God gebruik Pontius Pilatus in Jesus Christus se lyde en sterwe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-06-16
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 15
Preek Inhoud: 

Christus het gely gedurende sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan aan die kruis.

Dankbaar herdenk en bely ons hierdie heilsfeit saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis.

As ons deur moeilike tye gaan, selfs deur lyde – hetsy liggaamlik of geestelik – dan dink ons aan ons Heiland, wat soveel erger lyding deurstaan het.

Hy kan met ons meevoel.

Hy was op aarde en weet wat lyding is.

In vanaand se preek fokus ons op sy lydensweg wat uitgeloop het op die kruisiging.

Dit kom kripties, baie kort, in die Apostoliese Geloofsbelydenis aan die orde.

Tog, net die feit dat dit daar genoem word, is ‘n bewys hoe ‘n belangrike onderdeel van die Evangelie dit is.

Want die Geloofsbelydenis is baie kort, en die kerk het net die absolute hoofsake van die Evangelie daarin probeer saamvat.

 

 

Tema: God gebruik Pontius Pilatus in Jesus Christus se lyde en sterwe

1 Christus het gely onder Pontius Pilatus

2 Christus het gely in die tyd van Pontius Pilatus

3 Christus is gekruisig onder Pontius Pilatus

 

1 Christus het gely onder Pontius Pilatus

Ons begin met ‘n vraag.

Het Jesus gely onder Pontius Pilatus soos daar in die Apostoliese Geloofsbelydenis staan, of is Hy gekruisig onder Pontius Pilatus, soos daar in die Geloofsbelydenis van Nicea staan?

Soms lees ons die Apostoliese geloofsbelydenis so:  “Wat gely het, onder Pontius Pilatus gekruisig is...” pleks van “Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is...”.

Mens plaas dan die komma net op ‘n ander plek.

As mens dit so lees dan stem dit ooreen met die geloofsbelydenis van Nicea: “Onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig, Hy het gely is begrawe...”. 

Die vraag is, waar behoort die komma te kom in die Apostoliese geloofsbelydenis? 

Na “gely het” of na “Pilatus”

In ons Psalmboek staan die komma na “Pilatus”

Maar watter een is nou reg?  

Dis natuurlik nie so vreeslik belangrik nie. 

Die komma kan inhoudelik gesien op albei plekke staan: Christus is inderdaad gekruisig onder Pontius Pilatus. 

En behalwe dat Christus aan die kruis gely het – dit waarna Nicea verwys – het Christus ook voor sy kruisiging gely, onder andere onder Pontius Pilatus. 

 

Waar moet die komma staan? 

Om hierdie vraag te beantwoord, moet mens terug in die kerkgeskiedenis.

Waar kom die Apostoliese Geloofsbelydenis vandaan?

Wat is die eerste keer wat ons daarvan hoor?

Uit ou bronne weet ons dat dit al in gebruik was in die tweede eeu na Christus, dit wil sê ongeveer honderd jaar na Christus se lewe op aarde.

Baie oud dus!

Dit het liturgies ‘n plek gehad by die doopsbediening.

Voordat ‘n bekeerling gedoop is in die Naam van God Drie-enig, is gevra wat die persoon glo van hierdie God.

Dan het hy die Apostoliese Geloofsbelydenis opgesê, wat ‘n trinitariese indeling het – ‘n kort samevatting van wie Vader, Seun en Gees is en wat Hulle doen.

Die oudste geskrewe weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat nog oorgebly het, is uit 341 nC, nog twee eeue later.

Dit is gebruik onder andere in die kerk te Rome.

Die teks daarvan lui soos volg:

Ek glo “in Christus Jesus sy enige Seun, ons Here,

wat gebore is uit die Heilige Gees en die maagd Maria,

wat onder Pontius Pilatus gekruisig en begrawe is,

op die derde dag uit die dood opgestaan het.”

In hierdie oudste aan ons bekende weergawe kom die woorde gely het dus nog nie voor nie.

Eers rond die 8ste eeu begin die Apostoliese Geloofsbelydenis die vorm aanneem soos ons dit tans ken, met ook die verwysing na Jesus se lyding.

Nou is die vraag: Is die oudste die beste?

So werk dit nie met ‘n belydenisgeskrif nie.

Dit maak nie saak hoe oud ‘n belydenisgeskrif is nie, solank dit ooreenstem met die Woord.

As mens, puur uit historiese interesse, die vraag vra of die komma op die regte plek staan – dit met in gedagte dat Nicea wel die komma op ‘n ander plek het, dan moet mens besef dat daar vroeër nie komma’s was nie.

Meer nog, daar was ook nog nie eers spasies tussen woorde nie.

Alles is aanmekaar geskryf om papier te bespaar, omdat dit duur was.

Dus lank gelede kon dit in elk geval op twee maniere gelees geword het: gely onder Pontius Pilatus, of: gekruisig Pontius Pilatus.

 

Soos ons weet, Pilatus was ‘n wrede en skelm man.

Hy het geregeer in Judea van 26-36 nC namens die Romeinse Keiser Tiberius.

En, soos beskryf deur elkeen van die vier evangeliste, het hy Jesus tot die dood veroordeel nadat die Jode hom onder druk geplaas het.

Nie dat hy ‘n maatjie van die Jode was nie.

Uit die historiese bronne is bekend dat hy glad nie hulle maatjie was nie, sy bewind oor hulle was wreed.

Ons lees byvoorbeeld in Lukas:

“En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.” (Luk 13:1)

Dit klink inderdaad nogal baie wreed.

 

Maar, hy moes wel oppas dat hy nie in opspraak kom nie, want as ‘n slegte gerug oor hom die keiser sou bereik, sou dit die einde van sy posisie beteken.

Die Jode het dit geweet en handig daarvan gebruik gemaak:

Die evangelie Johannes het die Jode se dreigement opgeskryf: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.” (Joh 19:12)

Hierdie opmerking het Pilatus versigtig laat trap.

‘n Goewerneur moes nie by die keiser in opspraak kom nie, dit kon die einde van sy aanstelling beteken.

En dit het inderdaad ‘n paar jaar later gebeur, rondom ‘n insident met die Samaritane.

Daar was aantygings dat hy dit verkeerd hanteer het, en dus hy is teruggeroep na Rome.

 

Pilatus se optrede in die geval van Jesus was dus baie berekend.

Aan die een kant het hy die Jode getreiter, deur by herhaling te beklemtoon dat hy geen skuld in Hom vind nie, deur daarop aan te dring dat hy Hom wil loslaat.

Maar aan die ander kant het hy wel opgepas dat sy eie posisie nie in gevaar kom nie.

Hy was ‘n man sonder ruggraat.

Bekend van hom is veral sy vraag: “Wat is waarheid?” – Johannes 18:38.

Hy was ‘n skeptikus, erger nog, hy was ‘n politikus vir wie waarheid basies dit was wat hom die beste gepas het.

Want toe blyk dat die volksoploop immens groot was, al daardie Jode wat geskreeu het “Kruisig Hom, kruisig Hom!”, toe wou hy nie verder ‘n kans vat nie.

Jesus het inderdaad gely onder hierdie skelm en berekende optrede van Pilatus.

Dit was ‘n vernedering dat Pilatus as die wettige gesag in Jerusalem werklik nie moeite gedoen het om Jesus te beskerm nie.

En toe Pilatus hoor dat Jesus oorspronklik uit Galilea was, was dit ‘n gerieflike uitvlug om van Hom af te wees, en hy ‘t hom summier na Herodes verwys, wat oor daardie deel van die land geregeer het.

Herodes het openlik met Jesus gespot.

Hy ‘t Hom teruggestuur na Pilatus met ‘n blink kleed om.

Ag siestog, kyk net hierdie Koning ...

En Pilatus kon sulke galgehumor waardeer.

Lukas skryf: “Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar.” (Luk 23:12)

Vir Jesus die een vernedering na die ander.

Ook was dit ‘n vernedering dat Jesus onskuldig deur Pilatus verklaar is, maar tog oomblikke later tot die dood veroordeel is.

Dit was ‘n vernedering dat Pilatus, terwyl hy op die regbank sit, nie na die boodskap geluister het wat sy vrou vir hom gestuur het nie.

Sy vrou het ‘n droom gehad, ‘n nagmerrie, en dit het oor Jesus gegaan.

Dis een van die mees geheimsinnige verse in die Bybel – Mattheüs 27:19.

Ons ken nie Pilatus se vrou se naam nie.

Latere apokriewe geskrifte het haar Claudia Procula begin noem.

Sy word as ‘n heilige vereer deur verskeie kerke.

Daar is selfs sommiges wat beweer dat die Claudia waarvan ons in 2 Timotheüs 4:21 lees, Pilatus se vrou was.

Paulus het sy tweede brief aan Timotheüs vanuit Rome geskryf, en die aanname is dat sy ‘n Christen geword het en daar in Rome lidmaat van die gemeente was.

Maar weer eens, dis slegs bewerings sonder historiese basis.

Wat wel ‘n feit is, is dat sy daardie droom gehad het.

Mattheüs skryf dit op, en ons kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat God haar daardie nagmerrie laat droom het.

Maar ten spyte hiervan het Pilatus voortgegaan om Jesus te veroordeel.

So het Jesus verskeie vernederende ervarings gehad onder Pontius Pilatus, vergeet ook nie dat dit Pilatus se opdrag was om Hom te gesel, en uiteindelik te kruisig.

 

Gemeente, met ontsag lees ons al hierdie dinge in die Evangelies.

Word jy verontwaardig, as jy dit lees?

Inderdaad, ‘n mens kan woedend raak as jy sien watter verskriklike dinge hulle alles met ons Heiland gedoen het, terwyl Hy regtig geen sonde of skuld gehad het nie.

Hy het ‘n speelbal geword van die maghebbers – die owerstes, Skrifgeleerdes, Pilatus en Herodes.

Maar gemeente, solank ons net onthou dat ons nie beter is as hierdie figure nie.

As ek en jy toe geleef het, sou jy vir jou Heiland opgekom het?

Niemand het toe vir Hom opgekom nie.

Laat ons nederig bely, ons sou dit ook nie gedoen het nie!

Jesus het alleen gely.

 

2 Christus het gely in die tyd van Pontius Pilatus

Om terug te kom by die Geloofsbelydenis, wat word eintlik daarmee bedoel as ons sê “Jesus het gely onder Pontius Pilatus”. 

Wat beteken die “onder” Pilatus gely? 

Gemeente, hierdie het ook nog ‘n ander betekenis as wat ons tot dusver gesien het.

Dit het met die volgende te make.

Vandag, as ons wil sê wanneer iets gebeur het, dan gebruik ons ‘n jaartal. 

Byvoorbeeld kan mens sê: My oupa is in 1918 gebore.

Maar vroeër het hulle dit nie so gedoen nie.

Hulle het nog nie jaartalle soos ons gehad nie.

Die gewoonte was om te verwys na die regeringsperiode van ‘n bepaalde koning.

Byvoorbeeld: in die dae van koning Josia, of in die sterfjaar van koning Ussia, of in die 15de jaar van Keiser Tiberius.

En so het Christus gely en het Hy gesterf tydens die regeringsperiode van Pilatus. 

Dit is dus wat met die woordjie ‘onder’ bedoel word.

Dit is ‘n tydsaanduiding. 

Hy het gely in die tyd toe Pilatus aan bewind was.

 

Mens wonder soms hoekom Pontius Pilatus so ‘n prominente plek in die Geloofsbelydenis gekry het.

Jesus het mos nie net onder hom gely nie.

Wat van die Fariseërs, en Sadduseërs, en Skrifgeleerdes?

Wat van sy eie volk?

Eintlik het Jesus veel meer onder hulle gely.

Eintlik was dit hulle wat primêr verantwoordelikheid was vir sy dood, omdat hulle Jesus na Pilatus gebring het met die versoek dat Hy die doodstraf kry, en omdat hulle vir Pilatus onder druk geplaas het, toe Pilatus nie optree soos hulle wou hê nie.

Maar, gemeente, die bedoeling was nie om Pilatus in die Geloofsbelydenis op te neem omdat hy die wreedste was nie.

Jesus het gely gedurende sy hele lewe op aarde.

En hoewel sy lyding aan die einde van sy lewe aan die kruis die ergste was, was dit nie net te wyte aan Pilatus nie.

Sy ergste lyde was te wyte aan God sy eie Vader, wat Hom toe in die steek gelaat het.

 

Maar, soos ek hierbo genoem het, dit gaan oor ‘n datering.

Tydens Pilatus se regering het dit gebeur.

Die Geloofsbelydenis is histories betroubaar, dit noem feite en datums.

Dit kan geverifieer word in die bronne, in die geskiedskrywing.

Toe in daardie jare toe Pilatus aan bewind was, 26 – 36 AD, toe het dit gebeur.

Daar is, gemeente, ou geldmunte wat behoue gebly het met Pilatus se kop daarop, munte wat dus tydens sy regeringstyd geslaan is.

Dit is dus hoekom Pilatus se naam so ‘n prominente plek in die Geloofsbelydenis het, dis ‘n tydsaanduiding.

En vir vandag verseker dit ons.

Jesus se lewensverhaal is nie ‘n sprokie nie, dit is histories, dit het gebeur in daardie jare.

So gemeente, moenie twyfel nie, wees verseker van die feite.

 

Maar daar is meer.

 

3 Christus is gekruisig onder Pontius Pilatus

Toe Jesus as aangeklaagde voor Pilatus gestaan het, het Hy nie sommer voor enigiemand gestaan nie, maar voor ‘n regter. 

En wie voor ‘n regter staan, staan voor God! 

Regters is mos deur God aangestel.

Hulle is God se plaasvervangers op aarde. 

Hulle mag met hulle regspraak mense straf, selfs die doodstraf oplê.

So het Pilatus die taak gehad om God se reg te handhaaf, ook toe Jesus voor hom verskyn. 

Jesus erken self hierdie bevoegdheid van Pilatus. 

Ons lees in Johannes 19:10 & 11:

“En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie?  Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?  Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.” 

Daarom het Pilatus baie erg gesondig toe hy die Here Jesus veroordeel het, nie op grond van onpartydige regspraak nie, maar uit vrees vir die Jode. 

Hy het selfs tot vyf keer toe getuig dat Jesus onskuldig is. 

En so het die wettige regter heel duidelik gemaak dat Jesus nie vir sy eie oortredinge sterf nie. 

Hy sterf vir ons s’n. 

Om God se toorn van jou en my weg te neem. 

God se toorn wat soos ‘n dreigende wolk steeds bo die aarde hang. 

Daarom kan ons nou die dag van Christus se wederkoms met ‘n geruste en skoon gewete tegemoet gaan.

As ons hierdie bekende woorde opsê of sing: wat gely het onder Pontius Pilatus, wat gekruisig is, dan is dit nie vir ons net feite wat niksseggend is nie.

Ons sing dit vol emosie.

Want ons lewe het alles daarmee te make!

Die Bybel beskryf verskillende mense wat gely het – Josef, Jeremia, Daniël, Petrus, Jakobus, Paulus, noem maar op.

Maar dit staan nie op dieselfde vlak as Jesus se lyde en sterwe nie.

Ons lewe, ons toekoms, is direk daaraan gekoppel.

Danksy sy lyde en sterwe is daar vir jou en my ‘n toekoms!

Met dankbaarheid, met veel emosie, ja selfs met groot blydskap sing ons oor sy lyde en sterwe!

 

Gemeente, aan die einde van hierdie leerpreek wil ek net nog dit noem.

Daar is ‘n gesegde wat lui, in Engels: Preaching to the repented.

Dit wat vanaand behandel is, is waarskynlik iets waaroor die meeste van ons nie enige twyfels of besware het nie.

Hoekom dan daaraan aandag bestee?

Wel, daar is ander mense wat wel daarmee ‘n probleem het.

Veral mense wat gekant is teen die belydenisgeskrifte.

Hulle gebruik hierdie verskil tussen die Apostoliese Geloofsbelydenis en die van Nicea om die belydenisgeskrifte te diskrediteer.

Sien jy, dis ‘n onbetroubare spul.

Die een sê: gely onder Pilatus.

Die ander sê: gekruisig onder Pilatus.

Hierdie is konkoksies gemaak deur die kerk deur die eeue, en hulle spreek mekaar selfs teen.

Wel, gemeente, in hierdie preek is aangetoon dat dit nie die geval is nie.

En wat u kan doen is, deel hierdie preek met sulke mense.

U het almal hierdie preek van die kerkkantoor deur Whatsapp ontvang.

Ons kan verder daarmee werk, en daarmee uitreik na hulle wat twyfels of verkeerde persepsies het.

 

En ons kan vir onsself weer ons geloofsgetroue hiermee versterk.

Die Evangelie is waar, soos dit nagespreek word deur die belydenisse.

Die belydenisgeskrifte is nie op hulleself waar nie, maar hulle is waar omdat hulle die Skrif naspreek.

En beide Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis doen dit.

Hulle spoor ons aan om God Drie-enig te aanbid, spesifiek ook Jesus Christus, wat gely het onder Pontius Pilatus, ten tyde van sy bewind gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

Dit alles het Hy as Middelaar vir ons gedoen.

Daardeur is ek seker dat die vervloeking wat op my gerus het, op sy skouers gelaai is.

Dit het Hy vrywillig gedoen.

Hy het gekies om onskuldig veroordeel te word, sodat ons van die streng oordeel van God bevry word.

Dit is die heerlike Evangelie.

Baie erge en verskriklike dinge, maar soos die Skrif aan ons verduidelik, juis dit is die goeie nuus, die blye boodskap, die Evangelie.

En daarom sing of luister ons dankbaar elke Sondag na die Geloofsbelydenisse, ook daardie eeue oues, die Apostoliese, die van Nicea, en Athanasius.

Wat Christene eeue en eeue gelede bely het, dit doen ons nog steeds.

 

God het Pontius Pilatus gebruik in Jesus se lyde en sterwe.

Hy het gely onder hom, Hy is gekruisig onder hom.

Dis die heilsfeite wat die loop van die res van die wêreldgeskiedenis bepaal.

Daarin het Pilatus ongewild ‘n rol gespeel.

Al rede hoekom sy naam tot vandag bekend is, was omdat hy aan bewind was toe Jesus, die Koning van die konings, nog op aarde besig was met sy lydensweg.

Hy was toe nog ‘n kneg, ‘n veragte, eers later sou Hy Koning word op die hemelse troon.

 

Gemeente, sal die Apostoliese Geloofsbelydenis in die hemel klink, en eendag op die nuwe aarde?

Wel, dit is een van die nuwe liedere wat die verlostes sing, op aarde en ons kan daarvan uitgaan ook in die hemel voor God se troon (Openb 14:3).

‘n Loflied op God Drie-enig, wat handel oor die heilsfeite wat in sy Woord geopenbaar is.

Die Geloofsbelydenisse is nie God se Woord nie, maar dit is wel die gelowiges se antwoord op sy Woord.

Dankbaar klink dit.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 22:1,10

Gebed

Skriflesing: Lukas 23:1-12 & Mattheüs 27:11-31

Sb 27:2

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 15

Preek

Sb 7:3,4,5,7,8,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 118:8,11,14

Seën