Die herstel van die heiligdom

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-02-18
Text: 
Daniël 8:14
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 8:14

 

Daniël was ‘n kind van God wat in die tyd van die ballingskap gelewe het.

‘n Groot gemis vir die ballinge was die tempel.

Dit was verwoes, saam met die res van Jerusalem wat ‘n puinhoop geword het.

By afwesigheid van die tempel kon die gelowiges die HERE nie voluit dien nie.

Die tempeldiens, die diens van die versoening, al die offers, dit het alles stilgelê.

Vir die gelowiges was dit ‘n groot verlange.

Ons het geween as ons aan Sion dink, het hulle met Psalm 137 gesin.

Vir hulle was dit ‘n groot droom, nie net dat hulle na hulle eie land kon terugkeer nie, maar veral dat die tempel weer herbou word.

En die bediening van die versoening weer in volop in funksie sou wees.

 

 

Tema: Die herstel van die heiligdom

 

Koning Belsassar het geregeer oor die Babiloniese Ryk.

Die Ryk was op sy hoogtepunt, maar tog het daar vyande op die horison verskyn.

In die boek Daniël lees ons wat daar in die laaste nag van Belsassar se koningskap gebeur het.

Daardie selfde nag toe die Meders en Perse sy ryk ingeneem het.

Daardie nag het Belsassar ‘n uitspattige fees gehou asof sy heerskappy nooit sou ophou nie.

Hy het gespot met die gode van die volke wat Babel verslaan het.

In besonder het Hy die HERE, die lewende God, getart.

Mens kan in Daniël 5 lees dat hy spesiaal die goue bekers laat haal het, wat destyds geroof is uit die tempel te Jerusalem.

Daaruit het hulle tydens die fees wyn gedrink.

Net hierdie insident illustreer al watter soort koning hy was.

Jy kan jouself indink dat dit vir Daniël nie maklik was om ‘n regeringsamptenaar te wees onder sy bewind nie.

Dit was in hierdie tyd wat die HERE die visioene aan Daniël begin openbaar het.

Die eerste visioen in die eerste jaar van Belsasar.

En hierdie tweede visioen in die derde jaar van koning Belsasar.

Hiermee gee die HERE aan Daniël vertroosting.

Vir Daniël gedurende die skrikbewind van Belsasar, maar ook vir sy volk in die toekoms.

 

Hierdie visioen sluit aan by die vorige een.

Weer gaan dit oor ‘n simboliese dier, hierdie keer ‘n ram.

Dit het twee lang horings.

Die ram stoot na die weste, noorde en suide, niemand keer hom nie.

Die ooste word nie genoem nie, want dis juis waar die ram is.

Ons het hier, soos uit die vervolg blyk, te make met die ryk van die Meders en Perse.

Die korter horing verteenwoordig die ryk van die Meders, die langer een die magtige Persiese Ryk.

Die plek waar Daniël homself bevind in die visioen is ook simbolies, naamlik in die vestig Susan.

Dit was honderde kilometers oos van Babilon.

Dit was die plek waar later die hoofkwartier van die Persiese Ryk sou wees.

 

Maar dan, ineens kom daar ‘n bokram aanstorm uit die weste.

So vinnig dat die dier se pote nie eers die grond vat nie, so vinnig brei hy sy gebied uit.

Hy bots frontaal met die Persiese ram, beide horings breek af en die ram word vertrap.

Dit lyk wel of hierdie nuwe bokram onoorwinlik is.

Maar dan, op die toppunt van sy mag, breek ook sy horing af.

Dit maak plek vir vier horings.

En dan, uit een van hierdie vier begin nog ‘n horing te groei.

Nou, gemeente, om hierdie beeldspraak te verstaan, moet mens weet dat konings in die verlede dikwels met ‘n horing vergelyk is.

Die eerste hoorders van hierdie visioen het dus dadelik geweet dat dit oor konings gaan.

Dink aan wat daar byvoorbeeld in Psalm 132:17 staan:

Daar – in Sion – sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitgroei (2020-Vertaling).

Dit wil sê, die HERE sal Dawid daar koning maak.

As hier in Daniël 8 ‘n horing opkom, beteken dit dus dat ‘n nuwe koning opstaan.

Hy groei na die suide, die ooste, dit wil sê hy neem daardie gebiede in.

Ook na die pragtige land, verwysend na Israel se land.

Sy heerskappy word so groot dat ‘n deel van die sterre op aarde val.

Dit is of beeldspraak, of die woord sterre verwys hier na konings wat deur hom verslaan word.

Hierdie horing, hierdie koning dus, is so brutaal, dat hy selfs opstaan teen die koning van die sterre, sy tempel skend en die daaglikse offers aan Hom stopsit.

Dit is die daaglikse brandoffer, wat Israel aan die begin en einde van elke dag gebring het.

Hierdie horing, hierdie koning, vervang dit met offers aan ‘n afgod.

Die beeld van die Griekse afgod Jupiter word reg voor die tempelaltaar geplaas.

Die Jode word gedwing om ‘n vark aan hom te offer.

So tart hy die lewende God.

 

Gemeente, net soos in die vorige hoofstuk, in die eerste visioen, gaan dit hier oor daardie uiters arrogante Griekse koning, Antiochus Epifanes die Vierde.

Nadat Alexander die Grote die Persiese Ryk verslaan het, is na sy dood sy magtige Griekse Ryk onder vier konings verdeel.

En in een van hierdie vier gebiede, waar Jerusalem ook was, het toe ‘n sekere koning aan die mag gekom, en dit was Antiochus Epifanes.

Dit was hy wat die tempeldiens afgeskaf het, asook die sabbat en ander Joodse feeste.

Hy verbrand die boekrolle van die Torah.

Hy verbied selfs die besnydenis.

So probeer hy genadeloos om die Jode te helleniseer.

In die ou boeke van die Makkabeërs kan mens meer lees oor hierdie tyd.

En hierdie koning bulder maar voort.

Die een engel in die visioen raak amper moedeloos.

Sal dit ooit ophou?

 

Gemeente, ons kan ook moedeloos word, as ons sien dat heersers net soos hierdie brutale koning hulleself in die middelpunt plaas, alles net rondom hulle begin te draai.

As hulle op aarde huishou asof alles aan hulle behoort.

Dan vra ons onsself af:

Sal dit ooit ophou?

Des te skrynender is dit as die opregte gelowiges die gevolge moet verduur.

As hulle as gevolg daarvan nie kan saamkom nie.

Nie kan nagmaal vier, soos ons vandag doen nie.

Dan sug mens hopeloos, gooi die hande in die lug en roep na die hemel:

Sal dit ooit ophou?

 

Gemeente, dit is nou al die tweede visioen wat veral op hierdie Antiochus Epifanes fokus.

Hoekom so baie aandag aan hom?

Mens kan dit begryp vanuit die oogpunt van die tempel.

Die ergste van die ballingskap destyds was dat die tempel verwoes is.

Dit was die teken by uitstek dat die HERE sy volk verlaat het.

Maar wat is erger, dat die tempel verwoes word, of dat ‘n afgodsbeeld in die tempel geplaas word?

Mens kan jouself indink hoevel trauma dit by die gelowige Jode veroorsaak het.

En juis daarom maak die HERE in visioene bekend dat hierdie uiters brutale koning ook in sy hand is.

Sy skrikbewind is van tydelike duur.

Dit is wat die engel Gabriël aan Daniël duidelik maak.

God sal hom breek.

Daniël moes meemaak hoe Belsasar die HERE spot deur op sy uitspattige fees uit die heilige bekers van die tempel te drink.

Die feit dat daardie selfde nag Belsassar se regering aan ‘n einde kom, was ‘n duidelike teken aan die muur.

As God dit met Belsassar gedoen het, weet verseker dat ook Antiochus Epifanes nie vryuit sal gaan nie.

Ook hy vergryp hom aan die HERE se tempel, en dit sal nie ongestraf bly nie.

Daaroor is die visioen baie duidelik.

 

Gemeente, die tye van maghebbers is in God se hand.

As ‘n maghebber die diens aan die HERE inperk, sal dit van beperkte duur wees.

2300 dae en nagte, net oor die drie jaar.

‘n Beperkte tyd.

‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd.

Skielik sal dit verby wees.

‘n Bietjie meer as drie jaar, toe kon die tempel weer oopgemaak word, omdat Antiochus Epifanes om die lewe gekom het.

So het die HERE weer uitkoms gegee in die tyd van die Griekse tiranne.

So het dit ook gebeur in die tyd van die Romeinse keisers.

Dink aan keisers soos Nero, Decius, Valentianus, Diocletianus.

Hulle vervolging van die vroeë kerk was tydelik.

Die dag het selfs gekom toe die hele Romeinse Ryk Christelik geword het!

 

2300 aande en oggende, dan sal die tempel in sy regte staat herstel word.

Gemeente, hierdie belofte is nie net vervul toe Judas Makkabeüs die Jode gelei het en die skrikbewind van Antiochus Epifanes beëindig het en die tempeldiens weer heringestel is nie.

Hierdie belofte is veral vervul toe Jesus Christus na die aarde gekom het.

Hy het die heiligdom herstel.

En dan dink mens nie net aan toe Hy al die handelaars en geldwisselaars weggejaag het van die tempelplein af nie.

Hoe teenstrydig dit ook klink, mens dit ook aan sy profesie dat nie een steen van die tempel op die ander gelaat sal word nie.

Ons weet ook uit die Evangelie dat toe Hy aan die kruis gesterf het, die voorhangsel, die tempelgordyn van bo tot onder in twee geskeur het.

Juis hiermee het Hy die heiligdom herstel, toe Hy die offerdiens vervul het.

Sy offer het betaling gebring.

Sy offer het die hele doel vervul waarvoor die HERE die tempel onder sy volk laat bou het.

Wat ‘n heerlike vervulling, en dit het ons vandag aan die nagmaal weer gevier!

 

En nou sien ons nog uit na die finale vervulling, waarvan ons lees in die laaste Bybelboek:

“En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.” (Openb 21:22)

Ons sien uit na die dag as Christus weer persoonlik by ons sal wees.
 

Gemeente, laat ons die HERE bly herinner aan hierdie belofte van Hom.

Nou moet ons nog stry as kerk van Christus.

Ons sien dat gelowiges soms moedeloos raak en hoop verloor.

Dink aan ‘n land soos Noord-Korea, daar duur die onderdrukking al veel langer as 7 jaar.

Geen kerk mag daar bymekaar kom nie.

Wie ‘n Bybel het, word na ‘n strafkamp gestuur, beter gesê, ‘n uithongerkamp, en die Bybel word vernietig.

Hoe lank sal dit nog voortgaan?

Kom ons bly klop, bons op die deur van die hemel, dat die HERE uitkoms sal gee!

In hierdie tweede visioen laat die HERE aan Daniël sien dat daar ‘n einde sal kom aan die vervolging.

Die visioen, soos Gabriël verduidelik, wys op die tyd van die einde.

Dis soos ‘n berg wat aan die horison sigbaar word.

Tog was daardie einde nog nie die einde van die geskiedenis nie.

Anderkant daardie berg sou daar nog nuwe horisonne opdaag, nuwe berge aan die horison.

Maar uiteindelik sal tog die einde kom, dit voorspel die visioen ook.

Dan sal Christus, die Seun van die mens, in heerlikheid terugkom.

Dan sal alle tirannie en verdrukking finaal stopgesit word.

Op daardie dag sal die bruilof van die Lam aanbreek, soos ons in die nagmaalsformulier gelees het.

Ons verlang na daardie dag.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 84:1

Wet

Ps 137:1-4

Gebed

Nagmaalsviering

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Daniël 8:1-14; Ps 116:1

2e tafel: Skriflesing: Daniël 8:15-27; Ps 116:2,3

3e tafel: Lofverheffing; Ps 116:4

Dankgebed

Teks: Daniël 8:14

Preek

Ps 132:9-11

Gebed

Kollekte

Sb 45:8,9

Seën