Stof die genade af!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-04-14
Text: 
Handelinge 15:11
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 15:11

 

Die nuwe lewe in Christus is aansteeklik.

Dit is een van die aspekte van ons jaartema hierdie jaar.

Die apostel Paulus het dit ook ervaar – hoe aansteeklik die Evangelie is.

En, soos ons in Handelinge 15 gelees het, dit het vir die ouderlinge en apostels in Jerusalem totaal onkant gevang.

Hulle het in hulle agterkoppe dalk nog gedink die Evangelie sal uitbrei na alle sinagoges reg oor die Romeinse Ryk, en ook na die proseliete, dis die heidene wat die God van die Jode as die ware God begin dien het.

Maar toe blyk dit dat in groot getalle ook volbloed heidene die Evangelie aanneem!

En na hulle bekering het die pad van lewensvernuwing vir hulle begin.

Hoe moes hulle hulle nuwe lewe in Christus vorm gee?

Dit was ‘n proses wat nie vanaf dag een al gereël was nie.

By sommige dinge het daar behoorlike debat ontstaan.

Een van daardie dinge was die besnydenis.

Dit was so deel van die verbondsvolk dat die Joodse Christene nie kon indink dat iemand die ware God kan dien sonder om besny te wees nie.

Daar was dan ook gelowiges, veral uit die party van die Fariseërs, wat kapsie gemaak het teen Paulus se benadering – naamlik dat hy nie die besnydenis verpligtend gemaak het op sy sendingsreise nie.

Vir die duidelikheid, hierdie was nie Fariseërs nie, hierdie was ex-Fariseërs.

Hulle het in Christus geglo.

Tog was daar nie eenstemmigheid wat hierdie saak betref met die heidenchristene nie, mense wat – vir alle duidelikheid – ook opreg in Christus geglo het.

En, leer ons uit hierdie pragtige Bybelhoofstuk, uiteindelik het hierdie mense tog bymekaar uitgekom.

Die gemeente in Jerusalem het hierdie onverwagte groot visvangs wat Paulus as visser van mense beleef het, aanvaar en geleer om dankbaar daarvoor te wees.

Hoe het dit gebeur?

 

Tema: Stof die genade af!

  1. Onrus en wantroue verdwyn
  2. Die gemeente begin weer te skyn

 

1       Onrus en wantroue verdwyn

Ongeveer vyftien jaar na die hemelvaart van Christus was die situasie so dat daar in elk geval twee redelik gevestigde gemeentes bestaan het.

Jerusalem en Antiochië.

Die een was so 400 km van die ander een af.

Ook in ‘n ander opsig het hulle nie dieselfde ligging gehad nie.

Die gemeente in Jerusalem het veral bestaan uit Joodse Christene, terwyl die kerk in Antiochië vir die meerderheid waarskynlik bestaan het uit ex-heidene.

Waar die fokus in Jerusalem gerig was om Joodse volksgenote vir Christus te wen, het die fokus in Antiochië steeds meer na die heidenwêreld verskuif.

Dit het gekom deur die reis wat Paulus en Barnabas gemaak het deur Cyprus en Klein-Asië en alles wat hulle daar beleef het.

Baie heidene het hulle bekeer tot Christus en by die kerk aangesluit.

 

Maar hierdie einste ding het toe tot spanning gelei.

Want in Jerusalem het gemeentelede gevoel dat die uitreikaksies van die een gemeente die ander gemeente se ideaal eerder skade berokken as gehelp het.

Kom ek probeer dit te verduidelik vanuit die oogpunt van Jerusalem.

Die kerk in Jerusalem wou graag soveel as moontlik Jode na Christus toe lei.

Onderdeel van hulle evangelisasie was dan ook dat hulle baie klem gelê het op die groot ooreenkoms tussen Christus en die Ou Testament.

Dit sien mens terug in die preke wat in die boek Handelinge opgeteken is.

Hierdie preke is vol aanhalings uit die Ou Testament, om aan te toon dat Christus nie ‘n nuwe godsdiens begin het nie.

Hy het juis die Ou Testament tot vervulling gebring.

Hy is die beloofde Messias.

Hy wil dat geen jota of tittel uit die wet van Moses verlore gaan nie.

 

Maar wanneer daar dan op ‘n dag berigte vanuit die susterkerk in Antiochië vir Jerusalem bereik dat ‘n groot groep heidene by die kerk aangesluit het, en dat hulle in volle regte lid is maar nie besny is nie, en hulle ook nie aan die spyswette hou nie, is baie in Jerusalem omgekrap.

Want hulle wil juis dat daar nog so veel moontlik Jode by die kerk aansluit.

Dit is hulle ideaal.

En dit is mos ‘n goeie ideaal!

Maar geen Jood sal dit meer oorweeg om aan te sluit as hulle hierdie verhale van Paulus hoor nie.

‘n Gemiddelde Jood sou in daardie tyd nie daaroor peins om met ‘n heiden saam in die kerk te sit nie, laat staan om saam met ‘n heiden aan tafel te sit, veral as daardie heiden onbesnede is en onrein voedsel opdis.

Hoe oortuig mens vir ‘n Jood om in die kerk langs ‘n onbesnedene te gaan sit?

Geen wonder dat daar onrus ontstaan het nie.

Ons lees in vers 5: Sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê, dat dit noodsaaklik was dat hulle besny moes word, en dat hulle beveel moes word om die wet van Moses op alle gebiede na te kom, ook wat betref die voedselwette.

 

Gemeente, vandag is die Evangelie ook aansteeklik.

Maar vir wie dit aansteek, dit kan ons nie beheer nie.

Net soos die Covid19-virus – wie siek geword het en wie gesond gebly het, dit was dikwels ‘n totale verrassing.

So, as ons as gemeente evangelisasie doen, wie gaan daarop reageer?

Dikwels het ons min of meer ‘n profiel in ons agterkop van die tipe mens wat ons met evangelisasie wil bereik, en wie ons graag sal wil hê by ons gemeente moet aansluit.

Maar, nogmaals, vir wie die Evangelie gaan ‘aansteek’, wie tot bekering gaan kom, daaroor gaan ons nie.

Dit is God die Heilige Gees se seën op ons werk, en soos met die reën besluit Hy waar die bui gaan uitsak en waar dit gaan droog bly.

Toe ek sendeling was, het ek soms gedink as nuwe mense die kerk begin besoek het:

Hierdie lyk nou regtig na baie goeie mense – hulle sal ‘n aanwins wees vir die kerk.

Maar dan gebeur dit na ‘n paar weke dat hulle nie meer opdaag en my uitreik na hulle niks opgelewer het nie.

Terwyl, by ander gebeur dit dat ek hulle aanvanklik nie eers raakgesien het nie, ook nie gedink het hulle sal enigsins ernstig wees nie, terwyl juis hulle toegewyde kerklidmate geword het.

 

Vir die Joodse Christene in Jerusalem was dit dus ‘n groot denkskuif om hierdie mense uit die heidendom as broers en susters te aanvaar.

Dit was nie maklik nie.

Hulle het geredeneer: Die Bybel staan mos vol van die voedselwette ...

En, as hulle nou die besnydenis afskaf, wat gaan hulle môre afskaf?

Miskien wel die tien gebooie?

Dit kan nie langer so aangaan nie!

Daar was dus groot onrus in die kerk van Jerusalem.

Dit het daartoe gelei dat die apostels en ouderlinge – sien vers 6 – spesiaal hieroor moes vergader.

Dit was ‘n moeilike saak, en daar was nie direk eenstemmigheid nie.

Hoe moes dit opgelos word?

 

Soos ons ook in Handelinge kan lees, het Petrus kort daarvoor ‘n visioen ontvang.

Dit het hom oor die drumpel gestoot om die heiden Cornelius te besoek.

Toe, mens kan dit in Handelinge 11 lees, het daar baie onrus ontstaan as gevolg van hierdie besoek.

Maar toe is die saak gelukkig bygelê omdat hy aan die gemeente duidelik kon maak dat God daar besig was, dat God ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk het – Handelinge 11:18.

Maar daarna het die onderwerp in Jerusalem waarskynlik bietjie op die agtergrond geraak.

Die gemeentelede het nie elke dag met die bekering van heidene te make gekry nie.

Maar in Antiochië was dit anders.

Toe die berigte vanuit Antiochië vir Jerusalem bereik, het dit as ‘n skok gekom.

Naamlik hoe ver Paulus en Barnabas al gevorder het om na die heidene uit te reik.

Die gevolg was dat ‘n aantal ex-Fariseërs spreekwoordelik ‘n beswaarskrif ingedien het.

En dit was toe dat Petrus opgestaan het.

Hy herinner hulle aan die geskiedenis met Cornelius.

En hy herinner hulle: God het dit gedoen!

Ons kon toe niks daarteen inbring nie, omdat ons gesien het dat God self daar besig was.

Ons het gesien hoe Hy geen onderskeid gemaak het nie.

Hy het almal se harte gereinig deur die geloof.

 

Hierdie opmerking is van groot belang.

Hulle hart gereinig, wat beteken hulle skuld vergeef, dit is wat met Cornelius en sy heidense huisgenote gebeur het.

Hulle is nie gereinig omdat hulle die besnydenis ontvang het nie, maar deur die geloof in die Here Jesus Christus.

Of om dit in Outestamentiese terme te stel: Hulle is besny nie aan hulle voorhuid nie, maar in hulle hart.

En dit is wat in die kerk die deurslag gee.

Jou verhouding met Jesus Christus.

Wie in Hom glo, hoort by die kerk, ook al is dit ‘n ex-heiden.

Hierdie les het God aan Petrus geleer.

En dit raak nou weer aktueel.

Gelukkig het God dit so gelei dat Petrus hier opgestaan het om die beslissende woord te spreek.

En dit het die gemoedere tot bedaring gebring – net soos destyds by Cornelius, toe Petrus verduidelik dat God hier besig is.

Hierdie fokus op God se werk, dit het die wantroue en onrus laat verdwyn.

 

(Tema: Stof die genade af!

Onrus en wantroue verdwyn)

 

2       Die gemeente begin weer te skyn

Nou dan ... sê Petrus.

Dit is die konklusie wat Petrus trek.

Nou dan ... waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?

Ons en ons vaders, verduidelik Petrus, het onsself steeds nougest aan die wet probeer hou.

Maar laat ons eerlik wees: Wie van ons was in hierdie opsig onberispelik?

Was ons beste wetswerke nie ook met sonde en gebrekkigheid besmet nie?

Maar, vervolg Petrus, deur die genade van die Here Jesus Christus glo ons dat ons gered word op dieselfde manier as hulle ook.

 

Hierdie konklusie van Petrus is opmerklik.

Kom ons bekyk dit van naderby.

Mens sou eintlik verwag dat Petrus iets anders moes gesê het.

Soiets soos: Broers, kom ons probeer nou wys wees, laat ons nie die jong onervare heidenchristene in Antiochië aanstoot gee nie.

Laat ons nie te moeilik doen nie.

Laat ons geduldig wees.

Die kerklike lewe wat ons lei, daaraan sal hulle nie sommer een twee drie gewoond raak nie.

Vir hulle is dit nog ‘n lang pad om vertroud te raak met al die wette en reëls en tradisies, om ook daarvolgens te begin lewe.

Gee asseblief vir hierdie mense die tyd, dan sal hulle ook aan ons gewoontes en tradisies gewoond raak, en hopelik ook daaraan begin deelneem.

Mens sou verwag dat Petrus soiets moes gesê het.

Maar nee dus.

Petrus sê dit juis nie.

 

Inteendeel, hy gaan direk na die kern van die saak.

Hy draai die saak, die diskussie, heeltemal om.

As dit gaan oor die redding van ‘n mens, dan is al hierdie tradisies, dinge soos besnydenis, voedselwette, reinheidswette nie ter sake nie.

Dan is slegs een vraag ter sake: Hoe staan jy teenoor Jesus Christus?

En baie ontnugterend sê Petrus dan:

Slegs deur die genade van die Here Jesus glo ons dat ons gered word, op dieselfde wyse as hulle!

Deur dit so te stel, vra Petrus aan die Joodse Christene in Jerusalem, daardie ex-Fariseërs, ‘n indringende vraag:

Hoe word julle eintlik gered?

Het julle gedink dat julle besnydenis, of julle lewenswyse volgens die voedselwette van Moses enige aandeel in julle redding het?

Broeders, alleen genade!

Sola gratia!

Die sola gratia het skynbaar in Jerusalem onder die stof beland.

En nou danksy die koms van Paulus en Barnabas en hulle verhale van bekerings in die heidenwêreld, en danksy hierdie indringende woorde van Petrus, word die stof afgeblaas.

Sodat hierdie kosbare skat weer kan skitter.

Deur die genade van die Here Jesus Christus glo ons dat ons gered word.

En miskien gaan die heidenchristene ons wel voor in die besef wat genade is.

Hulle wat niks anders het om hulle op te beroem nie.

 

Daardie geleidelike proses, dat daar ‘n al hoe dikker stoflaag op die genade gekom het in Jerusalem, is ‘n proses wat met enige kerk kan gebeur.

Veral met ‘n gevestigde kerk.

Dan kan ons ook aan ons kerk dink.

Is daar in ons kerk ‘n dik laag stof op die genade?

Wat is bepalend vir jou identiteit?

Ons het deur die jare ‘n kerklike lewe opgebou wat indrukwekkend is.

In ywer en toegewydheid, in aktiwiteite, nie net op Sondag nie, maar ook deur die week.

Alles werk soos ‘n ge-oliede masjien.

Hoe om te leef, wat om te doen en wanneer om dit te doen, dit is alles vasgelê.

Òf op papier, òf in die ongeskrewe verwagtingspatrone.

Vir mense wat van buite af by ons aansluit, duur dit ‘n hele tyd om agter te kom wat van hulle verwag word, en veral ook hoekom.

En hulle vra hulleself soms af:

Wanneer is ek goed genoeg om regtig deel van hierdie gemeenskap te wees?

 

Maar, gemeente, dikwels help mense wat van buite kom ons juis om weer te besin oor wat wesentlik is.

Hoekom doen ons wat ons doen?

Ons word gedwing om self weer na te dink oor die hoekom.

Wat is die kern van ons kerklike lewe?

Ons gaan kerk toe twee keer op ‘n Sondag, ons gaan nie winkels toe nie, ons gaan eet nie uit op Sondag nie, ons kinders woon katkisasie by, hulle besoek Gereformeerde skole, ons gaan Bybelstudievereniging toe, ons doen huisgodsdiens.

Maar hoekom dit alles?

Omdat die kerk dit van jou verwag?

Omdat die ouderling op huisbesoek vra of ek dit alles wel doen?

Begin jy dalk te dink: As ek so lewe, as ek hierdie dinge doen, dan kom dit wel goed met my?

En as my kinders darem ook kerk toe gaan, en vereniging, en katkisasie, dan sal dit ook wel goed kom met hulle...?

Gemeente, as ons so begin redeneer, dan lê die genade onder die stof.

Om te glo hou dan in: Jy moet kerk toe gaan, jy moet vereniging toe gaan, ens.

Die genade het onder die stof geraak.

As die naam van Jesus Christus nie meer in ons gesprekke voorkom nie.

Jy en jou kinders sal nie gered word omdat julle kerk toe kom nie.

Jy en jou kinders word gered as julle glo in Jesus Christus.

As sy genade in jou lewe aanwesig is.

 

Weet u, as Christus en sy redding nie in die middelpunt staan nie, as ons van dag tot dag nie meer daaroor praat nie, dan maak ons die drumpel vir buitestaanders baie hoog.

As ons te min oor Christus praat, en veral net oor wat verwag word ...

Dan bedoel ons dit dalk nie so nie, maar ongewild straal ons uit dat jy dit self moet doen.

Ons is ‘n superkerk, ons doen baie meer as die ander kerke.

En vir ‘n buitestaander, wat nie van alle ins en outs op die hoogte is nie, word die drumpel na die kerk dan ‘n muur.

In Jerusalem was die Joodse Christene besig om ‘n muur te bou.

Die heidene moes eers daaroor klim.

Besnydenis, voedselwette, reinheidswette, en ek weet nie wat nog alles nie.

Dit is dus ‘n sluimerende gevaar vir elke gevestigde kerk.

 

Nou kan mens nie die situasie van toe heeltemal gelyk te stel met vandag se situasie nie.

Die kerk het toe geleef op die skarnierpunt tussen Ou en Nuwe Testament.

Christus het self bepaalde dinge afgeskaf met die begin van die nuwe verbond.

Vandag verkeer ons in ‘n ander tydperk.

Gewoontes soos kerk toe gaan, Bybelstudie, katkisasie, word nie vir nuwe kerklede afgeskaf, soos die besnydenis en voedselwette destyds afgeskaf is nie.

Hulle is belangrik.

Verstaan my goed.

 

Maar Petrus se woorde is wel onverminderd aktueel:

Ons word op dieselfde manier gered as hulle.

Naamlik deur die genade van die Here Jesus.

Nie omdat ons twee keer kerk toe gaan nie.

Nie omdat ons nie egskei, of saamwoon, of dobbel nie.

Nee, ons word ook uit genade gered.

Baie baie belangrik om dit te bly besef.

Want as ons dit regtig besef, dan straal jy dit ook uit.

Dit het tot gevolg dat jy ‘n buitestaander nie uit die hoogte benader of dat jy hom selfs vermy nie.

 

Beteken dit dat die kerklike aktiwiteite dus onbelangrik of opsioneel is?

Kerkbesoek, twee keer per Sondag, Sondag deurbring as ‘n rusdag, gesamentlike Bybelstudie, katkisasie, Gereformeerde onderwys ...

Is hierdie dinge opsioneel, as jy jou hart maar opreg vir die Here gee?

Nee, dit bedoel ek nie.

Maar dit gaan wel oor ons houding.

Skuif ons hierdie soort dinge op die voorgrond om daarmee aan te dui dat ons gelowig is?

Of sê ons nog wel met soveel woorde dat Christus se genade ons lewe red?

Laat ons nie vergeet nie om voldoende oor ons Heiland en Saligmaker te praat.

Al hierdie aktiwiteite lê in die verlengde van ons toewyding aan Christus.

Maar Christus staan op die voorgrond.

Ons is nie ‘n goeie kerk omdat ons so baie aktiwiteite het nie.

Christus se genade is ons alles, en al ons aktiwiteite is daarop gerig om Hom te dank, te aanbid, te prys, en om van Hom te getuig.

 

Nou gaan dit ‘n misverstand wees as ons redeneer dat ons al ons gewoontes en selfs die eredienste moet verander, sodat ons aantreklik vir nuwe lidmate kan word.

Dikwels steek daardie misverstand by evangelisasie die kop op.

Ons moet aantreklik word.

En dit kan ons word deur evangelisasiedienste te hou, waar ons nie die orrel gebruik nie, maar ‘n band voor in die kerk.

Waar die dominee nie op die preekstoel staan nie, maar onder op die podium.

Ons moet alles bietjie meer informeel maak ...

Dan probeer ons by voorbaat inskat wat ander mense sal lok.

Terwyl, blyk ook dikwels, mense wat by die kerk aansluit, juis aansluit omdat daar in die eredienste nog ‘n atmosfeer van eerbied heers, gewydheid, respek vir die Here.

Nie dat dit nooit anders kan nie, laat dit ook duidelik wees.

 

Soos ons in verlede week se preek gesien het, om aantreklik te wees, moet ons as bruid  sorg dat ons mooi lyk vir ons Bruidegom, Christus.

Ons moet nie onsself aantreklik vir die wêreld maak nie.

As die bruid van Christus sy skatte dra, dan sal sy aantreklik wees.

Laat ons onsself met sy juwele versier.

Die vrugte van die Gees.

Boweal die edelsteen van Christus se genade.

 

Kyk, die omgekeerde is net so verkeerd.

As iemand sou beweer:

Ek glo in Christus, maar ek sê by voorbaat: Julle sal my nie elke Sondag in die kerk sien nie, in elk geval nie twee keer nie.

Iemand met so ‘n houding moet homself afvra: Het ek my lewe regtig wel aan Christus gewy?

Of lewe ek vir my loopbaan, of my inkomste, of my stokperdjies ...

Wie Christus se genade leer ken het, het ‘n dienende houding, en ‘n lojale houding ook teenoor sy gemeente.

Ons ryk kerklike lewe, met al sy aktiwiteite, is ‘n seën.

Dis ‘n seën as kinders in so ‘n omgewing mag opgroei.

Maar laat ons daarvoor waak dat ons hierdie seën nie as ‘n eie verworvenheid, ‘n eie prestasie, ‘n eksklusiewe tradisie, begin beskou nie.

Bly fokus op die genade.

“Aan ‘n moord’naar, haas verlore, word die hoogste guns bewys:

“Hede sal jy met My saam wees in die vredesparadys.” (Sb 6:2)

So mag ons elke nuwe belangstellende, elke onervare kerkmens, benader.

Net soos Jesus met die moordenaar aan die kruis gedoen het.

Vanaf dag een is daar vir hom 100% genade.

En ook vir die ou ervare kerklede geld dieselfde, tot jou laaste dag, is jy afhanklik van daardie selfde 100% genade.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 9:1,8,10

Wet

Ps 27:4

Gebed

Skriflesing: Handelinge 15:1-34

Ps 31:17-19

Teks: Handelinge 15:11

Preek

Sb 6:2

Gebed

Kollekte

Ps 113:1-3

Seën