Die Heilige Gees is ons trooster en helper

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-05-28
Text: 
Johannes 14: 16-17
Reference: 
2320b
Preek Inhoud: 

@VGKJoburg, 21 mei 2023 nr [2320b]

Doelwitte vir hierdie preek:
-ons verstaan hoe Jesus die eerste trooster is;
-ons verstaan hoe die Heilige Gees vir ons ’n trooster is;
-ons sien raak hoe dit ’n impak op ons lewe het;
-ons word aangemoedig om die Bybel te gebruik;
-ons verlang na ’n diepere verhouding met Gods Gees.

Inleiding
Kinders, as jy seergekry het, wat maak jy?
Jy huil, jy hardloop na jou ma of jou pa, en hulle troos jou.

Dink jy dat grootmense ook getroos moet word?

Vandag vier ons fees: die Heilige Gees het gekom, hy is uitgestort op die kerk van Jesus, en hy woon in ons harte en in ons midde.
Om te verstaan watter verskil dit maak, hoe die Heilige Gees werk, gebeur nie outomaties nie. Ons het hulp nodig. Reeds voordat hy gesterf het, het Jesus met sy dissipels gepraat om hulle voor te berei op sy sterwe en op sy vertrek.
Ons lees bekende woorde: “Ek sal vir julle ’n ander trooster gestuur, die Heilige Gees.”

Omdat Jesus weggaan, het die 12 dissipels en ons almal ’n ander trooster nodig.
Dus dit is nie net kinders wat troos nodig het nie. Grootmense het dit ook nodig! 
Die trooster is vir almal wat Jesus volg.

Wanneer het ons troos nodig? Is dit net wanneer ons verdrietig is?
Vandag wil ek daardie vraag beantwoord: hoekom het ons troos nodig, en hoe gee die Heilige Gees dit?

Tema: Die Heilige Gees is ons trooster en helper
1. Hoekom ons ’n trooster nodig het;
2. Die Helper bring ons altyd na Jesus.

1. Hoekom ons ’n trooster nodig het

Jesus sê: ek sal ’n ander trooster stuur om by julle te bly tot in ewigheid.
’n Ander een: dus Jesus was ook ’n trooster vir die 12 dissipels, toe hy op aarde was. Hoe was hy ’n trooster vir hulle gewees?

Eerstens moet ons uitvind wat hierdie woord ‘trooster’ beteken.
Ek weet nie of julle Bybelvertalings vergelyk nie. Dit kan jou help om nuwe dinge te ontdek. Woorde kan meerdere betekenisse hê.
Die 2020 vertaling vertaal die woord wat Jesus gebruik nie regtig nie: ‘parakleet’ is eintlik’n letterlike weergawe van die Griekse woord. 
Dit beteken trooster, pleitbesorger/advokaat en helper.

Tydens sy lewe op aarde het Jesus vir sy dissipels gebid, dat hulle geloof nie sou ophou in beproewings nie (Luke 22,31-32). Hy was dus hulle pleitbesorger.

•  Jesus die eerste helper en trooster

Hy was ook ’n helper en trooster.
Almal van ons ken seker wel die belofte van Matthéüs 11. Dalk het jy dit gememoriseer:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (v.28)
(en: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.)

Dis omtrent die bekendste belofte van Jesus. Dit bemoedig baie christene.
So is hy ook aangekondig in Jesaja:
Jahweh het My ’n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; (Jesaja 50:4)
Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. (Jesaja 40:29)

Jesus het daardie beloftes oor die Messias vervul. Die vermoeides verkwik hy en gee hy krag en rus.
Dit wys dat Jesus ook ’n helper en trooster was.

•  Redding van sonde

In Matthéüs 11 roep hy dus almal wat vermoeid is, om na hom toe te kom en rus te vind.
In die heel eerste plek gaan die oor die verwoestende invloed van sonde.
Almal wat sonde doen, hardloop van God af weg. Jy leef nie meer uit God nie, maar uit jy eie krag. Maar dan verloor jy altyd: die sonde wen, en die loon van die sonde is die dood, wat nou reeds die sondaar se lewe stukkend maak en hom alle hoop ontneem.
Jesus het aan die kruis versoening bewerk. Almal wat met sy sondelas na hom toe kom, ontvang vergewing. En boonop vryheid, hoop, nuwe kragte, en blydskap.

Hy het dit tydens sy lewe alreeds vir sy dissipels gedoen. En deur sy dood het hy dit vir ewig gewaarborg.

•  Die ander trooster

Maar toe Jesus na die hemel gegaan het, was die taak van trooster nog nie voltooi nie. Alle gelowiges het daardie helper en trooster nodig in ons stryd teen die sonde. En ongelowiges het ook die helper en trooster nodig om vry te raak van die sondes.

Die dissipels se behoefte aan ’n trooster en ’n helper het sterker geword toe Jesus weggaan. Toe hulle agterbly, kon hulle begin en dink ‘nou is ons op ons eie, en ons het soveel vyande! Hoe gaan ons dit maak?’

Wie gaan die trooster wees wanneer Jesus in die hemel is?
Jesus kondig dit reeds aan voordat hy gaan sterwe, sodat hulle nie bekommerd sou wees en moed sou verloor nie.
Ek sal ’n ander trooster stuur om by julle te bly tot in ewigheid, die Gees van die waarheid.

Die belofte was vir hulle spesiaal dus nodig na die hemelvaart.
Maar Jesus maak ook duidelik dat elke dissipel, elke volgeling van Jesus, die Gees ontvang en nodig het. Hy sê mos: “om by julle te bly tot in ewigheid”.
Die 12 apostels verteenwoordig die kerk van Jesus in al die eeue wat nog gaan kom.
Hierdie belofte is vir ons almal! 

Hy laat sy geliefdes nie as wese op aarde agter nie. Die Heilige Gees woon in ons harte. Hy is die trooster en helper wat ewig by ons sal bly.

2. Die Helper bring ons altyd na Jesus

•  Die Gees verheerlik Christus

Ons het in Johannes 14 ook ’n ander vers gelees wat ons leer hoe die Gees werk: 
“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” vers 26
In dieselfde gesprek, in hoofstuk 16 vertel Jesus meer oor die Heilige Gees:
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.
Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”
(verse 13-14)

(Dis maklik om te onthou: Johannes 14,16 en 16,14 behoort by mekaar!)
Saam gee dit die volgende boodskap: die trooster sal Jesus verheerlik.

Die drieëenheid beteken dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees een is. Die NT help ons om in die geheim deur te dring. Die Heilige Gees verheerlik Christus. Hy maak bekend wat Jesus gedoen het en wat dit beteken, en hy gee geloof, sodat mense dit aanneem en vir Jesus gaan lewe.

•  By die apostels

Dit het hy in die apostels gedoen deur na die Pinksterdag vir hulle begrip te gee, sodat hulle Jesus se werk op aarde sou verstaan. Toe Jesus by hulle was, het hulle baie dinge nie verstaan, nie geglo, en nie onthou nie. Maar na die Pinksterdag het hulle insig ontvang, en het die apostels oortuigde heroute geword van Jesus se lyding en opstanding. Hulle het geleer hoe Jesus die vervulling van al Gods beloftes is, hoekom hy gely het, en wat sy lyding, sterwe en opstanding vir gelowiges en die wêreld beteken. Alles wat jy lees in die briewe van die NT is insigte wat die Heilige Gees vir hulle gegee het. So het hy Christus verheerlik.

•  Hoe dit ons help dat hy ons op Jesus rig

Dit is steeds die werk van die Gees, ook in ons tyd. Hy verheerlik Christus. Dit doen hy deur ons te laat verstaan wat Jesus vir ons beteken. En vir die res van ons lewens is hy besig om ons aandag heeltyd op Jesus te vestig. 

So kan ons verstaan hoe die Heilige Gees ’n trooster en ’n helper is vir elke christen.
Wanneer jy die Bybel vat en daarin lees, en verwag dat jy lewe en krag daarin vind, dan is dit die werk van die Gees in jou hart. Sonder hom sou jy nie eers belangstel nie.

Hy help ons om Jesus se woorde te onthou telkens wanneer ons dit nodig het:
-  Wanneer jy gesondig het, hou hy die offer van Jesus aan jou voor, wat hy gebring het om jou sondes te versoen. Dit gee jou vrymoedigheid om God te vra dat hy jou sondes vergeef. Telkens weer hou hy die beloftes van God aan jou voor en herinner jou dat jy God jou só liefhet, dat hy jou sondes vergeef. Voortdurend plaas hy die reddingswerk wat Jesus vir jou gedoen het, die kollig, sodat jy dit glo en na hom toe vlug.
-  Ook gee hy kragtige aansporings om Jesus te gehoorsaam, juis vanweë die redding wat Jesus vir jou bewerk het. Die Heilige Gees hou ook die bevele van God aan ons voor, om die sonde te haat en te ontvlug, en om ’n heilige lewe te leef, uit Christus. En hy hou dit nie net aan ons voor nie, maar hy maak dat ons dit ook doen, in die krag van Christus.
-  Wanneer jy verlate en eensaam voel, of wanneer die kerk aangeval word en dit lyk asof die vyand te sterk is en die kerk selfs kan verdwyn, herinner die Gees van Christus ons daaraan dat Jesus beloof het “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (in Matthéüs 28). En hy gee nie net kennis oor Christus wat ons aandag op Jesus rig nie, maar hy maak Jesus se aanwesigheid ’n werklikheid: Jesus woon deur sy Gees in ons midde en in ons harte. Mense noem die Gees ook wel die ‘brug-bouer’: hy verbind ons aan Christus.

•  Eenheid van die werk van die Gees en Jesus

Onthou dus: die werk van die Gees as trooster en helper is volledig verweef met Jesus se reddingswerk en sy aanwesigheid.
Die Gees is dus die opvolger van Jesus, maar nie die vervanger, asof Jesus nou in die verlede is en ons net die Gees het. Wanneer mense van die tydperk van die Gees praat, moet ons besef dat dit teselfdertyd die tydperk van Christus is. Alles wat hy op aarde doen, doen hy deur sy Gees.

•  Herken die werk van die trooster in Hebreërs 12

Nou wil ek saam met julle die begin van Hebreërs 12 lees:
(…) laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

Ons word aangespoor om die oog gevestig te hou op Jesus. Die gevolg daarvan is, dat ons nie in ons siele vermoeid word en verslap nie.
Herken jy die werk van die Gees?
Hy rig ons aandag op Jesus. As jy dus hierdie bevel wil gehoorsaam en jou oog gevestig op Jesus wil hou, vra dan dat die Gees van Jesus dit in jou sal doen. 
As jy nog nie die spore van die Gees in jou lewe sien nie, bid dat God die Gees rykelik vir jou sal gee.
As jy reeds ’n gelowige is en die werk van die Gees in jou raakgesien het, vra vra dan dat die Gees in jou oorvloedig en kragtig werk. Moenie die Gees bedroef deur hom en Christus te ignoreer nie, maar klop aan Gods deur in gebed, dat hy jou met sy Gees sal vervul. Dan sal Jesus vir jou meer en meer ’n werklikheid word in jou lewe en woon hy rykelik in jou.

•  Jesus in die sentrum

Hier sien jy ook duidelik hoe die Gees ons aandag op Jesus rig. Kyk hoe prakties hy die werk van Christus op jou lewe toepas: Jesus het die kruis verdra en die skande verag, omdat hy daaruit vreugde sou ontvang. Hy is beloon met die hemelvaart: dit is sy troonsbestyging, hy regeer nou in heerlikheid. Hierdie waarhede oor Christus versterk ons wanneer ons in die wedloop struikel, deur sonde en teenstand en ontmoediging.

In jou stryd teen sonde en ontmoediging, as jy moeg word of dink dat dit nie sin maak om Jesus te volg nie, wys hy jou wat Jesus vir jou gedoen het en hoe hy die lyding en skande gedra het, sodat hy nou in heerlikheid regeer. Die gevolg is, dat ons nie in ons siele nie vermoeid word en verslap nie.
Herken jy die trooster? Dis hoe hy ons help om staande te bly in ons stryd as christen, en om die wedloop te voltooi en in die heerlikheid van Jesus te deel.

•  Wat dit prakties in ons lewens beteken

Kan jy dit in jou eie lewe raaksien?
Het jy al die vermoeidheid gevoel, en was / is jy besig om te verslap in jou toewyding aan Christus?
Is daar sondes in jou lewe wat jy so gereëld doen, wat só taai is, dat jy dink ‘ek kan dit nie oorwin nie. Dis maar wie ek is.’? Dan hou jy op om daarteen te veg, en berus jy in jou sondige hart, omdat jy deur die aantrekkingskrag van die sonde oorweldig is.
Dit is in daardie momente dat ons die Gees as trooster en helper nodig het, om ons oog gevestig te hou op Jesus en nie in ons siele vermoeid te word en te verslap nie.
As jy verslae en platgeslaan is deur lyding, siekte, teenslag, depressie, en as die dood jou jou geliefdes ontneem, troos die Gees jou met Jesus se aanwesigheid, met sy krag, met die heerlikheid wat Jesus vir jou sal gee.

As jy vermoeid voel omdat omdat jou daaglikse werk niks oplewer nie, of omdat niemand jou werk raaksien nie, dan troos die Gees jou dat jy jou werk vir Christus doen.

As jy te lang en teveel gewerk het, en jou liggaam of gees dit nie kan hanteer nie, is die Gees jou helper, om rus te vind en veranderings te maak. En hy herinner jou aan Christus se verdienste, sodat jy nie dink dat jou lewe minder waarde het as jy minder werk kan verrig nie.

Ek is seker jy kan dit self aanvul met voorbeelde uit jou eie lewe. Die Gees is ons trooster en helper!
Op soveel verskillende maniere is hy die vervulling van die belofte: 
Ek sal ’n ander trooster stuur om by julle te bly tot in ewigheid.

•  Aansporings

Ek wil tenslotte twee aansporings gee:
-  Die eerste is: gebruik die Bybel.
-  Die tweede is: verlang na die Gees.

Gebruik die Bybel, want alle dinge wat ek genoem het oor die werk van Christus, alles wat die Heilige Gees onder ons aandag bring, is in die Bybel.
Verlang daarna om Jesus beter te leer ken. As jy troos nodig het, moet jy nie net bid ‘Heilige Gees, vertroos my asb’ nie, maar teselfdertyd die instrument aangryp wat hy gebruik: die Bybel.
Die werk van die Gees is die rede hoekom ons aansporings en bevele in die Bybel lees: ‘laat die Woord rykelik in julle woon’. Die Gees maak jou lewend en verander jou wil. Daarom is dit ook ’n bevel wat jy moet gehoorsaam.

Die tweede is: verlang na die Gees!
As jy besef dat jy die vertroosting van die Heilige Gees nodig het, verlang daarna dat hy in jou oorvloedig en kragtig werk. Bid daarom: ‘Vervul my met u Gees, Here.’
Bid dat hy jou sal help om hom raak te sien, om dankbaar te wees vir sy werk, én om te leef in die verhouding met die Heilige Gees. Want hy is ook ’n persoon, soos Jesus. Hy is nie ’n krag wat jy net kan laai en gebruik nie.
Jy mag hom as ’n persoon aanspreek en daarna verlang dat jou verhouding met hom sal groei. Jy mag dit selfs ’n vriendskap noem, die beste een in jou lewe. Want niemand is ’n beter vriend as die Gees van Jesus, wat jou hart ken en jou troos.
[ Die Puritein Richard Sibbes sê dit so: “There is nothing in the world so great and sweet a friend that will do us so much good as the Spirit, if we give him entertainment,”  ‘Entertaining the Spirit’ is nie iets waarmee ons vertroud is nie. Hy bedoel daarmee dat jy die Gees verwelkom en jou vriendskap met hom koester en bou. (A Puritan Theology. Doctrine for Life, by Joel R. Beeke and Mark Jones, p. 573.)] 

Amen

Liturgie: 

Seëngroet
Psalm 117;

Geloofsbelydenis;
Skrifberyming 27:4

Lees:
Johannes 14;
Hebreërs 12:1-4

Skrifberyming 22: 1, 9-11.

Preek: Johannes 14: 16-17
Psalm 121

Gebed
Kollekte
Skrifberyming 20:4,5,7,8

Seën.