(1) Onderskat nie die bose se mag nie, (2) erken ook jou eie onmag, (3) en beroep jou op God se almag.

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-01-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 52a
Preek Inhoud: 

Ken jy die verhaal van Luther se inkpotjie? Daar word vertel dat Luther eendag tydens sy werk so afgelei en bedreig gevoel het deur die duiwel dat hy sy inkpot van sy lessenaar gegryp en as 't ware na die duiwel se kop gegooi het. In die Wartburg in Duitsland wys hulle vandag nog vir jou die kol wat die ink op die muur gemaak het.

Dit is twyfelagtig of hierdie storie op waarheid berus. Luther het self nooit hieroor vertel nie. Boonop was daar in Luther se dae nog geen inkpotjies nie maar het die ink in ‘n skaaltjie op die skryftafel gelê.

Luther het wel vertel dat hy die Bose eenkeer soos 'n hond op sy bed sien lê het. Hy het toe die hond woedend uit die raam uit gegooi. En die wat die Wartburg al ‘n keer besoek het, sal weet dat daardie hond dit nie oorleef het nie. Ons kan oor sulke stories glimlag. Maar Luther het in elk geval die duiwel as 'n gevaarlike werklikheid ervaar! Sien u die duiwel nog raak as 'n werklikheid in u lewe?! Het jy al ooit 'n skoen na sy kop gegooi?

Ons bid amper daagliks: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose”. Maar glo ons nog regtig in die bestaan van daardie “Bose”? `` u nog watter gevaarlike vyand hy is? Daar is in Nederland al Bybelvertalings wat nie meer van “die Bose” praat nie, maar van “die kwaad”. Onpersoonlik. Of van “die kwade magte”. En dan kan u maar aan die kommunisme dink, of die kapitalisme, rassisme. Maar om vandag nog te glo dat agter daardie magte iemand skuilgaan, ‘n engel wat teen God opstandig geword het- dit hoef ons tog as moderne mense nie meer te glo nie?

Ons grootouers het nog so ‘n prent van die breë en die smalle weg gehad. Dalk is daar nog van u wat dit onthou. Dikwels ingeraam iewers aan die wand. ‘n Hele paar gevaarlike verleidings van die kant van die duiwel is daarop gewys. Ook daaroor glimlag baie mense deesdae effens meewarig. By ons hang daar deesdae ‘n groot televisieskerm aan die muur. En ons het amper die hele dag ‘n rekenaar- of tablet-skerm by ons waarna óns nou kyk. Ons kyk nou na ander dinge. Die duiwel het na die agtergrond geraak. En wie besef dit nog dat die Bose ook deur daardie televisieskerm deesdae baie maklik in ons huise en lewens, en die lewens van ons kinders kan inkom? 

Was Luther regtig so primitief bang vir die duiwel?

1. Onderskat nie die bose se mag nie

In God se Woord loop ons die duiwel en sy gevaarlike bedreiging van God se kinders orals raak. Sy hele wese is daarop gefokus om God se werk af te breek. Satan, Teëstander, word hy daarom dikwels genoem. Hy en ‘n hele klomp afvallige engele wat hy in sy opstand teen God saamgesleep het, rig hulle pyle spesiaal op God se kinders. “Hulle hou nie op om ons aan te veg nie”, sê die Kategismus. Daardie woord “aanveg” kom ook by Maarten Luther weg. Aanveg is nie dieselfde as aanval nie. Die duiwel en sy kornuite wil ons nie fisies dood-maak nie, maar geestelik. Hy soek nie ons geld nie, maar ons geloof. Dít probeer hy ondermyn, beskadig, weg-vat. 

Dis hoe hy Adam en Mannin in die paradys tot ongehoorsaamheid aan God verlei het. Hy het hulle wysgemaak dat God met sy verbod om van daardie een boom te eet, hul ontplooiing wou verhinder. Hulle moes dom en afhanklik bly.

Op dieselfde manier het hy die Here Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader probeer ondermyn: mooi klinkende woorde vol gevaarlike verleiding. Versoeking noem die Bybel dit. Dit mag dalk heel wat onskuldiger klink as verwurging, of verkragting, maar die gevolge kan baie ernstiger wees: jy ‘s vir ewig verlore!

Dit het selfs ‘n ander naam vir die satan geword: die versoeker. Moet maar kyk in Matt 4:3: “Die versoeker het na Jesus toe gekom....” En later skryf die apostel Paulus aan die gemeente van Tessalonika (U kan maar weer saam kyk, 3:5) dat hy op ‘n stadium baie bekommerd was dat die versoeker dalk daardie gemeente wat so wonderlik begin het, in so ‘n mate versoek het dat daar van daar-die mooi begin niks oorgebly het nie.

Want weereens, veral die kerk, vandag Christus se gemeente, is die Bose se teiken. Nie die wêreld nie. Dié het hy klaar in sy mag. Nee, die duiwel soek vir ons. Ons bely in art 12 NGB dat die duiwel en sy bose geeste “soos moordenaars op die kerk loer”. Ons weet mos daarvan. Hoe dikwels kry hy dit reg om die vrede in de gemeente te versteur, om onderlinge verhoudings te versuur. En hy sal aanhou om dit te doen, orals in die wêreld. Ons is bekommerd oor allerhande ontwikkelinge in ons susterkerke in Nederland. In tien, vyftien jaar het hulle ‘n heeltemal ander koers begin inslaan. Hoe kon dit gebeur? Omdat die versoeker nie stil sit nie. Hy het met sy tyd meegegaan, maar sy taktieke is eintlik nog dieselfde: ons stellige geloofsoortuigings aanveg. Is die Bybel nog wel in ons tyd in alle opsigte toepasbaar? Of is dit Bybel juis aan telkens ander tye en kulture aanpasbaar? Kan ‘n mens dit wat Genesis 1 vertel oor die ontstaan van hierdie wêreld nog wel as geskiedenis lees noudat die wetenskap mos lankal bewys het dat die wêreld as gevolg van ‘n oerknal en ewolusie daarna ontwikkel het?

Die moeilike ding met hierdie vyande is, dat hy onsigbaar bly. Dat hy agter die skerms werk. Ons word nie belaag deur vlees en bloed nie, maar deur  onsigbare bose geeste. Wat ons gedagtes aan-houdend probeer beïnvloed.

Daarvoor gebruik hulle ook mense. En dit kan vriendelike, aangename mense wees. Satan verskyn nie altyd as ‘n brullende leeu nie maar vermom hom dikwels ook as ‘n engel van die lig. ‘n Predikant wat meeslepend kan preek, ‘n teoloog wat oorspronklike gedagtes ontwikkel, ‘n wetenskaplike wat baie oortuigend vraagtekens plaas by dit wat dit Bybel sê. ‘n Aangename kollega by die werk of ‘n mede-student met wie jy diepgaande gesprekke kan hê.

Dis dié dat die Kategismus ook waarsku vir hierdie wêreld, ‘n gevaarlike bondgenoot van die duiwel en ewe-seer ‘n doodsvyand. Dan word natuurlik nie hierdie wêreld as God se skepping bedoel nie, maar die wêreld wat homself van God afgekeer het. Die wêreld vol mense wat self wil bepaal wat reg en verkeer is, wat leef asof daar geen God is nie, wat christene belaglik maar as outydse en wêreld-vreemde mense. Maar terselfdertyd ‘n wêreld wat ‘n sterk aantrekking krag besit, ook op God se kinders. ‘n Wêreld wat ons lok om aan allerhande dinge saam te doen. Om ons kind van God wees te kombineer met die kind van hierdie tyd wees. Ook dit is ‘n gevaarlike versoeking, brs en srs, jongmense. Jesus se halfbroer Jakobus waarsku in sy brief dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken!  En die apostel Johannes skryf: “Moenie die wêreld of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie”.

En weet jy wat dit nou so ekstra gevaarlik maak, gemeente? Dat ons “eie vlees”, ons ou, sondige geaardheid, hierby ook nog ‘n gevaarlike rol speel. Ons het ‘n verraaier binne die vesting van ons eie lewe! Die wêreld is orals om ons heen. Maar hierdie derde bondgenoot van die Bose en doodsvyand sit ín ons en probeer ons aanhoudend verlei om aan die versoek-inge van die Bose gehoor te gee. Om aan dit wat die wêreld ons bied gehoor te gee. Om bietjie ruimer en liberaler te leef, want God neem tog nie elke ding so ernstig op nie?

Ons word belaag deur sterk teenstanders, brs en srs! 

2. Erken ons eie onmag

En teenoor daardie sterk teenstanders is ons van ons eie verskriklik swak. Dis wat Luther ondervind het. Hy het geweet wat ons nou in die vyfde hoofstuk van die DL bely, dat ons deur Christus verloste mense mag wees –voor God weer regverdig- en dat ons terselfdertyd steeds ellendige sondaars is wat vanweë die oorblyfsels van die inwonende sonde (ons “eie vlees”) en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan, nie sal standhou as ons aan ons eie kragte oorgelaat word nie.

Die Heidelbergse Kategismus sê dit nog sterker: ons sal selfs nie een oomblik (!) staande kan bly nie. En miskien is dit wel die grootste en gevaarlikste versoeking deur die Bose, dat ons dit maar steeds vergeet. Of eenvoudig nie wil aanvaar nie.

Die DL het die voorbeelde van Dawid en Petrus genoem.  Dawid het gemeen hy is sterk. Met sy leërs het hy al die vyande van Israel verslaan en onderwerp. Net nog die hoofstad van die Ammonniete moes ingeneem word. Maar dit was nie nodig dat hy daarvoor weer saamgegaan het nie. Hy het dit nie eers nodig gevind om sy weermag met sy gebede aanhoudend te ondersteun nie. En toe lê hy sommer met die vrou van een van sy generaals in die bed. En vermoor hy haar man.

Petrus is saam met die drie ander apostels wat deur die Here Jesus saamgeneem in die tuin van Getsémane in. Hy is gewaarsku deur die Here: “Julle moet bid dat julle nie in versoeking kom nie”. Maar Petrus se probleem was dat hy homself baie sterk gevoel het. Al sou almal die Here Jesus in die steek laat – tog nie hy wat Petrus is nie. Petrus het dit daarom ook nie nodig gevind om in daardie tuin net soos Jesus te gaan bid nie. Terwyl die Here hulle nog gewaarsku het: die satan probeer julle sif soos koring. Petrus het aanhou dink: dit sal my nie oorkom nie. Ek kan wel ‘n rukkie slaap. En ‘n uur of so later waan hy homself so sterk dat Hy Jesus wel kan verdedig teen ‘n oormag van vyande. Met as gevolg dat Hy sy Heer met ‘n eed-swering verloën.

Besef u dat u net so swak soos Dawid en Petrus is? Is die hele kerkgeskiedenis nie vol daarvan nie? Miskien moes ek eers gevra het: besef u dat u ewe eiewys as Petrus, ewe selfvoldaan as Dawid is? Hoe dikwels meen ons ons is sterk genoeg om bepaalde verleidings tegemoet te tree. 
“Moenie bekommerd wees nie, so iets sal met my nie gebeur nie...”
“Ag nee man, dis mos nie so erg om 'n keer soontoe te gaan nie...”
“Maar ek kan regtig nog wel onderskei tussen wat reg en verkeerd is...”
“Nee, meneer, dit was beslis nie een van my kinders nie; my kinders is nie so nie; hulle sal nooit so maak nie...”

In Efesiërs 6 lees ons dat ons teen die duiwel en sy bose geeste moet stry. Daar word die woord “worstelstryd” genoem. Hoe verbete voer u daardie stryd? As die duiwel jou versoek om maar ‘n keer weg te bly uit die kerk? Om toe te gee aan jou kind wat wil wegbly van die katkisasie en vereniging omdat hy  ‘n toets vir die skool moet voorberei? As die duiwel u versoek agter u rekenaar? Ag, en u weet self - natuurlik genoeg ander voorbeelde. Het u nog nooit hard met die grond kennis-gemaak as kind van die HERE nie? Jy? Het daar in u lewe, in jou lewe, geen dinge plaas-gevind waaroor jy jou nog altyd diep skaam nie?

3. Beroep jou op God se almag: Gebed

Ons is van ons eie nie teen die Bose opgewasse nie. Dis dié dat die Here Jesus ons die enigste wapen aangegee het waarmee ons ons teen die aanvegtings van die Bose kan beskerm: hierdie gebed: “Lei ons nie in versoeking nie...”  Ons erken daarmee ons eie onmag en beroep ons op God se almag.

Maar wat presies vra ons in daardie gebed? Of die Here ons vir enige versoeking wil bewaar? Of Hy die Bose op 'n veilige afstand wil hou, sodat hy ons nie kan bykom nie? Dit sou wel die mooiste en die maklikste wees as die Here ons op 'n veilige eiland kon laat woon, buite die bereik van die duiwel en die verleidelike wêreld. Maar dan sou ons steeds nie van ons eie sondige natuur ontslae wees nie.

Nee, ons kan in hierdie lewe nie aan die Bose se versoekings ontkom nie. ‘n Versoeking is soos ‘n vurk op ons lewenspad. 'n Keuse situasie: bly ons op die pad van die Here, of gee ons aan die duiwel se uitnodiging gehoor? Daar is aanhoudend sulke situasies in ons lewe.

Die Here Jesus het ons nie geleer om te bid of Vader in die hemel sulke situasies in ons lewe wil wegneem nie. Maar of Vader ons in sulke situasies op die regte pad wil laat bly en ons nie so in die strikke van die Bose wil laat vasloop dat ons daarin vasgevang word nie. Want ons hoef nie noodwendig in sonde te val nie. Ons moet wel ons eie swakheid ken, maar ons kan dit nie as 'n verskoning aanvoer om aan die verleidinge van die Bose toe te gee nie. ’n Versoeking is ’n vurk, geen dood-loop straat nie. Daar is op elke vurk altyd die moontlikheid om die regte pad te hou en uit die gevaarsone uit te beweeg. Daar is altyd 'n uitkomkans.

Maar dan sal ons dié wel moet soek. Daarom moet vra. Want as ons aan selfoorskatting ly, nie meer gedurig-deur op ons hoede is nie,  nie elke dag hierdie gebed met ons hele hart bid omdat ons weet hoe swak ons van ons eie is nie, kan ons ook as ‘n kind van God nog baie diep val. Ja, dan laat God Self jou baie diep val. Dan laat Hy dit toe dat die Satan jou saamsleep en tot swaar en gruwelike sondes verlei. Dit impliseer die bede “Lei ons nie in versoeking nie…” mos ook? God kán verhoed dat jy in ver-soeking vasgevang word. Hy kan jou van die Bose verlos. Maar Hy kan jou dus ook aan die sonde en Satan se strikke oorgee. Omdat jy  al hoe meer begin leef het asof jy Christus nie eintlik meer nodig het nie want jy kom mos self reg in jou lewe? 

Sal u voortdurend bly besef, brs en srs, en dit vir u kinders van kleins af leer, dat ons van ons eie nie sterk genoeg is om aan die Bose se strikke te kan ontkom nie? Ons kry dit slegs reg deur die krag van die Heilige Gees. Christus se Gees. Die Gees van Hom wat self in alle opsigte versoek is –hoe het die Bose probeer om Hom te laat struikel!- maar staande gebly het. Hy wat op elke kruispad die kruis bly soek het, om daar ons struikeling en ernstige valle met sy bloed by God te versoen.

Ons mag ons in ons onmag om van ons eie die Bose met sy leër van bose geeste te weerstaan, op Christus en die Heilige gees beroep, brs en srs. In ons aanvegtings, ons nederlae, al die kere wat die Bose ons weer platgeloop het, is daar ’n vlugroete. Vlug- dit klink swak. Ons ís ook swak. Maar ons mag ons toevlug tot die gekruisig-de Christus neem en vra vir die krag van sy Heilige Gees. Dit is die manier waarop ons altyd sterk teenstand bied. En eendag eindelik die oorwinning volkome behaal.

Ons hoef nie met inkpotte of skoene of so te gooi nie. Ons moet net aanhou bid.

Amen.

Liturgie: 

Votum & groet-seën
Psalm 56:1,3

Gebed;

Lees Dordtse Leerreëls Hoofstuk V, artikel 1-5;
Psalm 139:12

Verkondiging oor Heidelbergse Kategismus, Sondag 52
Psalm 118:3,4;

Sing Geloofsbelydenis

Gebed;

Kollekte;

Skrifberyming 43:1,4,5;

Seën