeld van ’n olyfboom.
Sommige takke is afgekap, takke wat oënskynlik afgesterf het.
In hulle plek is nuwe takke, van wilde olyfbome, op die ou stam ingeënt.
Maar, sê Paulus, God kan altyd weer die ou takke optel en hulle opnuut inent.
Tot vandag toe is daar nog ’n diskussie gaande oor die vraag:
Sal die Joodse volk, sal al die Jode êrens in die toekoms tog na God terugkeer en Christus as Messias aanvaar?
Feit is dat God nog steeds besig is om sy eertydse verbondsvolk tot jaloersheid te prikkel.
Wat die toekoms gaan bring, dit moet ons in God se hande lê.
O diepte van God se ryke wysheid en kennis!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Ons mag dink ons ken min of meer ons toekoms, maar dit is nie so nie.
God se planne is ondeurgrondelik.
Ons weet nie wat die koers gaan wees nie.
Ons weet nie in watter rigting God dit gaan lei nie.
Inderdaad is God se wysheid en kennis ondeurgrondelik.
Inderdaad is sy plan, sy paadjie met ons lewe, dikwels ondeurgrondelik.
Nietemin beteken dit nie dat ons niks oor die toekoms kan sê nie.
Want vir Paulus het daar een ding vasgestaan.
Hoewel hy geweldige pyn in sy hart het oor die toestand van sy volk, oor die feit dat hulle die Messias verwerp, en oor die feit dat die heidene hulle nou verbysteek, tog het hy wel dit besef: God is barmhartig!
Watter koers God se kompas ook wys, sy motief is altyd barmhartigheid.
Dis nie so dat God sy ou volk nou volledig afgeskryf het nie.
Die feit dat derduisende heidene hulle bekeer, is nie omdat God nou siek en sat en klaar is met sy eie volk nie.
Hierdie feit, die bekering van die heidene, is juis ’n strategie van God om sy volk se hart weer terug te wen.
En dit gee vir Paulus berusting, selfs hoop vir die toekoms, al lyk die situasie van sy volk op die oomblik uiters donker.
O diepte van die rykdom van God se wysheid en kennis!
Hierdie woorde haal Paulus aan uit die Ou Testament.
Iemand soos Job het ook al dieselfde gesê: Wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman?
Ons ken Job se geskiedenis, die onvoorspelbare wendings in sy lewe.
En ook die profeet Jesaja het dieselfde gesê.
Jesaja het besef dat die feit dat God sy volk in ballingskap gaan stuur, nie is omdat Hy hulle afskryf nie.
Juis deur hierdie straf en beproewing wil God hulle weer nader aan Hom bring.
En, Paulus besef dat God nou dieselfde besig is om te doen in sy tyd.
Baie Jode wat destyds afvallig was en nie na die ballingskap teruggekeer het nie, soek Paulus nou op namens God.
God doen wat Hy wil, niemand is sy Raadsman nie.
Maar wat Hy doen met sy volk – altyd is sy dryfveer, sy kompas – sy barmhartigheid.
Soos gesê, word daar baie gestoei oor die regte uitleg van hierdie hoofstuk.
Nou is ’n belangrike reël in die eksegese, die uitlegkunde, dat as ’n teks op homself nie heeltemal duidelik is nie, dit in die lig van die konteks uitgelê moet word.
Die konteks van die hele Romeinebrief, en ook die breër konteks van die Bybel.
Kom ons begin by die konteks van die hele Romeinebrief.
Hoe gebruik Paulus byvoorbeeld die woord Israel in hierdie brief?
’n Insiggewende teks in hierdie verband is hoofstuk 9.
Ek haal aan:
“want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” (vers 6-8)
In vers 6 is daar ’n woordspeling.
Twee keer gebruik Paulus die naam Israel, maar elke keer bedoel hy iets anders.
Die eerste Israel verwys na God se verbondsvolk.
Die tweede Israel verwys na die etniese volk.
Paulus begrond hierdie onderskeid wat hy maak in die geskiedenis, want by Abraham het God self hierdie onderskeid gemaak.
Hoewel sowel Ismael as Isak etnies van Abraham afstam, is net Isak sy verbondsnageslag.
Isak was die kind van die belofte, verwysende na die feit dat Abraham hom gekry het slegs deur te moes vertrou op wat God beloof het, al was hy en Sara al stokoud.
Nog ’n insiggewende voorbeeld is hoofstuk 9:27, waar Paulus vir Jesaja aanhaal:
“En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word”.
Weer daardie onderskeid, nie almal in Israel sal gered word nie.
Hierdie was vir Paulus ’n verskriklik pynlike saak, omdat hy waarneem dat in sy tyd nou weer presies dieselfde gebeur.
En erger nog, hierdie keer gaan dit nie net oor ’n profeet nie, maar oor die ware Messias wie se woord verwerp word.
In die lig van hierdie ander verse uit Romeine, moet ons dus daarop bedag wees dat Paulus in hoofstuk 11 ook hierdie woordspeling kan gebruik.
Hy gebruik die naam Israel, maar hy bedoel nie elke keer dieselfde daarmee nie.
So wat bedoel hy dan in ons teks: “en so sal die hele Israel gered word”?
Wel, uit die voorbeelde hierbo is reeds duidelik, en dit word nog duideliker as ons die res van die Skrif in ag neem, dat nie die hele etniese Israel in die Ou Testament gered is nie.
Hy vewys in die vers voor ons teks na die etniese Israel, maar gebruik in ons teks die woord Israel nie so nie.
Dieselfde as wat hy dus in hoofstuk 9:6 gedoen het.
As dit alreeds nie in die Ou Testament die geval was waar Israel so ’n uitsonderlike posisie gehad het dat nie elke individuele Jood gered is nie, dan maak dit nie sin dat Paulus in ons teks nou iets anders bedoel nie.
Dan sal hy die Ou Testament weerspreek, en ook sy eie woorde in die voorgaande hoofstukke van hierdie selfde brief.
Die gevolgtrekking is dus: In ons teks dui Israel op die volk van die belofte, oftewel hulle wat God se belofte bly vertrou, soos Abraham destyds, en wat
So dit ons eerste konklusie: In ons teks is die naam Israel nie ’n etniese naam nie.
Tussen hakies, daar is deesdae sommiges wat beweer dat die Jode, wat tans in Israel woon, glad nie afstam van die Jode van die Ou Testament nie.
Hierdie mense het redenasies dat die afstammelinge van die ou verbondsvolk eintlik die hedendaagse blankes is.
Hierdie redenasie het geen geloofwaardige historiese bewyse nie, terwyl die bewyse dat die huidige Jode in Israel wel grotendeels van die Ou Testamentiese verbondsvolk afstam, oorweldigend is.
Nietemin, wie ook al vandag etnies-geneties van Abraham afstam, dit maak geen verskil aan die boodskap uit ons teks nie.
Heel Israel is nie identies aan hulle wat etnies-genetiese afstammelinge is nie.
(Tema: Die hele Israel sal gered word
1 Wie is Israel?)
2 Wie is die hele Israel?
Dan bly daar nog ’n vraag oor.
Wat bedoel Paulus as hy sê: Die hele Israel sal gered word?
Is dit moontlik dat daar in die toekoms nog iets met die hele volk Israel sal gebeur, dat hulle massaal hulle tot die Messias, Jesus Christus, sal bekeer?
Dus ’n massale etniese terugkeer tot God.
Daar is mense deesdae wat dit beweer, veral in Amerika, maar ook hier in Suid-Afrika.
Hierdie bewering baseer hulle veral op Romeine 11, veral op die uitspraak in vers 29 dat God onberoulik is.
As Hy sulke sterk beloftes in die Ou Testament aan Israel gegee het, en aan die uitverkore stad Jerusalem, dan sal Hy dit mos nie terugtrek nie?
En al lyk dit tans so, dan moet daar tog êrens in die toekoms ’n moment kom dat Israel en ook hulle hoofstad Jerusalem herstel sal word?
Nou gemeente, ook by hierdie vers 29 waar staan dat God onberoulik is, moet ons dit uitlê in die konteks van heel die Skrif.
Want in die Skrif lees ons aan die een kant dat God onveranderlik is, maar ook dat God berou kan hê.
Kan hierdie twee dinge saamgaan?
Is hierdie twee eienskappe van God teenstrydig?
Om dit te beantwoord, sal dit help om terug te gaan en mooi te kyk wat God se verbond eintlik inhou.
God se verbond is altyd eensydig in sy ontstaan.
In sy genade sluit die HERE ongevraagd met iemand ’n verbond.
Maar in sy voortbestaan word hierdie verbond tweesydig.
Van beide partye word daar iets verwag.
By sy ontstaan was daar slegs een party aanwesig: God.
Maar by sy voortbestaan vra God nou ook sy kind se aktiewe toewyding.
In sy genade het God onvoorwaardelik sy verbond met sy kinders gesluit.
Die voortbestaan is egter voorwaardelik, afhanklik daarvan dat beide partye hulle kant bring.
God se spreke in die Skrif, of dit verbondsbeloftes of verbondsbedreigings is, moet in hierdie lig gelees word.
In die Skrif lees ons naamlik sowel beloftes as bedreigings.
In Genesis 17:8 die belofte dat God aan Abraham die hele land Kanaän “as ’n ewige besitting” sal gee.
Of in Jesaja 60:21: “vir ewig sal hulle die land besit”.
Maar daar is ook uitsprake in die Skrif waar God dreig dat Hy sy beloftes weer sal terugtrek, soos Jeremia 17:4: “En jy sal uitval – en dit deur jouself – uit jou erfenis wat Ek jou gegee het ... want jul het ’n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand.”
En Jeremia 23:39-40: “Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp; en Ek sal julle ’n ewige smaad oplê en ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.”
In al bogenoemde tekste vind ons die woord ewig.
Dit mag teenstrydig klink.
Israel het die land van die HERE ontvang as ’n ewige besitting, maar daar is ook tekste waarin die HERE sê dat Hy hulle ewig daaruit sal verwyder.
Spreek die Bybel homself teen?
Nee, ons moet besef dit is enersyds verbondsbeloftes en andersyds verbondsbedreigings.
Dit gaan oor ’n verbond wat tweesydig funksioneer, waarin die HERE sy volk ’n volwaardige vennoot gemaak het.
Hulle gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid in die verbond het dus konsekwensies!
Nog ’n voorbeeld is as die HERE oor Sion in Jesaja 34:10 sê: “vir ewig gaan sy rook op”, verwysende na God se straf dat die stad Jerusalem in rook sal opgaan.
Is dit in stryd met Jesaja 35:10 waar daar oor die inwoners van Jerusalem staan: “ewige vreugde sal op hulle hoof wees”?
Dit klink inderdaad teenstrydig.
Maar as ons hierdie tekste verbondsmatig lees, dan besef mens dat dit die werklikheid van God se verbond is: seën by gehoorsaamheid, maar vloek by ongehoorsaamheid.
Dit gebeur selfs dat die Bybel ook sê dat God oor iets berou kan hê (bv. Gen. 6:6-7; Ex. 32:14; 1 Sam. 15:11).
In die verbondsmatige konteks, waar die HERE aan die mens ’n verantwoordelikheid gee, behoort hierdie spreke van die Skrif ‘verstaan’ te word.
Die feit dat God berou het, is nie sy skuld of omdat Hy veranderlik is nie.
Sy berou het alles te make met die mens, wat nie ’n betroubare verbondsvennoot blyk te wees nie!
En dit het ook geblyk in Paulus se tyd, toe die grootste deel van Israel nota bene die Messias verwerp het.
Maar, vanuit die liefde vir sy eie volk gee Paulus nie moed op nie.
Hy spreek die bede uit dat in die toekoms, soos wat die heidene in hulle massas op die olyfboom ingeënt word, dat dit die Joodse takke wat afgekap is jaloers sal maak.
Dat hulle opnuut ingeënt sal word.
En ja, vir ‘n oorspronklike tak sal dit nie moeiliker wees as vir ‘n wilde tak nie, skryf Paulus.
Die Jode het nog steeds die Ou Testament, as ‘n Jood homself by die kerk van Christus voeg, het hy in dié opsig ‘n voordeel bo ‘n heiden, wat nog niks van die ware God af weet nie.
So vertrou Paulus op die HERE, sy gestrengheid, terselfdertyd sy barmhartigheid – dat soos wat Hy in die verlede gedoen het met sy so dikwels afvallige verbondsvolk, Hy ook in die toekoms sal doen.
Dat ‘n getroue res gered sal word, want die verharding het net ten dele oor Israel gekom (vers 25).
Verharding kan ook vertaal word met hardkoppigheid.
En dit sal so voortduur totdat die volheid van die heidene ingegaan het (vers 25).
Met ander woorde, tot die jongste dag bly God aan sy ou verbondsvolk werk, dat daar steeds van hulle ook teruggeënt sal word.
Hulle is die volk wat God destyds uitverkies het (vers 28) om die Verlosser te baar (vers 26b).
In barmhartigheid sal God altyd na hulle bly uitreik, al is die taak vervul waarvoor hulle destyds uitverkies is, naamlik om die Messias vir die wêreld voort te bring.
En natuurlik hoop Paulus dat die bekeerde res uit Israel so groot moontlik sal wees.
Hy hoop op God se barmhartigheid, wat ondeurgrondelik groot is.
Die Christene in Rome mag dalk dink: Na alles wat die Jode aan Christus God se eie Seun gedoen het, sal God hulle wel finaal afgeskryf het.
Nee dus, God se hart gaan steeds na hulle uit.
Terug na vandag.
Moet ons bid dat die Jode die oorlog sal wen?
Moet ons God vra dat Hy sal sorg dat hulle weer die beloofde land terugkry? Dat Jerusalem in ere herstel sal word, gesuiwer van alle Allah-vereerders?
Gemeente, dit is nie die wens wat Paulus in hierdie hoofstuk uitspreek nie, dit is nie wat hy in die vooruitsig stel nie.
Wel die wens: Mag daar baie Jerusalemme in Jerusalem wees.
In die nuwe bedeling is Jerusalem naamlik elke gemeente wat in Christus se naam saamkom.
Baie Jerusalemme in Jerusalem wil dus sê: Mag daar baie kerke van Christus in die geografiese Jerusalem geplant word, en mag hulle ook vol met Jode wees.
Mag in die toekoms die toestroom van Jode wat hulle voeg by Christus se kerk nie opdroog nie.
Mag dit nie net druppelsgewys wees nie, maar mag dit ‘n stormvloed wees.
Dit is Paulus se hartewens.
En mag die stormvloed van heidene wat by die kerk aansluit, die Jode daartoe aanspoor!
Paulus sluit hierdie hoofstuk af deur op te kyk na Hom aan wie die toekoms behoort.
Ons weet so min, uit onsself kan ons niks regkry nie.
Ons is afhanklik van God en kan maar net by Hom pleit.
O diepte van God se ryke wysheid en kennis!
Dit is onpeilbaar diep en is onskatbaar ryk.
Moenie te gou dink: Nou verstaan ek God se plan nie.
God se raadsplan bied altyd nuwe gesigspunte.
Dit is ondeurgrondelik.
Hoe die huidige oorlog in Israel gaan afloop, net God weet dit.
Mag Hy alle dinge laat meewerk ten goede van sy kerk, wat Hy versamel uit alle volke, tale en nasies.
Mag die hele Israel, die Israel van die belofte, gered word.
Uit die Afrikaners, soos ons vandag gesien het toe ‘n baba ingelyf is by Christus se kerk.
Uit die Sothos en oeloes en Vendas en Xhosas.
Uit die Koreane en Chinese en Japanners.
Ook uit die Palestyne en Jode, al sal elke etniese Jood nie gered word in die toekoms net soos dit in die verlede so was nie.
Mag almal wat tot Christus kom en Hom as Messias bely, saam hande vat.
Saam die lofsang sing tot Hom wie se raad ondeurgrondelik is.
Slegs deur Hom en Hom alleen is daar redding.
Christus sentraal, Hy is die enigste deur vir die skape, ja vir heel Israel, nou en tot in ewigheid.
Amen.
Votum
Seën
Ps 105:4,6
Wet
Ps 130:4
Doopsformulier
Bediening van die doop
Ps 115:7,8
Oproep aan gemeente
Dankgebed
Skriflesing: Romeine 11
Ps 14:6,7
Teks: Romeine 11:26a
Preek
Ps 22:9,11
Gebed
Kollekte
Ps 24:1-3
Seën