Met die Evangelie maak die Heilige Gees die ware geloof wakker

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-03-03
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 7
Preek Inhoud: 

“[H]ierdie dinge is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:31)

So eindig die apostel Johannes.

Dit is die doel van sy Evangelie.

Tot hierdie vaste oortuiging kom hy na daardie jare wat hy Jesus se dissipel was.

Jesus het hom self geroep, destyds, toe hy besig was saam met sy pa Sebedeüs en sy broer Jakobus om vissersnette reg te maak.

Jesus het hom geroep om Hom te volg.

Vir drie jaar het hy Hom gevolg, alles gehoor wat Hy gepreek het, alles gesien wat Hy gedoen het.

En dit was baie.

So baie, skryf Johannes, dat as dit alles opgeskryf sou word, die wêreld nie die geskrewe boeke sal kan bevat nie.

As Johannes daarom tot die gevolgtrekking kom dat dit absoluut die moeite werd is om te glo dat Jesus die Christus die Seun van God is, en dat daar ewige lewe deur Hom is, dan is dit ‘n ingeligte gevolgtrekking.

Dit is op feite gebaseer.

Hy was ‘n ooggetuie.

En nie net dit nie, hy was diep geraak deur alles wat gebeur het.

Meer spesifiek, hy het tot geloof gekom.

Toe hy in die leë graf kom, skryf hy oor homself, het hy “gesien en geglo” (Joh 20:8).

 

Uit die kerkgeskiedenis weet ons dat Johannes baie lank geleef het.

Nadat hy as ‘n gevangene op die eiland Patmos moes deurbring, het hy in die stad Efese gewoon.

Daar het hy vir Polikarpus opgelei, een van sy leerlinge.

Heel sy lewe het hy getuig van Christus se woorde en dade.

Johannes leef nou nie meer nie, in teenstelling tot sommiges uit sy tyd wat beweer het dat hy nooit sou sterf totdat Christus terugkom nie.

Johannes spandeer die laaste hoofstuk van sy Evangelie aan hierdie misverstand.

Nieteenstaande, hierdie Evangelie wat hy agtergelaat het, die het ons nog steeds.

Daarin beskryf hy ‘n seleksie van wonders en preke van Christus.

Hy doen dit met die spesifieke doel, soos hoofstuk 20:31 sê, dat elke persoon wat dit lees, sal glo in Christus, en deur die geloof die ewige lewe sal ontvang in sy Naam.

Hierdie Evangelie dien vandag nog steeds sy doel.

Want ook in die 21ste eeu lees mense dit, jongmense, ou mense, kerkmense, ongelowiges, en nog steeds bring dit mense tot geloof.

Soos Paulus in Romeine 1 skryf: Die Evangelie van Christus is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Rom 1:16).

 

Tema: Met die Evangelie maak die Heilige Gees die ware geloof wakker

Hy gee ‘n

1 ’n vasstaande kennis

2 ’n vaste vertroue

 

  1. Vasstaande kennis

Wat hou hierdie geloof in?

Dit verduidelik Sondag 7.

Dit is in die eerste plek ‘n vasstaande kennis.

Elkeen wat die Johannesevangelie lees, moet sy verstand gebruik.

Dit is nie altyd maklike leesstof nie.

Dit beskryf feite.

Dinge wat gebeur het, en dinge wat Christus gesê het.

Dit is vasstaande feite.

Daar is vier evangeliste, dus ten minste vier ooggetuieverslae in die Nuwe Testament.

Hierdie kennis oor Christus staan dus vas.

En die feit dat Johannes dit opgeskryf het, bewys dat hy dit self vir waar aanvaar het.

Christus se wonders was nie gesigsbedrog nie, Hy was nie ‘n kulkunstenaar nie.

Christus se prediking was nie ‘n leë boodskap nie, Hy het geleer met gesag.

Christus se kruisiging het werklik gebeur, Johannes het dit gesien.

En Christus het regtig uit die dood opgestaan.

Johannes het die leë graf gesien.

Hy het Hom na die tyd lewend gesien, hy het Hom weer ontmoet, saam met Hom geëet, weer met Hom gepraat.

Dit alles kan ons in sy Evangelie lees.

Kortom, dit alles wat gebeur het en wat Christus geleer het, dit aanvaar Johannes as die volstrekte waarheid.

En hy roep elke leser van sy Evangelie op om dit ook te doen.

 

Johannes besef die belangrike taak wat Christus juis aan hom as een van die apostels opgedra het.

Naamlik om sy ooggetuie te wees: “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)

Die feit dat Jesus hom destyds geroep het by die see van Galilea waar hy met sy pa en broer besig was om nette reg te maak, dit was nie toevallig nie.

Jesus het toe al ‘n baie spesifieke doel met sy lewe gehad.

Dit besef Johannes nou al te goed, as hy hierdie woorde skryf aan die einde van sy Evangelie.

Sy beroep is nie langer om ‘n vissersman te wees nie, maar ‘n visser van mense.

En miskien wel die belangrikste onderdeel van hierdie taak was dat hy die Evangelie moes skryf.

God het sy Seun gestuur.

Hy het sy wil, se reddingsplan deur Hom, geopenbaar aan die wêreld.

En hy, Johannes, is geroep om hierdie openbaring op skrif te stel vir die generasies wat gaan kom, vir almal wat nie soos hy ooggetuie van die gebeurtenisse was nie.

Soos Jesus vir Thomas gesê het: “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”

En dit is mense soos jy en ek.

 

Laat ons volg in die voetspore van Johannes en Thomas.

Dat die Evangelie ook vir ons ‘n vasstaande kennis is.

Dat ons alles wat God daarin openbaar, vir waar aanvaar.

 

Ek wil nog ‘n oomblik stilstaan by die woordjie alles.

Sondag 7 sê: Dat ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar.

Dit vereis ‘n regte houding, gemeente.

Dis nie ek en jy wat bepaal wat ons dink waar is en wat nie.

Dis nie ek en jy wat bepaal wat vir my lewe relevant is nie.

Soos die uitdrukking lui: Die Woord van God is nie in die Bybel nie, maar die Bybel is die Woord van God.

Heel die Bybel, alles wat daarin staan!

En omdat dit God se Woord is, is dit waar.

Nou dra elke aspek in die Bybel nie dieselfde gewig nie.

Ons het in laasweek se preek gesien dat die kern van die Bybel is: die Evangelie van die sterwe en opstanding en hemelvaart van Jesus Christus.

Dis waar alles om draai, van Genesis tot Openbaring.

En daaromheen is daar konsentriese sirkels.

Dinge wat ook waar is, maar tog ‘n ander gewig dra.

Om ‘n voorbeeld te noem, die feit dat Dawid ‘n poligamis was, meerdere vroue gehad het, beteken nie dat hy as gevolg daarvan verlore gegaan het nie.

Poligamie is verkeerd, sondig, dis duidelik uit God se Woord.

Daarom, die feit dat ‘n prominente persoon in die Bybel dit beoefen het, mag nie vir ons as regverdiging dien om dit ook te doen nie.

Dawid het wel vir sy God vertrou, en uit vergifnis van sondes gelewe.

Kom ek noem ook ‘n voorbeeld uit vandag se tyd.

As ‘n ander gemeente vroue in die kerklike amp bevestig, is dit sondig, want God se Woord beveel anders.

Tog beteken dit nie dat so ‘n persoon noodwendig verlore sal gaan nie, al bly dit verkeerd.

Maar weer eens, ons mag dit nie as ‘n regverdiging gebruik, in die trant van:

Daardie vroulike dominee is ‘n baie opregte gelowige, daarom kan dit nie verkeerd wees nie.

As ons so begin redeneer, dan aanvaar ons nie meer alles, soos die Kategismus beklemtoon, in God se Woord vir waar nie.

Waar soos in waar vir alle tye en alle plekke en alle mense op aarde.

Dit is wat jy en ek as gelowige moet bly doen, en ons as kerk, gehoorsaam in alles aan God se Woord.

Want, dit bewys die geskiedenis keer op keer, wie op een punt afwyk, sy gehoorsaamheid gaan op ander punte ook begin afkalf.

Veral as jy dit waarin jy afwyk begin goedpraat.

By Dawid was sy poligamie nie iets wat hy goedgepraat het nie, dit was ‘n swakte.

Maar wie iets wat teen die Woord ingaan begin verdedig en goedpraat, hy kom op ‘n vinnige afdraendepad.

As ons self gaan besluit wat in die Bybel vir ons vandag relevant is of nie, dan is dit die begin van afval, wat later ook by die kern van die Evangelie sal uitkom, wat dit ook sal begin betwyfel.

Dit wys die kerkgeskiedenis uit, dit het keer op keer gebeur.

 

So sluit ek die eerste punt af.

Laat ons alles wat God in sy Woord geopenbaar het, vir waar aanvaar.

 

Maar, om te glo is nie net om kennis te neem van die feite nie.

Om te glo is ook om die feite te aanvaar en die impak daarvan op jou lewe.

En dit moet lei na vertroue.

Daarna gaan ons in die tweede punt kyk.

 

(Tema: Met die Evangelie maak die Heilige Gees die ware geloof wakker

Hy gee ‘n

1 ’n vasstaande kennis

 

2 Vaste vertroue

‘n Ware geloof is ook ‘n vaste vertroue.

Verskeie kere in Johannes se Evangelie lees ons hoe Christus dit van ons verlang.

Die Christelike geloof is nie die blote aanhang van feite, nie net ‘n lewens- en wêreldbeskouïng nie.

Die Christelike geloof is ‘n vertrouensband met jou Heiland, jou Saligmaker, jou Redder, jou Koning, Jesus Christus.

So bou Christus ‘n vertrouensband met die Samaritaanse vrou – Johannes 4.

Toe sy in haar stad die ander mense gaan roep, het sy hulle na Hom as Persoon geroep, nie na ‘n filosofiese waarheidsisteem nie (Joh 4).

Die genesing van die blinde man – Johannes 9 – het gelei tot ‘n vertrouensband met Jesus, tot aanbidding van Hom as Persoon (Joh 9:38).

Jesus het die gelykenis vertel dat Hy die goeie herder is, ‘n persoon wat die skape vertrou – Johannes 10.

Toe Jesus Lasarus opgewek het, het Hy by Maria en Martha aangedring dat hulle Hom moet vertrou – Johannes 11.

Jesus het daarna toegelaat dat Maria sy voete salf en afdroog met haar hare – Johannes 12.

Dit is nie ‘n akademiese handeling nie, dit dui op ‘n vertrouensband, op emosie.

En so is daar nog baie voorbeelde.

Johannes betrek homself ook persoonlik.

Ons hoor sy persoonlike geloofsbelydenis ook in sy boek.

Dink aan sy pragtige uitspraak in hoofstuk 1:16: “uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.”

Hy gebruik die woord ons, hy sluit homself daarby in.

 

En soos by Maria en Martha en Johannes destyds, is daar by jou en my emosie betrokke by die geloof.

Antwoord 21 sê dat die Heilige Gees die Evangelie ook in my hart werk.

Nie net in die verstand nie.

Daar is geleerdes wat die Bybel bestudeer omdat hulle geïnteresseerd is in die geskiedenis.

Hulle ken die Bybel dalk beter as jy en ek.

Tog het hulle nie ‘n geloof nie.

Vergewing van sondes, dis nie iets wat hulle besighou nie.

Hulle weet dalk daar is mense wat dit wat die Bybel oor vergewing sê, op hulleself toepas.

Nie hulle nie, hulle ken die Bybel, maar dit het verder geen impak op hulle lewe nie.

Gemeente, kennis van die Bybel is dus nie gelyk aan geloof nie.

In die dogmatiek word daar soms genoem dat sulke mense ‘n historiese geloof het.

Tog is dit volgens my nie ‘n regte tipering nie.

Blote kennis van die Bybel, kennis van historiese gebeurtenisse, is nie geloof nie.

Kennis van die Bybel lei nie outomaties tot saligheid nie.

Vir sulke mense geld wat daar in v/a 20 staan.

“Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee, maar slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.”

Sulke mense sal nie salig word nie, met al hulle kennis sal hulle tog verlore gaan, want hulle neem nie Christus se weldade aan nie.

Net soos die duiwels waarvan Jakobus praat – Jakobus 2:19.

Hulle glo ook – altans hulle weet al die dinge.

En die Satan self ken die Skrif van voor tot agter.

Nietemin is daar vir hulle geen saligheid nie.

Paulus bedoel presies dieselfde as hy skryf:

“al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, ... en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.” (1 Kor 13:2)

Kennis is mag, lui die spreekwoord.

Maar kennis alleen is nie saligmakend nie.

 

Geloof is ook, sê antwoord 21, dat ek vas vertrou dat dit vir my waar is.

Dat ek persoonlik van Christus louter genade ontvang, vergewing van sondes, ewige geregtigheid, saligheid.

Glo jy dit, gemeente?

Pas jy dit wat in die Bybel staan, op jouself toe?

Ons is soms geneig om te redeneer.

Ek is liewers versigtig om dit 100% op myself toe te pas.

Ek moet eers sommige dinge in my lewe op orde kry, dalk ophou met sommige dinge, dinge waarvan ek weet dat dit volgens die Bybel verkeerd is.

En dan sal hierdie ook vir my waar word, dat God aan my ook saligheid sal skenk.

Is ons nie dikwels geneig om so te dink nie, gemeente?

Ek twyfel, daarom is ek versigtig, ek wil dit nog nie 100% aanvaar nie, dit sou voorbarig wees, want ek weet ek is nog te sondig.

Maar, gemeente, dit is dus nie wat geloof is nie.

Dit is in feite weer terugval op die patroon van eers goeie werke doen, eers jou lewe op orde kry, voordat jy vir die saligheid in aanmerking kom.

Maar dis nie wat die Skrif, soos saamgevat in Sondag 7, bedoel nie.

Daar staan die woorde: loutere genade – pure genade – sola gratia.

En dit nie later nie, nou!

‘n Ware geloof is as jy nou, vandag, alles van Christus en sy verdienste verwag.

As jy vandag daardie vertroue op Hom stel, dan is dit vandag waar vir jou ook!

Dan word jy vandag ingelyf!

Daar is nie eers ‘n proefperiode nie.

Dit is eenvoudig.

Val op jou knieë, bely jou skuld, vra vergewing, dan ontvang jy ewige geregtigheid en saligheid.

En die wonderlike is, daardie sekerheid van jou saligheid gaan jou inspireer om van nou af ook beter te lewe.

Dit is die Heilige Gees wat dit doen.

Hy gebruik die Evangelie om die vaste vertroue te bring in jou lewe, en om daarna jou lewe om te gooi in die regte rigting.

 

Toe Johannes die Evangelie opgeskryf het, was hy bewus van hierdie doel wat sy boek in die toekoms sal moet vervul.

Sy boek is nie net ‘n historiese beskrywing van die lewe en werk van Jesus Christus nie.

In daardie tyd was daar ook ander historiese boeke.

Dink aan die historikus Flavius Josefus se boeke oor die Joodse Oorlog uit daardie tyd.

Kosbare geskiedskrywing, dit gee geweldig baie inligting oor historiese gebeurtenisse uit daardie tyd.

Dit doen die Johannesevangelie ook, maar daar bly dit nie by nie.

Die boek dien ‘n baie spesifieke doel.

Dit beklemtoon Johannes self aan die einde van sy boek: “hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:31)

Opvallend dat dit die eerste keer is dat Johannes die lesers van sy boek direk aanspreek.

Ek het hierdie geskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is!

Dis opvallend, dis nie iets wat mens in gewone geskiedenisboeke kry nie.

Die Johannesevangelie het ‘n doel.

Die doel is om mense te laat glo.

En dan nie net glo in ‘n reeks feite nie, maar in ‘n Persoon.

Ek het dit alles geskryf, aldus Johannes, sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, sodat julle in sy Naam ook die ewige lewe kan hê.

 

Geliefde gemeente, as ons nounou ons geloof gaan bely met die Apostoliese Geloofsbelydenis, dan gaan ons daarmee te kenne gee dat ons dit van harte glo:

Ek glo dat Christus gekruisig is, maar ook op die derde dag opgestaan het.

Ek glo dat Hy nou aan die regterhand van God, die almagtige Vader in die hemel sit.

Ek glo dat op grond daarvan ek vergewing van sondes ontvang.

Ek glo in die opstanding van my liggaam en die ewige lewe.

Broer, suster, as jy dit nie glo nie, moenie saamsing nie.

Maar as dit ‘n vaste vertroue in jou hart is, sing uit volle bors saam!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 21:1-3

Gebed

Skriflesing: Johannes 20

Ps 63:4-6

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 7

Preek

Ps 27:4,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 71:1,2,5,9

Seën