Afgelope week het daar weer die nodige dinge gebeur.
In ons land is ’n nuwe kabinet ingehuldig.
Al is daar baie rede vir skeptisisme, besef mens ook dat dit veel erger kon gewees het.
In die res van die wêreld het ook van alles en nog wat gebeur.
Daar is gebiede geteister deur oorlog waar bloedvergieting voortgegaan het.
Daar is dele in die wêreld waar Christene vervolg of gediskrimineer word, dit het ook voortgegaan.
Die meeste mense op aarde het geswoeg om hulle daaglikse brood bymekaar te maak.
Daar is nuwe baba’s gebore en daar is mense oorlede.
So gaan die wêreldgeskiedenis voort.
Waar daar aan die begin van die 21ste eeu optimisme onder sommiges was dat die wêreld in die regte rigting beweeg, is daar nou, byna ’n kwart eeu later, weer veel meer realisme, of selfs pessimisme.
Die dood het steeds sy houtgreep op die mensheid en sy geskiedenis.
Die Koue Oorlog is terug tussen oos en wes, spanninge tussen godsdienste lyk net meer te word, regerings het oor die algemeen nie beter geword nie, en vir die man op straat het die lewe ook nie makliker geword nie.
Ook in ons gemeenskap het die afgelope week ook weer die nodige gebeur.
Maar, in teenstelling tot soveel ander op aarde, was die beslommeringe van die afgelope week nie uitsigloos nie.
Want daar is hoop in ons oë, en die onderwerp vir vanaand se preek het alles daarmee te make.
Dit gaan vanaand oor die opstandig van Christus.
Watter waarde, watter nut dit vir ons het.
Eerstens nou en hier, die afgelope week en die week wat kom, maar tweedens ook vir die verre toekoms, wat miskien glad nie meer so ver is nie.
As ons sê dat ons leef in die jaar 2024, dan is dit nie net ’n getal nie, maar dit is spesifiek die jaar 2024 van ons Here Jesus Christus, sedert sy geboorte,
Tema: Die onskatbare waarde van Christus se opstanding
1 Geregtigheid
2 Wedergeboorte
3 Heerlikheid
1 Geregtigheid
Op Sondagoggend, byna 2000 jaar gelede, het ons Heiland die graf verlaat.
Dit is ’n historiese feit, maar wat sê dit vir jou en my?
Die ongekende waarde daarvan dring tot mens deur as mens erken wat die dood is.
Die dood is nie net ophou bestaan nie, die dood is die straf op die sonde, die onvermydelike uiteinde van die sonde, die oorgaan na die hel, die ewige straf.
Dit is wat die Bybel vir ons openbaar wat die dood is.
Elkeen wat sondig is, ontkom nie aan die dood nie.
Christus het ook nie nie aan die dood ontkom nie, hoewel Hy sonder sonde was.
Maar, drie dae later, blyk dat die dood Hom nie kon vashou nie.
Die dood was nie die einde van sy lewe nie.
Jesus het die dood oorwin.
En dit beteken iets.
Die Kategismus sê:
Die waarde is dat Hy ons laat laat deel in die geregtigheid, wat Hy deur sy dood vir ons verwerf het.
So staan dit ook in Romeine 4: Jesus, ons Here, “wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (Rom 4:25)
In 1 Korinthiërs 15 staan dieselfde, net van die ander kant bekyk: “as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Kor 15:17).
Jesus laat ons deel in sy geregtigheid, sê Sondag 17.
Volgens die Bybel is ’n regverdige persoon iemand wat met ’n gelowige hart uit liefde vir die HERE volgens sy wil lewe.
Ons Here Jesus was by uitstek so ’n regverdige iemand.
Hy het ’n keer gesê:
“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34)
Christus was die Rerverdige by uitstek.
Dit was die fondament waarop sy middelaarskap gerus het.
Hy het nooit gesondig nie.
As mens het Hy met ’n gelowige hart uit liefde sy Vader se gebooie bewaar.
God het sy geregtigheid gesien en goedgekeur.
Hoe weet ons dit?
Uit die feit dat God Christus uit die dood opgewek het.
Deur sy lewe, lyde en sterwe, het Christus as Middelaar vir ons geregtigheid gebring.
Ons kan nooit volmaak regverdig wees, soos Christus dit is nie.
Maar wel is ons danksy Christus volmaak regverdig in God se oë.
Christus het vir ons gedoen wat ons self nie kan waarmaak nie.
Elkeen wat tot God nader met die naam van Jesus Christus op die lippe, kan op vergewing reken.
Dit is geweldig.
En dit is wat ons in hierdie eerste punt behandel: Die feit dat God Jesus uit die dood opgewek het, was ’n bewys dat God sy geregtigheid aanvaar het.
Sy geregtigheid wat Hy, nou na sy opstanding, begin uitdeel het.
Sy regverdigheid, die feit dat Hy betaal het, ook vir jou en my.
Broer, suster, laat ons vir Christus elke dag omarm.
As die Opgestane uit die dood kan Hy die geregtigheid uitdeel wat Hy verwerf het.
Gaan na sy troon, vra vir sy geregtigheid, vertrou sy geregtigheid, vind bevryding in sy geregtigheid, vind lewensvreugde deur sy geregtigheid!
Dit is die hoop in jou en my oë, te midde van alle beslommeringe, verdriet en teenslae in die lewe.
Daar is hoop vir elkeen wat op Hom vertrou en sy geregtigheid ontvang.
Ek en jy ontvang dit.
En die aanbod gaan steeds uit oor die lengte en breedte van die aarde, in elke nuwe eeu solank die wêreldgeskiedenis nog sal duur.
Vind vryspraak, vind geregtigheid deur Hom, die Enigste wat tot dusver opgestaan het uit die dood om nooit meer te sterf nie.
2 Wedergeboorte
Die van ons wat al deur periodes van groot finansiële skuld gegaan het, kan beaam dat dit dan nie maklik is om van die lewe te geniet nie.
Jy voel skuldig by alles wat jy koop.
Mens kan dieselfde sê wat betref ons skuld voor God
As die skuld nie vereffen is nie, kan jy moeilik van die lewe geniet.
Maar die oomblik as jy hoor dat jou skuld gedelg is, dan is dit asof jy ’n nuwe mens word.
Dan val daar ’n las van jou af.
Jy kry weer perspektief op ’n gelukkige lewe.
Jy hoef nie meer skuldig te voel by alles wat jy koop nie.
Daar is nuwe hoop.
Die sonde het nou nie meer die laaste woord in jou lewe nie.
En die straf op die sonde – die dood – het ook nie meer die laaste woord nie.
Dit beteken dat jy anders kan begin lewe, rojaal, sonder sorge.
En dit danksy die opstanding van Christus.
Kortom, ons noem dit: Jy word wedergebore.
Die Kategismus omskryf dit soos volg:
Jy word danksy Christus se opstanding opgewek tot ’n nuwe lewe.
Dit wil sê, nou al, in hierdie lewe, begin ons met ’n nuwe lewe.
Danksy die krag van Jesus, meer spesifiek die krag van sy Gees wat in die gelowiges woon, kry ons die krag en die moed om nee te sê teen die sonde, en om ja te sê vir ’n lewe met Christus.
In Kolossense 3 word dit raak beskryf:
“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” (Kol 3:1)
Streef na die dinge wat daarbo is, dinge wat ewigheidswaarde het, nie tydelike dinge, nie die dinge wat deel is van ’n sondige wêreld nie.
Dit is ’n wedergebore lewe.
Gemeente, dit alles klink baie mooi.
Maar wat beteken dit konkreet, noudat Christus uit die dood opgestaan het?
Dit beteken bevryding.
Geen slaaf meer van die sonde nie.
Daardie reële moontlikheid het jy nou.
Sou ek dan nog vriend wou bly met die sonde?
Die sonde waarvoor my Heiland so gruwelik moes sterwe?
Danksy sy opstanding is dit moontlik om goed te lewe.
Om goeie verhoudings te handhaaf met ander mense.
Danksy sy opstanding is dit moontlik om rusies uit te praat, om versoening te soek.
Om die goeie naam van ander mense te eer.
Danksy sy opstanding is ek nou wedergebore.
Ek is in staat om te geniet van vriendskap, van verliefdheid, van uitgaan, maar so dat Christus ook daarvan geniet om my besig te sien.
Danksy sy opstanding is ek in staat om lewenslank aan my huweliksmaat trou te bly.
God help my, omdat dieselfde Gees wat Christus uit die dood opgewek het, ook in my werk.
Ek is in staat om volgens al God se gebooie te lewe, want Hy stel my in staat.
Al is dit soms met val en opstaan, wil ek dit graag, want dit is die pad wat ek moet stap na die heerlike toekoms saam met my Heiland.
Ook gaan ek meer bewus met my tyd om.
Ek leef immers vir die opgestane Here.
Uit my tydsbesteding blyk, danksy die Heilige Gees, dat die opgestane Christus my lewe regeer.
Nie my werk, of stokperdjies, of foon, of vriende, of die dinge wat ek wil koop nie, maar Christus bestuur my lewe.
Uit my tydsbesteding blyk dat ek met vreugde my taak doen, op my werk, tuis, in die gesin, in die kerk.
Dat ek ook tyd inruim vir ander, kanslose mense, siekes, bejaardes, verdrietiges.
Dit is ’n wedergebore lewe.
En dit alles is moontlik omdat Christus opgestaan het.
Danksy sy opstanding word ek opgewek tot ’n nuwe soort lewe.
Ek word steeds meer ’n wedergebore mens.
My lewe begin anders lyk.
My lewe is diensbaar.
My lewe ontleen sy identiteit aan my Heiland.
My lewe is kosbaar in sy oë.
Ek lewe elke dag met die vraag op my lippe:
Here, wat wil U hê moet ek doen?
Gemeente, verstaan u, wat die verskil is tussen ’n lewe oppad na die dood, en ’n lewe wat gestempel is deur die opgestane Christus?
Sien u die verskil?
Dit is wat die Kategismus bedoel as daar staan: Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe.
Die besef dat my lewe kosbaar is, sinvol, oppad na ’n skitterende eindbestemming, dit vloei deur my are.
Dit maak van my ’n ander mens, ‘n wedergebore mens.
Dit maak my lus om steeds meer ’n wedergebore mens te word.
3 Heerlikheid
Wedergebore: dit beteken dat jy in hierdie lewe al ’n nuwe lewe kry.
Maar daar is nog meer.
Want die Kategismus sê in die derde plek:
Die opstanding van Christus is vir ons ’n betroubare waarborg van ons opstanding in heerlikheid.
’n Ander woord wat die Bybel in hierdie verband gebruik is: eersteling.
Christus is die eersteling van die opstanding uit die dood.
Hierdie uitdrukking is ontleen aan die Pinksterfees in die Ou Testament.
Tydens hierdie fees het God se volk die allereerste produkte van die oes na die tempel gebring.
Hiermee het hulle erkenning gegee aan God se seën.
Die eerste produkte was ’n simbool dat daar nog meer sou kom, dat hulle God vertrou dat Hy nog meer oes sal gee.
Die eerstelinge het hulle nie vir hulleself gehou nie, maar aan God geskenk.
’n Bewys van vertroue.
Dat God die res van die seisoen ook sal sorg.
Nou was Christus die eersteling, in die sin dat Hy die eerste persoon is wat uit die dood opgestaan het.
Die eerste oes uit die doodsakker.
Christus was die eerste wat opgestaan het met ’n onverganklike, verheerlikte liggaam.
Die feit dat dit gebeur het, dat Jesus eerste was, die Eersteling, dit is ’n bewys dat daar nog meer sal volg.
Dit is soos ’n boom in die winter.
As ons om ons heen kyk, sien ons bome met kaal takke, hulle lyk of hulle dood is.
Maar as jy van naby kyk, sal jy sien dat die boom alreeds knoppe het.
’n Belofte vir die lente.
Uit daardie knoppe sal die nuwe blomme en blare kom.
So is die opstanding van Christus die bewys dat daar nog baie op koms is.
In ons winterse bestaan kom daar al knoppe, botsels.
Christus se Gees werk dit.
So, Christus se opstanding is die bewys dat ons ook sal opstaan met ’n verheerlikte liggaam.
’n Bewys, hierdie woord onderstreep dat jy regte daaraan kan ontleen.
Gemeente, nou het ek tot dusver baie mooi dinge gesê in hierdie preek.
Dinge wat u waarskynlik alles sal beaam.
Maar tog sal daar iets aan hierdie preek skort, as ek dit hierby laat.
Inderdaad, ook by hierdie skitterende onderwerp van Christus se opstanding, is daar ’n skadukant.
En dit is my taak om ook daaraan aandag te skenk.
Nie om negatief te wil wees nie.
Juis deur die skadukant aan die orde te stel, word dit wat in die sonlig is nog veel helderder.
Sedert die vroegste Christelike gemeentes – dink aan die kerk in Korinthe byvoorbeeld – tot op die dag van vandag is daar mense, ja ook mense wat hulleself Christene noem, wat die opstanding van Christus uit die dood ontken.
Sommiges doen dit sonder om te bloos of skuldig te voel.
Ander gebruik ’n groot omhaal van woorde, vroom klinkende gesegdes.
Maar as jy hulle op die man af vra, omseil hulle jou vraag en gee jou nie ’n reguit antwoord nie.
Dat Christus letterlik liggaamlik uit die dood opgestaan het – die dissipels soos Thomas kon letterlik aan Hom vat – of dit werklik so is, dit word bevraagteken.
Dis wel waar, sê hulle, maar dit het tog nie werklik gebeur nie ...
Of, dit het gebeur in ’n dimensie wat ons nie begryp nie, wat nie ons s’n is nie.
Die dissipels het die verhaal so opgeskryf met goeie bedoelings, hulle wou ongetwyfeld ’n goeie doel daarmee dien.
Byvoorbeeld, Jesus se onbaatsugtige voorbeeld moet ons stimuleer tot ’n beter lewe.
Die feit dat Jesus so regverdig geleef maar so tragies aan die einde van sy lewe gekom het, dit bewerk ’n skokreaksie, dit maak so ’n indruk, dit inspireer ons om Hom na te volg, om net soos Hy ’n selfopofferende lewe te lei.
Danksy die sterwe van Jesus, danksy die verhaal van die dissipels oor sy opstanding, danksy dit staan daar nou ’n nuwe lewe in ons op.
Gemeente, klink dit nie ook mooi nie?
As jy nie noukeurig luister nie, dan klink dit soos twee druppels water op alles wat ek eerder in die preek gesê het.
Maar as jy noukeurig luister, dan val daar wel iets op.
Eerstens, tussen alle mooi woorde deur proe mens tog dat daar geen sekerheid oor die opstanding van Christus is nie.
Tweedens word die invloed van die goeie boodskap verklaar vanuit ’n skokreaksie.
Maar dit is ’n verdraaiing van die Evangelie.
En wat hieragter skuil is dat daar geen geloof is in wat Sondag 17 in die derde plek sê nie.
Naamlik dat Christus werklik opgestaan het, en dat sy opstanding ’n waarborg is van óns werklike opstanding uit die dood.
Heel letterlik, opstaan uit die dood.
Want juis omdat ons weet dat dit ook ons te wagte staan, juis daarom verander ons lewe vandag.
Ons lewe verander nie as gevolg van ’n skokreaksie, of as gevolg van ’n reaksie van verontwaardiging of simpatie of medelye nie.
Ons lewe verander as gevolg van die feit dat die opstanding van Christus werklik was, en dat Hy wat opgestaan het en die ewige lewe vir Homself verwerf het, met soveel woorde gesê het dat dit ook sal gebeur met elkeen wat in Hom glo!
Maar, helaas is daar dus verdeeldheid op hierdie punt.
Die verdeeldheid was daar al vanaf die dae van die Nuwe Testament – dink aan die Korinthiërs.
Dis ook nie toevallig dat daar hieroor verdeeldheid is nie.
Want dit is die hart van die Evangelie, en die duiwel sal alles daaraan doen om hierdie hart uit die Evangelie te probeer sny.
Hy plant die saad van twyfel oor die werklikheid van óns opstanding uit die dood in die toekoms.
En as jy daaraan twyfel, dan kry jy ’n heel ander Evangelie.
Om eerlik te wees, jy hou nie ’n Evangelie oor nie.
Want Evangelie, dit woord op sig verwys al daarna dat die dood oorwin is – dit is juis die Blye Boodskap!
Paulus is in hierdie opsig baie nugter in sy brief aan die Korinthiërs.
As dit so is dat Christus nie uit die dood opgewek is nie, hoekom is ons dan Christene?
Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.
Dan kan ons net so wel soos diere begin lewe, dit maak alles niks saak nie.
Hoekom jou bes doen om goed te lewe?
Watter sin het enige moraliteit nog?
Die graf en ontbinding wag tog op ons almal.
Geliefdes, die doel van die Kategismusprediking is om ons te bewapen.
Die hoofsake van die Bybelse leer word behandel, oor en oor, sodat ons dit ken, sodat ons hierdie skatte op hulle waarde skat.
Wie die opstanding ontken, het ’n totaal ander geloof.
So iemand kan homself nog sier met die naam Christen, maar inhoudelik bly daar niks oor nie..
Wat sou dit mooi gewees het as dit anders was.
As daar nie sulke verdeeldheid was nie.
Hieruit blyk slegs dat die duiwel nog baie aktief is.
Ons kan verlang na eenheid en vrede.
Maar dit is iets wat eers werklik sal realiseer op die nuwe aarde.
In hierdie lewe mag ons nie wegvlug vir ons taak, naamlik om dit wat nie Evangelie is nie, ook met soveel woorde en publieklik aan die kaak te stel.
Dit is ’n taak waarvoor ons nie mag moeg word nie, al verlang ons ook hoe baie na rus en vrede.
Geliefdes, daar is net een Evangelie.
Die onvervalste goeie nuus oor die opstanding.
Die onskatbare waarde van Christus se opstanding in die verlede.
Dit is ons waarborg vir ons opstanding in die toekoms.
Soos die Kategismus sê:
Die opstanding van Christus is vir ons ’n waarborg van ons opstanding in heerlikheid.
Paulus skryf aan die Romeine: “as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Rom 8:11)
Nie net jou gees nie, ook jou liggaam!
Dit staan hier swart op wit in die Bybel.
Plak hierdie teks op jou yskas.
Laat niemand nie, òf die duiwel, òf die wêreld, òf jou eie twyfelagtige hart dit van jou wegvat.
Sê dit oor en oor, elke dag.
Laat dit hoop en vreugde in jou oë bring, te midde van die beslommeringe van elke dag.
Te midde van ’n wêreld vol oorlog en dreiging van oorlog.
Ons het goeie hoop.
Want “Ek geloof die skuldvergewing, weeropstanding van die vlees,
En ’n lew’ in eewge duurte,
As die dood nie meer sal wees.” (Sb 27:5)
Amen.
Votum (sing Ps 121:1)
Seën
Ps 68:1
Gebed
Skriflesing: Romeine 8:1-17
Ps 16:4
Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:1-20
Ps 16:5
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 17
Preek
Ps 68:9
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 27:3-5
Kollekte
Sb 24:5-7