Die Geestelike orde van die Kerk

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2021-06-13
Text: 
NGB artikel 30
Preek Inhoud: 

Daar is orde in die huis van God, net soos daar orde in jou huis is. Nadat Paulus die vereistes vir ouderlinge en diakens aan Timoteus gegee het, skryf hy in 1 Timoteus 3:15: “Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid.” Daar is 'n sekere manier waarop ons ons in die huis van God moet gedra. 'n Manier wat wys dat ons die kerk van die lewende God is – ‘n huishouding van God en die steunpilaar en fondasie van die waarheid. Net soos 'n huis 'n soort van ‘God-bestemde’ orde het, so moet die huis van God ook georden wees.

Dit sal glad nie sin maak as ouers gehoorsaam aan hulle kinders moet wees nie. Kan jy jou dit voorstel? Of as daar geen dissipline was nie, geen orde in ons gesinslewe nie. So moet daar orde en struktuur in die kerk van God wees. Die kinders van God floreer in 'n gestruktureerde kerk. Daarom “glo ons dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word.”

Vandag sal ons in die algemeen praat oor die kerkorde en struktuur, volgende keer oor die ampsdraers van die kerk.

Die Geestelike orde van die Kerk

  1. Dit is Bybels
  2. Dit is Belangrik
  3. ‘n Paar Beginsels

 

Dit is Bybels.

Baie mense assosieer spiritualiteit met spontaniteit en impulsiwiteit. Hulle glo dat orde en struktuur beperkend is, en dat ons alle orde moet verwerp. Hulle glo dat die kerk moet luister na die leiding van die “Geeste”. En alhoewel dit waar is, liewe broers en susters, gebeur die leiding van die Gees binne ‘n definitiewe struktuur.

Maar Onse God is 'n God van orde. Hy is 'n noukeurige God en werk volgens 'n bepaalde plan. Dink net aan die woorde: “Hom [hierdie Jesus], wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.” (Hand. 2:23)

Konsentreer vir 'n oomblik op hierdie woorde: ‘die bepaalde raad en voorkennis van God...’ God was ongelooflik noukeurig in hoe Hy vooraf bepaal het hoe spesifieke gebeure sou verwikkel. Dit is een van die wonderwerke van sowel die geskiedenis, as die Skrif. Sy aardse lewe en bediening, sowel as Sy dood en opstanding was volgens 'n bepaalde plan. En soos dit is in redding, so is dit ook op die pad van redding.

God het beveel dat sy kerk op 'n bepaalde en geordende manier, gestruktureer moet word. Hierdie orde en presisie kan ons irriteer en frustreer, maar dit is daar om ons te beskerm en te laat floreer. Wanneer ons teen orde in aanbidding veg, loop ons die gevaar om ‘n God na ons eie beeld te aanbid.

Die Gees van God werk nie net op impuls nie. Dit is nie die manier waarop die Bybel die lewe of die kerklike lewe uitbeeld nie. Glad nie. God is 'n God van orde. In sy verlossing maar ook in die skepping. God sê vir Job, “Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?” Of aan Jeremia: “So sê die Here: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie”. God is die God van die heelal. En daar is 'n sekere volmaakte orde wat in die heelal weerspieël word.

Die God van die Ou Testament is die God van die Nuwe Testament, en indien jy twyfel of God ‘n orde onder sy volk wil hê, kyk dan net na die Ou Testament. God gee bevele vir elke aspek van die lewe vir sy volk: polities, ekonomies en sosiaal. Daar is veronderstel om 'n goddelike orde in hul hele samelewing te wees wat die heerlikheid van hulle God en sy goedheid aan hulle weerspieël. Die volk se verhouding met die land, met mekaar en met God, word alles gelei deur 'n boek van orde, of leringe, wat in Deuteronomium gevind word. God gee om hoe sy verbondsvolk Hom aanbid, hoe hulle leef, hoe hulle interaksie het, hoe hulle regeer. Hy gee nie net om dat hulle Hom aanbid nie, maar ook hoe hulle Hom aanbid.

In die Nuwe Testament, sê Paulus oor die kerk dat ‘alles moet egter gepas en ordelik geskied’ (1 Kor. 14:40). Om dinge ‘gepas’ of ‘ordelik’ te doen, verwys daarna dat iets op 'n aangename manier gedoen word. Byvoorbeeld as jy kyk na hoe 'n professionele sportspeler sy sport beoefen. Elke beweging word met ‘n doel gedoen. Hulle het ‘n aangename vorm. Hulle doen presies wat hulle moet doen.

Om dinge in goeie ‘orde’ te doen, verwys na ‘n ordelike reëling. Paulus wil dus hê dat die kerk alle dinge welgevoeglik, of aangenaam, en op 'n ordelike manier moet doen. Dit is wat Paul bly maak as hy dit in die kerk raaksien, soos hy in Kolossense 2:5 sê: “...ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus.”

Daar was blykbaar iets van ‘n wanorde op Kreta, want Paulus skryf vir Titus: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het —"

Dit is nie net iets wat vir die gereformeerde kerke bedoel is nie.  Nee. Die kerk het van sy geboorte af gesien hoe belangrik dit is om 'n kerkorde op grond van die Bybel te hê, sodat die kerk en haar leiers aanspreeklik gehou kan word aan die gesag van die Skrif en die godheid van Christus. Die Didache (Grieks vir onderrig) is ons vroegste voorbeeld van 'n ‘kerkorde’. Dit sit uiteen hoe gemeentes moet doop, vas, bid, besoekende profete moet ontvang, en so meer. Die Didache het waarskynlik sy huidige vorm bereik voor die einde van die eerste eeu n.C., maar dit bevat beslis ook vroeëre materiaal.

Dit is Belangrik.

Een kerk in die Nuwe Testament wat in hierdie versoeking verval het om spiritualiteit met 'n impulsiwiteit en wanordelike gees te assosieer, was die kerk van Korinte. En daarom was daar ook baie verwarring in die kerk. Daar was verdeeldheid. Daar was aanvaarding van sonde. Daar was valse lering. Daar was verwarring in die erediens. Daar was mense wat mekaar hof toe gevat het. Daar was 'n impulsiwiteit en spontaneïteit in die aanbidding wat mense toegelaat het om oor mekaar te praat, of wat mense in tale laat praat het en niemand het 'n idee gehad wat gesê word nie.

Paulus lê 'n aantal punte vir hierdie gemeente neer en eindig met die woorde: ‘alles moet egter gepas en ordelik geskied.’ Orde. Eenheid. Liefde. Dissipelskap. Begrip. Dit is terme wat almal verwant is aan die Skrif.

'n Deur God bestemde orde laat die skoonheid van sy heerlikheid skyn. Dit laat toe dat met die sonde gehandel word. Dit gee maniere om vals leringe te hanteer. Dit neem die fokuspunt van die mens af en plaas dit vierkantig op God. As daar geen kerkorde was nie, kon die kerkraad dinge opmaak soos hulle gaan. Dit kan een ouderling teenoor ‘n ander ouderling wees. Die kerkorde lê prakties uiteen hoe dinge in die huishouding van God bestuur moet word.

Nou kan daar sommige wees wat sê dat dit droog en vervelig is om 'n kerkorde te hê. Wel, dit hang af wat jy daarmee bedoel. As jy 'n wêreldse soort opwinding, en oppervlakkige plesier bedoel, kan jy reg wees. Vir die sondaar het sonde 'n sekere plesierige en verslawende karakter.

Maar dink aan 'n gesinslewe sonder enige roetine? Floreer kinders sonder gesag? Sonder roetine? Sonder grense? Natuurlik nie! Waarom sou die kinders van God enigsins anders wees? Wat gebeur as jy 'n roetine en grense het? Dit gaan nie meer oor jou nie! Dit gaan oor die mense in die huis! Wanneer die orde uitgeleef word, word mense meer in staat gestel om hul vreugde in die Here te vind, ‘n vrede te ervaar wat ons verstand te bowe gaan en om die liefde van die Here saam met al die heiliges te voel. Dit gaan minder oor die individu en meer oor die gemeenskap. Dit verenig jou met iets groter as jouself, sonder om jou identiteit uit te wis. Sonder hierdie orde kan die kerk vinnig in groepe onderverdeel en die identiteit aanneem van die groep wat die hardste skree en hulself die meeste of beste uitdruk, eerder as wat dit gaan oor die swakstes en gebrokenes. Daar is orde om die bruid van Christus te beskerm.

Soos ons in die artikel lees: “Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en vertroos word.” In Korinte het dit nie gebeur nie. Sondaars is toegelaat om openlik te sondig, die armes word mishandel, vrygewigheid moes aangemoedig word. Kerkorde is belangrik as ons wil floreer, mekaar liefhê, verenig wil wees. Dit is daar om die swakke, die weerloses te beskerm. Dit is daar as beskerming teen valse lering, teen sterk persoonlikhede.

‘n Paar Beginsels

Ek wil afsluit met enkele beginsels waarop die kerkorde van hierdie kerk gebaseer is.

Eerstens sien dit die plaaslike sigbare liggaam (of kerk) as die liggaam van Christus soos Christus in 1 Korintiërs 12 beskryf, gelei deur ampsdraers wat onder die direkte gesag van Jesus Christus dien. Ons glo nie in sinodes of die pous of sekere rade nie, maar dat God onder-herders aangestel het en dat Hy Sy kerk regeer deur middel van ampsdraers. Daarom sal jy ook sien dat die grootste onderdeel van die kerkorde handel oor ampsdraers, want dit is waar die Skrif die klem lê.

Beteken dit dat ons die ampsdraers onder alle omstandighede moet gehoorsaam? Natuurlik nie! 'n Ander beginsel van die kerkorde is die priesterskap van alle gelowiges. Ons kan almal die Woord van God lees en verstaan ​​wat dit sê. Elke persoon kan dus appelleer teen 'n beslissing van die kerkraad wat volgens hulle, teen die Skrif, of die belydenisgeskrifte wat dien as 'n samevatting van die Skrif, is. Dit is hoekom die mense van die Vrye Gereformeerde kerke die “artikel 31’ers” genoem was. Ek moedig julle aan om later daardie artikel te lees. Net soos Paulus 'n beroep op Petrus gedoen het, omdat Petrus nie volgens die evangelie geleef het toe hy saam met Jode en nie-heidene geëet het nie. Op hierdie manier word die kerk ook opgeroep om die ouderlinge voor God verantwoordelik te hou.

Hieruit vloei die derde beginsel dat Christus alleen die hoof van die kerk is. Nie die ouderlinge, predikant, klassis, sinode, tradisie, pous of enigiets anders wat jy as jou uiteindelike gesag wil maak nie. God alleen het absolute gesag, en ons moet almal onder Sy juk buig in gehoorsaamheid aan Sy heerskappy.

Dit erken dat die kerk nie volmaak is nie, en nie net waaksaam moet wees oor die leer nie, maar ook oor die lewens van sy lidmate, dat hulle voortdurend opgeroep moet word tot geloof in Christus en die lewenstyl wat daarmee gepaard gaan. Daarom is daar verskeie artikels wat gaan oor die aanspreek van sonde by ampsdraers asook lidmate. Nooit met die doel om hulle uit die kerk te skop nie, maar met die doel om mense terug te roep na Christus.

'n Ander beginsel van die kerkorde is eenheid. Ons het 'n kerkorde sodat daar eenheid tussen kerke regoor die wêreld is. Dit gee ‘n soort Bybelse wysheid en orde aan kerke regoor die wêreld. Sodat geen kerk kan doen wat hulle wil wanneer hulle wil nie.

Dit is breed en lê nie onnodige laste op die kerk waar die skrif vryheid verleen nie. Dit sê nie presies hoe ons die Sondag moet vier nie. Dit sê nie presies hoe gereeld ons die nagmaal moet vier nie. Dit sê nie wat jy moet dra of watter instrumente jy moet gebruik nie. Dit sê nie waar ons moet aanbid nie.

En laastens is dit belangrik om daarop te let dat dit nie die gesag van die belydenisse dra nie. Dit is belangrik om te herken dat die Kerkorde nie 'n wetlike teks met rigiede opdragte is nie. Soos een predikant opmerk,

“In die besonder wanneer die Kerkorde praat oor sake buite die duidelike leer van die Skrif, behandel ons die Kerkorde as 'n vrywillige ooreenkoms tussen kerke. Dit is 'n ooreenkoms tussen kerke wat besluit het om op hierdie voorwaardes saam te federeer. Dit is waarom ons nie praat oor die Kerkorde wat ons beveel om x of y te doen nie. In plaas daarvan praat ons daaroor dat ons as kerke ingestem het om x of y te doen. Daar kan onder sekere omstandighede, in bespreking en volle deursigtigheid met ander kerke, tye wees dat sekere artikels (of dele van artikels) in hul aansoek opgeskort word. Die Kerkorde is boonop nie die “wet van die Mede en Perse” wat nooit verander kan word nie. Dit is in die verlede gewysig en geredigeer, en dit kan beslis ook in die toekoms weer gedoen word.”

Bygesê, ons het hierdie orde omdat ons glo dat dit Bybels is, belangrik vir die eenheid, liefde, beskerming en opbou van hierdie liggaam, en dat hierdie dokument die toets van die tyd deurstaan het. Daarom, as dit voel soos 'n klippie in jou skoen, iets wat ons vertraag, moet ons dit nie net uitgooi nie, maar moet ons onsself afvra waarom ons so voel. Is dit omdat dit reg en Bybels is, of omdat ons dinge net op ons eie manier wil doen.

Liewe gemeente, God het orde gegee aan sy wêreld, aan sy mense. Laat ons onsself met graagte daaraan onderwerp! Besef dat dit tot ons voordeel is!

Amen