Sondag 8 van die Kategismus vestig ons aandag daarop dat die Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n trinitariese indeling het.
Die 12 artikels van ons geloof is elkeen gefokus op God Drieënig – Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons ken hierdie drie Persone omdat die Skrif hulle aan ons openbaar.
Elkeen word geopenbaar in die konteks van wat Hulle vir ons beteken.
Die Vader is ons Skepper.
Die Seun is ons Verlosser.
Die Heilige Gees is ons Vernuwer, Hy werk in ons die heiligmaking.
In kort, die fokus van die 12 artikels is, net soos die Skrif, die eer, lof en aanbidding van God Drieënig.
Ons mag vanaand fokus op wie God is, hoe Hy Hom aan ons bekend gemaak het, en ek bring u die blye boodskap oor Hom met die volgende tema:
Tema: Die kerk van Christus bely die Drieëenheid van God
1 Ons verwerp menslike teorieë
2 Ons aanvaar die Goddelike Openbaring
1 Ons verwerp menslike teorieë
As mens vandag teologie studeer aan ‘n sekulêre universiteit, sal die Drieëenheid beslis ook aan die orde kom.
‘n Baie algemene manier hoe dit deesdae uitgelê word, is vanuit ‘n ewolusionistiese oogpunt.
Soos u weet, die ewolusionisme word deesdae in alle vakgebiede geïnkorporeer, of dit nou medies is, sosiologie, psigologie, geologie en ook in die teologie.
Dan dink ek nie net aan die klassieke skeppingsleer wat verander word in ‘n ewolusionistiese proses nie, maar ek dink ook aan die leer van die Drieëenheid.
Ook dit word uit ‘n ewolusionistiese perspektief benader.
Kyk, tipies vir die ewolusionistiese denke is dat iets ontwikkel van primitief na meer gevorderd.
Hierdie basiese benadering word op alles toegepas.
Die verlede was primitief, die hede is meer gevorderd, en in die toekoms gaan dinge net nog beter raak.
Die Godsleer word ook in hierdie raamwerk ingepas.
Kom ek verduidelik.
Volgens die ewolusionistiese teologie was mense se geloof in die verlede primitief.
Hulle was sogenaamde animiste.
Hulle het in baie gode en natuurgeeste geglo.
Dinge in die natuur het hulle vergoddelik, soos diere en bome en natuurlik die son, maan en sterre.
So het die primitiewe mens baie gode gehad.
Hulle was – soos die benaming sê – politheïsties – ‘n veelgodendom.
Op ‘n stadium in die verlede het daar egter ‘n ontwikkeling op gang gekom rigting monotheïsme, wat beteken die geloof in slegs een God.
Die Jode het hierin ‘n belangrike rol gespeel.
Hulle was een van die eerste volke wat slegs een God begin aanbid het.
Dink aan hoe hulle met hulle monotheïsme die land Kanaän binnegekom het, waar die Kanaäniete nog ‘n verskeidenheid aan gode aanbid het.
Nou wat is die volgende stap van ewolusionêre ontwikkeling wat volg op monotheïsme?
Hiervoor spring die ewolusionistieste teoloë ‘n paar duisend jaar verder in die geskiedenis, beginnende by die Renaissance, aan die einde van die Middeleeue.
Toe het ‘n beweging in Europa op gang gekom, danksy alle menselike uitvindings, wat God al hoe meer na die agtergrond gedring het.
Dit word beskryf as die Deïsme, of Rasionalisme.
Mense het God al hoe minder nodig gehad.
God het soos ‘n horlosiemaker geword.
Aan die begin het hy die klok gemaak en aan die gang gesit, maar daarna tik dit voort sonder dat hy heeltyd daarby hoef te wees.
So het God alles geskape, maar daarna funksioneer die heelal onafhanklik volgens sy eie natuurwette.
En daarna, volgens hierdie teorie, was die volgende ewolusionêre stap die ontwikkeling rigting Atheïsme.
Die mens meen dat hy eintlik nie eers ‘n god nodig het nie.
Meer nog, die mens raak bewus dat daar eintlik nie eers ‘n god bestaan nie.
Alles het toevallig ontstaan en het daarna volgens ewolusionêre natuurwette ontwikkel.
In die verlede het mense behoefte aan ‘n god gehad, omdat hulle onseker en onmagtig gevoel het met al die natuurkragte om hulle heen.
Deesdae ken mense al die natuurwette.
Hulle kan dit selfs beheer en manipuleer.
Dus deesdae het die mensdom nie meer ‘n god nodig om hulle te beskerm nie.
Dit is, gemeente, in kort die ewolusionêre benadering tot die Godsleer deur die geskiedenis heen.
Van politheïsme na monotheïsme na deïsme na atheïsme.
Met die gevolg dat vandag se teologie basies nie meer oor God gaan nie, maar oor mense se gedagtes.
Dit is nie meer transendent nie, dit het gedagtes geword van mense oor mense vir mense.
Nou hoe pas die leer van die Drieënheid, soos ons dit spesifiek in die Nuwe Testament vind, in binne hierdie ewolusionistiese raamwerk?
Wel, dit is op ‘n manier ‘n tameletjie.
Want na die monotheïsme wat binne die Joodse volk ontwikkel het, was – binne die ewolusionistiese model – die Drieëenheid van die Christendom eintlik weer ‘n agteruitgang rigting die politheïsme, die veelgodendom.
Want waar die Jode klem daarop gelê het dat daar slegs een God is, het die Christene drie gode begin vereer.
Tussen hakies, dis natuurlik nie so nie, want met klem stel die Belydenis van Athanasius: Daar is nie drie gode nie, maar een God.
In elk geval, binne die ewolusionistiese raamwerk was die Christendom dus ‘n agteruitgang.
Vooruitgang het eers weer gekom met die deïsme en atheïsme.
Om saam te vat, wie deesdae aan ‘n sekulêre universiteit teologie studeer, kry hierdie ewolusionistiese raamwerk waarbinne hy moet dink, en dan is die Westerse atheïsme basies die hoogste trap wat die mensheid tot dusver bereik het.
Dit is daarom nie verbasend nie dat baie mense in Europa hulle geloof vaarwel sê en atheïste word.
Hulle is oortuig dat dit die volgende logiese stap is in die ontwikkeling van die mensdom.
En ja, as jy die ewolusionisme aanneem, dan is atheïsme die logiese gevolg daarvan.
Wie ‘n ewolusionis wil wees en ‘n Christen, is inkonsekwent.
Nou verbaas dit ons glad nie dat hierdie benadering haaks op die Bybel staan nie.
Wie besef dat die ewolusionisme ‘n wêreldbeeld is wat begin rammel as streng historiese en wetenskaplike eise gestel word, en wie bereid is om oopkop die geskiedenis en die Bybel te benader, kom by ‘n heel ander verklaring uit, selfs heeltemal die omgekeerde.
Want in kort, die godsdienstige ontwikkeling van die mensdom het begin nie by meergodendom nie, maar by monotheïsme.
Dit was mos in die paradys toe die enigste God vir Adam en Eva geskape het.
Daar het die eerste mense slegs een God gedien.
Daarna, na die sondeval, het sommige mense blywend hulle rug op hulle Skepper gekeer.
Kaïn en sy nageslag het toenemend hulle vertroue op ander dinge begin stel, soos die son, maan en sterre, diere, noem maar op.
In teologiese terme: veelgodendom – politheïsme – was dus ‘n degenerasie wat in die loop van die eeue plaasgevind het omdat die mensdom steeds verder van die ware God hulle Skepper af weggedwaal het.
Reformasie – wat die omgekeerde is van degenerasie – het slegs plaasgevind daardie momente in die geskiedenis toe God persoonlik ingegryp het.
Dink aan die sondvloed.
Nadat God die afvallige mensdom met die sondvloed gestraf het, het Hy met Noag en sy gesin ‘n nuwe begin gemaak.
In die eeue daarna het die mensdom egter weer afgewyk, gedegenereer.
Reformasie het eers weer gekom toe God vir Abraham geroep het uit Ur van die Chaldeërs, daar anderkant die Eurfraat, waar hy en sy vaders ook weer ander gode – let wel: meervoud – gedien het.
Vir ‘n tyd het Abraham se nageslag die enigste God trou gedien, maar met verloop van tyd het degenarasie weer ingetree.
Die Israeliete in Egipte het ook die gode van Egipte begin dien.
Na vier eeue het die HERE weer reformasie geskenk, toe Hy sy volk bevry het uit Egipte.
Hy het aan hulle by Horeb verskyn, en het hulle goed ingeprent dat Hy die enigste God is en dat daar niemand naas Hom is nie:
“Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut 6:4-5)
Vir hulle toekomstige lewe in die beloofde land het Hy hulle op die hart gedruk, die eerste gebod: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” (Deut 5:7)
Ons ken die geskiedenis wat daarna gevolg het, keer op keer het God se volk weer teruggeval in die dien van ander gode, Baäl, Astarte, noem maar op.
Dit is dus die patroon wat ons deur die geskiedenis sien:
Monotheïsme wat afwater tot politheïsme, totdat God genadelik weer reformasie skenk.
Die natuurlike tendens is dus nie ontwikkeling, ewolusie nie, maar dewolusie, degenerasie, deformasie.
Slegs as God ingryp is daar weer terugkeer tot Hom as die enigste ware God.
Toe die sendelinge twee honderd jaar gelede die binnelande van Afrika ingetrek het, het hulle daar politheïste ontmoet, mense wat meerdere gode en geeste en voorvaders aanbid het.
Die feit dat die Afrikamense dit gedoen het, was nie omdat hulle primitief was nie.
Dit was nie omdat hulle in hulle ewolusionêre ontwikkeling nog minder gevorderd was as die Europeërs en dus nog nader aan die primate was nie.
Wie die ou Afrika godsdienste begin bestudeer, sal agterkom dat hulle allesbehalwe primitief is.
Dit is hoogs gesofistikeerde stelsels, diep filosofiese denkwyses.
Die Afrika tradisionele godsdienste is nie ‘n laer trap van ewolusionistiese ontwikkeling nie, dit is gesofistikeerde maniere hoe hierdie mense hulle van die ware God af losgemaak het en hulle eie ingebeelde afgode begin dien het.
Deformasie dus, degenerasie van die ware godsdiens.
En dit geld nie net vir Afrika nie, presies so geld dit ook vir al die afgode wat ons voorouers die Germane vereer het, dink as voorbeeld aan vanoggend se preek – die godin Eostre of Ostara.
Alle godsdienste wat daar op aarde was en tans is, is degenerasies van die ware diens aan daardie God, wat vir Noag en sy gesin deur die sondvloed heen bewaar het.
Soos Calvyn ‘n keer genoem het, die mens se verstand is ‘n vernuftige fabriek wat afgode vervaardig.
Dus, om saam te vat, die ewolusionistiese model pas nie op die geskiedenis nie.
Dit verwring die geskiedenis om in sy keurslyf te pas.
Dit stem nie ooreen met die geskiedenis nie, en ook nie met die Bybel nie.
(Tema: Die kerk van Christus bely die Drieëenheid van God
1 Ons verwerp menslike teorieë)
2 Ons aanvaar die Goddelike Openbaring
Spesifiek gaan dit vanaand oor die openbaring van die Drieëenheid.
Hoe pas dit in die geskiedenis van die mensdom se godsdienstige ontwikkeling?
Wel, soos duidelik is, ons laat ons nie lei deur die ewolusionistiese benadering nie.
Ons luister oopkop na die Bybel, soos dit die geskiedenis beskryf.
Die Nuwe Testament maak vir ons duidelik dat die Drieëenheid altyd al daar was.
As ek sê die Nuwe Testament, dan bedoel ek basies ons Here Jesus Christus.
Want Hy is deur die Vader na die aarde gestuur om aan die mense beter en veel uitvoeriger bekend te maak wie God is.
Dit is die Here Jesus wat openbaar dat God Drieënig is.
En as ons na Hom luister, dan word dit vir ons ook sigbaar dat al drie Persone reeds in die Ou Testament daar was, en reeds toe ook al aktief was.
Watter ontwikkeling vind daar dan plaas van die Ou na die Nuwe Testament?
Dis nie dat ‘n nuwe godsdiens ontstaan nie.
Dis nie dat monotheïsme weer ingeruil word vir politheïsme nie.
Dit bly presies dieselfde God, en presies dieselfde godsdiens.
Maar dit is ‘n ontwikkeling van minder bekend na meer bekend.
Wat verborge was word onthul.
Christus openbaar, Hy lig die sluier.
Nou, sedert sy koms, weet ons meer oor wie God is – dieselfde God wat altyd al daar was.
Maar nou is ons bevoorreg om dieper insig in Hom te kry.
Nie dat ons Hom kan verstaan of beredeneer nie.
Dit wat Jesus geopenbaar het, is iets wat niemand self kon uitgedink het nie.
Die mensheid se denke sou nooit en te nimmer daarheen geëvolueer het nie.
Soos verduidelik, al wat tipies is vir die menslike denke oor die ware God is degenerasie, wat voortkom uit afval en opstand teen sy Skepper.
Maar uit God se genade skenk Hy ‘n nuwe reformasie, die grootste ooit, toe Hy sy eie Seun na die aarde gestuur het.
Hy openbaar aan ons die geheimenis van wie God is.
Een God, maar drie Persone.
Ons kan dit nie logies, verstandelik, verklaar nie.
Ons word opgeroep om dit te glo, glo in Hom wat oneindig veel groter as ons is, wat almagtig is.
Die mensdom moet kies: Aanvaar jy hierdie openbaring of verwerp jy dit?
Wel, die geskiedenis is bekend.
Deur die eeue het baie dit verwerp in hulle verstandelike hoogmoed.
Maar ander, gelei deur die Gees, het gebuig voor God se gesag, en bely dat dit wat Christus geopenbaar het toe Hy op aarde was, die waarheid is.
Hulle het voortaan dankbaar en eerbiedig God begin aanbid as Vader, Seun en Heilige Gees.
Hulle het besef en erken dat Hy in geen enkele menslike denksisteem ingepas kan word nie.
Ons, die kerk van vandag, volg wat dit betref in die voetspore van die apostels, soos Johannes.
Johannes was ‘n gebore Jood, hy het die sogenaamde Sjema, Deuteronomium 6:4, uit sy kop geken: “hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.”
Tog skryf hy die Openbaring wat Christus hom op Patmos gee gehoorsaam op.
Daaruit word baie duidelik dat God bestaan uit drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees.
Dit begin al in die eerste hoofstuk, met die bekende seëngroet.
“Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom” – verwysing na God die Vader;
“en van die sewe Geeste wat voor sy troon is” – verwysing na die Heilige Gees;
“en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eerstegeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde!” – verwysing na die Seun (Openb 1:4-5).
Om in iemand se naam geseën te word, dit is ‘n Goddelike eer wat geen skepsel toekom nie.
Om iemand te kan seën, is ‘n Goddelike eienskap wat geen mens besit nie.
Dit word hier dus gesê van sowel Vader, Seun en Gees.
Tussen hakies, die benaming “sewe Geeste” verbaas ons dalk, maar dis net ‘n herinnering dat God nie met ons verstand begryp kan word nie.
Al ken ons Hom, kan daar nog soveel meer oor Hom gesê word as wat aan ons bekend gemaak is.
Die getal sewe dui hier onder andere op volmaaktheid en alomteenwoordigheid, om maar enkele eienskappe van die Gees te noem.
Op ‘n manier is die Gees dus sewe-in-een.
Maar behalwe vir hierdie benaming – sewe Geeste – verwys Johannes ook na die Heilige Gees in die enkelvoud.
Byvoorbeeld in Openbaring 2:7: “Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
En nog ‘n vers waaruit blyk dat Johannes goed besef dat die Gees ook God is, is Openbaring 14:13: “En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”
Die Gees is in die hemel, van daaruit spreek Hy as Goddelike Persoon die aarde toe.
Net so is duidelik uit Johannes se Openbaring dat die Seun ware God is.
Johannes sien “tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens ... Sy hoof en hare was wit soos wit wol” (Openb 1:13-14).
Hierdie woorde herinner aan hoe Daniël vir God beskryf het (Dan 7:9).
Hare wit soos wit wol is beeldspraak vir die feit dat God ewig is.
En net so sy Seun.
Toe Johannes hom sien, het hy soos dood neergeval – ook ‘n verwysing na sy Godheid, net soos die profete van die Ou Testament soos dooies neergeval het as God almagtig aan hulle verskyn het.
En dan spreek Jesus vir Johannes aan: “Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openb 1:17-18)
Uit en uit Goddelike eienskappe en Goddelike werke wat hier aan die Seun toegeskryf word.
Ook skryf Johannes in hoofstuk 14:14: “ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk en een soos 'n Menseseun wat op die wolk sit, met 'n goue kroon op sy hoof en in sy hand 'n skerp sekel.”
Is dit nie ’n Goddelike beskrywing nie?
Johannes noem die Seun in sy Openbaring ook dikwels die Lam.
“toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer” (Openb 5:8) – Goddelike eer word dus in die hemel aan Hom bewys.
Johannes verwys daarna dat die Lam langs die Vader op die hemelse troon sit: ’n Geweldige groot menigte het gestaan “voor die troon en voor die Lam” (Openb 7:9).
En hy skryf oor “die Lam wat in die middel van die troon is” (Openb 7:17).
En luister na wat Johannes hier oor die Lam skryf: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings” (Openb 17:14).
Wie nou nog aan die Godheid van die Lam – die is Jesus Christus die Seun van God – twyfel, luister nie mooi na die Nuwe Testament nie.
Op die nuwe aarde gaan daar geen tempel wees nie, want, skryf Johannes, die“Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (Openb 21:22).
Weer eens word die Lam aan God die Vader gelykgestel.
Uit “die troon van God en van die Lam” stroom daar ’n rivier van lewende water (Openb 22:3).
Gemeente, ons het vanaand slegs na een Bybelboek gekyk en wat daarin oor God Drieënig staan.
Elkeen van hulle – Vader, Seun en Heilige Gees – word beskryf met Goddelike Name, elkeen vertoon Goddelike eienskappe, elkeen verrig Goddelike werke, en elkeen ontvang Goddelike eer.
Nodeloos om te sê, dit wat ons in Openbaring lees, is op een lyn met die res van die Nuwe Testament.
Daarom glo ons in God Drieënig, Vader, Seun en Gees.
Hierdie drie onderskeie Persone is die enige, ware en ewige God.
Ons glo nie omdat dit pas in een of ander menslike sisteem, denkraamwerk of teologie nie.
Nog minder verwerp ons die Drieëenheid omdat dit ouderwets sou wees volgens die ewolusionistiese model nie.
Hoekom glo ons dit dan?
Soos die Heidelbergse Kategismus dit verwoord: “Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het.” (v/a 25)
Daar is geen ander rede nie.
Daar is geen ander manier hoe ons – mensies – iets oor God sal kan weet, laat staan sê, nie.
Nederig buig ons die hoofde, en ons verstand, voor sy Openbaring.
Jy mag vanaand die kerk verlaat met die gerusstellende wete: God Drieënig is daar, Vader, Seun en Heilige Gees.
Skuil by Hom.
Moenie onseker raak deur menslike teorieë nie.
Bly vashou aan die Woord, soos al die gelowiges in voorgaande eeue.
Hulle was nie dom en primitief nie.
Hulle het in gehoorsaamheid gebuig voor die gesag van die Skrif.
En so doen ons ook vandag, in die besef dat die mens nog nie verander het nie, nog niks beter geword het as in die verlede nie.
Moenie van die mens en sy wetenskap jou heil verwag nie.
Buig voor God Drieënig, verwag alles van Hom, Vader, Seun en Heilige Gees.
Amen.
Votum
Seën
Ps 110:1,2
Gebed
Skriflesing: Deuteronomium 6:1-9
Sb 34:1
Skriflesing: Openbaring 1
Ps 2:4,6
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 8
Preek
Sb 18:1-5
Geloofsbelydenis van Athanasius
Sb 50:1,7
Kollekte
Ps 145:1,2,4,6,7,10,12
Seën