Tradisioneel word na die viering van die nagmaal ‘n nabetragtingspreek gehou.
Dit beteken dat ons met dankbaarheid nadink oor wat ons vandag beleef het.
Aan die hand van Sondag 13 en 14 dink ons vanaand spesifiek na oor die volgende feite, naamlik dat Christus die eniggebore Seun van God is, en dat Hy ontvang is van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria.
Is dit wel relevant vir ‘n Nagmaalsondag?
Ja, want heel Jesus se lewe op aarde, van begin tot end, het in die teken gestaan van sy Middelaarswerk.
Tema: Ons hoop is in die unieke Seun van God
1 Omdat Hy uniek is, is daar vir ons hoop
2 Omdat sy geboorte uniek was, is daar vir ons vergewing
1 Omdat Hy uniek is, is daar vir ons hoop
Hoewel ons by Christus se Middelaarswerk veral aan die einde van sy lewe dink, het die manier hoe Hy ontvang en gebore is, alles daarmee te make gehad.
In die nagmaalsformulier het ons vanoggend gehoor: “Hy het ons vlees en bloed aangeneem.”
En in vanaand se formulier: “Daarom gedenk ons dat ons Here Jesus Christus deur die Vader na hierdie wêreld gestuur is, dat Hy ware mens geword het”.
Hierdie sinne verwys uiteraard na hoe Jesus na hierdie aarde gekom het – ‘n ware mens, ons vlees en bloed.
Die feit dat Hy gebore is uit die maagd Maria, is bewys hiervan.
Ook gedenk ons dat Hy die eniggebore Seun van God is.
Hy bestaan van ewigheid af, Hy regeer saam met die Vader in die hemel.
Tog het dit die Vader behaag om Hom te stuur.
En uit die feit dat Hy ontvang is van die Heilige Gees, blyk dat sy koms op aarde nie soos enige ander mens was nie.
Gemeente, ons herdenk hier baie wonderlike dinge.
As jarelange kerklid is jy moontlik gewoond hieraan.
Maar vertel hierdie dinge aan iemand wat nie ‘n Christen is nie, en hy sal jou vreemd aankyk.
‘n Mens wat ook God is ... Iemand wat die eniggebore Seun van God genoem word ...
‘n Mens wat nie ontstaan het deur die natuurlike omgang tussen ‘n man en vrou nie ...
‘n Mens wat gebore is uit ‘n vrou wat nog ‘n maagd was ...
Vreemd alles, buitengewoon merkwaardig.
En inderdaad, noudat mens weer daarby stilstaan, dit is inderdaad merkwaardighede dinge.
En dit is goed om dit opnuut te besef.
Want ook as gelowiges – hoe gewoond ons ook hieraan is – kan ons dit nie verstaan nie.
Dit is en bly wonderlike feite.
Dit gaan ver bo ons verstand uit.
As ervare Christene kan ons ook nog steeds niks daarvan verstaan nie.
Maar ons herdenk dit dankbaar, soos wat dit in die Bybel geopenbaar is.
Die hoogste wysheid van mense is nog maar dwaasheid by God.
Die dwaasheid van God is hoër as die hoogste wysheid van mense.
“Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.” – 1 Korinthiërs 1:25.
In die Bybel praat die Here met ons op ons vlak, binne ons begripsvermoë.
Maar dit maak die wonders nog nie verstaanbaar nie.
Neem byvoorbeeld die uitdrukking eniggebore Seun van God.
Aan die een kant begryp ons dit, soos die Kategismus verduidelik:
Hy is die enigste natuurlike Seun van God.
En daarom is Hy ewig net soos sy Vader ewig is.
Daarenteen is ons aangenome kinders, uit genade.
Tog is die begrippe eniggebore en Seun nog steeds menslike begrippe.
Want gebore impliseer dat Jesus êrens begin lewe het.
Dat daar ‘n tyd was wat Hy nog nie daar was nie.
Dis dan ook wat die dwaalleraar Arius beweer het.
Christus was nie van ewigheid af nie.
Hy het as mens ontstaan, en Hy is later God gemaak deur die Vader, as beloning vir sy uitmuntende lewe.
In die Geloofsbelydenisse van Nicea en Athanasius word dit sterk ontken:
Hy is “gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.”
Hierdie laaste dui op sy ewigheid, Hy was reeds daar toe alles geskep is, Hy was selfs daarby betrokke.
In Athanasius se belydenis lees ons, Hy is “voor alle tye gegenereer”.
Genereer, dis ‘n ouer woord vir om te laat ontstaan.
Maar dis nie dieselfde as skep nie.
Want Jesus is ongeskape.
Hy is ook God, en staan bo die skepping.
Slegs na sy mensheid is Hy geskape.
Die woord eniggebore kan die nodige misverstand veroorsaak, en die vraag is hoe dit die beste uit die oorspronklike Grieks vertaal kan word.
Mens sien dat in ander vertalings vir ‘n ander woord gekies word.
So word in die English Standard Version die woord only gebruik.
Byvoorbeeld in die bekende teks Johannes 3:16:
“For God so loved the world, that he gave his only Son ...”
Die 2020-Vertaling kies die woord unieke.
“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het ...”
Dink ook aan die bekende vers, Johannes 1:14: “die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader”.
Die Ou Vertaling gebruik die woord eniggebore, die 2020-Vertaling uniek.
Die woord in Grieks beteken inderdaad iets soos enig in sy soort.
Dis opvallend dat hierdie woord ook in Hebreërs 11:17 gebruik word vir Abraham se seun Isak:
“Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer”.
Nou weet ons dat Isak nie die eniggebore seun van Abraham was nie.
By sy byvrou Hagar het Abraham nog ’n seun gehad – Ismael.
Wel was Isak uniek, enig in sy soort, in die sin dat hy die enigste wettige erfgenaam was, erfgenaam van die belofte wat God aan Abraham beloof het.
In die lig van hierdie vers maak dit dus sin om die Griekse woord eerder – soos die 2020-Vertaling – te vertaal met unieke.
Die Kategismus lê dit ook in hierdie lyn uit: Christus is alleen die ewige natuurlike Seun van God.
Christus is uniek.
Al is ons ook kinders van God, dis tog anders.
En ons is so dankbaar dat Christus uniek is.
Want deur sy Godheid was Hy in staat om vir my en jou sondes te betaal!
En weer eens, dit gaan ver bo ons verstand uit.
As ervare Christene kan ons nog steeds niks daarvan verstaan nie.
Maar ons herdenk dit dankbaar, soos wat dit in die Bybel geopenbaar is.
Een van die grootste gevare vir ‘n ervare Christen is om nie meer groot van God te dink nie.
Maar Hy is oneindig groot.
Wat ons van Hom weet, is soos een druppeltjie uit die oseaan.
Dit wat Hy aan ons openbaar oor Homself, dit staan in die lig van wat Hy vir ons doen.
Sy genadige verlossingswerk, die feit dat Hy uit vir ons ondeurgrondelike redes besluit het om op hierdie manier ons van die ewige straf te red.
Deur self in die brès te tree, deur sy eie Seun te stuur, sy enigste, sy unieke Seun, om as Middelaar die straf te dra.
Broer, suster, mag vandag se eredienste jou weer nuwe sig gee op die grootsheid van sy heilswerke.
Sy dade, wat my verstand en begripsvermoë te bowe gaan.
Moenie dat die duiwel dit regkry om jou af te trek, om jou lewe weer somber en uitsigloos te maak nie.
Ja die duiwel bly listig en aktief.
Maar vandag se boodskap is dat ons in Christus oorwinnaars is, meer as oorwinnaars.
Ons hoop is in Hom, die unieke Seun van God.
Omdat Hy uniek is, is daar vir ons hoop.
Danksy Hom, die unieke Seun van God, het ons ook sy kinders geword.
Dit beloof ‘n veilige toekoms.
2 Omdat sy geboorte uniek was, is daar vir ons vergewing
Wat ons vervolgens in Sondag 14 lees, het ook alles te make met sy Middelaarswerk.
Al gaan dit oor sy geboorte, meer as dertig jaar voor sy kruisiging, tog het sy manier van geboorte direk te make met sy Middelaarswerk.
Die Kategismus verduidelik dit as synde die nut van sy heilige ontvangenis en geboorte, naamlik dat Hy ons Middelaar is en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na hierdie twee begrippe, wat die begin van sy lewe beskryf.
Eerstens: onskuld.
Onskuld is die omgekeerd van erfskuld.
Erfskuld is eintlik ‘n beter woord as erfsonde.
Elke baba word in ‘n skuldige staat gebore – erfskuld.
Hy is onderdeel van die menslike geslag.
En as daar nie ingryping is nie, sal die erfskuld outomaties by elke nuwe baba ook lei tot sonde.
Die Bybel verduidelik egter dat omdat Jesus deur die Heilige Gees verwek is, Hy vry van hierdie erfskuld gebore is.
By Hom is daar ‘n diskonneksie.
Want juis deur sy geboorte word die ketting van die sonde deurbreek.
Alle mense is erflik belas, hulle kry die defek van hulle ouers.
Dis ‘n ketting wat ononderbroke loop deur die geslagte.
En volgens die Bybel is dit nou juis die rede hoekom die lewe van Christus ‘n direk goddelike oorsprong het.
So word die ketting van die sonde deurbreek, die volmaakte toestand soos dit bedoel was, breek deur.
Ja die manier hoe Hy gebore word, is soos hoe ‘n kind van Adam en Eva gebore sou gewees het as die sondeval nie plaasgevind het nie.
Dan die tweede begrip, dit dui ook hierop: volkome heiligheid.
‘n Ander woord vir heiligheid is toegewydheid.
Waar elke mens in ‘n staat van opstand teen God gebore word, ‘n staat van oorlog, word Jesus gebore soos ‘n mens gebore behoort te word, naamlik in ‘n staat van volkome toegewydheid aan die Skepper.
Iets wat volledig normaal behoort te wees.
Byvoorbeeld, as jy iets maak, behoort dit aan jou en kan jy besluit waarvoor dit bedoel is.
Meer nog, in die manier hoe jy dit maak, hou jy al rekening met waarvoor dit bedoel is.
As jy vir jouself ‘n huis bou, ontwerp jy dit sodat dit doelmatig is vir jou en jou gesin se behoeftes.
So het God die mens met ‘n doel geskape.
Die bedoeling was dat die mens aan Hom toegewy sal wees, en sy beelddraer op aarde.
Deur sy rebellie, sy sondeval, het die mens bewus gekies om nie vir daardie doel te lewe nie.
Daarenteen word Jesus nou gebore, volkome toewyd, volkome geheilig vir daardie doel.
Boonop het die Vader ‘n unieke doel met sy lewe gehad, naamlik om Middelaar te wees.
En die Vader het al rekening gehou met die vereistes vir hierdie lewensopgawe, reeds in die manier hoe Hy in die wêreld gekom het.
Eerstens, in alles aan sy broers gelyk, bedoelende: ‘n gewone mens, wat as sodanig die mensheid verteenwoordig en in sy hoedanigheid as mens die straf dra – so word aan God se regverdige vereiste voldoen dat Hy nie ‘n ander skepsel sal straf vir die mensheid se opstand nie.
En tweedens, Christus word gebore as nakomeling van Dawid.
Hy neem die posisie in as wettige troonopvolger, as Koning, om in daardie hoedanigheid vir die volk te stry en hulle te verlos van hulle vyand, in hierdie geval hulle grootste vyand, die Satan.
Maar derdens, Hy is – in teenstelling tot alle ander – sondeloos.
So sal sy Middelaarsoffer in alle opsigte aan die regverdigheidseis van God voldoen.
Geliefde gemeente, in hierdie nabetragtingspreek herdenk ons al hierdie heilsfeite.
Ons het dit bely met die Apostoliese Geloofsbelydenis vanoggend, en ons gaan dit vanaand weer bely: Christus is “die eniggebore Seun van God”.
Hy is ontvang “van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.”
Dit was ons ‘D-day’.
Van die ou mense onder ons het die sogenaamde ‘D-day’ nog self meegemaak, die ander van ons ken dit uit geskiedenislesse en films.
Op daardie dag het die beslissende wending in die Tweede Wêreldoorlog aangebreek, toe die geallieerde magte dit reggekry het om voet aan wal te sit op die Franse kus, wat die Nazis sorgvuldig bewaak het.
Toe dit gebeur, het die geannekseerde lande in Europa geweet: Dit is ‘n beslissende dag.
Dit is die begin van die bevryding.
Gemeente, Christus se geboorte is ons ‘D-day’, die begin van die oorwinning.
Christus se stryd sou nog meer as dertig jaar duur, maar die bevryding kon nie meer gekeer word nie.
Aan die kruis het Hy betaal, en in die vroeë Sondagure het Hy finaal die vyandige linies deurbreek, toe Hy uit die graf opgestaan het.
Elke jaar word die bevryding, wat met ‘D-day’ begin het, nog in Europa gevier.
Elke jaar vier ons ons D-day – dis Kersdag, die dag waarop ons Christus se geboorte herdenk.
Maar elke Sondag, en veral op ‘n Nagmaalsondag, vier ons ons bevryding, die beslissende veldslag aan die kruis en die oorwinning van die lewe op die dood drie dae later.
Dit het direk met jou en my lewe te make, want soos die Kategismus dit saamvat:
“Hy is ons Middelaar, en met sy onskuld en volkome heiligheid bedek Hy voor God my sonde, waarin ek ontvang en gebore is.”
En vandag se feesvieringe is ook ‘n voorsmaak van die allergrootste bevrydingsdag vir die hele wêreld, wat ons in spanning afwag.
As God die beslissende woord gaan spreek, dat die dag aangebreek het vir sy unieke Seun om terug te kom in heerlikheid.
Gemeente, laat ons met volharding die wederkoms van ons Heiland verwag.
Ons hoop is op Hom, die unieke Seun van God.
Omdat Hy uniek is, is daar vir ons hoop.
En omdat sy geboorte uniek was, is daar vir ons vergewing.
Amen.
Votum
Seën
Ps 9:1
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed
Ps 31:17
Nagmaalsviering: Skriflesing: Lukas 1:26-38; Johannes 1:1-14 & 3:16-18; Sb 5:1,2
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 13 v/a 33 & 14 v&a 35,36
Preek
Sb 18:3-6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 33:3
Kollekte
Ps 40:3,5
Seën