Die nuwe lewe is Christus se geskenk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-03-17
Text: 
Romeine 6:4
Preek Inhoud: 

Preek: Romeine 6:4

 

Ons beweeg stadig maar seker rigting die tyd van Goeie Vrydag en Paasfees.

In die winkels begin mens paaseiers te sien.

Dit is die tradisie.

‘n Tradisie wat teruggaan baie eeue gelede, nog voordat Europa gekersten is.

In Europa begin die lente nou te kom.

Dit is ‘n tyd vir nuwe lewe in die natuur.

Die bome word weer groen, blombolle kom uit die grond, ook broei die voëltjies se eiers uit.

Met Paaseiers word die nuwe lewe gevier.

Hierdie tradisie was deel van die diens aan die ou heidense godin Eostre, ook wel genoem Ostara.

Sy was die vrugbaarheisgodin.

Sy het vir nuwe lewe gesorg in die natuur, dat eiertjies uitbroei.

Ook het sy vrugbaarheid aan die mense geskenk.

En dan ken ons natuurlik ook die tradisie van ‘n paashaas.

Mens kan in die winkels ook sjokolade paashase koop.

Dit is eweneens ‘n ou heidense tradisie.

Die godin Eostre sou ‘n voëltjie gevind het wat se vlerkies gevries was van die winterse koue.

Sy het die voëltjie toe in ‘n haas verander, maar daardie haas kon eiers lê soos ‘n voëltjie.

So gaan die ou legende.

Ons heidense voorouers het in die lente ‘n fees gehad ter ere van hulle godin.

‘n Fees wat die begin van ‘n nuwe seisoen, nuwe lewe gevier het, en waarvoor Eostre gedank is.

 

Toe die sendelinge in Europa aangekom het, het hulle die mense geleer om Paasfees te vier, die fees van Christus se opstanding uit die dood.

Maar, soos dit dikwels gaan, die mense het die nuwe geloof vermeng met hulle ou heidense gewoontes.

Die naam vir Paasfees in Engels getuig tot vandag nog daarvan: Easter.

Hierdie woord is direk afgelei van die naam van die heidense godin Eostre.

Gelukkig het ons benaming, Paasfees, wel ‘n Bybelse oorsprong.

Dit is afgelei van die Hebreeuse woord Pasga, die Ou Testamentiese fees.

Ons Here Jesus Christus was die Pasgalam, die Paaslam, wat vir ons geoffer is.

Deur sy dood en opstanding het Hy die nuwe lewe vir ons verwerf.

 

Mens kan deels verstaan hoekom hierdie twee feeste – die een heidens en die ander Christelik – vermeng geraak het.

Beide was ‘n fees van nuwe lewe.

Beide het in ongeveer dieselfde tyd van die jaar geval.

Altans, dit geld vir die noordelike halfrond.

Hier by ons in die suidelike halfrond is dit ‘n ander storie.

Ons gaan nie nou die lente tegemoet nie, maar herfs en winter.

Hier in Afrika was daar geen heidense feeste van nuwe lewe in hierdie tyd, die maande Maart of April nie.

 

Dit bring ons by een van die groot verskille tussen die heidense fees en Paasfees.

Die eerste was lokaal, die tweede het ‘n boodskap vir die hele wêreld, of dit nou in die noorde of suide is, ooste of weste, en of dit nou somer of winter is, lente of herfs.

Die nuwe lewe in Christus is universeel, en daarom word dit ook wêreldwyd gevier.

 

Tema: Die nuwe lewe is Christus se geskenk

 

Om vandag se teks goed te verstaan, moet ons dit lees in die konteks van Paulus se hele brief.

Sy brief aan die Romeine begin met ‘n inleiding.

Daarna skets hy die mense se ellende – hoofstuk 1 – 3.

Daarna fokus hy op die verlossing, vanaf hoofstuk 3:21.

Ons teks staan in die daaropvolgende deel, die deel oor die dankbaarheid.

Paulus verduidelik dat ons uit dankbaarheid goeie werke doen, omdat ons saam met Christus gesterf en opgestaan het.

Hierdie is ‘n krusiale konsep van die Evangelie.

Die mense in Rome moes dit goed verstaan.

Redding slegs deur geloof in Christus maak nie goeie werke oorbodig nie.

 

Daar het naamlik ‘n lasterpraatjie in Rome ontstaan.

Paulus verwys daarna in hoofstuk 3:8: “soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” (2020-Vertaling).

Dit sal nie verbaas as hierdie lasterpraatjie sy ontstaan by die Jode gehad het nie.

Paulus het hulle wetswerke so gekritiseer.

Dit waarin hulle hulleself van die heidene onderskei het, dit waarop hulle so trots was, dit het Paulus heeltemal afgebreek.

Mens kan verstaan dat die Jode omgekrap was.

En vervolgens maak hulle ‘n wanvoorstelling van Paulus se nuwe leer.

Hulle lê Paulus in die mond dat hy eintlik losbandigheid sou bevorder.

Omdat Christus alle sondes vergewe, kan mense maar soveel sonde doen as hulle wil.

Solank hulle net elke keer vergewing vra.

Hoe meer sonde, hoe meer genade.

Jou teologie, Paulus, gaan van niemand ‘n beter mens maak nie.

Jou teologie sit net ‘n stempel van goedkeuring op ‘n losbandige lewe!

So het die lasterpraatjie die ronde gedoen.

 

Maar in hierdie brief ontken Paulus dit ten sterkste.

Maak die Evangelie van regverdiging deur die geloof alleen vir mense lui?

Nee, beklemtoon Paulus.

Wie uit die geloof geregverdig is, is dood vir die sonde.

Daar het ‘n breuk gekom tussen ‘n gelowige en die sonde.

Geen breuk is meer definitief as die dood nie.

Is ons daarom volmaak?

Nee, Paulus praat hier oor ons regsposisie.

Ons is regtens vry van die sonde.

Soos Christus gesterf en opgestaan het in ‘n nuwe lewe, so word ons ook opgewek tot ‘n nuwe lewe.

Wie glo, beweeg saam met Christus.

Sterker nog, is ingeplant in Christus.

En daarom bring ‘n gelowige vrugte – lees goeie werke – van dankbaarheid voort.

Die geheim van ‘n goeie wynstok lê in sy wortels en stam.

As hulle gesond en sterk is, sal die lote outomaties baie vrug dra.

Paulus gooi die volgorde om.

Die Jode het geleer: deur nougeset die wet na te kom, sal God jou regverdig verklaar.

Paulus leer: Omdat God jou reeds danksy Christus regverdig verklaar het, het jy nou die lus om nougeset die wet na te kom.

 

Regverdigmaking lei tot heiligmaking.

Nie omgekeerd nie, heiligmaking lei nie tot regverdigmaking nie.

Dit is in kort die boodskap wat Paulus aan die Romeine in hierdie hoofstuk wil oordra.

Indringend wys hy daarop in die eerste twee verse:

“Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”

Om hierdie sin te verstaan, moet mens in gedagte hou dat Paulus die heeltyd Christus en ons op een lyn plaas.

Christus het gesterf.

Ons het ook gesterf.

Christus is uit die dood opgewek in ‘n verheerlikte lewe.

Ons is ook uit die dood opgewek en het ‘n nuwe lewe gekry.

Hierdie is die taal van die regverdigmaking.

Want ons het nog nie letterlik gesterf soos Christus nie, en ons het ook nog nie letterlik liggaamlik weer opgestaan nie.

Maar juridies het dit wel gebeur - as mens in gedagte hou dat Christus se sterwe ‘n betaling vir die sonde was.

Die dood, soos God reeds in die paradys gewaarsku het, is die straf op die sonde.

Omdat Christus vir ons sondes betaal het, het Hy ons doodstraf onnodig gemaak.

In die sin – juridies gesproke – het ons dus saam met Hom gesterwe.

En, beklemtoon Paulus, ons ontvang saam met Hom ook al die nuwe lewe.

Die nuwe verheerlikte lewe begin nie eendag as ons liggaam uit die graf opstaan nie.

Dit begin nou al.

Ons begin nou al ‘n nuwe lewe te lei.

Uiteraard is ons nuwe lewe nog nie van dieselfde kwaliteit as Christus se verheerlikte lewe nie.

Ons nuwe lewe is soos die eerste botseltjie aan die tak van ons nuwe lewensboom.

By Christus staan die lewensboom reeds in volle bloei.

Maar die eerste tekens van die nuwe lewe is daar, danksy sy Gees wat in ons werk.

Ons dien nie nou meer die sonde nie.

Ons is geregverdig van die sonde.

Die dood heers nie meer oor Christus nie, so ook nie meer oor ons nie.

Ons ou mens is saam met Christus gekruisig – weer eens die taal van die regverdiging.

Ons ou mens is uitgetrek, begrawe in die doop (Kol 2:11-12).

Ons nuwe mens word aangetrek, ons nuwe lewe begin nou sigbaar word.

Dit is ‘n gawe en ‘n opdrag.

Die Gees se werk in ons is ‘n gawe, want Christus het sy Gees in ons uitgestort.

Maar ons is nie dooie klippe nie, ons het ‘n wil, wat deur die Gees herskape is.

En daarom kan daarop ‘n beroep gedoen word, ons wil kan beveel word, soos in vers 12:

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”

Dis nogal sterk taal.

As jy ingee om iets sondigs te doen, dan gehoorsaam jy die sonde.

Soos ‘n slaaf gehoorsaam is aan sy slawedrywer.

Maar jy is bevry, vergeet nou van jou ou slawedrywer.

Fokus nou op Hom wat jou bevry het.

Julle is mos deur Hom vrygemaak van die sonde en het nou diensbaar geword aan God (vers 22).

Los nou die ou mens en sy begeertes agter jou.

Die woord wat hier in Grieks gebruik word, beteken verouderd, of verslete.

Dink aan laasweek se preek.

As ons ons beklee met Christus, dan trek ons ons ou verslete klere uit.

Daar is nie ‘n toekoms vir daardie vodde nie.

Die toekoms is Christus.

Wie met Hom beklee word, kry ‘n nuwe toekoms.

Geen slawerny meer, maar bevryding.

 

 

Die feit dat dit so is, en dat ons nie aan ons bevryding moet twyfel nie, word beklemtoon deur nog ‘n woord in ons teks, die woord doop.

Die doop is ‘n sigbare bewys dat dit waar is.

Ons is saam met Christus sigbaar begrawe deur die doop in die dood.

Soos Christus sigbaar dood was, so was ons doop ook sigbaar.

Wat Paulus hier bedoel is duideliker as ons aan die doop deur onderdompeling dink.

Daar’s niks fout met onderdompeling nie.

Uit praktiese redes doen ons dit nie, maar die Bybel het verskillende voorbeelde daarvan.

Johannes het deur onderdompeling gedoop.

Jesus is self deur onderdompeling gedoop.

Filippus het die hofdienaar uit Ethiopië deur onderdompeling gedoop.

Wie onder die water gedruk word, word simbolies verdrink.

Maar gelukkig trek Christus ons ook weer uit die water uit.

Hy red die drenkeling.

Ons hoef nie meer te sterf nie, want Hy het ons skuld betaal en vir ons gesterf.

Dit is dus die betekenis van ons teks as daar staan dat ons saam met Hom begrawe is deur die doop in die dood.

En daarna omdat ons weer uit die water opgetrek is, is ons ook saam met Hom uit die dode opgewek.

Weer eens, hierdie is simboliese taal.

Die doop is ‘n simbool vir wat God doen.

Hy straf sy Seun in ons plek, en nou maak Hy ons lewendig.

Dit gebeur nie fisies by die doop nie.

Die doop is die belofte dat Hy dit in ons lewe sal doen.

Elke dag as ons vergifnis vra in sy Seun se Naam, ontvang ons elke dag nuwe lewe, kan ons elke dag in ‘n nuwe lewe wandel.

En dat die nuwe lewe heeltemal volmaak word, dit lê uiteraard nog voor.

Dit sal gebeur as ons gelykvormig word aan die verheerlikte liggaam van Christus, eendag, daardie dag as Hy terugkom.

 

Daar is nog iets in die teks om by stil te staan.

Paulus verwys na die heerlikheid van die Vader.

Christus is opgewek deur die heerlikheid van die Vader.

En ons kan in ‘n nuwe lewe wandel deur die heerlikheid van die Vader.

Wat word hiermee bedoel?

Die Griekse woord vir heerlikheid is doxa.

Sy heerlikheid omvat sy almag, waardeur Hy in staat was om sy Seun uit die dood op te wek.

Wat ook geïmpliseer word is dat Jesus vanaf sy opstanding deel in hierdie hemelse heerlikheid.

Hy kry ‘n plek aan die Vader se regterhand.

En dit is wat ons ook mag ervaar.

Danksy Christus mag ons ook al deel in hierdie heerlikheid.

Dit is eerstens ‘n werklikheid.

Tweedens is dit natuurlik ook ‘n opdrag, soos later uit die hoofstuk blyk, ‘n oproep om ‘n lewe te lei wat pas by hierdie heerlikheid.

Uiteraard wag ons nog op die volledige heerlikheid om mee oorklee te word.

Maar tog skyn reeds die hemelse heerlikheid oor die lewens van hulle wat aan Christus behoort.

Die heerlike tekens van nuwe lewe is reeds by ons sigbaar.

Die magtige heerlikheid van God sal sy werk voltooi.

Ons is ryk in Christus.

Ons mag in ‘n nuwe lewe wandel.

Sy hemelse heerlikheid straal al oor ons lewe.

 

En, om terug te kom by die begin, pas paaseiers en paashase wel by hierdie nuwe lewe?

Behoort ons hierdie tradisie te boikot?

Is dit verkeerd as ons dit in ons winkeltrollie laai in hierdie Paastyd?

Wel, ons ken nou die heidense oorsprong daarvan.

Ons weet ook dat ons geen nuwe lewe van ‘n ou heidense godin kan verwag nie.

Wat dit betref sal ons nie ‘n sent meer daarvoor betaal as wat ons vir ander sjokolade betaal nie.

As Paasfees verby is, en dit is halfprys, dan kan dit ‘n goeie rede wees om dit te koop.

Goeie rentmeesters van ons geld wat God se geld is ...

Paaseiers het vir ons geen meerwaarde nie.

 

Ook vergeet ons nie wat Paulus in Romeine skryf oor die eet van offervleis.

As ek vir iemand aanstoot gee, omdat daardie persoon nog sukkel om onder die invloed van die ou gode uit te kom, dan sal ek met graagte die vleis laat staan, of die paaseiers, of wat ook al.

En verder, waarvoor paaseiers dalk ook nuttig kan wees, is wanneer ons dit gebruik as ‘n – soos mense deesdae sê – ‘n ysbreker, ‘n ‘conversation starter’.

As jy op jou werk paaseiertjies uitdeel, kan jy vir die mense vra: Weet julle waar hierdie tradisie vandaan kom?

Dit kan ‘n geleentheid skep om oor die regte Paasfees te begin praat, oor die regte nuwe lewe in Christus, en dalk iemand uit te nooi na ons spesiale Goeie Vrydag-diens.

Om uit die bloute met iemand oor jou geloof te begin praat, veroorsaak soms dat mense toeslaan.

So ‘n informele assosiatiewe manier gee meer moontlikhede.

So kan ons, ongedwonge en vrymoedig, van die nuwe lewe getuig, ‘n nuwe lewe wat aansteeklik is.

Dink aan ons jaartema:

Ons nuwe lewe in Christus is aansteeklik.

Dit is iets moois om met ander te deel.

 

En dan kan ons ook van die geleentheid gebruik maak om hierdie waarheid te verduidelik wat daar in ons teks in Romeine 6 staan.

Want dit is iets wat mens van nature verkeerd verstaan.

Dit is selfs iets wat baie mense keer om kerk toe te kom.

Van nature redeneer elke mens: Ek moet eers goed genoeg wees voordat ek voor God kan verskyn.

Ek moet eers heilig lewe voordat God my regverdig sal verklaar.

Ek moet eers ‘n beter mens word, voordat ek dit kan oorweeg om kerk toe te kom.

En onwillekeurig word kerkmense dikwels ook so beoordeel.

Hulle is in die kerk, want hulle is beter.

En ja, dit is dikwels so dat kerkmense voorbeeldig lewe.

En onwillekeurig kan dit ander mense net nog meer huiwerig maak om kerk toe te kom.

Hulle voel hulle pas nie daar nie, omdat die kerkmense beter lewe as hulle.

Alle rede dus om hierdie misverstand so gou moontlik af te breek.

Ek is nie in die kerk omdat ek beter is nie.

Ek is in die kerk om beter te word.

En as dit sigbaar is dat ek dalk beter word, dan is dit 100% my Heiland se werk.

Want ek is in Hom ingeplant, en daarom dra ek vrugte.

Hy het vir my ‘n nuwe lewe gegee.

Hierdie nuwe lewe is aansteeklik, MAAR, dis baie belangrik om te besef, dis slegs aansteeklik as hierdie misverstand nie die kop opsteek nie.

Daarom moet ons soveel as moontlik dit beklemtoon dat ek uit myself nie beter is nie.

As jy dit nie eksplisiet gaan sê nie, dan gaan die mense dit dink.

Veral as jy begin uitstaan – byvoorbeeld soos Daniël destyds – bo jou kollegas, juis omdat jy goed lewe.

As jy nie eksplisiet noem dat dit danksy Christus in jou lewe is nie, dan gaan hulle dit aan jou toeskryf, asof jy beter is as hulle.

En dit gaan ‘n drumpel word vir hulle om kerk toe te kom.

Dit klink raar, maar dit is so.

Dit is Christus wat die nuwe klere uitdeel.

Laat ons dit oor en oor beklemtoon.

Die nuwe lewe is ‘n wonder bo ons kragte.

Ons nuwe lewe is slegs ‘n geskenk.

Dit is Christus se geskenk aan sondaars soos jy en ek.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:1,11

Wet

Ps 143:1,2,9

Gebed

Skriflesing: Romeine 6

Ps 98:1,2

Teks: Romeine 6:4

Preek

Ps 16:2,5

Gebed

Kollekte

Ps 138:1,3

Seën