Die geskenk van bekering tot die lewe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-04-21
Text: 
Handelinge 11:18
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 11:18

 

Ons nuwe lewe in Christus is ‘n geskenk.

Aan die nagmaal kom dit pragtig na vore.

Ons kom aan tafel om te ontvang met leë hande.

Die feit dat daar ‘n nagmaalskollekte is, is nie omdat ons vir die nagmaal betaal nie.

Dit is ‘n gebaar van dankbaarheid.

Soos vanoggend afgekondig is: Die nagmaalskollekte is soos gebruiklik vir die diens van barmhartigheid.

As Christus aan ons soveel barmhartigheid bewys het, bewys ons dit ook van harte aan mekaar, in besonder aan die wat in nood is.

Want diens van barmhartigheid verwys na die werk van die diakens, wat daarop toesien dat niemand ongetroos leef onder die druk van armoede nie.

 

Tema: Die geskenk van bekering tot die lewe

 

In Handelinge 10, die vorige hoofstuk, kan mens lees dat die Heilige Gees vir die tweede keer uitgestort is, hierdie keer op volbloed heidene.

Nadat Petrus ‘n veelseggende visioen ontvang het, is hy meegeneem deur die diensknegte van Cornelius.

Hy het toe Cornelius – wat ‘n onbesnedene was –  se huis binnegegaan.

Hy mog daar die Evangelie verkondig aan hom en sy huisgenote.

Hulle was gewillige hoorders.

Dit was toe dat die Heilige Gees vir die tweede keer uitgestort is.

So het Christus sy apostel gelei na die plek waar Hy sy Gees die tweede keer wou uitstort, naamlik in die huis van ‘n heiden.

 

Nou sien ons in hoofstuk 11 egter dat hierdie gebeurtenis ‘n nasleep gehad het.

Petrus moes homself kom verantwoord in Jerusalem.

Hy moes sy handelwyse verdedig teenoor die Christene in Jerusalem.

En dan nie soseer omdat hy heidene gedoop het nie, maar veral omdat hy ‘n heidense huis binnegegaan asook saam met hulle geëet het.

Want hierdeur het hy die grens oorgesteek.

Hulle het hom hieroor gekritiseer.

Jy het met die heidene geëet.

Onrein voedsel.

Jy mog dit nie gedoen het nie.

 

Petrus het al vermoed dat hulle hom hierop sou kritiseer.

Meer nog, sy eie gewete het hom ook al op daardie punt aangekla.

Hy was ‘n Jood, en dit het teen sy grein ingegaan.

Maar die feit dat hy dit gedoen het, was nie sy eie inisiatief nie.

Petrus verantwoord homself in Jerusalem deur juis hierop te wys.

Hy beskryf dan die visioen.

Hoe onrein diere vir hom opgedien is.

Hoe hy weerstand gebied het, want “niks onheiliges of onreins het ooit in my mond ingegaan nie”, verseker hy in vers 8.

Maar tog het hy dit gedoen.

Skielik van die een dag op die ander.

Eerlik bieg hy dit op in Jerusalem.

Of beter gesê: Eerlik getuig hy wat die Heilige Gees gedoen het.

Want dit was die Heilige Gees wat hom daartoe gebring het.

Petrus het hierin sy Heiland se stem herken.

Toe Christus nog op aarde was, het Hy van Petrus verwag om Hom te volg, dikwels op paaie waar Petrus self nie wou gaan nie.

En nou het Petrus weer sy Heiland se stem herken.

Hy het die instruksies van die Gees gevolg, en alles het wonderbaarlik op sy plek geval.

Want net na die visioen wat hy gehad het, het twee manne op sy deur geklop, juis om hom uit te nooi na die huis van ‘n heiden.

Petrus moes maar net luister en die Goddelike bevel gehoorsaam.

En toe hulle in Caesarea aankom, het hulle getuie geword van ‘n herhaling van die Pinksterwonder, soos dit in Jerusalem plaasgevind het, maar nou in ‘n heidense huis.

 

Deur al hierdie feite een vir een op ‘n rytjie te plaas, wys Petrus daarop dat dit nie sy eie inisitief was nie, dit was nie dat hy afvallig geraak het nie, inteendeel, dit was die Here wat aan hom verskyn het.

Mens kan hierdie gebeure toets aan die hand van die maatstaf wat God in die Ou Testament aangelê het vir sy profete.

Ons lees byvoorbeeld in Deuteronomium 18 dat die HERE belowe dat Hy profete na sy volk sal stuur.

En op die vraag hoe die volk sal kan onderskei tussen ware en valse profete, was daar ‘n eenvoudige antwoord.

Deut 18:21-22: “as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie?”

Dan volg die antwoord: “as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”

Die visioen wat Petrus gehad het, kon die gemeente in Jerusalem aan hierdie selfde maatstaf uit Deuteronomium toets.

Die feit dat ‘n engel aan Cornelius verskyn het;

die feit dat die oomblik nadat Petrus die visioen ontvang het, daar twee heidense manne op sy deur geklop het;

die feit dat toe Petrus met hulle saamgegaan het, hy in ‘n heidense huis aangekom het waar almal al gereed gestaan het om na die Evangelie te luister;

die feit dat die Heilige Gees uitgestort is in daardie heidense huis op dieselfde manier as op die apostels op die Pinksterdag – al hierdie feite was objektiewe bevestiging dat Petrus se visioen die waarheid was.

Dit was nie net dagdromerynie.

Dit was ‘n profetiese boodskap van Christus vanaf sy hemelse troon.

 

In ons teks sluit Petrus die verantwoording van sy optrede af.

Hy trek die konklusie.

Hy sê: Wanneer die Gees van Christus ook oor die heidene uitgestort is, dan is ek tog nie in staat om Hom teë te hou nie?

Dan bou Hy mos self die brug na die heidene toe?

As Hy die kloof oorbrug, sou ek dan nie volg nie?

Ek kon eenvoudigweg nie weier nie.

Petrus vestig die aandag op dit wat God doen.

Teen God is ek tot niks in staat nie.

Petrus getuig in eenvoudige woorde oor dit wat hy meegemaak het.

Daar het ek dan gestaan, ek kon nie anders nie.

Wie was ek, dat ek God kon verhinder?

 

Vir Petrus was dit ‘n leerskool om nie sy eie kop te volg nie, maar die pad te stap wat sy Heiland wys.

Net so is dit vir ons ook.

Eerstens, net soos Petrus, wat betref jou eie lewe.

Wie aan Christus behoort, kan nie meer gaan en staan waar hy wil nie.

Maar vra: Here, wat wil U hê moet ek doen?

Ook leer ons net soos Petrus dat die kerk aan Christus behoort.

En Hy lei elke verlore skaap daarheen wat sy Vader aan Hom toevertrou het.

Ons kan nie sê: Daardie skaap gaan nie in die kudde pas nie.

As Christus ‘n skaap bybring, dan moet ons dit maak werk.

En dit sal werk, as elke skaap net op Hom fokus!

Want in sy oneindige goedheid skenk Hy die bekering tot die lewe aan wie Hy wil.

 

Ons teks sluit af met die gevolgtrekking wat die gelowiges in Jerusalem gemaak het.

Hulle aanvaar die getuienis.

Hulle erken dat God hier besig was.

Dit het die gemoedere laat bedaar.

Hulle het God verheerlik.

“So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

Hierdie woord – bekering – is in Handelinge 5:31 ook vir die Jode gebruik.

Maar God het sy eie Seun gestuur, en hulle word opgeroep om hulle tot Hom te bekeer.

Die oproep tot bekering het al hoe indringender geklink sedert Pinksterdag.

En hierdie roep tot bekering klink nou ook tot die heidene.

Die heidenvolke wat elkeen op hulle eie dwaalweg beland het.

Ook hulle hoor nou die roep om die weg na die lewe in te slaan.

Hiervoor sorg die Heilige Gees.

Petrus en die gemeente in Jerusalem besef dit:

God het nou ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.

 

Wat is Christus se boodskap vir ons vandag vanuit hierdie teks?

Die belangrikste is dat ons raaksien dat God die handelende Persoon, die onderwerp, is in ons teks.

Ons moet veral let op wat Hy doen.

Hy het die kloof na die heidene oorbrug.

Petrus het geen keuse gehad nie.

Hy mog en hy moes ook daardie brug oorsteek.

Hulle was nog vir jare lank ongemaklik daarmee.

Maar dit was wel goed, want God wou dit.

 

Ook in ons tyd gebeur dit dat ons en die kerk in ‘n nuwe of ‘n veranderde situasie tereg kan kom.

Dit mag wees vanweë politieke en maatskaplike veranderinge in ons land.

Dit mag wees as gevolg van ‘n samelewing wat al hoe verder wegdwaal van Christelike waardes en norme af weg.

Dit mag wees as gevolg van bekerings en kerkplantings wat die Heilige Gees op die sendingsveld gegee het.

Dit kerk bly ontwikkel, dit bly gebou word.

Die fondament is gelê en dit bly dieselfde, maar die gebou lyk elke jaar anders.

In Januarie hierdie jaar is daar ‘n nuwe sendingsgemeente geïnstitueer.

As alles goed gaan, word daar oor twee weke weer ‘n sendingsgemeente geïnstitueer – in Soshanguve F4.

‘n Gemeente wat ook saam onderdeel hoop te word van een kerkverband.

Dit is heel ander mense as ons, wat betref hulle taal, kultuur, welvaartsvlakke.

Is ons gereed om saam met hulle nagmaal te vier?

Is ons gereed om – soos Petrus destyds – hulle huise te besoek en saam die Here te dank en te bid vir die voedsel wat Hy gee?

As ons in nuwe omstandighede tereg kom, laat ons dit ook hanteer soos die teks ons voorhou.

Naamlik deur te fokus op wat God doen.

‘n Mens het dalk die neiging om as daar nuwe omstandighede op jou pad kom, jou veiligheid en sekuriteit te soek in isolasie.

Dit sien mens ook by die Jodechristene in Jerusalem.

Ons teks leer egter om op Christus te fokus.

Sy Woord wys ons die weg.

Dis Hy wat sy kerk versamel, beskerm en ook uitbrei, dikwels op verrassende maniere.

 

En dan is daar in ons teks ook nog ‘n baie troosryke boodskap.

Ek dink aan die pragtige sinsnede: “en toe hulle dit hoor, het hulle geswyg”.

Mens kan ook vertaal: hulle het bedaar, of: hulle het tot rus gekom.

Hierdie woorde behoort ons beslis aan te spreek.

Ons lewe in ‘n tyd en omstandighede wat mense opgejaag laat voel.

Maar wie fokus op God se werk, kom tot rus.

Ja ook in ons tyd werk God.

In moeilike tye werk Hy nie minder nie, dalk selfs meer.

Laat ons let op wat God besig is om te doen, en saam Hom verheerlik.

Dit is die vertroosting van die teks: Waar dit gebeur, kom daar blydskap, rus, onderlinge harmonie.

Hierdie harmonie mag ons vandag aan die nagmaal beleef.

Gemeente, mag ons bly nagmaal vier, tot Jesus terugkom.

En ook saamvier met elke skapie, wit of swart, ryk of arm, elkeen wie Christus na sy kudde toe lei.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 92:6,7

Nagmaalsformulier Deel 1: Selfbeproeweing

Wet (as onderdeel van nagmaalsformulier)

Ps 56:1

Nagmaalsformulier Deel 2: Ons gedenk Christus

Ps 56:4

Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 32:1

1e tafel: Handelinge 10:44-48; Ps 32:3

2e tafel: Handelinge 11:1-18; Ps 32:4

3e tafel: Lofverheffing: Ps 32:6

Dankgebed

Teks: Handelinge 11:18

Preek

Sb 24:2

Gebed

Kollekte

Sb 24:3,6

Seën