Christus het ons bevry om werklik vry te wees

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-05-12
Text: 
Galasiërs 5:1a
Preek Inhoud: 

Preek: Galasiërs 5:1a

 

Ons nuwe lewe in Christus – dit is die jaartema.

Hierdie lewe is aansteeklik, daarna kyk ons ook vandag vanuit Paulus se brief aan die Galasiërs.

Staan vas in die vryheid van Christus!

Om vry te wees in Christus beteken om vir geen mens bang te wees nie, geen mens se slaaf te wees nie, vir jou selfwaarde nie afhanklik van enige mens te wees nie.

Nie toe te laat dat iemand jou weer onder ‘n slawejuk indwing nie.

Die vryheid in Christus is ‘n groot geskenk, ‘n geskenk wat ook opgepas moet word, in die sin dat ons nie weer ‘n juk van slawerny op die skouers neem nie.

Van nature is ons as mense soos ‘n voëltjie wat in ‘n hokkie grootgeword het.

As die deurtjie oopgaan en die voëltjie vlieg uit, gebeur dit soms dat die voëltjie na ‘n rukkie terugkom in sy hokkie.

So is mense ook.

Dis ‘n groot uitdaging om in vryheid te lewe, mense verkies so dikwels diensbaarheid.

 

Tema: Christus het ons bevry om werklik vry te wees

  • Bevry van julle ou lewe
  • Bevry tot ‘n nuwe lewe

 

  • Bevry van julle ou lewe

Om die boodskap uit hierdie brief duidelik en helder te kry, moet ons eers terug in die tyd.

Paulus het die Galasiërs besoek tydens sy sendingsreise.

Galasië is ‘n gebied in die middel van Klein-Asië, hedendaagse Turkye.

Wie was die Galasiërs?

Gemeente, net soos vandag het daar vroeër ook volksverhuisings plaasgevind.

Dink aan baie van ons voorouers wat van ver weg, heeltemal vanuit Nederland, na Suid-Afrika geëmigreer het.

Die Galasiërs wat Paulus in die sentrale berglande van Klein-Asië ontmoet, was ook afstammelinge van immigrante.

Hulle voorouers het ongeveer 300 jaar gelede vanuit Wes-Europa na die suidooste verhuis en hulle hier in Klein-Asië gevestig.

Hierdie gebied is toe later na hulle vernoem – Galasië.

Die naam Galasië is afgelei van die naam Gallië.

En dalk onthou u, Gallië is die ou naam vir wat vandag Frankryk is.

Die Galasiërs was Kelte, oorspronklik verwant aan die Kelte wat gewoon het in areas soos Noordwes-Frankryk, Engeland, Wallis en Ierland.

Hierdie mense was heidene, hulle het hulle gode gehad, hulle het dinge in die natuur as goddelik vereer, hulle het bygelowige waarde toegeken aan dinge in die natuur, en die kringloop van die seisoene soos dit uit die sterre afgelees kon word.

Hulle het hulleself met towery besig gehou, onder leiding van hulle priesters, wat onder die Kelte bekend gestaan het as druïdes genoem.

En soos mens kan verwag, na drie eeue in Klein-Asië het hulle ook aangepas en vermeng met die plaaslike Hellenistiese kultuur en die Griekse taal.

 

Dit was hierdie mense wat Paulus op sy sendingsreis besoek het.

Ons kan aanneem dat Paulus, net soos elders, in elke dorp waar daar ‘n sinagoge was, eers daarheen gegaan het.

Dit het hom egter nie gekeer om ook direk die Evangelie aan die heidene te bring nie.

Die weg tot saligheid het naamlik nie meer deur die Joodse volk geloop nie.

Daar was nou ‘n beter weg, naamlik deur geloof in Jesus Christus.

So het daar mense uit die Galasiërs tot bekering gekom.

Daar is kerke gestig, waarin die blye Evangelie bly klink het, ook nadat Paulus vertrek het.

 

Tot sover bietjie agtergrond oor die Galasiërs, wie hulle was, waar hulle gewoon het, waar hulle vandaan kom, en hoe die Evangelie hulle bereik het.

Al met al ‘n baie blye geskiedenis, hoe uit hiedie oer-heidene mense tot bekering gekom het.

 

Maar, wat verbasend is, is dat hierdie brief van Paulus nou nie juis ‘n baie blye brief is nie.

Altans dit begin alles behalwe op ‘n blye noot.

Paulus spreek sy skok uit: “Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, wegdraai na ‘n ander evangelie.” (Gal 1:6 2020-Vertaling)

Nou wat is aan die hand, wat het misgeloop?

As mens verder lees in die brief, blyk dat dit op een of ander manier met die besnydenis verband gehou het.

Soos ons weet, Paulus het duidelik gepreek dat bekeerlinge uit die heidene nie meer besny hoef te word nie.

Tydens die vergadering in Jerusalem tussen die apostels en oudstes waarvan ons in Handelinge 15 lees, is dit onomwonde gestel dat dit nie meer noodsaaklik was om besny te word nie.

Dit was ook nie noodsaaklik vir die heidenchristene om die voedselwette van die Jode na te kom nie.

 

Maar skynbaar het daar na Paulus se vertrek iets in Galasië gebeur.

Daar het mense gekom wat dit tog verpligtend gemaak het.

En die Galasiërs is daardeur beïnvloed.

Nou hoe kon dit so maklik gebeur?

Gemeente, waar dit op neerkom, was dat die gemeentetjies hulle geïsoleerd gevoel het.

Hulle is met die nek aangekyk, nie net deur die heidense volksgenote nie, ook deur die Jode wat daar gewoon het, en deur die proseliet, heidene wat tot die Joodse godsdiens oorgegaan en deel geword het van die Joodse gemeenskap.

Vir die nuwe kerkies was dit nie maklik om op hulle eie te staan nie.

Maar, as hulle besny word en die voedselwette hou, dan was hulle wel aanvaarbaar vir die Jode.

Onthou, dikwels was daar in die eerste gemeentes bekeerlinge uit die Jode en die Jodegenote, die proseliete.

Die kort en lank was dat die Christene nie so geïsoleerd wou wees nie, hulle wou nie deur almal met die nek aangekyk word nie.

 

Was dit uitsonderlik?

Nee, glad nie.

Paulus skryf dat selfs sy kollega apostel Petrus dieselfde neiging getoon het.

Hy het geweet hoe die Jode daaroor voel dat hy saam met heidene eet.

Hy was gewoond om in Antiochië saam met die heidene te eet.

Maar toe Jodechristene uit Jerusalem daar aankom, wou hy ineens nie meer nie ...

Paulus skryf: uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.

Is dit nie maar soos ons almal is nie?

Ons pas by ons omgewing aan, ons wil nie geïsoleerd wees nie.

 

En so gaan dit ook met kerke.

En dis nie altyd met verkeerde motiewe nie.

Die kerk in Jerusalem wou graag so veel moontlik Jode met die Evangelie bereik.

Maar omdat dit vir Jode so ‘n groot struikelblok was om om te gaan met onbesnedenes en met hulle wat nie die voedselwette hou nie, het die Christene dit tog maar weer deur die agterdeur in die kerk binnegelaat.

Eintlik is dit beter dat die heidene tog maar besny word.

Dieselfde tendens neem Paulus nou in Galasië waar.

Dit krap hom geweldig om.

Dis nie die Evangelie wat hy gebring het nie.

Dis nie die manier om ander na die kerk te lok nie.

Dis niks minder nie as ‘n valse Evangelie!

Want dis of Christus 100%, of niks.

Al sou ‘n engel uit die hemel ‘n ander Evangelie verkondig, laat hom ‘n vervloeking wees! (Gal 1:8)

Paulus het nie teruggedeins om Petrus te vermaan oor sy optrede nie, en so doen hy nou ook met die Galasiërs.

So het julle nie gelowig geword nie.

As julle hierdie dinge begin instel en verpligtend maak, keer julle in feite terug na julle ou heidense godsdiens, al is dit nou met ‘n Joodse sousie daaroor.

Maar in wese is daar geen verskil nie.

Jy moet self jouself aanvaarbaar maak vir God deur die uitvoering van bepaalde rituele.

Moenie op hierdie manier aantreklik vir jou omgewing probeer wees nie.

Bly by die vryheid waarmee Christus julle vrygemaak het.

Dis hoe jy jou omgewing beïndruk, deur vir hulle te wys wat regte vryheid is.

 

Nou gemeente, hoe pas ons hierdie boodskap uit Galasiërs toe vir vandag?

Kom ek begin met ‘n voorbeeld uit die Sothosprekende susterkerke.

‘n Groot diskussiepunt by hulle is hoe jy jou geliefdes begrawe.

Aanstaande Saterdag gaan dit ‘n belangrike punt op die klassisvergadering wees, omdat daar verskil van mening hieroor is.

Mag jy tradisies toelaat wat bedoel is om bose geeste weg te jaag?

Mag jy ‘n seremonie hou om die grafsteen te onthul, en dan met die oorledene en die voorvaders  praat?

Die hele probleem, so word daar geredeneer, is dat as jy hierdie tradisies nie toelaat nie, niemand by jou kerk wil aansluit nie.

Want hierdie dinge is vir die swartmense baie belangrik.

Maar wat met hierdie tradisies gebeur, is dat die fokus verskuif van Christus na die voorvaders.

Hulle moet die persoon beskerm nadat hy oorlede is.

Die boodskap uit Galasiërs vir ons swart broers en susters is daarom duidelik: Christus alleen!

Bly staan in sy vryheid!

Moenie teruggaan na hierdie heidense tradisies nie.

 

Maar nou onsself, hoe pas ons dit self toe?

Ook ons voel die drang om vir ons omgewing aanvaarbaar te wees.

Dis goed, want ons wil hulle bereik, ons wil dat hulle tuis voel by ons en aansluit by ons.

Is daar dinge wat hulle daarvan sal weerhou?

In die Afrikanergemeenskap waarvan ons deel uitmaak, gaan dit nie altyd goed af dat ons sulke nou bande met swart kerke het nie, dat daar gereeld swart mense in ons eredienste is nie.

Dit gaan nie goed af dat swart dominees soms voorgaan, en dit gaan ook nie goed af dat dienste soms in Engels is nie.

Laat ons hierdie dinge tot die minimum beperk, sal sommiges sê, dan gee ons nie aanstoot aan mense wat aangetrokke voel tot ons behoudende styl van kerkwees nie.

Gemeente, hierdie redenasie is niks anders as presies dieselfde wat die Galasiërs gedoen het en wat Petrus gedoen het toe hy sy rug gedraai het op die heidense Christene uit vrees vir die Jode, en waaroor Paulus hom openlik bestraf het.

Soos dit die groot dwaling in daardie tyd was – eers jou Joodse identiteit en dan jou geloof – so is dit die groot dwaling in Suid-Afrika tans.

Eers jou kultuur, dan jou geloof.

Dalk ontken mense dit, nee, natuurlik is my geloof is eerste!

Maar ‘n praktiese manier om dit te toes, is om jouself af te vra:

Het ek kontak met mense om my heen uit ‘n ander kultuur maar met dieselfde geloof?

Praat ek met hulle ook oor die geloof?

Ervaar ek die eenheid met hulle?

Mense werk saam in Suid-Afrika in dieselfde fabrieke, kantore, konstruksieterreine, mense gaan na dieselfde winkels, maar mense gaan nie saam kerk toe nie.

Op Sondag wil ons mekaar nie ontmoet nie.

Hulle geloof beoefen mense so veel moontlik apart.

Die ZCC is ‘n kerk net vir swartmense.

En so het die blankes ook kerke waarin hulle gemaklik voel.

Paulus skryf geïnspireer deur die Gees: “O, onverstandige Galasiërs”! (Gal 3:1)

“O, julle dwase Galasiërs”! (Gal 3:1 – 2020 Vertaling)

Dieselfde moet Christus ook vandag vir baie Christene in ons land sê.

Christene se sosiale lewe word primêr deur hulle kultuur bepaal.

Christene se stemgedrag is ooreenkomstig hulle kultuur en taal.

Christene se godsdienste lewe word deur hulle kultuur en taal bepaal.

Christus kom nie eerste nie.

En gemeente, dalk is ons al moeg om dit te hoor.

Maar Christus wil nie dat ons die regte ding met die mond bely, maar in die praktyk nie stappe in daardie rigting sit nie.

Is ons geheel anders, omdat ons Christus nie so leer ken het nie? – dink aan die Bybelteks van afgelope Hemelvaartsdag.

Julle is bevry van julle ou lewe, ‘n lewe gekenmerk deur die wêreld om julle heen.

Moenie daarheen terugkeer nie.

Bly in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het.

 

  • Bevry tot ‘n nuwe lewe

Ons teks vorm eintlik die skarnier tussen twee dele in die Galasiërsbrief.

In die tweede deel gee Paulus hande en voete aan hoe die nuwe lewe lyk.

Die lewe wat ons nou as bevryde mense mag begin lewe.

As gemeente is ons die bruid van Christus.

Hy, die Bruidegom, gee ons alles wat nodig is om onsself mooi te maak.

Ons fokus op Hom, ons fokus nie op wat die wêreld om ons heen belangrik vind nie.

Met sy skatte versier ons onsself.

Paulus behandel hierdie skatte.

Dit is, soos ons in vers 22 kan lees, die vrug van die Gees.

Die vrug, dit wil sê, die uitwerking van dit wat die Heilige Gees in ons lewens doen.

Uiteindelik is daar ‘n toekoms vir die kerk wat haarself daarmee beklee, en nie vir ‘n kerk wat aanpas by die samelewing nie.

Meer nog, die samelewing sal juis baat vind by ‘n kerk wat die vrugte van die Gees dra, nie ‘n kerk wat dieselfde houding het en dieselfde dinge doen as die samelewing nie.

‘n Kerk wat vry en onafhanklik is van die samelewing, wat vasstaan in die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het.

Dra die vrugte van die Gees, nie van die samelewing nie, dan sal jy iets beteken vir jou omgewing.

 

En so behandel Paulus, in hierdie konteks, dan die vrug van die Gees.

En soos dit vir die Galasiërs relevant was, net so ook vir ons.

Dit is wat ‘n gelowige, ‘n gemeente, laat straal en aantreklik maak.

Soos byvoorbeeld die liefde, dit staan eerste, want dis die belangrikste.

Al wat die Galasiërs moet doen, is om na Jesus Christus te kyk.

Dit werk Paulus baie mooi uit in die eerste hoofstukke van Galasiërs.

In teenstelling tot wat ander hulle probeer wysmaak het, naamlik dat die gelowiges ook nog die Joodse tradisies moes nakom, in teenstelling daarmee fokus Paulus slegs en alleen op Christus.

Die Judaïste het kritiek hierop gehad.

Hulle was bang dat veral die gelowiges uit die heidene dan sou voortgaan met hulle onrein en immorele lewens.

Dit is binne hierdie kragteveld wat Paulus sy brief aan die Galasiërs skryf.

Aan die een kant die uiterste van die legaliste, hulle wat steeds gehamer het op die nakoming van die Joodse tradisies en voorskrifte.

Ja, het hulle gesê, ons moet in Christus glo, maar ons moet ook ons aan die Joodse wette hou.

En aan die ander kant die uiterste van hulle wat alle wette oorboord wou gooi.

‘God hou van jou soos jy is’ – was hulle slagspreuk.

Tussen hierdie twee uiterstes wys Paulus ‘n beter weg.

En dit is die weg waarop die Gees van Christus ons lei.

Dit is waar, skryf Paulus, die Evangelie van Christus het ons bevry.

Moet dus nie toelaat dat mense met hulle tradisies van julle slawe maak nie.

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het” (Gal 5:1).

In Christus het besnydenis of onbesnedenheid geen krag meer nie (vers 6), maar die geloof wat deur die liefde werk.

 

Paulus begin met die eerste en belangrikste vrug, uitwerking, van die Gees: die liefde.

Die liefde is die beter weg, die uitnemender weg (1 Kor 12:31).

Die liefde verval nie in legalisme aan die kant, of losbandigheid aan die ander kant nie.

Die liefde sluit nie bepaalde groepe uit nie.

Die liefde sal voorkom dat ons ons vryheid in Christus misbruik.

Wie die liefde praktiseer, kom vanself al die gebooie na.

Daarom is liefde die vervulling van die wet.

 

Dit bring Paulus dan by die oproep in vers 16: Wandel deur die Gees.

Dit is die beter weg.

Die krag van die Gees sal voorkom dat die werke van die vlees die botoon voer.

Paulus noem die werke van die vlees, vanaf vers 12:

owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelyke dinge.

Ons is dikwels geneig om hierdie werke van die vlees net met die een uiterste te assosieer, naamlik losbandigheid.

Maar dis nie al wat Paulus hier bedoel nie.

Beide uiterstes, legalisme aan die een kant, en losbandigheid aan die ander kant, laat die werke van die vlees sien.

Sommige dinge sal mens oorwegend assosieer met losbandigheid.

Dinge soos owerspel, hoerery, dronkenskap en brassery.

Dit assosieer ons meestal met losbandigheid.

In die Nuwe Testament was die hoere en tollenaars die spreekwoordelike losbandiges, met tipies sulke werke van die vlees.

Maar dan is daar ander werke van die vlees, wat Paulus noem, wat baie sterk na vore kom by die ander uiterste, by legaliste.

Dink aan dinge soos vyandskap, twis, toornigheid, tweedrag, partyskap ...

In die Nuwe Testament was dit die Fariseërs en die Judaïste, wat hierdie werke van die vlees vertoon het.

Paulus is duidelik oor beide hierdie groepe in vers 21: Hulle wat sulke dinge doen, sal die koninkryk van God nie beërwe nie.

 

En dan gaan Paulus verder deur die beter weg te wys.

Ja, daar is ‘n beter weg, ‘n uitnemender weg!

Daar is ‘n weg wat daartoe sal lei dat ‘n gemeente blom.

Hierdie beter weg is ‘n Geesvervulde lewe.

En wat so mooi is, is dat met hierdie beter weg Paulus nie terugval op die ou teenstelling: meer of minder wette, wel wette of geen wette, legalisme of ongebondenheid nie.

Maar Paulus oorstyg hierdie teenstelling deur die beeld van vrugdra te gebruik.

Die vrug van die Gees.

Mens dink dan aan ‘n vrugteboom.

‘n Vrugteboom het nie ‘n bevel nodig om vrug te dra nie.

As die boom gesond is, op die regte plek geplant is, sal dit vrug dra.

So geld dit ook vir die lewe van ‘n gelowige.

Ons produseer nie vrugte vir die Gees nie.

Dit is omgekeerd.

Die Gees produseer vrugte in ons.

As die vrugte van die Gees blom in elke gemeentelid se lewe, dan sal ons outomaties ‘n aantreklike gemeente wees.

 

Staan vas in die vryheid van Christus.

Moenie jou laat lei deur hoe ander mense jou graag sal wil sien nie.

Laat die vrug, die uitwerking van die Gees, jou lewe steeds mooier maak.

Laat die liefde in julle harte heers, vir God en vir jou medemens, ongeag wie.

Dis die nuwe lewe, vry, aantreklik, aansteeklik.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1

Wet

Ps 19:7

Gebed

Skriflesing: Galasiërs 1:1-14; 3:1-5; 5

Ps 31:1,2

Teks: Galasiërs 5:1a

Preek

Ps 124:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 84:3,4,6

Seën