Die regterhand van die HERE doen kragtige dade

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-05-05
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 10
Preek Inhoud: 

‘n Begrip wat alles met God se voorsienigheid te make het, is sy hand, of die regterhand van God.

In Sondag 10 lees ons drie keer oor God se hand.

Dis nie toevallig nie, want in die Bybel is daar talle en talle verwysings na God se hand.

Wat word daarmee bedoel?

Om sommer aan die begin ‘n misverstand uit die weg te ruim, God het nie letterlik hande nie.

Soos ons bely in NGB artikel 1: God is ‘n geestelike Wese.

Hy het nie ‘n liggaam soos ons het nie.

U het dalk al die bekende skildery van Michelangelo gesien, Die Skepping van Adam.

Daarop word God as ‘n man met grys hare en ‘n baard afgebeeld wat sy hand uitsteek om die van Adam te raak.

In teenstelling tot die Roomse tradisie, sal ons nie vir God so afbeeld nie, juis omdat ons bely dat Hy ‘n geestelike Wese is.

 

Maar hoekom praat die Bybel dan oor God se hande?

En nie net sy hande nie, ons lees ook oor sy vingers, sy arm, sy oë, sy ore, sy voete, ensovoorts?

Die rede hiervoor word in die teologie akkomodasie genoem.

In gewone Afrikaans: aanpassing.

In die Bybel openbaar God Homself op ‘n manier wat vir die mens verstaanbaar is.

Hy pas sy spreke aan by wat vir ons sin maak.

As mense kan ons nie God volledig ken soos Hy is nie.

Daarvoor is Hy vir ons te groot en onverstaanbaar.

Daarom openbaar God Homself binne ons begripswêreld, ons verstaansvermoë.

As ons dus lees oor God se hande in die Bybel, dan dink ons aan wat ‘n hand vir ‘n mens beteken, maar terselfdertyd besef ons dat die Bybel hier beeldspraak gebruik, omdat God nie fisies hande soos ‘n mens het nie.

 

In vandag se preek gaan ons kortliks kyk na wat die Bybel openbaar oor God se hand, spesifiek sy regterhand.

Ons kyk hierna in verband met wat ons in Sondag 10 bely, naamlik sy voorsienigheid.

 

Vooraf net nog dit, as ons oor sy regterhand lees, is dit natuurlik ook ‘n aanpassing by ons leefwêreld.

Want soos ons weet, vir die meeste mense is die regterhand hulle dominante hand, die hand waarmee hulle die meeste dinge doen – skryf, gereedskap vashou, sport beoefen, ensovoorts.

So staan God se regterhand vir hoe Hy aktief is op aarde.

 

Dus, kom ons leer wat die Bybel openbaar oor die hand van God, spesifiek in verband met God se voorsienigheid, soos ons dit in Sondag 10 bely.

 

 

Tema: Die regterhand van die HERE doen kragtige dade (Ps 118:15)

 

Ons gaan na verskillende punte kyk, spesifiek wat die regterhand van die HERE alles doen: skepping, versorging, regering, uitredding, beskerming, bestraffing, en beproewing.

 

Skepping

Die bekendste is seker dat God skep met sy hande.

“Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE.” – Jesaja 66:2.

“Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” – Jesaja 48:13.

“Aan wie die see behoort wat Hy self gemaak het, en die droë land wat sy hande geformeer het.” – Psalm 95:5.

Ja heel die Skrif spreek oor God se skeppershand.

 

Baie persoonlik bely Jesaja:

“Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” – Jesaja 64:8.

Soos ‘n mens iets met sy hande maak, so openbaar die Skrif dat God met sy hande geskape het.

Met daardie verskil dat Hy uit niks skep.

En ook, alles wat bestaan, alles wat die aansyn mag geniet – soos ons met Psalm 145 sing – is deur God gemaak.

Uit God se hand blyk sy almag.

Daarom staan ‘n mens verstom oor wat sy hand kan vermag, ja voel ‘n mens piepklein.

“Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet ...?” – Jesaja 40:12.

 

Ons kom by die volgende punt:

 

Versorging

God het nie net alles geskep nie, ons bely in Sondag 10 dat Hy dit ook nog elke dag versorg.

Hy voorsien in elke skepsel se unieke behoeftes.

“U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” – Psalm 145:16.

God se voorsienigheid en sy skepping het alles met mekaar te make.

Dis nie dat Hy klaar geskep het nie.

Onderdeel van sy versorging is dat Hy elke dag nog steeds die skeppende God is.

Nuwe baba’s word gebore, nuwe plante en bome ontkiem, en dit alles laat die mensheid nog steeds verstom staan.

“Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, die almal; sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die HERE dit gedoen het.” – Jesaja 41:19-20.

En wie dit raaksien en erken, begin spontaan met ‘n loflied oor God se oneindige goedheid vir sy skepping: “U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.” – Psalm 104:28.

 

Boonop is daar geen uithoek op aarde waar sy voorsienige regterhand nie kan uitkom nie, selfs nêrens in die heelal nie.

“Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” – Psalm 139:9-10.

Of soos Dawid in Psalm 16 sing: “lieflikhede” is “in u regterhand, vir ewig.” (Ps 16:11)

Staan jy genoeg daarby stil dat God se versorging van jou lewe inderdaad lieflik is, lieflike geskenke wat jy uit sy hand ontvang ...?

 

Ons kom by die volgende waarvoor sy regterhand bekend staan:

 

Regering

God is Koning en vanuit die hemel regeer Hy, nie net oor sy kinders nie, maar oor alles en almal.

En Hy sal sorg dat almal dit ook erken.

Dink aan die heidense koning Nebukadnesar, nadat God hom getref en verneder het om te wees soos die diere van die veld.

God het hom tot die bekentenis gebring: “al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” – Daniël 4:35.

So het Nebukadnesar die Skepper, die enigste ware God, se almagtige hand leer ken.

Sy heerskappy oor alle magtiges op aarde, soos dit so mooi deur Salomo verwoord word in Spreuke 21:1: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”

 

Dan kom ons daardie aktiwiteit van God se hand waaroor gelowiges nie kan ophou sing nie:

 

Uitredding

Een van die bekendste voorbeelde van uitredding is toe die HERE sy volk uit Egipte uitgelei het.

Dink aan die bekende woorde uit die 10 gebooie: “jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm” – Deuteronomium 5:15.

Soveel Psalms is lofliedere op sy uitredding.

“U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my.” – Psalm 138:7.

Ja wie by sy regterhand skuil, ervaar wonders van uitredding.

“Al die heidene het my omsingel ... Hulle het my omsingel soos bye” (Ps 118:10,12), maar “die regterhand van die HERE doen kragtige dade. Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel.” – Psalm 118:16-17)

 

Met God se regterhand bou Hy ‘n reputasie op.

As die heidene, die uitlanders hoor van sy sterke hand en uitgestrekte arm, sê Salomo, sal ook hulle na die tempel kom om Hom daar te aanbid – 1 Konings 8:41-42.

Almal word daarom opgeroep: “Juig voor die HERE, o ganse aarde”, “want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp.” – Psalm 98:4,1.

 

Nog ‘n aktiwiteit van God se hand is waarsonder ons as gelowiges nie kan oorleef nie:

 

Beskerming

God red nie net uit in uitsonderlike noodsituasies nie, Hy beskerm ons van dag tot dag.

Sy beskerming hou in dat ons genoeg het om elke dag te kan lewe.

Sy beskerming hou met name ook in dat Hy sorg dat die duiwel nie vat op ons kry nie.

Jesus verseker sy dissipels: “niemand kan hulle” – Hy verwys na sy skape – “uit die hand van my Vader ruk nie.” – Johannes 10:29.

 

Nog ‘n pragtig beeldende teks is wat Jesaja sê:

“In die skaduwee van sy hand het Hy My verberg” (Jes 49:2).

Dink net hoe groot moet sy hand wees, as jy in die skaduwee daarvan kan wegkruip!

 

Dan is daar ‘n aktiwiteit van God se hand wat ons ook onder oë moet sien.

 

Bestraffing

Die keersyde van God se beskerming van sy kinders is dat Hy die vyande straf.

Ook daarby is sy hand aktief betrokke.

Die keersyde van Israel se uitredding uit Egipte was God se toorn oor die Egiptenare:

“Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sy hy julle laat trek.” – Exodus 3:20.

 

En dink aan toe die Filistyne die ark van die HERE geroof het:

“Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle” – 1 Samuel 5:6.

Ja God se hand kan oorlog voer, en dit laat koninkryke sidder (Jes 23:11).

 

Verder geld vir elke skepsel wat homself verhef met ‘n trotse nek, dat hy bitter bang moet wees vir God se hand:

“Want in die hand van die HERE is ‘n beker, en die wyn skuim, dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp ...” – Psalm 95:9.

Die onderste afsaksel in ‘n beker wyn word die droesem genoem.

Dit was bitter, dit het jou mond laat skeeftrek.

In die Bybelse tyd was dit ‘n metafoor vir as iemand gestraf word – Hy moet daardie beker wat vol straf is, tot die bodem leegdrink.

 

Maar met sy regterhand kan God ook sy eie kinders straf as dit nodig is.

Dit openbaar die Skrif ook, en ons kan nie daarvoor ons oë sluit nie.

Dawid sien ‘n direkte verband tussen sy verskriklike siekte en God se hand: “u hand het op my neergedaal. Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie” – Psalm 38:2-3.

En, as God sy regterhand terugtrek, bely Jeremia in een sy Klaagliedere, lyk dinge nie goed vir sy volk nie (Klaagl 2:3).

Ja, soms moet die HERE dit doen, sodat sy volk se ontrou nie ‘n klad word op sy eie Naam nie.

Deur die profeet Esegiël waarsku God sy volk: “Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies ... nie.” (Esegiël 20:22)

 

Gemeente, as God sy hande terugtrek van sy volk, laat Hy dus passief toe dat ander maar met sy volk kan maak wat hulle wil.

Maar nog erger is dit as God dit nie net passief toelaat nie, maar ook aktief daarby betrokke is.

As God sy hand bewus uitstrek, soos Jesaja skryf, teen sy eie volk.

Vyandige volke soos die Arameërs en Filistyne is dan instrumente in sy hand:

“Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek”, sodat “hulle Israel met volle mond kan opeet.” (Jes 9:12).

Al kan Israel in die skaduwee van sy hand skuil, sy hand bly wel hoog verhewe, hulle moet ligloop om nie God se toorn op te wek nie, want dan kan sy beskermende hand ook ‘n slaande hand word.

 

Ons kom nou by die volgende aspek wat volgens die Skrif uit God se hand kom.

 

Beproewing

Een van die bekendste voorbeelde hoe die HERE een van sy kinders beproef het, was Job.

In die boek Job lees ons dikwels oor God se hand.

Job kla: “ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!” (Job 19:21)

Ja daar is niks wat so eensaam en wanhopig voel, as God sy hand terugtrek van sy kind af.

Ervaar u dit soms so, broer, suster?

Asaf verwoord die grootste vrees wat hy op aarde het as volg:

“Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!” – Psalm 77:11.

Eintlik is hierdie ook ‘n geloofsbelydenis.

As ek maar net besef hoeveel ek op daaglikse basis uit sy voorsienige hand ontvang, dan sal dit inderdaad my grootste vrees wees as God se regterhand verander, as dit nie meer daar vir my is nie.

 

Gemeente, ons het gekyk na verskillende dade, handelinge van God se regterhand: skepping, versorging, regering, uitredding, beskerming, bestraffing, beproewing.

 

Ek wil hierdie preek afsluit met seker die mooiste wat die Skrif oor God se regterhand openbaar.

En dit is die volgende: Mens kan sê dat ons Here Jesus Christus in sekere sin God se regterhand is.

U ken seker die spreekwoord: Hy is my regterhand – wat daarop dui dat iemand vir jou baie beteken, dat hy alles vir jou kan doen.

Ons ken ook die spreekwoord: Hy het twee regterhande, wat beteken dat iemand alles kan maak.

Christus is God se regterhand by uitstek.

Christus het – veelseggend – gaan sit aan die regterhand van God op die hemelse troon – Markus 16:19.

Stefanus het sy Heiland sien staan in die hemel aan die regterhand van God (Hand 7:50).

God het sy Seun verhoog en Hom daardie ereplek gegee, so Hy al lank gelede beloof het: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (Psalm 110:1, Hand 2:34-35)

Daardie posisie, aan sy regterhand, bewys dat Christus ook almagtig is.

Omdat Hy aan die regterhand van God is – staan daar in 1 Petrus 3:22 – is engele en magte en kragte aan Hom onderwerp.

En hierdie posisie kom ten goede aan elkeen wat op Hom sy vertroue stel.

Saam met Paulus bely ons dankbaar: “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” – Romeine 8:34.

 

Gemeente, as mens besef dat Christus God se regterhand is, dan kom Psalm 48 op ‘n uitsonderlike wyse in Hom tot vervulling.

Want daar staan: “u regterhand is vol geregtigheid.” (Ps 48:11)

Inderdaad, Christus se geregtigheid is oorvloedig, en vanaf die hemelse troon deel Hy dit uit aan almal wat daarom smeek.

Broer en suster, verwag daarom alles van God se regterhand, dit is, verwag alles van sy Seun, ons Here Jesus Christus.

 

Ten slotte, die Bybel swyg nie oor God se regterhand nie – dit is na hierdie preek wel duidelik.

Dankbaar bely ons daarom in Sondag 10 dat ons daarop vertrou.

Ek kan in teëspoed geduldig wees, in voorspoed dankbaar.

Ek kan vir die toekoms ‘n vaste vertroue in my getroue God en Vader hê.

Geen skepsel sal my van sy liefde skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is, dat hulle sonder sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

Lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede, niks gebeur per toeval nie.

Alles ontvang ons uit sy Vaderhand.

 

Kom ons beantwoord die prediking nou met Psalm 89:5:

“U het 'n arm met mag; u hand het groot vermoë,

u regterhand is hoog, u troon bly onbewoë:

geregtigheid, die skraag u troon aan alle kante,

en guns en waarheid is u troue troongesante.”

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 95:2,3

Gebed

Skriflesing: Jesaja 9:7-12; 40:12-15; 48:12-13; 64:8-12; 66:1-2.

Ps 75:4,5

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 10

Preek

Ps 89:4,5,6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 118:7,8

Kollekte

Ps 145:2,4,6,7,9,11

Seën