Uitverkiesing. Wanneer ek hierdie woord sê, kom daar baie verskillende gedagtes by mense op. “Dit is daardie leer waaroor ons nie eintlik wil praat nie.” Of miskien dink mense eerder: “Dit is juis iets waaroor ons meer moet praat.” Dit mag dalk gedagtes van ’n arbitrêre God wakker maak, ’n God wat beheer uitoefen – ’n poppemeester. Uitverkiesing. Wat bedoel ons daarmee?
Vandag kom ons by een van die moeilikste en dalk een van die mees bespreekte onderwerpe in die Nederlandse Geloofsbelydenis: die leer van die uitverkiesing. Maar voordat ons begin wil ek eers ’n paar dinge duidelik maak:
Eerstens, iets oor dogma: Alle dogma is belangrik, want alle dogma is prakties. Laat ons nooit daarvan wegvlug nie. Sommige kerke sê dalk: “Ons delf nie te diep in dogma en teologie nie. Dit veroorsaak tog net skeurings.” Hulle beskou soms hierdie vlakheid as ’n deug. Maar hoe meer ek die Bybel lees, hoe minder simpatiseer ek met hierdie standpunt. Die apostels het dogma as uiters prakties beskou. Wanneer Petrus sy brief met die woorde “uitverkore vreemdelinge” begin, glo hy dat dit prakties nuttig is om te weet dat jy deel van die uitverkorenes is. Ek moedig julle dus aan om nie pragmatiste te wees wat leerstellings soos die uitverkiesing verkleineer nie. Wees liewers soos die apostels wat die leer van die uitverkiesing koester en dit aan die begin van hulle briewe plaas, omdat dit so prakties is vir die daaglikse lewe.
Kan dit dalk wees dat die kerk vandag so swak is omdat ons voortdurend praktiese kortpaaie probeer vat? Soos Piper sê: “Miskien is ons bedoel om sterk te wees in geloof en liefde en hoop en vreugde en praktiese diens, nie ten spyte van die leer nie, maar as gevolg van die leer.”
Tweedens, rakende ons gebruik van dogma: Dit is belangrik met ‘n leerstellings soos hierdie een dat ons dit vir die beoogde doel gebruik. Almal van ons het vriende, familie of kollegas wat skynbaar hulle rug op die evangelie van Jesus Christus gedraai het, dikwels as gevolg van Christene se arrogansie. Groei in Christus moet lei tot groter nederigheid, nie groter arrogansie nie. Meer eenheid, nie minder nie!
Jy sien, dit is deel van ons sondige natuur om selfs waarheid van die Woord van God vir eiegeregtigheid te gebruik. Byvoorbeeld met die leer van die uitverkiesing: ons gebruik dit om mense in verskillende kampe te verdeel. Uitverkies en nie uitverkies nie. Dit is die verkeerde gebruik van die leerstelling.
Hoe gebruik ons hierdie leerstelling dus op ’n opbouende wyse? Ons moet dit gebruik op die manier waarop die Bybel dit gebruik: as ’n waarskuwing en as ’n vertroosting. Dit is bedoel om beide 'n waarskuwing te wees vir diegene wat in die verbondsgemeenskap is en dink dat hulle gered word bloot deur deel te wees van die verbond, en terselfdertyd 'n vertroosting vir diegene in die verbondsgemeenskap en bang is dat hulle nie gered sal word nie – of bekommerd dat hulle dit nooit tot in die arms van hul Verlosser sal maak nie.
Nou ja, kom ons kyk na die leer van die verkiesing deur na Romeine 9 te kyk.
Ons verlossing hang af van ons soewereine God wat barmhartig is oor wie Hy wil en verhard wie Hy wil:
- Uitverkiesing as waarskuwing (God is regverdig)
- Uitverkiesing as vertroosting (God is genadig)
Uitverkiesing as waarskuwing (God is regverdig)
Om Romeine 9 te verstaan, moet jy verstaan waar dit staan in die konteks van die boek Romeine. Paulus het verklaar dat alle mense sondaars is en dat ons nie die heerlikheid van God verdien nie. Daar is geen verskil tussen die Jode (die verbondsvolk) of die heidene nie. Almal sondig. Almal is dood in die sonde. Ons het iets soortgelyks bely in Artikel 15 van die Belgiese Geloofsbelydenis.
Dit is van kritieke belang. Om die leer van die sondeval te verstaan voordat ons na die leer van die uitverkiesing kyk. Jy moet die siekte diagnoseer voordat jy dit kan behandel. Op dieselfde manier het Paulus nie 'n voorstelling van universele voorafbestaande onskuld in sy behandeling van die uitverkiesing nie, maar werk hy met idees wat hy reeds in hoofstukke 2 en 3 geformuleer het rakende die universele skuld en veroordeling van die mensdom.
Paulus tref 'n onderskeid tussen diegene aan wie God “genade bewys” en diegene wat Hy “verhard”, wat albei terme is wat verwys na die behandeling van diegene wat reeds skuldig is. Genade beteken onderverdiende guns. En verhard beteken dat hulle reeds aan die begin hard was. Met ander woorde, universele skuld is hier op die agtergrond.
Paulus het tot op hierdie punt verduidelik dat almal deur die geloof in Jesus Christus geregverdig word en dat daar nie so-iets soos verlossing deur die werke is nie. Dan praat hy oor die Christelike lewe in hoofstukke 7 en 8. Hy eindig in hoofstuk 8 af met daardie mooi gedeelte dat niks ons van God se liefde kan skei nie – waarskynlik van die bekendste woorde vir die Christen.
Maar kan jy jou voorstel dat ’n Jood dit moet lees? En dink: “Wat het geword van alles wat God aan ons as sy verbondsvolk beloof het? Jy sê dat niks ons van God se liefde kan skei nie, Paulus, maar dit lyk dan asof ons afgesny is?! Vergeet jy van jou eie volk, Paulus?” Ons kom van die hoogtes van die triomf in hoofstuk 8, tot in die dieptes van die onvervulde verlange in hoofstuk 9. As dit wat Paulus in hoofstuk 8 sê, waar is, moet die vraag van die Joodse volk beantwoord word, en dit is dan oor presies wat Paulus in die volgende hoofstukke, 9-11, doen.
Ons vind die sleutel wat hierdie gedeelte ontsluit in vers 6a, waar gestel word: “Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie;”. Nee, glad nie. Paulus gaan verder: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.” Net omdat jy nageslag van Abraham is, beteken nie dat jy deel van die familie is nie. Dit het nie oor die DNA van Abraham gegaan nie – maar oor die een wat die belofte ontvang het!
Dit was nie Abraham wat besluit het wie tot God se familie behoort nie; dit was God alleen! Paulus bewys dit deur aan te toon dat nie alle kinders van Abraham werklik deel van die gesin was nie. Dit was God wat gekies het. Dit is die belangrikste punt van Paulus hier. Israel, jy aanvaar dit as vanselfsprekend dat jy gered is, omdat julle kinders van Abraham is. Dit was nog nooit die geval nie! Kyk na jou geskiedenis. Ismael en Isak het albei sy DNA gehad. Isak het die belofte ontvang. Of gaan een geslag verder: selfs die tweeling wat uit dieselfde seksuele daad gebore is en die baarmoeder gedeel het: die een is gekies, die ander een nie. Dit is nie jou werke, jou DNA, jou herkoms of jou familie wat jou red nie. Nie jou Joodsheid, Nederlandsheid, Afrikaansheid of VGK-heid wat jou red nie. God red jou.
Hy maak daardie punt in vers 11b: “. . . dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep”. En weer, in vers 16: “So hang dit nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.”
Wat is genade? Onverdiende guns. Ons kry nie wat ons verdien nie. Hy het die volste reg om almal onder veroordeling te laat staan. God het nooit vir Abraham gekies omdat Abraham so goed was, of omdat sy nakomelinge so goed was, of omdat hulle dit so graag wou gehad het nie – maar omdat God barmhartig was. Moenie aanvaar dat jy gered is as gevolg van enige ander rede behalwe die genade van God nie – en rus en leef en werk daarin.
Dus, dit is ’n waarskuwing vir ons . . .
Maar selfs in sy geregtigheid sien jy sy genade. Jy kan dit sien in die voorbeeld wat hy gebruik: Hy het Farao se hart verhard sodat sy volk in Hom sou glo en Hy verheerlik kon word! Maar voordat God Farao se hart verhard het, was hy nie onskuldig nie. Hy is in sonde gebore. Ons moet dit duidelik maak. Hy het die doodstraf verdien; die bloed van duisende babas was op sy hande nog lank voordat God sy hart verhard het.
Ons sien dit ook in die verharding van Israel. Hier spel hy dit duidelik uit in verse 22-24: “En as God, al wil hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?”
Die “wat as?” word nie voltooi nie, wat daartoe lei dat die leser die gevolgtrekking moet maak. Dit is noemenswaardig dat Paulus nie ’n eenvoudige dogmatiese stelling oor God se doel en voornemens maak nie, maar dit slegs as ‘n moontlikheid voorstel. Die punt is nie dat God in werklikheid die ongelowige volk Israel sal gebruik om sy toorn en mag te toon nie, of dat die ongelowige Israeliete as voorwerpe vir vernietiging afgeskryf moet word nie, maar dat mense nie in staat sou wees om te oordeel nie!
Want sien, dit is ’n waarskuwing aan Israel! Jy kan nie God speel en sê wie verdien om gered te word en wie nie. Jy kan nie sê nie: “Ons verdien dit en hulle nie!” Wat as God besluit dat Hy jou sal verhard sodat Hy daardie mense kan red van wie jy gesê het dat hulle nooit verdien om gered te word nie! Moenie maak asof jy dit verdien nie. Dit is God wat kies. Al jou waarde, jou inspanning, jou herkoms—niks—kan jou red nie, behalwe God en Hy alleen. Genade alleen.
Maar Hy verhard nooit of bewys aan iemand barmhartigheid sonder ’n definitiewe doel nie. Sommige mense het hierdie idee dat hy net lukraak kies. Nee, God is nooit lukraak nie. God het nie ’n muntstuk opgegooi en besluit: “kop” = jy gaan hemel toe, “stert” = jy gaan hel toe” nie. Nee! God het hierdie een en daardie een elkeen op hulle naam geroep; en Hy het bewustelik hierdie een en daardie een, elkeen op hulle naam, verbygegaan. En dit was volgens sy welbehae, lees ons in Efesiërs! Dit het Hom behaag om sommiges, uit die poel van hel-verdiende sondaars, vir verlossing te kies. God se keuse is nie deur kragte buite Homself gedryf nie. God het nie opgetree om aan die een of ander eksterne reël te voldoen nie.
Ek dink dit is hier waar die sondige mensdom struikel. Ons hou eenvoudig nie daarvan dat God soos God optree nie: Ons hou eenvoudig nie van die idee dat die rede vir God se keuses geheel en al by God lê nie. En ons kan nie in die gedagtes van God kom nie. Ons raak gefrustreerd. Net soos wanneer jy vir jou man vra waaraan hy dink en hy antwoord: “Ag, niks nie,” en jy dan net só graag in sy brein wil klim. Of wanneer jou kind iets doen wat nie so goed is nie, en jy dan vir hom vra: “Wat dink jy doen jy?!” Ons wil hê dat hulle rekenskap gee van hulle besluit.
Op daardie selfde manier wil ons hê dat God rekenskap moet gee van sy besluit. Ons wil dit verduidelik, dit rasionaliseer, dit begrond en dit regverdig. Ons wil in staat wees om te wys na iets buite God wat sy optrede verklaar. Ons wil wys op hierdie kwaliteit of daardie persoonlikheidseienskap of die een of ander prestasie in die een wat nie in 'n ander is nie as die grondslag vir God se besluit nie.
Moenie bekommerd wees nie; jy is nie alleen as jy nie hiervan hou nie. Mense het dieselfde vrae aan Paulus gevra in vers 19. Hy beantwoord die vrae met ander vrae soos: Wie is ons? Is ons God? God is goed. Hy het ’n doel met alles. Sy doel is goed. Maar moet Hy ons altyd antwoord? Sou ons dit ooit verstaan het? Die feit dat ons dink dat dit iets buite God moet wees, wys dat ons steeds wil hê dat die mensdom die beslissende party moet wees, en dat ons nie verstaan hoe sondig ons is nie.
Maar as God kies, wat is die punt van geloof? En hier kom dan ons tweede punt.
Uitverkiesing as vertroosting (God is genadig)
Die Evangelie gaan uit na almal, en almal wat glo is uitverkies. Hier wil ek begin met ’n parafrase van Spurgeon:
“Ek wil nou een vraag aan julle vra. Is daar enigiemand hier vanoggend wat gered wil word? Wat nuut gemaak wil word? Wat gevul wil wees met vreugde?”
“Ja, daar is,” sê iemand, “ek wil.” Dan het God jou uitverkies.
Maar iemand anders sê: “Nee, ek wil nie heilig gemaak word nie; ek wil nie my luste en euwels (sonde) agterlaat nie.” Hoekom sal jy dan kla en sê dat God jou nie uitverkies het nie? Want as jy uitverkies was, sou jy daarvan gehou het nie...
As jy nie wil nie, watter reg het jy dan om te sê dat God vir jou dit moes gee wat jy nie wou hê nie? Veronderstel ek het iets in my hand wat jy nie wil hê nie, en ek het vir jou gesê dat ek dit vir hierdie of daardie persoon sal gee, dan het jy geen reg om te kla as ek dit nie vir jou gee nie. Dit is dwaas om kwaad te wees omdat iemand iets gekry het wat jy nie wou gehad het nie. Volgens jou eie belydenis, wil baie van julle nie ’n nuwe hart en ’n opregte gees hê nie, wil baie van julle nie vergifnis van sonde hê nie, nie heiligmaking ontvang nie; julle wil nie uitverkies word vir hierdie dinge nie: waarom dan, kla julle?
As jy glo dat dit goed is en daarna verlang, dan is dit beskikbaar vir jou. God gee vrylik aan almal wat dit begeer; en eerstens wek Hy by hulle daardie begeerte, anders sou hulle dit nooit begeer nie. As jy hierdie dinge liefhet, het Hy jou daartoe uitverkies, en mag jy dit ontvang; maar as jy dit nie liefhet nie, wie is jy dat jy fout sou vind by God, wanneer dit is jou eie desperate wil is wat jou daarvan weerhou om hierdie dinge lief te hê—jou eie eenvoudige self wat jou hierdie dinge laat haat?
As enigeen van julle graag deur Jesus Christus gered wil word, dan kies Jesus Christus om jou te red. As enigeen van julle opreg verlossing begeer, word jy verkies om dit te ontvang.
Geliefde gemeente: God is genadig! As jy vandag begeer om gered te word, dan is jy gered! Jy is uitverkies! En Hy het die geskenk van begeerte aan jou gegee! En as Hy dit gedoen het, en sy uitverkiesende liefde op jou gelê het, vrees dan nie, kind van God, want geen hede of toekoms, engele of bose geeste, geen kragte of enigiets anders in die hele skepping sal jou van sy liefde skei nie. As sy uitverkiesende liefde op jou gelê is, dan sal dit jou huis toe dra.
Is dit nie wonderlik nie?! En dit is ’n groot vertroosting! Die apostels gebruik hierdie leer baie mooi. Kyk byvoorbeeld saam met my na 1 Petrus 1:2. Wat Petrus hier doen is om vir ons drie dinge van die Goddelike uitverkiesing te leer. Dit alles vind ons in die eerste sin van sy brief—dit is hoe belangrik dit is! Wonderlik! En as daar mense is wat hierdie leerstelling nodig het, dan is dit die kerk wat oor die hele wêreld versprei is, wat groot swaarkry en vervolging verduur.
Daar is drie frases in vers 2 wat ons oor die uitverkiesing onderrig. (1) Ons word uitverkies “volgens die voorkennis van God.” (2) Ons word uitverkies “in die heiligmaking van die Gees”. (3) Ons word uitverkies “tot gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Jesus Christus”.
Petrus wil graag hê dat jy jou lewe in die wêreld in verhouding tot God moet verstaan. Hy wil hê dat jy jou hele lewe op 'n sekere manier aan God verbind het. God wat agter jou staan en jou uitkies. God wat voor jou uitgaan en die weg vir jou voorberei. God wat in jou is en jou versterk in jou besluit om op hierdie pad te wandel!
In die eerste plek is jy volgens die voorkennis van God die Vader uitverkies. Die Vader van die skepping – die oneindig goeie, liefdevolle, almagtige Vader het gekies om jou lief te hê. Die Vader se uitverkiesende liefde staan agter jou. Maar nie net is sy uitverkiesende liefde agter jou nie, maar dit is ook binne-in jou—deur die Gees—wat ’n seël is dat jy God as jou Vader het. Maar dit gaan jou ook vooruit dat dit jou lot is om Jesus Christus te gehoorsaam en om toevlug te vind in sy bloed aan die kruis.
Hy plaas die uitverkiesing agter jou. Hy plaas die uitverkiesing binne-in jou. Hy plaas die uitverkiesing voor jou. Dit is wat daardie drie frases sê. Agter jou is die basis van God se uitverkiesing; binne-in jou is die ervaring van die uitverkiesing; voor jou is die bestemming van die uitverkiesing. Petrus gooi ons toe onder die uitverkiesing. Hy wil regtig graag hê dat ons dit moet verstaan. Om daaruit te leef, om daarin te leef en om daarvoor te leef. Om ons roeping en uitverkiesing te verseker! Ons uitverkiesing is gewortel in die voorkennis van God die Vader. Ons uitverkiesing word ervaar deur die heiligmakende werk van die Gees. En die doel van ons uitverkiesing is dat ons aan Jesus Christus, die Seun van God, gehoorsaam sal wees.
Wat hieruit duidelik blyk is dat Petrus nie woorde weggooi nie. Alles word gekies om ons in God te laat bly. En die beste manier om ons in God te laat bly, is om die leer van die verkiesing, met sy oorsprong uit die verlede en sy huidige ervaring sowel as sy toekomstige doel, by ons tuis te bring, en om aan te toon dat die volle Drie-eenheid van begin tot einde by jou lewe betrokke is. Dit is alles God van begin tot einde! Dit is 'n groot troos vir my, 'n struikelende heilige! Ek hou aan om na God te kyk. God, U het my geroep! Gee my wat U van my vra! En Hy doen dit ook!
Dus, om terug te keer na die inleiding: Is dit nie wonderlik dat die apostel van die Here Jesus, wat vir die struikelende kerke in hulle beproewing en nood skryf, begin met so ’n diepgaande lering oor die Goddelike uitverkiesing, nog selfs voordat hy sy groet oordra nie? En tog wil baie mense vandag nie “ingaan op die teologie” nie.
O, geliefde gemeente, hierdie leer help ons om God te verstaan, om ons verlossing te verstaan, en om versterk te word in die donkerste tye! Saam met Dawid kan ons sê: “U sluit my in van agter en van voor!”
Laat ons mekaar dus waarsku wanneer ons sien dat iemand laks word in die geloof: “Maak julle roeping en verkiesing vas!” En vertroos mekaar wanneer iemand sukkel in die geloof: “Niks kan jou skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.”
Amen.