Daar is net een koninkryk op hierdie aarde waar ons diepste behoeftes bevredig word.
Buite hierdie koninkryk is daar geen bevrediging nie. O ja, natuurlik het kulture geleer om soveel behoeftes te bevredig, maar hoe meer hulle bevredig, hoe meer behoeftes word geskep wat ook nog bevredig moet word. Aan die een kant is ons trots op die vordering wat ons gemaak het, maar aan die ander kant, hoe meer vordering ons maak, hoe meer onbevredig voel ons. Hoe meer oorvloedig die voordele van die beskawing word, hoe leër word die lewe.
Mense sal nooit bevredig wees totdat hulle bevredig word met dit waarvoor hulle gemaak is nie. God. Dit is soos om dors te wees en alles te doen, behalwe om water te drink. Jy probeer kos, selfs soutwater – iets wat baie soos die ware Jakob lyk – maar dit maak jou net dorser. Die mensdom dors na verlossing wat jou fisies sowel as geestelik voed vir ewig en altyd. Meer nog, die mensdom dors na God. God is die mensdom se bron en voleinding. Niks anders kan bevrediging bied nie, nie wetenskap of kuns, beskawing of kultuur nie.
Ons sal geen bevrediging vind totdat ons dit in God vind nie. Maar om dit te laat gebeur, moet God tevrede wees in ons en tevrede wees met ons. En dit kan nie gebeur as daar sonde is nie. Daar moet vir die sonde betaal word. Vir ons om ons dors na God te les, moet iemand eers die beker van God se toorn teen ons sonde drink, sodat ons kan drink van die beker van seën.
Jesus Christus is ’n volkome Verlosser vir totaal verdorwe sondaars:
- Die volmaakte Priester
- Die volmaakte offer
- God se volmaakte regverdigheid
- Ons troos
Die volmaakte Priester
Hulle werk was oneindig, omdat hulle sonde oneindig was. Hulle was georden om namens die mense op te tree in die verhouding tot God. Om geskenke en offers vir die sonde te bring. Om tussen ’n heilige God en ’n sondige volk te staan. Daar was net een probleem: hulle was deel van daardie sondige volk.
Slegs dié wat God geroep het, kon priester wees. Alle priesters moes uit die nageslag van Aäron kom.
Maar Aäron se priesterskap was nie genoeg nie. Eerstens het Aäron se priesterskap by Aäron begin. Dit het nie heeltemal terug tot by die begin gestrek nie. Tweedens het Aäron se priesterskap met die dood geëindig. En derdens was Aäron se priesterskap gevul met sonde en hulle kon nie as volkome middelaar tussen God en die volk intree nie. Hulle het self ook ’n middelaar nodig gehad.
Daarom het Jesus Christus uit ’n onsterflike priesterskap gekom; nie volgens die orde van Aäron nie, maar volgens Melgisedek. Hy het geen voorvaders gehad nie; en ons lees ook nie dat hy enige seuns gehad het nie. Hy was van ewigheid af tot ewigheid. Hy staan as die verteenwoordiger van God – nie net vir die sonde van een geslag nie, maar vir elke geslag. Dit is ’n onsterflike voortdurende priesterskap.
Melgisedek was ’n tipe of beeld van Christus op verskillende vlakke. Selfs sy naam, wat in Hebreërs as “koning van geregtigheid” vertaal word; en hy was “koning van Salem”, wat beteken “koning van vrede.” Wie anders in die Skrif verdien die naam “Koning van Vrede en Geregtigheid” meer as Jesus? Deur sy priesterskap het Hy eens en vir altyd die allerheiligste binnegegaan. Hierdeur het Hy miljoene saamgebring en hulle met God versoen sodat hulle sy vrede, Jerusalem, kon geniet weens sy geregtigheid. Hebreërs sê dat hierdie priester ’n priester was uit die krag van ’n onvernietigbare lewe (Hebr. 7:16). As gevolg hiervan kan hy “volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebr. 7:25) Hoe mooi is dit nie om te bely: “Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed – ‘n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek.” Hy tree voortdurend vir ons in. Selfs nou voor die troon van God.
Soos die lied gaan:
Voor die troon van God daarbo,
het ek ’n sterk volkome pleidooi,
’n groot hoëpriester met liefde as naam
wat ewig leef en vir my pleit.
My naam is in sy hande gegraveer,
my naam is op sy hart geskryf.
Ek weet dat Hy in die hemel is;
geen tong kan my daarvan weglok,
geen tong kan my daarvan weglok.
Die volmaakte offer
Vir die priester van die Ou Testament was daar daagliks ’n herinnering aan hulle sonde. En die skuld van hulle sonde voor God, en die daaglikse herinnering aan die feit dat daar bloed moes vloei. “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”
Nooit bevredig nie. Nooit genoeg nie. Elke dag, elke week, elke jaar. Bloed, bloed en nog bloed. En tog het die sonde nie opgehou nie. En daarom kon die offers nie ophou nie. Selfs die persoon wat die offers gebring het, was sondig, en hy moes vir homself ook offer voordat hy vir die volk offers kon bring. Uiteindelik was daardie offers nie ’n doel op sigself nie; hulle het gewys op en geprofeteer van die Een wat sou kom – die Messias wat die sondes van die volk sou wegneem.
Daar was ’n kloof tussen God en die mens. Die mens kon nie sommer net God se allerheiligste binnegaan nie. Nie eers ’n priester kon voor God se teenwoordigheid kom nie. Slegs die hoëpriester kon, en dit was net een keer per jaar.
Op daardie dag het hy sy hande op ‘n lewende bok gesit het en “oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê” (Lev. 16:21). Dan is hierdie bok gestuur in die woestyn, wat die koninkryk van hierdie wêreld en die koninkryk van Satan simboliseer. Dit was in kontras met die tuin – die plek van oorvloed.
Dan was daar ook ’n offerdier wat doodgemaak is. Die hoëpriester neem die bloed van hierdie offerdier saam na die allerheiligste en strooi dit daar op die versoendeksel. Vir iemand om in daardie heilige vertrek in te gaan, moes daar bloed vloei. Dood. Soos God vir Adam en Eva gesê het: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” Hierdie woorde weerklink deur die eeue heen, en dit het duidelik geklink in die ore van die mense soos hulle toegekyk het hoe die bok geslag word en hulle oor hulle sondes gedink het. Elke offer was ’n herinnering aan hierdie woorde. Hierdie woorde was waar van elke sonde. En tog was God stadig om toornig te word en oorvloedig in goedertierenheid.
Want al hierdie offers het eenvoudig vooruit gewys na die groot offer. Want die bloed van stiere en bokke nooit die sonde van God se volk kan wegneem nie.
Blaai asseblief nou saam met my na Hebreërs 10:1-4: “Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. Maar in dié offers is daar jaar na jaar ’n herinnering aan die sondes; want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.” En dan gaan ons verder by Hebreërs 10:11-14: “En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”
Die offers van die Ou Testament het die volk dus aan die sonde en die noodsaaklikheid van vergifnis herinner, maar dit het nooit die gewete skoongewas en diegene wat die offers gebring het, volmaak gemaak nie. NEE! Maar die offer van Jesus Christus het wel! Dit was nie net ’n herinnering nie, maar dit was werklik vergifnis! Heeltemal volmaak – dit is wat die offer en werk van Christus vir ons en in ons doen.
Slegs die een wat skoon hande en ’n opregte hart gehad het, mog God se tempel binnegaan. En hier het ons ’n priester wat gekom het om die wil van God volkome te doen. Hy staan daar as ons verteenwoordiger. As ons volmaakte middelaar! As ons volmaakte offer! Daarom, “laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete.”
Die deure van God se heilige berg het oop geswaai. Die poort na gemeenskap is nie meer versper soos dit vir Adam en Eva was nie. ’n Nuwe lewende weg is oopgemaak, deur die volmaakte offer – die eenmalige offer aan die kruis. Aanskou die Lam van God wat die sondes van die mense wegneem!
As Satan my tot wanhoop versoek
en my vertel van die skuld hierbinne,
kyk ek na bo en sien Hom daar sit
Hy wat ‘n einde bring aan al my sonde.
Omdat die sondelose Verlosser gesterf het,
word my sondige siel as vry beskou;
want God, die regverdige, is tevrede;
om na Hom te kyk en my te vergewe,
om na Hom te kyk en my te vergewe.
God se volmaakte regverdigheid
Ons bely dat Jesus Christus “Homself in ons naam voor sy Vader gestel [het] om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het.”
Dit was toe Jesus tot in die dieptes van daardie duisternis—die buitenste duisternis van die hel self—neergedaal het, en net voordat Hy daaruit verrys het, het Hy met ’n groot stem die woorde van verlatenheid uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Op hierdie stadium is Christus deur die swaar hand van God verpletter; die golwe van God se toorn het Hom soos ’n woedende see van vuur oorstroom en oorweldig; Jesus het aan die bitter beker wat God aan Hom gegee het, geproe, daaruit gedrink en dit heeltemal leeggedrink. Op daardie stadium het onuitspreeklike afgryse Christus se siel aangegryp. God het Hom verlaat. In hierdie verskrikking het Christus in angs uitgeroep en gemeenskap met sy God gesoek: “My God, my God . . . ” Maar daar was geen gemeenskap moontlik nie. God het sy Seun nie met sy guns geantwoord nie. Ons Middelaar, wat nog altyd gemeenskap met sy Vader gehad het, wat die voorwerp van die Vader se vreugde was, en wat van ewigheid af in die Vader se boesem vertoef het, was nou sonder die teenwoordigheid van God se liefde. Dit is wat die sonde verdien.
Dit beteken dat God, in sy hoedanigheid as Regter, geen genade aan sy Seun betoon het nie, maar dat Hy hom ten volle gestraf het deur die volle woede van sy toorn uit te stort.
Soos die Belydenis sê: “Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely; Hy het die verskriklike straf wat ons sonde verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val en Hy het uitgeroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Die teenwoordigheid van God in toorn, maar die afwesigheid van God se guns, was ondraaglik vir die heilige Seun van God. Maar dit was nodig vir ons verlossing. Christus het op daardie dag die hel ervaar sodat ons, wat in Hom glo, nooit die hel sou ervaar nie. “Die straf wat vir ons vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Ons troos
Deur sy wonde word ons genees. Dit is ons troos. Vrede deur sy lyding. Genees deur sy wonde! Dit is pragtige woorde in ’n wêreld vol woede, twis, oorlog, gebrokenheid en siekte. Die straf is betaal. God se toorn is bevredig.
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het my sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal!”
O geliefde gemeente, jy is volmaak in Christus.
Jy is regverdig.
Jy is God se kind.
Dit is nie iets waarvoor jy moet werk nie.
Jy is geliefd.
Jy is vergewe,
Jy is ’n heilige volk;
Jy is ’n koninklike priesterdom!
Jy is al hierdie dinge danksy hierdie Hoëpriester! Hy tree vir jou in! Jy hoef niks te doen om iets daarvan te verdien nie. Dit is vir jou verdien! Al wat jy moet doen, is om te glo. Geloof is die middel waardeur Christus en sy werk joune word; en jy met Hom verenig word. Hoe versterk jy jou geloof? Deur te luister na sy Woord.
Wil jy vrede met God hê? Wil jy veilig voel in hierdie tyd? As jy in Hom glo, aan Hom vashou en bely dat jy ’n Verlosser nodig het, dan is selfs die dood, die ergste ding wat met jou kan gebeur, ook die beste ding. Want dan sal hierdie belofte, wat ’n realiteit in Christus is, in jou vervul word.
Ons het hierdie preek begin deur oor tevredenheid te praat. Jy hoef nie bevrediging te soek nie; dit is in Christus aan jou gegee. Dit het na jou gekom deur die werk en die persoon van Christus. Dit kom nou na jou toe. Christus word verkondig. Sien jy Hom? Hoor jy sy stem? Kom na Hom toe. En geniet.
God het in Jesus jou diepste verlange bevredig. Vrede en gemeenskap met God vir ewig. Die wêreld is nooit tevrede nie, want hulle drink uit gekraakte kruike. Waarvan drink jy? Waar vind jy jou bevrediging?
As kerk bely ons dat “ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word.” Alle mense soek uiteindelik gemeenskap met God; hulle weet dit net nie. Die enigste manier waarop hulle dit sal vind, is deur die volmaakte Hoëpriester, ons Here Jesus Christus! Dit is in sy volmaakte offer waar die regverdigheid van God bevredig is. Aan die kruis! Kom ons gaan uit en vertel die wêreld die goeie nuus! Laat ons “niks anders as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” ken nie.
Geliefde gemeente, dit is die enigste hoop van die wêreld, en totdat hulle Christus vind, sal die mensdom voortgaan om bevrediging op ander plekke te soek net om weer leeg weg te stap. Dit is slegs in Christus dat God vir ons tevredenheid gemaak het, sodat ons in Hom ten volle tevrede kan wees.
Aanskou Hom daar, die opgestane Lam,
my volmaakte, vlekkelose geregtigheid,
die magtige, onveranderlike EK IS,
die Koning van heerlikheid en genade!
Een met Hom self; ek kan nie sterf nie.
My siel is deur sy bloed gekoop!
My lewe is in Christus in die hoogte verborge,
in Christus, my Verlosser en my God,
in Christus, my Verlosser en my God.
Amen.