Jesus is ‘n volkome Verlosser.
Die wat op Hom vertrou, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.
Dit is waarom Sondag 11 draai.
Dit bely ons in hierdie Sondag, die waarheid wat in soveel stemme uit die Bybel tot ons kom.
In vanaand se preek staan ons stil by sommige van hierdie Bybelgedeeltes.
Daar is te veel vir een preek.
Saam vorm hierdie tekste, elkeen met sy eie invalshoek, een skildery met hierdie groot tema: Jesus die volkome Verlosser.
By niemand anders is daar enige saligheid te soek of te vind nie.
Tema: Ons het niks of niemand anders as Jesus vir ons saligheid nodig nie
Van reg van die begin van sy lewe op aarde word daar in die Skrif duidelik gemaak dat ons Heiland nie toevallig daardie Naam gehad nie.
Dit was die boodskap van God toe die engel die opdrag aan Josef gee: “jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Vanaf die eerste begin was dus duidelik dat sy Naam ‘n bedoeling gehad het.
God het Hom daardie naam gegee, want God het ‘n plan met sy lewe gehad.
Kolossense 1:19-20 verwoord dit mooi: “Want dit het die Vader behaag ... dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis”.
Toe die engel die naam aankondig, was op die horison dus alreeds die kruis sigbaar, al het Josef en Maria dit nog nie besef nie.
Jesus het dit self ook beaam, Hy het geweet dat dit sy taak was om Verlosser te wees.
Daarom sê Hy sonder skroom: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe.” (Joh 6:47-48).
Dit is nogal iets om soiets te sê.
As Jesus net ‘n mens sou wees, dan sou dit die hoogste vorm van hoogmoed wees om so iets te sê.
Dit sou daarop neerkom dat iemand kranksinnig is, ‘n psigiese aandoening het, ‘n schizofreen is, iemand wat soiets oor homself sê.
Asof een mens die ewige lewe kan gee aan ‘n ander ...
‘n Normale persoon sê nie soiets nie.
Tensy, tensy Hy nie ‘n normale persoon was nie.
Maar inderdaad, as Hy ook God was, dan maak dit heeltemal sin wat Hy sê.
Want Hy is die volkome Verlosser.
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6).
Vir die dissipels, en veral vir sy eie broers en susters, was dit iets wat hulle nie direk gesnap het en van oortuig was nie.
Maar na sy hemelvaart en Pinkster was die apostels rotsvas daarvan oortuig.
Dink aan die geweldig stellige uitspraak van Petrus:
“die saligheid is in niemand anders nie, wat daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand 4:12)
Wat ‘n ommeswaai, nadat Petrus enkele weke daarvoor meer as een keer nog gesê het:
“Ek ken die man nie.” (Matt 26:72,74)
Daai naam sê my niks nie!
Broer, suster, gebeur dit nie soms ook met jou en my nie?
Soms word ons onverwags betrap, in ‘n situasie geplaas waarin ons nie lus is, of nie die moed het om ronduit vir die naam van Jesus uit te kom, dit liewer agterweë laat, omdat dit ons in daardie omstandighede nie uitkom nie.
Hier in die kerk is dit natuurlik maklik om ronduit daarvoor uit te kom en sy naam uitbundig te prys.
Maar mag die Here in ons harte hierdie naam al hoe dieper ingraveer, sodat dit vir ons soos vir Petrus net so eksistensieel word, dat hy dit voor die Joodse Raad bely het met gevaar vir sy eie lewe: Daar is geen ander naam onder die hemel waardeur ons gered kan word nie.
Mag die Heilige Gees ook hierdie preek daarvoor gebruik.
Want dit is ‘n aanhoudende neiging van ‘n mens om nie alleen op Hom te vertrou nie.
Dit mag in verskillende eeue verskillend na die oppervlakte kom, maar dit bly dieselfde neiging van die ou sondige natuur wat in elke mens op aarde skuil.
Die Kategismus verwys na wat aktueel was in daardie tyd, die 16de eeu – dat mense hulle saligheid ook by die heiliges gesoek het.
Jou saligheid was ‘n optelsom.
Jesus dra uiteraard die grootste deel by.
Maar jou goeie werke maak ook ‘n verskil, al is dit dalk weinig.
En omdat die gemiddelde lidmaat se goeie werke onvoldoende is, is daar gelukkig heiliges, wat so vroom gelewe het, dat hulle ‘n surplus aan goeie werke agtergelaat het.
Die kerk administreer hierdie surplus en deel dit uit aan wie dit nodig het.
Soms, soos ons weet uit die verlede, selfs teen betaling – die sogenaamde aflate.
En dan is daar die vaevuur, die sogenaamde reinigingsvuur, die skoonmaakvuur.
Vaevuur – die woord vae is ‘n ou vorm van die woord vee.
As jy jou huis vee, maak jy dit skoon.
So is die bedoeling dat die vaevuur jou skoon brand en gereedmaak vir die hemel.
Met as voordeel dat, vir die tyd dat iemand in die vaevuur is, die mense wat nog op aarde leef, vir hom kan bid, aan sy balans van goeie werke kan toevoeg.
So word ‘n mens se saligheid ‘n ingewikkelde optelsom van verskillende kante, alles geadministreer deur die kerk.
Die Reformasie het radikaal hiervan afstand geneem, en teruggekeer na Petrus se belydenis:
“die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand 4:12)
“Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” – 1 Timotheüs 2:5.
Opvallend dat die aksent hier in Timotheüs val op die feit dat Jesus ook mens is.
Dit het ‘n rede.
Juis daarom kan ons met Hom assosieer, voel Hy vir ons naby.
Die hele feit dat figure soos die heiliges begin vereer is, is omdat hulle mense was.
God voel so ver, onbereikbaar, maar mense wat reeds gesterf het voel nader.
Hulle kan namens ons God benader.
So word hulle dus die bemiddelaars, die tussenpersoon, tussen God en die lewendes op aarde.
Daardie neiging sit in elkeen van ons.
As iemand wat baie naby aan jou was, te sterwe kom, dan dink jy uiteraard baie aan hom, dan praat jy in jou gedagtes nog steeds met hom.
En so kan dit selfs gebeur dat jy hom vra om namens jou iets vir God te vra.
Jy vertrou hom, want jy het hom geken, en hy is mos nou by God.
Hierdie basiese menslike neiging, hierdie behoefte aan kontak met hulle wat anderkant die dood is, lê ten grondslag aan die heiligeverering, ook aan die voorvaderaanbidding hier in Afrika.
Dis basies dieselfde.
Die heiligeverering in die Roomse kerk in Europa het sy oorsprong ook gehad in voorvaderingverering, van die ou heidense godsdienste van Europa voordat die Evangelie daar gekom het.
Maar die Skrif leer ons om slegs en alleen in die naam van Jesus na die Vader te gaan.
Jou geliefdes kan nie bemiddel tussen jou en God nie.
Slegs Jesus.
En as jy jou Bybel ken, dan sal jy Jesus ook ken, dan sal jy naby Hom wees en voel, want soos ons uit die Bybel leer, Hy was ook mens op aarde, en Hy is in alle opsigte versoek net soos ons.
Ons het niks of niemand anders vir ons saligheid nodig nie.
By niks of niemand anders is enige saligheid te soek of te vind nie.
Ons mag Hom omarm in vertroue.
Want Jesus Christus het Homself gegee om ons te verlos van alle ongeregtigheid, soos daar in Titus 2:14 staan.
Wie in Jesus glo, daar bly geen ongeregtigheid in hom oor wat op ‘n ander manier of deur ‘n ander weggeneem moet word nie.
Geloof in Jesus alleen skenk toegang onvoorwaardelik tot die ewige lewe.
Geloof in Jesus vereis uiteraard selfverootmoediging.
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh 1:9)
Wie nie sy ellende ken nie, nie sy sondes toegee nie, het ook nie behoefte aan vergewing nie.
Wie nie die verband erken tussen sonde en die ewige dood as straf daarop nie, vir so iemand maak dit dan nie sin om die ewige lewe by Jesus te soek nie.
Almal soek die ewige lewe, maar nie almal is bereid om voor Jesus te kniel en hulle sondes te bely nie.
Dit is die ou mens wat nog op die troon wil sit.
En wat dan naarstig op soek gaan na ‘n alternatiewe manier om tog die ewige lewe te bekom.
Ook in vandag se tyd soek mense die ewige lewe op verskeie maniere.
In die Weste, met dat die atheïsme sy intrede gedoen het, word daar geweldig baie vertroue op die wetenskap gestel.
Al is die wetenskap nou nog nie so ver dat dit die ewige lewe kan skenk nie, wie weet in die toekoms ...
Toe die nuwe millenium in 2000 aangebreek het, het die Amerikaanse president Bill Clinton die verwagting uitgespreek dat in die nuwe eeu, danksy die wetenskap, mense veel ouer gaan word.
Waar die gemiddelde lewensverwagting in die VSA tans ongeveer 75 jaar is, sal die gemiddelde opgaan na ruim oor die 100 danksy wetenskaplike vooruitgang.
Dit is die toekomsverwagting, die hoop, wat atheïste het.
Daar is selfs atheïste wat, as hulle sterf, hulle liggame laat bevries, met die hoop dat die wetenskap eendag so ver sal gevorder het dat hulle liggame weer lewendig gemaak sal word.
In state soos Californië is daar groot vrieskamers waar ryk mense se liggame wag vir daardie oomblik.
Dis duidelik dat sulke mense hulle vertroue stel op iets anders as in die naam Jesus.
En net soos by die aflate destyds, moet hierdie mense ook hulle ewige lewe koop.
Dis kos ‘n fortuin om jou liggaam so te preserveer.
Gemeente, hierdie mense het geen hoop nie.
Want: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie – 1 Johannes 5:12.
Inteendeel, hulle is veroordeel, omdat hulle nie in vertroue op Jesus as die volkome Verlosser gesterf het nie.
Hulle ewige bestemming is die poel van vuur en swawel wat ook vir die duiwel bestem is (Openb 20:10).
Daareenteen is daar vir hulle wat in Christus Jesus ontslaap het – al was hulle hoe arm en onaansienlik op aarde – geen veroordeling nie (Rom 8:1).
Nou is die meeste mense nie so ekstreem nie, maar tog is daar by baie in ons samelewing ‘n behoorlike porsie vertroue op die wetenskap, dit naas Jesus.
Laat ons ook daarvoor waak in die alledaagse lewe.
As jy ingaan vir ‘n operasie, op wie vertrou jy?
Vertrou jy op daardie spesialis, wat die beste in sy veld in die land is?
Of berei jy biddend voor op die operasie, vertrouende op Jesus alleen.
Vra jy Hom dat Hy die hande van die dokters en verpleegsters sal seën, sal lei volgens sy goeie wil?
Vertrou jy dat hulle in sy hand is, en dat sy wil sal geskied?
So kan ons ons volledige vertroue op Jesus baie prakties uitleef.
Net so as jy elke dag begin.
Doen jy dit met gebed?
Besef jy dat jy geen dag sonder gebed kan begin nie?
‘n Gebed waarin jy vra dat Jesus jou sal beskerm teen alle liggaamlike en geestelike gevare?
En net so kan jy geen dag sonder gebed afsluit nie.
‘n Gebed waarin jy vra dat die hemelse Vader jou sondes sal vergewe in sy Seun se naam, omdat daar slegs en alleen in die naam van Jesus vergewing moontlik en beskikbaar is.
Ons toekoms berus op genade, nie op verdienste of betaling nie.
Die Skrif skreeu dit uit in soveel Bybeltekste, te veel om op te noem in hierdie preek.
“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:23)
En Efesiërs 2:8: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit jullself nie: dit is die gawe van God.”
Dit is ‘n redding vir sowel die siel as die liggaam.
Dit is wat ook bedoel word as ons sê dat Jesus ons volkome Verlosser is.
Hy’s nie ‘n halwe Verlosser van net die siel alleen nie.
Al word die liggaam begrawe, al vergaan dit na soveel jaar, die verlossing van die liggaam van die verganklikheid sal ook plaasvind.
Dit waarborg die Skrif in Jesus se naam, omdat Hy ‘n volkome Verlosser is.
Geliefde gemeente, hierdie blye boodskap mag ons leef, mag ons uitdra.
Want in hierdie lewe is daar vir elke aardbewoner die opregte aanbod van volledige vergifnis en redding deur Jesus.
Ons mag elke mens ongeag wie wat ons ontmoet so benader, as iemand aan wie die Vader deur sy Seun Jesus liefde wil bewys, ja die ewige lewe wil skenk.
Paulus skryf aan Timotheüs: God ons Verlosser “wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal” (1 Tim 2:3-6).
Broer, suster, dit is nie te laat nie, nie vir jou, nie vir my, nie vir enigiemand wat nog lewe nie.
Mag sy naam groot wees in ons lewens.
Mag sy naam bekend wees onder almal wie ons ken.
Mag die Here ons gebruik om ander ook na Hom te lei, dat hulle Jesus as die enigste Verlosser met ‘n ware geloof sal aanneem.
Soos die Samaritaanse vrou opgewonde in haar stad gaan vertel het wie sy ontmoet het.
En later het daardie mense in Samaria gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld is.” (Joh 4:42)
Kom ons sing, as ons amenlied, saam met Maria die lofsang wat sy gesing het in reaksie op die aankondiging van die engel en sy opdrag dat sy haar Seun Jesus moes noem:
“Ek wil die hoogste Heer
met blye roemtaal eer,
my Redder en Bewaker.
In nederige staat
wou Hy my nie verlaat,
my God en Saligmaker.” (Sb 1:1)
Dit kan nie anders nie as dat Maria reeds aan haar eie Kind gedink het toe sy dit gesing het.
As Hy Jesus, Saligmaker, genoem moes word, dan dink sy mos aan Hom as sy sing: my God en Saligmaker.
Op daardie stadium was alles nog nie vir haar duidelik nie – die hoe en wat en wanneer – maar sy het haar hemelse Vader vertrou, dat dit sy reddingsplan is.
Vandag het ons naas die Ou ook die Nuwe Testament, waarin daar soveel tekste is – soos ons in vanaand se preek gesien het – wat getuig dat Jesus ons volkome Verlosser is.
Ons het niks of niemand anders as Jesus vir ons saligheid nodig nie.
Met nog meer sekerheid en oorgawe kan ons hierdie pragtige lied daarom sing.
Amen.
Votum
Seën
Ps 17:3
Gebed
Skriflesing: Handelinge 4:1-31
Ps 18:1,20
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 11
Preek
Sb 1:1,3,5
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 27:1-3
Kollekte
Ps 116:1,2,4,7,10
Seën