Jesus Christus is Heer van die Here, Koning van die konings, Oorwinnaar op die troon

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-06-02
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 13
Preek Inhoud: 

In hierdie tyd van verkiesings is ons gedagtes en gesprekke steeds by die regering van die land.

Wie regeer die land?

Hoe regeer hulle die land?

Presidente en ministers is mense, hulle is nie slimmer of wyser as die gemiddelde persoon nie.

Soms dink mens selfs, ver ondergemiddeld.

En dan sien mens ook dat mag iets met mense doen.

Wie mag en geld het, se houding in die lewe verander.

Dit lyk of hulle steeds meer net vir hulleself lewe, net daarvoor veg om dit wat hulle het, vas te hou.

Keer op keer blyk dat die volk tweede kom, en die maghebbers eerste.

Hierdie is nie net die storie van ons tyd nie, die geskiedenis laat ‘n nimmereindigende patroon sien van selfsug, korrupsie, kleptokrasie, omkopery, onderdrukking, oorlog.

Dit sit in die mens se sisteem, die ou sondige mens.

Keer op keer blyk dat, sodra mense die ‘gap’, die kans kry, hulle daarvoor gaan.

Ons sal vir onsself eerste sorg, ‘bogger’ die res.

En die hebsug ken nie grense nie.

Die president van die grootste land op aarde het nog nie genoeg grondgebied nie.

Die rykste 10% van die bevolking op aarde word net steeds ryker.

Selde stel hulle hulle kapitaal beskikbaar om goeie dinge op aarde tot stand te bring.

Die hoeveelheid sendelinge word steeds minder, terwyl die Westerse Christene se kapitaal steeds meer word.

Waarheen is hierdie aarde oppad?

Die koue oorlog is terug, magsbalanse verskuif, diktators her en der neem hulle kans om hulle magsposisie te verstewig, of om hulle land se grense te vergroot.

 

En hier sit ons as gemeente met ‘n klompie mense.

Wat kan ons doen?

Hoe lyk ons toekoms?

Maar gemeente, kom ek sê nou een ding vir julle.

Julle is baie gelukkig, julle staan sterk.

Hoekom?

Sondag 13 gee die antwoord.

Daaraan mag ek julle herinner, in ‘n tyd waar ons gedagtes maklik afdwaal na somber scenario’s toe.

Laat ons ons harte verhef, opkyk na Hom, ons gedagtes fokus op Hom wat troon in die hemel.

Hy is die Koning van die konings, die Heer van die here, die Seun van God: Jesus Christus.

Sy bewind is onwankelbaar, en dus staan die aarde vas.

 

Tema: Jesus Christus is Heer van die Here, Koning van die konings, Oorwinnaar op die troon

 

Ons kyk eerstens na die betekenis van die naam Here in die Bybelse tyd, en daarna fokus ons op ‘n paar verse uit die Bybel waarin dit pragtig na vore kom, veral uit die Nuwe Testament.

 

1. Betekenis van die naam Here

Diktators duld nie kritiek nie, veral nie op hulle persoon nie.

Wie kritiek het op Putin, wie kritiek het op Xi Jinping, diktators van Rusland en China, word uitgesorteer.

In die tyd van die Nuwe Testament was dit nie anders nie.

Die titel Here was slegs voorbehou aan die keiser in Rome.

Here, in Grieks is dit: Kurios.

Dit was die politieke omgewing waarbinne die eerste Christelike gemeentes gefunksioneer het, gemeentes soos Antiochië, Korinthe, Efese, en Rome.

Keiser Tiberius is Kurios - Here.

Hy het tot 37 na Christus geregeer.

Keiser Caligula is Kurios - Here.

Hy het tot 41 na Christus geregeer.

En Keiser Claudius is Here.

Hy het tot 54 na Christus geregeer.

Toe hy beveel dat alle Jode, ook Christenjode, uit Rome moes padgee, moes dit gewoon gebeur.

Aquila en Priscilla was twee Christene wat halsoorkop moes vertrek.

Die keiser se woord was wet.

Dan was daar Keiser Nero, welbekend, wat tot 68 na Christus geregeer het.

Nero is Here, Kurios, niemand anders nie.

En baie Christene moes dit ontgeld.

Hulle het geweier om vir die keiser te offer.

Hulle het geweier om sulke sterflinge Here te noem.

En hulle moes ‘n prys daarvoor betaal.

 

Hoekom?

Omdat die titel Kurios – Here – dui op die iemand wat al die mag het.

Al was die Romeinse keisers hoe magtig, hulle het nie al die mag gehad nie.

Daar is ‘n ander, het die Christene geweet, wat dit het.

Hy wat vir sy apostels gesê het:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” – Mattheüs 28:18.

Hulle was vas daarvan oortuig.

In daardie wete het hulle vasgestaan, ook met die realiteit voor oë dat die regeerders gedoen het net wat hulle wou.

Wie die Evangelie laat insink, die implikasies daarvan besef, kan gewoon nie anders nie as om te bely saam met Thomas:

“My Here en my God!”

Opstanding uit die dood, wat Thomas met sy eie oë gesien het.

Opstyg na die hemel, wat Thomas met sy eie oë gesien het.

Wie dit laat insink, kan mos nie anders nie as om tot die rotsvaste oortuiging te kom dat Hy die Een is wat regeer, wat alle mag in hemel en op aarde het ...?

 

Gemeente, die feit dat Jesus Christus die Here is, die Kurios, die Heerser, die Baas, die Koning van die Konings en Heer van die Here, dit is ‘n realiteit wat ons dwarsdeur die Bybel vind.

In die Ou Testament – ons het dit gesing.

Psalm 2, waar God vir sy Seun sê: “Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” (Ps 2:8)

Psalm 110: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete ... Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.”

In hierdie vers word die een HERE met vier hoofletters gespel – dit verwys na God die Vader, Jahweh.

Die tweede Here is net met een hoofletter.

Dit het verwys na een van God se gesalfde konings uit daardie tyd, maar uiteindelik het dit veral verwys van Jesus Christus, Here, wat sy vyand – dink onder andere aan die duiwel – ‘n voetbank sal maak vir sy voete.

En almal wat nie aan Hom gehoorsaam is nie, alle regeerders wat Hom minag, sal Hy verbrysel op die dag van sy toorn.

Harde woorde, maar ook bemoedigende woorde, veral in tye waarin mens sien hoe konings en presidente die aarde verwoes.

 

Kom ons fokus nou tweede op enkele tekste uit die Nuwe Testament, waar Jesus Christus spesifiek Here genoem word.

 

2. Here in die Nuwe Testament

Jesus Christus is Heer, Hy is die Kurios, die een met die hoogste gesag, die een met die meeste mag.

Ons begin by 1 Korinthiërs 12:3:

“Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus 'n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.”

Dit gaan my nou veral oor die tweede deel van hierdie vers:

Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Om Jesus Here te noem, is dus ’n vrug van die Heilige Gees.

Dit klink dalk na ’n klein vruggie, maar dit is nie.

Soos ek hierbo genoem het, in daardie tyd mog net die keiser so genoem word.

Daar was wetlike konsekwensies aan verbonde as iemand iemand anders Here genoem het.

Opstand teen die keiser, ontkenning van sy opperheerskappy oor al die nasies in sy groot ryk.

Opstand is die kop ingedruk, die Romeine kon hardhandig wees.

So ’n beskuldiging van hoogverraad is vinnig opgevolg.

Toe Jesus tereg gestaan het voor Pilatus, het die Jode hom gedreig:

“As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.” (Joh 19:12)

Vir hierdie bedreiging was Pilatus bang.

Daardie woorde – Here, koning – het gevoelig gelê.

En daarom, onderstreep Paulus as hy aan die Korinthiërs skryf, elkeen wat bereid is om Jesus te bely as die Here, hy mag weet dat die Heilige Gees in hom werk.

 

Broer, suster, bely jy Christus as Here, nie net jou Here nie, maar Here van Suid-Afrika, en Heer van die heelal?

Ook vandag is dit ’n vrug van die Gees.

Want juis hierdie belydenis sal ons minder bekommerd maak oor die toekoms.

 

Kom ons gaan na nog ’n Bybelteks: 1 Korinthiërs 8:5-6:

“Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is – soos daar baie gode en baie here is – tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”

In hierdie gedeelte behandel Paulus die eet van offervleis.

Hy benadruk dat die afgode niks is, hulle bestaan nie eers nie.

Daar is slegs een God.

En al is daar baie here – dink aan die keisers wat die een die ander opgevolg het – tog is daar net een Here, en dit is Jesus Christus.

In die 2020-vertaling is daar ’n komma na Here.

Dit maak dit duideliker wat Paulus hier bedoel.

In vers 5 praat hy oor baie gode en baie here.

In vers 6 gaan dit oor die een God, die Vader uit wie alles is.

En dit gaan oor die een Here, dit is Jesus Christus, deur wie alles is.

Ons is so gewoond aan die kombinasie van die drie name vir ons Heiland – Here Jesus Christus – dat ons maklik daaroorheen lees.

Maar hier word dus spesifiek gefokus op wat Here beteken.

Jesus Christus is Here, Hy is die enigste Heerser, die hoogste Gesagsdraer.

 

Kom ons gaan na nog ’n Bybelteks:

1 Petrus 3:15: “Maar heilig die Here God in julle harte”.

Ook by hierdie vers is dit nuttig om die 2020-vertaling nader te trek, want daar staan:

“eerbiedig Christus as Here in julle harte”.

Die ou vertaling noem God hier Here.

Die nuwe vertaling noem Christus hier Here.

Hierdie verskil gaan terug op die ou manuskripte wat vir die vertalings gebruik is.

Die oudste manuskrip wat ons van 1 Petrus het, is op papirus geskryf (deesdae genaamd Papirus no 72).

Hierdie papirus dateer ongeveer 200 jaar nadat Petrus dit geskryf het.

Daarin word die naam Christus gebruik.

Christus is Here.

Die ou vertaling gebruik ander manuskripte as basis, waarin God Here genoem word.

Beide is natuurlik waar, en hierdie variasie het nie werklik ’n impak op die uitleg van hierdie Bybelteks nie.

Die Vader is Here.

En Hy het sy eniggebore Seun, Jesus Christus, aangestel as Heer oor alle dinge.

Alle trone en heerskappye is aan Hom onderworpe.

 

Nog ’n pragtige teks is Romeine 10:9:

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word”.

Ook by hierdie vers is dit goed om die 2020-Vertaling daarlangs te lê.

Daar staan: “as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is ...”

Hier is daar in die grondteks geen verskil nie, maar in die nuwe vertaling kom die bedoeling beter uit.

Ou vertaling net weer: as jy die Here Jesus bely.

Nuwe vertaling: as jy bely dat Jesus die Here is.

Hier val die fokus dus weer spesifiek daarop dat Jesus Heer is.

Dis nie net ’n algemene belydenis van die Here Jesus as Persoon nie.

Maar hierdie is ‘n baie spesifieke belydenis: Jesus is die Here, dit wil sê die Heerser oor alle magte, ook oor die keiser.

Hierdie belydenis is nodig om gered te word.

Hierdie belydenis kon die Christene in die Romeinse Ryk hulle lewe kos.

Maar, soos Jesus gesê het, wie sy lewe verloor om my Naam ontwil, hy sal dit juis ontvang, hy sal gered word!

Dit skryf Paulus aan die gelowiges in Rome, hulle wat gewoon het in die skaduwee van die keiser se paleis.

Moenie vrees nie, want Jesus Christus is die Here!

Hy is, soos ons in Kolossense lees, die Hoof oor alle owerhede en magte (Kol 2:10).

Die owerhede waaronder ons tuis voel, maar ook die owerhede waaronder ons bang voel.

Selfs die owerhede waaronder Christene vervolg word.

Laat ons aan hierdie belydenis vashou.

Die ou Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons elke Sondag weer – dikwels onnadenkend – aanhoor of sing, sê:

“en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here”.

Hierdie geloofsbelydenis stam uit die tyd van die Romeinse Ryk.

Daardie twee woordjies uit die belydenis “ons Here” kon ‘n gelowige destyds duur te staan kom.

Vir ons is dit vandag maklik om te bely.

Maar laat ons dit net so vol vertroue en dankbaarheid doen.

Hy heers, en dus staan die aarde vas, en sal onreg nie vir ewig standhou nie.

 

Daar is natuurlik een Bybelboek waarin die heerskappy van Jesus Christus, die feit dat Hy Heer is, baie sterk na vore kom, en dit is die laaste Bybelboek.

Christus word daar beskryf as die Oorwinnaar op ‘n wit perd.

Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

Sy oë is soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof is baie krone.

En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. (Openb 19:11-16)

Die Romeinse keisers het hulleself as ‘n generaal op ‘n wit perd laat afbeeld.

Hulle het die naam Kurios, Here, opgeëis.

Maar Johannes sien op Patmos die ware Here, Jesus Christus, Oorwinnaar op ‘n wit perd.

Hy stel Homself aan Johannes voor as “die Owerste oor die konings van die aarde” (Openb 1:5).

Gemeente, hierdie woorde kom uit Christus se seën aan die begin van Openbaring.

Dit is die seën wat u ook ontvang het aan die begin van hierdie erediens.

‘n Seën met ‘n betekenis!

Christus is Heer, Hy is die Owerste oor die konings van die aarde!

 

Broers en susters, tradisiegetrou is vandag voorbereiding op die nagmaal wat ons volgende week hoop te vier.

Tradisiegetrou ondersoek ons onsself, vandag en in die week wat kom, ons dink daaroor na of ons gereed is om nagmaal te vier.

Hoe hou vandag se preek daarmee verband?

Wel, selfondersoek op hierdie punt is baie relevant, juis na ‘n week waarin daar ‘n verkiesing was.

Op wie plaas jy jou vertroue vir die toekoms?

Aan wie vertrou jy jou toekoms, en die toekoms van jou kinders en kleinkinders, toe?

Is jy angstig?

Is jy onseker?

Is jy gefrustreerd?

Is jy omgekrap oor wat aardse regeerders doen, en hoe dit impak op jou lewe en jou toekomsplanne?

Voorbereiding op die nagmaal hou in, soos ons in Psalm 37 sing:

“Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer” – Psalm 37:5.

Sing gerus hierdie hele Psalm in die week wat kom as voorbereiding op die nagmaal.

“Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie ... Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.” (Ps 37:7-9)

 

Dit sê Hy wat aan sy apostels verseker het:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”

Broer, suster, is jy hiervan oortuig?

Gee dit vir jou gemoedsrus?

Laat dit jou vasstaan, ook met die realiteit voor oë dat regeerders doen net wat hulle wil?

Jesus Christus is Heer van die Here, Koning van die konings, Oorwinnaar op die troon.

Dit is die tema vir vanaand se preek, die boodskap om huis toe te vat.

Eien dit jouself toe, want jy behoort aan Hom!

Hy het jou mos nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed gekoop.

Jy is vrygekoop om aan Hom te behoort en Hom te dien.

Hy het jou verlos van alle heerskappy van die duiwel.

As Hy jou kan verlos van die duiwel, hoeveel te meer sal Hy jou nie kan verlos van blote mense nie!

Hou vas aan hierdie eeue oue belydenis: Jesus is Here!

Dit is jou voorbereiding vir volgende week se nagmaal.

Haal diep asem, moenie ‘gestress’ raak nie.

Leef in die gemoedsrus dat jou Heer regeer vanuit die hemel.

Alle dinge is so in sy hand dat Hy nie eers die mossies vergeet nie.

Hoeveel te minder julle, kleingelowiges.

Moenie julle kwel oor: “Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” (Matt 6:31)

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33)

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 47:4

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 28:16-20; 1 Korinthiërs 8:1-6

Ps 2:4,6

Skriflesing: 1 Korinthiërs 12:1-6; Openbaring 19:11-16

Ps 110:1,2

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 13 (fokus op v/a 34)

Preek

Ps 37:2-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 17:1,2

Kollekte

Sb 17:3-6

Seën