Geloof is die gawe van God waardeur ons God ontvang, en al sy beloftes in Christus

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2020-10-18
Text: 
NGB artikel 22
Preek Inhoud: 

JI Packer sê:

Onthou die ware God, die God van die Skrif, het sy beloftes gegee om vertrou te word. Geloof vertrou hulle, en die effek van vertrou op die beloftes, en vertrou op die God van die beloftes, is letterlik transformerend.

Hy sê verder:

Jy het geloof nodig, wie jy ookal is. Moenie jouself toelaat om te dink dat jy geloof het, terwyl al wat jy eintlik het ‘n soort algemene optimisme is. Jy het net geloof wanneer jy geleer het om God te vertrou, om sy Woord te vertrou. Dus vra ek jou: het jy ooit ernstig rekening gehou met die realiteit van geloof en die moontlikheid van ‘n opwindende nuwe lewe wat kom met ‘n oefening in die Vader en sy Seun ons Here Jesus Christus?

Geloof is die gawe van God waardeur ons God ontvang, en al sy beloftes in Christus.

  1. Dit kom van die Heilige Gees,
  2. Dit hou vas aan Christus,
  3. Dit regverdig ons volledig.

Dit kom van die Heilige Gees

“Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons hart laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry.” Geloof is ‘n gawe van God. Efesiërs 2:8 & 9 sê “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” As die Kategismus vra waar geloof vandaan kom, is die antwoord: “Van die Heilige Gees”. Van begin tot end is ons verlossing die Vader se gawe in Jesus Christus, deur die Heilige Gees. Dit is so wat die inhoud en die praktyk van die geloof betref.

Ons bely in Sondag 7 dat geloof ‘n sekere kennis (inhoud) en ‘n vaste vertroue (praktyk) is. Wat is die inhoud van geloof? Dit is die Woord van God. Die Woord is geskryf deur die Heilige Gees. Soos Petrus sê in 2 Pet 1:21 “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. En Paulus brei daarop uit in 2 Titus 3:16: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”.

Hierdie Boek is deur God ingegee. Die inhoud van ons geloof is die Woord van God wat uiteindelik heenwys na die Woord, Jesus Christus. Die Evangelie is die persoon en werk van Jesus. Hom moet ons glo, en ons glo Hom deur te glo wat geskrywe is.

Hoe doen jy dit? Deur die werk van die Gees. Hy het geskryf wat ons moet glo, en Hy laat ons glo wat Hy geskryf het. Dit is die Gees van Christus. Dit beteken dat as jy nie die Heilige Gees het nie, jy nie die Skrif kan verstaan tot verlossing nie. Paulus sê so duidelik: (1 Kor 2:14) “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word”.

As jy dus wil groei in geloof, hou op om na binne te fokus, maar bestudeer die Woord biddend. Vra die Gees om dit vir jou te openbaar. Om ware geloof in jou hart te ontsteek. En bo alles, gee aandag aan die verkondiging van die Woord en die sakramente. Want dit is deur hierdie middele dat Hy jou geloof gee. Ons bely mos (HK Vraag 65) “Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente”.

Dit is hoekom sedert die vroegste tye die kerke prediking prioriteit gegee het. Die apostels het gepreek, die vroeë kerkvaders het gepreek, en alhoewel daar ‘n afname was in prediking het dit aangehou tot die reformasie, waarna dit weer toegeneem het. Soos Paulus benadruk: “En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” (Rom 10:14b, 15a). Die Heilige Gees het, deur die kerk, predikers uitgestuur; hulle verkondig die Woord van Christus, mense hoor dit, geloof word bewerk, hulle bely met hulle mond “Jesus is Heer”, en glo in hulle hart dat God Hom opgewek het uit die dood. En dan begin die lewenslange reis van groei in die geloof deur prediking te hoor en die sakramente te gebruik, wat alles heenwys na Chistus in die evangelie. Dit is nie die geloof wat red nie, maar dit waaraan die geloof vashou.

Dit hou vas aan Christus

Hierdie geloof omvat Jesus Christus en al sy verdienste, maak Hom ons eie, en soek niks naas Hom nie. Geloof is nie die fondament van ons regverdiging nie, maar die voorwaarde vir regverdiging. Regverdiging is altyd deur geloof, maar nooit as gevolg van geloof nie. Ons word regverdig gemaak deur Christus se werk. Ons ontvang hierdie werk as ons eie deur geloof. Jesus Christus en sy werk is die voorwerp van ons geloof.

Dus, as jy Jesus beter leer ken, sal jy groei in geloof en dan sal jy gehoorsamer en dapperder lewe. En onthou, dit is geloof in ‘n regte lewende historiese mens, Jesus.

Dit is nie maar net ‘n hoop vir die beste nie, nie ‘n oproep om te glo in iets wat nie logies sin maak nie. Geloof is nie ‘n gedagtelose steek in die donker nie. Dit is nie maar net duim vashou en hoop vir die beste nie. Dit is die ‘n sprong in die duisternis nie.

Soos Hebreërs 11:1 sê: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Vertroue praat van ‘n weldeurdagte, versigtige, doelgerigte denke. ‘n Gedagte waaroor? God en sy beloftes wat in Christus vervul is. As jy absoluut aangegryp is deur die komende dinge wat deur God belowe is, dan is jou manier van lewe totaal anders as wanneer jy nie daardie sekerheid het nie. Geloof is ‘n vaste sekerheid wat wys in dade.

Begeer jy dit om meer gehoorsaam te wees, ‘n stanvastige standhoudende christen? ‘n Dapperder en meer uitgesproke christen? Dan is dit nodig dat jy jou geloof versterk. Jou geloof word versterk in direkte verhouding tot die uitbreiding van jou begrip van die voorwerp van jou geloof. Geloof sal gehoorsaam volg.

Die voorwerp van jou geloof – as jy inderdaad ‘n christen is – is Jesus Christus alleen. Daar is niks anders waaraan jy kan vashou nie. As jy jou enigsins wend tot iets anders, sê jy daarmee dat Jesus nie genoeg is nie. Die arminiane glo dat Christus vir jou gesterf het, en dat jy dit moet aanvaar. Maar ons glo dat Christus vir ons gesterf het en dat Hy die kennis en vertroue in ons bewerk om dit te glo.

Ons is geregverdig los van die wet. Los van werke. Dit gee aan God die eer, en verheerlik die kruis. En dit bely die werklikheid van die sondigheid van die mens. God is nie ‘n bedelaar wat hoop dat jy jou hart vir Hom sal oopmaak nie. Hy is soewerein, en breek in ons harte in, om ons hart van klip te verander in ‘n hart van vlees.

Is jou geloof swak? Die rede is dikwels dat jy nie die voorwerp van jou geloof goed genoeg ken nie. Maar wanneer Christus algaande groter word, of beter nog, jou begrip van wie Hy is algaande ‘n realiteit word, sal jou geloof steeds sterker word. Hoe gebeur dit? Deur biddend in God se Woord te delf. Lees oor Jesus Christus. Luister na sy stem as Hy na jou toe kom deur sy gepredikte Woord. Die kragtige Woord wat lank gelede die heelal geskep het, is dieselfde Woord wat jou tot lewe kan bring en jou toerus met ‘n geloof wat waarlik christelik is.

Dit regverdig ons volledig

“Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, of dit is alles wel in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees.”

Geloof kom van die Heilige Gees en hou vas aan Christus en al sy verdienste, soos in die Woord verkondig. En so word ons regverdig. Soos ons belydenis sê: “Ons sê ... dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is. Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons aan Hom verbind.” As jy Hom het, is jy gered. As jy Hom het, sal jy jou bekeer, jy sal vrugte dra, jy sal ‘n sekere vlak van rus en sekuriteit hê. In Christus is ons geregverdig voor God. Ons word onskuldig verklaar. Ons het vrede in God! Ons is nie langer onder die oordeel nie, maar onder seëninge en lewe. Wat beteken dit om Hom te hê of te ontvang? Dit beteken jy het geloof.

Iemand wat nie in Christus is nie, het geen hoop nie. Letterlik. Enigiets waaraan hy vashou, is net ‘n skim, ‘n lugspieëling in die woestyn. Net in Christus is daar hoop wat vas en seker is, in die hemel bewaar. Dit is die hart van die Evangelie. Bid dat geloof vandag in jou hart bewerk word sodat dit die oë van jou hart mag verlig. As ons oë nie deur die Heilige Gees verlig word om die onmeetbare grootheid van Christus se krag te verstaan nie, bly jy en ek vassteek in ons eie sinlose denke.

Die Woord sê daar is niks wat ons kan doen om ons sonde ongedaan te maak nie. Dit is die werk van Christus wat vir ons skuld betaal, wat my as sondaar versoen met die regverdige God. Dit is die fondament van hoop waarop ons bou.

Liewe gemeente, as julle die christelike lewe wil lei, maak seker dat jy die voordele gebruik. In Christus is jy bevry van die las van probeer om jou eie pad terug te verdien, of om te probeer bewys dat jy berouvol genoeg is. As jy geregverdig is deur geloof, het jy vrede met God. Gevolglik kan jy eenvoudig begin om gelowig en gehoorsaam voor God te lewe.

‘n Deel van die verkryging van oorwinning is om die stemme in ons kop te oorkom, wat vir jou sê dat jy ‘n mislukking is, dan jy nooit sal verander nie, dat God jou nie kan liefhê nie, dat jy geen hoop kan hê nie. Hierdie verdoeming kan versterk word deur jou eie gewete. Sommige mense het ‘n sensitiewe gewete, ander weer minder. Gewete kan ‘n bedrieglike gids wees. Dit is moontlik om te dink dat jy ‘n skoon gewete het terwyl jy in feite skuldig is en skuldig behoort te voel. Aan die ander kant kan ‘n sensitiewe gewete ‘n gelowige verlam, hom verdoem, en voorkom dat hy aanbeweeg uit sy sonde uit. Die gelowige moet erken dat hy geregverdig is. Maar luister na die belydenis: “as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry”.

Ons kan, en moet, aan ons eie siele die woord van die evangelie predik: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie”. As ons harte ons nie langer veroordeel nie sal ons vertroue voor God hê. Dít is die “helm van verlossing” opsit. Ons verstand moet beskerm wees – dit gebeur deur ons status as geregverdig wees, deur Christus op te eis.

En geregverdigdes het hoop dat hulle geheilig sal word. Romeine 8 vers 30 word die “goue ketting van verlossing” genoem. “Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik”.

Daar is ‘n onafwendbare, onveranderlike dryfkrag van begin tot end. As die gelowige uitverkies is, is dit onafwendbaar dat hy ook verheerlik sal word. God sal nie faal om elke stap te voltooi nie. Om te lei na verheerliking is heiligmaking.

Heiligmaking is die werk van God se vrye genade, waardeur ons vernuwe word na die volle mens na die beeld van God, waardeur ons meer en meer die sonde afsterf, en lewe in geregetigheid. Ons sal in NGB Artikel 24 meer hieroor sê.

Omdat dit so is, is daar vir dié wat geloof het, hoop om die oorwinning te behaal oor watter stryd ons ookal mee gekonfronteer word. In hierdie lewe sal die gelowige toenemend verander word na die beeld van Christus. Dit sal noodwendig lei tot oorwinning oor sonde.

Regverdigmaking staan agter Paulus se aanmoediging aan die Efesiërs: “Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”

Ken jy Christus? Glo jy Hom? Dan sal jy ook volkome verlossing hê!

Wat moet ons doen om God te behaag, om ‘n verhouding met Hom te hê? Geen werke nie. Maar glo. Wil jy weet hoe om ewige sekerheid, vergewing, vrede, genade, liefde te hê? Glo in Jesus!

As jy nog nie hierdie vryheid het nie, kom vandag na Hom toe, en lê jou swaar las neer aan die voet van die kruis, en glo die beloftes van God in Jesus Christus, nou en vir ewig, en sluit aan by die vreugdevolle reisgeselskap na die ewige huis van geregtigheid.

Amen.