Jou koning wil woon in jou liggaam: dis sy tempel

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-06-25
Text: 
1 Korinthiërs 6: 11, 19 en 20
Reference: 
2323
Preek Inhoud: 

Vooraf

Ek het in Mei/Junie drie preke oor die werk vd Gees in ons gemeente gehou:
- 21 Mei (tussen hemelvaart en Pinksterdag): die Gees is ons trooster en helper, en hy bring ons heeltyd by Jesus. Hy laat ons leef uit hom.
- 28 Mei (PinksterSondag) oor Handelinge 2:1-4: die Pinksterdag was die vervulling van die eerstelingefees. Deur sy heiligende werk bring die Gees die volheid van Jesus se reddingswerk in ons lewe.
- 4 Junie oor Handelinge 2:4: vreemde tale / tongetaal: Soek die volle werking van die Gees van God, om die gemeente op te bou.

Vandag se preek gaan oor die heiliging van ons lewe: van ons liggaam. Die Gees van heiligheid woon in ons.

Doele vir hierdie preek:
- Leer hoe belangrik ons liggame is en waarvoor dit bedoel is: om God te vereer
- Leer positief dink en praat oor liggaam en seksualiteit
- Voorkom dat ons begin by waarskuwings en verbode en daarin vashaak – nl. deur te begin by die redding wat Jesus vir jou gegee het.
- Groei in vertroue op die Heilige Gees vir die heiliging van jou lewe.

Inleiding

Ons glo dat die Heilige Gees in gelowiges woon en werk.
Wat verwag jy van die werk van die Heilige Gees?
En wat sien jy daarvan raak, wat ervaar jy daarvan in jou eie lewe?

Die wondertekens van die Pinksterdag het in die verlede gebeur, en was tekens vir die kerk in daardie tyd dat God ’n groot verandering gemaak het.

Maar die Gees bly in alle gelowiges. Jesus het hom mos uitgestort op sy gemeente.
[Sien vorige preek oor Hand2,4: die gawes van die Gees is bedoel om mekaar op te bou].

En die Gees bly nie net in ons as ons saamkom nie. Hy is nie toegesluit in hierdie gebou, en is nie afhanklik daarvan of ons saamkom nie.
Die Gees bly persoonlik in elke gelowige. In jou hart. Hy help jou om vir God te leef.
Daaroor gaan dit vandag: die heiliging van ons lewe.

In die gedeelte wat ons vandag gelees het, gaan dit konkreet oor ons liggame. Ons is vertroud daarmee dat God ons siel gered het, en dat ons met ons hart en siel die Here moet dien. Maar dit het dus ook gevolge vir wat ons met ons liggame maak.
Hierdie liggaam van jou, met sy bene en vel, organe en gevoelens, jou oë en jou hande, jou vermoëns om te proe, te tas, te hoor, te praat: God stel daarin belang!
Hierdie liggaam van jou en my is sy woonplek: sy tempel!

Tema: Jou koning wil woon in jou liggaam: dis sy tempel.
1. Wie aanbid jy?
2. Aan wie behoort jy?
3. Wie soek jy?

1. Wie aanbid jy?

Het jy ’n ongemaklike gevoel by hierdie gedeelte?
Praat dit nie negatief oor die liggaam, oor seksualiteit nie?
In die Viktoriaanse tyd was die liggaam en seksuele gevoelens en aktiwiteite glad nie bespreekbaar nie. Dit is versteek en versluier, mense was skaam.

In ons tyd het ons in die ander ekstreem beland. As ons oor die deurpad ry, wil ek partykeer ons kinders se oë toemaak, sodat hulle nie die advertensieborde met halfuitgeklede vroue sien nie. En dis maar net die oortjies van die seekoei. Op talle maniere word wellus opgewek.
Daar is in ons samelewing ’n groot seksuele losbandigheid, daar is nie meer reëls nie, jy kan verhoudings begin en verbreek net soos jy voel, mense kan maak wat hulle wil, hul eie liggame en die van ’n ander gebruik vir seksuele genot.
Ons kan gesinne met jong kinders nog redelik daarvan afskerm, maar ons jongmense word definitief daaraan blootgestel; dis die nuwe normaal.

Dit is die gevolg van seksuele revolusie in die 1960s. Jou liggaam is jou eiendom, niemand mag jou reëls of beperkings oplê nie. Jy moet jou lewe en jou liggaam kan geniet!
Ons wêreld lyk vry en gelukkig, en is trots daarop.

• Sonde aangespreek

Hoe reageer ons daarop?
Baie mense dink dat die kerk ’n negatiewe houding teenoor die liggaam en seksualiteit het. Daar word dikwels oor gepraat in terme van sonde: dis verkeerd. Of daar word geswyg. 
Hoe dikwels praat ons daaroor dat ons liggaam belangrik is? 
Hoe moeilik is dit om seksualiteit bespreekbaar te maak en positief daaroor te praat?

• God is skepper/outeur

Dit is inderdaad moeilik om die ewewigtig te benader.
Maar voordat ons onsself ’n skuldgevoel aanpraat, laat ons maar besef dat die Bybel vir ons rigting gee.
As iemand vandag in die kerk instap en vra: hoekom luister julle na die Bybel? In die Bybel maak God hom bekend. En hy is ons skepper. God het ons liggame ontwerp en vir ons gegee. As jy wil weet wat om daarmee te maak, luister na die outeur! Wat Paulus aan christene in Korinte skryf, skryf hy aan christene van alle tye, met die gesag van God, ons skepper.

Hoekom ervaar mense dit as beperkend en veroordelend as die kerk die Bybel napraat? 
Dit is omdat ons sondaars is. God se wil staan teenoor ons sondige wil staan. God wys die sonde aan van mense se eiewilligheid, losbandigheid, en afgodery. Sondaars het dit nodig om gewaarsku te word teen sonde en om daarvan bevry te word.

Die houding van ons tyd en kultuur teenoor die liggaam en seksualiteit is ’n ontsporing en verafgoding van gesonde seksualiteit, van God se mooi ontwerp.

• Jy gebruik jou liggaam vir aanbidding

Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam. (13)
Vlug weg van onsedelikheid. Elke sonde wat 'n mens doen, is buite sy liggaam, maar iemand wat seksueel losbandig optree, sondig teen sy eie liggaam. (18)

Paulus leer ons hoe belangrik ons liggame is en waarvoor dit bedoel is.
Hy doen dit deur sonde in die stad Korinte aan te spreek.
Christene in Korinte het geleef in die Griekse kultuur, wat gesê het: ‘Die liggaam is van ’n laere orde, dit is minderwaardig. Dis eintlik maar net soos verpakking, die behuising van die siel. Die siel is belangrik, maar die liggaam, ag, dis maar die omhulsel. Wat jy daarmee maak, maak nie saak nie.’
Christene het dus gedink: solank ek my siel en my denke aan God toewy, maak dit nie saak wat ek met my liggaam maak nie. Daarom het hulle nie ’n probleem gehad met seksuele losbandigheid nie.

Maar Paulus sê duidelik: as jy jou liggaam vir losbandigheid gebruik, sondig jy teen jou liggaam. Jy misbruik dit, jy mis die doel van jou liggaam.
Want waarvoor is dit bedoel?

• Tempel: woonplek van Gods Gees

Hy praat hier die taal van aanbidding, verering. Jou liggaam is ’n tempel:
Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? (19)
Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam. (20)

Die nuwe van die Pinksterfees is dat die Gees van Christus in ons kom woon het. In die Ou Testament het die Gees ’n paar mense, die leiers, aangegryp en verander. Dis die rykdom van die nuwe verbond is dat die Gees kom woon in ons harte.
Wanneer ons sê ‘hy woon in my hart’ moet ons dus besef dat dit gevolge het vir ons liggaam en hoe ons dit gebruik: my liggaam is die woonplek van Gods Gees. ’n Tempel: 
dis ’n woonplek van die heilige God en ’n plek van aanbidding. Heilig beteken: skoongemaak en toegewy net aan God. Dit word nie vir opslag of vir vullis gebruik nie.
Hou dit suiwer.
Dit is ook nie bedoel vir meerdere persone nie, soos ’n taxi of bus: mense klim af, ander mense klim in nie. Die tempel is net vir God.
Onthou dit en wy dit toe aan die diens van God.
Mense wat seksueel losbandig is, voel vry, maar hulle besef nie dat hulle hul liggaam aan verskillende mense gee om te gebruik nie. Maar jou liggaam is vir God. Die tempel is net aan hom toegewy. Verheerlik hom dan met jou liggaam.
[Dit beteken dus nie dat jy jou in ’n klooster moet toesluit en selibaat moet oefen nie. God het seksuele intimiteit as ’n pragtige gawe gegee, maar net in ’n huwelik met een persoon, van die ander geslag].

Die keuses wat jy maak oor jou liggaam is vir God belangrik. Wie dien jy daarmee? Watter God of afgod dien jy daarmee?

• Seksuele begeertes het ’n afgod geword

Liggaam en seksuele begeerte is ’n alternatiewe religie. Dit het ’n afgod geword:
- Alles gaan oor genot, beheer, en geluk.
- Daarom moet jou liggaam so lank as moontlik beskikbaar wees om jou genot na te kan streef. Die gesondheid van jou liggaam het dus ook ’n afgod geword (en oefening, gesonde voeding, mediese prosedures is onmisbaar).

Maar afgode eis offers. En dit het duidelik geword dat die afgod van seksuele vryheid sedert die 1960s groot offers afgedwing het: ’n spoor van vernietiging: ontrou, pornografie, voorhuwelikse seks, egskeiding en die ondermyning van gesinne, seksueel oordraagbare siektes, en ook aborsie van miljoene kinders; daarmee saam resentelik ook groot onsekerheid oor identiteit van man en vrou, ’n groot druk om jou gender self te kan bepaal.

• Hoe veg jy teen hierdie afgod, en aanbid jy God met jou liggaam?

Seksuele verlangens wat jy in jou eie hart vind, is so sterk: jy veg teen verkeerde verlangens – maar wen jy, of verloor jy die stryd?
As jy ’n alleenloper is, wat maak jy met díe verlangens? Voel jy dat Gods wil jou beperk en verhinder om die lewe te geniet? Ander jongmense is seksueel aktief, en jy mag nie.
Die druk wat ons kultuur op ons plaas, is groot. Begin dit jou ook beinvloed, dink jy dat God jou geluk blokkeer, wonder jy of dit wel die moeite werd is om suiwer te leef?

• Suiwere godsdiens/aanbidding

God roep ons terug na die doel van ons lewe en ons liggame: hy het ons gemaak om hom te eer. Net dit kan ons gelukkig maak.
As jy iemand of enigiets anders jou afgod maak, mis jy die doel en kan jy ook nie gelukkig word nie. Die oorvloedige, volmaakte en gelukkige lewe is net by God te vinde.

2. Aan wie behoort jy?

Maar daar is meer.
Gee Paulus net waarskuwings, en sê hy heeltyd: ‘pas op, moenie dit doen nie, moet wegbly daarvan!’?

• Begin by jou redding

Paulus begin by Jesus wat ons verlos het. Hy noem ’n klomp sondes en sê:
So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God. (v.11)

Jesus het jou skoongewas van onreinheid, bevry van verslawing, en vir jou ’n nuwe identiteit gegee. Dit is jou beginpunt, die rede hoekom jy ’n nuwe lewe kan leef.
En sy Gees maak dit elke dag moontlik. Hy is jou krag. Hy maak jou heilig, maak jou aan Jesus gelyk. Alles wat Jesus vir jou gedoen het, lewer hy af en hy maak dit effektief.

Daarom het ons nodig om heeltyd te onthou: aan wie behoort ek?

• Selfbeskikking is verby

Ons kultuur sê: jy behoort aan jouself. Jy is jou eie baas!
Die uitgangspunt van ons seksuele losbandige kultuur is dat jou liggaam joue is, jy het die beskikking daaroor, jy kan dit gebruik soos jy wil: vir jou genot.

Maar dit is nie meer jou liggaam nie! My liggaam is nie meer myne nie.
Onthou jy? Wie het jou gered? Wie is jou eienaar?
Paulus wys ons op Jesus: (in v. 11)
“… julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

En weer in v. 19. Kyk na die einde:
Of weet julle nie (dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en) dat julle nie aan julleself behoort nie?
Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

Jesus is jou redder. Hy het jou gekoop met sy kosbare bloed.
Sy bloed het gevloei, hy het helse pyne gely, sy lewe prysgegee om jou lewe te red: jou hele lewe: nie net jou siel nie, maar ook jou liggaam.
Dis nou sy eiendom.

Ons kan dit prakties maak:
Telkens wanneer jy verleidings op jou pad ontmoet, en dit lyk baie aantreklik, en dit voel asof dit jou gelukkig sal maak, vra dan maar die vraag: wat het hierdie persoon, hierdie ding wat so veelbelowend lyk, vir my gedoen?
Die verleidelike vrou wat op ’n foto in ’n tydskrif of op jou skerm so aantreklik lyk, of die man waarmee jy as getroude vrou emosioneel betrokke raak, het hy/sy die prys vir jou lewe betaal?

Elke verleiding kom van die duiwel af. Hy maak die geskenkpapier baie aantreklik en onweerstaanbaar, maar wat het hy vir jou geoffer? Het hy die prys van jou lewe betaal? 
Nee, inteendeel: hy kom net om te vernietig en dood te maak!
Ja, wie het alles opgeoffer om jou lewe te red?
Dis tog net Jesus Christus?
Onthou die hoë prys vir jou lewe en jou liggaam: 
Want julle is duur gekoop. (v. 20)
Die prys is die dood van die Seun van God!

Vertrou op die Heilige Gees, laat jou deur hom lei.
Hy help jou om te onthou die hoë prys wat Jesus vir jou betaal het.
Gehoorsaam die Gees, wat jou vermaan:
Verheerlik God dan met jou liggaam.

3. Wie soek jy?

Ons het twee belangrike dinge geleer, en die Heilige Gees roep dit in herinnering:
- Jou liggaam is die tempel van die Heilige Gees
- Jy is duur gekoop (jou liggaam ingesluit)

Daar is ’n derde leerpunt, ons vind dit in die middelste gedeelte: vs. 14-16.
Paulus gee daar diep insigte oor wat seksuele eenheid eintlik beteken.
Christene in Korinte het nie ’n probleem gehad om na ’n prostituut te gaan nie. Die liggaam is maar net die behuising van die siel, dis minderwaardig. Wat jy daarmee maak, maak nie saak nie. Dit lyk baie soos mense vandag ook praat: ag, dit beteken niks nie, ‘it’s just sex.’ Dis maar net iets wat jy met jou liggaam doen, en dan is dit verby. No strings attached.

Ek het nou nie tyd om die detail van hierdie gedeelte uit te werk nie, maar laat ek net dit sê: Paulus vertel vir ons wat op die spel staan:
weet julle nie dat iemand wat met 'n prostituut gemeenskap het, een liggaam met haar word nie? Daar staan immers: “Die twee sal een liggaam wees.” (16)
Hy sê: seksuele eenheid beteken dat jy een word met daardie persoon.
En dan sê hy:
Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom.

Wat jy met jou liggaam maak, gaan oor ’n verhouding.
Alle mense soek na verbinding, om verstaan te word, om veilig te voel, om een te wees met ’n ander. Dis die diepste verlange agter seksuele verlangens en dade.
En God wys nou vir ons: hy is self die vervulling daarvan.

Sou dit die sleutel wees om ons liggaam, seksuele verlangens, en verhoudings met mense nie net as gevare te sien en af te wys nie, maar om dit die regte plek te gee, nl. in verhouding met God en as verwysing na God?
Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom.
Elke christen, getroud, ongetroud, of nie meer getroud nie, word geroep om God te soek. 
Hy moet ons verlange wees, en laat ons besef dat hy die uiteindelike vervulling is van die groot soektog na identiteit, eenheid, liefde, en geluk.

• Positiewe verlange

Vir ’n christen is dit mos nie genoeg om net te veg teen verkeerde verlangens en verleidings nie. Ons het ’n nuwe doel en ’n nuwe begeerte gekry: ons leef ‘coram deo’: in Gods aanwesigheid.

Mense praat altyd van ‘kyk na die big picture’. Nou, daar is geen groter prentjie, geen groter raamwerk as dit nie: dat jy voor God staan en in verhouding met hom leef.

Probeer maar om dit vir jouself konkreet te maak: met die oë van geloof sien jy jouself voor die troon van God in die hemel staan. 
Jy mag daar staan omdat Jesus vir jou gesterf het. Al jou sondes, alles wat jou van God geskei het, het hy verwyder.
Jy staan in wit, skoon klere voor God. Jy is rein. Jy is pragtig. 
Jy staan nie meer as ’n vyand daar nie, maar as ’n geliefde kind.
En hy kyk na jou met liefde, met instemming, met vreugde, want hy sien sy Seun Christus in jou.

Die Gees wek ’n nuwe begeerte in jou hart: om God te soek, een met hom te wees, en vir hom te leef.

Leef maar vir hom, vry en rein!

Amen

Liturgie: 

1 Korinthiërs 6: 11, 19 en 20